Читать книгу Narkose vir die hart - Helena Hugo - Страница 5
3
ОглавлениеFranz Strauss. Dis hy, haar geheime liefde.
In Glenda Olckers se arms!
Anna en Corné vind die situasie so prettig dat hulle gelukkig nie agterkom hoe Saranie sit en kook nie.
“Ek’t hulle betrap!” Corné is so dramaties asof hy weer op ’n moetie-moord afgekom het. Dit was ’n jaar gelede die geval. Toe het hy ook eerstehandse inligting gehad.
“Waar?”
“In sy spreekkamer. Ek wou een van my pasiënte met hom bespreek, ons het ’n afspraak gehad. Ek klop dus aan, stap in en daar staan sy voor hom, hande op sy skouers, reg vir die soen.”
“Hoe weet jy sy wou hom soen?”
“Mekaar – hulle wou mekaar soen.”
“Ek glo darem nie. Franz Strauss is te gereserveerd en ordentlik.”
“Mag wees. Maar my ouma het altyd gesê as ’n vrou haarself op ’n skinkbord aanbied, moet jy nie die man kwalik neem wat vat wat hy kan kry nie.”
“Dis wat Nico ook sê: party vroue is erger as mans.”
“Ek glo nie dis die geval hier nie. Hy’t vir my akuut geïnteresseerd gelyk.”
Saranie kan haar nie meer inhou nie. “Geïnteresseerd of geëmbarrasseerd?”
“Gewát?”
“Was hy nie ongemaklik nie?”
“Sy het voor hom gestaan, half oor hom, ek kon nie alles in detail sien nie.”
“Het sy hom nie in ’n hoek gehad nie?”
“Nee, in die middel van die kamer.”
“Reg om hom te verskeur?”
“Eerder vir my.” Corné rol sy oë dramaties. “Sy’t haar omgeruk en haar naels vir my gewys, tande ook. Eerlikwaar, sy’t gelyk of sy my gaan uitmekaarruk. Hoe daai kat ’n dokter kan wees …”
Corné laat sy sin in die lug hang; hy kyk van Anna na Saranie.
Saranie klou haar koppie vas. Corné het ’n verskuilde agenda. Hy weet dat sy ’n Franz Strauss-bewonderaar is. Maar almal is – selfs Anna, wat hom dikwels al as koud, kil en passieloos beskryf het.
Sou Corné vermoed hoe sterk haar gevoelens in werklikheid is? Is hy besig om haar voor Anna uit te lok?
“Glenda is ’n goeie dokter,” probeer Saranie haar ware gevoelens verbloem. Haar stem klink vir haarself vreemd vals.
“Sy’s ’n feminis, sy veg vir vroueregte. Vroue wat haar nie ken soos ons haar ken nie, hou van haar,” sê Anna.
“Jip, en sy sweep hulle op. Hou julle nou skielik van haar?” vra Corné.
“Wel, as daar iemand is wat Franz Strauss uit sy koma kan opwek, is dit Glenda Olckers. Hoog tyd dat daar lewe kom in sy ysige ledemate en uitdrukking op daai Nazi-gesig van hom.”
Dis eens te veel vir Saranie. “Franz Strauss is nie ’n Nazi nie! Hoekom noem jy hom altyd ’n Nazi?” Weer uit voor sy kan keer.
“Ek sê nie hy is ’n Nazi nie, ek sê hy het ’n Nazi-gesig. Hoekom verdedig jy hom?”
“Omdat …” Saranie voel hoe sy rooi word.
Anna sit haar koffiekoppie hard op die piering neer. Sy kyk na Saranie asof sy diep teleurgesteld is. “Is jy van die Franz Strauss-bewonderaarsklub?”
“Ek’s nie die enigste een wat ’n bewondering vir hom het nie! Wat van jou? Jy het al gesê hy is ’n briljante dokter – en nou is hy skielik ’n Nazi.”
Anna kyk Saranie aan asof sy iets sien wat sy nog nooit voorheen gesien het nie. “Goed, Saranie, ek sal nie weer sê dokter Strauss is ’n Nazi nie,” paai sy asof sy ’n kind kalmeer.
