Читать книгу Jý is die kerk - Francois Kruger - Страница 6

Оглавление

2. Die beginpunt

2

Die beginpunt

Hierdie hoofstuk behandel Jesus as Verlosser en die individu se geloofsverantwoordelikheid. Die beginpunt lê by die enkeling.

Daar is al baie gedebatteer oor die vraag: Waar begin die skuif na ’n Christus-gesentreerde kerk? Of anders gestel: Waar begin kerkwees?

Baie mense voel dit moet by die sinode, teologiedosente en by die kerk se leierskorps begin. Die meeste mense stem egter saam dat dit op ’n persoonlike vlak begin. Ek dink dit is wat die Bybel ons ook leer.

Kyk byvoorbeeld na die gemeente in Filippi. Hoe en waar het dit begin? By ’n enkele persoon – ’n vrou. Haar naam was Lidia. “Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak” (Handelinge 16:14).

Verandering begin altyd op ’n persoonlike vlak, met ’n innerlike hartsverandering as die beginpunt. Daarna volg verandering op gemeentelike vlak. Mense se harte moet eers verander voordat strukture kan verander.

In Filippi was Lidia een van die eerstes wat in Jesus geglo het. Sy het geluister hoe Paulus die fondament lê en hoe hy hulle vertel het van Jesus, uit wie alle ander dinge voortspruit.

Daar was ander mense wat ook gelowig geword het. Hierdie gelowiges het mekaar opgesoek en gereeld bymekaargekom en mekaar versterk en gedien. So het daar ’n kerk gevorm.

Kom ons dink bietjie dieper na oor hierdie beginpunt.

Na my mening is dit gevaarlik om Jesus bloot as ’n voorbeeld en nie ook as ’n Verlosser te sien nie. Dit gebeur dan dat jy bloot, soos ’n mimiekkunstenaar, Jesus se voorbeeld volg. Sommige opkomende teoloë in Amerika maak hulle dalk hieraan skuldig.

In die vorige hoofstuk het ons na Jesus as die enigste fondament gekyk, en dat ons óp daardie fondament moet bou.

Die woordjie “op” word ook op ’n ander plek in die Bybel gebruik. Ongelukkig kom dit nie in die Afrikaanse vertalings voor nie. Dalk is dit van groter betekenis as wat ons nog ooit besef het.

Toe die tronkbewaarder in Filippi vir Paulus en Silas vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” was hul antwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin”1 (Handelinge 16:31). (Die Griekse vertaling gebruik die woord “epi”, wat “op” beteken).

Die woord “op” is ’n tipiese en geliefde uitdrukking van Lukas. Lees byvoorbeeld Handelinge 9:42, 11:17 en 22:19. In al drie hierdie gevalle staan daar letterlik, volgens die Grieks, “Glo op Jesus”, alhoewel dit nie in die vertalings so na vore kom nie.

Normaalweg word die woord “in” gebruik – “Glo in die Here Jesus …”, maar Lukas stel dit anders, heelwaarskynlik omdat hy Jesus Christus as ons verlossingsbasis in gedagte het.

Die beeld van die fondament kom dadelik in ’n mens se gedagtes op.

Begin by hierdie punt om op Jesus te bou:

• Om jou sondelas óp Hom te laat rus.

• Om al jou skuld óp Hom te laat neerkom.

• Om óp Hom te steun vir jou ewige saligheid.

Jesus as fondament is meer as bloot ’n voorbeeld. Hy is die enigste Verlosser en verlossingsbasis wat daar is.

Die Heidelbergse Kategismus stel dié belangrike vraag: “Word alle mense deur Christus verlos?”

Die antwoord hierop is: “Nee, net dié wat in Hom glo met ’n ware geloof.”

Die tronkbewaarder in Filippi het hierdie geloof gevind.

In Handelinge 16:16–34 lees ons dat Paulus en Silas ’n waarsêersgees uit ’n slavin, wat baie geld vir haar eienaars ingebring het, gedryf het. Toe sy hierna nie meer vir hulle kon geld inbring nie, het haar eienaars Paulus en Silas laat arresteer. Hulle is ná 39 houe aan ’n spesifieke tronkbewaarder oorhandig, wat hulle toe in die binneste sel opgesluit en hul voete in die houtblok vasgeklem het.

Teen middernag, toe Paulus en Silas besig was om te bid en te sing, het die Here ingegryp en ’n geweldige sterk aardbewing laat plaasvind wat die fondamente van die tronk geskud het. Die tronkdeure het oopgegaan en al die gevangenes se boeie en houtblokke het losgeraak.

Nie net het die dak ná hierdie geweldige aardbewing amper ineengestort nie, maar die fondamente het ook begin bewe. Dit was moontlik ’n teken dat hier vir die tronkbewaarder ’n nuwe fondament op pad is. Hierdie gebeure was ’n manifestasie van God se krag.

Die bewaarder het skielik wakker geskrik. Toe hy sien die tronkdeure staan oop, wou hy homself om die lewe bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. Sy eerste reaksie was om sy swaard uit te trek en homself dood te maak, want hy was deur vrees gedryf. Hy het geweet die Romeinse owerheid sou hom in elk geval doodmaak as die gevangenes ontsnap het.

