Читать книгу Debora en seuns - Helene de Kock - Страница 8

Hoofstuk 4

Оглавление

In die loom somerdae weet sy dat sy reg gedink het. Daar is ’n nuwe gemoedelikheid tussen haar en Heinrich wanneer sy smiddae saam met hulle sit en skil. Hulle deel ’n geheim. Net Erik, weet sy, kom dit nie agter nie want sy kop is te ver weg. Hy fluit heeltyd saggies asof hy nie byna altyd ’n gehoor het nie en ignoreer hulle as hulle met hom skoor.

Een middag tydens die skillery sny hy homself met die skerp messie raak. Hy pluk sy hand geskok weg, staar na die bloeiende vinger.

Debora en Susan wat ook by is, kyk verskrik toe.

Debora se kleur is hoog. “Zerstreut!” roep sy ergerlik uit. “Du bist wirklich zerstreut!”

Heinrich lig net ’n wenkbrou maar Marnitz, wat pas terug is van Ou Dok se spreekkamer, kom kalm nader om te help. Druk die bebloede vinger onder die wasbakkraan op die stoep, ontsmet dit met soutwater en sit pleisters op uit sy plat dokterstassie wat deesdae oral met hom saamgaan. Die ouer vroue gaan binnetoe om nog tee te maak. Met baie suiker, beduie Debora nou weer bedaard, want dit neem die skrik weg.

“Dink jy ook hy’s zerstreut?” wil Margot skertsend by Heinrich weet.

Hy glimlag skeef. “Verstrooid, ja. Jy sien mos sy kop is op ’n heel ander plek.”

Sy knik net. Erik is dikmond toe hy en Marnitz weer ondertoe kom. Moontlik het hy van Marnitz ook ’n broederlike prekie oor Zerstreutheit gekry.

Die lang Desemberdae kry vir Margot nuwe kleur. Dis samesyn soos selde vantevore. En dit is of haar ma en Debora dit aanvoel. Hul kuiertjies smiddae op die agterstoep is warm en vrolik. Erik is steeds ietwat verstrooid en soms betrag Debora hom met ’n kommerkeep, maar andersins is Margot se tye saam met die Schlagerfeldts besonder harmonieus. Tot Marnitz is, wanneer hy tuis is, jovialer as voorheen. Dalk is dit die naderende Kerstyd wat hom milder maak, dink Margot en verlekker haar in sy geselskap.

Soms bly sy en haar ma saans tot laterig oor. Smul op Debora en haar seuns se aandrang saam aan die varsgebakte brood met stroopblink heelvyekonfyt en luister ná ete na die seuns se meesleurende strykmusiek. Margot speels soms saam op die klavier, maar meesal sit sy net en luister. Verkyk haar aan die drie swartkoppe wat met fronsende erns, lippe saamgepers, hul instrumente bespeel. Sy besef al hoe meer dat hulle werklik drie baie talentvolle musici is. Vir die eerste maal begin sy wonder hoe dit vorentoe met hul musiek sal gaan. Sal hulle ooit nog speel as die oorlog hierheen sou kom?

Sy stoot die angsgedagte weg. Alles moet net bly soos dit is, dink sy met ’n fladdering van skrik. Net so is alles perfek.

Margot en Heinrich gesels dikwels. Veral oor die universiteitslewe. Hy vergas haar op staaltjies uit sy ervaring van die losieshuis waar hy tuisgegaan het en sy lag lekker vir al die studentemanewales. Dan sê hy ook: “Maar daarmee is ek nou klaar.”

Marnitz raak al hoe minder by die skilsessies betrokke. En wanneer hy dan smiddae laat tuis kom, neem hy sy tjello op en speel met soveel dringende passie dat Margot se binneste soms wringend saamkramp.

“Hy werk so hard, die arme kind,” sug Debora een laatmiddag toe Susan ook opdaag en Anna vir hulle tee inskink terwyl die tjelloklanke opklink. “Ja, hy speel pragtig, maar Ou Dokter sê hy het die hande van ’n chirurg.”

“Ai, dis wonderlik,” sê Susan bewonderend. “Dat mensehande ander menselywe oopsny en binne-in regmaak, bly vir my steeds ’n mirakel.”

“Ja, die Marnitz, nè,” glimlag Debora. En, in wat ’n totaal onbewaakte oomblik moet wees, gaan sy aan: “Ek het geweet hy sou ’n dokter word daardie dag toe …”

“Mutti!” onderbreek Heinrich haar. “Ek ruik iets. Brand die stroop nie?!”

Margot kyk op en sien dat Debora se wange verbleek. Die vrou staan haastig op. Margot ruik niks en sy sien dat haar ma Debora se smal, effens geboë skouers nadenkend agternakyk toe sy kombuis toe gaan.

Ook Erik se vingers het om die vrug in sy hand verstil.

“So ja,” sê Heinrich onverstoord, “mens kan nie die goed laat aanbrand nie. Daarvoor gaan suiker nou heeltemal te skaars word.”

Susan wil dié aand oor die voorval praat, maar Margot gaap en sê sy gaan bed toe.

“Die dag was warm en lank, Mams.”

Nee, dink sy toe sy inkruip, sy gaan nie oor hulle praat nie. Erik en Heinrich vertrou haar en sy gaan nie hierdie nuwe vertrouensband verbreek nie.

Een aand kom Margot Marnitz op die trap teë toe sy op haar ma se aandrang ’n Huisgenoot van ’n paar weke gelede by Debora wil gaan leen. Die hoë trap is soos gewoonlik net bo-op die portaal met ’n olielamp verlig en sy het ingedagte afgekyk om nie dalk in die halfskemer ’n trappie te mis nie. Hy is skielik reg voor haar om haar pad boontoe te blokkeer.

Sy kyk verskrik op.“N-naand.”

“Goeienaand, Margot.” Beheers maar met daardie skaars waarneembare laggie in sy stem.

Sy sluk stram. “Ek het ’n Huisgenoot kom leen. ’n Oue. Jy weet, die een van 15 September?”

Hy kom tot langs haar, sit sy hand onder haar elmboog. “Kom ek help jou. Ek weet waar daardie Hugenote-nommer is.”

Haar woorde steek vas. Sy is skerp bewus van sy warm handpalm wat haar elmboog stut.

“Ek …” kry sy uit toe hulle in die geel lig van die olielamp staan, “ek het gehoor Engelie praat van die uitgawe wat oor die koms van die Franse Hugenote gaan en toe dink ek ek en my ma sal dit ook graag wil lees.”

Sy kyk op in sy donker gesig en sy tande flits wit.

“Ja, dit sal sekerlik interessant wees. Hou jy ook van geskiedenis?”

“Nogal, ja.”

“Soos jou ma, nè? Nou kom.” Hy stap vooruit, Debora se slaapkamer binne, en gaan sit kruisbeen op die mat by die stapel Huisgenote. Tik op die rooibont Persiese tapyt. “Kom sit. Ek hou so daarvan om in die ou Huisgenote te blaai as ek hier by die huis is. Kom kyk. Hier’s kostelike goed, hoor.”

Sy gaan sit langs hom. Verwonder haar oor dié spontane toeganklikheid. Die eensklapse woorde. Hy trek ’n paar tydskrifte onder uit die hoë stapel uit. Vou een triomfantelik oop en hou dit na haar toe. “Hier’s hy! 25 Julie 1930. My ma het dié kopie nog by Eisenstein gekry. Hy hou mos die ou tydskrifte aan. En kyk nou hier, rugby en perdewedrenne deel ’n dubbelblad.”

Sy vat dit bedees by hom. En glimlag. “Transvaal ly ’n gedugte nederlaag” en “Die Durbanse Julie-hendikep”. Twee fotoartikels langs mekaar met groot swart-en-wit foto’s.

“Jy sal sien,” sê hy, en leun sameswerend na haar toe oor, “rugby gaan nog die groot sport in hierdie land word. Perde gaan ver tweede kom.”

