Читать книгу Debora en seuns - Helene de Kock - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеAs Margot gedink het die slaap sou kom, het sy dit mis gehad. Sy sit in die klas en haar oë is krapperig. Sý is krapperig. Toe Hantie Verwey en Trudie Pienaar haar vra waarom sy so baie gaap, sê sy sommer: “Dit traak julle nie!”
“Haai, sies,” verwyt Trudie dadelik.
“Ag, ek’s jammer. My kop is seer van baie dink.”
Ver van die waarheid maar na aan die probleem. Herinneringe wat spook, maak seerder as baie dink. En die ding is dat sy nie seker is waarom dit so stekelrig is om te onthou nie.
Sy luister met een oor na die Engels onderwyseres. Miss Elizabeth Williams se soet stem wat geduldig en vir die soveelste maal aan twee meisies die verskil tussen present perfect en present perfect continuous verduidelik, sus Margot net verder in die onthou in. Sy staar na die oop bladsye voor haar, maar sien net twee bruingebrande gesigte. Marnitz en Heinrich s’n. Die ene blou oë en digte swart kuiwe.
Erik weet juis te vertel dat hulle oor ’n paar weke van Pretoria af huis toe kom. En dis heel moontlik dié mededeling, besef sy nou, wat haar kop so op loop gesit het. Dit was nog altyd só wanneer hulle tuis kom. So of die lug vol vonke raak.
Sy loer onderlangs na Erik se kant toe. Hy sit in die ry langsaan by die venster, ken in die hand. Hy luister aandagtig na juffrou Williams se relaas oor die tenses. Nou ja, dink Margot effe wrang. Sy tenses is juis nie so foolproof soos hy gereeld beduie nie. Daaroor terg sy broers hom ook nog al die jare. Hy praat Engels met ’n swaar aksent en “is” en “are” gebruik hy roekeloos verkeerd. “Wat maak dit tog saak?” is sy luiterse verweer as sy broers hom daaroor karnuffel.
Maar wat vir Margot tot op heden dag wonderlik bly, is die drie broers se vermoë om, ten spyte van hul onderlinge verskilletjies, so harmonieus saam strykmusiek te maak. Die twee jongeres, Erik en Heinrich, op viole en Marnitz met sy tjello. Veral as hulle sommer so uit die vuis ’n bekende deuntjie soos “Auld lang syne” of “Prys die Heer met blye galme” begin speel. En as die twee oudstes tuis is, sit Margot en haar ma dikwels in die ruim sitkamer en luister. Dit voed haar siel, sê Susan altyd.
Mettertyd het ’n ander faset hom in hulle bestaan kom inwig. Margot het leer klavier speel. En omdat die Scotts self nie ’n klavier tuis gehad het nie, het Debora vriendelik opdrag gegee dat Margot op die regop, swartblink C. Bechstein moet kom oefen pleks van smiddae op die skool se redelik wanklankige klavier in die saal. Spoedig kon Margot eenvoudige stukkies speel en het die seuns ewe gewillig en met groot geduld na haar geluister, soms selfs op hul strykinstrumente saamgespeel. “Three blind mice” en die liedjie “Sarie Marais” wat toe pas in druk verskyn het. Soms het hulle “Stille nag” ook saam met haar gespeel. Dit, bo alles, was vir Margot by wonderlik verby.
Dit het aan haar ’n gevoel gegee dat sy in beheer is. Later eendag het dit haar soos ’n koel skootjie water getref: Sy het in beheer van die drie Schlagerfeldt-manne gevoel. Want dit was en is die enigste kere wat sy ooit só kon of kan voel. Wanneer sy na hul musiek sit en luister of poog om saam musiek te maak. In wese is hulle gaaf maar ontwykend, vriendelik en afstandelik tegelyk. Haar ma se woorde waarop sy kon terugval as sy oor hulle wonder. Behalwe natuurlik Erik met wie sy baie makliker as met die ander twee gesels.
Veral toe hulle ouer word, is daar meer gesels as gespeel.
“Jy lyk soos ’n feetjie,” het hy eendag onverwags aangekondig.
