Читать книгу Troukoors - Helena Hugo - Страница 3
1
ОглавлениеDis Vrydagmiddag laat en Minette Faber sit nog voor haar rekenaar, besig om haar jongste artikel na te sien. Sy het dit by Global Ecology voorgelê en dis vir publikasie goedgekeur, maar die redakteur van die tydskrif het ’n kontrolelys by sy gelukwensing aangeheg met voorskrifte wat haar soos ’n beginner laat voel.
Sy trek by nommer agt onder die opskrif Figures and tables. Daarvolgens moet sy seker maak dat die materiaal wat sy aangestuur het van hoogstaande gehalte is. Haar moed sak; sy is bekommerd oor een van haar vinkfoto’s.
Sy rol af na die paragraaf getiteld High quality figures. Dan stoot sy haar bril reg en lees met soveel konsentrasie dat sy nie die sagte kloppie aan haar kantoordeur hoor nie. Sy trek by Further instructions on the preparation of figures toe die deur agter haar versigtig oopgestoot word en sy bewus word van mense wat in die gang lag en gesels.
Sy frons en konsentreer harder. Sy hou nie van onderbrekings nie. If not already provided, we will now require … lees sy en skrik haar amper uit haar vel toe ’n hand op haar skouer land.
Dis Paul. Sy hoef nie om te kyk nie. Sy voel sy warmte aan, ken sy unieke aanwesigheid, die geur van die Hugo Boss wat sy vir hom koop en wat hy deesdae so kwistig gebruik. Paul kan haar konsentrasie kom verbreek wanneer hy wil. Want hy is die man met wie sy oor presies ses weke en een dag in die huwelik bevestig gaan word.
“Ons trou die einde van Mei,” sou sy sê as mense vra, maar dan sou hy met sy rustige, diep stem besadig verklaar: “Ons word die einde van Mei in die huwelik bevestig en dit is ’n uitgemaakte saak.”
Die stilte wat daarna op die geselskap neerdaal, het haar telkens weer laat besef dat hul huweliksbevestiging ’n ernstige saak is wat met respek benader moet word – al is dit die afgelope maande die onderwerp van skinderstories en grappies. Paul dwing nog respek af, en niemand sal dit waag om in sy gesig te sê wat Minette al om draaie en agter mure en boekrakke moes aanhoor nie. Soms reguit in haar gesig. Die laaste tyd het dit begin afneem, maar daar is ’n oplewing in die geledere van goedbedoelendes wat taktvol beduie dat die huwelik wat hulle twee beplan ongewoon is en dat hulle miskien weer ’n bietjie moet nadink, of hoe?
“Ons het wel dééglik, dánkie,” antwoord Paul hulle telkens kort en kragtig en slaan dan sy arm besitlik om Minette. Styf teen hom voel sy so veilig en beskut soos vyftien jaar gelede toe sy ’n dogtertjie was en haar pa haar ook so teen sy blad onder sy jas vasgedruk het. Tot daardie laaste winter toe hy die ongeluk by die treinoorgang gemaak het.
Daaraan wil sy nie nou dink nie. Paul is hier.
Sy hande is koel, maar dit stuur ’n reeks elektriese skokkies deur haar wat soos vlammetjies om haar hals dans en haar temperatuur met minstens vyf grade laat opskiet. Hy het die vermoë om haar van kop tot tone te prikkel – haar mentor en minnaar, haar beskermheer en haar ridder.
“Pla ek?”
Sy vingers volg die skuinste van haar nek tot agter haar ore. Saggies masseer hy haar gespanne nekspiere.
“Jy mag maar. Dis lekker.”
“Ontspan, ontspan.” Hy druk-druk aan haar stywe nek.
Sy maak haar oë toe, haal diep asem, geniet dit ’n minuut lank voor sy haar kop draai en opkyk. Sy donker oë glinster onder die swart wenkbroue. Hy glimlag vir haar soos hy altyd glimlag, asof hy wil lag kry oor iets wat net hy weet.
“En toe? Hoe gaan dit met my werkeseltjie?”
“Goed vandat jy hier ingekom het. Met jou?”
“Uitstekend.”
“Hoe was jou vergadering?”
“Middag, professor! Middag, juffrou Faber!” Twee studente wat in die gang verbykom en oorywerig groet.
“Ja, middag.” Paul klink knorrig terwyl hy loop om die deur toe te druk. “G’n privaatheid in hierdie plek nie.”
