Читать книгу Vergeet my nie - François Bloemhof - Страница 9

5

Оглавление

“Ek hoop vir ’n her!” sê Lara dramaties in die oop kamerdeur.

“Jy moes harder geleer het,” lig Mardaleen haar in.

Lara wil met die nodige sarkasme daarop reageer, maar vra: “En nou?” toe sy die uitdrukking op haar vriendin se gesig sien.

Mardaleen beduie na ’n nota teen haar muur. Groot rooi letters.

Skripsie in: 10:00

Dis oor ’n rapsie meer as ’n halfuur.

“Jy’s dan altyd so betyds, ek bedoel vroeg.”

“Ek het ’n ekstra skof gewerk.” Mardaleen blaas asem uit, kom orent. “Die ding moet nog gedruk en gebind word!”

Lara gooi haar boeksak op die deurmekaar bed. “Modus operandi?”

“Druk, bind, handig in. Doen Braam se wasgoed.”

En met dié stop sy die mandjie met klere in Lara se arms.

“Jig!”

“Kom!” is Mardaleen egter reeds halfpad by die oop deur uit. “Jy moet Gideon vra vir afslag!”

Lara sukkel om by te bly. Al het Mardaleen die mandjie by haar oorgeneem toe hulle by die trap kom, handhaaf hulle ’n stywe pas in die straat af.

“Ek stel my horlosie vir 09:55,” kondig sy aan. Rol haar oë toe sy sien hoe Lara vir ’n ou van Huis Onderlyf waai.

“Haai, Tom!” voeg sy by.

Mardaleen weet dis nie net Tom wat gegroet word nie; hy is bloot die naaste van die paar manne waarvan die meeste kaalbolyf op die gras voor die studentehuis staan en braai. PT-broekies, kaalvoet.

En die wit Citi Golf se oop kattebak is waar die harde sokkiemusiek vandaan kom.

“Ag nee, hulle is grillerig.” En toe Lara nog ’n wuif gee: “Ek het gehoor die spul los dieselfde pot olie weke lank op die stoof, dan foeter almal hulle tjips daarin.”

“ ’n Mens gaan nie Huis Onderlyf toe vir slaptjips nie, Marda!”

Sy lag saam. Daar is nog studentehuise in die straat, insluitend Huis Bolyf en Huis Loslyf – maar Onderlyf is die een waar jy moet ligloop. Dis intimiderende ouens, glad nie suinig met fluite en opmerkings vir al wat ’n verbyganger is nie.

Mardaleen kyk weer bekommerd op haar horlosie. Dit sal raadsaam wees om die pas te versnel.

Daarom storm sy omtrent by die studentesentrum in, waar Gideon haar laat weet: “Dit sal tweehonderd rand wees.”

Gideon Naudé, op die ouderdom van dertig aansienlik ouer as die gemiddelde student. En klaarblyklik die man wat haar oor die rand van bankrotskap gaan stoot. Sy het net ’n bietjie meer as tweehonderd rand in haar beursie en daarmee sou sy baie gate kon toestop.

Maar wag, sy het mos haar geheime wapen saamgebring. Dit was die laaste paar weke nie net vir haar nie, maar vir enigiemand met oë duidelik dat Gideon Naudé meer as net ’n terloopse belangstelling in ’n sekere jonge, mooie Lara Hattingh het.

Sy stamp Lara se arm met haar elmboog.

Dis nie verniet dat hulle al jare lank mekaar se gedagtes kan voltooi nie.

“Dis vreeslik baie, Gideon,” kom dit van die donkerkop.

“Dis maar wat dit kos, Lara.” Hy klink gepynig. Maar ferm.

En sy, op haar beurt, oorredend: “Jy kan glad nie ’n plan maak nie? Mardaleen is maar net, jy weet, ’n arm student … Dit sal vir haar so baie beteken.” Sy steek haar hand uit. Vat aan sy boarm. “En vir my.”

“Ek, e …” As Gideon aan asma gely het, sou dit nou ’n goeie tyd gewees het om sy pompie uit te haal. “Goed, julle kan dit halfprys kry, as jy vir my …”

“Dis nee vir ’n date.” Lara se soet glimlag wankel egter nie ’n aks nie.

“Ek wil net weer jou rekenaar leen.”

“Waarvoor?”

“Dis vir ’n, wel, vir ’n Japannese role-playing game.”

“Ag sies, man!”

Haastig verduidelik hy: “Dis ’n rekenaarspeletjie, Final Fantasy 7. En jy’s al een wat ek ken met ’n Pentium 2 processor.”

“Deal!” roep Mardaleen uit. Sy ignoreer haar vriendin se openlike verbasing dat dit haar duur rekenaar is wat die deurslag gegee het en nie soos gewoonlik haar meer persoonlike bates nie. “Toe, Gideon, ons is haastig!”

En so gebeur dit dat die skripsie oor die werk van Antjie Krog uitgedruk word. Gebind word. Mardaleen net die helfte so arm is as wat sy sou gewees het.

Die krisis is egter nog nie verby nie. Dis kwart voor tien.

“Ontspan,” sê Lara, “ons kan kortpad vat.”

En so gebeur dit dat nie net hierdie dag nie, maar haar hele toekoms anders sal uitdraai as wat die immer beplannende Mardaleen Coetzer beplan het. Op die oomblik dink sy egter slegs aan daardie skripsie, die vrug van soveel harde werk, wat sy betyds moet inhandig.

Sonder ’n idee van wat haar op pad soontoe inwag.

Vergeet my nie

Подняться наверх