Читать книгу Veldpad van verlange - Helena Hugo - Страница 5

3

Оглавление

Dis stikdonker toe hulle die uitdraai na hul bestemming bereik, ’n kortpad wat volgens Paulie se kaart by Graspan verbyloop, maar wat ongelukkig nie geteer is nie. Hulle moet van die hoofpad afdraai, twaalf kilometer goeie grondpad ry en dan by ’n wegwyser met Boshof 80 kilometer indraai.

Paulie het die kaart op haar skoot en beduie vir Andreas van haar sitplek agter in die kar hoe ver hy moet ry voor hy die plek sal kry. Hy het die CD afgeskakel en dis stil in die viertrek, ’n soort broeiende, onheilspellende stilte, donker en neerdrukkend. Die pad word slegs deur hul hoofligte belig, twee gryswit strale wat deur stofwolke boor. Aan die stof kan hulle niks doen nie, dis hul eie wat van agter af vorentoe waai. Die afgelope tien, vyftien minute al ry hulle alleen, en die laaste voertuig wat by hulle verby is se stof het lankal gaan lê.

Stof sif in die kajuit en Natika wat eers gekla het, verduur dit in stilte.

Andreas het haar getroos met: “Dis skoon stof, Natika. Skoner as die lug wat jy elke oggend in Pretoria inasem, so geniet dit.”

Lüther het sy donkerbril op. Hy hou ’n sakdoek voor sy neus en bewaar ’n doodse swye. Hy het sy sweetpakbaadjie aangetrek en die kappie oor sy kop getrek en lyk meer of hy in ’n sneeustorm op pad is Suidpool toe as plaas toe op ’n doodgewone Vrystaatse gruispad.

Hulle ry by enkele verligte plaashuise verby. Daar is helder ligte op hoë heiningpale, stoepligte onder sinkdakke, liggies aan stringe van die huis se dak na die windpomptenk, selfs in die hoë bome.

“Is dit ’n dorp?” vra Lüther met ’n mompelstem.

“Dis die skema, proefplase,” verduidelik Paulie kortliks.

“Die mense gaan slaap vroeg. Hoe laat is dit?”

“Halfnege. Hulle staan vroeg op.”

“Woon daar ooit mense in daai huise?”

“Ja.”

Maar hulle is steeds alleen op die pad. Nêrens roer daar ’n ander mens of ’n voertuig nie. Soms sien hulle ’n perd of ’n bees rustig in ’n kampie staan en sluimer. Die enigste geluide is die enjin se dreuning en Paulie en Andreas wat uitpluis hoe ver en wanneer hulle die kortpad kry.

Paulie hou dop: ’n laagtetjie, ’n bruggie, ’n groot boom, ’n bouval. Sy en Louis het ’n paar keer hierlangs gery, in die daglig. Alles lyk anders in die donker, maar die bouval lui ’n klokkie. Daar staan twee hoë palmbome langs ’n vervalle klipmuur en sy onthou hulle spesifiek.

“Ry stadiger, jy gaan nou-nou links draai.”

Andreas verminder spoed, sy kop vorentoe soos hy soek. Stadiger en stadiger tot die viertrek se ligte die uitdraaipad met Boshof 80 kilometer aan die linkerkant tref. Maar dis nie so ’n wonderlike prestasie nie. ’n Reuse-kennisgewingbord van die provinsiale paaiedepartement verdwerg die wegwyser met ’n ondubbelsinnige waarskuwing.

Versigtig! Padwerke vorentoe!

Yslike rooi letters op ’n blitsende wit agtergrond, duidelike woorde in die taal wat die mense hier rond almal verstaan. Met onderaan in kleiner letters, ingeval hier ’n uitlander verbykom: Cautious! Roadworks ahead!

“Andreas, jy moet draai!” waarsku Paulie.

“Daai pad is toe!”

“Dit is nie!”

“Paulie, dit is!”

Lüther skaar hom by Andreas. Sy glo dit nie.

“Dis ’n padverlegging,” piep Natika in die koor. “Kyk die borde, kyk die dromme!”

“Lángs die pad. Ry, Andreas! Oom Hennie het gesê die pad is sleg, maar hulle ry hom.”

