Читать книгу Die kind uit die wingerd - Helene de Kock - Страница 4
HOOFSTUK 1
ОглавлениеDIT WAS 1918 se herfs. Tog voel dit soos gister. Daardie okergeel middag toe Carijn die seuntjie deur die wingerd sien aankom. Luiters loop hy, asof hy dit elke dag doen. Arms swaaiend soos wat hy stap. Toe sien hy haar ook. Loop stadiger, meer stokkerig, of hy al hoe verder al hoe banger word.
Carijn onthou dit goed. Sy is nou, meer as twintig jaar later, steeds bly dis sy wat hom eerste in die steenwingerd gesien het. Hom blywend só kan oproep.
Die dekades kon niks van daardie dag werklik uitwis nie. Dié besef bring soms trane in haar oë. Nou nog ontroer dit haar. Delf die oomblik toe sy hom gewaar het, diep in haar gemoed, ontbloot ’n emosie waarvoor sy soms skrik. Dis ’n kragtige stroom wat haar kan wegvoer.
Sy het daardie Sondag in die wingerd oorkant die Eersterivier gespeel. Vredenhoek se huis naby, net oor die houtbruggie, en sy kon die grootmense op die stoep hoor gesels en die ander kinders sien waar hulle toe op die grasperk probeer handstande doen het.
Met die jare saam het dié herinnering allerlei skakerings en indringender assosiasies gekry. Sy wonder deesdae of haar kop nie soms detail byvoeg nie. Selfs besonderhede verwar nie. Soos die kleur van sy baadjie. Was dit roesbruin, soos die wingerdblare? Was sy stofvaal broek lank of tot op die knietjies?
Onthou is moeilik, want tyd trap spore daaroor. Al is sommige dinge in haar hart ingebrand.
Sy, wat al dagdromend met die ry rooibruin wingerdstokke aangeloop het tot die paadjie kleiner word daar naby die draad. Die ander kinders agter op die groot grasperk se skril uitroepe, terwyl hulle begin vroteier speel.
Toe dié vreemde kind wat na haar toe kom, al hoe nader. Die son blink op sy swartdonker hare, gloeiend op sy ligte vel. So asof hy uit ’n lugkasteel te voorskyn kom. Sy knip haar oë stadig. Frons. Kyk weer. Hoor die grootmense steeds ver weg op die stoep praat en lag. Maar die kind kom tree vir tree. Eers sê sy niks, want miskien kyk sy regtig verkeerd. Toe begin sy hom stadig tegemoet loop met die mildheid van die roesgeel herfsdag om hulle.
“Carijn?” hoor sy haar ma roep. “Waar is jy?”
“Ekke kom nou-nou!” skree sy oor haar skouer en loop vinniger.
Die seuntjie is nou amper by haar. Carijn dink hy is bietjie kleiner as sy. Sy is al vier. Toe gaan staan sy en kyk weer om, al met die wingerdry af. Sy kan die wit opstal deur die rooibruin lote uitmaak. Die grootmense het almal uit hul stoele opgestaan. Hul lippe beweeg.
“Wag!” skreeu haar pa.
Oupa sê ook iets in sy dik stem. Haar ma se stem en tant Miemie s’n weerklink oor die werf.
“Carijn!” roep almal naderhand. “Wag!”
Maar sy gaan nie wag nie, want hy het nou vasgehaak. Seker omdat hy bang is vir die raserige stemme. Carijn ken ’n bang diertjie as sy een sien. Die nuwe gemmerkat wat haar ma vir haar gegee het, was ook eers só: vassteek-vassteek voor hy nader kom.
Carijn loop versigtig tot by hom. Haar skoensole skuur saggies oor die grond. Die kind se groot blou oë staan stokstyf op haar. Sy swart kuif hang oor sy wit voorkop en sy mond is effens oop. Sy asem kom rukkerig. Carijn steek haar hand uit en vat sy vingers fyntjies vas.
“Dag,” fluister sy, bang dat hy sal weghol, want dis wat Gemmer gedoen het toe sy kliphard bly was oor hom.
Die seuntjie knik sy kop.
“Wat’s jou naam?” hou sy aan.
Hy lig sy bewende voorvinger en wys na die papier wat met ’n haakspeld aan sy baadjie vasgemaak is.
Maar Carijn kan niks uitmaak nie. “Sê jou naam,” praat sy mooi. “Ek kan nog nie lees nie. Maar Cecil kan miskien al ’n bietjie lees. Toe, sê …”
“Laurens,” fluister hy en lek oor sy lippe. Sy broek beef.
