Читать книгу Papierblomme - Helena Hugo - Страница 9

5

Оглавление

Die middag ná ete moet sy weer slaap. Sy en Pink Panther lê wakker tot Ouma haar kom haal. “Ons gaan stap, dan wys ek jou die dorp.”

Janine trek haar pienk tekkies aan. Ouma se stapskoene lyk asof sy dit by Oupa geleen het. Die dorpsmense slaap seker almal, want daar is niemand op straat nie, behalwe ’n maer hond met ribbebene.

“Arme dier,” sê Ouma, “hy’t seker verdwaal. Sien jy daar oorkant onder die berg tussen die bome die mure en dakke nes ’n Kaapse kasteel? Dis die ryk Bezuidenhouts se huis. Die hele dorp werk vir hom, selfs dominee. Dis sy dorp dié, oumeneer Bezuidenhout. Hy ly aan sy hart, maar sy seun gaan by hom oorneem. Herman, tipiese rykmanskind, altyd oorsee. As hy hier is, ry hy die paaie vol slote.”

Ouma Leen, besluit Janine, hou nie van ryk mense nie. Sy hou ook nie van arm mense wat lui is nie.

Op pad deur die dorp wys sy die huise uit waar lui mense woon. Die verf dop af, die tuine is oorgroei van onkruid, of anders is daar niks behalwe stukkende karre nie. Die kerk se grasperk is perfek, want Oupa sorg daarvoor. Die kerkskool het ’n heining om, die helfte van die speelgrond is onder sement toegegooi. Die skool het atletiekbane en ’n pawiljoen, maar kleiner as Gustav Preller s’n.

“Hier is dit belangrik om vinnig te kan hardloop,” sê Ouma. “Jy kan mos?”

“Ek wen op die groot sport.”

“Jou pa het ook altyd.”

Hulle loop verby ’n ry huise wat lyk of hulle aan mekaar vasgeplak is. ’n Te Koop-bordjie staan geplant op die sypaadjie.

Ouma loop vinniger: “Mense bly nie lank in dié huise nie, hulle sê dit spook. Seker dié dat die Geyers verkoop.” Sy wys na die huis aan die oorkant. “Die Van der Merwes. Hulle het ses kinders. Vyf seuns en een dogter.”

Daar hardloop twee meisies op die grasperk, seker net so oud soos Janine, agter ’n hondjie aan. Spoke kan oor die straat sweef, maar hulle lyk nie soos spoke nie.

“Dis Lizel van der Merwe en Miekie Geyer,” sê Ouma. “Jy kan met hulle maats maak. Pas net op vir Lizel se broers.”

Janine wil nog vra wat verkeerd is met Lizel se broers, maar daar kom ’n raserige kar in die pad af, baie stadig. “Waar loop julle so ver van die huis?” wil die oom weet wat by die venster uithang.

“Ek wys die dorp vir my kleindogter. Janine, dis oom Kallie Calitz en Herkie.”

Die stupid seuntjie sê iets wat sy nie kan hoor nie. Hy blaas sy mond op en kyk voor hom uit.

“Is dit sy?” vra die oom.

“Ja,” sê Ouma, “Koenraad se dogtertjie.”

“Ek sal Herkie se sussie oorstuur om te kom speel. Anderdag vat ek haar saam Lambertsbaai toe, die kinders raak verveeld vakansietye. Nou ja, geniet die dorp.”

Die oom trek weg en ry te vinnig deur ’n gat in die pad. Sy kar maak rookbolle wat stink.

“Ons dorp se mechanic,” sê Ouma. “Sal ons omdraai?”

Ouma loop al stadiger tot by ’n winkel wat toe is. Daar sit kinders op die stoep en rook. Hulle skree “tjips” en hardloop weg.

“Stout,” brom Ouma, “nie die soort kind met wie jy jou moet meng nie.”

Die dorp is nie so klein nie. Agter die winkelstraat kruip huise weg onder groot bome. In die Kosters se tuin groei die blomme deurmekaar. Die tuin van die tannie wat die orrel speel, is vierkantig. Niks groei wild nie, alles is gesnoei.

“Europees,” sê ouma Leen.

Die gordyne hier is dig toegetrek.

“Stellenbosch toe na hulle seuns. Oupa het gesê hulle beplan om ná kerk te ry.”

“Mamma wil hê ek moet klavierlesse neem.”

“Is jy lief vir musiek?”

“Ek speel in die slagorkes.”

“Ek sal met mevrou Swanepoel praat. Is jy moeg? Wil jy omdraai?”

“As Ouma wil.”

“Ons dorp het darem meer as een straat, nè?”

“Ja, Ouma.”

