Читать книгу Romanse agter die skerms - Helena Hugo - Страница 4
2
ОглавлениеColette kom vieruur by die huis, vroeër as gewoonlik. As sy nie in Fourways by die supermark aangery het nie, sou dit nog vroeër gewees het. Maar die katkos was op en sy het vars vrugte en jogurt nodig gehad. Sy parkeer haar Polo op sy plek. Sy het een van die kleiner eenhede met ’n afdak, nie ’n toesluitgarage nie. Maar dit pla haar nie, dis veiliger, veral saans. As sy uitklim, loop sy drie treë en is sy in haar kombuisie, anders as by die tuinwoonstel waar die garage onder haar woonstel was en sy die trap moes klim onder lae boomtakke deur en by digte varings verby.
Hierdie plekkie is nuut en sy is trots daarop, haar eerste eie huis. Sy het ’n oulike patio en ’n tuintjie wat ná twee jaar se liefdevolle versorging baie mooi vorder. Potte met varings en vrolike klimoppe versier die houtraamwerk om die afdak. Haar versameling windklokke wat aan die balke hang, klingel gesellig.
Sy klim uit die motor en trek die sakke met kruideniersware wat sy sommer op die agtersitplek gegooi het nader. Toe sy omdraai, ’n sak in elke hand, sien sy Sokkies slaperig om die hoek loer. Hy gaap, rek hom uit.
“Haai, Sokkies!” groet sy en stoot die motordeur met haar heup toe.
Toe sy die sakke voor die agterdeur neersit en oopsluit, skuur Sokkies teen haar bene en miaau pleitend.
“Bedaar, ek het jou kossies onthou,” paai sy.
Die feit dat hy hier is, is gerusstellend. Hy is ’n lewende wese wat haar verwelkom en sal waarsku as daar ’n ongewenste persoon is wat haar sit en inwag. Sy stry altyd met Emile dat ’n kat ’n beter waghond as ’n hond is. Sy weet as Sokkies rustig is, kan hier nie ’n vreemdeling naby wees nie. Wanneer sy lank ná donker huis toe kom, sit Sokkies in die oprit ver van haar eenheid af en wag, en as hy haar kar sien, hardloop hy saam huis toe.
Sy het altyd gedink dis oulik, maar dit was natuurlik water op Emile se meul. Hy reken die kat kan onmoontlik weet wat by die huis aangaan as hy heelaand in die oprit sit. Toe lag hy toe sy sê sy wag in die kar en klim eers uit as Sokkies by is. Sokkies kan seer krap, sy wat Colette is, het selfverdedigingslesse geneem, daar is ligte wat heelnag brand, die kompleks het ’n hoë muur met ’n elektriese heining en daar is ’n wag by die hek – meer as wat hy van sy huis teen die heuwel kan sê.
Nog ’n vreeslike rusie gewees. Een woord op die ander, tot hy naderhand weggestap het. Emile kan nooit erken dat hy verkeerd is nie.
Colette pluk aan die veiligheidshek. Die slotjie gee probleme, maar sy ken sy truuks. As sy ryk geërf het soos Emile, sou haar hek ook vanself oopgeskuif het. Eindelik! Dalk het die slot weer ’n paar druppels olie nodig. Oeps! Sy het vanoggend vergeet om die agterdeur te sluit. Dis oor sy douvoordag hier moes uitjaag, net om te sukkel met mans wat nie hul woorde ken nie.
Sy byt haar onderlip vas. As hulle in die eerste plek gesê het hoekom hulle gaan duik het, sou haar gesindheid ook beter gewees het. Toe moet hulle optree soos die Drie Musketiers op ’n geheime sending. Dae soos vandag is sy lus en los die spul en kom weg van Emile en Steven en Benny en die hele “familie”.
Ongelukkig beteken ’n rol in ’n gewilde sepie ook finansiële sekuriteit wat sy moeilik sal prysgee, veral nou dat die rentekoerse al weer opgegaan het. Sy skuld haar pa geld wat sy geleen het om haar deposito op die meenthuis aan te vul, en haar kredietkaarte kerm om genade. Sy besef dit en sy neem verantwoordelikheid vir die skuld wat sy die laaste tyd aangegaan het. Dis goeie skuld. As sy alles afbetaal het, besit sy ’n betroubare karretjie en vaste eiendom én meer sekuriteit.
