Читать книгу Jý is die kerk - Francois Kruger - Страница 4
ОглавлениеInleiding
Inleiding
Hierdie boek gaan hoofsaaklik oor die verskil tussen kerkgesentreerdheid en Christus-gesentreerdheid. Eerstens wil ek die dringendheid verduidelik waarom dit vir my nodig was om hierdie boek te skryf.
Ek is die predikant van ’n kleinerige gemeente in ’n gevestigde denominasie. Ook hier eis ’n klomp diepgewortelde tradisies hul tol. Sekere gewoontes is diep in ons denke ingegroef, maar dis nie in alle gevalle ’n probleem nie. Van hierdie tradisies het op gesag van Jesus ontstaan, en daarom wil ons hulle handhaaf. Ander tradisies is duidelik bloot op menslike voorkeure gegrond.
Ons worstel met laasgenoemde tradisies, want dit dra by tot die gebrek aan lewensverandering en geestelike groei. Ons gemeente was ook grootliks steriel en die verskynsel van ’n passiewe meerderheid was ’n kopseer.
Dit het so voortgeduur totdat ons tot die insig gekom het dat die Here Self hierdie dinge regmaak. Hy doen dit egter deur eers af te breek wat verkeerd is voordat Hy begin opbou. Hy roei eers met wortel en tak uit voordat Hy begin plant. Hierdie afbreek is radikaal, want dit gaan hier oor wortelsake en dus tot op die fondament. Dit vra van ons om sommige meestermotiewe te groet. Eers dan kom die skuif na ’n heel nuwe fondament.
Die afbreekproses is onafwendbaar. ’n Mens kan nie op ’n verkeerde basis bou nie, want selfs al is die gebou ook hóé indrukwekkend en pragtig, gaan dit nie hou nie.
Die afbreekproses is pynlik, en daar ís ongevalle. Kollegas wat al daardeur is, het vir my gesê: “Onthou, jy gaan 50% van jou mense verloor!”
Francine Rivers, ’n Amerikaanse fiksieskrywer wat Christelike temas met haar verhale verweef, het ’n pragtige boek, En die ramshoring het geblaas, oor hierdie verskynsel geskryf. Dit het ook met ons gebeur. Ons het bykans die helfte van ons lidmate verloor. Die rede hiervoor is dat die afbreekproses ook ’n losbreek beteken van dinge waaraan ’n mens sentimenteel verknog geraak het – dinge wat nie van Christus af kom nie. Losbreek maak seer en laat mense onveilig voel as hulle dit nie reg verstaan nie. Baie mense sien nie daarvoor kans nie.
Kollegas het ook gesê: “Jy gaan persoonlike risiko’s moet loop. Jou vel moet dik wees!” Ook dít het gebeur. Ek was egter nie alleen nie. ’n Groep gelowiges in die gemeente het met my hande gevat. Ons het mekaar bemoedig en deur gebed op die Here se pad gehou.
Die gesprek wat hier volg, is bedoel vir gelowiges wat worstel om uit die groef te kom, asook vir gelowiges wat, selfs onwetend, in ’n groef vasgeval het. Met hierdie boek wil ek mense help om te verstaan, hulself te motiveer en, indien nodig, hul totale lewensfondament te hervestig.
Wanneer Jesus lewend sentraal in jou lewe staan, is dit aansteeklik. Hy gaan jou gebruik om ander mense tot dramatiese groei te inspireer. Jy kan die Luther-figuur in jou gemeente word.
Die gevaar bestaan dat jy ’n goeie lidmaat van jou kerk kan wees en al jare lank tevrede en gelukkig is, solank niemand die bestaande patrone versteur nie. Maar jy is staties en steriel. Dit laat mense vra: “Is daar plek vir Jesus in jou lewe?” Die normale reaksie op dié vraag is uitermatige verontwaardiging.
Ek het agtergekom dat daar basies twee soorte kerke is, maar dat die twee se karakter radikaal van mekaar verskil. Die een is mensgesentreerd en die ander Christus-gesentreerd.
In die proses om die twee soorte kerke vir jou te skets, gaan ek oordryf en my aan karikatuurskepping skuldig maak. Dit kan egter nie anders nie, want ek wil ’n punt maak.
Kyk ’n bietjie na die tabelle aan die einde van hierdie inleiding. Links is die mensgesentreerde model en regs die Christus-gesentreerde model. Ek noem dit ’n model, aangesien dit meer as ’n beskrywing van ’n bestaande opset is. Dit het vir baie mense die norm geword waarvolgens hulle hulself en hul kerk in stand hou en, reg of verkeerd, ander kerke meet en beoordeel.
