Читать книгу Papierblomme - Helena Hugo - Страница 8

4

Оглавление

Oupa steek die verwarmer in die badkamer aan. “Dit werk met paraffien,” verduidelik hy. “Moenie daaraan skuif nie en moenie jou handdoek of jou kleertjies bo-op neersit nie. Sien jy die venstertjie? As dit rooi is, brand hy. Voel jy die hitte? Nog nie? Gee hom kans. Ons maak die deur toe. Oor vyf minute sal jy die verskil nie glo nie.”

Ouma wag vir haar in die kamer. Sy hou twee beste rokkies in die lug. “Watter een wil jy môre kerk toe aantrek?”

Janine kies die pienke.

“Mooi,” sê Ouma. “Nou, wat môre betref, Oupa is ons kerk se koster. Hy gaan vroeg kerk toe om die klok te lui, maar hy sal betyds terug wees om ons te kom oplaai, en dan moet ons aangetrek wees. Om koster te wees, is ’n baie belangrike werk. As Oupa nie die kerk betyds oopsluit en die klok lui nie, kom die mense nie kerk toe nie of hulle staan en wag voor ’n toe deur.”

“Moet Oupa die kerk uitvee en afstof ook?”

“Dis Letta se werk, maar sy mag nie afskeep nie, ek hou toesig. Kom, die badkamer is warm genoeg. Ouma sal jou wys hoe werk die krane.”

“Gaan Oupa my wys hoe om die verwarmer aan te steek?”

Ouma se oë rek. “Dít is die een ding wat jy in geen omstandigheid mag doen nie. Jy trek nié ’n vuurhoutjie nie en jy steek nié ’n vuur aan nie. Oupa sorg vir die verwarmers, nét hy.”

Janine lê in die bad en kyk vir die verwarmer. Hy doen sy werk. Dis so lekker warm, sy wil lank in die water bly, maar Ouma klop aan die deur: “Roer vir jou!”

Amper vergeet sy om haar met seep te was! Sy is uitasem gejaag toe sy en Pink Panther tien en nóg tien tellings later in die bed klim.

Ouma draai in die kamer rond. “Waar is jou Bybel?”

Janine wys na die boekrak.

“Nee, liefieding! Jou Bybel hoort langs jou bed op die bedkassie.” Ouma gaan haal dit, trek die stoel agter haar aan en besluit om die storie van Josef en sy broers voor te lees. Sy soek so lank om die plek te kry, Janine raak amper aan die slaap en skrik toe Ouma ontdek dat Josef-hulle nog al die tyd in Genesis wegkruip: “Genesis sewe en dertig! Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. Hier volg die familiegeskiedenis …”

Ouma kan so stadig lees Janine moet veg om wakker te bly. Sy lees en lees oor Josef se klere en sy broers wat jaloers is en skielik klap sy die Bybel toe: “Hoe oud was Josef toe hy saam met sy broers skape opgepas het?”

“Jonk?”

“Sewentien! Toe maar, jy’s moeg en die lugdruk hier tas jou aan. Nog ’n paar dae en ons is in ons roetine. Sê op jou gebedjie. Jy hoef nie uit te klim en te kniel nie. Dis winter en netnou vat jy koue, staan sommer in die bed op jou knietjies.”

Die komberse gly af, al bid sy vinnig: “Ek is ’n kindjie klein en teer, maak my hartjie rein, o Heer.”

“Pragtig!” Ouma prop Pink Panther styf teen haar in, maak hulle toe en soen haar op haar voorkop. “Nag, liefieding, lekker slaap. Môreoggend vroeg op!”

By die deur gaan staan sy asof sy iets vergeet het: “Kom kombuis toe in jou kamerjas en dan eet jy eers jou pap voordat jy jou kerkrokkie aantrek. Ouma sal help met jou haartjies. Onthou om self jou bed op te maak en jou tandjies te borsel!”

“Ja, Ouma.”

“Soet kind.” Ouma maak die deur saggies toe.

Janine lê en kyk in die donker. Sy wens die dak skuif weg en die hemel gaan oop, Mamma kom af en vertel vir haar die storie van Aspoestertjie wat eers vuil was en later in ’n prinses verander het.

Toe niks gebeur nie, huil sy haar aan die slaap.

Voëls twiet-twiet, haar kamerdeur kraak en iemand wat die gordyne ooptrek, kla dat alles olie kort. Die geraas maak haar deurmekaar. Dit pas nie by haar droom nie. Was dit ooit ’n droom? Sy hét Mamma se scent geruik én haar stem gehoor: “Soet wees, en luister vir tannie Jessie. Mamma en Pappa gaan uit, maar ons kom gou weer terug. Lekker slaap.”

