Читать книгу Troukoors - Helena Hugo - Страница 5

3

Оглавление

Die aand gaan Paul en Minette nie uit nie. Hy wil vroeg gaan slaap sodat hy vars is as hy môre die snelweg lughawe toe moet aanpak. Die vliegtuig land negeuur, wat beteken dat hulle nie die vroeë kerkdiens sal kan bywoon nie en reeds halfsewe op pad moet wees. Minette het aangebied om te ry, maar Paul weier volstrek dat sy aan sy nuwe BMW se stuurwiel raak.

“Waarom so vroeg?” wil sy weet. “As die vliegtuig eers negeuur land?”

“ ’n Mens weet nooit hoe dit daar lyk nie en ons moet nog parkeerplek soek. Jy weet van die bouery by die lughawe, en enigiets kan op pad gebeur.”

Minette moet haarself keer om nie te sug nie. Sy is ’n perfeksionis, en Paul laat nooit ’n kans verbygaan om haar daarop te wys nie, maar hy is neuroties verby oor snelweë. En hy raak altyd senuweeagtig oor afsprake en stiptelikheid, gevolglik kom hulle gereeld eerste by partytjies aan en moet soms tot ’n uur lank vir mense op plekke sit en wag.

Wat Minette veral pla, is dat hul geselskap dan opraak en hulle soos houtpoppe vir mekaar sit en kyk. Veral as hulle iewers moet wag waar Paul nie eens haar hand wil vashou nie, omdat dit teen sy waardigheid indruis om in die openbaar vryerig te raak.

Vanaand sit hulle langs sy swembad in die agterplaas. Dis skemer en die tuinligte is reeds aan. Dit gooi ligstrepe oor die water en op die boomvarings aan die oorkant. Trosse rankrose hang oor breë blare van reusevarkblomme en ander monsterplante.

“Ek moet die Monstera deliciosa laat uithaal,” sug Paul en sit sy glas neer.

“Hoekom? Dit vertoon so mooi. En Laetitia het dit geplant.” Minette is juis besig om haar te verstom aan die plante wat hul eienaardige blomknoppe op hul tyd uitstoot.

“Isadora reken dit oorgroei die asaleas.” Hy klink ongelukkig, want hy hou nie daarvan om Laetitia se handewerk te vernietig nie.

“Isadora het weer baie te sê, van wanneer af?”

“Sy was vanoggend hier toe jy by die winkels was, ’n mandjie met koekies en beskuit vir Pierre gebring. Sy sê hy het dalk al vergeet hoe tuisgebak smaak, sy bring later nog vars brood ook en moskonfyt. Ek wou jou nog sê dat jy haar kan bedank.”

Minette moet haar tong vasbyt voor sy hom vertel dat Isadora by die haarkapper was en só naar met haar was dat sy regtig nie lus is vir haar koekies en konfyte nie, nog minder om haar te bedank.

“Ek sal ’n briefie skryf,” sê sy gedweë en voel oud en getroud.

Paul gee die bakkie met aartappelskyfies vir haar aan en stap na die gasbraaier om die vis om te draai. Die wingerdhoutvure wag vir Pierre. Hulle beplan om Meimaand dikwels te braai, want Pierre hou daarvan en Minette kan tog nie kos kook nie.

Minette kan. Haar tant Marga het haar goed geleer. Sy kry net nie kans nie, want Isadora maak dit haar missie om elke Maandag sewe bevrore etes vir een by Hagenhof af te laai.

Minette het Paul in die twee jaar wat hulle uitgaan skaars twee keer vir ete na haar meenthuis genooi, en hy het dit baie geniet. Maar Isadora se bevrore etes is al so ’n instelling dat sy wonder of die vroumens darem daarmee sal ophou as Paul die dag getroud is. Sy durf nie vra nie.

Paul staan by die braaier en hy lyk so alleen dat sy soontoe loop, haar arms van agter af om hom slaan en haar kop teen sy rug laat rus. Hy laat haar begaan, selfs toe sy haar hande onder sy oorhanghemp insteek. Maar toe sy oor sy bors begin vryf, wikkel hy sy skouers en staan eenkant toe.

“Wil jy hê ons moet op die braaier inmekaarval?”

“Nee,” sê sy afgehaal. “Ek wou jou net ’n bietjie vashou.”

“Daar’s ’n tyd vir alles, Mina,” sê hy streng en draai die rooster met die vis. Lig dit dan op en bekyk dit van nader.

“O, en gister toe ek met my vinke besig was?”

Hy sit die rooster neer. “Wat toe?”

“Toe het jy agter my kom staan en my skouers gemasseer.”

“Jy het nie vinke oor ’n oop vuur gebraai nie en ek het nie aan jou gehang nie. Dis gaar.”

Sy wil stry, maar dan is hulle môre nog kwaad vir mekaar en sy wil nie hê Pierre moet agterkom hulle maak rusie nie. Sy slaan haar oë neer. “Ek is lief vir jou. Ek wil hê jy moet dit weet.”