“Hulle is nie óns nie.”

“Wil jy hê ek moet die wiel vat?”

“Nee, ek sal ry.”

“Dankie.”

“Jy weet hoe lyk ons vrag.”

“Ry stadig, dis al.”

“Ek sê niks,” brom Lüther.

Natika maak klein tjankgeluidjies.

Maar Andreas sit spoedig sy hand op haar arm. “Ontspan, die pad is splinternuut.”

Inderdaad, die eerste stuk is breed en glad, byna beter as die een wat hulle tot dusver gery het. Terselfdertyd word dit donkerder en eensamer. Só eensaam, hulle kon net sowel iewers in ’n doodsdroom aan die einde van die wêreld rondswerf. Voor lê die spookpad, aan weerskante die dreigende boswêreld, swart onheilsvlaktes wagtend op niksvermoedende reisigers na nêrens.

Die karligte boor die donker oop. Andreas bestuur so goed, die passasiers begin al ontspan toe hulle ’n stuk tref wat net sowel ’n omgeploegde land kon wees. Walle sand en klippe wissel mekaar hoog en laag af, en naderhand kan niemand meer sien waar die pad begin en waar dit ophou nie.

Natika sit so regop soos ’n meerkat en kerm sonder ophou. Lüther laat sak die ruit aan sy kant, steek sy kop uit en pluk dit terug met: “Jy’s die pad byster, ou! Ons ry teen ’n damwal op!”

“Stop!” keer Paulie. “Staan net hier!”

Sy gryp haar flits en spring uit. Inderdaad, Andreas het hulle netjies bo-op ’n hoë wal besorg. Die waentjie met sy kosbare vrag hang so te sê oor ’n afgrond. Bokant haar kop skitter miljoene der miljoene sterre, maar dis asof selfs hulle asem ophou. Hulle het net betyds gestop, want reg voor val die wal gevaarlik.

Wat nou? Hulle kan nie hiér vassteek nie. Iets moet gedoen word.

“Dis ’n fout,” sê Lüther agter haar.

Sy haal diep asem. Enige mens kon dié fout gemaak het, selfs sy, selfs Lüther.

Andreas het die deur aan sy kant oopgemaak en sy een skoenpunt boor in die grond asof hy vastrap. “Ek sal agteruit moet stoot.” Hy klink kalm.

“Help jou,” beduie Lüther. “Sal vir jou aanwysings gee.”

“Miskien moet Natika eers uitklim.”

Paulie het klaar omgeloop. Sy maak die deur aan daardie kant oop. Natika het haar baadjie oor haar kop getrek en sit in ’n benoude bondeltjie.

“Is dit veilig?” vra sy.

“Sover ek kan sien, ja. Ek maak vir jou lig.”

Die pad is die ene los grond en klippe en Natika sukkel met haar fyn sandaaltjies. “Is hier nie slange nie?”

“Skerpioene miskien. Kyk waar jy trap.”

Sy los ’n gilletjie en spring op haar toontjies. “Hy gaan nooit daar kan afkom nie!”

“Moenie soontoe kyk nie!”

Paulie en Natika sukkel teen die wal af. Dis deksels hoog! Dit sal ’n wonderwerk kos om die waentjie in een stuk hier af te kry, dink Paulie en sê liewer niks. ’n Skietgebedjie is al wat sal help.

Toe hulle op vaste grond staan en Natika nog besig is om die klippies uit haar sandale te skud, kyk Paulie op na die sterre en vra mooi asseblief. Al wat hulle wil doen, is om by hul bestemming uit te kom. En wie sou kon sê dat die pad in so ’n toestand is? Oom Hennie het haar verseker hulle ry hom, vervlakste oom Hennie. Dit lyk soos ’n maalgat. Is dit ooit die pad?

Sy loer na die voertuig, die waentjie wat gevaarlik knipmes en Lüther wat met ’n flits in die hand staan en waai soos iemand wat ’n vragvliegtuig aarde toe moet bring. Sy moet haar keer om ook te gaan raad gee. Die beste is om in sulke omstandighede so min as moontlik in te meng. Lüther en Andreas is besig met ernstige sake, fisiek én geestelik. Hulle red ’n voertuig met ’n kosbare vrag en leer mekaar ken in ’n krisistyd. Hulle vorm ’n band wat vir die res van die ekspedisie moet hou. Sy en Natika kan gerus hulle voorbeeld volg.