“As jy so sê,” waag sy.

Hy lag uit sy bors en die klank fassineer haar so dat sy na hom staar. Hy trek nog ’n tydskrif uit die stapel. “Ek sê inderdaad so.” Asof wat hy sê noodwendig wet is. “My ma het absolute skatte hier, hoor. Kyk net hierdie uitgawe van 7 September 1928. Sê jy nou vir my dis nie kosbaar nie.”

Margot neem die effens vergeelde kopie by hom. “Sowaar,” sê sy en klink vir haarself effens uitasem, “hier op die voorblad doen die All Blacks die haka net voor die toets teen die Springbokke op Nuweland.”

Sy kyk op in sy gesig en ervaar ’n eienaardige sensasie toe hy met haar glimlag. Of dit te warm is in die kamer. Haar asem brand effens.

“Klein Margot,” sê hy mymerend, sy persblou oë tastend op haar mond. “Ek is bly dat jy kan opgewonde raak.”

’n Stilte talm. Sy is pynlik bewus van hom. Van sy lang lyf, die groen geur van gras wat aan hom kleef ná hy teen laatskemer vir Fanjan gehelp het om die grasperke te sny. Toe kry sy haar woorde terug. “Ek hou daarvan, ja. Maar ek is nie meer klein nie, Marnitz.”

Hy huiwer ’n oomblik, so asof hy mooi luister hoedat sy sy naam uitspreek. “H’m. So sê jy by herhaling. En dis die ding. Dat klein mensies groot word. Maar wag. Dalk is hier ’n spesifieke Huisgenoot wat jy moet lees.”

Daar is skerts in sy stemtoon en sy leun nuuskierig nader toe hy die blad wat hy uitgehaal het, oopmaak. “Wat dink jy hiervan?” vra hy.

Sy frons by voorbaat toe sy die artikel uit Die Huisgenoot van 1938 sien. “Daar Is Dinge Wat ’n Man Nie Kan Veel.” En sy raak ergerlik toe sy die foto’s sien. Sy gee hom ’n kwaai kyk en lees die bygaande kommentaar hardop: “As jy nie jou tafel só dek dat die man wat opskep, genoeg borde en gereedskap byderhand vind om sy taak behoorlik te doen nie, kan hy maklik sommer baie vererg raak. Onredelik? Nee, want ’n halfgedekte tafel is die werk van ’n slordige huisvrou …”

Sy hap na asem. Maar Marnitz lig net sy donker wenkbroue.

“Watter louter onsin!” roep sy uit. Sy kan haar wange voel brand. As daar nou een ding is wat haar binneste laat kook, is dit die idee van ’n man wat hom baasspelerig hou.

Sy hande kom sagkens op hare neer en hy druk die tydskrif toe. “Bedaar. Vir my is dit regtig ’n grap.” Sy gesig is digby hare. Sy blou blik brand van erns én lag sodat sy nie weet wat om te dink nie. Oplaas sê hy: “Dis goed dat jy jou oor so iets vererg. ’n Man mag ’n vrou nooit oorheers nie.”

Sy kyk na hom, haar kop vol draaiende gedagtes. “Nee,” kry sy dit uit, “seker nie. Maar dit … dit wil nou nie sê dat ek van ’n slordige tafel hou nie, hoor.” Sy weet sy praat twak net om iets te kan sê en dit maak haar nog meer verleë.

Hy kantel sy kop en toe vee hy ’n los haartjie langs haar wang weg. Die aanraking laat haar vel gloei. “Natuurlik nie,” antwoord hy byna onhoorbaar. “Maar kom ons soek Die Huisgenoot wat jy wil hê.” Hy soek na dié van ’n paar maande gelede. “Ja. Hierso … 15 September 1939. Dis die een met die voorblad van die Hugenote wat so aan wal stap.”

Sy vat dit by hom. “Dit is hy, ja,” beaam sy geesdriftig. “Trudie Pienaar het ook gesê dis regtig fraai. Hulle kry al wat ’n tydskrif is.”

“Is dit vir jou mooi?” vra hy, en daar is iets in sy stemtoon wat sy nog nie vantevore gehoor het nie.

Sy glimlag en haar vingers vee versigtig oor die kleurvolle voorblad. “Ja, ek hou daarvan. Kyk die blou van die see en die bootjie vol Franse Hugenote. Die drie wit meeue. En die klomp wat op die wal staan en wag. Dis regtig ’n goeie illustrasie.”

Hy is ’n hele ruk stil, sy oë staar ver weg oor haar kop. “Jy hou van mooi goed,” sug hy. “Jy wil hê dinge moet reg en mooi en goed wees.”

Sy kyk op in sy gesig. “Ja,” fluister sy.

Hulle kyk lank na mekaar. Haar blik gee nie pad voor syne nie. Hy trek sy asem stadig in en sit terug, leun na agter op sy arms. ’n Frons keep tussen die digte swart wenkbroue. “Wat gaan jy volgende jaar doen?”

“Ek weet nog nie. Jou ma praat daarvan dat ek voorlopig in julle winkel moet help tot ek mooi weet wat ek wil doen. En my ma dink ook dis ’n goeie idee. Maar ek wil gaan verpleeg. Dis wat ek regtig wil doen.” Sy is effens verleë toe die woorde uit is. Sy het nog nie eens vir haar ma gesê dat sy dikwels ’n begeerte voel om na siek mense om te sien nie.

Die kwaaierige keep in sy voorkop word dieper. “Jy moet goed dink. Daar’s ’n oorlog aan die gang enne … daar gaan baie mense wees wat baie seer gaan kry.”

“Ek weet, maar die oorlog is mos daar ver.”

“Wie weet vir hoe lank.” Hy trek weer sy asem diep in: “Ek dink daaraan om in Londen in Guy’s Hospital te gaan werk.”

Dis of ’n hand om haar keel klem. “Wanneer?” fluister sy bang.

“Sal nog sien. Moenie daarvan praat nie.”

Sy het haar kop stilweg geskud. Heinrich én Marnitz? Sou Debora al weet wat vir haar voorlê? Vretende verlange. Angs omdat sy nie presies sal weet hoe dit met haar seuns gaan nie.

En, weet Margot vir seker toe hy opstaan en sy hand na haar toe uithou, Debora sal nie al een wees wat sal vrees en verlang nie.

Sy vingers is koesterend warm toe hy haar orent trek, maar sy oë kyk koel af in hare. “Lekker lees aan jou Huisgenoot. Miskien is dit waarby jy jou moet hou. Lekker lees en huishou. Dan kan jy nie so erg seerkry nie.”

Sy is oombliklik kwaad maar in sy blik sien sy egte sorg en deernis. Maar sy bly krapperig. Sy vergeet dat sy met Debora se tydskrif in haar hande staan, dat sy hier in Debora se kamer net ’n gas is. Dat Marnitz jare ouer as sy is. En dat sy nou net gedink het sy gaan na hom verlang.

“Dus moet ek liewer in ’n glaskas gaan woon? Daar waar die lewe by my verby kan gaan. Hoe eng dink jy tog, Marnitz Schlagerfeldt.”

’n Flits van verbasing in die donkerblou oë. Toe sien sy hoedat hy ook kwaad word. Die ferm mond klamp saam en sy hande kom op haar skouers neer. “Wat weet jy tog, Margot Scott? Wát?”

Toe draai hy om en stap driftig uit. Sy hoor sy voetstappe met die trap af kletter.

Sy staan minute lank doodstil, wag dat haar hartklop moet bedaar. Dis of die lug om haar liggies knetter. As sy beweeg, sal dit vlam.

