Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen - Страница 5

Оглавление

Bongile

en die donkie

(Gebaseer op ’n Meksikaanse volksverhaal)

Fanie Viljoen

Bongile steek sy vingers in die droë grond. Stadig lig hy dit uit en kyk hoe die sandkorrels tussen sy vingers deurval. Agter hom hoor hy voetstappe naderkom. Hy draai sy kop na sy ma toe. “Niks wou groei nie, Ma. Ek het so hard probeer, maar nou is die winter amper hier en ons kos raak min,” sê Bongile sag.

“Wat gaan ons doen?” vra sy ma bekommerd.



Bongile kyk in sy ma se bruin oë. “Ek dink ek moet vir ’n ruk weggaan, Ma. Ek sal werk gaan soek en geld terugbring huis toe. Dit sal ons hou deur die moeilike tyd. Volgende somer is alles dalk anders.”

Sy ma se oë word hartseer. Sy vee met haar hand oor Bongile se gesig. “Jy lyk elke dag meer en meer soos jou pa, weet jy, my seun? As hy vandag nog hier was, sou hy trots gewees het op jou.”

Die volgende oggend vat Bongile die donkie – hulle kosbaarste besitting – en met sy ma se afskeidsgroet en gebede steeds helder in sy hart, val hy in die pad.

Toe die son reg bo sy kop sit, kom hy af op ’n ou vrou wat onder ’n boom sit.

“Waarheen gaan jy, Bongile?” vra sy.

Hy skrik. Hoe weet sy wat sy naam is? Is dit iemand wat sy ma ken?

“Ek is op pad om werk te gaan soek. Ek moet geld terugbring huis toe,” antwoord Bongile.

“Hierdie is ’n gevaarlike pad.” Die vrou kom regop en skuifel nader.

Bongile se hart hamer skielik in sy bors. Wie ís die vrou? Sy het vreemde krale om haar nek en dra klere wat gemaak is van diervelle wat hy nog nooit voorheen gesien het nie. Toe sy hom in die oë kyk, kom daar ’n kalmte oor Bongile. Iets sê net vir hom hy is verniet bekommerd.

“Jy moet versigtig wees, Bongile. Daar is baie skelms op hierdie pad,” sê die vrou. “Maar jy sal hulle maklik kan uitken.” Sy lig ’n sak van haar skouer af en haal ’n sakkie meel uit. “As jy iemand langs die pad teëkom en jy wil weet of hulle jou vriend of jou vyand is, moet jy van hierdie meel gebruik en vir julle pap maak. Skep dan die pap uit in twee kleibakkies. Maak die een bakkie vol, en die ander een net half. As die vreemdeling die vol bak vat, weet jy hy het slegte bedoelings. Maak jouself dan uit die voete. Maar as die vreemdeling die halwe bakkie vat, weet jy dit is iemand op wie jy kan vertrou.”

Met die sakkie meel vasgebind aan sy donkie, stap Bongile verder. Toe hy ’n paar tree weg is, kyk hy om om die vrou te groet, maar waar sy oomblikke gelede nog gestaan het, is daar nou niks. Nie eens haar voetspore nie.

Net voor skemer kom staan ’n vuil man met toiingrige klere voor Bongile in die pad. “Waarheen gaan jy, seun?” vra hy hees. Sy oë blits heen en weer in sy oogkasse en hy lek oor sy droë lippe.

“Ek is op pad om werk te gaan soek. Ek moet geld terugbring huis toe.”

“A-a, ek weet waar jy kan werk kry,” sê die vreemdeling. “Ek sal saam met jou stap.”

Bongile skrik. Hy onthou die vrou se waarskuwing: Daar is baie skelms op hierdie pad.

Maar hy onthou ook nog die sakkie meel wat sy vir hom gegee het.

“Ek is moeg, kom ons rus eers,” sê Bongile vir die vreemdeling. “Ek sal vir ons pap maak sodat ons ons kragte kan herwin. Die pad vorentoe is nog lank.”

Die vreemdeling knik sy kop. Hy gaan maak hom tuis op ’n klip en kyk hoe Bongile die vuur maak en die pap kook.

Toe die pap klaar is, skep Bongile dit uit in twee kleibakkies, nes die vrou hom vertel het: een vol, en een half. Hy hou sy asem op toe hy sy hande na die vreemdeling uitstrek. Die vreemdeling glimlag en vat die vol bakkie.

Bongile se hart ruk in sy bors. Wat gaan hy doen? Hy kyk na sy donkie. Dit is al wat hy het. Hy het nie geld nie. Wat as hierdie man vanaand nog sy donkie ook by hom steel – dan het hy heeltemal niks!

Donker oorval Bongile en die vreemdeling. Hulle kan nie verder reis nie. Die nag bring sy eie gevare, weet Bongile. Dit is die ideale tyd vir die vreemdeling om sy donkie te steel as hy wou.

Bongile kan daardie aand nie slaap nie. Toe hy hoor hoe lustig die vreemdeling langs die vuur snork, staan hy saggies op. Hy vat sy donkie en met die nag soos ’n karos om sy lyf, glip hy sag weg na veiligheid.

Laatmiddag van die tweede dag op die pad, kom Bongile ’n tweede vreemdeling teë. Hierdie keer is hy versigtiger, maar die man lyk vriendeliker as die vorige een. Hy het selfs netjieser klere aan. Ja, hier is iemand wat hy kan vertrou, weet Bongile sommer.