Die nuwe wasmasjien en bypassende droër begroet haar in die piepklein opwaskamertjie. Sy moes ook ’n yskas koop. Die een wat sy van universiteitsdae met haar saamgesleep het, het sleg afgesteek teen die teëls van haar nuwe kombuisie. Colette sug. Sy skuld nog te veel op hierdie wit goeters ook, maar danksy Mediamanie betaal sy elke maand getrou haar rekeninge.
Sy plak die kruideniersware op die kombuisrak neer, haak haar skouersak af en begin uitpak. Sokkies miaau toe sy die katkos uithaal, hy ruik dit en hy ken die geluid wat die swaar plastieksak maak wanneer dit hanteer word. Om hom te troos, knip sy die sak dadelik oop en gooi ’n hand vol kos in sy piering.
“Jy snuffel nie weer die koevertjies met die vleis in uit nie,” maan sy hom. Sy weet dat hy nie luister nie, want hy stoot reeds sy neus tussen die brokkies rond op soek na sy gunstelinghappies.
Sy keer hom nie. Sy kyk na die enkele koffiebeker en ontbytpapbakkie wat sy vanoggend in die opwasbak gepak het. Sokkies is bederf, maar sonder hom sou ek hulpeloos eensaam gewees het, dink sy.
Sy hou van haar blyplek, sy is mal oor haar patio en haar tuintjie, haar slim kat wat daagliks getrou op haar wag, maar vanmiddag voel sy alleen. Die kamers is te stil, te koud en te leeg, al is dit knus en gesellig ingerig. Sy voel sleg oor haar optrede. Sy kon geduldiger gewees het, minder uitgesproke oor Emile-hulle. Maar hulle moes darem vroeër gepraat het! Janeen het ook saamgestem.
Colette sluit die agterdeur, loop badkamer toe en was haar hande. Haar gesig lyk vaal en verwese in die badkamerspieël. Sy sorg altyd dat sy die dik laag professionele grimering verwyder voor sy die ateljee verlaat en grimeer dan nie weer nie, maar sy lyk darem nie gewoonlik so uitgewas nie.
Laas nag se slapeloosheid en vandag se spanning het haar so uitgemergel dat Joey, die een kameravrou, diskreet vir haar gesê het sy moet vanaand vroeg bed toe gaan. “Alleen,” het sy bygevoeg.
Colette het dit reggekry om te glimlag en haar te bedank vir haar goeie raad.
Sy sal ’n slaappil drink. Môre hoef sy nie voor nege-uur op stel te wees nie; die rooster was toevallig klaar opgestel. Dis nie omdat sy beloon word vir haar geringe geduld en begrip van vandag nie, dit het bloot so uitgewerk.
Janeen en Emile moet môre weer sewe-uur inklok, die tegniese span ook. Dit maak nie saak hoe rooi en pofferig laasgenoemdes se oë is nie, solank die spelers fris en vars lyk, kan die vertoning voortgaan. Janeen sukkel nie, sy is ’n kind, sy kan dwarsdeur die nag rinkink en die volgende dag nog goed lyk. Emile ook, hy floreer op laat nagte. Colette het haar slaap nodig, ’n minimum van agt uur per nag, anders lyk sy soos sy nou lyk.
Sy skop haar sandale uit en val sommer op haar rug op haar bed neer, wat sy vanoggend blitsvinnig reggepluk het. Haar ma en ouma het haar geleer dat haar blyplek te alle tye aan die kant moet wees, mens weet nooit wanneer jy onverwagte gaste kry nie.
Onverwagte gaste …
Haar keel trek toe. Sy staar na die plafon. Dit lyk of dit besig is om na haar toe af te sak.
Wilhelm Winterbach is op pad. Hy weet nie meer waar sy bly nie, maar hy sal uitvind. Hy kan hier opdaag en die hekwag sover kry om hom in te laat. Hy kan selfs reguit stel toe gaan, eenvoudig instap en maak of hy nooit weg was nie. Sy ken vir Wilhelm. Hy vra wel toestemming, maar as hy ’n idee in sy kop gekry het, aanvaar hy nie nee vir ’n antwoord nie.
Is dit wat die e-pos beteken?
