Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen - Страница 4

Оглавление

Liewe leerder

Jou Piekfyn Afrikaans Leesboek gaan nog jou beste maat word. Eintlik is boeke beter as maats, want hulle het altyd tyd vir jou, hulle praat nie terug nie, baklei nie, en hulle skinder ook nie van jou nie! En hulle neem jou na wonderlike wêrelde toe. Wanneer jy lees en jouself inleef in die gebeure en karakters in ‘n storie, vergeet jy van al die ander dinge rondom jou.

In jou Piekfyn Afrikaans Leesboek gaan jy nie net kort stories lees nie, jy gaan ook langer stories lees wat jou nuwe avonture gaan laat beleef of jou hare gaan laat regop staan. Daar is ook kort dramas wat julle in groepe kan beurtlees of opvoer, gedigte wat jy kan lees vir genot, en dit selfs saam met jou maats kan dramatiseer.

Deur te lees, leer ‘n mens van allerlei dinge waarvan jy dalk nog nie weet nie of jy ontdek vreemde plekke waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Soms gaan jy oulike poskaarte of briewe of dalk interessante e-posse van snaakse “mense” lees. En soos die grootmense, gaan jy ook koerantberigte, resensies, onderhoude, verslae en advertensies van nader bekyk en beter verstaan. Dalk word jy ’n skrywer en gee jou Piekfyn Afrikaans Leesboek vir jou ’n paar goeie idees vir jou eie skryfwerk! Het jy geweet goeie skrywers lees sommer van jongs af baie?

Al hierdie lekker leeswerk gaan jou help om Afrikaans spoggerig en vlot te lees. Geniet hierdie jaar se Piekfyn Afrikaans Leesboek!

Samestellers

Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal

Подняться наверх