In die tabelle (sien bl. 21) word tien aspekte beskryf wat die verskil tussen hierdie twee soorte kerke aandui. Kom ek verduidelik elkeen aan jou.
1. Die kerk as die middelpunt vs Jesus as die middelpunt
Staan die kerk of Jesus sentraal? Kerkgesentreerdheid is ’n groot probleem. Die Engelse noem dit churchianity. Dit lyk so vroom en korrek. “My kerk is vir my baie belangrik! Dit is my anker! Ek sal alles opoffer vir my kerk!”
My vriend, Johan, sê dis hoe die duiwel werk. Hy vat iets goed en reg, soos die Tien Gebooie, en plaas dit in die plek van Jesus. Dit is wat Satan met dié woorde met die Jode gedoen het: “Dáár is jou pad na verlossing. Getroue wetsonderhouding gaan vir jou die saligheid bring.”
Deesdae doen hy dieselfde met die kerk. Die kerk is goed en reg en onontbeerlik, maar word iets sleg en verkeerd as dit op die verkeerde plek staan. As dit in die plek van Jesus staan, sit jy skynbaar gelukkig en doodtevrede, maar sonder die enigste Troos wat daar is.
Ek wéét waar Jesus is, is die kerk ook. Ek weet die kerk is die liggaam van Jesus en dat Hý die Hoof is. Jy kan nie kerk en Jesus van mekaar skei nie. My probleem hou egter verband met die belangrike woorde in Efesiërs 4:16: “… en uit Hom groei die hele liggaam.”
Die vraag is dus: Waar begin jy? By die kerk of by Jesus?
Kom ons wees eerlik. Die meeste van ons het as kinders eerste met die kerk kennis gemaak en eers daarná met Jesus. Natuurlik is daar uitsonderings. Maar dit laat ’n mens dink dat die kerk eerste kom en jou dan by Jesus uitbring. Dit is presies wat met kerkgesentreerdheid gebeur.
Wanneer Jesus vir jou eerste kom, staan Hy sentraal in jou lewe. Sulke gelowiges maak met mekaar kontak en hulle word die kerk. Jesus bly egter sentraal, nooit die kerk nie.
Dit laat my dink aan die twee gewilde figure, Jesus en Johannes die Doper, oor wie ons in Johannes 3 lees. Toe Johannes se aanhangers hul rabbi aanspreek en sê hy moet sy gewildheid verhoog omdat Jesus meer mense trek, was sy antwoord: “Hy moet meer word en ek minder” (Johannes 3:30). Dis asof hy sê: “Ek is besig om doelbwus my gewildheid te laat taan, sodat julle ook eerder aanhangers van Jesus kan word.” Op dié manier stel hy aan hulle die voorbeeld dat die mense rondom Jesus net een oogmerk het, naamlik om Hom te verhoog. Hulle is op Hom gefokus en nie op hulself nie.
Ek het met baie mense, waarvan die meeste leraars is, hieroor gepraat. Dis opmerklik dat daar van ’n sekere groep af konsekwent ’n sensitiwiteit ontlok word wanneer ’n mens oor die gevaar van kerkgesentreerdheid praat. Ek het ook agtergekom dat hierdie mense almal redelik diep in die stelsel gewortel is.
Dis taamlik algemeen dat mense hul identiteit deur hul kerklidmaatskap laat bepaal: “Ek is gereformeerd” eerder as “Ek is ’n navolger van Jesus.” Ons het jare lank geleer om die kerk te volg, in plaas daarvan om Jesus te volg.
Met die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se 150-jarige bestaansherdenking in 2009 het hulle sulke knopies uitgedeel en aan elke gemeente ’n klomp gestuur. Op elke knopie het gestaan: “Ek is lief vir my kerk!” Ek sê toe vir Elna, ons kantoorassistent: “Gooi dit in die asblik. As hier knopies aankom waarop staan: ‘Ek is lief vir die Here!’ dan deel ons dit uit en ons bestel nog.”
2. Selfgesentreerdheid vs Christus-gesentreerdheid
Oor wie gaan dit vir jou? Oor jouself of oor Jesus? Jesus maak ook hierdie onderskeid tussen selfgesentreerdheid en Christus-gesentreerdheid. Die dag nadat Jesus die skare mense met brode en vissies gevoed het, het hulle Hom met groot ywer gaan soek. Hoe pragtig is dit nie dat ’n klomp mense vir Jesus gaan soek nie!
Tog het Jesus die skare hierna daarop gewys dat hulle Hom ter wille van hulself gesoek het: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het” (Johannes 6:26).
