Читать книгу Die vrou met die pers oog - François Bloemhof - Страница 5

2

Оглавление

Juffrou Pol

Die volgende dag gaan Martie tydens eerste pouse biblioteek toe. Sy is seker die juffrou het die vorige middag net kwaai gelyk omdat sy geskrik het.

Die biblioteek is in ’n lokaal aan die einde van ’n ry klaskamers. Al die kinders is buite en die gange is leeg. Dit is baie stil hier.

Martie loop verby leë klaskamers en haar voetstappe weerklink op die blink vloere. Sy loer by die deure in. Die klaskamers lyk snaaks so sonder kinders. Dit voel half grillerig.

Sy kom by die biblioteek se swaaideur en stoot dit oop. Dit maak nie ’n geluid nie. Daar is niemand in die biblioteek nie.

Martie kan dit skaars glo. Hulle klasonderwyser het hulle gister hiernatoe gebring, en dit het haar so opgewonde gemaak om al die boeke te sien, dat sy kon sweer die biblioteek sou pouses oorloop van leesgierige kinders. Daar staan ook twee splinternuwe rekenaars vir hulle om naslaanwerk te doen.

Die swaaideur maak ’n klikgeluid toe dit agter haar toegaan en sy skrik. Sy is sommer vies vir haarself. Sy mag mos hier wees!

Dis doodstil in die biblioteek. Teen die mure is plakkate met allerhande interessante inligting op. Daar is ’n toonbank, ’n klomp tafeltjies waar leerders kan sit en lees of huiswerk doen, en dan is daar natuurlik die boekrakke vol lekker boeke.

Hoekom is hier niemand nie?

Toe sy ’n geluid agter die toonbank hoor, gil Martie van skrik.

Iemand kom agter die toonbank orent. Dis ’n vrou – juffrou Pol, met haar wollerige geel-blonde hare. Een van haar oë, die linkerkantse een, is groen. Maar die regteroog is pers!

Die oomblik rek en rek. Martie kan nie beweeg nie. Die pers oog hou haar vasgenael. Skielik is sy bang sy gaan nooit weer uit dié plek kom nie. Sy weet die swaaideur is nie ver agter haar nie, maar die vrou kan haar gryp lank voor sy daar kom.

“Ek het nie geweet hier is iemand nie,” sê juffrou Pol. Daar is geen uitdrukking op haar gesig nie. Dan verdwyn sy weer onder die toonbank in.

Martie kyk vinnig om. As sy hardloop, kan sy by die deur uit wees voor die juffrou weer opstaan.

Maar dit is te laat, juffrou Pol het weer van onder die toonbank te voorskyn gekom. “Kan ek help?”

“Ek . . .” Martie weet nie wat om te sê nie, want juffrou Pol lyk weer soos sy gister gelyk het. Albei haar oë is groen, en daar is nie ’n teken van pers in haar regteroog nie.

Martie sluk swaar. Het sy haar dit net verbeel? Dit is donkerig hier binne. Dalk het die lig haar oog so gevang dat dit pers gelyk het.

Maar sy onthou hoe hélder die pers was.

“Kan ek help?” herhaal die vrou.

Martie dink vinnig. Sy moet maak asof sy net senuweeagtig is omdat sy nuut is by die skool.

“Ek is nuut hier in die skool, Juffrou,” sê sy, “en ek ken nog nie die biblioteek nie. Ek soek iets om te lees.”

“Wel, jy het na die regte plek toe gekom.” Juffrou Pol beduie na die rakke. “Soek gerus maar daar.”

Martie loop na die rakke toe. Sy sien uit die hoek van haar oog juffrou Pol het agter die toonbank uitgekom en agter haar kom staan.

Martie gryp die eerste die beste boek. Sy kyk nie eens wat die titel is nie.

“Dié een asseblief, Juffrou.”

Juffrou Pol kyk haar agterdogtig aan, asof sy wag dat Martie haarself moet verraai. Sy neem die boek toonbank toe. “Skryf jou voorletter en van op die kaartjie.”

Toe sy die boek stempel, sien Martie hoe skerp en rooi haar naels is. Sy gebruik die stempel soos ’n hamer – Tjappp! – en gee die boek aan.

“Dit moet oor ’n week terug wees, Martie.”

Hoe weet die vrou wat haar naam is? Sy het net haar voorletter op die kaartjie geskryf!

“Goed, Juffrou,” sê sy en vlug na die deur toe. Martie kan die onderwyseres se oë op haar voel, maar eindelik is sy uit. Sy hardloop in die gang af. Dit is asof sy juffrou Pol agter haar voel aankom – maar dit is ook asof sy verwag die juffrou gaan agter een van die oop klaskamerdeure vir haar wag om verby te kom, en dan . . .

Toe is sy buite. Sy haal diep asem. Sy kom nou eers agter sy het haar asem opgehou die hele tyd vandat sy by die deur uitgestorm het.

Sy kyk af na die boek wat sy in haar hand vasklem. Dis Hansie en Grietjie.

“Ag, nee!” kreun sy. Chris gaan lekker lag as hy dít sien.

Die vrou met die pers oog

Подняться наверх