Die volgende oggend groet Margot haar ma toe dié kerksaal toe gaan om ’n vergadering van die susters by te woon. Sy gaan bad en trek aan. ’n Donkerblou romp en grysblou bloes wat sy self gemaak het. Wat sy nié gister vir Marnitz gesê het nie, is dat sy knap met die naald is en seker ’n bestaan daarvan kan maak, as sy sou wou. Maar nee, sy wil verpleeg. Ná gister weet sy dit so seker soos wat sy haarself nou in die spieël beskou. Sy haal diep asem, bekyk haarself krities. Steeds lank en maer. Dit sal seker nooit verander nie. Maar tog het sy redelik onlangs rondings hier voorlangs gekry. Meer as wat sy verwag het. Die skooljurk het dit nog weggesteek. Maar nie meer nie. En daar is ’n sagtheid om die heupe ook. Dit stel haar tevrede. Die nou middeltjie en die lang bene. Ook haar nek is slank bo haar smal skouers. Sy trek haar skouers op, laat sak dit weer.

Nou die dag wou sy met haar ma praat. Maar ná die eerste tastende paar sinne het sy geweet haar ma wil nie oor grootword en kêrels praat nie. Mans maak haar bang. Dus het Margot stilgebly. Onverhoeds ’n woede gevoel teenoor die man wat haar pa was. Hierdie Henry Scott-Trewellyn wat moontlik nog iewers in Engeland woon.

“Vertel my meer, Mamma,” het sy nou een aand weer gesmeek.

“Meer as dit, Margot, is nie belangrik nie. Ek het vir hom ’n brief geskryf. Kort, wel, kort nadat ek besef het dat jy gaan opdaag. Maar hy het my nooit geantwoord nie.”

“Het hy ooit die brief gekry?”

“Seker, ja, maar hy het nie geantwoord nie. Nee, hy bestaan nie vir my nie.”

“Maar hy hét tog vir Mamma bestaan?”

“Ja. Maar ek moes nie so dom, so beïnvloedbaar gewees het nie. Maar ek is los van Henry Scott-Trewellyn. En hy bestaan vir alle praktiese doeleindes ook nie vir jou nie.”

Maar in hierdie soel Desember met haar kindertyd onherroeplik agter haar, beleef sy dae waarin haar pa lewensgroot wil word. Sou die oorlog wat uitgebreek het hom raak? Is hy dalk in een of ander hoë pos waar hy bevele gee? Of is hierdie Henry ’n gewone voetsoldaat wat moontlik nie eens werklik liggaam en siel vir die moederland wil gee nie? “For king and country” is dalk nie in sy bloed nie.

Sy staar weer in die spieël. Sy trek nie baie na haar ma nie. Moontlik die weligheid van haar hare. Maar haar ma s’n is vaalbruin. Ook die Dresden-blou oë en ligte vel moes sy van hom gekry het. Dié Scott-Trewellyn wat iewers ’n spikkel in die niet is.

Toe maak sy die laai oop en haal die nuwe lipstiffie uit wat haar ma, seker uit haar spaargeldjies, by Eisenstein gekoop het. Dis sagpienk soos waatlemoen. Sy sit ’n titsel aan haar lippe, sien hoedat haar mond vol en vroulik teen die room van haar vel uitstaan. Sy glimlag sodat die kuiltjie in haar linkerwang verskyn en verdwyn. Nou toe nou. Geen wonder Debora lyk altyd so mooi met die rooi lippe nie. Lipstiffie doen regtig iets vir ’n mens.

Sy maak haar blik los uit haarself. Skud haar kop. Dalk is dit nou maar só en is haar ma reg. Dis dinge wat vir goed verby is. In elk geval vir vanoggend. Want sy moet weer gaan help skil daar by Debora-hulle. Die boord is swaar van die ryp vroeë perskes wat Anna en Fanjan pluk en wat dan in kardoese gepak moet word om in die winkel te verkoop. Appelkose moet ontpit en die nuwe drag vars vye geprik word.

Maar sy gee nie om nie. Sy koester haar in die geselligheid van die Schlagerfeldts se breë veranda met die eik wat nog al die somers sy skadu smiddae daar instoot. Die voëls wat kwetterend uit die takke vlieg as die drie Schlagerfeldt-seuns te hard lag. Of tjilpend bly sit as die geselskap op die stoep rustiger is.

Nou brand die son al vroeg met mening op die sinkdakke neer. Dis verswelgend warm in die huis. Vir ’n oomblik wonder sy of sy haar hare in ’n dik vlegsel agter moet vasmaak. Maar sy besluit daarteen. Haar skoongewaste hare laat sy los oor haar skouers hang. Toe stap sy oor die stofstraat na die Schlagerfeldts.

Sy kry die drie broers al klaar om die tafel en vir Debora en Anna in die kombuis. Erik en Heinrich groet haar glimlaggend maar Marnitz kyk net op, knik stywerig. So asof hy nog nooit lekker losweg met haar gesels het nie. Maar sy blik bly ’n sekonde of wat langer op haar mond.

Nou toe kyk, dink sy tevrede. Jy gaan my nog baie met lipstiek sien. Sy wenkbroue lig-lig en sy wip haar terstond, maar gaan sit op haar ou plek tussen Heinrich en Erik sodat sy oor die agtertuin kan uitkyk waar Fanjan onkruid uit die wortelbeddings trek. Maar haar kop woel. Debora het haar ook netnou in die kombuis vlugtig bekyk maar nie ’n woord oor die lipstiffie gesê nie. Moontlik keur sy dit goed. Nie dat dit saak maak nie, dink Margot. Sy sal van nou af doen wat sy wil.

“Marnitz het gelukkig vanoggend ’n rukkie vry,” sug Debora toe sy ’n slag om die deur loer. “Ek sê hy moet gaan rus, maar nee, hy wil skil.”

“Skil help vir alles, Mutti,” antwoord Marnitz sonder om op te kyk. “Mens skil al jou nukke weg.”

“Genug!” glimlag Debora. “Sowat van nonsens praat darem.”

“Dalk het hy ’n punt beet,” sê Margot. Dis vanmôre of ’n duiweltjie sy sit op haar skouer kry. Sy sal Marnitz aanvat. En toe hy koel, met opgetrekte wenkbroue na haar bly kyk: “Ja, dalk skil hy al die arrogansie en kwaaigeit van hom af.”

Heinrich speel dadelik saam. “Ja-nee, onse Brüder sal dik moet skil om dit als af te kry.”

Marnitz sit sy messie neer. Maar dis tog of die wolk effens van sy ernstige gesig lig. “Hý het ’n naam, juffrou Scott, en hý sit hier reg voor jou!”

“Ag, natuurlik, ja! Hoe kon ek jou miskyk, dokter Marnitz Schlagerfeldt? Haas onmoontlik met ’n ego soos joune.”

Sy sien dat Debora geamuseerd staan en luister. Haar grou blik skuif stadig van Margot na haar oudste, die karmosynrooi lippe effens oop.

En dis of Margot nuwe moed kry. Om sjarmant of koketterig of wat ook al te wees. Nes die aktrises wat sy in die films wat Vrydagaande in die stadsaal draai, sien doen. Sy laat haar ooglede sak en pruil effens: “Nooit weer sal ek bo-oor jou kop praat nie, dokter Marnitz.”

Heinrich skater dit uit en tot Erik, wat vanmôre weer bra afwesig lyk, glimlag breed.

Net Marnitz se hoekige, streng gesig bly onleesbaar, al glim sy oë van binnepret. “Waar tel jy al hierdie slimmighede op, juffrou Scott?”

“Meesal in die bioskoop, Dokter,” antwoord sy slaggereed. “Het u dalk ’n kuur daarteen?”

Sy mondhoeke lig in ’n stywe laggie. “Ek glo nie dit benodig ’n kuur nie. Net teregwysing.”

Hitte stoot in haar gesig op. Sy vergeet van die glinstering in sy oë en sê kortaf: “Dit kon ek gedink het. Ek wou net ’n grappie maak, dokter Schlagerfeldt. As jy die film It happened one night gesien het, sou jy geweet het dat die aktrises se oë soms so halfmas hang en dat hulle hul lippe tuit. Ek het bloot daarmee gespot.”

