Читать книгу Die vrou met die pers oog - François Bloemhof - Страница 7

4

Оглавление

Vreemd . . .

Donderdag se laaste paar minute by die skool voel oneindig lank.

Dis heerlik buite, maar twee-en-twintig graadagts sit by hulle lessenaars vasgekeer en die enigste afleiding is ’n geskiedenisles.

Die interkom kraak nie ’n sekonde te vroeg nie. “Seuns en dogters, ons het die volgende afkondigings,” kom die hoof se stem.

Een van die skoolreëls is dat leerders na die interkom moet kyk tydens afkondigings sodat hulle volle aandag daar is. Vandag vind Chris dit moeilik om te maak of hy oplet.

Iets is al heeldag fout met Bertus. Hy sit asof hy versteen is. Die onderwysers het gou moed opgegee om reaksie uit hom te kry. Chris ook.

Vanoggend het Bertus by die hek ingeloop – sy pa het hom en Engela nie soos gewoonlik afgelaai nie – en skaars gegroet.

“Wat’s fout?” wou Chris weet.

“Niks nie.”

Hy kon sién iets skort, en dit ook hoor aan Bertus se manier van praat, asof hy fluister. Gewoonlik het Bertus ’n harde stem.

“Het jy slegte nuus gekry?”

“Nee!”

As ’n mens só nee sê, beteken dit ja.

Chris het nie verder uitgevra nie. Bertus het die res van die skooldag ’n bekommerde trek op sy gesig gehad en het beweeg asof hy nie weet hy doen dit nie, asof hy in ’n beswyming is.

Die klok lui en die leerders pak hulle boeke weg.

“Bertus, ons kan oppak,” sê Chris toe hy sien dit lyk of Bertus nie eens die klok hoor lui het nie.

Toe hulle in die gang afloop, is die meeste kinders al buite.

“Wil jy nie maar . . .” Chris bly stil, want hy besluit hy irriteer Bertus nou net.

Die volgende oomblik verstar Bertus. Hy gaan botstil staan.

“Wat is dit?” vra Chris.

Bertus ruk hom reg. “Niks.”

Net toe sien Chris vir juffrou Pol om die hoek verdwyn. Hy frons.

“Is dit vir háár wat jy geskrik het?”

“Nee.”

Die antwoord oortuig hom nie.

“Bertus . . .”

“Los my uit!” skree Bertus en maak dat hy wegkom.

Toe Chris by hulle motor aankom, groet hy skaars sy ma, so ingedagte is hy.

Toe Martie inklim, sê sy dadelik: “Engela was die hele dag snaakserig, sy wou niks praat nie, en sy’t soos ’n zombie rondgeloop.”

“Daar’s fout met Bertus ook,” sê Chris.

“Dis mos húlle daardie.” Hulle ma wys na die twee kinders wat stadig wegloop. “Dalk is hulle ouers besig om te skei. Dit gebeur deesdae so dikwels. Of dalk is daar iets anders fout by die huis.”

Dit sê steeds nie hoekom Bertus só gereageer het toe hy vir juffrou Pol gesien het nie, dink Chris. Sy nekvel voel kriewelrig toe hy onthou wat Martie gesê het: Juffrou Pol is nie ’n gewone mens nie.

Hulle ma hou langs Bertus en Engela stil. “Wil julle saamry?”

Engela is bleek. “Ons mag met niemand praat nie, Tannie.”

Bertus sit vinnig sy hand oor haar mond. “Sy praat sommer nonsens. Ons is oukei, dankie.”

Chris se ma trek weg. “Dis vreemd,” sê sy en kyk na die kinders in haar truspieëljie.

Chris draai om en sien deur die agterruit hoe Bertus en Engela kop onderstebo loop. Hulle laat hom dink aan die boek wat Martie, in haar haas om uit die biblioteek te kom, uitgeneem het – Hansie en Grietjie moes net so ongelukkig gelyk het nadat hulle in die woud verdwaal het.

Die vrou met die pers oog

Подняться наверх