Читать книгу Papierblomme - Helena Hugo - Страница 11

7

Оглавление

Wat is geluk? Geluk is om ’n maat te hê saam met wie jy ure lank op die bed kan lê en giggel. Julle stry en maak vrede, julle loer vir seuns, soms vir dieselfde outjie. Maak nie saak wie hy kies nie, julle bly maats. Julle help mekaar met huiswerk, leer saam vir toetse en eksamens, leen mekaar se klere en juwele, sny mekaar se hare en verf mekaar se toonnaels. Julle het geen geheime vir mekaar nie.

Lizel is die enigste mens op aarde wat weet dat Janine kwaad is vir Jesus, nie dat dit ’n onderwerp is wat hulle dikwels bespreek nie. Hulle doen hul Bybelhuiswerk saam, maar bid nooit saam nie.

Jare kom en gaan en Janine en Lizel bly beste maats.

Meneer Swanepoel gee tot vir hulle ’n bynaam: Tweeling. Almal val daarby in en dit pas hulle uitstekend.

Janine verjaar die sestiende Junie. In 1997 word sy veertien. Dit is ’n mylpaal wat gevier moet word, ouma Leen sê ook so. Lizel verjaar die sestiende Julie, presies ’n maand later en word natuurlik ook veertien. Hulle kies ’n tweelingpartytjie en hou dit by Lizel-hulle, want hulle het ’n patio en haar broers sal help met die braaivleis.

Ouma is in haar skik met die plan. Janine vermoed dis omdat sy nie nodig het om haar huis oop te gooi nie. Sy skryf dit in haar dagboek en teken ’n smiley face langsaan. Vandat Janine en Lizel beste maats is, kuier ouma Leen en tannie Elsa graag oor en weer. Ouma het lankal vrede gemaak met Lizel se broers. Daar is buitendien nog net twee in die huis, Gerhard wat by meneer Bezuidenhout werk en verloof is aan Sonja Jonker, sy is mevrou Visser se kleindogter, en Boetie wat vanjaar matriek skryf en vir predikant wil leer.

Die partytjie word beplan vir Saterdag, die een-en-twintigste, een week voordat die skool vir die wintervakansie sluit. Ouma en Oupa is ook genooi solank hulle nie kla oor die musiek nie. Tannie Elsa en oom Freek bly in elk geval tuis om toesig te hou.

Janine en Lizel sit in Janine se slaapkamer en skryf neer wie nog uitgenooi moet word. Teen dié tyd weet die hele klas. Hulle sal regverdig moet wees, dit nie sommer in die bondel aankondig nie, maar kaartjies uitdeel.

Lizel is kunstig, sy sorg vir die kaartjies.

“Die tema,” sê Janine. “Ons moet vandag besluit.”

“Spice Girls? Spookaand? 101 Dalmations?”

“Laaste, maar nie die minste nie. Almal het die fliek gesien én ons kan opdress.”

“Soos honde?”

“Soos mense met kolle. Alles kolle. Wit en swart kolle.”

“Sherbet, ek het net klein kolletjies in my kas, en dis wit op blou.”

“Miskien is daar iets in my ouma se lappekas.”

“Let’s hope. Die invites is easy, ’n wit kring op ’n swart agtergrond of andersom.”

“Great! Nes jy wil.”

“Oukei. Next.”

“Musiek.”

“Spice Girls, Roxette, Jon Bon Jovi. Koos Kombuis.”

“Right! Munchies?”

“Niekerbols!” Hulle lê agteroor soos hulle lag. “Vlieënde niekerbols … Miekie en die niekerbol …”

“Haai, ons moenie lag nie, sy’t amper gecroak.”

Hulle lag dat die trane loop en Ouma aan die deur klop. “Wat gaan hier aan?”

“Niks! Ons … ons lag.”

Ouma stoot die deur oop, loer om die kosyn asof sy bang is sy sien iets wat sy nie mag sien nie. “Niks? En julle lag? Vir wat?”

Dis Lizel wat haar pose terugkry. “Onthou Tannie toe Miekie die niekerbol ingesluk het?”

“Ek was nie by nie, maar jou ma het my vertel. Miekie was amper dood.”

“Sure, tannie Leen, dit was genuine scary tot daai niekerbol uitgeskiet het en Vlekkie dag Miekie gooi vir hom ’n balletjie.”

Janine moet haar hand in haar mond druk om die giggels te keer.

Ouma frons. “Nou toe, lag klaar, die kos is op die tafel.” Sy los die deur oop en hulle kyk vir mekaar met trane in die oë.