Lottie, liefste
Ek is op pad Suid-Afrika toe, sal jou graag weer wil sien, dalk spoedig, dalk eers Desember. Dit gaan nie goed met my nie. Brigitta het besluit ons huwelik werk nie. Die skok was nie te groot nie, want noudat sy my verlaat het, kan ek eindelik weer met jou praat. Antwoord my as jy kans sien om ’n ou vriend se trane af te droog, vanselfsprekend indien hierdie e-pos nie na my terugkom nie. Ek dink meer aan jou as wat ek aan Brigitta dink, sy was ’n FOUT met hoofletters, ek betaal duur daarvoor. Sal jou nie nou met die detail vermoei nie, genoeg om kontak te maak. Asseblief, Lottie, een woord van jou en ek vervroeg my bespreking. O ja, ek weet jy is nog nie getroud nie. Kan ek iets daarin lees? Ek hoop so.
Eintlik nog steeds altyd jou enigste,
Wilhelm.
Colette het haar gister lam geskrik en die e-pos seker tien keer gelees. Sy kon hom nie antwoord nie, wat kan sy sê? Sy het sy foto’s stukkend geskeur, maar laas nag het sy ’n ou skooljaarblad uitgegrawe en lank daarna gestaar. Hy was een van die skool se sterre en daar is foto’s van hom op byna elke bladsy. Ook een van hulle twee saam. Hoofseun en hoofmeisie vir die jaar 2000. Wilhelm Winterbach en Colette Tredoux, skoolliefde van die eeu.
Almal het aangeneem dat hulle eendag sal afhaak en net sulke oulike kindertjies in die wêreld bring. Briljante kindertjies wat alles kan doen, mooi kindertjies. Maar Wilhelm dink toneelspeel is nie ’n ordentlike werk vir ’n opgevoede meisie nie. Wilhelm verstaan nie, hy is nie ’n akteur nie. Hy lyk wel soos een, selfs aantrekliker as Emile.
Sy het ure lank na sy foto’s gekyk en hom ingedrink in die fynste detail: sy skerp oë, die uitdagende houding, sy hoekige ken, die breë voorkop en pragtige bos krulhare, die kuiltjies in sy wange wanneer hy glimlag. Sterk, vierkantig en plat op die aarde, boerseun, sportman van formaat, kaptein van sy span met ’n kop vol syfers – nie om skape te tel nie, maar geld. Daarmee is hy so goed dat die bank waar hy werk hom Londen toe gestuur het, en natuurlik het hy van haar verwag om saam te gaan.
Maar sy het toe pas ’n jaar gelede haar eerste groot rol losgeslaan: Mia Barlow in Mediamanie. Sy het haar werk gekies en haar lewe geleef, soos hy sy werk gekies het en sy lewe gaan leef het.
Nee, nie heeltemal dieselfde nie, want sy is nie getroud met die eerste man wat ná hom by haar kom aanlê het nie. Nou is Wilhelm en sy Brigitta aan die skei, nog nie géskei nie, besig om té skei en hy kom klaar by haar aanklop. Wat moet sy doen? Waar moet sy raad vra?
Vera ken die hele storie, miskien moet sy haar bel. Haar eie ma kry die stuipe as sy weet wat aangaan. Sy was die een wat Colette se trane afgedroog het die naweek toe Wilhelm en Brigitta getroud is. Vera is ’n buitestander, sy sal nugter oordeel en onpartydige raad gee.
Colette sit regop, klim van die bed af. Haar selfoon is in haar skouersak en dié lê op die kombuisrak. Sy sal eers ’n SMS stuur en seker maak of Vera nie besig is nie. Sy moet nou dadelik met iemand praat!
Toe sy die selfoon uithaal, sien sy dat dit afgeskakel is. Sy is besig om haar pinnommer in te voer toe die huisfoon lui. Sal darem ’n toeval wees as dit Vera is. Great minds! dink sy en gryp die gehoorstuk.
“Hallo!”
“Colette …?”
Die manstem aan die ander kant is só onverwags, haar ore slaan toe.
“Ja, Emile?”
“Jou sel is af.”
Sy kyk na die dooie selfoon in haar ander hand. “Ek sien so.”
“Dag jy’s gekaap of iets.”
“Ek’t ’n halfuur gelede veilig by die huis gekom. Wat maak jy?”
“Wag vir my beurt, ons het nog een toneel.”
“Ken jy jou woorde?”
“Maklik.”
“Wat nog?”