Haar hele houding sê: Jy steek iets groots vir my weg en ek is jou beste vriendin. Ek vertel jou alles van my en Nico, maar jy kom met alles behalwe die waarheid. Wag maar, ons sal weer praat.
Saranie weet nie waar om te kyk nie. Teen haar sin voel sy ’n knop in haar keel. Sy sluk en sê niks.
Corné geniet blykbaar die wapenstilstand. Het hy hierdie konfrontasie beplan? wonder Saranie. Het hy dit uitgedink – die kastige omhelsing wat hy gesien het? Is dit waarvoor hy die hele naweek gewag het? Sy hou nie van hierdie donker kant van Corné nie, en dis asof dit die laaste tyd die oorhand begin kry.
“As iemand ’n Nazi is, is dit Glenda,” sê sy en staan op.
“Nou ja, dan kan sy mos met sy gal werk,” sê Anna, wat seker die situasie wil red.
“Ek moet gaan.” Saranie pak die koppies op die skinkbord asof sy die tafel moet opruim.
Franz Strauss is nie in ’n koma nie, dink sy vies, hy is bloot stil en onbereikbaar. Hy doen sy werk, hy doen wonderlike operasies, hy is die beste leermeester wat sy nog ooit gehad het … en die aantreklikste chirurg met die mooiste blou oë. Sy droom oor hom – drome wat onskuldig begin, soos dat hulle saam koffie drink sommer hier in die kaf waar almal hulle kan sien. Koffie en geselskap om mee te begin. Sy het baie om vir hom te sê.
Sy sal hom vertel wat hy vir haar as student beteken, van die bewondering wat sy vir hom het, hoe sy sy hande dophou as hy sy chirurgiese instrumente met soveel selfvertroue en kennis hanteer, met soveel deernis en respek vir die lewe. Niks is vir hom te klein of te groot nie. Hy werk vir ’n salaris en nie vir die eer nie en tog is hy onvervangbaar. Sy wou al voor hom gaan staan het en vir hom sê hoe sy hom aanbid. So, soos Corné Glenda sien doen het.
Maar dit gebeur net in haar drome – die diep verborgenes, snags in die donker wanneer sy alleen tussen haar lakens inklim en hulle omhelsings altyd so onskuldig begin.
Sy frommel servette en suikersakkies op. “Feit van die saak is, Glenda is getroud,” brom sy.
“Dalk hy ook, niemand weet vir seker nie,” voeg Corné by.
Daar kom ’n boodskap op Anna se selfoon deur. “Wel,” sê sy. “Hy is sekerlik groot genoeg om self te besluit.”
“Maak dit saak, deesdae?”
“Hulle sê hy het ’n vrou wat in Kanada werk.”
Anna plak haar foon neer. “Hemel, Corné, kry end.”
Eindelik het Saranie weer rede om te lag. “Nee, maar Corné dink die hemel is in Kanada.”
Corné trek sy asem in om te antwoord, bedink hom dan en pluk selfbewus sy selfoon uit sy sak.
Wat ’n wonderlike hulpmiddel om jou uit ’n ongemaklike situasie te red, dink Saranie terwyl sy hare ook oopklap.
“Hy is te professioneel om ’n verhouding in werktyd aan te knoop,” hou Anna vol.
Hy is, dink Saranie. Hy is een van die bestes in die land. Ja, selfs die kleiner operasies wat sy vandag gesien het, was genoeg om haar bewondering vir Franz Strauss as chirurg hoog te hou. Sy het lankal besluit dís waar sy wil wees: altyd aan sy sy, al is dit net in ’n operasiesaal. Sy sal hom volg waar hy ook al gaan. Binnekort – sy skryf vroeg volgende jaar haar laaste vakke af, en voor die einde van die jaar het sy MMed met anestesiologie agter haar naam.
Daarna sal sy sorg dat sy hom nooit verlaat nie, hom nooit-ooit in die steek laat nie. Sy weet hy hou van haar – hy vertrou haar dan al met groter operasies, selfs nou die dag met ’n pankreatektomie. Goed, professor Hanekom het die narkose toegedien en sy het geassisteer, maar sy moes ook voorberei, ook alles gereed kry asof sy die narkotiseur was. Sy kan en sy gaan binnekort op dieselfde vlak as Franz Strauss beweeg.