Janine deel tissues uit. Hulle vee af. Hulle kan wraggies nie ophou giggel nie!


Maandagaand die drie-en-twintigste skryf Janine in haar dagboek:

Ons Dalmation-verjaardag was die paartie van die jaar! Kolle waar jy kyk. Selfs die seuns het opgedress, swart hemde met wit kolle, wit hemde met swart kolle. Ouma Leen het die perfekte lap in haar lappekas ontdek. Toe maak sy vir my en Lizel swart wyepypbroeke, kollehemde en strikke vir ons hare, én soom sommer die meters wat oorgebly het, om vir tafeldoeke!

Iemand moes opdress soos Cruella de Vil. Tannie Elsa, wat game is vir alles, het een van haar pruike wat sy in die sixties gedra het, opgeoffer. Die een kant spierwit gekleur, die ander kant pikswart, woes opgetease en haar gemake-up nes ou Cruella.

Ouma het ’n tjoklitkoek gebak wat sy met wit icing-blommetjies en agt en twintig kersies versier het – die helfte vir my, helfte vir Lizel. Tannie Visser het haar porselein-Dalmations geleen vir die tafel en wit koekies met swart lekkertjies saamgebring.

Sy is ook genooi saam met Gerhard en Sonja wat eenderse swart truie met wit kolle aangehad het, lang serpe om die nek en musse op die kop, ’n verliefde tweeling. Boetie het spesiaal huis toe gekom vir die naweek. Lizel se oudste broer, sy vrou en vier kinders het van die Paarl af gery en oorgeslaap.

Die kids was te klein vir die paartie, maar Lizel kon nie help dat haar familie graag haar verjaardag wou bywoon nie. Ek sou dit waardeer het as tannie Jessie kon afvlieg. Amper voel ek weer uit omdat ek net vir Ouma en Oupa het. Die Van der Merwes het oorgeneem, maar dis ook oukei.

Ek en Lizel het die coolste geskenke gekry. Ouma en Oupa het vir my ’n silwerarmband met charms gegee, net vier, sodat ek nog kan bymekaarmaak. Tannie Jessie het baggy corduroys en ’n bont gebreide onderbaadjie gepos, nice winkelgoed. Tannie Elsa-hulle het vir my en Lizel mussies en handskoene gegee, dieselfde styl, verskillende kleure. Lizel het ’n Roxette-CD gekry. Die kinders het vir ons goodies soos hangertjies, blomhaarknippies en mooi skryfpapier gegee.

Bennie, vir elkeen ’n sak vol lekkers met liefdesboodskappies op! Herkie het vir my ’n kettinkie met ’n silwerpienk blommetjie gegee, my op my wang geklapsoen, nie vir Lizel nie. Hy is actually nogal nice, al is hy lui om te leer en sy vingernaels vol olie. Almal se tande was naderhand swart van die niekerbols, ’n hele skottel vol wat Sonja op Somerset-Wes opgespoor het. Niemand het verstik nie. Roxette het gesing tot ons moeg gedans was. Def Leppard het ons weer opgecharge. Almal het mal gegaan met Pour some sugar on me.

Pour some sugar on me

Ooh, in the name of love.

Pour some sugar on me,

C’mon fire me up …

Herkie het hele aand met my gedans en tot heel laaste gebly. Het saam met hom tuinhekkie toe gestap. Toe soen hy my op my mond. Ek het nie geweet wat tref my nie.

Watch this space!

Dinsdag, 24 Junie:

Juffrou Ciska wil ’n operette van Aspoestertjie se storie maak. Sy skryf die musiek en die liedjies, en juffrou Gerda help haar. Ons het vandag oudisies gedoen. Ek en Lizel het Aspoestertjie se liedjies gesing, maar ons weet nog nie wie gaan wen nie. Die operette is vroeg in November voor ons vir die eindeksamen moet leer. Die skool sluit die tweede week in Desember. Mevrou Dominee sal seker die kategese se Kersspel ook wil inpas. Maklik om Maria te wees. Sy sit net en kyk vir die Kind in die krip en Josef staan langs haar aan sy staf en vasklou. Aspoestertjie en haar prins het woorde om te leer. Herkie kan ’n prins wees, maar of hy die woorde in sy kop gaan kry en middae ná skool sal bly vir repetisies …

Lizel sê hy en sy pa surf elke dag. Hulle sal in die middel van die week Elandsbaai toe ry agter die golwe aan. Ouma sê hy sal nêrens kom as hy nie leer nie. Sy pa het ook nie matriek nie en sy ma brei van die môre tot die aand om hul mage vol te kry.

