Читать книгу Jý is die kerk - Francois Kruger - Страница 5

Оглавление

1. Niks meer en niks minder nie

1

Niks meer en niks minder nie

Die Bybelse betekenis van “fondament” en die praktiese toepassing daarvan op hedendaagse kerkwees word behandel.

Verandering kan gevaarlik wees, en onnodige verandering is ’n onding. Dit laat mense ontuis en onveilig voel. Die debat oor wat nodig is om te verander en wat nie, hou nou al jare lank aan. Praktiese ervaring en die lees van soveel Skrifgetroue boeke moontlik hieroor het my teruggeneem na die één Boek oor verandering. Dit het my tot die gevolgtrekking laat kom dat dit ’n groot fout is om sommer net dinge te verander, sonder dat dit werklik nodig is. Die prys wat ’n mens daarvoor betaal, is baie hoog. Niemand wil tog met ’n klomp ongelukkige en negatiewe mense in ’n gemeente sit nie.

Maar die grootste fout is om nié te verander wanneer dit werklik nodig is nie. Dis ’n teken van gebrek aan leierskap en geloofsmoed. Dis ook ’n gebrek aan getrouheid aan jou roeping. En dis die teken van ’n swakkeling. Dit gebeur maklik dat noodsaaklike verandering nie plaasvind nie, omdat leiers nie die guts het om dit te doen nie. Al wat dan gebeur, is dat hulle later die slagoffers van daardie verandering word.

Verandering is in minstens drie gevalle noodsaaklik:

1. Om die kerk relevant te hou

Die moderne mens wil die taal van die kerk verstaan en tuis voel in die kerk se styl. Daarom moet sekere dinge verander ten einde die kerk relevant te hou. Doen ons dit nie, het ons baie min impak op die gemeenskap. Stylaanpassing is, onder andere, ’n manier om die kerk relevant te maak. Natuurlik is daar ook ander aanpassings wat gemaak moet word.

Ons het die afgelope ruk heelwat tyd belê in die bediening van jongmense. Die Here het ons geseën en ’n mooi klompie jongmense het Sondagaande bymekaar gekom. Baie van hulle was voorheen kerkloos en het ook kerkloos grootgeword. Ander het nie in ons gevestigde kerkstyl grootgeword nie. Om hulle te akkommodeer, moes ons ons aanbiddingstyl meer kontemporêr maak. Ons het besef dat, as hulle in ’n erediens instap en begroet word met ’n styl wat 50 jaar oud is, ons hulle nie weer gaan sien nie. Hierdie stylveranderinge is met gemengde reaksies begroet. Sommige lidmate het dit verwelkom, terwyl dit ander teen die bors gestuit het. Dit was die begin van baie spanning in ons gemeente.

Die mees algemene kritiek was dat ons nou by die wêreld wil aanpas. Ek het lank gewonder in hoe ’n mate dié kritiek geldig is. Jesus het in sekere sin by die wêreld aangepas. Hy het mens geword om mense te red. Paulus het vir die Jode soos ’n Jood geword om hulle vir Christus te wen. ’n Mens moet eenvoudig aanpas by die mense wat jy wil bereik. Dis soos visvang: jy gebruik aas waarvan die vis hou, nie waarvan jy hou nie. Natuurlik sal ’n mens nooit die evangelie aanpas of afwater nie. Juis nie!

Iemand het op ’n dag gesê: “As jy nie van verandering hou nie, gaan jy nóg minder van irrelevansie hou.” Die kerk se mening gaan dan al hoe onbelangriker raak. Vir mense daarbuite gaan dit doodgewoon nie meer saak maak nie.

Dis egter belangrik om in te sien dat hierdie soort verandering – hetsy om relevant te bly of jou styl aan te pas – nie werklik grondige verandering behels nie.

2. Om uitgediende strukture te vervang

Alhoewel strukture noodsaaklik is, moet dit met werkbare en funksionele strukture vervang word wanneer dit uitgedien is. Die Bybel skryf nie spesifieke strukture voor nie, maar wel belangriker sake.