“Jy moet niks bang wees nie, Laurens,” sê Carijn, maar voel ’n skielike huil in haar keel prik.
Toe hoor sy die doef-doef van voete oor die houtbruggie. Die grootmense is in ’n bondel op hulle en Laurens raak so stil soos ’n houtpop. Maar sy dringende oë hou hare gevange.
“Seun, waar kom jy vandaan?” dreun haar oupa Fritz den Hagen se stem deur die Sondag se mooi.
Carijn se ma kom hurk fronsend by die kind. Slaan haar hand voor haar mond en wys na die papiertjie op sy bors. “Hy is Laurens Erasmus. So staan dit hier.”
Die papiertjie word deur al die grootmense van naderby bekyk.
“Pfffft. Dis mos twak,” kom oom Peet Erasmus van Bontevlei tussenbeide, “ons en Vredenhoek se mense is die enigste Erasmusse hier rond.”
“Dalk is hy nie van hier rond nie,” antwoord oupa Fritz bedaard. “Seun, sê tog waar jy vandaan kom?”
Sonder om Carijn se hand te los, wys hy met sy voorvinger terug na die nou paadjie tussen die wingerdrye. Die grootmense kyk vir mekaar. Die ander kinders wat op die grasperk gejol het, het ook bygekom. Hulle loer om die grootmense. Cecil Erasmus van oom Janus Erasmus en ’n paar buurseuns wat in die loop van die middag bygekom het. Almal se oë is groot. Van dié wat Carijn goed ken, is dit net Cecil wat oopmond na die seuntjie staar.
Dit word kerkstil daar in die wingerd. Die najaarsbries blaas liggies droë blare grond toe.
Toe stoot oom Peet sy asem uit met ’n luide “pfffft”. Buk om die haakspeld met die papier versigtig los te maak en weer te lees. “Laurens Erasmus,” sê hy stadig en maak keel skoon. “En dan ook ‘21–11–1912’. Seker sy geboortedatum. So, hy’s sowat drie en ’n half.” Hy kom stadig orent en draai na sy broer Janus Erasmus wat roerloos eenkant staan. “Wel, wat doen mens nou?”
Oom Janus lyk of hy nie weet nie. Hy kyk na die seuntjie en trek sy skouers op. “Waar gaan jy heen, Laurens?” vra hy toe maar.
Dit lyk of dié Laurens mik om om te draai. En weg te loop. Of so iets. Hy gee ’n kort treetjie nader en kyk tussen die mans se bene deur na die Kaaps-Hollandse huis agter hulle waarvan die wit mure tussen die rooibruin blare sigbaar is. Toe lig hy weer sy vinger en wys soontoe.
“Liewe Vader,” sê Carijn se ma kopskuddend. “Mens sal padlangs moet gaan kyk of die ouers, of wie ook al, nie iewers is nie. En of daar iemand is wat ten minste iets wéét.”
Oom Peet en oom Janus Erasmus se vroue lyk of hulle ’n spook gesien het. Hulle praat niks.
“Ek glo mos nie … ” sê oupa Fritz den Hagen en streel ingedagte oor Carijn se hare. “Iemand, lyk dit my, het die kind wel gestuur. Hier na Vredenhoek toe gestuur. Moes hom daar anderkant,” en hy wys Helderberg se kant toe, “afgelaai het. Langs die pad oor die draad getel het die steenwingerd in.”
Oupa se woorde hang swaar in die lug. Carijn wag dat dit soos reëndruppels moet neerplof. Want almal is stil. Niemand beweeg eens nie.
“Seun,” probeer Carijn se ma weer, want oom Janus se vrou en ook oom Peet se vrou bly net onbegrypend staar. “Seun, waar kom jy vandaan?”
Maar hierdie kind bly net aandui dat hy van diep uit die wingerd kom. Eintlik beduie hy net heeltyd met die voorvinger oor die skouer agtertoe. Verder niks.
Nou nog onthou Carijn dit die helderste. Daardie blouselblou kyk van hom en die vingertjie wat oor die skouer wys.
Die grootmense het oplaas ’n besluit geneem. Synde sonder raad met ’n kind wat uit die niet verskyn en so ewe hul van dra. Boonop met net so ’n donkerkop, soos al die Erasmusse. Dieselfde hoë patrisiërneus ook.