“O?” Sy was nie doodseker dat dit ’n kompliment was nie.
“Lyk ek soos ’n feetjie?” wou sy die aand by haar ma weet toe hulle twee klaar stiltetyd gehou het.
Susan het gelag. “’n Lang, maer feetjie, ja. Maar Margot, vir my is jy mooi. Dun beentjies en armpies en al. Jou oë is ’n soort Dresden-blou, so blougrys.”
“En Debora en Erik-hulle s’n?”
“A. Debora s’n is silwergrys en die seuns s’n bloupers. Die kleur van die morning glory wat oor die heining rank.”
Ja, dit is wat haar die meeste boei, dink sy nou. Daardie oë. Heinrich s’n wat meesal lag en Marnitz s’n wat altyd koel is. So asof hy nie juis hou van wat hy sien nie.
“Margot!” Dis Erik wat oorgeleun het en taamlik onsag met ’n voorvinger op haar skouer druk.
“Wat?”
“Juffrou Williams het jou ’n vraag gevra.”
“O. Ek … Pardon me, Miss.”
“Well, Margot, can you explain to me specifically why the use of the present continuous on page fourteen is correct?”
Sy kyk na die fraai blondekop-juffrou en begin beduie. Slaak ’n verligte sug toe die onderwyseres haar aandag na Hantie wend. En haar gedagtes dwaal verder die oomblik toe sy seker is dat Erik se volle aandag weer by miss Williams is. Sy moet haar oë knipper om haar swaar ooglede oop te hou.
Noudat die twee ouer Schlagerfeldts gaan tuis wees, wonder sy of hulle in die winkel sal help. En of dit maar weer sy en Erik sal wees wat moet uithelp as ou juffrou Henning Desembermaand ’n bietjie met vakansie wil gaan. Eintlik is dit nie sleg nie. Die winkeltjie – so groot soos ’n langerige klerekas, soos Susan altyd spot – is koel en gesellig. Al is dit so tussen Eisenstein en die prokureurs ingedruk. Debora en Seuns doen vir seker goed besigheid en sy help eintlik graag daar. Sy was sowat twaalf toe Debora haar vir die eerste maal daar toegelaat het en sy het ongelooflik belangrik gevoel om die klingelende kasregister te kon gebruik.
Dit was ook daardie jaar dat sy die eerste keer regtig naby herr Dieter gekom het.
Sy en Erik het dikwels al rondom hom in sy rolstoel gespeel, maar hy het net in hul rigting geknik. Hy kan nie waai nie, het Erik gesê. Sy hande en als aan hom is lam. Sy hande was ook toegemaak.
“Ek sien,” het haar ma daardie dag gesê toe Margot dit oorvertel. “Maar praat jy dan nooit met die oom nie?”
“Nee, Mamma.”
“Ek sien.”
Margot het nog ouer geword en begin besef dat haar ma nié sien nie. Ander mense ook nie. Want Debora het hulle nie toegelaat nie. Margot het self partymaal vergeet dat daar nog ’n persoon in die Schlagerfeldts se huis was. Sy het die man in die rolstoel soms skrams deur die donkergroen krulle van die tralies op die systoep gesien wanneer hy die middagsonnetjie geniet. En vir hom gewaai. Hy het net sy kop stadig geknik en dit het gelyk asof sy oë haar volg. Sy het eers veel later vir herr Dieter Schlagerfeldt van aangesig tot aangesig ontmoet.
Sy was al veertien toe Debora haar een middag nader roep en, met albei hande sag op haar skouers, vra dat sy asseblief vir herr Dieter ’n koppie tee moet neem want sy moet na die konfyt op die stoof gaan kyk. “Sal jy dit sommer maak ook?” het sy mooi gevra.
Margot was ’n bietjie skrikkerig. Die syvleuel wat soos ’n enkele lang arm na agter die tuin in strek. Dit het kompleet gevoel asof sy nog nooit in daardie huis was nie. Sy het suutjies deur die woonhuis se lang, breë gang gestap en die deur na die gastevleuel sag oopgestoot. Dit was stil. Al die geluide van die huis het tot in die verste hoeke weggeskuif.