Minette hoor die sleutel in die slot draai. Sy voel die hitte in haar nek opslaan. As Paul so maak, raak sy duiselig en koorsig. Maar die laaste tyd word sy maklik warm. Sy weet wat dit veroorsaak.
Dis die troukoors!
Paul sê hy kry dit ook. So ’n louwarm gevoel van opwinding – nie onaangenaam nie.
Die wetenskaplike naam daarvoor? Impaziente matrimonio? Paul het laas belowe om by sy kollegas in klassieke tale te gaan kers opsteek. Die departement dierkunde kan navorsing doen oor die verskynsel en hul bevindinge met medies en sielkunde deel. Die feit dat dit bestaan, kan niemand misken nie.
Minette wikkel haar skouers, vestig kastig haar aandag op die rekenaarskerm en lees: In pdf or eps format …
Paul is agter haar. Sy hoor hom asemhaal, voel hoe hy oor haar skouer na die skerm kyk.
“Waar was ons?”
Sy vingers kruip teen haar nek op, masseer haar kopvel. Amper verloor sy haar plek op die skerm: Please complete the colour …
Pienk, dis haar troukleur, pienk en wit proteas.
Wit koningproteas, pienk suikerkanne. Bergrosies en skaamrosies.
Donkerpienk en ligpienk, lig-ligpienk, amper wit.
Haar trourok spierwit, met pienk pêrels om haar nek en aan haar ore, ’n tiara op haar kop van die kleinste klein bergrosies, haar sluier wit en lig soos spookasem.
Paul buk oor en soen haar op haar kroontjie. Sy bloos, knyp haar oë toe en geniet die hitte wat nogeens in haar lyf afspoel.
“Wat maak jy?”
Sy vingers rus ’n paar oomblikke in die holtes bokant haar sleutelbene, glip af oor haar eerste paar ribbes, die sagte vlees waar haar borste begin.
Sy raak skielik intens bewus daarvan dat sy asemhaal. “E-pos van Edinburg,” fluister sy en haar skouers gaan op en af.
Die skerm voor haar is ’n dowwe ligkol. Sy asem is swaar, dit stoot deur sy lippe. En sy? Sy spin soos ’n klein wit katjie, konsentreer op die op en af van haar skouers, die ligte drukking van sy vingers. Wag dat hulle laer af beweeg.
Hy is so ordentlik, hy trek terug en vryf haar nek met sy duime. “Jy is mos aanvaar? Wat wil hulle nog hê?”
“Perfeksie.”
Sy hou asem op. Moet sy sy hande vat en hulle aftrek tot daar waar sy hulle wil hê? Liewer nie.
Sy hande skulp om haar skouers en boarms. “Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Nie vir jou nie, Mina.”
Mina is sy liefnaampie vir haar en sy hou daarvan. Hy sê dit elke keer met soveel eerbied dat sy voel soos ’n nuutontdekte mirakel, Mina cosmosoma myrodora – ’n eksotiese motjie met dieppersrooi vlerkies, ’n vondeling wat in die binnekant van sy hande tot rus gekom het.
Dís waar sy hoort: by hom op hierdie groen planeet wat hulle so goed ken. Hulle proe saam aan al die Latynse name, liefkoos mekaar daarmee, bestee dae en nagte in die wonderwêreld van diere, voëls en insekte. Huil saam oor spesies wat onvermydelik aan die uitsterf is, oor indringers wat opvreet en uitskuif, lag oor die blydskap van nuwelinge wat rare, soms onverwagte verskynings maak.
“Pierre het gebel,” sê hy.
Ag nee! Weg is die toorkrag van die heilige oomblik.
“Enigiets kan verkeerd loop as jy e-pos,” ignoreer sy sy aankondiging en wys na die artikel op die skerm.
“Hy’t nie e-pos gestuur nie, hy’t gebel, uit Londen.”
Paul praat asof Pierre ’n Baie Belangrike Persoon is. Sy haat dit dat hy Paul met soveel verwagting kan vul.
Vies roer sy haar skouers om ontslae te raak van die gewig van sy hande. Ek praat nie van Pierre nie, wil sy skree, ek praat van my artikel!
“Hulle wil aanlyn ook publiseer,” sê sy, “en ek gaan niks aan een of ander slim webmeester oorlaat nie. Jy weet wat laas met my Time-artikel gebeur het.”
“Mina, jy gaan haal die bobbejaan agter die bult!”