Shame, sy sussie is dood toe sy nog klein was.

Aan … wat is die woord nou weer? Staan dalk op die laaste bladsye waar sy die woorde neerskryf wat sy vir haarself leer. O ja, Herkie se sussie is dood aan meningitis wat breinvliesontsteking beteken. Dis so erg soos kanker. Min kinders oorleef dit.

Haar vinger gly teen die bladsy af. Party woorde is moeilik, sommige is lelik, ander snaaks.

Volgende jaar gaan sy en Lizel graad nege toe – na die buurdorp. Sal Herkie ooit deurkom en saamgaan? Sy het ’n gevoel hy sal sy pa se voorbeeld volg en sonder matriek deur die lewe gaan. Dis hoekom sy nie met hom kan trou nie. As sy eendag trou, wil sy ’n man hê wat kan Engels lees, en nie so sukkel soos Herkie Calitz nie.

Sy wil getroud wees, nie soos tannie Jessie vir altyd net verloof aan ’n ryk dokter nie. Sy was verlede jaar hier sonder hom. Hy leer vir ’n narkotiseur en moet alewig eksamens skryf. Op die foto wat sy saamgebring het, lyk hy nes Jonathan Hart van Hart to Hart wat so aantreklik is dat tannie Elsa die reeks op video tapes gekoop het. Ouma is ongelukkig omdat tannie Jessie se verloofde nie sover kom om met hulle kennis te maak nie. Oupa sê sy moet hulle uitlos, jongmans van vandag hoef nie meer ouers te vra nie en ten minste is hy op pad om iets te word.

Janine wil ook iets word. Dalk ’n lugwaardin of ’n joernalis, want sy wil die wêreld sien en sy hou van woorde. Anders sal sy by die radio of die TV gaan werk en die nuus lees of die stem agter die prentjies wees. Vir verpleging sien sy nie kans nie, tannie Jessie lyk altyd moeg al is sy verloof. Nog minder wil sy by die huis bly en van die môre tot die aand voor die stoof staan en bak. Genoeg dat sy naweke vir Ouma help. Sy kan verder leer en universiteit toe gaan, want daar is geld in die trust wat haar pa-hulle vir haar nagelaat het. Ouma Leen-hulle spaar ook vir haar omdat die kerkskool nie so duur is nie, hulle spaarsamig lewe en elke maand iets wegsit.

“Leer hard en presteer, dan gaan jy Stellenbosch toe en kry jou graad. Wag geduldig vir die regte man, hy sal nes Jessie se dokter, wel opdaag. Bewaar jou reinheid en stry teen versoekings. Jy is ’n mooi dogter en die mans sal jou jaag. Bly tien tree voor en jou toekoms is verseker. Ouma gee vir jou ’n versie, leer dit en leef dit.”

Ouma Leen het die prentjie van ’n verjaardagkaartjie wat tannie Jessie vir haar gestuur het, afgesny en agterop geskryf: Psalm 119 vers 9. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.

Ouma is outyds, haar Bybel ook, maar sy bedoel dit goed. Janine se Bybel lê op die bedkassie langs haar bed. Dis handig wanneer sy haar Bybelhuiswerk doen of iets vir kategese moet voorberei, maar vir haar eie plesier lees sy dit nooit. Al die Bybel by die skool raak vervelig. Sy het darem Psalm 119 vers 9 in haar eie Bybel, die nuwe vertaling, opgesoek en dit onderstreep. Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord.

Sy is nie meer ’n kind nie, sy is ’n jongmens.

Haar maandstonde het twee maande voor haar dertiende verjaardag begin. Ouma het groter geskrik as sy. Sy het geweet wat om te verwag, want Lizel het eerste begin en toe vertel tannie Elsa vir haar ook hoe dit gaan werk en wat sy moet doen. Ter illustrasie het sy vir hulle haar “Van der Merwe-gids tot volwassenheid” of te wel ’n verflenterde dokter Goedhart-boekie gegee om te lees: Wat elke dogter moet weet. Janine het dit sonder ouma Leen se medewete deurgewerk en byna uitgefreak.

Gelukkig kon sy met Lizel daaroor praat. Saam het hulle besluit dat hulle van seuns so ver moontlik sal wegbly. Skoon en rein, dis hoe hulle albei sou bly tot die regte man opdaag.

Maar nou het Herkie Calitz haar gegryp en gesoen, of het sy haar dit verbeel?

Papierblomme

Подняться наверх