Marnitz sug en staan op, loop spoel sy hande by die stoepkraan af, sy breë rug na hulle. Almal sit in stomme afwagting. Ook Debora is haar gewone selfbeheersing kwyt en gaap haar oudste aan. Net toe draai hy om en glimlag wit. “Natuurlik het ek daardie screwball comedy gesien en ook baie ander soortgelykes, juffrou Scott. En ek het wel die grappie gevang. Jy het nié.” Daarmee knik hy ’n groet en stap uit.

“Wat?” fluister Margot vies. Sy is lus en smyt die messie neer en stamp haar voet uit skone woede soos sy ook al gesien het van die heldinne in films doen.

“Hy’s reg,” sê Heinrich luiters. “Hy het geweet jy maak net ’n grappie. Dis jy wat oordrewe ernstig is.”

“Ek …”

“Ja, dis soos dit is,” sê Erik en kyk haar stip aan.

Margot sug en vat nog ’n appelkoos uit die bak. “Ag, nou goed dan.”

Debora glimlag net en bied aan om tee te maak.

“Dit sal baie lekker wees, Debora,” sê Margot styf.

Maar Heinrich en Erik laat haar nie toe om dikmond te wees nie. Hulle vertel ou, uitgediende grappies en lag hulle simpel daaroor. Uiteindelik kan sy nie anders as om saam te lag nie.

“Kom fliek vanaand saam met ons,” nooi Heinrich. “The adventures of Robin Hood wys in die stadsaal en Errol Flynn speel die hoofrol.”

“Net as daar ’n tuitbekaktrise in is. Ek moet ’n voorbeeld hê sodat ek kan oefen aan my flankeertegnieke.”

“Daar is,” lag Heinrich. “Olivia de Havilland het ’n mond wat gemaak is vir soene.”

Hulle lag klinkend toe haar gesig warm begin gloei en twee duiwe wat dit te na aan die stoep gewaag het, fladder verskrik weg.

Maar Erik klop haar goedig op die skouer. “Behou jou humorsin in hierdie huis, suster, of jy gaan onder. So is dit nou maar.”

“Suster?” spot Heinrich en sy blik gaan stadig oor haar. “Dit sal ek nou nie sê nie, Erik. Sy is nie ’n bloedverwant nie en sake kan verander.”

Erik pers sy mond ergerlik saam. Heinrich glimlag skelm en toe sy ma die tee nader bring, staan hy galant op om die skinkbord by haar te neem.

Susan kom sluit ook later by hulle aan en vertel die gemeentesusters se vergaderingpraatjies oor. Die gemeente se Kerskonsert lê juis voor en daar gaan pannekoek ná die tyd wees.

“Dankie, Debora,” sê Susan maar frons toe sy die koppie tee by haar vriendin aanvat. “Sjoe, my hart ruk-ruk vanmôre in my keel. Seker van die stappery in die son. Die opdraand terug word vir my te veel.”

“Nein!” roep Debora uit. “Jy moet dokter toe gaan as dit so is.”

Soos altyd ignoreer Susan sulke raad en die gesprek begin al om die winkel draai. Debora beduie dat mense tog nog koop. Al is dit met omgedraaide pennies. Sy vrees net dat die oorlog bitter gou ’n stywe klamp om aankope gaan draai. En haar produktiwiteit kan wel daaronder ly. Want meel en suiker, die basiese goed, bly altyd eerste in die slag.

“Ag wat,” reken Susan, “jy sal maar ’n plan moet maak. Bokwiet inmeng, of so. Want mense moet brood eet en hulle sal konfyt daarop wil hê.”

Die gesprek dryf weg van Margot af. Sy wil nie hoor nie. Sy is verlig toe die twee vroue opstaan en binnetoe beweeg waar Debora solank die kos vir middagete wil opsit. Sy gee haar oor aan die loomheid van die hoogoggend. Die laning sipresse wat hierdie erf van die een langsaan skei, staan roerloos. Margot vat nog ’n appelkoos uit die bak en begin ontpit. Sonder dat sy wil, draai haar gedagtes terug na haar pa en na herr Dieter wat ook hier iewers in die huis “nie bestaan nie”. Die een bestaan moontlik daar doer, en die ander een net-net hierso.

Margot skrik op toe Heinrich haar peinsende gedagtegang onderbreek.

“Mutti se kokery doen deesdae baie goed, nè?” merk hy op en laat ’n ontpitte appelkoos in die groot skottel in die middel van die groot tafel gly. “Mens kan wraggies dankbaar wees, gesien hoe moeilik die tye is.”

“Ja, Debora se kokery is wyd bekend,” sê Erik met ’n wrang laggie en sit sy appelkoos ook in die bak. “Ek bedoel, Elizabeth sê haar broer se gemeentevroue bewonder Debora Schlagerfeldt se kunstige gebak.”

Margot se mond sak oop. Sy sien hoedat Heinrich fyntjies glimlag.

Maar hy wys ’n taai vinger na Erik. “Saggies, Brüderlein. Jy wil nie moeilikheid hê nie!”

“Ek is ’n man, Heinrich,” sê Erik, sy kleur al weer hoog.

Margot sluk benoud, loer onderlangs na Heinrich. Hy sit met fyn presisie en skil maar sy mond is ’n harde lyn.

Sy kyk na die vrug in haar hande en loer weer tersluiks na die broers. So eenders en tog so verskillend. Sy roep ook Marnitz se beeld op. Mens kan werklik met ’n oogopslag sien dat hulle verwant moet wees. Al drie met hul digte swart hare wat net so effentjies onder agter die ore inkrul. Nes Debora s’n. Haar hare is nou wel lank met hier en daar ’n silwer stringetjie, maar dis net so dik. Die oë is egter hul pa s’n. Felblou en diep sodat mens voel jy wil, soos by ’n venster, graag inloer.

Mens soek na daardie punctum waarvan haar ma gepraat het, dink Margot. ’n Gaatjie wat sal lig werp.

Sy glimlag onderlangs. Iets kan sy darem waarneem. Erik het anders geword. Hy begin sy kleim in die huis afsteek. Hy gaan nie meer voorgesê word nie.

Maar as sy nou eerlik moet wees, is Heinrich op die oog af die aantreklikste een van die drie. So beweer Hantie ook mos. Marnitz is die een wat afstandelik is. Misterieus. So asof hy ver en onsigbaar is, al sou hy reg langs jou sit. ’n Klein rilling glip langs haar rug af.

“Marnitz Schlagerfeldt,” het Susan ’n ruk gelede opgemerk toe hy pas van Pretoria af tuis gekom het, “het ’n spesifieke aura.”

“Watse aura?” wou Margot laggend weet. “Ek dink hy’s arrogant.”

“Tj! Julle jonges gebruik die woord ‘arrogant’ links en regs en dink julle kan dit as etiket aan iemand vasspeld. Julle moet dalk versigtiger met die byvoeglike naamwoorde wees.”

“Ag, goed dan, Mams. Ek bedoel maar net dat hy … dat hy …”

“’n Aura het.”

Margot was ’n bietjie opgeruk. Haar ma weet eenvoudig te veel. Mens kan g’n met haar of met haar groot vriendin Debora redeneer nie. Hulle sit jou koud nog voordat jy begin. Dit laat haar alte veel voel dat haar eie persoonlikheid net so effentjies onderdruk word. En sy is nou volwasse. Al amper negentien. Op pad lewe toe. Dis goed dat Erik sy sê in hierdie huis begin sê.

’n Paar tortelduiwe koe-koer-doek in die sipresse wat hul donker skadu’s al hoe nader aan hul stamme trek. Netnoumaar is dit twaalfuur en dis klaar snikwarm. Margot vee met haar voorarm oor haar wang en adem sagkens in en uit.