“Wel, selfs ’n donkie stamp hom nie twee keer teen dieselfde klip nie.”
Paul gaan sit skuins voor haar in die leunstoel voor die venster. “Hy land Sondag in die Kaap.”
Die donkie of die bobbejaan?
Minette wil lag. Sy kyk om die skerm hoe Paul sy een lang been oor die ander een gooi en hom gemaklik tuismaak. Hy dra ’n wolmerkbroek, bypassende kouse, duur Italiaanse skoene. Lyk gesofistikeerd en aantreklik. Soos Sean Connery in sy vyftigerjare, dieselfde diep kepe in die wange, die prominente wenkbroue, donker hare wat net teen sy slape grys word.
Die verskil is: dis Paul se eie hare. Geen vals haarstukke vir hom nie. Dit weet sy vir ’n feit, want hulle het al saam uitgekamp. Sy het hom al vroeg in die oggend sien gesig was en tande borsel, in die veld voor haar sien uitstap in ’n kniebroek en bergklimstewels, saam met hom in die see geswem. Hy is foutloos gebou, sonder enige teken van onooglike vet. Dalk ’n bietjie aan die skraal kant, maar liewer so as oorgewig. ’n Jong lyf wat hy goed oppas. Hy en sy oudste seun, Francois, gim gereeld soggens en saans.
Minette raak toegeeflik. Maak nie saak wat en waar nie, Paul is altyd agtermekaar en perfek. En hy ondersteun haar in alles wat sy doen. Sy behoort hom die opgewondenheid oor Pierre se kuier te gun.
“Hierdie Sondag?” vra sy en hou haar gesig uitdrukkingloos.
“Ja.”
“Dis gou.”
“Ek waardeer dit dat hy langer kuier. Ek verlang na hom.”
Laat hy dan maar kom as hy wil kom, dink sy. Paul sal weldra ontdek dat hy nie meer dieselfde Pierre is wat hy onthou nie.
“Gaaf van hom,” veins sy en frons weer ’n slag vir die woorde op die skerm.
Paul trek sy broekspyp reg, klap ’n takkie met blaartjies in die omgewing van die soom af. “Pierre ken rekenaars, hy kan jou help.”
Minette slaan haar oë op. Hy háár help! Gelukkig sien Paul dit nie. Hy het die takkie opgetel en bekyk dit asof dit van die buitenste ruim ingewaai het.
Pierre is Paul se jongste seun, Francois se kleinboet. Hy weet soveel van rekenaars dat hy vir Microsoft in Moembaai, Indië geprogrammeer het, maar die afgelope maande het hy blykbaar meer tyd op die strand in Hawai deurgebring as in staal-en-glaskantore.
Minette kyk weer stip na Paul. Pierre is sy ewebeeld, maar Paul het darem regtig meer finesse. En goeie kleresmaak. Sy das pas perfek by sy hemp: klein diamantjies op breë strepe, alles in bloue en bruine. Hy moes formeel aantrek vir die fakulteitsvergadering, maar eintlik kan jy hom altyd deur ’n ring trek – vir hom en Francois. Reg aangetrek, selfs as hulle gaan gim.
Nie soos dié Pierre wat per e-pos foto’s stuur van hom met haaitande en skulpies om die nek en wat sy hare wild laat groei het om by Hawai te pas nie.
“Sal hy ooit nog op hoogte wees ná al die vuurdanse en branderplankryery?”
“Dit was vakansie, Minette! Hy is op die oomblik in Londen vir die bekendstelling van nuwe sagteware. Natuurlik is hy op hoogte. Buitendien, met ’n brein soos syne …”
Sy het gehoor hy is briljant. Selfs Lynette, Francois se vrou, praat met ontsag van Pierre se IK. Paul het groepfoto’s van hom saam met sy Indiese kollegas, Microsoft se banier op die agtergrond. Almal lag breed en lyk ryk en vooruitstrewend; dit kan enige plek op aarde wees. Maar daar is ander foto’s met dieselfde vriende voor die Taj Mahal en in houtskepies op die Ganges.
“Pierre het ’n kop,” sê Paul en tik op sy voorkop.
“Hy is jou seun.”
“Hy is, en ek het hom drie jaar laas gesien.”