Toe het sy die vrou hoor praat. Gawe Anna met die donker plooigesig wat haar van meet af aan “Ounooitjie” begin noem het. Margot het versigtig op die klank van Anna se warm stem af geloop.
Die deur het oopgestaan. Die middaglig was geelblink op die gepoleerde plankvloer. Anna het op ’n regop houtstoel langs die rolstoel gesit. Smaaklik aan die beduie oor ’n jagter wat ’n alleenloperolifantbul dae lank deur bosse en woestynsand agtervolg en toe uiteindelik geskiet het.
Sy het stilgebly toe sy Margot in die deur sien staan.
“Herr Dieter, hier’s die tee nou net,” het sy geglimlag. “Dankie, Ounooitjie.”
Die man, krom geboë in die rystoel, het weer so stadig sy kop geknik. Sy oë het na haar toe gedraai en die felblou blik het haar vasgepen. Seker dié dat die seuns ook almal sulke blou oë het, het Margot onwillekeurig gedink en skaam geglimlag. Dis oë soos die helder hemel van die diepsomer. Asuurblou, sou sy dit in later jare kwalifiseer. En rondom die pupil so perserig soos ’n morning glory se kelk.
“Hierso,” het sy vir Anna gesê toe die vrou die tee by haar vat. En toe: “Middag, herr Dieter.” Sy het die aanspreekvorm gebruik omdat sy nog nooit iemand na Debora se man as “oom” hoor verwys het nie. Selfs die dominee en Ou Dokter het van “herr” Schlagerfeldt gepraat.
Nie dat mense ophou uitvra het nie. Maar Debora se onpeilbare stilswye oor die presiese aard van haar man se toestand het voortgeduur. Net dit: Haar man is in ’n rystoel en bly maar daar in die gastevleuel waar hulle hom self versorg. Dis die beste vir hom.
“Hoe dan so, Mamma?” wou Margot vroeër eendag weet, toe Susan en Debora al nader aan mekaar was.
Susan het haar by hul smal kombuistafel maak sit. “Ag, my kind, herr Schlagerfeldt sal nie weer herstel nie. Hy het, voordat hulle hierheen gekom het, baie siek geword. Ek vra nie te veel uit nie want ek kan mos sien dat dit Debora diep ontstel. Aanvaar die mense soos wat hulle is, Margot.”
Wat sy steeds doen. Ook die dag toe sy die tee gevat het, was herr Dieter vir haar amper soos ’n gewone mens. Al kon hy nie praat nie. Of eens sy hande gebruik nie. Sy het in daardie blou blik gelees dat hy vriendelik is met haar. Belangstellend selfs. En sy het mooi geglimlag toe sy uit is en so ewe gegroet: “Auf Wiedersehen, Herr Dieter.” Waarop hy weer kop geknik het. Sy een mondhoek het effens gelig.
Vreemder as ’n storie in ’n boek, dink Margot dikwels. Dit is die Schlagerfeldts wel. Die hulpelose man, die drie besige seuns en die raakvatvrou. Mens kan byna nie glo dat daar ’n vrou is wat haar vreemdsoortige huis so bekwaam en stylvol regeer soos wat Debora dit doen nie. Dis net Erik wat haar soms teëgaan, om dan gou weer die aftog te blaas. Want sy is ferm verby. Sy is verby baie dinge wat vir gewone mense aanvaarbaar is. Want die vrou van Nêrens laat haar net nooit gesê nie.
Die skoolklok lui met sy kenmerkende hol klank en Margot skrik op, pak haastig boeke weg. Erik kom staan digby haar en lig die swaar tas vir haar van die vloer af op. “Jy weet niks van hierdie klas nie. Is jy verlief, of iets?”
Direk soos altyd. Maar sy ruk haar op. “Moenie laf wees nie. Die matriekeksamen lê voor en ek slaap min.”
Die blou oë hou haar vas totdat sy haar wimpers laat sak. “Sien jou vanmiddag,” groet sy mompelend.