“Kom saam, hulle moet hierdie kant toe afkom.”

Paulie hou haar hand vir Natika en kry haar jammer toe sy voel hoe natgesweet die klein, maer handjie in hare is. In die lig van haar flits struikelstap hulle saam tot hulle ’n smal, uitgeryde sloot kry – duidelik die ou pad wat nog gery word. Daar, op ’n veilige afstand, staan hulle en wag.

Dis koel. ’n Ligte briesie waai en die lug ruik stowwerig maar skoon, inderdaad so skoon en vars soos Pretoria se lug nooit kan wees nie. Rondom hulle juig die krieke en ander insekte en verdring byna die angswekkende gegly van bande en die gekerm van die enjin.

Paulie onderdruk die vreesaanjaende gedagte dat die voertuig hier kan vasval of omval, kilometers van die naaste omheinde proefplaashuis. Dat hulle vier te voet sal moet aanstap, dat die viertrek in vlamme kan opgaan, dalk die twee mans ook. Andreas beslis as hy nie betyds uitspring nie.

Die gedagte bring ’n knop in haar keel. Sy wou hom nog aan Jettie voorstel. Sy wil hom nie dood sien nie, al maak hy haar so kwaad met sy beterweterigheid oor boekgeleerdheid, terwyl hy bloot lui is vir studeer. Hy sal hierdie jaar weer moet oordoen as hy nie ophou om agter Natika aan te hardloop nie.

“Kyk die sterre,” sê Paulie vir Natika voor sy te wrewelrig raak.

Natika kyk en sug. “Awesome.”

“Ja, dit is.”

“Ek het dit nog nooit gesien nie. Nie geweet daar is soveel nie. Dis so helder hier.”

“Dis oor die besoedeling in die stad. Hier sien jy hulle nog.”

“Miljoene seker.”

Hulle staan nekke agteroor gebuig en staar na die sterre: die wit strook van die Melkweg omring deur ontelbare flonkerende liggies, singende, dansende patrone, die hemel in al sy majesteit.

Andreas stoot intussen die viertrek volgens Lüther se aanwysings netjies van die sandwal tot op vaste grond. Hy ry tot by Paulie en Natika, stop en klim uit.

Natika spring in sy arms en Lüther kom aangedraf, stop langs Paulie en slaan sy arm om haar.

“Dis gedoen,” sê hy so selftevrede asof hy agter die stuur was.

“Dankie, Lüther. Wat sou ons sonder jou gemaak het?”

Ingeval hy dink sy terg net, draai sy na hom en soen hom behoorlik. Hy druk haar teen hom vas. Sy lyf bewe en sy besef dat hy seker ook geskrik het.

“Het jy die sterre gesien?” vra sy sommer.

“Ja.” Hy kyk op. “Lanklaas so ’n skouspel aanskou.”

“Dis wat ek jou wil kom wys.”

“Sterre?”

“Van nou af elke aand.”

“Hoe lyk dit?” vra hy. “Gaan jy van nou af elke aand in my arms lê?”

“Miskien …” Moet hy elke geleentheid wat hy kry, uitbuit?

“Gaan jy my kans gee om jou ook iets te wys?”

“Ek ken jou storie.”

“Die lewe is wraggies te kort, Paulie, om langer te wag.” Hy streel haar arm en sy vingers voel soos spinnekoppe wat teen haar opklouter. “Weet jy wat ek vir jou sê? Ons kon dood gewees het voor ek jou gewys het.”

“Ons kon, en dan sou niks meer saak gemaak het nie.”

“Jý sê dit, nie ek nie.”

“Asseblief, moenie dat ons met mekaar stry nie.”

“Wie stry? Beslis nie ek nie.”

“Jy het begin.”

“Het jy al na jouself geluister?”

“Kom ons hou op.”

Hy steek sy hande in die lug, sy gesig ’n lelike grimas. Altans, dis wat sy in die skemer kan uitmaak. Hy het die oomblik wat hulle netnou gehad het volkome en finaal bederf.