Ná kort oorweging vat die grootmense vir Laurens na Vredenhoek se herehuis. Want waarheen anders tog? Maar dit is oupa Fritz wat die seuntjie in sy arms optel en hom sag paaiend oor die brug na die opstal dra. Oom Peet Erasmus en oom Janus Erasmus loop swyend agterna. Oom Peet maak weer “pfffft!”. Oom Janus brom iets wat Carijn nie kan uitmaak nie. En hul vroue begin fluister.
Eers toe oupa Fritz hom op die stoep neersit, praat die kind weer. “Blijf met mij,” het hy hardop gesê.
Bly by my? Oom Peet en oom Janus het albei die koppe opgeruk en lank, woordeloos na mekaar gestaar.
Toe kom tant Miemie van oom Janus en tant Susan van oom Peet by en kyk weer lank na Laurens. Tant Miemie het omgedraai en die huis ingeloop, al roepende na Shaleen. Haar stem was skril. Toe Shaleen van die kombuis se kant af uitkom, het tant Miemie net gesê: “Vat tog die kind en gaan was hom. Sit hom in die klein spaarkamer daar langs Cecil se kamer. Kom, vát hom net.” En toe eers: “Asseblief. En jy moet hom seker iets gee om te eet.”
Shaleen het haar hande stadig na hom toe uitgesteek en Laurens het ewe gewillig na haar toe gegaan. Niks gesê nie toe sy met hom die huis in loop, terwyl sy in haar lae stem sing. Later het Carijn gehoor dat sy vir hom ’n bakkie vol melktertvulsel gegee het.
Al die ouers het terstond na hul kinders begin roep.
“Huis toe nou,” het Carijn se pa gesê. “Dan groet ons maar eers en dankie vir die tee en koek, Janus en Miemie.”
Almal het mooi gaaf gegroet, asof daar dié middag net ’n verdwaalde brakkie by die huis aangedrentel gekom het.
Toe Carijn op pad terug Houwhoek toe begin vrae vra, is sy stilgemaak. “Nee, Carijn,” het haar ma streng gesê, “nie nou nie. Ons grootmense is nou besig.”
Besig was hulle wel. Later sou Carijn goed onthou hoe daar die middag en in die volgende dae na Laurens Erasmus se ouers, of enigiemand van hom, gesoek is. Want mense het gepraat daaroor. Oral het hulle sy spoor probeer vind. By die plase oorkant die stofpad en doer naby Helshoogte ook. Net op dié drie plase, Vredenhoek, Houwhoek en Bontevlei, is daar nie rondgevra nie, want hulle mense was mos almal by oom Janus-hulle op die plaas toe die kind opgedaag het. Maar die soektogte en speurwerk was verniet. Daar was niemand in die distrik of in die dorp wat enigiets van die kind geweet het nie.
Dominee Verster van die moedergemeente het ná ’n ruk Vredenhoek toe gekom. Hy het ook ’n ander leraar uit Kaapstad saamgebring. Hulle twee het alleen met oom Peet en met oom Janus in die sitkamer van die herehuis op Vredenhoek gesels. Dit het Carijn jare later eers gehoor toe Shaleen dit onnadenkend laat val het. Waaroor hulle gepraat het, weet sy tot vandag toe nie.
Besluite is geneem. Laurens Erasmus het op Vredenhoek by Janus Erasmus-hulle kom bly. Sondae se kuiers tussen die bure het hervat. Vakansietye is Laurens weer na Peet Erasmus en sy gesin op Bontevlei. Ter afwisseling, het tant Miemie dan koel beduie aan almal wat ’n vraag daaroor gehad het. Tant Susan het hom ook altyd heel rustig ontvang. Maar nie een van die twee Erasmus-vroue het Laurens Erasmus ooit werklik by hul binnekring ingetrek nie. Geoefen geraak in voetwerk al om die onderwerp. Dit kon Carijn as dogtertjie aanvoel.
Noudat sy ’n grootmens is, kan sy dit al onder woorde bring. Laurens is die een wat naby is, maar steeds buite bly. ’n Gas wat nie weer vertrek het nie. Familiefoto’s op Kersfeeste en verjaardae is jare lank sonder hom geneem. Totdat albei Erasmus-broers hul stem eenkeer daaroor dik gemaak het. Sedertdien word familiefoto’s eers met Laurens en dan sonder hom geneem. Daaroor word Carijn steeds vies. Hy is derhalwe iemand wat soort van geliefd is, maar tog nie volwaardig aanvaar word nie. Hoe werk die ou mense se koppe dan? Wanneer gaan Laurens Erasmus geheel en al ingetrek word? Sy sien geen tekens dat dit binnekort gaan gebeur nie. Miskien verwag sy te veel. Omdat sy so diep omgee.