Strukture is nodig om hierdie belangriker sake te ondersteun. Strukture is daarom daardie dinge wat ’n ondersteunende en dienende rol speel, soos gebruike, seremonies en uiterlike vorme.

Strukture is nooit ’n doel op sigself nie, maar is daar om die eintlike doel te dien. Om strukture ter wille van die strukture in plek te hou is sinloos. Ook om dit ter wille van sentimentele verkleefdheid aan die strukture of die handhawing van ’n eie karakter of eie groepsidentiteit in stand te hou.

Indien strukture nie doeltreffend werk nie, moet dit met meer funksionele strukture vervang word. Die Here wil nie hê ons moet aan uitgediende strukture vasklou nie. Iemand het eenkeer, met betrekking tot die Anglo-Boereoorlog, gevra: “As jou perd doodgeskiet word, wat doen jy? Jy klim af en gaan verder! ’n Mens kan nie op ’n dooie perd ry of hom weer aan die lewe probeer dokter nie. Kry ’n ander perd.”

Of dink aan bouers wat ’n hoë gebou moet oprig. Hulle doen moeite om netjiese en stewige steierwerk buite-om op te rig. Maar dink jou in wat sal gebeur as hulle nie die steiers wil afbreek nadat die gebou voltooi is nie, omdat hulle te trots op hul netjiese steierwerk is. Die steiers het dus vir hulle belangriker geword as die gebou self. Dis tog belaglik! Die gebou is immers die doel, nie die steiers nie.

Dit is so hartseer dat die strukture wat ons self geskep het, onversetlik gehandhaaf word, terwyl die doel wat die Here vir ons gee, misgekyk word. Ek wil daaroor huil. Dit is kerkspeel en kerkspeel is vals, want dit skep ’n valse gerustheid. Dit is bedrieglik omdat dit mense gelukkig en tevrede hou. En baie mense gaan dit te laat agterkom.

Ook hier moet ’n mens besef dat as strukture wat verander of aangepas word, eweneens nie werklik verandering is nie. Die doel daarvan is net om die funksionering meer doeltreffend te maak.

3. Om ’n skuif na die enigste werklike basis te maak

Hierdie is die enigste ware verandering wat daar is. Alle ander moontlike veranderinge is soos om meubels te herrangskik. Dis vensterversiering, oftewel “window dressing”. Niks ingrypends word verander nie. Die enigste ware verandering is om weg te skuif van enige basis waarop ’n mens tot hiertoe gebou het na die enigste werklike basis wat daar is.

Die Bybel gee interessante perspektiewe oor Jesus as die enigste fondament.

“Jesus Christus Self – en Hy alleen!”

Argitekte het nie in die tyd van die Nuwe Testament met ’n tekenbord gewerk nie. Hulle het eerder na die klipkappery gegaan, ’n mooi groot vierkantige klip uitgesoek, en dit na die bouperseel laat bring. Daar het die argitek al die los bogrond laat verwyder totdat hy op harde, natuurlike grond afgekom het. Dan het hy die vierkantige klip geposisioneer volgens die plan van die gebou wat hy in gedagte het. In die meeste gevalle was die res van die klippe vir die fondasie nie netjies gekap nie. Die groot hoeksteen het die ander klippe in plek gehou. Die hoeksteen het bepaal hoe die hele gebou uiteindelik sou lyk: die ligging, die front, die grootte, die hoogte, asook die duursaamheid en standvastigheid van die gebou.

In die Bybel word hierdie beeld gebruik om die verhouding tussen Christus en sy kerk duidelik te maak. Christus is die fondament of die hoeksteen. Die kerk wat daarop gebou word, is soos die gebou wat op hierdie fondament verrys. Só word dit in Efesiërs 2:20–22 beskryf: “Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.”

“Die hele gebou word gevorm volgens die patroon van die hoeksteen.”