Eensklaps fluit Heinrich deur sy tande, hou sy taai hande voor hom in die lug. “Himmel tog, ek het amper vergeet. Ek het gister vir dominee Hamman gesê ons drie sal Sondag saam met die orrel speel. Dis nagmaal en hulle soek ’n paar psalms. Maar hy’t gesê ons kan iets van Bach ook speel.”

Erik klik met sy tong. “Nou sal ons moet wag tot Marnitz kom.”

Debora sit ’n heerlike maaltyd van gebakte skaapribbetjie en gebraaide aartappels voor. Gebraaide patats met gouestroop. Kool met witsous ook en tamatieslaai. Susan, wat ’n slag huis toe was om ’n bietjie te rus, daag ook weer op. Sy pik aan haar kos, maar Margot is gesond honger en sy lê weg. Anna kom skep vir herr Dieter in en gaan om hom te voer en stellig een van haar vele olifantstories te vertel.

Debora kyk haar dankbaar agterna. “Wat sou ek sonder dié mens doen?”

Halfpad deur die maal kom Marnitz terug. Hy groet met ’n kopknik en sy ma skep vir hom ’n vol bord in. Heinrich vertel hom van die oefensessie wat voorlê en tot Margot se verbasing, glimlag hy.

“Net wat ek nou nodig het.”

Margot staan op om koffie te maak en toe die broers hul ma vir die ete bedank en opstaan om te gaan oefen, sê sy: “Ek sal skil en luister. Lekker oefen.”

Sy wag totdat sy die swewende viool- en tjelloklanke vanuit die sitkamer kan hoor, toe gaan sit sy op die stoep waar die eikeskadu nou al by die onderste trap lê, tel die messie op en begin werk. Haar gedagtes begin ook skil aan alles wat haar tegelyk fassineer en pla.

Debora se kokery, byvoorbeeld. Dis wat haar seuns dit tergerig noem. Maar met ’n goeie skeutjie trots ook, weet Margot. Want dié kokery het so met die jare ook ’n lekkergoedmakery bygekry. Fondant en pienk-en-wit klapperys. Debora en Anna het die fondant met voedselkleursel gekleur en die soet, kleierige brousel in allerhande vormpies gebrei en gedruk. Margot kon haar verkyk. Daar was groen en pienk hartjies. Dié het so te sê verkoop nog voordat dit behoorlik gestol het, het Debora altyd gelag. En dit het die vrou destyds die moed gegee om haar winkeltjie te begin.

Noudat Margot soms daar uithelp, sien sy die plek ook in ’n ander lig. Dis vreemd gesellig, al is dit so klein. Gehuisves in ’n vertrek wat eers ’n stoorkamer vir die prokureurs langsaan se dokumente was en net ’n bietjie breër as ’n gang is. Lang, smal vensters langs ’n groen houtvoordeur en ’n agterdeur wat uitloop in ’n smal, stowwerige jaart. In dié winkeltjie kreun die voorste houtrakke wat Fanjan vir Erik help aanmekaartimmer het onder botteltjies en flessies en groot glasbottels vol stukke fudge en klapperys. Op twee lang toonbanke agter staan die brode, koeke en beskuit onder nette. En Margot glimlag altyd, as sy soms saam met Erik in die winkel is, vir die mense wat elke dag se brood kom koop en dan om die dood nie verby die fondanthartjies kan loop sonder om eers een of twee te koop nie.

Debora het later nog ’n koei by Engelie se pa gekoop – vir die room, het sy gesê – en fondantharte met kakaopoeier in ook begin gemaak. Van piepkleintjies wat fluwelig op jou vingerpunt balanseer tot mooi ronde hartjies wat sy in klein blikkies gepak het. ’n Kunstige boer in die Slabberts-distrik het stukke sinkplaat mooi gebuig en gevorm sodat dit ’n oulike blikboksie gemaak het. Net reg vir soetgoedjies daarin. Mense het bly koop. En eet. Die glasbotteltjies met kurkproppies was net so gewild. Die kurkproppe het Debora met ’n mengsel van kerswas verseël nadat sy dit met goue marmelade, dieporanje perskekonfyt en pienk kwepermoes gevul het.

Die moeilike jare ten spyt, het mense vir verjaardae en Kerstye tog wel hul sak geskud. Moontlik omdat dit so bekostigbaar was. Want om die glasbotteltjies en vierkantige blikkies het Debora fleurige satynstrikkies gebind. Elk met ’n gedagtetjie daarby – in sierskrif op pastelkleurige kaartjies. Iets soos ”Gaan jou gang onverstoord deur die lewe” of “Liefde kom wanneer jy dit nie verwag nie”. Selfs meer gewaagde gesegdes soos “Wie nie proe nie, sal nooit weet nie”. En “Een hap en jy’s verlore”. Ensovoorts. Dié kaartjies is vakansies deur die drie Schlagerfeldt-broers en Margot op die mooie papiertjies geskryf. En in die linker-boonste hoek van elke kaartjie is daar ook swierig in drukletters aangebring: “Debora en Seuns”, nes op die advertensiekaartjies van Moir’s en ander groot lekkernyname. Maar Heinrich was die een wat met die meer jolige gesegdetjies vorendag gekom het. “Proe en swymel”, “Moenie wonder nie – wéét”, “Ekstase in ’n bottel”. En hy wou hom vreklag daaroor.

“Skaam jou, Heinrich,” het Margot eendag opgemerk. Sy was maar vyftien en het gedink een van sy “Proe, en val flou!” is nou regtig nie ordentlik en gesofistikeerd nie. Maar Heinrich het net gelag.

Marnitz se donkerblou oë het oor haar geblits. “En wat sal so ’n ou dogtertjie nou van sofistikasie weet?”

Sy het ’n bietjie geskrik. Marnitz was toe al ’n groot man. Sy het haar nietemin vererg. “Meer as jy!”

Sy een mondhoek het effens gelig maar die blou blik het gevlam. “Moenie dat ons nou hier ’n alterkasie hê nie, meisiekind.”

Sy het stilgebly omdat sy nie mooi geweet het wat alterkasie beteken nie. Dit eers later gaan opsoek. Twis. Woordewisseling. En dit wou sy nie hê nie. Sy wou in die Schlagerfeldts se goeie boekies bly.

Maar die entoesiasme oor Debora en Seuns se fondanthartjies het nie getaan nie. Veral nadat Debora gehoor het van ’n man, ene Gino Rosetti van Johannesburg wat glasbottels in die vorm van ’n hart maak. Die man is glo in Venesië gebore en opgelei en het ’n paar jaar gelede agter ’n Suid-Afrikaanse vrou aan na die Unie toe verhuis. Debora het sy adres by ’n ou kennis van haar gekry en vir hom ’n brief geskryf. ’n Dosyn hartvormige bottels bestel. Susan en Margot was by toe Debora een laatmiddag die bottels, netjies in ’n houtkas verpak, op die dorp se stasie gaan haal het.

“Dis ’n duur bestelling,” het Debora gesug.

“Toemaar,” het Susan getroos, “sodra die mense eers snap dat ’n glashart vol soetigheid lekkerder smaak as ’n gewone bottel vol daarvan, gaan jy sien hoe koop hulle.”

“Genug, Susan,” het Debora kopskuddend gesug. “Dink jy regtig dat die vorm ’n verskil aan die smaak gaan maak?”

“Nee, natuurlik nie, Debora. Maar ’n mens se verbeelding is ’n wonderlike ding. Daarvan kan mens nooit ‘genug’ hê nie.”

Debora het haar rare glimlag gegee. “Wel, jy sal seker weet.”

Die blik wat die twee vroue gewissel het, het Margot bygebly. Wat sou haar ma sodanig van verbeelding weet? Sy wat so hiperkorrek is met als wat sy doen. Niks se skietgee nie. Alles moet in plek wees. Henry Scott-Trewellyn moet vergeet word. Dalk nog ’n rede waarom sy en Debora mekaar so goed vind. Albei perfeksionisties. Tog het sy nie daardie dag verder daaroor gewonder nie.