Hierdie is ’n gevaarlike pad, hoor hy weer die vrou se waarskuwing.

Soos die vorige aand, maak Bongile vir hom en die vreemdeling pap. Hy skep die eerste bakkie vol, en die tweede een weer net half. Toe hy dit uithou na die vreemdeling, bewe sy hande effens. Die man se vingers vou gretig om die vol bak. Bongile se lyf ruk. Nee! Hy kan dit nie glo nie.

Bongile se kop is deurmekaar. Is die ou vrou verkeerd? Die man lyk nie soos ’n skurk nie. Kan hy hom nie maar vertrou nie?

Maar daardie aand besef Bongile dat daar waarheid steek in die toets. Die donker het skaars oor die veld gevou toe die vreemdeling opstaan van die vuur en dreigend naderkom. Die vlamme speel oor sy gesig. Sy vriendelike glimlag lyk nou boosaardig. In sy vuis sien Bongile die skerp klip …

Soos weerlig wat uit die wolke blits, is Bongile op sy voete. Hy gryp sy donkie en voor die vreemdeling kan keer, verdwyn Bongile en sy kosbaarste besitting in die nag.

Die volgende dag is Bongile skoon uitgeput. Hy het nog nie ’n oog toegemaak in twee dae nie. Hy is moeg. Sy voete is seer. Hy verlang terug huis toe. Hoekom het hy ooit hierdie reis aangepak? Hy wou geld maak en terugstuur huis toe, maar dit lyk vir hom of die hele wêreld net daarop uit is om hom van sy aardse goed te beroof.

Toe Bongile teen die derde middag ’n derde vreemdeling op sy pad teëkom, wil hy sommer ’n wye draai loop. Hy het nou al sy les geleer. Jy kan niemand vertrou nie.

Maar die vreemdeling roep al van ver af na hom: “Sawubona! Unjani?”

“Dit gaan goed,” antwoord Bongile, al weet hy dis nie waar nie.

“Waarheen is jy op pad?” vra die vreemdeling.

“Ek gaan werk soek. Ek moet geld terugvat huis toe,” sê Bongile.

“Kan ek saam met jou stap? Dis goed om geselskap te hê as die pad so ver is,” sê die vreemdeling.

Bongile is versigtig. Die vorige man was net so vriendelik, maar dit was net ’n front. Daar is net een manier om uit vind of hierdie derde vreemdeling ’n vriend of vyand is.

“Ek is honger,” sê Bongile vinnig. “Kom ek maak eers vir ons pap, dan kan ons verder loop.”

Toe die vuur se kole sagter begin gloei en die pap gereed is, skep Bongile dit soos die vorige twee kere uit in die kleibakkies.

In hom brand die vrees toe hy die vol en halwe bakkies uithou na die man. Maar dit verander gou in ongelooflike blydskap toe die man die halwe bakkie pap uit sy hande lig.

Ek kan hom vertrou! juig dit binne Bongile. Daardie aand slaap hy vir die eerste keer rustig. Toe hy die volgende môre wakker skrik, het die son al oor die rand van die berg in die verte geskuif. Bongile haal diep asem, vee oor sy oë en toe skrik hy.

Sy donkie is weg. Die vreemdeling ook!


Nee! skree dit binne Bongile. Die donkie is al wat hy besit het. Hy het niks anders nie. Hoe kon hy so dom wees om die man te vertrou? Hy moes geweet het daardie vrou met haar sakkie meel praat net bog. Nou is sy kosbare donkie gesteel.

Wat gaan hy nou doen?

Kan hy hulle nog inhaal? Bongile se oë vee oor die grond. Hy sien die donkie se spore. Die vreemdeling s’n ook. Haastig volg Bongile die spoor tussen die gras en klippe deur. Hy loop nie ver voordat hy sy donkie weer sien nie. Sy wei rustig tussen groen gras naby ’n reënhelder stroom.

“A-a, kyk net wie het uiteindelik opgestaan!” roep die vreemdeling toe hy vir Bongile sien. “Ek het jou donkie hiernatoe gebring omdat die gras hier baie geiler groei. Ek hoop nie jy gee om nie.”

’n Glimlag sprei oor Bongile se gesig toe hy besef dat die man toe werklikwaar ’n vriend is – een wat ’n mens nie met geld sal kan koop nie.

Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:

1.Die tyd en plek waar ’n verhaal afspeel is belangrik. Van watter seisoen is hier sprake? Waarom is dit funksioneel dat dit juis hierdie seisoen is?

2.Wat lei julle af oor die ou vrou uit haar kleredrag ?

3.Noem drie dinge wat die eerste man by sy ontmoeting met Bongile verdag maak.

4.Daar word gereeld herhaal dat die pad gevaarlik is en dat Bongile die vrou se waarskuwing onthou. Wat word daardeur bereik?

5.Waarom kan Bongile nie verstaan dat die tweede man ook die vol bakkie pap vat nie?

6.Die getal drie is gewoonlik simbolies ’n teken van iets goeds. Hoe is dit van toepassing op hierdie verhaal?

7.Waarom dink julle is die einde ironies?

8.Verduidelik watter voorbeelde van innerlike en uiterlike konflik kom daar in die verhaal voorkom.

Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal

Подняться наверх