Om wondertekens te sien en Jesus om daardie rede te soek, beteken om sy heerlikheid, goddelikheid en almag te besef en Hom daarvoor te eer en te aanbid. ’n Mens moet dus, soos sy dissipels, Jesus ter wille van Homself soek. “Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom” (Johannes 2:11).
’n Tipiese vraag wat baie mense vra wanneer hulle ’n nuwe kerk gaan soek, is: “Wat kan ek daaruit kry?” Dit het met ander woorde alles met jou motief of jou basiese dryfveer te doen. Gaan dit vir jou oor Jesus of oor jouself?
Baie lidmate sien die kerk as ’n plek waar hy of sy gedien moet word. Dan is die uitgangspunt: “Die kerkleiers moet my gereeld besoek.” Die lidmaat word dus die verbruiker wat tevrede gehou moet word. Die probleem van ’n passiewe meerderheid lei tot een van gevestigde kerke se grootste kopsere. Daarby werk leraars hulle tot in die hospitaal in ’n poging om by almal uit te kom en hulle gelukkig en tevrede te hou. Uiteindelik sit ’n mens met ’n selfsugtige, selfgesentreerde gemeente. Geen gemeente wat op selfsug gebou is, gaan hou nie. En hy gaan nóg minder sy goddelike doelwit bereik.
Die oomblik wanneer ’n mens jou vraag verander na: “Wat beteken ek vir Jesus?”, word jou gawes geaktiveer. Jy begin dan dien en help om ’n gemeente te skep waar mense mekaar onder meer versorg, ondersteun en bemoedig. Ewe skielik word jou lewe sinvol en jou kerkwees betekenisvol. Nou kan jy die opgewondenheid van geestelike groei ervaar!
3. Na-binne-gerigtheid vs na-buite-gerigtheid
Die een soort kerk bestaan ter wille van homself, terwyl die ander soort ter wille van die nood van die wêreld bestaan. Eersgenoemde vergestalt die tipiese probleem van na-binne-gerigtheid. In dié geval is die kerk soos ’n klub waar die lede se belange eerste kom. Hier kan die sosiale binding tussen mense verbasend sterk wees. Dis egter tragies dat hul lidmaatskap en verbondenheid aan die sogenaamde familie (tribe) eerder as die lewende Jesus hulle saambind.
Ongelukkig is daar leraars wat die opbou van ’n gemeente sien as ’n manier om hierdie klub-karakter net sterker te vestig. Die gemeente word dan eerder rondom eie, selfgeskepte waardes en gebruike gebou as op Jesus as die enigste fondament.
Die Griekse woord koinonia beteken gemeenskap oftewel om dieselfde dinge met mekaar te deel. In ’n gemeente deel ’n klomp mense hul verbondenheid aan Jesus met mekaar. Dit maak so ’n gemeenskap uniek en bring ’n onderlinge liefde en vertroue teweeg, omdat Jesus sentraal staan.
4. Wette vs motiewe
Hier het ons te doen met die eienaardige verskynsel dat kerkgesentreerdheid ’n wettiese karakter na vore bring. Die eie styl en kultuur word dus die wet. Die soort kerk wat die mense vir hulself geskep het, word belangriker as die soort kerk wat ons Hoof wil hê.
Die tragiese verskynsel hier is baie mense se onvermoë om tussen essensiële dinge en nie-essensiële dinge te onderskei. Die twee word dikwels omgeruil. Mense ervaar dikwels nie die krag en versterkende waarde van die nagmaal nie; die bekende vorm daarvan versterk eerder hul sentimentele verkleefdheid aan ’n uiterlike vorm. Hierdie verkleefdheid kan so sterk wees dat mense totaal irrasioneel daaroor dink en ’n onvermoë ontwikkel om tot nuwe insigte te kom. Dit skep ’n onbuigsaamheid en selfs ’n blinde onversetlikheid.
Jongmense voel dikwels weens wette en verwagtinge onveilig in tradisionele kerke. Ons lees nie in die Bybel van hierdie wette nie en boonop is die jonges nie eens daarvan bewus nie.
Hierteenoor werk Jesus eerder met motiewe. Om die Here jou God lief te hê, is nie ’n koue wet nie, maar ’n motief. Dieselfde geld jou soeke na die koninkryk van God as die enigste prioriteit en om dissipels van die nasies te maak. Dit word ’n dryfveer wat jou motiveer, eerder as ’n koue wet wat van buite af op jou afgedwing word.