Vasberade begin sy aanstap. Daar is werk om te doen, lig in die tonnel.
Hy kan nie sonder ’n narkotiseur opereer nie, en Glenda Olckers se veld is ver verwyder van syne. Hulle kan miskien sommige prosedures met mekaar bespreek, maar sy aan sy opereer?
“Saranie, waar gaan jy?” Anna het haar ingehaal.
“Saal toe, my rondtes.”
“Wanneer het jy weer ’n oop dag?”
“Donderdag.”
“Ek ook. Sal ons iewers in die stad gaan tee drink?”
“Julle het nou net koffie gedrink.”
“Stil, Corné.”
Die gang raak besig, hulle kan nie meer langs mekaar loop nie. Corné val gesteurd terug.
“Ons moet praat,” fluister Anna.
Dat een van Corné se skinderstories soveel impak kan hê! “Oukei,” stem Saranie in.
“Pas jouself op,” vermaan Anna.
“Ja, ek gaan vanaand vroeg slaap.”
“Ek kry Nico by die restaurant, ons gaan fliek.”
“Gaaf, wat gaan julle kyk?”
“Weet nie, Nico koop die kaartjies. Wanneer gaan fliek ons twee weer ’n slag?”
“Donderdag, saam met die tee.”
“Maak so,” groet Anna en draai by die onkologie-afdeling af.
“Geniet jou fliek vanaand!” roep sy agterna.
Dit tref haar dat hulle albei te hard probeer om die lastige vertrouensbreuk wat tussen hulle ontstaan het te ignoreer.
Sy loop verder, Corné soos ’n brakkie op haar hakke.
“Klink my dit gaan weer goed met haar en Nico?” vis hy.
Dis een fout wat Anna maak: sy kan nie haar hartsake en huweliksprobleme vir haarself hou nie, dink Saranie. En nou wil sy háár verkwalik wat weet hoe om stil te bly.
Dan sluk sy haar verwyte en besluit dat sy onregverdig is. Anna was die afgelope maande onder soveel druk dat sy dikwels in trane uitgebars het en die oorsaak noodwendig onder bespreking moes kom. Corné was nogal baie simpatiek, en al wat hy nou seker probeer doen, is om Saranie daaraan te herinner dat hulle drie eintlik nog vriende is.
“Ja, hulle het gaan hulp soek,” sê sy, maar besluit om nie verder uit te wei nie.
Net toe stoot ’n portier ’n bed met ’n pasiënt van voor af by hulle verby. Corné loer skuins na die gesig op die kussing. “Een van myne,” sê hy vir Saranie en vir die portier. “Waarheen vat jy die man?”
“X-strale, dokter.”
“Wie’t gesê?”
Die portier gee die knyperbord met die lêer aan en Corné vat dit. Saranie maak ’n gebaartjie met haar hand om te beduie dat sy aanstap. “Sien jou,” groet Corné en begin die inskrywings op die lêer bestudeer.
Saranie kan soms nie anders as om aan Corné te dink as ’n man met twee persoonlikhede nie – een wat soos ’n keffende Jack Russell agter haar aanloop en ’n ander wat soos ’n brullende leeu oor sy pasiënte is.
Hy kon natuurlik die voorval tussen Glenda en dokter Strauss aangedik het omdat hy bloot op professionele vlak jaloers is op Franz Strauss en nie omdat hy die omvang van haar bewondering en haar smoorverliefdheid vermoed nie.
Hy het al ’n slag geluide gemaak dat hy eendag graag in chirurgie wil spesialiseer. Op die oomblik is hy besig met sy tweede huisdokterjaar – nie dat hy in sy twintigs is nie. Corné is nader aan veertig as dertig. Hy is ’n homeopaat wat besluit het om medies te doen, vandaar die pilletjies wat alewig op sy tong lê en smelt. Een van die redes waarom sy hom nie wil soen nie, altans nie op ’n romantiese manier nie.