Skielik is sy helder wakker en lyk dit of Mamma se rooi rok weggesmelt het. Janine skreef haar oë. Dis nie haar mamma nie. Dis ouma Leen in ’n pienk kamerjas en ’n voorskoot wat soos ’n rok lyk met valletjies en strikke.

“Lekker geslaap?”

“Ja, Ouma.”

“Op is jy en kom eet.”

Sy wil sê sy kry koud en haar kop is seer, maar Ouma Leen is klaar by die deur uit.

Kerk toe saam met Ouma en Oupa waar vreemde mense haar gaan pes en pla! Sê nou sy bly in die bed, sal hulle haar uithaal of uitlos? Help niks om met jou ouma te stry nie. Dis wat tannie Jessie altyd sê, maar sý stry met Ouma. Hulle twee maak rusie, kliphard, en dan praat hulle die hele middag nie met mekaar nie. Die volgende dag maak hulle asof niks verkeerd is nie.

“Ons baklei nie,” het tannie Jessie laas nog gesê, “ons redeneer.”

“Julle baklei.”

“Jou klein snip! Oukei dan, ek baklei met my ma, want sy wil my lewe vir my reël. Ek verdien my eie geld, woon in my eie woonstel, kies my eie vriende. Sy wil hê ek moet trou en huis opsit, met watter man? ’n Dokter, I ask you! Dink sy die titel maak die man?”

“Nee.” Janine het haar kop geskud. “Jy kan by my kom bly, hier in die huis. Ek sal nie met jou baklei nie.”

“Baie dankie vir die uitnodiging!” Tannie Jessie het haar ’n ekstra drukkie gegee. “Ongelukkig kan ek dit nie aanneem nie. Dis opgeskryf, Ninatjie, jy moet by ouma Leen en oupa Koen gaan bly. Hulle is jou voogde, deur die hof aangewys. Hulle moet vir jou sorg en hulle wil. Ek kan nie, al wil ek.”

Janine het so hard gehuil, sy kon amper nie praat nie. “My … my juffrou verlang na my.”

“Daar is ’n goeie skool op die dorp, ’n Christenskool, so naby Ouma-hulle se huis, jy kan soontoe loop. Dis veilig, dis platteland. Ek werk in Johannesburg, ek kan jou nie skool toe vat of ballet toe nie. Ek kan nie ’n dogtertjie alleen grootmaak nie.”

“Ouma Leen ook nie.”

“Oupa Koen gaan haar help.”

“Sy gaan my lewe reël!”

Tannie Jessie het haar styf vasgedruk. “Klein muisie met groot ore, ek is so lief vir jou. Ouma Leen sal jou soos goud oppas. Jy is nie verniet Johanna Magdalena gedoop nie, jy’s haar kleinkind en jy sal perfek wees. Kersfees klim ek op die vliegtuig en kom kuier vir julle, ek belowe.”

“Janine, liefieding, waar bly jy?”

Al weer ouma Leen? Ja, want die kamerdeur vlieg oop: “Nou dadelik, in die kombuis!”


Die kerk is toe nie te erg nie. Dis vakansie en so twintig mense daag op. Sy en ouma Leen sit in Oupa se bakkie en tel hulle. “Elf, twaalf: meneer Arend Koster en sy laatlamdogter, Martatjie. O, hy is lief vir haar. Dertien, veertien: Agnes en Bakkies. Ons sal moet uitklim en groet.”

Janine is bang antie Agnes raas omdat sy gister weggehardloop het, maar sy kan nie agterbly nie, Ouma is haastig. Oupa, deftig in sy swart pak, staan al voor die deur en deel briefies uit.

Antie Agnes het ’n groot seun wat amper net so vet soos sy is. Sy het nie ’n man nie.

“Mooi is sy in haar pienk rokkie!” sê antie Agnes.

Janine is verlig. Dit lyk of sy vergewe is.

Die seun steek sy hand uit. “Jammer om te hoor van Koenraad,” sê hy vir ouma Leen.

“Dankie, Bakkies.” Sy wys na Janine. “Hy was haar pappa.”

Bakkies bloos so, sy puisies slaan aan die brand. “Ek weet.”

“My ma is ook dood,” sê Janine.

“Sjoe, ja.” Hy kyk vir ouma Leen. “Ek is genuine jammer, antie Lenie.”

“Kyk mooi na jou ma,” sê Ouma. “Mens weet nooit hoe lank julle mekaar nog het nie.”

“Hy doen dit, Lenie.” Antie Agnes vat Bakkies se hand. “Kom, seun, ons stap.”

Ouma Leen kyk hulle agterna. “Hy is ’n goeie kind, help haar in die bakkery.”

