Читать книгу Romanse agter die skerms - Helena Hugo - Страница 5

3

Оглавление

Colette skrik wakker toe die huisfoon lui. Verward wil sy dit eers los, maar onthou dan dat sy vir Vera ge-SMS het. Sy stoot Sokkies van haar skoot af en strompel na die telefoon wat langs die kombuis se bedienluik aan die muur hang.

“Hallo?”

“Miss Tredoux, Mister Linder at the gate.”

Al weer! Die wag is nuut, sy is lus en sê sy ken nie so ’n mens nie.

“Miss?”

Die wag hoor haar huiwering. Wat soek Emile?

“Can I let Mister Linder through?”

Colette kyk op haar horlosie. Kwart oor agt. Sy en Sokkies was nie lank in droomland nie, ’n kwartier op die meeste, maar sy voel oes. Sy is nie lus vir kuiergaste nie. Aan die ander kant: sy het Emile vandag al so sleg behandel, sy kan gerus bietjie skietgee.

“Okay, it’s okay, you can let him in,” sê sy gelate. Sy plak die gehoorbuis neer en loop vinnig badkamer toe om tande te borsel en hare te kam. Sy het net tyd om die vuil bord en leë wynglas in die opwasbak te sit toe sy Emile se viertrek in die oprit hoor. Sy loop maar solank en maak die voordeur oop. Hoe gouer hy inkom, hoe gouer kan hy weer die pad vat.

Emile glimlag vir haar. Sy glimlag terug. Hy maak haar so kwaad, maar ter wille van die werk probeer sy om nie kwaad te bly nie. Hy buk af en kry iets langs hom op die passasiersitplek. Sy hoop nie dis ’n pizza en ’n bottel wyn nie. Sy het geëet en sy is nie lus om te kuier nie. Tot haar verbasing bring hy ’n ruiker blomme te voorskyn. Dit lyk soos een van daardie bont mengsels wat jy by enige supermark kan koop, maar toe hy naderkom, sien sy dis van Woolworths en werklik besonders.

Werp hy nou vurige kole op haar kop?

“Met waardering vir jou geduld,” sê hy toe hy dit oorhandig.

“Jy weet goed ek was vandag allesbehalwe geduldig.”

“Om te sê dit sal nie weer gebeur nie, ek meen nou van my kant.”

“Tot volgende keer,” brom Colette. Sy bekyk die blomme en voel soos ’n vark. “Dankie, dis pragtig, maar jy moes nie.”

“Hoekom nie?”

“Ons werk al drie jaar saam. Waarvoor wil jy nóú vir my begin blomme bring as jy die dag nie jou woorde ken nie?”

Hy druk sy hande in sy sakke. “Jy’t my uitgevang,” sê hy verleë. “Dis Steven se idee, hy vat een vir Janeen.”

“Ek dag dis te goed om waar te wees! Wil jy inkom vir koffie?”

“Liewer nie, ek’s weer môre eerste roep in en jy lyk moeg. Kry jy griep of iets?”

“Ek en Sokkies het voor die TV gelê en slaap.”

“Klink nie goed nie.”

“Ek makeer niks, moenie jou bekommer nie.”

“Laas toe jy so was, moes hulle jou blindederm uithaal.”

“Laas toe jý so was, moes hulle jou verstandtande trek!”

Hy gooi sy hande in die lug. “Hei, hokaai!”

“Maar jy dink nie!” Colette se stem styg buite verhouding.

Hy kyk na haar en skud sy kop. “Ek beter loop, jou bui het nog ver nie gesak nie. Ek het nie gekom om te baklei nie, eerlikwaar.”

Sy klou die blomme vas. Hy lyk skielik so afgekam, sy behoort sleg te voel. Maar soos sy hom ken, is hy besig om hard toneel te speel. Hy sal maklik maak of hy beledig voel om haar op haar plek te sit en haar daar te hou.

Sy word so kwaad, sy moet die impuls onderdruk om hom met sy Woolworths-blomme oor die kop te slaan. Die ruiker beteken nie dat hy sy fout erken nie, dit beteken bloot dat hy sy posisie wil herstel. Hy kan nie bekostig om op stel rond te val of onprofessioneel op te tree nie. Hy kan nie bekostig om minder as perfek te wees nie; hy moet altyd in beheer wees.

Sy maak haar mond oop om nog iets te sê, woorde wat vanself wil uitborrel en wat sy moeilik sal kan keer as sy eers op dreef is – iets oor vals nederigheid en opperste selfsug en dat dit miskien beter sal wees om die durabele ruiker vir sy ouma in die ouetehuis te vat as om dit hier aan te dra.