Dis toe Paul in Amerika was en Pierre in Chicago ontmoet het. Paul het lesings by die universiteit gegee en Pierre het Microsoft in ’n ander deel van die stad verteenwoordig. Minette was toe nog net ’n naam op een van Paul se klaslyste, ’n oulike tweedejaarstudent wat die onmoontlikste vrae kon vra. Mejuffrou MJ Faber. Hou haar dop. Sy het met twaalf onderskeidings gematrikuleer, sesde in die land.
“Sulke slim kinders maak my moeg,” het Isadora, Paul se goeie vriendin, gesug. “Sy is boonop nog mooi ook. Dit maak hulle onuitstaanbaar.”
Minette weet, want een van haar vriendinne het dit gehoor en vir haar kom oorvertel.
Min het Paul besef dat Minette hom toe al van ver af bewonder het. Nie net sy kennis en weldeurdagte menings nie, maar ook sy fyn humorsin, sy elegante klere, sy handgebare en donker oë, die aantreklike grys aan sy slape. Professor 007-Hagen. Die meisies was almal verlief op hom, maar sy het nie saamgegiggel nie. Sy het trouens niks laat blyk nie, maar het stilweg besluit dat hy haar sal kies.
En hy het.
Hulle trou oor presies ses weke en een dag in die NG Moederkerk, maak nie saak wat die res van Stellenbosch en die hele akademiese wêreld en al wat leef en beef te sê het nie. Paul het ’n wye vriendekring en ’n uitgebreide familie, en die meeste lyk teen dié tyd tevrede omdat hy weer geluk gevind het soveel jare ná sy Laetitia se dood.
Paul en Minette sal op hul troudag ses maande lank verloof wees. Dié wat aanvanklik bekommerd was, is teen hierdie tyd gewoond aan die idee dat hulle ’n paartjie is. Dit geld ook Minette se tant Marga, wat so openlik verlig was dat haar ouers oorlede is en “dit” gespaar is – hul pragtige dogter getroud met ’n knorrige man wat oud genoeg is om haar oupa te wees, wat nog te sê haar pa.
“Wat besiel jou om jou jeug weg te smyt, Minette? Oor tien jaar sit jy saam met hom in die siekeboeg van die ouetehuis!” galm tant Marga se reguit woorde soms nog deur haar koorsige kop.
Tipies haar tant Marga! Sy het nog nooit ’n moordkuil van haar hart gemaak nie, ook nie oor Minette se vriend en hul onbetaamlike troukoors nie. Sy het nie omgegee wat sy sê nie en haar man, oom Hans, moes maar saamstem – tot hulle Paul ontmoet het, die naweek van die kas wyn wat so sleg begin het en so goed uitgedraai het. Toe het tant Marga teësinnig toegegee dat dit dalk kan werk, maar hulle sal hulle steeds reghou vir ’n ramp en ’n skinderveldtog.
Daar was stories, baie met sterte aan, die meeste opgemaak deur jaloerse mense wat niemand anders ’n bietjie geluk gun nie. Wat is tog sappiger as staaltjies oor ou professors wat vir jong studente loer en jong studente wat by ou professors inkruip om punte te kry? Maar niemand kon Minette dáárvan beskuldig nie, want sy was van die begin af heel bo aan die punteleer.
Haar vriendinne, wat die vriendskap sien ontwikkel en die verlowing sien kom het, het hom eerste aanvaar. By monde van Leonie, die voorbok, het hulle selfs erken dat hulle jaloers is omdat hy nie meer die onderwerp van hul drome kan wees nie.
Hulle het hul glasies vol gemaak met vonkelwyn en op Minette se skoonheid en Paul se gesondheid gedrink.
“Dis soos ons jou ken, Minette. Jy mik hoog – akademies én andersins! Jy sou met niks en niemand minder as ’n prof tevrede wees nie!”
En so moes almal maar net vrede maak met die idee.
Die professor se seun, Francois, het gou ingegee. Sy vrou, Lynette, het ’n openhartige vrou-tot-vrou-praatjie met Minette gehad en toe ook maar opgegee.
Dis nog net enkeles wat teen die voorgenome huwelik gekant is, soos byvoorbeeld professor Isadora Papastefanou, wat Minette behandel asof sy haar navorsing gesteel het. Maar vir háár is sy nie bang nie, miskien vir haar perdebye.
En Pierre …
Die geheimsinnige Hagen. Die een wat weggegaan het omdat hy so lief vir sy ma was dat hy dit nie meer kon verduur om hier te bly nie.
“Hy was haar oogappel. Toe sy oorlede is, wou hy net vlug. Niemand kon hom keer nie,” het Lynette vertel.