5. Outoritêre leierskap vs diensbaarheid
Hier gaan dit oor die modernistiese oorbeklemtoning van die leier se status en gesag. Die leier word op ’n troontjie geplaas waar hy amper onaantasbaar is. Juis dít waarteen die kerkhervormers in die 16e eeu gestry het, is weer teruggebring.
Die uitdaging is om ’n leier met ’n Jesus-karakter te wees. Dan klim jy van jou troontjie af en jy begin voete was. Letterlik! Voetewas is ’n mooi simbool van ’n bereidheid tot nederigheid en diensbaarheid.
6. Kerkgerigtheid vs koninkryksgerigtheid
Ek praat dikwels oor die probleem van kerkgerigtheid. In die meeste gevalle ontlok dit ongelukkigheid en sterk teenkanting. Mense se sensitiwiteit om kerkgerigtheid af te keur, verraai dat ons van die kerk ’n grootheid op sy eie gemaak het. Menigeen sal dan in vergelyking met ander kerke en denominasies laat hoor: “Ons kerk is ons trots!”
Jesus het baie meer klem op die koninkryk as op die kerk geplaas. Koninkryksgerigtheid skilder ’n heel ander prentjie. Omdat jy dan God se werk onder alle mense op aarde raaksien, is dit nie vir jou ’n probleem om met mense van ander kerkgroepe hande te vat om God se saak te dien nie. Jy ontdek die bevryding om uit die kokon te breek.
7. Verskraalde verlossingsleer vs geestelike groei
Opkomende kerke beskuldig gevestigde (meestal gereformeerde) kerke daarvan dat hulle met ’n verskraalde verlossingsleer werk. Die meeste gevestigde kerke erken dit ook.
Die gereformeerde belydenisskrifte het 450 jaar gelede ’n spesifieke oogmerk gehad, en daarom dra dit ook ’n spesifieke klem. As ons dit egter vandag uit hierdie raamwerk haal en sonder inagneming van die historiese konteks net so toepas, skep ons ook eensydige gelowiges en eensydige kerke. Die aanvulling van ons belydenisskrifte om die balans te herstel was nog nooit so dringend soos nou nie. Belydenisskrifte behoort immers vir die hedendaagse wêreld relevant te wees.
Hierdie eensydigheid gaan oor die afwesigheid (en totale onder-beklemtoning) van die nuwe lewe in Christus; van lewensverandering en vernuwing; van aktiewe dissipelskap; en van geestelike groei om ’n missionêre mag te word. Dis asof ons Jesus al die jare net as ons Verlosser en Saligmaker gesien het en nie ook as ons Leermeester, Gestuurde en Stuurder nie.
8. Denominasionalisme vs die koninkryk
Hier gaan dit oor die waarde wat aan ’n spesifieke dogma gegee word. Natuurlik is die suiwer Bybelse dogma baie belangrik. Die tragiese is egter dat instemming tot die dogma die toegangs-kaartjie tot kerklidmaatskap word. Jongmense wat hul geloof bely, word deeglik in die spesifieke denominasie se leerstellings onderrig en ingelei en moet dan verklaar dat hulle dit aanvaar en daarby sal hou.
Het deelword van ’n gemeente nie eerder met ’n lewende verhouding met Jesus Christus te doen nie?
Probeer denominasies nie hul bestaan regverdig deur dogmatiese onderskeiding en verskille met ander denominasies op die spits te dryf nie? So ontstaan daar kritiese en veroordelende twisgesprekke, sonder om in ag te neem dat God ook in ander denominasies werk. In hierdie geval lyk die beeld wat die onbekeerde wêreld sien nie goed nie.
9. Rasionalisme vs belewing
Rasionaliste word deur hul verstand gelei. Moontlik is dit die Franse wysgeer, wiskundige en wetenskaplike René Descartes (31 Maart 1596 – 11 Februarie 1650) se styl wat nog nie heeltemal momentum verloor het nie. Rasionalisme plaas onmiddellik die erediens en spesifiek die dominee se preek op die voorgrond. In baie mense se denke het dit die belangrikste van kerkwees geword en sommiges stel dit selfs gelyk aan kerkwees. In dié geval is die preek die hoof- en ook die einddoel.
Beklemtoon die Bybel nie eerder die nuwe lewe in Christus nie? Behoort die erediens nie eerder ’n konkrete ervaring te wees en minder van ’n intellektuele oefening nie? Is kerkwees buite die erediens minder belangrik as daarbinne?