*
“Nou só is dit dan, Ben,” het oupa Fritz eendag droogweg gemeen toe Carijn se pa daaroor ’n opmerking gemaak het. “En só sal dit bly. Dis nooit maklik om ’n bestaande orde om te krap nie, moet jy weet.”
“Maar dis nie reg teenoor Laurens nie,” het Ben den Hagen gesê. “Mens aanvaar iemand of jy aanvaar hom nie.”
“Dis soos jy daar sê,” was oupa Fritz se enigmatiese antwoord. “Ons sal moet besluit waar ons staan. So ’n ding dwing mens om kant te kies.”
Haar pa het verder stilgebly. Net afwesig dankie gesê vir die middagete en uitgestap kelder toe.
Toe hy uit was, het haar ma opgemerk: “Ja, dit is en bly ’n moeilike saak. Die arme Miemie en Susan. Waar steek mens jou kop in?”
Carijn onthou verder hoedat almal in die distrik en die dorp bly praat het oor die kind wat so deur die wingerd die Erasmusse se lewe binnegekom het. Hulle het op die sypaadjies staan en fluister en ná kerk in die skadu gepraat. Eers maande en toe jare lank. Wel met tussenposes. Want die ding van ’n kind wat sommerso uit die lug uit val, bly ’n goeie storie wat telkens opduik. Een wat mens oor en oor wil vertel. Dis raaiselagtig. Vreemd sprokiesagtig.
Ná Carijn graad gekry het en ook haar onderwysdiploma, het sy haar bes gedoen om dié saak vir haarself uit te lê. Veral noudat sy al ’n jaar op Bethlehem skoolgehou het, kon sy as ’t ware meer afstand op die gebeure kry. Nie dat dit regtig vir haar duideliker geword het nie. Nogtans is dit tot in hierdie smoorwarm Desember van 1938 vir haar ’n onderwerp wat sy nie kan wegdink nie. Sy bly dit analiseer, onmagtig om dié probleem en ook die onderliggende probleem van haar diepe omgee van haar af te skuif.
Vandag is een van daardie dae wat Carijn den Hagen tot in haar siel toe moeg word vir mense se onblusbare nuuskierigheid oor ander se dilemmas. So pas is sy weer deur ’n wynboer se vrou voorgekeer.
Carijn het bloot vir haar ma ’n bietjie asyn, koeksoda en suiker kom koop toe die vrou na haar kant toe oorleun: “Ja, nè, ek sien nou die dag daardie mooi seun, die aanneemkind van die Erasmusse, hier in Dorpstraat loop. So ’n aantreklike man, nie waar nie?” En toe daar geen reaksie kom nie: “Hulle hét hom wel aangeneem, of hoe?”
Carijn het vir haar aankope betaal en koel na die vrou gekyk. “Ek weet nie, Tante. Ons is net buurmense.”
“Ja, maar tog. Mens wonder mos.”
Dis toe dat Carijn omdraai en uitloop, die ou woede oor dié woorde ’n drif in haar wat haar hande laat bewe sodat sy die mandjie met goed stywer moet vashou tot sy dit in die motor kan sit.
Haar pa, wat agter die stuur vir haar wag, kyk skuins op toe sy die deur toeklap. “En nou?”
“Ag, al weer mense wat karring oor Laurens se kom en gaan.”
“Gedurig, ja,” knik haar pa en swyg verder.
Waaroor Carijn verlig is. Want die kousaliteit van die geval Laurens Erasmus word selde heeltemal deur die gemeenskap geïgnoreer. Inteendeel. Carijn se ingesteldheid daarteenoor is dan altyd logies. Want daar is mos altyd oorsaak en gevolg. Só gaan dit met tye vandag nog. Soos iets wat met ’n seestroom saamdryf en skielik op ’n strand uitspoel. Dan kom almal kyk. Tot die see dit weer vat en elders uitspoeg.
Bowenal wonder sommige mense steeds wie vir die kind se bestaan verantwoordelik is. Dis seker menslik. Maar vermoedens is een ding, feite ’n ander. Skinderstories trek egter nog altyd. Dog, niks word uitgespel nie. Geen vinger het ook destyds openlik gewys nie. Daar is immers so iets soos laster. Dit was nog nooit wys om gesiene mense se reputasie aan te tas nie. En die Erasmusse was en is vooraanstaande mense. Welaf ook. Mense wat knus by die boonste lae van die samelewing inpas.