Is dít wat hy van plan is om te doen? Elke moontlike geleentheid en metode gebruik om haar uit te daag om seks met hom te hê? Regte seks elke aand, ingeval hulle in ’n ongeluk beland en doodgaan voor hy haar gepenetreer het?

Sy staan ’n paar treë van hom af weg. As hy dit waag om nou aan haar te raak, skreeu sy. Waar is Andreas? Hulle moet ry. Sy wil viertrek toe loop om die toeter te blaas.

Maar Lüther is ’n ordentlike man – op die oog af. Hy is goed opgevoed en hy laat haar nie toe om te ver weg te kom nie. Hy loop agter haar aan.

“Paulie! Ek is jammer, ek het dit nie so bedoel nie. Ek vra om verskoning.”

“Goed, dis laat, ek is nie kwaad nie.” Wat sal dit tog help om nou te verduidelik hoe goedkoop en verneder en nikswerd hy haar soms laat voel?

“No hard feelings?”

“Nee, Lüther. En dankie dat jy Andreas gehelp het. Waar is hy en Natika?”

Lüther wys na die ligkol van Andreas se flits. Hy en Natika het ’n ent in die pad afgestap en kom nou hand aan hand terug, twee spookfiguurtjies in die gloed van die viertrekligte, mistig van die stof wat steeds van iewers af neersif.

“Haai!” Natika waai asof sy hulle lanklaas gesien het. “Andreas wou my kalmeer, toe stap ons ’n entjie.”

Andreas skakel sy flitslig af. Hy lyk soos ’n kat wat room gevreet het en Paulie wonder vlugtig wat hy alles moes doen om Natika te kalmeer.

Daar is dieetkola, vrugtesap en water in die koelsak. Paulie bied aan en hulle vier drink saam ’n glasie op hul noue ontkoming. Dalk sal dit glad nie so sleg gaan nie, dink sy toe Natika die lug snuif en liefies sê sy is bly sy het gekom, dis ’n ondervinding wat niemand sal glo nie.

“En dis sooo romanties,” sug sy, sidder van lekkerte en kyk uitlokkend na Andreas.

“Is Andreas romanties?” waag Paulie dit.

“Jy weet mos hoe mans is, hulle idee van romanse is heeltemal anders as ons s’n. Maar dit is, dis steeds romanties.” Sy wend haar koketterig tot Lüther. “Is jy romanties?”

“Ja, veral in die pikdonkernag in die middel van die Vrystaat met ’n skemerkelkie in ’n plastiekglasie en die moontlikheid van nog ’n paar gate in die pad.” Hy lig sy glasie dieetkola. “Ons drink daarop en op ons bestemming! Sal ons ooit daar aankom? Paulie, toe, jy is ons voorbok.”

“Ons is op die regte pad.”

“Oom Hennie-hulle ry hom mos, nou kan ons ook.”

Wat gaan aan met Lüther? Besef hy waarmee hy besig is? Om haar gesag te ondermyn. Dís wat hy doen en hy hou nie op nie. Andreas skink vir hom nog vrugtesap en Natika kan nie ophou giggel nie.

“Het jy die huis se sleutels?” vra Lüther.

“Nee.”

“Wie gaan vir ons oopsluit? Sal oom Hennie in die middel van die nag kom oopsluit?”

“Hy woon nie daar nie, maar sy plaasbestuurder is net oorkant die pad. Alles is gereël.”

Dit is, want Paulie het eergister met oom Hennie se vrou, tannie Lettie, gepraat. Sy sou die plaasbestuurder die boodskap gee en hom weer deeglik herinner. Paulie hoop van harte sy het.

Andreas vat Natika se leë glasie by haar en bêre ook sy eie en Paulie s’n. Hy haal sy flits uit en inspekteer die plek waar die waentjie gehaak is.

“Alles reg?” vra Lüther.

Andreas ruk en pluk aan die verbinding. Dit lyk baie stewig. Dan loop hy om die voertuig en kyk na die wiele voor hy sy duim in die lug steek.

“Paulie, jy beter voor by my inklim. Ek wil nie vannag nog ’n navigasiefout maak nie,” sê hy. “Oukei met jou, Natika, om agter langs Lüther te sit?”