Buitendien, wat Susan gesê het, het waar geword. Debora het bestellings van oraloor gekry. Tot van kliënte in Bloemfontein, Johannesburg en Pretoria.

Margot laat met ’n suggie die laaste appelkoos in die byna vol bak gly.

Met dié kom die broers weer op die stoep uit.

“Mooi geoefen,” sê sy, want dit sal nooit deug as hulle moet weet sy het nie ’n enkele noot gehoor nie. Altans, nie bewustelik nie.

“Dankie, nè,” sê Marnitz toe hulle al drie weer gaan sit maar slaag daarin om glad nie dankbaar te klink nie. “Gaan maak asseblief nou vir ons koffie.”

“Ja, toe,” por Heinrich, vingers luiweg agter sy kop verstrengel.

Margot staan op, strek haar arms bokant haar kop. Wonder vlugtig of sy haar moet vererg. En die woorde glip soos ’n string gladde krale uit haar mond: “Kyk, ek doen dit net omdat ek wil. Ek is nie julle suster wat julle maar kan hiet en gebied nie.”

Drie paar perserige oë sper. Sy voel ontbloot in die romp en bloes wat nou voel of dit oor haar bors kleef. Sy klem haar lippe saam en laat haar arms haastig sak, skud haar lang hare terug. Maar hulle bly ondersoekend kyk.

“H’m,” sê Heinrich. “Nie sleg vir ’n sussie nie.”

“Ja, maar nou is sy nie,” sê Marnitz ferm.

“Dit voel of sy is,” sê Erik dadelik.

“Ha,” lag Margot, opeens in beheer van haarself. “Erik die Eerlike.”

“Maar regtig,” hou hy vol, “dit het nog altyd so gevoel.”

“Dankie, nè,” lag Margot en draai om om kombuis toe te loop.

“Speak for yourself, oh, brother mine,” haak Heinrich af, loer betekenisvol na Marnitz maar pomp Erik onsag in die ribbes sodat hy luidkeels protesteer.

Margot lag weer en toe sy omdraai kombuis toe, val haar oog weer op die stil figuur op die stoep van die syvleuel waar herr Dieter hulle sit en dophou. Sy waai vir hom. En hy knik sy kop. Die broers, merk sy uit die hoek van haar oog, waai ook. Maar hul aandag is dadelik weer by ’n nuwe onderwerp. Dié van die koster se nuwe motor. Glo ’n donkergroen Chrysler.

Toe sy met die koffie terugkom, kom vat Marnitz die skinkbord by haar. “Ons het besluit ons gaan net koffie drink en dan eers weer oefen. Siende dat ons nou al ingeoefen is vir die dag.”

En toe sy vraend na hom kyk: “Ons het mos nou net toonlere geoefen. En die Bach om ons tegniek reg te kry. Jy’t seker tog gehoor?” Die skerp blik is op haar sodat dit warm word onder die bloes se kraag. Sy knik. “Nou ja, nou moet ons oefen vir die kerk se Kerskonsert volgende Saterdagaand, want ons gaan nie gou weer kans kry nie.”

“Móét ons nou weer gaan oefen?” mor Heinrich. “Kom ons drink ten minste eers ons koffie klaar.”

Hulle drink in stilte. Dis of die gemoedelikheid van so flus weg is.

“Kom saam,” sê Heinrich toe hulle klaar is en trek haar aan die arm op. “Ons baklei minder as ons ’n gehoor het.”

Margot lag net en loop saam sitkamer toe. Dis ’n ou ding dié, dat sy kwansuis moet kom luister hoe oefen hulle omdat haar teenwoordigheid salwend inwerk. Dis of haar hele self stil word. Want veral as Heinrich en Marnitz tuis is, vra die orreliste of die skool hulle drie byna altyd om by geleenthede te speel. Of sommer so impromptu by eredienste.

Sy gaan sit op die diep leunstoel by die venster sodat die lig mooi op die drie broers met hul instrumente val. Marnitz sit in die middel op ’n hoë stoel met sy tjello tussen sy knieë. Erik en Heinrich staan weerskante van hom, hul viole teen die skouer gedruk. Hulle stem weer so ’n bietjie aan hul instrumente, en toe begin hulle speel. Sy ken die stuk. Mozart se “Eine kleine Nachtmusik”.

Sy laat die klanke oor haar spoel en haar sag van binne maak. Hierdie musiek het deel van haar wese geword. Hoe kan ’n mens so tuis wees in ’n huis wat nie eens jou eie is nie? Die gedagte laat haar oë oopwaaier. Sy kyk na die drie Schlagerfeldts. Dis tog werklik uitsonderlik dat sy so volkome hier inskakel. En dit maak nie sin nie. Die res van die samelewing voel ongemaklik by hulle. Daar is selfs ma’s wat hul dogters teen die drie broers waarsku. So het Hantie en Trudie al spottend laat val. Ook sy het dit nog altyd as skinderstories afgemaak. Maar vandag krap dit aan haar.

En natuurlik, oor Margot se vertroudheid met die Schlagerfeldt-huishouding het die dorp ook al baie te sê gehad. Dié Margot Scott, darem. Sy en haar ma lê behoorlik by die Schlagerfeldts. Mens kan dink hulle is familie. Maar nee, moet ook nie dink jy sal iets uit die Scotts kry oor dié mense van Nêrens nie. As daar enigiets onheilig is, sal hulle dit ewe onheilig help verswyg. Ja-nee, dié mense en hul bedrywighede bly maar onhelder.

Onhelder? Sy staar na die namiddaglig wat uit die westelike venster van die vertrek tot teen hul knieë opstoot en op hul bruingebrande gesigte onder die swart kuiwe gloei. Dis of hul gespierde liggame saam met die instrumente tril en sing terwyl hulle hul inleef in die musiek.

Hulle is helder mense, weet sy vir seker. Sulke klanke kan g’n mens optower as jy nie mooi van binne is nie. En nog nooit het een van hierdie drie broers iets gedoen wat nie getrou was aan wat Debora Schlagerfeldt hulle geleer het nie. En dit is lojaliteit en integriteit. Ook die parmantige hardekwasgeit is eie aan hulle. En dit kan immers vergewe word. Dis dalk ’n manier om ’n diepliggende hartseer te bedek, so het haar ma jare gelede al gesê. Nou begin sy dit self insien.

Sy kyk weer speurend na die drie broers. Erik met sy seunsagtige, dog ernstige manlikheid, die lyn van sy pols wat die strykstok vashou onverwags delikaat. Heinrich weer, lyk stroef soos wat hy konsentreer en sy skouers wieg liggies heen en weer saam met die skone musiek. Maar Marnitz, merk Margot op, lyk skoon anders in die sagte laatlig. Sy donker kop is skuins geboë asof hy oor ’n wiegie buk, sy elmboog soepel en sensitief gelig. Hy bespeel sy tjello met die vereiste gladde egaligheid van beweging wat die instrument vereis. Maar tog met ’n driftige sjarme wat Margot geweldig boei. Sy oë is halfpad toe van genot. Dit skiet haar te binne dat dit omtrent die enigste tye is wat sy dink sy hom kan lees. Sy gelaat is, ten spyte van die graad van konsentrasie wat hy moet uitoefen, oop en ontspanne. Hy lyk byna weerloos. Tog weet sy dat hy dit allesbehalwe is.

Hy is Marnitz Schlagerfeldt. Net so formidabel as wat sy naam klink. Iemand na wie mens intuïtief opsien. ’n Mens wat ’n sekere teenwoordigheid het wat nie sommer platgepraat of geïgnoreer kan word nie. Of jy nou van hom hou of nie. En daar is mense wat gou is om te sê hy handhaaf ’n te groot afstand tussen hom en ander mense om ooit regtig gewild te wees.