Tog. Mens kon nie help om te bly wonder nie. Die kind is as ’t ware na die Erasmusse gestuur, dan nie? Die beroering was en is meer oor die ma en dan die hoe en die waarom – en veral die wanneer.
Carijn kan nie verhelp om daardie tyd op te roep nie. Want sy moes daarmee grootword. Dit het deel van haar bestaan geword – om te wonder oor Laurens Erasmus. Terwyl haar pa op sy besadigde manier plaas toe bestuur, skeer haar blik oor die geilgroen wingerde. Maar die hele gedoe om Laurens bly in haar kop maal.
Dikwels het oë bespiegelend na die Erasmus-broers gedraai. Want was hulle dan nie destyds net voor die Groot Oorlog in Holland nie? Eintlik het hulle mos vir ’n familiebegrafnis gegaan en toe ’n hele paar maande gebly. Glo rondgekuier en allerlei interessanthede aanskou. Wat alles daar gebeur het, weet mens nie. Daardie tyd moes oupa Fritz en haar pa bontstaan om op die buurplase te help toesig hou.
Nederland was mos neutraal toe die twee Erasmusse in Amsterdam en Leiden loop kuier het. Hulle het glo familie in dié universiteitstad ook. Peet het hoeka toentertyd teruggetrokke daarvandaan teruggekom en Janus met ’n vlambare humeur. Sulke kuiers maak mos plek vir stories. En dié ding dat die Erasmusse die kind ingeneem het en nie Janus of Peet Erasmus ooit ’n woord oor hom uit hul mond laat kom nie. Hul vroue nog minder.
Carijn het met die jare saam wyser geword en soms gevoel mense praat aspris voor haar en haar ouers oor Laurens om die een of ander reaksie te ontlok. Wat hulle steeds nie regkry nie, want die Den Hagens was nog altyd uiters lojaal teenoor die Erasmusse.
“Mens se vriende is jou vriende,” sê Carijn se pa meermale. “Mens praat voor hulle, nie van hulle nie.”
Voor Carijn se oupa sal hulle ook nie te veel vis nie. Fritz den Hagen duld nie skinderpraatjies nie.
Carijn sug diep toe hulle stilhou, vra haar pa of hy nie die mandjie binnetoe sal vat nie. Sy wil gou afgaan rivier toe.
“Ek maak so, my kind. Sorg dat jy sononder tuis is.”
Altyd is dit sy woorde. Sy knik en verdwyn haastig tussen die wingerde, kry die oorbekende paadjie wat afloop Eersterivier toe, kry die klam geur van die water nog voordat sy dit sien. Toe sy eindelik op die plat rots naby die houtbruggie gaan sit, haar tone in die koel bruising, wil die verlede haar nie los nie. Miskien is dit omdat dit die laaste maand van die jaar is dat ou dinge boontoe kom, soos druiwedoppe in ’n wynkuip. Sy maak haar oë toe, lig haar gesig na die koelte van die bome bokant haar. Gee haar oor aan die onthou, sodat haar gedagtes versigtig oor die jare kan tas.
Die Spaanse griep het destyds gekom en oom Peet se vrou Susan het in Februarie van daardie jaar daaraan beswyk. Ook Cecil Erasmus en tant Miemie van oom Janus het siek geword en by die dood omgedraai. Carijn is lank by die huis en uit die dorp gehou om dit vry te spring. Laurens het ook nie griep gekry nie.
Daar was ’n jaar se routyd ná tant Susan Erasmus se afsterwe. Oom Peet was dwalend. Sondae se kuiers was gedemp. Totdat tant Miemie haar suster Janetta uit die Riemland laat kom het. ’n Weduwee wie se man ook aan die griep dood is. ’n Paar maande daarna is Peet en Janetta getroud. Gaandeweg is die ewewig tussen die drie gesinne weer herstel. Janetta het haar met vriendelike beslistheid in die hegte vriendskapsverhoudings ingewig. Sy was nou die vrou van Bontevlei en ná ’n ruk het sy en Peet ’n dogter gehad, Minette. Carijn en Cecil het elk ook ’n nuwe sussie bygekry en algou het dié kleintjies ook Sondagmiddae op Vredenhoek die samesyn van vriende geniet.