En toe hulle twee, soos feitlik elke middag vandat hulle mekaar ken, saam by Debora se eetkamertafel sit en huiswerk doen, sê hy reguit: “Jy beter sorg dat jy beter slaap. Daar’s kringe onder jou oë.”
Sy knik net. Hy sal sekerlik nie begryp waarom sy twee broers, veral, haar gedagtes so monopoliseer nie. Sy verstaan dit dan self nie.
Hulle doen matesisoefeninge, skryf ’n opstel en werk lang vrae oor Macbeth uit. Later strek Erik sy arms bokant sy kop. “Kom ons gaan bedel koffie en sulke goed.”
Margot glimlag. Die “sulke goed” sal vir seker in sy geval ’n paar hompe beskuit, twee snye laagkoek en ’n hand vol soetkoekies wees. Maar sy is self nogal honger. Anna loop sit dadelik die ketel op die Aga toe sy hulle opmerk.
Op die diep, skaduryke agterstoep gesels Susan en Debora reeds, teekoppies in die hand, glimlag net in hul rigting.
“Haai, Debora,” sê Susan, “weet jy, ek verlang soms terug na die tyd toe ek in Engeland was. Dis of ek soms hunker na … na iets, jy weet.”
“Ja,” sug Debora, “dis soos dit gaan. Jy gaan weg na ’n vreemde plek toe. Maar jy vat jouself saam. En meer nog …”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Ag, daar is dinge wat in jou bly woon, of jy nou weggaan of nie.”
“Jy bedoel jy verlang na Nêrens?”
“Himmel, nein. Ek verlang nie na Nêrens nie. Dis net dat ek nie altyd daarvan ontslae kan raak nie. Maar … Jy sal nie begryp nie, Susan.”
“Maar ek sal! Ek het ook swaargekry, Debora.”
“Genug, kom ons praat oor lekker dinge. Kom saam kombuis toe. Anna het ’n nuwe kleinkoekieresep uitgewerk. Sy sit fyn stukkies gedroogde appelkose by. Ai, sy’s darem wonderlik met daardie twee hande van haar.” En met ’n ligte sug: “Ek moet nou die brooddeeg in die oond gaan steek.”
Margot staan en kyk hoedat sy oudergewoonte die Aga se oonddeur oopmaak, eers met oopgespreide vingers vlugtig voel of die temperatuur reg is. Dan die panne met die uitgeswelde bolletjies deeg vat en in die oond steek. “Nou toe, dit is immers gedoen.” Toe bring sy die beloofde kleinkoekies uit die spens want Erik het al daar begin rondsoek.
“Debora,” begin Susan ietwat lugtig en gaan sit by die tafel, “mevrou Forster het gesê ek moet jou pols. Is jy nie lus om by die leeskring aan te sluit nie? Ons lees juis nou weer C. Louis Leipoldt se “Die rooi rotte”. Dis ’n klompie stories oor die bonatuurlike …”
Debora gee ’n minagtende blaaslaggie.
“Nou toe nou! Sê jy dan maar vir haar ek het dit al gelees … enne … ek lees nou Langenhoven se Brolloks en Bittergal. Dis ook bonatuurlik.”
“Ag, Debora. Mevrou Forster is baie gaaf, al lyk sy so ’n bietjie uit die hoogte.”
Debora sug kliphard.
“Susan, ek het ’n ander opvatting oor mense soos sý wat aljimmers ander mense probeer leer.” Sy sug weer. “Margot, loop haal asseblief vir jou ma Die Huisgenoot. Dit lê bo-op die stapel ander Huisgenote langs my bed. Ek wil vir haar ’n brief gee oor waar die woord ‘vlermuis’ vandaan kom. Sy kan dit dan sommer vir die boekvereniging ook wys. Die ‘vler’ kom van die Hollandse ‘vleer’ wat kom van die werkwoord ‘fladderen’ of dan die Engelse ‘flitter’. Dus, volgens die brief beteken vlermuis eintlik fladdermuis. ’n Muis wat op sy vlerke rondfladder …”
“Ag, Debora,” probeer Susan paai maar kry dit toe sommer reg van voor.