Margot voel moeg gedink oor hom. Mens sal hom seker nooit uitpluis nie. Buitendien praat hy van weggaan oorlog toe. En Londen is vrek ver.

Sy verskuif haar blik traag na Erik wat met karakteristieke energie speel. So asof hy met mag sy dinamiese tipe plofbaarheid moet onderdruk wanneer hulle die meer gedrae gedeeltes speel. Erik, wat so verlief is op ’n onderwyseres. Toe het hy nog boonop eergistermiddag die voordeur oopgemaak toe reverend John Williams by herr Dieter kom besoek aflê het. Want al is die Schlagerfeldts nie van sy kerk nie, kom hy buitendien.

Erik het die man stotterend maar hoflik na die gastevleuel begelei en met ’n hoë kleur teruggekom kombuis toe waar hy en Margot soos die meeste ander middae dié vakansie gesit en ginnegaap het.

“Herr Dieter Schlagerfeldt is seker bo aan sy siekelys,” het Erik net gesê toe hy weer reg oorkant haar gaan sit.

“Dan’s dit mos gaaf dat hy kom,” het Margot verveeld gesê en ’n soetkoekie in haar tee gedoop, gemaak of sy nie sien hoe rosig sy gesig is nie.

“Help my nog niks,” was Erik se reaksie. “Hoe gaan ek ooit by sy suster uitkom?”

“Jy gaan nie,” het Margot onsimpatiek geantwoord. “Sy’s buite jou liga, Erik. En dit help nou veel dat jy jou verknies omdat jou broers elke vakansie by meisies van hul eie portuurgroep kuier.”

“Dis net omdat jy nog nooit verlief was nie, Margot. Nou begryp jy nie dat mens nie hierdie ding kies nie. Dit kies jou. Dis soos dit is.”

“Omdat dit nie anders is nie,” het sy gekoggel.

Hy het verwytend oor sy koppie tee na haar gekyk.

Sy het haar tong geklik omdat sy wragtie nie geweet het wat om te antwoord nie. Want dit was waar. Sy was nog nooit verlief nie. Nie waarvan sy weet nie. Nie as dit is soos wat Hantie-hulle vertel dit is nie. Dat jou kop anders werk as wat dit gewoonlik werk. En daar het sy nog altyd gedink dis iets van die hart. Wys jou net.

Sy het opgegee. Die ongeluk is dat sy hom glo. Sy was nog nooit verlief nie.

En as sy Erik nou so sien viool speel, kan sy dink hy is gemaak vir die verhoog en sal net deug as eerste violis in ’n simfonieorkes. Bedrieglik, want hy wil glo boekhou of so iets gaan swot sodat hy die winkel kan uitbrei. Maar of hy in dié tyd sal universiteit toe gaan, is ’n vraag.

Margot voel haar voorkop in ’n frons saamtrek. Dis die kern van die probleem. Hare ook. Dat daar ’n oorlog uitgebreek het.

Want dis vandat die oorlog uitgebreek het dat mense nie baie praat oor wat hul toekomsplanne is nie. Dis of die hele dorp nou versigtiger dink. Of dalk hul gedagtes wegsteek. Dis soos dit voel. En baie manne praat van aansluit en oorlog toe gaan. By die kerk praat hulle daarvan. In Eisenstein se winkel. Selfs in Debora se winkeltjie druk hulle met hul elmboë teen die smal toonbank aan wanneer hulle vir hul vrouens en kinders lekkernye koop en wonder gedemp of Suid-Afrika ooit gereed is vir oorlog. Smiddae teen rooiskemer staan hulle twee-twee of in groepe op straat daaroor en stry.

Wanneer sy en haar ma, en soms Debora en die seuns ook, in hierdie lekker soel weer teen sononder af dam toe drentel om ’n bietjie lug te kry, waai die flarde van gesprekke na hulle toe aan.

“Nee, nooit. Ek’s g’n ’n Smuts-man nie.”

“Ja-nee, oor my dooie liggaam sal ek die Engelse gaan help.”

“Nee, manne. Wat van as dit nou ’n geval van oorlewing word?”

“Sal g’n! Dis praatjies. Ons lê te ver suid.”

“Jy droom, dinge begin al klaar hier gebeur. My neef weet te vertel daar’s reeds planne om fabrieke te omskep.”

“Om te wat?” Uitdagend.

“Om alles te vervaardig, man. Om voorsiening te maak vir net mooi alles. Van kos tot koeëlvaste bande, alles wat ’n leërmag nodig het.”

Soms gaan hulle klompie stilstaan by sulke praters. Ander kere hou hul liewer verby. Die onderlinge onmin maak mens bedruk.

Die musiek sny opeens dwarsdeur Margot se malende gedagtes. Dis so goddelik mooi dat daar warm trane in haar oë opdam. Gelukkig kan sy dit vinnig wegvee sonder dat hulle sien want hul oë is op die bladmusiek voor hulle.

Sy probeer haar weer by die musiek bepaal. Maar haar gedagtes glip by haar verby anderplek toe. Want sy is ten diepste omgekrap. Oor die broers wat so hartverskeurend mooi speel, omdat sy weet dat hulle sal weggaan. En omdat sy nie weet of sy ooit sal weggaan nie.

Waaroor sy haar ook kwel, is haar ma wat in die laaste tyd trietsig voel. Elke middag moeg. Hoofpyn. Kortasem.

Debora raak al hoe meer welsprekend daaroor. “Gaan dokter toe, Susan. Laat Marnitz of Ou Dok kyk.”

Margot begin dink Debora is reg.

Die strykmusiek sterf weg en die drie broers kyk afwagtend na haar. So asof dit saak maak, dink sy glimlaggend, maar klap ewe deftig met die een hand se vingers in die ander se palm.

“Pragtig, hoor.”

“Dankie,” koor hulle in hul skik.

“Luister nou na dié verwerking van ‘Stille nag’,” sê Marnitz. Hy val eerste weg met die diep, sonore klanke van sy tjello. Toe val die ander twee met die viole in en haar keel wil toesnoer.

Dis nou van die Schlagerfeldts. Hulle kan wraggies soveel emosie in hul musiek blaas dat mens ontydig wil tjank. Waar hulle dié talent vandaan kry, is ook ’n geheim. Want andersins is hulle mos die ene kasuele berekendheid. Veral die twee oudstes. So asof hulle die lewe netjies vasgevat het en hul greep nooit gaan verslap nie. Met hulle soort sukses is dit seker moontlik. Marnitz wat ’n dokter is en Heinrich wat op sy loslitmanier uiteindelik ook suksesvol is met sy regstudies. ’n Ysigheid vou om haar hart. Maar nou praat hy én Marnitz van oorlog toe gaan. Dis die oorlog en dis Erik wat op ’n ouer vrou verlief is en dis Heinrich wat die Jodin wil hê. Dis heeltemal te veel.

Sy skrik op toe daar ’n stilte val en sien dat hulle na haar staar. Besef dat haar wange nat is. Sy weet dit sal nou nie help om voor te gee nie. Sy vee met haar handpalms oor haar wange. “Sien, julle doen dit aan ’n mens.”

“Mooi,” sê Marnitz onbewoë. “Dan speel ons reg.”

“Nou goed, dan waai ek nou,” sê Heinrich, “want ek het ’n afspraak met Hantie.”

Margot se mond val oop. Wat dan van Rebekka Eisenstein na wie jy skromeloos in haar pa se winkel staar? wil sy vra. “Van wanneer af?” glip dit uit. En toe onverhoeds: “Jy weet haar pa is ’n Hertzog-man, nè?”

Marnitz kom orent van waar hy sy tjello in sy kas sit, kyk afwagtend na sy broer.

Heinrich trek skouers op. “Van wanneer af is dit jou besigheid?”

Margot rol haar oë. “Dit is nie. Maar jy weet hulle sit nie meer langs ons in die kerk nie, nè?” Toe merk sy hoe stil dit tussen die broers geword het. “Het ek nou iets verkeerds gesê?”