Dis haar nagmerrie: hoe sy en Corné soen en sy met ’n mond vol half gesmelte pilletjies agterbly. Sy hét van hulle. Daar staan rye van sy botteltjies op haar badkamerrakkie; help glo vir vermoeienis en spanning. Sy sal nie weet nie, want sy drink hulle nie, sy het ’n tonikum. Nie dat dit veel help nie, teen dié tyd van die middag is sy moeg. Soms is dit net die vooruitsig dat sy haar held sal sien wat haar nog op haar voete hou.
Sy loop om ’n skoonmakervrou wat ’n vuil mop oor die vloer sleep. Haar blik vang die vrou se afgetrapte skoenhakke, die dun kuite en die skewe soom van haar oorjas. Onwillekeurig wonder sy oor haar – of sy ’n hele gesin met haar karige salaris onderhou en of sy net vir haarself sorg? Sou sy ook drome droom – drome wat soos Saranie s’n nooit waar word nie?
Daar is dalk meer ooreenkomste tussen hulle as verskille. Saranie weet nie hoekom nie, maar die gedagte ontstel haar só dat sy vinnig verbystryk. Haar hele dag is bederf, en dit oor ’n skinderstorie.
Sal sy ooit weer aan Franz Strauss dink sonder om hom in Glenda Olckers se arms te sien? En aan haarself sonder om te besef dat sy nie die flair het om ’n man soos Franz Strauss te verlei nie?
Sy beland in die gang voor die huisdokters se spreekkamers. Hier staan banke met wagtende besoekers en pasiënte. Kinders stoei en speel op die vloer, lag en huil. Die ontvangsafdeling is ’n miernes. Mense hoes, proes en spoeg. Deur die glasdeur sien sy groepies op die stoep. Van hulle rook dat die blou dampe staan. Rook en hoes, lag sonder tande.
Dis reeds laatmiddag en hulle drom steeds saam. Dis nooit vir haar maklik om hier deur te loop nie, sy het ’n oordosis gehad in haar huisdokterjare.
By die toonbank staan mense tou en vul vorms in. Sy verbeel haar sy hoor die elf landstale plus Grieks en Portugees. Iemand trek aan haar mou en vra hulp met die invul van ’n vorm. Sy is haastig, maar help soveel soos sy kan. Dan draai sy vinnig om en vlug voor nog een haar kan voorkeer.
Dis toe dat sy in hom vasloop.
Hy het ’n wit T-hemp en blou jeans aan, ’n oopgeknoopte hospitaaljas bo-oor. Hy is blykbaar ook haastig, want hulle bots ongenadig hard. Toe hulle mekaar tref, vou sy jaspante saam met sy arms om haar. Hoe sy dit in die bedompige hospitaalgang regkry, weet sy nie, maar sy ruik hom. Die koue antiseptiese reuk van ’n pasgeskropte teater, maar ook ’n naskeerroom wat haar herinner aan dennenaalde op sneeu, sy eie persoonlike reuk, nie onaangenaam nie. Die T-hemp is sag teen haar wang, sy rugspiere hard en bultend onder haar hande soos sy vasklou om nie te val nie. Sy een hand is stewig op haar heup, die vingers van die ander een styf om haar boarm geklamp.
Vir ’n breukdeel van ’n sekonde verbeel sy haar hulle wals … en wals …
Maar die toevallige omhelsing duur net ’n sekonde, want hy los haar so vinnig soos hy haar vasgevat het en stoot haar eenkant toe, ’n lastige dogtertjie wat onverwags onder haar pa se voete beland het.
“Dokter Du Plessis, versigtig,” hoor sy hom ongeduldig sê. Gewoonlik noem hy haar Saranie.
“Dokter Strauss!” snak sy na asem.
“Waarheen is jy so haastig op pad?”
“Ortopedies.”
“Jy moet kyk waar jy loop voor jy ook daar beland.”
Terg hy haar of raas hy met haar?
Deksels! Dis die eerste keer in haar lewe dat sy in hom vasloop en dalk is dit nie eens haar skuld nie, dit kon net sowel hy gewees het wat nie kyk waar hy loop nie. Seker oorhaastig om by Glenda Olckers uit te kom voor sy huis toe gaan. Sy loop dikwels vroeg.