“Fine, ek gee nie om nie.”

“Jy ook nie?” vra Paulie, bloot om Lüther ook in te sluit.

Maar hy is klaar besig om die agterdeur vir Natika met sy een hand oop te hou, die voordeur met sy ander hand vir Paulie, sy mond eindelik stil.

“Dankie, dokter,” koer Natika toe sy inklim.

Paulie sit die daklig aan en kyk na die kaart. Die uitdraai na Graspan is regs by ’n kruising, maar dis nog taamlik ver soontoe. Sy sal moet wakker sit, die uithangbord is nie groot nie, hoewel sy die opstal met die skuur, wat naby die pad sit, goed ken.

Lüther klap die deure toe en loop agterom sodat hy aan sy kant kan inklim.

“Almal in?” vra Andreas.

“Jy kan ry,” knik Paulie.

Andreas trek stadig weg, geen skade aan die voertuig nie. Hy ry vinniger.

“Hoeveel kilometer?” vra hy vir Paulie.

“Omtrent so sestig as alles goed gaan.”

Hy knik, stel vinnig aan die afstandmeter. “Ons is nou so drie kilometer weg,” sê hy en kyk stip voor hom uit.

“Ek sal dophou dat ons nie verbyry nie,” belowe sy en hou haar blik op die pad.

Agter haar maak Lüther keel skoon. “Verskoning,” sê hy en klink vreeslik amptelik.

Natika giggel. “Oukei.”

Andreas laat glip ’n CD in die speler. Dis rustige musiek, klaerige Ierse klanke. Enya wat sing, liedjies vol heimwee, deuntjies vir die laataand. Maar Paulie ontspan nie. Sy sien elke verskuiwing, elke walletjie, elke strook klippe, elke gat in die pad raak en wys dit vir Andreas uit.

Hy sien dit ook en stel haar gerus: “Ontspan, ek dink ons is nou reg.”

“Twee paar oë is beter as een,” keer sy. “Ek help jou kyk.”

“As jy dan wil. Maar jy moenie ons afdraai vergeet nie.”

Hy loer vinnig na haar kant toe, flits vir haar ’n glimlag en kyk dan weer vorentoe, sy ken vasberade, ’n ferm trek om sy mond. Dis die eerste keer dat sy behoorlik na sy profiel kyk. Dis baie aantreklik, byna Romeins, ’n manlike profiel en ’n sterk ken.

Nie soos Lüther nie. Lüther het ’n ongelukkige profiel. Hy gaan pofferig en sag word soos sy pa, ’n swak trek om sy mond kry, al is hy ’n man met gesag en sjarme.

Sy het nog nooit soveel tyd gehad om Andreas te bekyk nie en sy hou nie op nie, al voel sy skuldig. Haar blik verskuif na sy hande op die stuurwiel, stewige groot hande wat die wiel vasvat. Sou hulle teer en sag kon wees, vat sonder om seer te maak, liefkoos sonder om af te knou? Miskien, want Natika is fyn en broos, byna breekbaar.

Sy slaap seker al weer, en Lüther is ook vir ’n verandering stil.

“Slaap julle?” vra sy om gaaf te wees.

Lüther mompel iets en Natika antwoord nie.

“Ons sal julle wakker maak as ons aankom.”

“Maak so.”

Die pad raak weer taamlik onbegaanbaar en Paulie sit saam met Andreas vorentoe tot hulle veilig deur die slegte stuk is.

“Hoeveel kilometer?” vra sy.

“Tien,” beduie Andreas.

“Nog so vyftig.”

’n Haas glip oor die pad, en nog een, en Andreas moet rem. Hy lag en sy hou van die geluid.

“Hasies!” roep sy sonder om om te kyk.

Geen antwoord nie. Seker vas aan die slaap, dink Paulie en besluit om haar nie verder oor Lüther en Natika te bekommer nie.

Die nag glip verby in die silwer lig van die viertrek se kopligte.

Enya sing: “Place a name upon the night, one to set your heart alight and to make the darkness bright, paint the sky with stars …”

Paulie sê niks, maar sy wonder of Andreas ook na die woorde luister.

Veldpad van verlange

Подняться наверх