As ons nou dieselfde verband tussen die fisieke fondament en die gebou van destyds op die gemeente toepas, lui dit so: Die totale gemeente, en elke gelowige individu word volgens die patroon van Jesus Christus se woorde en lewe gevorm.

Jesus word nou die gietvorm, die bloudruk, die volmaakte argiteksplan vir die gelowige se lewe, en daarom ook van die gemeente. Sy patroon word jou beoordelingsnorm, sodat jy nou dinge aan die hand van hierdie patroon gaan takseer en interpreteer. Jesus word dus jou enigste lewensnorm.

Paulus praat in Romeine 15:20 van apostels wat elkeen ’n fondament lê. Dink nou hoe die apostels by ’n dorpie gekom het waar die evangelie nog nie vantevore gehoor is nie. Hulle begin met die mense praat oor die enigste faktor wat alles van die Christelike lewe bepaal. Dit gaan oor die faktor waaruit alle ander dinge groei, waarop alles gebou word en waardeur alles ondersteun word. Dit gaan oor die enkele saak wat die totale Christelike lewe en Christelike kerk se karakter en doel bepaal.

Daar is net één so ’n bepalende faktor, en dit is Jesus. Hy is die enigste faktor wat daar is en wat daar ooit sal wees. Hy is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, die A tot Z. ’n Mens moenie jou lewe probeer bou op dinge wat voor die A of na die Z kom nie, want dis valshede. Jesus sluit alles in. Hy is volmaak en genoegsaam. Niks anders is nodig nie.

Ek dink baie oor Paulus se woorde in 1 Korintiërs 3:11: “… want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.”

Hoekom noem Paulus die moontlikheid dat iemand ’n ander fondament kan lê? Omdat dit destyds ’n wesentlike gevaar was en vandag steeds is. ’n Mens sien dit deesdae baie duidelik.

’n Mens kan op verskillende maniere bou:

1. Jy kan langs die hoeksteen bou

Wanneer ’n mens glad nie jou lewe volgens Jesus se patroon vorm nie, bou jy heeltemal langs die hoeksteen. Jy gebruik dan allerhande ander dinge – dinge wat jyself uitdink, wat uit jou ou hart kom, wat jy langs die lewenspad opgetel het of wat jy by wêreldgesinde mense sien. Dan lê jy ’n ander fondament.

2. Jy kan gedeeltelik op die fondament bou

Nog ’n manier van bou is om gedeeltelik op die fondament, Jesus, te bou, maar ook gedeeltelik op iets anders. Dan bou jy op ’n gemengde lewensbasis en is Jesus net gedeeltelik ’n lewensnorm. Die res kom uit jouself of enige ander plek behalwe Jesus.

3. Jy kan groter as die fondament bou

’n Mens kan wel op die regte fondament bou, maar algaande verby die fondament bou en dus groter as die fondament gaan. Dit gebeur wanneer ’n mens Jesus se woorde en dade oorspan. Jy probeer dus meer gereformeerd as die Bybel wees en gaan verder as wat Jesus gegaan het deur goed by Jesus se woorde te voeg – goed wat Hy nie gesê het nie. Soos die Jode gemaak het, sit jy meer wette by as wat die Here vir ons gegee het.

Iemand het spottend gesê dat as die gedrukte sinodale handelinge dikker as die Bybel begin word, moet ’n mens ernstig vra of ons nie besig is om verder as Jesus te gaan nie. (Dalk het hy nie gespot nie …?) Dit kan maklik gebeur wanneer ’n mens begin afleidings maak van wat Jesus gesê het, en dan weer afleidings van afleidings maak. Uiteindelik sit ’n mens met iets wat baie mooi klink, maar wat nie werklik van Jesus af kom nie.