“Jy kan ook maar kyk,” brom Saranie en stof haar af asof hy vuil is.
“Maar jy’s kwaai!”
“ ’n Mens beskuldig nie sommer iemand anders nie.”
“Wat van jou? Dis wat jy nou doen.”
“Jy het eerste begin.”
“Dan hou ek eerste op. Ons kan nie hier staan en redeneer nie.”
Hy sê dit, maar beweeg nie ’n tree nie. Sy prop haar hande in haar sakke. In die een sak is ’n bol snesies, in die ander ’n bondel sakkies met ampules. Die morfien! Dis goed sy onthou dit.
Sy lig haar ken en kyk hom in die oë. Uitdagend. Syne is die wonderlikste blou, ’n uitdrukking daarin wat sy nie kan peil nie.
“Ek sou sê ekskuus, ek is jammer. Dis maklik genoeg,” hoor sy haarself sê.
Sy kan nie glo sy waag dit nie, maar sy is te vies om aan die gevolge te dink, nog minder om in ag te neem wie voor haar staan – een van die mense wat haar loopbaan kan kelder as hy sou besluit om haar gedrag onder die professor se aandag te bring. Ook die man op wie sy so passievol verlief is. As hy langer so teen haar staan, vou haar bene onder haar in.
“Jy verwag ’n verskoning?”
Sy knik en hy lag droog. “Ek sal beter doen, ek sal jou uitneem vir ete. Hoe lyk dit? Vanaand, môreaand?”
Hy kon haar met ’n bedpan oor die kop geslaan het en sy sou minder verbaas gewees het. As dit sy manier van ’n grap is, gaan sy nie daarvoor val nie. Hy weet natuurlik hoe sy oor hom voel en hy terg haar en verneder haar nog ’n keer, die vervlakste mansmens.
“Nee, dankie, dokter Strauss, sê net jy is jammer, dit was ’n ongeluk, dis al.”
Vir ’n oomblik lyk hy geamuseer en dan frons hy. ’n Spiertjie spring in sy wang, sy mond trek styf. Sy durf nie in sy oë kyk nie, maar dis moeilik, want hy sit sy regterhand palm na onder teen haar boarm. Dit voel of daar gate in haar jassie brand, deur haar langmouhemp tot op haar vel.
“Dit was ’n ongeluk. Jammer, ek het nie gekyk waar ek loop nie,” rammel hy die woorde af.
Nie eens drie sekondes nie en sy hand gly van haar arm af.
Sonder om weer na haar te kyk stap hy tussen die pasiënte deur na sy spreekkamer.
Saranie staan nog. Sy vou haar arms voor haar bors en wonder of sy nie weer gedroom het nie.
Franz Strauss het haar vir ete uitgenooi en sy het nee gesê!
Toe sy opkyk, staan Glenda Olckers en gluur na haar asof sy op privaat gebied oortree het. Saranie wil eers maak of sy haar nie sien nie, maar dan knik sy hoflik en glimlag selfs.
Natuurlik kry sy geen reaksie nie, net nog meer van die koue staar. Die oog van die basilisk, noem sy en Anna daardie kyk as hulle die slag regtig wil gal afgaan. Dié keer is dit soveel intenser as gewoonlik. Saranie ril, druk die hysbak se knoppie en wag, haar gemoed ’n kraaines van deurmekaargewoelde gedagtes en gevoelens.
Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Glenda neus in die lug na Franz se spreekkamer stap. Die hysbak hou stil. Glenda klop nie aan Franz se deur nie, sy vat eenvoudig die deurknop vas, stoot dit oop en stap in asof die plek aan haar behoort.
Wat gaan soek sy daar? wonder Saranie. ’n Kans om weer gesoen te word?
En sy? Het sy haar beurt verbeur, of het sy so pas as die oorwinnaar uit ’n geveg getree?
Die hysbakdeure gaan oop. ’n Verpleegster stoot ’n vrou in ’n rystoel uit. Nog twee verpleegsters volg haar. Saranie ken hulle, hulle werk in ortopedies en is altyd in die moeilikheid.