Maar op daardie oomblik lui haar telefoon. Hy beduie vir haar om te gaan antwoord en draai na sy voertuig toe om. Sy selfbeheersing steek haar dwars in die krop en sy wil hom keer, maar hy het reeds sy rug na haar. Sy gaan sowaar nie agter hom aanhardloop nie.

“Dankie in elk geval,” groet sy. Sy stap binnetoe en sit die blomme neer voor sy die gehoorstuk optel.

“Colette, Vera.”

Waarom voel sy lus om te huil? Omdat Vera haar ma in Mediamanie is en haar tweede ma in die regte lewe? Omdat sy net aan Vera kan erken dat sy naar was met Emile nadat hy sy bes gedoen het om te vergoed vir sy versuim van vanoggend?

Asof Emile belangrik is. Dis Wilhelm wat haar lewe kom omkrap het. Hý het die mag om haar so te ontstel, beslis nie Emile nie.

Op die agtergrond hoor sy die viertrek luier. Dalk kan sy tog maar vir hom waai, hom wys sy hou van sy blomme, ten spyte van alles. Dis ’n yslike groot ruiker. Dit lyk nog groter op die klein kombuistoonbankie. Wit en geel met ’n sprinkeling pienk – die pragtigste rose, irisse en pienkpers heidetakkies. “Vera, ek gaan maak net gou die voordeur toe.”

Colette loer uit. Die viertrek is weg; Emile het nie vir haar gewag nie. Sy stoot die deur stadig toe, teleurgesteld, maar meer in haarself as in hom.

“Gaste gehad?” vra Vera.

“Emile.”

“Kuier hy by jou?”

“Nie juis nie.”

“Dag hy’s jou probleem,” sê Vera.

“Soms.”

“Jy klink af.”

“Ek voel af.”

“Het jy en Emile weer een of ander vete aan?”

“Ek was kwaad vir hom en Steven, maar dis min of meer uitgesorteer.”

“Wat het hulle nou weer gedoen?”

“Die naweek gaan duik by Sudwala en toe ken hulle nie hulle woorde nie. Die repetisie én die opnames was hel. Later kom dit uit die duikery was ’n geldinsameling vir Jackie se operasie.”

“Shame, Jackie …” sug Vera. Die manier waarop sy dit doen, laat Colette so laag soos ’n wurm voel.

Jackie het ’n hyser in die Staatsteater misgetrap en lê al drie maande op sy rug. Daar is ’n Afrikaanse ortopeed in Londen wat hom gratis sal opereer. Die kans is goed dat hy dan weer sal kan loop, maar die vlug, verblyf en die hospitaal kos geld. En soos die meeste toneelspelers het Jackie nie ’n behoorlike mediese fonds nie. Sy vriende en kollegas is die afgelope maande besig om te woeker met alles wat hulle het om geld in te samel. Hierdie poging van Emile en Steven sal ’n groot bydrae lewer.

“ ’n Goudmyn het eenduisend rand betaal vir elke meter wat elkeen van hulle kon afsak, hy en Steven en Benny. Hulle het baie geld gemaak.”

“En die myn baie reklame.”

“Wel, hulle wou glo nie op stel kom spog voor dit nie op die nuus was nie. Toe kom Emile en Steven gevrek by die werk aan en ek en Janeen weet nie wat aangaan nie. Op die ou end word ons as die prima donnas uitgekryt net omdat ons op ons regte staan.”

Die ruiker ruik na varsgesnyde gras. Dis met raffialint vasgebind waaraan ’n kaartjie hang, Woolworths se logo prominent aan die een kant.

“Ek stem saam, ek sou my ook vervies het. Maar jy weet mos dis die soort goed waarmee ons elke dag moet cope. Hier by my gaan dit nie veel beter nie. Elke regisseur dink sy gans is ’n swaan en net een kan wen. Ek sit vas met die ander beoordelaars.” Vera sug. “Ek word te oud vir hierdie soort ding. Hoe gaan dit met Jackie?”

“Glo baie goed, noudat die operasie elke dag meer bereikbaar word.”

Met haar een hand vou Colette die kaartjie oop. Dis leeg; Emile het niks geskryf nie. Hoekom het sy iets verwag? Wat moes hy in elk geval skryf buiten dat hy jammer is, en dit het hy tog reeds gesê.

“As daardie ortopeed in Suid-Afrika gebly het, sou dit makliker gewees het.” Die bitterheid in Vera se stem is ’n weerspieëling van haar hartseer. Haar enigste kind werk ook in Londen en sy sien hom net elke tweede Kersfees. Hierdie Kersfees gaan hy en vriende in Duitsland ski.