’n Tannie kom op haar huis se stoep uit, sy waai vir hulle.

Ouma Leen gaan staan by die tuinhekkie: “Hoe gaan dit?”

“Jou kleindogter?” vra die tannie. “Kom julle koffie drink?”

“Nie vanmiddag nie, ons stap!”

Die tannie lyk verlig. “Hulle hou mens jonk. Lekker stap.”

“Dankie.” Ouma vat haar hand. “Mevrou Visser,” sê sy, “woon ook al jare alleen.”

Hulle stap weg asof hulle glad nie moeg is nie.

“Ken Ouma almal op die dorp?”

“Nie almal nie, party wil ek nie ken nie. Daai vierkantige geboutjie daar wat lyk of dit verf kort? Dis die Engelse kerk. Wat nie alles daar aangaan nie – tot toneelstukke en Nuwejaarsdanse. Ons hou ons maar eenkant van hulle.”


Ouma en Oupa hou hulle so eenkant, die enigste mense wat by hulle aanklop, is dié wat Oupa soek om stukkende stowe en yskaste te kom heelmaak. Dan moet Oupa haar pophuis los en eers gaan help. Ouma staan soggens so vroeg op, dis nog donker, dan bak sy vleispasteitjies wat Oupa op Lambertsbaai gaan aflewer.

Janine lê in die bed met Pink Panther in haar arms en luister hoe Ouma instruksies gee. Teen die tyd dat die pap reg is, is hy terug. “Woensdagmiddag vat ek die koeksisters, en jy kan saamry,” belowe hy vir Janine.

“Mag ek?” vra sy vir Ouma.

“Kallie Calitz het gebelowe hy vat julle kinders, maar hy kom nie uit nie. Laat jou oupa jou Voëleiland toe neem, anders het jy ook niks van die vakansie nie.”

“Dan moet ons vroegoggend ry,” sê Oupa.

“Dit sal nie uitwerk nie. Kallie kom dalk nog.”

Herkie en sy dik mond is genoeg om Janine af te sit. “Asseblief, Oupa,” kerm sy, “ek wil nie saam met oom Kallie gaan nie.”

“Goed, maar ons maak dat ons vroeg wegkom, anders moet ons in die nag terugkom.”

“Maandag is pasteitjiedag, Dinsdag en Woensdag, koeksisters. Ek kom nie klaar voor namiddag nie. Moet ek in die nag opstaan om te bak?”

“Dis nie wat ek gesê het nie, vrou.”

“Dis wat julle van my verwag.”

“Ons ry verby, anderdag kan ons stilhou.”

Ouma en Oupa werk hulle boeglam. As hulle iets of iemand moet inpas, baklei hulle. Dis sý wat ingepas moet word. Selfs al sit sy in haar kamer en prenteboeke kyk, pla sy vir ouma wat kort-kort kom seker maak of sy nog daar is.


Maandag en Dinsdag sleep verby. Oom Kallie-hulle bly gelukkig weg. Oupa vat Janine Woensdag saam Lambertsbaai toe. Hulle ry al die pad langs die see. Hy wys vir haar waar hulle met veiligheid kan swem, ook plekke waar mense van die rotse af visvang. Daar lê bootjies op die strand. Vistermanne staan met visstokke tussen die bootjies.

“Hoekom het Oupa die boot verkoop?”

Oupa kyk van die pad af na haar. “Waar hoor jy dit?”

“Pappa het kiekies van Oupa se boot. Mamma het een in my album geplak.”

“Het jou pa jou niks vertel nie?”

“Niks.”

“Dan vertel ek jou ook nie.”

Janine is moedeloos. Sy het vir ouma Leen gevra en sy’t gesê sy moet vir Oupa vra. Nou weet sy nog minder.

Hulle ry tot in Lambertsbaai sonder om weer te praat.

Die winkel waar Oupa die koeksisters moet aflaai, is in die straat langs die see. Mense eet en drink op die stoep. Hulle is kaalvoet met kortbroeke en kortmouhemde.

“Transvalers,” sê Oupa. “Hulle vertrap ons strande.”

Die tannie stuur een van haar kelners om die bokse koeksisters agter in die bakkie te gaan haal. Janine kyk na vissies wat in ’n tenk aangehou word.

“Wat is haar naam nou weer?” vra die tannie.

“Janine.”

Sy haal ’n pakkie lekkers van die rak af. “Janine, hou jy van klapperys?”

Janine knik.

“Hier, dis joune.”

“Wat kos dit?” vra Oupa.

“Oom Koen, ek gee dit vir haar.”

“Dankie, dis gaaf van jou.”

“Ek is jammer vir haar, arme kind.”