Maar toe stel Paulus en Silas hom met dié woorde uit Handelinge 16:28 gerus: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

Steeds bewend van vrees, het hy voor hulle neergeval. God se teenwoordigheid en dramatiese ingryping het die bewaarder waarskynlik iets laat besef wat ooreenstem met die woorde in Lukas 12:5, 1953-vertaling: “Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp.” So ook die woorde in Hebreërs 10:31: “Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.”

Ek weet die Uitreik-handboeke sê dat die postmoderne mens nie meer vir die hel en God se oordeel skrik nie. Daarom werk dit nie om met mense daaroor te praat nie.

Ek dink egter dis oneerlik om hierdie werklikheid te verswyg. Die Gees kan immers ander gewaarwordinge bewerk as wat Uitreik-handboeke dikteer.

Voorheen was die tronkbewaarder se besorgdheid deur die grense van hierdie aardse lewe beperk, en het hy nie verder as dit gedink nie. En tog het hierdie man pas daarna met groot besorgdheid oor sy ewige toekoms gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” (Handelinge 16:30)

Hierdie man het radikaal verander. God se krag het ewe skielik aan hom perspektief gegee. Hierdie perspektief is noodsaaklik.

God het sy krag op twee maniere gemanifesteer:

1. Deur die aardbewing

Almal, ook die tronkbewaarder, het besef die aardbewing was ’n ernstige saak. Dit was nie oëverblindery of ’n kulkunstenaar wat ’n toertjie uitgehaal het nie, maar die krag van God die almagtige wat aan die werk was. Die feit dat ’n geharde Romeinse soldaat bewend neergeval het, weerspieël sy besef van die werklikheid van die gevaar en dat dit nie sy verbeelding was nie.

2. Deur hul harte te beheers

Omdat God hul harte beheers het, het Paulus en Silas nie gedoen wat gevangenes gewoonlik onder sulke omstandighede doen nie, naamlik om so vinnig moontlik te probeer wegkom. Die bewaarder het sonder meer aanvaar dat hulle ontsnap het en wou homself daarom om die lewe bring. Maar Paulus en Silas het in die tronk gebly, want God het hul harte beheers.

Die bewaarder het tot insig gekom. Hy moes besef het dat God se almag nie net die wêreld kan laat skud nie, maar ook mense se harte kan beheers. As God se almag só groot is, hoeveel te meer kan Hy dan nie aan ’n mens doen nie, en dan spesifiek ’n sondige mens soos hierdie tronkbewaarder?

Die bewaarder se oë het oopgegaan. Hy het besef dat daar groter werklikhede as hierdie wêreld is en groter gevare as die aardse. Hy het ook sy eie gebrokenheid ervaar en nuwe insig bekom! Hy het voorheen nooit so oor homself gedink nie. Maar nou wou hy weet wat hy moet doen om gered te word.

As die tronkbewaarder vandag hierdie vraag sou vra, sou hy ’n hele verskeidenheid antwoorde kon kry. Die Amerikaanse pastoor en berader dr. Albert Martin, gee die volgende voorbeelde:

• As hy die vraag aan ’n humanistiese sielkundige sou vra, sou die antwoord waarskynlik so iets wees: “Jy bewe, meneer die tronkbewaarder, jy is emosioneel ontstig, jy het ernstige probleme. Jy sit met ’n skuldgevoel wat van buite af op jou afgedwing is. Dis ’n ernstige probleem wat lank sal neem om op te los.”

• ’n Metodis sou waarskynlik antwoord: “Wat jy moet doen, is om ’n besluit te neem, en as jy die besluit geneem het, dan teken jy die dag en die datum aan, en dan is jy gered.”

• Iemand wat maklik glo (easy-believer) sou moontlik só antwoord: “Glo net, en jy’s reg – dis al. Niks verder nie. Of sê net: ‘Ek glo’ – dan is jy gered.”

• Van ’n sakramentalis (iemand wat glo ’n mens word slegs gered as jy gedoop is en nagmaal gebruik) sou hy waarskynlik hoor: “Jy moet gedoop word. So gou moontlik. Jy moet by water uitkom.”

• ’n Hiper-Calvinis se antwoord sou min of meer só klink: “Ek het goeie nuus: jy is eintlik lankal gered, jy het dit net nie geweet nie. Dis iets wat outomaties gebeur. En dis buitendien nie iets waaroor ’n mens eintlik praat of dink nie. Want jy kan elk geval niks daaraan doen nie. Jou probleem is ook dat jy vra wat jy moet dóén om gered te word. Jy kan niks doen nie. Al wat oorbly, is om te sit en wag en kyk wat gebeur.”

Ek wil ook die volgende moontlike antwoorde byvoeg:

• Ek dink daar is sommige gereformeerdes wat so sou antwoord: “My vriend, as jy nie uitverkies is nie, kan jy in elk geval doen net wat jy wil, jy sal nie gered word nie, en dis nou maar jammer. Sit dus maar net en wag totdat jy begin agterkom of jy uitverkies is of nie.”