“Genug!” En toe ergerlik: “Susan, sê jy maar vir mevrou Forster sy laat my aan ’n fladdermuis dink. ’n Ding wat doelloos fladder.”
“Luister, Debora,” keer Susan, “ons wil jou maar net betrek en …”
“Bitte, Susan. Ek wil nie betrek word nie, danke schön.” Haar skraal hande begin rukkerig saam beduie, die sterk, lae stem klim. “Die lewe betrek my elke goddelike oomblik van elke dag op ’n manier wat ek … wat ek … Margot, gaan haal daardie Huisgenoot.”
Susan bly swyend sit en Margot en Erik maak hulle met hande vol koekies uit die voete. Want Margot ken daardie stemtoon. Debora is nou erg ontsteld. Sy het toentertyd toe hulle hier gekom het so geklink net voordat sy met die nat vadoek oor die jong Erik se kaal kuite begin raps het. En Margot weet klinkklaar: Debora hoef by g’n niks aan te sluit om iets te wees of te weet nie. Sy lees elke dag Die Volksblad van voor tot agter deur en kry ook Die Huisgenoot en Die Brandwag wat sy gereeld vir Susan en Margot leen. Sy het al dikwels tevore in Debora se slaapkamer gaan tydskrifte of boeke haal.
Bo in die groot slaapkamer waar die vrou alleen op die dubbelbed met die kopstuk met sy uitgekerfde krulpatrone slaap, is twee lang boekrakke, en torings boeke staan langs haar bed. En onder teen die voetenent is die stapel Huisgenote waarvan Debora gepraat het. Voor die noordelike venster bly Margot langs die diep leunstoel talm om haar kop ’n bietjie agtermekaar te kry en die twee vroue onder in die huis kans te gee om te bedaar. Erik sit sweerlik al vir haar in die eetkamer en wag.
Soos altyd wanneer sy hierheen kom, raak sy bewus van die vae damp van 4711-Keulse water wat in die vertrek hang. ’n Groenerige soet geur, fris en energiek soos Debora self. Haar blik skuif na die bedkassie waar die bekende turkoois-en-goud botteltjie langs die bedlampie staan. Dit is al halfpad opgebruik. Sy wonder skielik effens benoud of Debora nou in die oorlog weer van haar gunstelinggeur sal kan bekom. Die gedagte laat ’n hele boel ander kwelgedagtes soos ’n swerm voëls los.
Wanneer die oorlog kom, soos wat dit begin lyk, gaan dinge verander. Haar kop sê dit vir haar, al wil haar hart nie daarna luister nie.
Wanneer sy en Erik binnekort klaar is met matriek, gaan alles buitendien verander.
Sy wonder wat Marnitz nou in die oorlog gaan doen. Hy is ’n dokter. Gaan hy in Pretoria aanbly? Sover praat niemand nog daaroor nie.
En Heinrich is amper klaar met sy regstudie. Maar waarheen sal die twee manne gaan wanneer hulle eers op eie bene staan? Debora se huis sal mos soos ’n kasarm voel wanneer die twee oudste Schlagerfeldt-seuns permanent hul koers gekry het.
Margot skud haar kop heftig sodat haar lang hare oor haar skouers waaier. Dis beter om glad nie daaroor te dink nie. Sy kyk sugtend rond, en onthou dat sy in hierdie interessante vertrek op ’n missie is. Sy staan nader aan die klomp boeke om ’n paar titels uit te maak: Macbeth, De onveranderlikheid van onze God, Don Carlos, Robert Browning’s Works, Uncle Tom’s Cabin, Schiller se Die Jungfrau von Orleans en nog meer. Haar oë vee verwonderd daaroor. Dit is of die vele uiteenlopende titels Margot telkens as sy in dié vertrek kom, wil oorweldig met ’n nuwe kennis van Debora. Die prentjie van ’n Debora wat salig versonke in ’n boek in die verweerde leunstoel langs die bed sit, wil nou eenmaal nie strook met die Debora wat met taai hande perskes skil of al roerende saam met Anna voor die stoof staan nie.