“Dokter Du Plessis! Suster Hochbach soek dokter die hele hospitaal vol,” kondig die een aan, asof suster Hochbach ’n kwaai onderwyseres is wat met die strafboek regstaan om detensie uit te deel. Probleem is: dis presies soos Hilda Hochbach is. Sy haat dokters, veral vroulike beginnerdokters. En sy regeer haar afdeling met ’n ysterhand so reg uit die jongste reëlboek – een wat sy self opgestel het.
“Ek’s op pad, Cathy, voor jy iets oorkom.”
“Is nie ek wat iets oorkom nie, dokter, dis suster.”
Saranie byt op haar tande om te keer dat sy Cathy op haar plek sit.
“Dokter is in die moeilikheid,” piep Cathy waaghalsig.
Haar spanmaat, Letti, se gesig is vol vlekke en haar oë is rooi gehuil. Sy is die sagte een en Saranie kan nie help om haar jammer te kry nie. Maar sy het nie tyd om die storie te hoor nie. Daar is buitendien net drie – met ’n paar variasies – en gelukkig kan die hysbak nie wag nie.
“Toe maar, ek’s op pad,” troos sy en stap by die hysbak in.
As sy in die moeilikheid is, is sy definitief nie die enigste een nie. Ou Hochbach het hulle natuurlik weer lelik uitgevreet, nou soek hulle nog iemand wat saam met hulle aan die pen kan ry.
Die deure klap toe. Sy is alleen in die hysbak.
Sy kyk in die spieël en is verbaas om te sien dat sy nog dieselfde lyk. Groot donker oë, wye rooi mond, blekerige vel wat nou gloei met ’n aantreklike blos, hoë voorkop en wangbene, ligbruin songestreepte hare wat sy in ’n vlegsel werk toe dra.
Franz Strauss het haar vasgehou; sy kan sy arms nog om haar voel. Maar dit was seker bloot om te keer dat hulle val en ’n spektakel van hulle maak. Dis goed sy het geweier om saam met hom te gaan eet, wie dink hy is hy? Glo hy sy is dom genoeg om hom ernstig op te neem?
Sy wens sy kon, maar sy weet sy kan nie. Hy was duidelik daarop uit om haar te terg. Wat bemoedigend is, is dat Glenda nie weet wat tussen hulle plaasgevind het nie … Of is hulle twee nou aan die grappe maak oor die aspirant-narkotiseurtjie wat nie kan kyk waar sy loop nie?
Die hysbak stop en haar gedagtes word wreed onderbreek.
’n Skoonmaker met ’n karretjie vol besems en verestoffers klim in. Die vrou maak verskoning omdat sy wil saamry en Saranie maak haar stil. “Jy kan tog nie trappe klim met jou waentjie nie.”
“Party van die dokters laaik dit nie om ons in die hysbak te sien nie.”
Saranie kan raai wie daardie dokters is: Glenda en haar soort. Sy en Franz aard dalk nie na mekaar nie, maar hulle is albei spesialiste en dalk is dit nie die eerste keer dat hulle mekaar in sy spreekkamer omhels nie.
Sy voel weer sy arms om haar en sug.
“Is dokter moeg?” vra die skoonmaker.
“Nee, net teleurgesteld.”
Die skoonmaker knik. “Ek sien,” sê sy ernstig, maar sy kan onmoontlik.
Saranie sug weer. Dis die eerste keer dat een van haar drome uitkom, en die werklikheid is nie naastenby soos sy dit vir haar voorgestel het nie. Die werklikheid is ’n yslike teleurstelling. Die man wat sy aanbid, het haar per ongeluk vasgehou en haar toe soos ’n warm patat gelos.
Corné is die enigste man wat haar lief genoeg het om haar deur dik en dun by te staan, wat saam met haar sal werk, wat belangstel in dieselfde dinge as sy, wat haar bewonder en sy uiterste bes doen om hul vriendskap in ’n verhouding te verander. Nie Franz Strauss nie.
Die skoonmaker sug ook en klik met haar tong.