4. Jy kan kleiner as die hoeksteen bou

Dis ook moontlik om kleiner te bou as wat die hoeksteen voorskryf. Jy aanvaar sekere, vir jou geliefkoosde, dinge van Jesus as lewensnorm, maar nie alles nie. Dis gewoonlik die moeiliker dinge, dinge wat selfverloëning en opoffering vra wat ’n mens dan nie ernstig opneem nie. Die groot opdrag van Matteus 28:19–20 is tipies een van die dinge wat mense graag ignoreer of sekondêr maak. Daar staan: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Om vierkantig op Jesus te bou beteken om niks minder nie, maar ook niks meer nie van wat Hy is en wat Hy ons leer as jou lewenspatroon te aanvaar. Indien ’n mens só bou, maak jy die skuif van kerkgesentreerdheid na Christus-gesentreerdheid. Onthou, Jesus is die volmaakte lewensbasis, maar Hy gaan vir jou net mooi niks beteken as jy nie op Hom bou nie.

Wanneer ’n mens bou, word die mure en fondament ’n hegte eenheid. Dis net soos die loot en die druiwestok wat ’n eenheid word. Om op Jesus te bou beteken daar kom ’n verhouding of solidariteit tussen jou en Jesus tot stand. Dis ’n baie persoonlike en lewende verhouding; ’n standhoudende en lewegewende verhouding; en ’n verhouding van geborgenheid en ondersteuning, maar ook van krag en geloofsmoed. Só ’n verhouding skep karakter en doelgerigtheid in mense se lewens. Dan vind radikale lewensverandering en totale vernuwing plaas. En dís my probleem met gevestigde kerke: van lewensverandering en vernuwing sien ’n mens maar min.

Wat moet gebeur, is dat Jesus al is wat saak maak. Enigiets wat jou help om Jesus te laat saak maak, maak ook saak. Verder maak niks saak nie. Hy kom neem die sentrale plek in en word jou hoofmotief – jou meestermotief. Sy liefde vir jou word die dryfveer. Jou liefde vir Hom en jou passie vir sy saak op aarde word jou vreugde. Jesus word jou Here, jou baas, jou leermeester, jou vriend en jou koning. Deur Hom leer jy jou Vader ken en van Hom af ontvang jy die Gees.

Prakties is ’n mens dan bereid om weg te doen met enigiets wat nie van Jesus af kom nie. Jy bid ook vir ’n eerlike onderskeidingsvermoë.

Jy besef een feit bo alle ander: jy kan nie sonder Hom leef nie! Dink bietjie aan die Ou Testament. Ons het daar die hartseer geskiedenis van ’n volk wat keer op keer misluk het. Hulle kon eenvoudig nie aan die Here getrou bly nie. Dit stuur een groot boodskap uit: die mensdom kan nie regkom sonder Jesus Christus nie!

Om Jesus as jou lewensfondament te hê beteken om jou hele lewe met alles wat dit behels op Hom te laat rus. Dan vind jy ’n vastigheid. Jou lewensbasis is solied en die skommelinge van ’n deurmekaar en onseker wêreld kan jou nie ontsenu nie.

Om vierkantig op Jesus te bou het met fondament-sake te make. Dit gaan oor die heel eerste oorsprong – die algeheel bepalende faktor.

’n Lewe wat nie vierkantig op Jesus staan nie, kan nie maar so bly en dan iewers hoër op gekorrigeer word nie. So ’n bou-werk moet tot op die grond afgebreek word.

Eers daarná kan die skuif na die nuwe en ware fondament gemaak word en kan daar van vooraf gebou word. Enige ander soort verandering is gewoon nie goed genoeg nie.

Dis die manier waarop die Here Self werk. Voor Hy begin bou, breek Hy eers af. Hy verwyder alle bedrieglike fondasies. Die Here breek alles af waarop die mens valslik vertrou het. Hy maak ons los van onegte, selfs geliefde dinge waaraan ons verkleef geraak het.

Lees wat daar in dié verband in Jeremia 31:28 staan: “Ek was gretig om hulle uit te ruk en af te breek, om hulle plat te slaan en te vernietig, om rampe oor hulle te bring. Ek sal net so gretig wees om hulle op te bou en hulle te plant, sê die Here.”