Hy draai die gasvlam af en maak sy hande skoon met die nat lap wat hy byderhand hou. Toe kom staan hy reg voor haar, trek haar aan die een hand onder die stoeplig in en kyk haar met soveel konsentrasie aan dat sy wil smelt.

“Wat het die haarkapper met jou hare aangevang?” vra hy net toe sy haar arms oplig om hulle om sy nek te gooi.

Sy laat sak haar arms. “Ek het gewonder wanneer jy dit gaan raaksien. Hou jy daarvan?”

Dis die positiewe benadering, het sy eenkeer in ’n tydskrifartikel gelees. As jy nie met jou man wil rusie maak nie, bly positief en aanvallig, nie negatief en aanvallend nie.

“Wat is dit?”

“Heuningstrepies. Tina het gesê ek lyk ’n bietjie moeg en dit sal my ophelder.”

“Vir wie?”

“Vir jou, wie anders?”

“Dis die eerste keer dat jy so iets doen.” Hy lyk wantrouig.

“Wel, professor, ek het nuus vir jou: ek was lankal my hare met ’n kleursjampoe.”

“Ek dag jou hare blink omdat die lig daarop skyn,” brom hy. “Ek hou nie van hierdie soort strepe nie.”

Minette se geduld raak dun geskaaf. Haar hare lyk goed. Sy hou daarvan en sy gaan nie dat Paul dit vir haar bederf nie. Sy sit haar arms om sy nek en kyk guitig in sy oë. Altans, sy probeer, want hy frons só erg dat sy swaar oogbanke skaduwees maak wat sy oë in twee onleesbare swart splete verander.

“Ons vroue het ons geheimpies,” pruil sy en probeer geheimsinnig klink.

“Hm, dis wat my bekommer.”

“Haarkleursel?”

“Julle geheimpies.”

Aan sy stemtoon kan sy hoor dat haar speletjies hom nie om die bos lei nie. Hy verdink haar oor die ligstrepe in haar hare. Isadora was vanoggend hier en sy het natuurlik vir Pierre bygesleep. Maar sy sal die vroumens wys: sy sal Paul soveel liefde gee, hy sal nie weet wat hom getref het nie!

Sy trek hom nader, staan op haar tone en soen hom op sy mond en dan op sy voorkop. Hy ruik na die vis wat hy pas gebraai het en daar is sweet op sy voorkop, maar sy werk haar hande aan sy rugkant onder sy hemp in en masseer sy klam rugspiere. Haar borste skuur teen hom. Dit veroorsaak ’n aangename tinteling wat haar darem beloon vir haar moeite.

“Liefling,” fluister sy en blaas haar asem teen sy wang, “die enigste geheimpie wat ek het, is dat ek perfek wil wees vir jou, dis al.”

Nou begin sy asem jaag. Goed so.

“Maar jy ís perfek,” kreun hy en hou haar stywer vas. “Wil jy regtig met ’n ou man soos ek trou?”

Minette is besig om sy hemp oop te knoop. Sy sal hom wys sy begeer hom en niemand meer nie. Hy is die jong man met die branderplank. Hulle is die sexy paartjie. Goed, dis ’n bietjie laat vir hom om dit op ’n branderplank te waag, maar dis donker hier en sy hou van hom.

Hy is ’n aantreklike man, ’n man met status en geld, wat nes sy belangstel in alles wat op aarde asemhaal. Sy sal hom vanaand wys hoeveel sy van hom hou – van hóm, nie van Pierre nie. Sy stoot sy hemp van sy skouers af.

Die vis lê vergete op die rooster en uitdroog; ligte flikker op die oppervlak van die swembad. “Kan jy glo ons is al ses maande verloof? Ons trou oor ses weke,” fluister sy.

“Te veel sesse,” kreun hy, “duiwelse getalle, versoekings. O, sonde …” Sy hande gaan onder haar hempie in, hy stoot dit op. Sy asem jaag. “Vanaand swem ek en jy wragtig sonder ’n draad klere …”

Sy giggel. “Wie sal weet?”

“Joehoe, julle skattebolle! Gedag julle is hier agter. Die voordeur is oop en niemand antwoord nie, toe kom ek maar deur. Waar is julle tweetjies? Kruip julle weg?”

Alt, ’n donker, dinamiese alt! Weliswaar getemper deur halssnoere van stringe klokkies, maar onmiskenbaar Isadora!

“Verdekselse vroumens!” snak Paul na sy asem. Hy pluk sy hande onder Minette se hempie uit, spring om en strompel val-val oor sy eie voete weg.

Minette kan nie glo hoe vinnig hy spore maak nie. Dit lyk of hy met ’n towerslag deel word van die delicious monsters agter die swembad.

Lafaard! Los haar hier om die bemoeisieke vroumens te trotseer.