• Ander gereformeerdes sou antwoord: “As jy in die verbond gebore is en gedoop is, gaan jy eintlik outomaties salig word. Die verbond werk outomaties. Jy hoef nie eintlik tot geloof te kom en jou te bekeer nie.”2

• ’n Werkheilige se antwoord sou waarskynlik so geklink het: “Jy moet eers ’n nuwe blaadjie omslaan. Eers regmaak, eers skoonmaak, en dan kan jy na Christus toe gaan.”

• En laastens, ’n geestesdrywer sou waarskynlik gesê het: “Jy moet eers in vreemde tale praat voor jy gered sal word. As jy dit nog nie gedoen het nie of dit nog nie met jou gebeur het nie, is jy nog nie gered nie.”

In teenstelling met al hierdie antwoorde, sê die Bybel doodeenvoudig: “Glo in (op) die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Die tronkbewaarder het onmiddellik die antwoord gekry, en het ook onmiddellik daarop reageer. Daar was nie ’n lang gesoek en eindelose navorsing om by ’n soort mistieke of esoteriese antwoord uit te kom wat ook moeilik uitvoerbaar is nie.

“Geloof is nie om bloot te glo in die bestaan van God nie.”

Die Bybel se antwoord is verbasend eenvoudig. Maar ons moet ook deeglik besef dat hierdie antwoord nie al was wat Paulus en Silas aan die bewaarder gesê het nie. Hulle het daarna lank met hom en sy huisgesin gepraat en hulle baie dinge geleer. Ek dink dat die antwoord meer behels as net die antwoord wat hy gekry het, want die antwoord is ’n samevatting van alles wat Paulus en Silas later die aand aan die bewaarder en sy huismense gesê het.

Die bewaarder het dadelik geglo.

Geloof is nie om bloot te glo in die bestaan van God nie.

Hierdie geloof is iets anders as ’n Oosterse geloof. Baie Oosterlinge sê: “Jy moet glo.” Punt. Maar in wie jy glo en wat jy glo, is vir hulle minder belangrik. Jy kan glo in die bestaan van sekere afgode of in sekere godsdienste en godsdienstige handelinge – dan is alles in orde.

Geloof is nie om bloot te glo in die bestaan van God nie.

Bybelse geloof beteken ook nie bloot om te glo in die bestaansreg of geldigheid van die Christelike godsdiens of van ’n bepaalde kerk nie.

Bybelse geloof plaas in die eerste plek nie die klem op geloof self nie, maar op Hóm in Wie ons glo. Ons geloof is nie iets op sigself nie. Ons geloof is nie op ons geloof gerig nie. Ons soek ook nie ons sekerheid en vastigheid in ons geloof nie, maar in Hóm in (op) wie ons glo!

Geloof is dan juis om te erken: Ek kan nie, want ek is magteloos. Maar ek gryp na iemand groter en sterker as ek, na Jesus Christus!

En nou wil ek dit tot op die spits dryf:

Geloof beteken nie net om te glo dat Jesus gesterf en opgestaan het nie. Die duiwel glo dit ook en twyfel nie daaraan nie, want hy wéét dit het gebeur. In Jakobus 2:19 lees ons: “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs.” ’n Mens kan álles in verband met Jesus glo: Dat Hy waarlik God is, dat Hy mens geword het, dat Hy gesterf het as voldoening van God se geregtigheid, dat Hy opgestaan het en dat Hy opgevaar het na die hemel. ’n Mens kan al hierdie dinge weet en glo, en steeds hel toe gaan. Want Bybelse geloof is meer as blote kennis en aanvaarding.

Geloof is nie om te glo in iets van Hom nie, maar in Homself; nie bloot om te glo in die werklikheid van wat Hy alles gedoen het nie, maar ín Hom!

Om in (op) die Here Jesus te glo beteken waarskynlik om die hele gewig van jou sonde en skuld en jouself óp Hom te plaas, om óp Hom te vertrou en om jou rus en vastigheid in Hom te vind. In Christus lê jou waarborg en dit sal jou nie teleurstel nie. Glo net!

Dink maar aan die bewaarder: Selfs al het God deur sy Heilige Gees in iemand begin werk, sy gewete begin wakker maak en hom van sy sonde begin oortuig, dan is hy nog nie gered voordat hy glo nie.

’n Mens is ook nie gered bloot omdat jy jou geloof voor die gemeente bely het nie. Te veel lidmate het al vir my gesê: “Toe ek belydenis van geloof afgelê het, was dit bloot ’n seremonie wat ek uitgevoer het, omdat ander dit van my verwag het. Almal het dit gedoen. Ek wou die skande van die teendeel vermy.”

In ons gemeente koppel ons nie meer belydenis van geloof (of grootdoop) aan katkisasie nie. Ook nie aan ’n ouderdomsperk nie. Die gesprek wat vooraf gevoer word, gaan nie in die eerste plek oor bevredigende kennis nie, maar oor ’n verhouding, ’n lewensbasis en die regte fondament waarop vierkantig gebou word.

Jý is die kerk

Подняться наверх