“Wilhelm kom terug,” blaker Colette dit uit.

“Wilhelm, wie’s nou weer …? Wilhelm, jou eksverloofde?”

“Hy en Brigitta skei.”

“Oeps.”

“Hy wil my sien.”

“O ja, en wanneer nogal?”

“Kersfees. Ek weet nie wat om te doen nie.”

“Dis September … Jy het drie maande om te besluit.”

“Ek kry al klaar nagmerries!”

Vera bly ’n ruk lank stil. Colette kyk na die ruiker. Die rose is vars en besonder mooi, hul kleure wissel van donkerpienk na pers, van wit na gelerig en ligoranje. Die irisse is nog nie almal oop nie. Hierdie blomme sal lank hou, ’n teenwoordigheid skep wat haar aan Emile sal herinner.

“Hoe sê die Engelse spreekwoord,” dring Vera se stem tot haar deur. “When in doubt … don’t.”

“Ek wil nie ongeskik wees nie.”

Emile se ruiker lê soos ’n beskuldiging tussen haar en haar woorde. Sy het Emile lelik in die gesig gevat, sy ruiker aanvaar en sy verskoning verwerp. Dít was ongeskik.

“Colette, hy het omgespring en jou hart gebreek, onthou dit.”

“Hy wou met my trou. Dis ek wat nie kans gesien het nie. Mia Barlow was belangriker as ons verlowing.”

“Wilhelm kon gewag het met sy troustories en jou die kans gegun het om jou loopbaan aan die gang te kry. Vandag se vroue trou nie meer om deur mans onderhou en onderdruk te word nie. Vra my, ek staan tussen die twee tydperke. Regtig, as ek destyds geweet het wat ek vandag van Ryno Reynders weet, sou ek hom daai tyd al onder sy jis geskop het en liewer harder gewerk het. Dan was ek ook ’n aktrise met ’n ry toekennings op my kaggelrak en nie ’n slaaf van die stelsel nie. Ek dank die hemele vir my rol in Mediamanie al sit ek ook en stagneer, dit betaal immers die huur. In ons beroep moet jy nou eenmaal vat wat jy kan kry en klou wat jy het. As jy die klomp verhongerde, verwaarloosde wannabees moet sien wat hier op die fees sukkel om aandag te trek, sal jy huil. Sê nou jy het destyds nie daai kontrak vir Mia geteken nie en jy is saam met Wilhelm weg en dinge het skeefgeloop tussen julle, waar sou jy vandag gewees het? Op ’n fees – op elke fees wat op elke obskure dorpie georganise word! Jy het reg gedoen. Al het jy jou frustrasies met Emile en so aan, het jy ten minste jou selfrespek. Wat wil jy nog weet?”

Colette het vergeet hoe Vera kan weghol wanneer sy eers oor die toneelbedryf begin kla. En hoe sy haar haar twee mislukte huwelike verwens, saam met al die kanse wat sy in die proses verloor het. As Colette na haar moet luister, beantwoord sy beslis nie daardie e-pos nie.

“Niks meer eintlik nie …” sê sy versigtig.

“Jammer, skattie, ek het weer afgegaan. Maar regtig, ek haat mans wat met vroue se gevoelens speel en vandag nog vir hulle verbeel hulle is die enigste providers in die stelsel. Jy sorg vir jouself en jy maak ’n goeie lewe – moenie dink hy is Superman wat jou skielik sal kom oppik en wegvoer hemel toe nie. Goed, elke meisie wil graag trou, maar jy is nog jonk, jy het baie tyd. As jy wil trou, kyk na ’n man wat jou regte respekteer, iemand wat jou beroep verstaan en weet hoe dit werk. Kan jy jou voorstel as jy en Wilhelm nou weer iets sou aanhê, hoe hy Emile met sy valkoë gaan dophou? Hy sal nie kan glo dis toneelspel nie, hy gaan julle verdink en daar is mos nou niks tussen julle nie.”

Vera se laaste woorde klink eerder na ’n vraag, maar Colette weet nie of sy haar verbeel nie. Dalk is dit sy wat self die vraagteken agter die sin wil sit. Daar is dae wanneer sy in Emile Linder se arms wil wegsmelt en vergeet dat hulle akteurs is wat speel hulle is verlief – sy Mia Barlow en hy Arnold Penrose.

“Maar let’s face it, skattie, julle lyk smoorverlief.”

“Dis ons werk, jy van alle mense behoort dit te weet,” keer Colette.

“Ja, maar julle doen julle werk so goed. Wie kan Suid-Afrika blameer as hulle julle sien as ’n paartjie?”