Margot kan dit nie help nie, sy tel een van die boonste boeke op. ’n Stokou Nederlandse edisie met die titel Stille dingen. Sy maak dit lukraak oop en haar blik val op ’n paar sinne op bladsy 4: “Ik wil bidden, maar mijn hoofd is zoo moe, en ik kan geen woorden vinden …”
Sy sit die ou boekie versigtig op die stapel terug.
Sy kan dit helder sien: ’n Debora wat vermoeid, met palms radeloos na bo, vergeefs soek na woorde. Nou dít is nogal openbarend. Die rankerige vrou met haar streng dog weemoedige mond wat biddend in haar kamer na woorde soek.
Margot soek gou Die Huisgenoot van 8 September en sluip uit die vertrek, intuïtief huiwerig om nog iets te ontdek wat Debora verder sal ontbloot. Miskien het sy tog haar ma se ragfyn aanvoeling vir onderstrome. Van een ding is sy opnuut doodseker: Debora wéét dinge.
Toe Margot weer die kombuis binnegaan, is albei vroue meer bedaard. Die onderwerp is klaar verander, lyk dit.
Debora staan op om ’n baksel uit die oond te haal. “Kom, proe eers hierdie koekies.”
“Lekker,” glimlag Susan.
Debora Schlagerfeldt, dink Margot en sit Die Huisgenoot op die rak teen die muur neer, lei die lewe met ’n seker doelwit voor oë. Deeglik en met oorgawe. Maar georden. En veral privaat. Selfs in haar gangetjie van ’n winkel is sy bloot koel vriendelik met die kliënte wat gelukkig nog bly koop in hierdie moeilike tyd, maar verder as “Goeiedag!” en “Gaan dit goed?” vorder dit nie. Tog koop die mense fluks. Soos Susan al voorheen gesê het: “Mens kan nie anders nie. Jy ruik die vanilla, proe die botter-en-suiker, en hoor die smullekker krakerigheid onder jou tande.”
Later die middag toe Margot en Erik weer verklaar dat hulle flou geleer en dooddors is, stuur Debora vir Margot om vir haar ’n Sunset-hoofpynpil bo in die badkamer langs haar slaapkamer te gaan haal. Margot klim die trappe twee-twee en loer na die papiere wat op die tafel regoor die seuns se kamerdeure in die trapportaal lê. Boekhouding. Dis makliker om so ’n saaklike beeld op te roep: die donkerkopvrou met haar regop rug wat haar berekeninge by die smal tafel op die trapportaal sit en doen. Aan die ander visie van ’n Debora wat rustig met ’n boek in die hande voor die venster sit en lees, sal sy seker nooit gewoond raak nie. Want mens sien nie maklik vir Debora in ontspanne luim nie. Altyd druk besig.
Tamaties wat geoes word om konfyt van te kook. Ertjies en wortels wat in glasbottels ingelê word. Perskes en appelkose of stroopsoet vye wat pas ryp is en gepluk en ingelê moet word.
Dié nag slaap Margot so vas dat Susan haar met moeite wakker kry.
En sy haal die skool ook net betyds om die swaarmoedige dong-dong van die klok te hoor. Erik se wenkbroue lig-lig net en sy gluur hom aan toe sy gaan sit. Om alles te kroon het hulle boekhou by meneer Struwig. Die man wat Erik Schlagerfeldt skaamteloos voortrek omdat hy dan so goed is met syfers.
Sy voel sommer boos. Hantie en Trudie glimlag simpatiek na haar kant toe toe meneer Struwig omdraai om iets op die swartbord te skryf.
Die res van die dag konsentreer sy hard om elke woord van die onderwysers in te drink. Pouse voel sy eintlik gedaan. Sy hap lusteloos aan die toebroodjies wat Elisa vir haar ingepak het. Maar Hantie en Trudie eet nie juis nie.
“Ek wil rietskraal word,” kondig Trudie pront aan.