Hy is lelik en vet, dink Janine. Sy wil aanstap, maar ouma Leen keer haar. “Wag vir meneer en mevrou Olwage. Sy hou skool by die kerkskool.”

Mevrou Olwage het swart hare en ’n geel serp om haar nek, sy loop so vinnig, sy hardloop. Meneer Olwage, met sy kort treetjies, raak agter.

“Is ek in haar klas?”

“Nee, juffrou Schoonraad hou skool vir graad een tot graad drie.”

Mevrou Olwage kom sit haar arms om ouma Leen. “Lenie, hoe gaan dit?”

“Beter dankie.”

“En is dit die ou dogtertjie?”

“Janine, ja. Dis sy, Koenraad se dogter.”

“Definitief haar pa se kind. Hallo, Janine. Kom jy volgende kwartaal kerkskool toe?”

“Ons gaan haar beslis inskryf,” belowe Ouma. “Sy is slim vir haar ouderdom.”

“Dit kan ek sien. Kyk hoe blink die ogies.”

Dis omdat die son in my oë skyn, wil Janine sê, maar die kerkklok lui te hard. Oupa staan nie meer voor die deur nie en meneer Olwage het eindelik bygekom. Sy asem jaag.

“Welkom tuis, Lenie! Dag, Janine? Het ek reg gehoor? Dit is Janine?”

“Sy is Johanna Magdalena gedoop.”

“Haar ouma, uitgeknip. Dieselfde groen oë en rooi hare.”

“Manlief, ons hou die mense op. Verskoon ons.” Mevrou Olwage sleep haar man agter haar aan.

Ouma Leen skud haar kop. “Waarom sy hom so moet rondruk … Wag tot hulle in is, dan loop ons rustig. Ons sit op die koster se bank, maak nie saak as ons laaste instap nie.”

Orrelmusiek borrel by die oop deur uit. Op ’n tafeltjie in die portaal lê hopies briewe. Ouma Leen kies een. Hulle gaan sit heel agter op ’n kort bankie met plek vir vier mense. Vorentoe sit daar net hier en daar iemand. Die tannie wat die orrel speel, het geel hare en rooi lippe. Terwyl sy speel, wieg sy heen en weer. Toe hulle sing, gooi sy haar kop agteroor en sing harder as al die ander mense.

“Sy was ’n operaster in Europa,” fluister Ouma. “Toe kom sy terug en trou met ou Swanie. Kan jy hom sien?”

Dit moet hý wees, die oom wat die naaste aan die orrel sit. Hy sing nie, hy kyk heeltyd net vir sy vrou.

Die dominee is al grys. Hy preek oor Simson.

Janine maak haar reg om lank te sit, maar dis gou verby.

“Kort en kragtig,” fluister Ouma. “Haal uit jou kollekte.”

Janine gooi twintig sent in die sakkie wat Bakkies vir hulle hou. Die mense stap uit, groet en sê hulle is jammer. Janine maak haar klein, maar hulle sien haar en kyk na haar met hartseeroë. Die tannie voor die orrel bêre haar boeke en loop saam met die oom by die sydeur uit.

Ouma Leen bly sit. “Ons wag vir jou oupa.”

Nadat almal uit is en Oupa met ’n lang stok nog vensters toemaak, kom die dominee na hulle. “Dag, suster, bly om te sien julle het veilig aangekom. Is dit die dogtertjie?”

“Dis Janine.”

“Hallo, Janine. Hoe gaan dit met jou?”

“Goed dankie, dominee.” Hy praat so mooi met haar, sy kan nie stilbly nie.

Hy glimlag en sit sy hand op haar kop. Gelukkig vat hy dit gou weer weg.

“Alles afgehandel?” vra hy vir Ouma.

“Die boedel sal maande neem, maar haar kleertjies en speelgoed is hier. Daar is ’n trust in haar naam. Met die Heer se genade sal ons deurkom.”

“Gaan julle die huis verkoop?”

“Hulle het gehuur met ’n opsie om te koop. Dit val alles deur die mat. Hoe gaan dit met mevrou?”

“Nie goed nie. Dokter wil opereer, maar dis ’n groot operasie.”

“Sê vir haar ek stuur groete.”

“Dankie, suster, sy sal dit waardeer.”

Ouma Leen maak haar Bybel en gesangboek bymekaar.

“Mevrou Swanepoel is ’n aanwins vir ons dorp,” sê sy. “Sy speel nie net orrel nie, sy is die kerkskool se musiekjuffrou, smiddae en saans gee sy klavier, orrel en sang.”

“En ballet?”

“Nie ballet nie. Hulle doen volkspele in die skoolsaal, maar jy is nog te jonk daarvoor.”

Dit klink asof Ouma nie van volkspele hou nie.

Papierblomme

Подняться наверх