Die feit dat hy so lief vir sy ma is, het Minette hartseer gemaak – hartseer en ook bang. Sy ken daardie soort liefde; sy verlang dikwels na haar eie ma en sy weet hoe dit voel. Dit sou moeilik wees vir Pierre om haar te aanvaar – sy pa se tweede vrou, die een wat sy ma se plek wil inneem. Sy het teenstand verwag, maar nie soveel afkeer nie.
Al hierdie gedagtes flits deur Minette se kop, terwyl sy die kwaliteit van die foto’s wat sy by haar artikel aangeheg het genadeloos meet aan die vereistes wat Global Ecology stel.
“Dis goed dat jy Pierre einde ten laaste ook sal leer ken. Jy kan Sondag saamry lughawe toe,” dring Paul se stem tot haar deur.
Asseblief, net nie dít nie! Nee, daarvoor sien sy nie kans nie.
“Ek wens my werk was afgehandel,” probeer sy ’n flou verskoning.
“Jou graad is in die sak, en jy werk nie Sondae nie.”
“Maar my vinke …”
“Jou vinke is skitterend. Buitendien, ek het mos gesê hy kan jou help. Hoeveel tyd het jy nog?”
Sy roep die ou vinklêer op en vergelyk die foto’s. “Ek moes 6A gekies het. Moes ek nie? Paul, kyk hier.”
“Nee, Mina!” Hy lyk skielik streng en ongeduldig. “Jou werk is uitstekend, jy het die perfekte vink gekies. Vergeet van daai lys, dis ’n blote formaliteit. Pos die goed en kry klaar!”
Tye soos hierdie moet sy toegee dat hy meer as sy weet – vanselfsprekend. Hy het ’n voorsprong van twee doktorsgrade, verskeie vakkundige boeke en tientalle artikels. Sy begin nou maar, en dis net artikels.
“Goed, jy is die promotor. Maar dalk is jy te lief vir my.”
“Ek is. Ek is gans te lief vir jou, maar my integriteit is bo verdenking. Of vergeet jy doktor Thornhill het jou ’n volle drie persent meer gegee, en hy weet nie van jou mooi bene nie? Dis ’n uitgemaakte saak dat jy volgende jaar die beurs sal kry, en dit word streng op meriete bereken. Hoekom is jy so onseker?”
Sy kry die aardige gevoel dat sy laaste vraag niks met die werk uit te waai het nie. Hy kyk haar so stip aan dat sy vinnig wegkyk, die lêer voor haar stoor en dan toemaak.
“Jy antwoord nie my vraag nie.”
“Dis my derde artikel,” sê sy en skakel die rekenaar af. “Ek wil hê dit moet beter wees as die vorige twee.”
“Klein perfeksionis.”
Sy haal haar bril af, kry die brilhuisie en bêre dit. Paul roer nie. Sy voel sy blik op haar, sy oë wat soos kole vuur kan brand onder sy ruie wenkbroue, die geamuseerde glimlag wat nou weer om sy mondhoeke speel.
“Jy kan maar nie die geringste foutjie verduur nie.”
“Wel, jy ook nie.”
“Touché!” lag hy en staan op.
Sy pak haar skouersak en merk op dat daar ’n rafel aan die een punt hang. Daar is ’n skêr in die houer met penne. Sonder om te dink vat sy dit en knip die rafel af.
“Dís wat ek van jou hou,” erken Paul. “Waar jy is, loop niks ooit verkeerd nie.”
Sy bloos, voel senuweeagtig en onrustig en simpel omdat sy so voel. Diep in haar hart weet sy wat die rede is. Of eerder, wie.
“Ek dink Pierre sal in sy skik wees as jy lughawe toe kom.”
Sal hy? wonder sy en dink aan daardie gewraakte telefoongesprek – die enigste persoonlike kontak wat sy nog met Pierre Hagen gehad het. ’n Paar kort sinne wat weke later steeds in haar nagmerries opduik.
“Goeienaand, professor Hagen se woning. Kan ek help?”
“Dis Pierre Hagen hier. Ek wil graag met die professor praat.”
Paul was in die bad. “Hy is nie op die oomblik beskikbaar nie. Kan ek ’n boodskap neem?”
“Kan jy skryf?”
Sy het haar so effe vererg. “Ja.”