Heinrich bly botstil, bêre ook sy viool in sy kas en knip dit luid toe. Erik loer net grootogig na haar. Dis Marnitz wat sê: “Nee wat, Margot. Wat mens deesdae ook al sê, sal wel iewers verkeerd opgeneem word, maar nie in hierdie huis nie. Sê my, wat dink jy van die oorlog?”

Dis of die vraag haar brein oopspalk. Sy kan byna voel hoe vinnig sy dink en sif tussen al die feite wat sy deur die koerante en die draadloos bymekaargemaak het. “Wel, ek dink dit sal net reg wees om Hitler in sy spore te stuit. Klink my hy wil die wêreld oorneem. Dus stem ek saam met die Geallieerdes.”

Sy is net betyds om die tevrede glinstering in Marnitz se oë te sien voordat hy omdraai en uit die vertrek loop.

Dis Heinrich wat haar steeds nadenkend aankyk. “Besef jy dat daar mense gaan doodgaan, Margot?”

Haar bene voel lammerig maar sy kyk hom vreesloos aan. Knik toe. “Ek het dit moontlik tevore nie so goed besef nie, Heinrich. En ek is jammer as Hantie se mense anders dink as jy … as julle …”

Hy sug, kom nader en druk haar skouer. Sy hand voel warm en sterk deur die dun katoenbloes. “Dis nie jou skuld nie, Margot. Eintlik weet ek Hantie se pa gaan my heel moontlik die jaart belet.” Maar hy klink min gepla.

“Wat gaan jy dán doen?” wil Erik nuuskierig weet.

“Dieselfde as jy, broer.”

“Wat bedoel jy?”

“Aanhouer wen.”

Daar sak ’n stilte. Erik sal sowaar lank moet uithou, dink Margot half mismoedig. Heinrich dalk ook. Dis nou as hy regtig vir Rebekka wil hê terwyl hy voorgee om Hantie te begeer.

“Nou ja, dan gaan ek nou.”

Dis toe dat Erik haar eenkant toe wink. “Ek wil vir jou iets op die grammofoon speel.”

“Wat?” vra sy nuuskierig, want gewoonlik luister hulle net van die klassieke plate wat nog ou mevrou Schmidt s’n was.

Maar Erik antwoord nie, haal net twee plate van agter die Bechstein uit. Sy hou hom afwagtend dop toe hy die een plaat opsit en die armpie lig om die kopernaald sekuur op die buitenste randjie van die swart plaat te plaas.

“Dis David de Lange,” fluister hy byna eerbiedig. “Maar my ma sal die piep kry.”

“O, ek weet!” lag Margot maar gaan sit om te luister. Sy weet mos van hierdie De Lange-ou en sy orkes Die Naglopers wat sulke lekker musiek maak. Sy eerste liedjie “Waar is moeder?” het opslae gemaak en honderdduisende daarvan is verkoop. Almal weet dit en die man ry glo ’n peperduur kar met sy naam aan die kant gegraveer. Maar sy weet ook niemand praat hard oor hom nie want hy het glo ’n buite-egtelike kind en hou van hardehout en baie meisies.

“Luister nou na ‘Suikerbossie’,” glimlag Erik.

“Ja, dis mooi,” moet sy toegee toe die lekker liedjie klaar gespeel is.

“Ek weet dis al in 1937 die eerste keer gesing, maar ek kan nou eers die plaat bekostig.”

“Met wat nogal?”

“Tj! Ek werk ook Saterdae in die winkel, Margot. Dis nie net jy wat betaal word nie.” Hy lyk sowaar opgeruk. “En buitendien,” sê hy doodernstig, “nou kan ek die liedjie se woorde uit my kop leer en dit sing. As dit oor die draadloos speel, gaan dit te vinnig.” Hy aarsel ’n bietjie, toe sê hy: “Ek het nog iets ouliks.”

“Soos wat?”

“’n Kamera.”

Hy haal dit uit die buffet se laai. “Kyk, dit was my pa s’n. Stokoud, maar Eisenstein sê hy sal nog goeie foto’s neem. Dis ’n Kodak Six 16 Brownie.”

Sy kyk na die vierkantige swart boksie in sy hand en glimlag gelate. “Nou toe, neem af as dit jou so interesseer.”

“Goed, ek dink daar’s nog twee foto’s op die film oor. Toe, loop staan daar by die venster.”

Sy maak so, staan só dat die lig uit die eetkamervenster op haar gesig val. En sy glimlag. Maar haar gedagtes dwing al weg na Marnitz wat wou weet wat sy dink.

Kliek. Kliek. “So ja, nou kan ek die film gaan ingee dat dit ontwikkel kan word.”

Sy loop later traag terug huis toe, vergeet geheel en al van die fotonemery. En sy tref haar ma in die eetkamer aan, blaai-blaai in ’n Huisgenoot wat sy seker vandag by Debora moes gekry het. Sy lyk heel goed, maar die moeë trekkie om die bleek mond pla tog.

“Hoe voel, Ma?”

“Beter as gister, Margot. Ek dink dis maar die jaareinde se vermoeienis.” Sy glimlag flouerig. “Maar ek sien uit na die Oujaarsparty op Bloukrans.” Sy vryf met haar handpalm oor haar gesig. Sug ligweg.

“Ja, ek hoop dit gaan lekker wees,” sê Margot. “Noudat almal ’n opinie oor die politiek het, wonder ek mos.” En sy sien hoe haar ma se gesig val.

“Ek’s nie lus vir ingewikkeldhede nie, Margot. Al die onderstrominge irriteer my. Ek dink buitendien dit begin by baie mense insink dat die Schlagerfeldts nie Duitsgesind is nie.”

“Wat hulle weer in ander kringe ongewild maak.”

“Vir seker. Maar dis nie ons probleem nie. Hulle was buitendien nog nooit baie populêr nie. As jy hulle nie ken nie, sal hulle altyd vreemd voorkom, dis seker.”

Margot peins ’n rukkie daaroor. Loop maak vir hulle elk ’n koppie flou tee met ’n skeutjie melk in. Kom terug met die twee dik porseleinkoppies. Sy gaan sit oorkant haar ma en hulle teug rustig.

“Dink Ma dis net Smuts-mense wat by die holkransparty gaan wees?”

“Dit klink so. Maar Margot, maak jou klaar vir vreemde dinge.”

“Waarom is ek nie verbaas nie?” Sy kan dit nie verhelp om sarkasties te klink nie. Dis of die wêreld op sy kop omgekeer is.

“Nee, ernstig nou.” Susan sit haar koppie klinkend in die piering neer. “Daar is reeds stories wat loop dat mense op ander spioeneer.”

Margot stort ’n blerts tee in haar piering. “Hoe so?”

“Ag, jy weet so goed soos ek van die Ossewabrandwag, al praat ons nie aldag daaroor nie. Die OB, soos party dit sommer noem.”

Margot kan net knik. Sy weet, soos almal wat koerant lees en na die draadloos luister, dat daar pro- en anti-Nazi-faksies is wat nie sal huiwer om mekaar sterk te opponeer nie. Dis net dat sy nie regtig wil weet nie. Hierdie dinge gaan inmeng met haar planne vir die toekoms.

Asof Susan haar gedagtes lees, merk sy op: “Ja… Of ons dit wil weet of nie, hier is al lankal in ons land dieselfde anti-Joodse boewery as in Nazi-Duitsland. Mense wat weet, sê dat die polisie plek-plek die Naziisme en die nasionale Afrikanerdom simpatiekgesind is.”

“Maar ons is tog ook Afrikaans?” Haar stem klink dun soos ’n kind s’n.

“Ja. Sal altyd wees, ten spyte van ons Engelsklinkende van. Maar Margot, Jan Smuts is reg. Ons moet hierdie oorlog saam met die Engelse veg.”

Debora en seuns

Подняться наверх