“O, ek ook. ’n Dun middeltjie is my droom, hoor.”
“En waarom nogal?” vra Margot, al weet sy goed.
“Oe, jy hou jou net dom,” slaan Trudie die spyker op die kop. “Een van die dae kom daai twee manne huis toe.”
“Hulle is darem mooie mans, h’m?” swymel Hantie op haar vreemd vraende manier.
“Baie mooi,” voeg Engelie Sauer dromerig by. “Erik veral. Jimmel, as hy daai blou oë so lui-lui na mens toe draai, kry jy hoendervleis.”
“Mans is g’n mooi nie,” spot Margot binnensmonds. En toe die meisies aanhou kerm om meer van Erik en sy twee broers te wete te kom: “Ja, hier sit ek nou met julle en julle is onbekwaam verlief op dié drie mans! Moet ek dalk aanvoorwerk vir julle doen?”
Engelie en Trudie glimlag net hoopvol maar Hantie is voorspelbaar verontwaardig.
“Ag, sies vir jou, h’m? Moenie dink omdat jy al een is wat gereeld naby die Nêrens-mense kan kom, dat óns nie ook talente het nie.”
Natuurlik het hulle talente, weet sy maar te goed. Veral hier in matriek is Hantie se borsmaat indrukwekkend. En Margot se ma het al opgemerk dat ’n man dalk onrustig kan raak as hy te lank op Engelie se kuite konsentreer.
Dit krap nogal aan Margot, want rietdun soos wat sy is, is sy nou nie buitengewoon goed bedeel nie en speel sy ook nie in enige liga wat stewige bene vereis nie.
Maar sy sug innerlik oor die meisies se bewondering vir Erik. Sy weet goed dat hy niks in hulle belangstel nie. Erik se oog is op die nuwe Engelsjuffrou. Margot gee so stilweg toe dat Erik sekerlik goeie smaak het. Juffrou Williams met haar dik vag koringblonde hare en fyn, ovaal gesig soos ’n madonna. Susan Scott se opinie. Mooi genoeg om die jong mans in die kontrei fluks te laat Engels leer.
Maar Margot weet van beter. Vergeet maar die distrik se mans. Die ouer skoolseuns vergaap hulle ook. Erik leer dat dit bars om wat Macbeth betref die kloutjie by die oor te kry. En een kil middag in Julie het hy Margot selfs versoek dat hulle party middae net Engels met mekaar moet praat. Hy moet foolproof raak, so beweer hy.
“Woensdae en Vrydae, hoor?” het hy gesmeek. “Jou Engels is beter as myne met dié dat jy ’n ma het wat die Engelse taal ken. Enne, met die ding dat jou pa heeltemal Engels is, en so aan.”
Toe word sy self vies. “Nè? En wat laat jou dink my ma leer my goed Engels praat net omdat my pa, wat ek in elk geval nog nooit gesien het nie, Engels is? Vergeet dit, boetie. Ek praat Engels omdat mens jouself in daardie taal moet kan help.”
“Nou help my dan om myself te help, jong.” Pleitend.
“Ek sal g’n. Jy wil net goed doen in Engels omdat sweetheart Williams so mooi is!”
Hy was op die plek so woedend dat sy soel wange pienk gegloei het.
“Jy noem haar g’n só nie! Dis daai spul nikswerds, daai klomp Van der Spuys wat haar so noem. As jy van haar wil praat, noem haar op haar naam. Elizabeth.”
Sy het in sy brandende blou oë gekyk en meer as genoeg gesien. Sy sou hom nie weer spot nie. Maar sy sou hom waarsku.
“Elizabeth Williams is ’n besonderse mens, Erik. Maar ter wille van haar goeie naam en jou eie moet jy liewer nie meer langer as ons ander in die klas agterbly nie.”
Hy het tot onder sy swart kuif bleek geword. “Luister, Margot, ek en sy doen niks verkeerd nie. Sy het my met die past perfect tense gehelp. En nou die dag met die present continuous tense, en ek …” Hy het vervaard geswyg.
Margot het vasgebyt: “Sorg dan liewer dat sy dit in klastyd doen, Erik. Voor ons almal.”