“Ek skuld jou ’n verduideliking.”
“Dis oukei, ek het dit gehoor.”
“Nie by my nie.”
“Maak nie meer saak nie, Emile.”
“Ek wou nie hê dit moet die hele stel vol lê nie.”
“Wel, julle kon my en Janeen ten minste ingelig het, dan was ons nie sulke varke nie.”
“Ons het heelpad terug van Sudwala af woorde geleer, maar dis moeilike dialoog en sjoe, toe ek gisternag by die huis kom, val ek op die bed neer en raak met die teks op my bors aan die slaap.”
Ag siestog, dink Colette. Dit gebeur so kort-kort dat hy met sy teks op sy bors aan die slaap raak. Soms wonder sy of daardie “teks” nie lang blonde hare en welgevormde bene het nie. Die stekie in háár bors is beslis nie jaloesie nie, dis ergerlikheid. Wat weet hy van verhoudings? Wat weet hy van ’n verloofde wat weggaan en binne twee maande van jou vergeet, met ’n wildvreemde blondine trou en nou skielik wil terugkom?
“Colette, is jy nog daar? Dis die waarheid, ek belowe jou. Toe ek vanoggend wakker word, lê die teks op my –”
“Asseblief, spaar my daardie ou teks-op-die-bors-roetine van jou.”
“Ek moes eers gaan stort het, dan was ek dalk wakker.”
“Goed, probeer dit volgende keer.” Sy kry ’n glimp van Emile en sy blondine saam onder die stort en voel sommer verkeerd.
“Hulle roep, ek moet gaan. Is jy seker jy’s oukei?”
“Ja, Emile. Sien jou môre.”
Sy sit die gehoorstuk neer voor hy haar sover kan kry om te sê dat sy nie oukei is nie. Emile het ’n stem soos warm sjokolade. Hy klink sensueel al praat hy oor die weer. Nie dat dit enige verskil aan haar maak nie, sy ken hom te goed, hy met sy blondines. Tog … vanaand het daar ’n besorgdheid by hom ingesluip wat veroorsaak dat die stekies in haar bors nogal seermaak.
Ná drie jaar saam voor die kamera ken hulle mekaar goed genoeg om te weet wanneer een van hulle nie oukei is nie. Daar was wel een of twee meisies wat Emile se hart sleg vertrap het. Hy het by haar kom raad vra en so het hulle vriendskap begin blom.
Maar sy is nie lus om Wilhelm met Emile te bespreek nie. Hulle het mekaar eendag by die ateljee om een of ander duistere rede gegryp en mekaar deeglik opgedons. Wilhelm het gekla dat sy neus gebreek is; Emile het ’n sny in sy oogbank gehad. Die teks moes herskryf en die opnames herskeduleer word. Kosbare tyd het verlore gegaan en die vervaardigers van Mediamanie het die rekening vir Wilhelm gestuur en hom van betreding en aanranding aangekla. Wilhelm het ’n teeneis ingestel. ’n Hofsaak het soos ’n onweerswolk in die lug gedreig.
Die joernaliste het besluit dis ’n liefdesdriehoek en die koerante was vol bespiegelings, foto’s en al. Colette was so skaam, sy wou onder ’n klip inkruip en daar bly tot alles oorgewaai het. Mediamanie se vervaardigers het darem erken dat die reklame deur en deur die moeite werd was.
Ses maande later was die koerante uitgepraat, die saak buite die hof geskik en Wilhelm op pad Londen toe. Hy wou nie sy verloofring terughê nie. Sy het sy Londense adres by sy ma gekry en dit per koerier aangestuur. Toe was die breuk ’n voldonge feit.
Kan ons praat? SMS Colette vir Vera.
Vera antwoord nie dadelik nie. Goed dat ek eers ge-SMS het, besluit Colette en maak die yskas oop.
Sy haal die plastiekhouer met die hoenderslaai wat van die vorige dag oorgebly het uit, skep dit op ’n bord, sny ’n tamatie in skywe, skink ’n glas witwyn en gaan sit in die leunstoel voor die TV. Sy skakel dit aan. Mediamanie is aan die gang en sy kyk na ’n konfrontasie tussen Arnold Penrose en sy aartsvyand Felix Cade. Die twee het moeite om mekaar nie met die vuiste te takel nie. Die episode eindig met ’n skoot van Emile se gesig. Hy sukkel om sy humeur te bedwing.