Janine kyk vir die bontgestreepte vissies en maak of sy nie hoor nie. Die koeksisters word ingedra en die tannie tel die pakkies.

Oupa steek die geld in sy beursie. “Laat weet ons of Lenie moet afskaal.”

“Asseblief nie! Die Transvalers is hier tot die einde van die maand. Koeksisters is anyway goeie verkopers, binne en buite seisoen. Wat van ’n koffietjie vir jou, sjokolademelk vir Janine? Gratis vir julle.”

“Dankie, maar ons is op pad Voëleiland toe.”

“Dis reg, bly besig. Hou die nagmerries in toom. Jy moet weer saamkom, my skat.”

“Volgende week is sy in die skool.”

“Gaan sy al skool?”

“Graad een, sy is sewe.”

“Ons ou weeskindjie,” sê die tannie, “sies tog!”

Dit voel vir Janine asof die hele winkel vir haar kyk. Sy los die klapperys op die toonbank en loop so vinnig, sy verloor amper haar een plakkie. Oupa is kort op haar hakke. Hy sluit die bakkie oop, haal die klapperys uit sy sak en sit dit op die dashboard neer. “Pauline praat sonder om te dink,” brom hy. “Altyd.”

Janine vee die trane met die agterkant van haar hand af.

Oupa skakel die bakkie aan. “Ons gaan kyk voëls.”

Dit voel of sy siek is – nie hartseer nie, siek. Mense maak haar siek en sy kan nie vir Oupa vra of hy ook siek is nie. Hy en Ouma sorg net dat almal weet wie sy is, die dogtertjie wie se mamma en pappa weg is en nooit weer sal terugkom nie.

Oupa ry deur die dorp. Die son skyn warm, maar die wind waai. Oral op die sypaadjies loop mense met handdoeke en strandsakke. “Wil jy uitklim en op die strand gaan stap?” vra Oupa.

Sy skud haar kop.

“Dan ry ons sodat ons by Voëleiland kan vertoef.”

Daar aangekom, bly hulle in die bakkie. Janine het nog nooit soveel seevoëls op een plek bymekaar gesien nie.

“Meesal witmalgasse en trekduikers,” sê Oupa. “Volgende keer vat Oupa jou na die uitkyktoring sodat jy hulle van naby kan dophou, volgende keer as hier minder vakansiegangers is.”


“Het julle vir Kallie-hulle raakgeloop?” vra Ouma toe hulle tuiskom.

“Nie met ’n oog gesien nie.”

“Julle was skaars weg, toe stop hy en sy spannetjie hier om Janine op te laai.”

Oupa is verontwaardig. “Kan hulle nie vooraf kennis gee nie?”

“Seker gedag Janine sit op aandag vir hulle en wag.”

“Wel, ons was daar en dit wemel van die Transvalers. Ons het in die bakkie gesit en kyk.”

“Ag nee! Al die moeite vir niks.”

“Ek vat haar wanneer daar minder gewoel is.”

“Liefieding, hoe lyk hulle vir jou, so van ver af? Kon jy iets sien?”

“Ouma, daar’s ontelbaar baie.”

“Word ook by die dag meer,” sê Oupa. “Party vlieg, maar hulle kom terug, lê eiers, broei nog kleintjies uit. Dis hulle eiland daai, hulle tuiste.”

Hulle is gelukkig, dink Janine. Niemand sal hulle wegvat en op ’n ander eiland gaan neersit nie.

“Hulle voel veilig,” sê Ouma, “hulle word nie gesteur nie.”

Steur? Janine dink sy weet wat dit beteken. Sy wil ook nie “gesteur” word nie. Volgende week moet sy skool toe, na ’n nuwe skool waar sy nie ’n enkele maat het nie en almal vir haar kyk en haar jammer kry.

Sy wil stry, maar gee eers haar klapperys vir Ouma om tussen hulle twee te deel. Oupa hou nie van soetgoed nie. Sy en Ouma eet alles op. Toe drink sy warm melk en Ouma swart tee.

“Moet ek Maandag skool toe gaan?”

“Maandag gaan ek jou inskryf en Dinsdag begin jy by jou nuwe skool.”

“Ouma, ek wil liewer by die huis bly.”

“Jy kan nie, dis teen die wet.”

“Ek’s bang.”

“Waarvoor? Jy was mos al in die skool.”

“Nie in hierdie skool nie.”

“Dis ’n kerkskool, Janine. Die onderwysers en die kinders is almal Christene. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek het vir mevrou Swanepoel gevra om vir jou klavierlesse te gee. Maandag kom sy ook skool toe, spesiaal dat julle saam kan besluit watter dag en tyd.”

Papierblomme

Подняться наверх