Nou is daar geen twyfel nie: dit ís ’n vraag.

Colette antwoord nie. Sy ruik Emile se blomme, ’n mosserige grasreuk, ’n sagte poeieragtige rosegeur wat haar soos ’n pienk wolkie omvou. Harde werk, dink sy, om ander mense se romantiese drome uit te leef terwyl jy self nie daarin deel nie. Sy streel oor een van die volmaakte knoppe. Dit voel koel onder haar vingerpunte. As sy dit nie nou in die water sit nie, verwelk dit voor môre. Afhangende natuurlik van hoe lank Emile daarmee in sy kar rondgery het. Hy is so nes ’n man: dínk nie.

Maar Wilhelm is meer so.

“Moenie te veel stres nie, jy het tyd tot Kersfees.” Dis duidelik dat Vera haar spanning kilometers ver kan aanvoel.

“Ek sal nie. Dankie dat jy gebel het.”

Vera los ’n kort gilletjie. “Oeps, ek moet gaan! Ons finale beoordeling begin oor tien minute, hou duimvas dat ek nie uitstap of iemand se nek breek voor ons konsensus het nie. Sien jou volgende week as ek dit oorleef, kophou, skattie!”

Die gesprek word beëindig voor Colette kans kry om te groet, maar dit maak nie saak nie. Vera het haar op haar manier gewaarsku om nie te hunker na iets wat sy verloor het en wat sy nie eens behoorlik kan beskryf nie. Hoe sou die lewe saam met Wilhelm gewees het? Sy weet nie. Hulle was nie lank verloof nie, het nooit saamgebly nie, en op skool was hulle altyd deel van ’n groep. In ’n sekere sin ken sy Emile beter as wat sy Wilhelm geken het.

Sy tel die ruiker op, druk haar neus daarin, hou dit teen haar gesig. Is Wilhelm nog dieselfde of het hy verander? Hy sou oor lyke loop om sy sin te kry. Emile doen dit nie. Hy sal uit sy pad gaan om ander te help om byvoorbeeld werk te kry.

Die blomme is koel teen haar gloeiende wange. Hoe kan sy nog vir hom vies wees terwyl sy met sy soenoffer staan, en weet dat hy sy lewe in gevaar gestel het om geld bymekaar te maak vir Jackie se operasie?

Sy gaan haal haar grootste glasvaas en tap dit vol water. Sy sny die raffialint los, skeur die sellofaan af en druk die ruiker versigtig in die vaas. Die blomme is klaar kunstig gerangskik. Sy skik dit reg, druk hier aan ’n roos, trek daar aan ’n stingel tot sy tevrede is.

Dit lyk so feestelik op haar ronde tafel dat sy skielik spyt is Emile het nie pizza en wyn gebring nie. Hulle het al saamgekuier sonder om rusie te maak. Hulle wás verlief. Sy meer as hy …

Sy maak ’n paar los blaartjies bymekaar en gaan terug kombuis toe, druk dit saam met die sellofaan waarin die ruiker toegedraai was in die vuilgoeddrom. Sy pak haar bord met die mes en vurk, die wynglas en die houer waarin die hoenderslaai was in die opwasbak en kry haarself jammer. Haar lewe is vol en besig, soms word sy letterlik oorrompel deur skares bewonderaars wat haar privaatheid bedreig, maar op dae soos vandag is sy intens bewus van haar alleenheid.

Dalk moet sy ’n slag huis toe gaan. Haar ouers het afgetree op Paternoster en hulle leef taamlik rustig. Daar kan sy anoniem wees en hulle geselskap geniet, ook by haar broer en sy gesin op hulle plaas in die Swartland kuier. Maar van nou af tot twee weke voor Kersfees is hulle besige tyd by Mediamanie. Almal wil Desember weggaan en vakansie hou en daar moet vooruit gewerk word.

Sy onthou dat sy ’n slaappil wil drink. Sy skud een uit, sluk dit met ’n glas louwarm melk af en skakel die kombuisligte af. Voor sy die leeslamp in die eetkamer afsit, bewonder sy eers weer die ruiker in die middel van die tafel. Mooi. Jammer dit was in die eerste plek Steven se idee.

Sy trek ’n suur gesig en loop kamer toe.

Sokkies lê in die middel van die bed opgekrul. Ten minste slaap sy nie alleen nie.

Maar hierdie Kersfees gaan sy weer alleen na haar ma-hulle toe, tensy sy besluit om Wilhelm te vergewe. Sy sal voorlopig nie sy e-pos beantwoord nie. Sy sal tyd neem om te besluit, soos Vera gewaarsku het.

Romanse agter die skerms

Подняться наверх