Sy gryp na die rooster met die vis en probeer onskuldig lyk.

“Ruik lekker. Braai julle?”

“Jip, vis,” sê Minette en dit klink of sy hik.

Isadora sit haar mandjie neer. Bottels kap teenmekaar.

“Waar is Paul?”

“Weet nie. Ek dink die creepy sit vas of iets.”

“Besef julle die voordeur staan oop?”

Minette skud haar kop. “Paul kan so deur die blare wees.”

En hy ís op die oomblik, dink sy en wonder of sy hom moet roep. Dis darem skemerdonker op die patio en Isadora sal nie sien nie, maar Minette dink met genoegdoening aan die ereksie wat sy dwarsdeur sy broek kon voel.

Sy glimlag liefies vir Isadora. “Troukoors wat so maak. As ’n mens mos verlief is …”

Isadora kyk om haar rond asof sy bewyse soek vir iets wat sy vermoed, iets wat sy nie behoorlik kan vasvat nie. Minette geniet dit om haar aan ’n lyntjie te hou.

“Ek het die konfyt gebring wat ek belowe het.” Isadora klink vir die eerste keer in ’n lang tyd onseker. “Pierre hou so van moskonfyt en ek het toe gekook. Ek’t waatlemoenstukke ook ingesit. Die brood is vars uit die oond, vanmiddag gebak.”

“Paul sê my jy was vanoggend al ’n slag hier.”

“Dis toe ek hom belowe het ek bring nog.”

“Hy’t seker vergeet.” Minette jok selfvoldaan, maar sy misgis haar met Isadora.

Haar oë blink soos ’n kat s’n, sy skud haar armbande en dit lyk of sy haar naels uitskiet. “O, die ouderdom! Selfde met my – ek wou jou nog vanoggend in die salon sê jou hare lyk baie mooi. Is dit vir hom?”

Wie? Watter hom?

Asof sy gedagtes kan lees, kom dit blitsig van Isadora: “Vir Pierre?”

“Paul! Liefling! Isadora is hier!” skree Minette reg in haar gesig.

Laat sy dit voor hóm sê – hy weet wat so pas tussen hulle gebeur het of wat op pad was om te gebeur. Hy sal dié soort suggestie nie duld nie!

“Paul! Paulus!”

“ ’n Mens skree nie so op jou aanstaande nie,” betig Isadora haar.

Minette steur haar nie. “Isadora is hier met nog ’n mandjie vir Pierre!”

Paul kom met ’n graaf in die hand aangestap. “Naand, Isadora.”

“Naand, Paul. Wat spit jy dié tyd van die aand?”

“Ek spit nie nou nie.” Hy maak die graaf teen ’n blombak staan. “Eet jy saam met ons?”

“Dankie, maar nie vanaand nie.”

Minette slaak ’n sug van verligting – saggies, sodat nie een van die ander twee dit agterkom nie. Paul lyk vreeslik. Sy hare is deurmekaar en sy hemp hang oop. Dit pas hom nie. Sy sien hoe Isadora hom bekyk; sy vermoed iets.

“Ek het die konfyt en vars brood gebring, maar ek wil my mandjie terughê.”

Paul tel die mandjie op. Sy arm is maer en seningrig en nie so sexy soos ’n branderplankryer s’n nie. Isadora volg hom die huis in.

Minette bly staan waar sy staan. Isadora is so ’n deurmekaar vrou dat sy nog nooit daaraan gedink het dat Isadora en Paul ’n paartjie kan wees nie. Maar vanaand lyk Paul gans te veel soos Isadora. Hulle lyk beslis ewe oud.

“Paul, skattebol, besef jy julle voordeur staan verdomp wawyd oop?” hoor Minette hoe Isadora hom kapittel. “Sê nou ek was ’n skelm? Sê nou ek was daarop uit om julle leed aan te doen?”

Minette is bly sy hoef nie verder te luister nie. Isadora het ’n houvas op Paul, al is dit net omdat sy die soort konfyt kook wat hy graag eet. Maar dis ’n houvas wat Minette nie aanstaan nie. ’n Plan moet gemaak word, en gou!

Minette is ’n briljante student met ’n goed ontwikkelde sin vir verantwoordelikheid. Sy is netjies en beskeie, maar in haar drome sien sy haarself ook soms op ’n kroegtoonbank dans of kaal op Sandy Bay se strand lê, gesoen deur die son en ’n warmbloedige minnaar.

Sy het al ’n keer of wat met klere aan in Paul se swembad gespring. Vanaand is sy weer lus om in te spring, maar sonder klere. Sy neem reg onder die kombuisvenster stelling in en rek haar lyf, maar voor sy haar T-hemp kan uittrek, begeef haar moed haar. Paul sal nie daarvan hou nie en sy wil hom nie vanaand verder ontstig nie.

Sy wag tot Isadora kom groet en Paul saam met haar deur toe stap voor sy uittrek en induik.

Troukoors

Подняться наверх