Ek weet dat Woordbediening baie belangrik en onontbeerlik is. In Efesiërs 4:12 leer ons egter dat dit nie die doel is nie. Goeie preke help ons om by die hoofdoel uit te kom. Dit is maar ’n deel van ’n groter proses. Die einddoel is, soos in Efesiërs 4:13 beskryf word, om soos Jesus te wees. Beide aspekte word in hoofstuk 10 van hierdie boek uiteengesit.
10. Stelselgedrewenheid vs verhoudingsgedrewenheid
Hier gaan dit oor stelsels wat kerke oor die jare vir hulself geskep het. Dit kan maklik gebeur dat die instandhouding van hierdie stelsels die hoofdoel van ’n kerk word.
Gevestigde kerke het jare lank danksy die bevolkingsaanwas gegroei. Toe begin die getalle egter daal, onder meer omdat daar ’n afname in die geboortesyfer was. Die stelsels het ewe skielik onder druk verkeer en die begrotings het nie meer geklop nie. En wat gebeur toe? Tragies genoeg het ’n nuwe stelselgedrewe missionêre gevoel begin ontwikkel.
Hierteenoor is ’n Christus-gesentreerde kerk verhoudingsgedrewe in plaas van stelselgedrewe. Waar stelsels onpersoonlik is, is verhoudings persoonlik en warm.
Die twee modelle
’n Probleem wat dikwels voorkom, is dat kerke steeds in wese op die linkerkantste model staan, maar dan probeer om ’n nuwe gesig op te sit. Hulle glo ’n bietjie duikklopwerk laat hulle meer na die regte ding lyk.
Die skuif van die linkerkantste na die regterkantste model is ’n radikale skuif. Dit behels dat ’n aantal bestaande lewenswaardes tot op die grond toe afgebreek word alvorens daar na ’n heel nuwe fondament toe geskuif en van nuuts af gebou kan word. Sonder die krag van die Heilige Gees gaan die skuif nie plaasvind nie. En sonder gebed gaan die krag van die Gees net ’n mooi teorie bly.
Kyk mooi na die linkerkantste model. Daar is nie plek vir Jesus nie. Hy kry hoogstens ’n tweede of derde plek – of Hy word ’n voetnota. Wat hierdie model beskryf, is nie ’n kerk nie; dalk eerder ’n organisasie of ’n klub. As ons dit ’n kerk sou noem, verkondig ons ’n leuen. Vir jare het ons hierdie leuen in stand gehou net omdat ons gaaf wou wees en nie mense wou ontstel en onsself ongewild wou maak nie. Hoe lafhartig! Hoe pateties lafhartig!
Dit is nie nodig om gevestigde kerke te verlaat nie. ’n Passie vir die Groot Skuif het alreeds posgevat en is besig om baie vinnig te versprei. Dis baie opwindend om deel daarvan te wees.
Dit is die uitnodiging, maar ook die uitdaging aan jou: kom wees deel daarvan!
Mensgesentreerd | Christus-gesentreerd |
1. Kerk as die middelpunt Lidmaatskap Volg die kerk | 1. Jesus as die middelpunt Dissipelskap Volg Jesus |
2. Wat beteken die kerk vir my? Ek wil bedien word Huisbesoeke Konstantyn (sien hoofstuk 16) Verbruikersmentaliteit Passiewe meerderheid Demokraties | 2. Wat beteken ek vir Jesus? Ek is hier om te dien “Mekaar”-opdragte Liggaamsbelewing Geaktiveerde gawes Christokraties |
3. Die kerk bestaan ter wille van homself Na-binne-gerigtheid Klub (tribalism) Sunoesia | 3. Die kerk bestaan ter wille van die nood van die wêreld Na-buite-gerigtheid Uitreik-passie Koinonia |
4. Wetties Eie styl en kultuur Sentimentele verkleefdheid aan vorm Vormgodsdiens Seremonies en formaliteite | 4. Motiewe Aanpasbaar Soepel Verkleef aan die lewende Jesus Klem op inhoud Belewing Konkrete ervaring |
5. Outoritêre leierskap | 5. Diensbaarheid |
6. Kerkgerig | 6. Koninkrykgerig |
7. Verskraalde verlossingsleer | 7. Geestelike groei |
8. Dogma word die onderskeidingsnorm Denominasionalisme Krities, twissiek, veroordelend | 8. Die lewe van Jesus word die onderskeidingsnorm Koninkryk Liefdevol Diensbaar |
9. Rasionalisme Erediensgesentreerd Die preek is die hoofsaak en einddoel | 9. Belewing Die erediens van die lewe Die nuwe lewe is die hoofsaak en die einddoel |
10. Stelselgedrewe Instandhoudingsmodel | 10. Verhoudingsgedrewe |