Toe die eindtitels rol, skakel Colette die TV af. Sy het nie krag vir die nuus nie.
Sy het kalmte nodig en sy glip ’n CD met Chopin-nokturnes in die speler.
Mansmense kan maklik onredelik raak en vuis inlê, mymer sy. Die rede waarom Emile en Wilhelm daardie keer handgemeen geraak het, is vandag nog geheim. Wilhelm het iets gemompel van haar eer wat hy moes verdedig. Emile het gesê sy moenie glo wat sy hoor nie en geweier om verder oor die saak uit te wei.
Sy was lank vies vir Emile, met wie sy ’n romantiese verhouding moes veins terwyl sy nog hartseer was oor Wilhelm. Haar lewe was omgekeer en uitgeskud. Dit het gevoel of sy die helfte van alles wat sy is, verloor het. Gelukkig het Mia Barlow daarvoor begin opmaak en vandag het sy ’n rol wat haar sterstatus besorg het, en veel meer.
Sy en Emile het mekaar geleidelik beter leer ken. Mekaar soms gehaat en soms net verdra. Daar was tye toe sy bekommerd was oor die intense gevoelens wat hy in haar opwek. Dan het sy in die spieël gekyk en vir haarself gesê dis hormone, geen normale vrou kan bestand wees teen soveel testosteroon nie. Hoe soen jy professioneel so ’n sexy mond soos Emile s’n sonder om self geprikkel te word?
Sy het by Vera gaan kla. “Jy speel, maar jy is tog nog jouself,” het sy gesê.
Vera is ’n deurwinterde aktrise, in die jaar toet geskei van haar eerste akteurman en weer getroud met ’n akteur, wat bekend was daarvoor dat hy sy leading ladies ná werk bed toe geneem het. Albei mans is oorlede en Vera al jare lank weduwee.
“Ons speel met emosies. Wie kan dit hou?” het Vera gemymer.
“Maar professionele mense moenie hul privaat lewe met die werk laat inmeng nie,” het Colette selfversekerd uitgeblaker en toe byna haar tong afgebyt. Sy het dit so maklik laat klink, sonder om Vera se gevoelens in ag te neem.
Vera het nie ’n oog geknip nie. “Dis nie ’n waarborg nie,” het sy met die wysheid van jare gesê. “Jy weet mos nou.”
“Ek wil nie so wees nie,” het Colette verder kleigetrap.
“Dis ’n stryd wat jy moet stry, maar jy is nie alleen nie,” het Vera haar verseker. “Waarom dink jy is daar so baie romanse agter die skerms en soveel egskeidings in Hollywood?” het sy gevra sonder om na haar eie seer te verwys. “Wees bly dis ’n goeie Afrikaanse sepie, anders was julle nakend tussen die lakens.”
Colette kon nie aan iets ergers dink nie. “Wat moet ek doen?” het sy gekreun. “Ek’s nie so grootgemaak nie, maar partykeer wens ek ek’s saam met hom … jy weet, tussen die lakens.”
“Bly koelkop,” was Vera se finale raad. “Onthou, begeerte begin in die gedagtes.”
Daarna het Colette nie weer met Vera daaroor gepraat nie. Vera is oor die sewentig en haar gedagtes het lankal by haar hormone oorgeneem. Maar Colette kon dit nie help nie, haar hart het steeds sonder rede vinniger geklop as Emile haar nadertrek en vashou. Dis bloot fisiek, ’n normale reaksie wat volbloedmans en -vroue nie kan keer nie, het sy haarself bly troos.
Toe bring Lizzie ’n tydskrifartikel werk toe wat impliseer dat dit wetenskaplik verklaar kan word hoe en hoekom spesifieke mans en vroue mekaar aantrek. Dit het te doene met chemiese reaksies, reuke en so aan. Colette het haar boeglam geskrik. Sy wou flou word elke keer as sy Emile se naskeermiddel ruik, sy seep, selfs sy sweet en sy asem het haar van stryk gebring.
Sy het gemaak asof dit snert is, maar skelm die tydskrif gaan koop en die artikel deeglik bestudeer.
“Partykeer dink ek ek raak verlief op Emile Linder,” het sy daardie Sondag oor ete en ’n bottel wyn aan haar ou universiteitsvriendin erken.