“Dis ook nie nodig nie, solank jy onthou om vir hom te sê sy seun Pierre het uit Honolulu in Hawai gebel. Ek vlieg vanaand Los Angeles toe, maar ek sal hom eers oor ’n paar dae weer kan kontak. Ons land net, dan ry ons dadelik Santa Monica toe. Het jy dit, of moet ek dit herhaal?”
“Honolulu, Los Angeles, Santa Monica. Ek sal onthou.”
Haar hart het in haar keel geklop. Daardie stem! Hy klink nes sy pa, maar jonger, lewendiger, maar arrogant.
“Dankie, mevrou. Ek waardeer jou moeite.”
“Juffrou,” het sy vinnig gesê.
“Jammer, juffrou.”
“Miskien moet ek my sommer voorstel. Ek is jou pa se verloofde, Minette Faber.”
Hy het haar skaars kans gegee om haar sin klaar te maak. “Ek’t gewonder of dit die vroumens is!”
“Ekskuus?”
“Jy reël al klaar sy lewe, of hoe?”
“Ek antwoord sy telefoon, dit beteken nie ek reël sy lewe nie.”
“Spaar my die verskonings en gaan sit ’n slag op ’n klip en dink waarmee jy besig is, juffrou Faber. Wat gaan in jou kop aan?”
“Jy ken my nie! Wie gee jou die reg om só met my te praat?”
“Ek stel nie belang om jou te ken nie. Totsiens, júffrou.”
En klieks! word die verbinding verbreek.
Sy kon haar ore nie glo nie. Geen maniere nie, dis wat! Hy het hoegenaamd geen maniere nie en sy was gaaf en ordentlik met hom.
Sy het nog na woorde gesoek om hom op sy plek te sit en weg is hy! Die lyn het gesing asof die golwe en die wind van Honolulu en die Hawaise eilande daarin afgespoel het tot by die suidpunt van Afrika, in die portaal van Hagenhof, Paul Hagen se Ou Kaapse gewelhuis.
Sy het die gehoorbuis stadig neergesit. Pierre vir haar voorgestel: ’n branderplank onder sy arm, nat slierte hare op sy skouers, bruin gebrand en met ’n wit glimlag. Nee, hy was op die lughawe, of hoe? Jeans, ’n T-hemp, kort moutjies wat styf om sy boarms pas, sy hare met ’n rekkie vasgebind, perfekte profiel teen die lig, ’n stuurs trek om sy mond toe hy haar naam hoor.
“Wie was dit?” het Paul skielik agter haar gevra.
Hy het aantreklik en jonk gelyk in sy blou jeans en kraakwit hemp, sy hare klam teen sy slape.
Sy het geglimlag. “Jou seun. Hy was haastig, maar hy sal weer bel.”
“Watter een?”
“Pierre.”
Paul se een wenkbrou het opgeskiet. “Hy het lanklaas so dikwels gebel. Seker van nuuskierigheid oor jou. Het julle toe kennis gemaak?”
“Op ’n manier, ja. Hy weet hy het met my gepraat.”
“Darem vriendelik?”
“Daar was nie veel tyd om vriendelik te wees nie. As ons nie nou ry nie, gaan ons laat wees vir die uitstalling.”
Paul moes iets vermoed het, maar sy wou hom nie ontstel nie.
Van toe af wil sy Pierre nie met hom bepreek nie. Sy wil ook nie weet wat hulle intussen vir mekaar gesê het en of Pierre net so eerlik met Paul was oor haar nie.
Sy word weliswaar genoeg geteister deur die gedagte wat by haar posgevat het dat Pierre Paul se verlore jeug verteenwoordig. Op foto’s uit sy jong dae lyk Paul gevaarlik baie na Pierre. Daar is selfs een van Paul met lang hare en ’n branderplank!
Paul is lief vir die see en om vis te vang en kreef te duik. Trouens, hy swem graag in die see. En ook elke oggend voor werk in die swembad in sy huis se agterplaas. Nie sommer so ’n plaspoeletjie nie, maar ’n ongewone tien by vyf meter, yslik vir ’n dorpserf.
“Kom jy swem?” vra Paul toevallig toe sy die kantoordeur sluit. Hy het sonverhitting laat installeer en die water is gewoonlik heerlik warm. Hulle kan selfs in die middel van die nag swem, maar vanaand is daar nie tyd nie.
“Het jy vergeet ek moet sorg dat ek my persoonlike besittings verwyder ingeval Pierre jou van losbandigheid beskuldig? En wat van ons ete-afspraak?”
“O ja!”