Die Here ontbloot die bedrieglike karakter van die valse dinge waarin ons rus en vastigheid gesoek het. Daar is ongelukkig baie sulke dinge wat ware rus en vastigheid naboots en mense sodoende in ’n valse gerustheid dompel.

Die afbreekproses skep die indruk dat ’n gemeente nie “gesond” is nie. Daar is baie pyn in mense se gemoed, want die afbreekproses is pynlik. Dit is egter onvermydelik – selfs al veroorsaak dit ongelukkigheid in ’n gemeente en selfs ongevalle.

Dit vra egter groot eerlikheid van die leiers – om nie hier-agter te skuil as hulle voetfoute maak nie. Verkeerde optrede deur die leiers kan ook pyn veroorsaak. Dit is iets anders as God se afbreek- en opbouproses. Leiers behoort hul motiewe en geestelike integriteit eerlik te ondersoek.

God se skuifproses in ’n mens se lewe vra van jou om baie eerlik met jouself en voor God te word. Dit vra dat jou geestelike oë sal oopgaan en om te erken dat sekere dinge in jou lewe dalk ’n ander oorsprong as Jesus Christus het.

Die probleem is normaalweg nie om op Jesus te bou nie, maar om al die ander dinge af te breek. Dit is pynlik om ontslae te raak van gebruike (selfs jare lange gebruike) wat nie werklik uit Christus gegroei het nie. Te veel mense skram weg van hierdie uitdaging. Ons het te lief geword vir sekere gebruike net omdat ons sentimentele verkleefdheid daaraan so sterk is.

Ek dink ook aan wat my pa en oupa my geleer het: om ver genoeg terug te gaan. Dít is die groot uitdaging! ’n Mens moet teruggaan tot by die persoon, Jesus Christus. Enige poging wat stop vóór jy by Jesus uitkom, is nie goed genoeg nie.

Deur mense daaraan gewoond te maak dat dit genoeg is om fatsoenlik en ordentlik te lewe, het ons ongelukkig oor die jare iets van ’n verkeerde kultuur in ons kerklike lewe gevestig. Mense dink dis voldoende om net met die regte kerklike gebruike te konformeer. Hulle glo as hulle gereeld die eredienste bywoon en hul dankoffer gee, hoef hulle eintlik nie iets meer te doen nie. Tensy jy as ’n leier gekies word, want dan moet jy begin werk. Ons het jare lank nie die radikale karakter van Christenwees genoeg beklemtoon nie. En hier kla ek myself aan.

Om vierkantig op Jesus te bou beteken jy word oorgemaak – nuut gemaak. Die Heilige Gees vat jou terug na die heel begin en van daar af doen Hy alles oor.

Ek weet die afbreekproses is moeilik. ’n Mens raak gewoond aan ’n sekere manier van dinge doen, want dit het so deel van ons godsdiens geword. Die goeie nuus is egter dat ’n praktiese en persoonlike verhouding met Jesus Christus ’n mens se hele waardestelsel herskryf. Wanneer ’n mens die onoortreflike waarde van hierdie verhouding besef, plaas dit onmiddellik alle ander sake in ’n nuwe lig. Baie ander dinge word minder belangrik, selfs verwerplik – soos Paulus in Filippense 3 skryf.

Jou Koning stel jou sodoende in staat om vorige sentimente te herevalueer, en ’n totaal nuwe perspektief te kry. Dit is soos om ’n kers aan te steek om beter te kan sien terwyl die son helder skyn. Dis mos belaglik! Die sonlig oorweldig eenvoudig alle ander ligbronne sodat hulle oorbodig word. Net so word alle ander hoekstene oorbodig.

Fundamentalisme is om aan ’n klomp wette, reëls, regulasies, gebruike, konvensies, uiterlike vorme, seremonies en tradisies vas te hou asof dit onveranderlik is. Kom ons speel klaar met fundamentalisme en hou liewer net aan die lewende Christus vas. Die Heilige Gees gaan ons hiertoe in staat stel!

Jý is die kerk

Подняться наверх