“Margot!” Hy was duidelik radeloos. Hulle het oudergewoonte dié dag by die eetkamertafel gesit en leer. Erdebekers met stomende koffie voor hulle. Anna het haar middagslapie in die buitekamer langs Fanjan s’n gaan geniet en Debora was in die syvleuel by haar man wat hulp nodig gehad het. Hulle was alleen. Dit het Margot moed gegee om Erik aan te spreek. Iets wat sy al lank wou doen want sy het oë in haar kop. Haar kop weet mos of wat die oë sien reg of verkeerd is. En of die tyd vir die regte ding ooit reg is.
“Luister, Erik,” het sy sag gefluister, “ek besef dat juffrou Williams kwalik ’n jaar ouer as jy is. Maar een ding moet jy weet, jy gaan afgeslag word as iemand moet weet jy kyk met leepoë na haar. En al kan ek dit verstaan, dink ek jy moet jou vir eers inhou.”
Hy het sy kop stadig in sy groot hande laat sak sodat sy swart hare tussen sy vingers deur gekrul het. Toe skuinsweg na haar geloer. “Ek weet dit ook, Margot. Maar hemel tog, ek dink … ek is lief vir haar. Dit is soos dit is.”
“Ek glo jou, Erik. Maar wag tot jy uit die skool is. Daar is so iets soos ’n goeie reputasie wat ’n knak kan kry.”
“Jong. Nou preek jy vir my.”
“Preek of te not, dis waar. Maar dis reg so, ek sal Woensdae en Vrydae met jou Engels praat. Miskien sal dit goed wees.” Sy het haar lippe stout getuit.
“Hoe bedoel jy nou?” Sy blik in die boek voor hom.
“Wel, laat mense eerder dink daar’s iets tussen jou en my.”
“Maar daar is nie, jong!” Hy was so uit sy vel geskok dat sy sommer vies geword het.
“Nee, man, daar is nie en daar sal nooit wees nie. Jy is my goeie vriend, Erik. Maar voorlopig moet ons die mense maar eerder anders laat dink. Dit sal enige pratery oor jou en Elizabeth Williams die nek inslaan. En dit, goeie vriend, lyk vir my nou heel noodsaaklik.”
Margot kou langsaam aan die laaste hap van haar broodjie. Hantie sug beswaard. “Jy wil mens ook niks van die Schlagerfeldt-seuns sê nie.”
“Miskien omdat hulle nie meer seuns is nie,” antwoord Margot stout en Trudie pomp haar terstond met die elmboog in die sy.
“En hoe sal jy weet, h’m?” por Hantie gretig.
“A, maar ek weet omdat ek weet,” antwoord Margot speels.
Maar meisies beskik oor fyn intuïsie. Dit weet Margot ook. “Wat ’n mooie man tog, dié Erik,” sug Hantie verlangend.
Maar Engelie sit eensklaps regop onder die groot populier in die vierkant, haar gesig bot. “Ek dink nie hy hou van een van ons nie,” laat sy hoor.
“H’m?” het Hantie gewonder. “Mens sal seker nie weet nie.” Toe wend sy haar weer tot Margot: “Maar jy weet tog meer as ons?”
“Nee wat,” keer Margot haastig en praat oor ander goed. Hoe Debora se winkel ten spyte van die moeilike tyd tog ’n winsie maak. Hoe lekker die nuwe ingelegde vye met ’n knypie gemmer smaak.
“Ja,” laat Hantie weer mymerend hoor, “en jy kry natuurlik baie kans om daar in die winkel net so naby aan Erik te wees soos wat ons drie nou bymekaar sit. Dit is so ’n smal ou plekkie, h’m?”
“Natuurlik,” jok Margot gladweg. “Julle moet onthou, ons twee was nog altyd naby mekaar. Enne, buitendien help ons net uit by Debora en Seuns wanneer juffrou Henning nie kan nie en Anna of Debora te besig is.”
En toe die klok lui om die einde van die pouse aan te kondig stik sy amper van verligting.