Donna is ’n danseres. Sy het al paaldanse in ’n mansklub gedoen en sy is nie bang nie, nie vir mans nie en ook nie vir seks nie. Sy was nie verbaas oor Colette se versigtige ontboeseming nie.
“Jy dínk nie so nie, jy ís!” het sy gesê.
“Nee!”
“Dis so duidelik soos daglig, vriendin, daar smeul iets tussen julle.”
“Jy kan dit sien?”
“Daai liefdestonele tussen Mia en Arnold is reg eg.”
“Ons speel toneel!”
“Hoe speel jy toneel as julle moet soen? Verbeel jy jou dis mond-tot-mond-asemhaling?”
“Daar is tegnieke, ons het dit op dramaskool geleer.”
“Mond-tot-mond-asemhaling?”
“Omhelsings, hoe om te draai en hoe om vas te hou.”
“O ja? Hoe tegnies kan jy raak as jy jou uitgehongerde lyf teen ’n ander honger lyf moet vasdruk? Vra my, ek weet. Of het jy vergeet ek dans? Buitendien, wat van hom? Mans is weerloser as vroue, jy weet. Moenie vir my sê jy’t hom nog nie uitgevang nie?”
Colette het verbouereerd vir haar nog wyn geskink, in die proses die glas oorvol gemaak en sleg gestort.
Donna het die skade met ’n snesie herstel. “Help nie om jou verleentheid te verdrink nie,” het sy gepaai. “Jy en Emile is in denial. Julle sal eendag moet oorgee. Maar een van julle sal die eerste stap moet neem. Gaan dit jy wees?”
“Absoluut nie!” het sy gekeer en haar glas met een teug geledig.
“Fluister dit.” Donna het die voorstel met suggestie gelaai. “Sag in sy oor.”
Colette kon haar nie ’n groter verleentheid voorstel as om in Emile se oor te fluister dat sy nie toneelspeel nie en dat dit ook nie haar hormone is nie. Sy het ernstige gevoelens vir hom, sy het hom innig lief, sy wil die vrou wees wat sy huis teen die heuwel in ’n tuiste verander, familiefoto’s teen die gangmuur ophang, sy lewe deel – Emile s’n, held en hartebreker van driekwart van Suid-Afrika se vroue.
“Doen dit, ek daag jou uit,” het Donna bly aandring.
“Nee, ek moet koelkop bly. Ek moet vergeet dat ek Colette is en Emile, Emile. Ek is Mia Barlow en hy Arnold Penrose en ons liefde is vals en ingestel op die vermaak van ander.”
Donna het gegiggel. “As jy so redeneer, sal julle julle kans moet waarneem, agter die skerms – as julle dit nie alreeds doen nie. Ware liefde is so ’n skaars artikel; as jy dit het, moet jy dit hou.”
Toe weet Colette nie wat om te sê nie; sy kon Donna glad nie meer in die oë kyk nie. Sy het die wynbottel opgetel en omgekeer. Daar was niks meer oor nie, nie ’n druppel nie. Die smaak van ryp bessievrugte en bittersjokolade wat die wyn in haar mond agtergelaat het, het haar aan die kere “agter die skerms” herinner. Sy het die binnekant van Emile se mond geproe en gewonder wat haar besiel het om sy naam voor Donna te noem, om ooit in so ’n gesprek betrokke te raak. Was dit die artikel oor chemiese aantrekkingskrag, die feit dat Donna eerste begin het?
Maar Donna is ’n kenner van menslike swakhede, veral waar dit die lyflike liefde aangaan. Sy is ook ’n goeie vriendin, wat weet wanneer om op te hou. Wat soos Vera geheime kan bewaar en wat ’n sagte hart het, bravade en al. Donna het nie daarop aangedring om Colette se gevoelens verder uit te pluis nie.
Die CD het klaar gespeel. Sokkies, wat intussen uit was, spring op Colette se skoot en maak hom tuis. Sy streel die kat se sagte pels en luister na sy salige gespin. Sy verlang na die sagtheid wat daar eens op ’n tyd tussen haar en Wilhelm was. So maklik om dit terug te kry … Al wat sy moet doen, is vergeet en vergewe. Die feit dat sy ’n slapelose nag gehad het, beteken tog seker dat sy nog omgee?
Sy gaap en leun terug. Sy is te moeg om op te staan en bed toe te gaan.