Janetta het Laurens meermale geïnteresseerd betrag. Heel gemoedelik vir hom plek gemaak as dié Erasmusse saam met die ander Erasmusse op vakansie gaan. Die twee gesinne en ook die Den Hagens het huise in die Strand. Desembers trek almal af see toe. Jol sowat veertien dae in son en see voordat die plaaswerk weer begin. Dikwels vlug hulle ook vir ’n naweek of ’n kort skoolvakansie soontoe.
Teen die tyd dat die kinders begin opgeskote raak en Laurens al goed kon Afrikaans praat, het die grootmense die klompie kinders een Saterdag saamgevat na Kaapstad se hawe om te aanskou hoe die nuwe potketel, afkomstig uit die Cognac-streek van Frankryk vir die maak van brandewyn, per skip aankom. Dit was ’n hele okkasie. Die vroue het tot hoede opgesit. Op pad het oom Janus die drie kinders deeglik ingelig oor die belangrikheid van die potketel, want op Vredenhoek gaan daar nou brandewyn ook gemaak word. Laurens het wel geweet van die nuwe Franse eikehoutvate wat ’n paar maande tevore ook per skip aangekom het en met ’n wa en osse van die hawe na die plaas vervoer is. Toe al het oom Janus sorgvuldig aan die seuns verduidelik dat juis Franse eikehoutvate voorkeur geniet vir brandewynveroudering omdat dit ryk is aan tannien. En dit, het oom Janus met sigbare opgewondenheid beduie, versnel die verouderingsproses.
“Nou hoe lank moet die brandewyn dan in die vate bly lê, Oom?” wou Laurens dadelik weet.
Maar oom Janus het pertinent na Cecil gekyk toe hy antwoord: “O, sowat vyf tot tien jaar, sou ek sê.”
“Dan is ek al amper twintig,” het Cecil gemompel en na ver agter die ruit gestaar.
Dit was dié dag op pad na die Kaapse hawe dat Laurens ook uit die bloute gevra het: “Waarvan word brandewyn dan gemaak, oom Janus?”
“Goeie vraag. Hoor jy, Cecil? Dit word van wyn gemaak. Verkieslik steen- of fransdruif. Ons sal van die steenwingerd oorkant die rivier gebruik maak.”
Cecil het gehoorsaam geknik, maar geen kommentaar gelewer nie. Dit was oom Janus wat met ’n geïrriteerde skouerophaling verder uitgebrei het. “Hoor nou mooi,” het hy weer gesê en in die truspieëltjie van die Ford na die kinders geloer. “Ons op Vredenhoek gaan potketelgedistilleerde brandewyn maak want dis die rykste brandewyn. Dit het byvoorbeeld baie lae. Verstaan julle?”
Die seuns het byna onhoorbaar gebrom. Roelien was moeg en het met haar kop op haar broer Cecil se skouer gesit en slaap. Teen die tyd dat hulle die hawe bereik het, was die seuns ook al goed vaak.
Dit alles het Cecil aan Carijn met die volgende Sondagkuier, toe almal die nuwe koperpotketel kom bewonder het, oorvertel. Maar lusteloos en bloot omdat sy uitgevra het. Almal het tog geweet van die nuwe potketel wat sou kom.
“Was dit toe nou lekker om te gaan kyk?” wou Carijn by Cecil weet, want Laurens het nie daaroor gepraat nie. Hy het selfs koppiger as gewoonlik geswyg.
“Dit was nie vir almal lekker nie,” het Cecil geantwoord en Laurens het terstond koers gekies, die wingerd in.
Eers heelwat later het Carijn die hele storie uit Roelien getrek.
“Ek het hom jammer gekry, Carijn,” het Roelien gesê. “Laurens sukkel mos partykeer om, wel, om tussen mense te wees.”
Want Laurens, toe al amper ’n kop langer as Carijn, het die reuseskip in die hawe met sy rye ronde patryspoorte so gekyk, spierwit geword en terstond sy hele brekfis op die kaai laat uitspat.
“Wat is dit met jou?” het oom Janus ergerlik uitgeroep. “Mens kan jou ook nêrens heen vat nie.”
Wat nogal waar was, want Laurens Erasmus was op sy gelukkigste net daar op Vredenhoek. Met die potketel het hy daardie dag vrede gehad. Eers heelwat later het hy weer belangstelling daarin getoon. Moontlik toe hy al ’n bietjie van die see en die skip vergeet het.
Op Vredenhoek het hy aanvanklik in die plaasskool langs die Eersterivier skoolgegaan, smiddae saam met Cecil en Roelien gespeel en dikwels ook saam met Carijn en haar sussie Alexa. Hulle kinders het baie speelplek gehad. Die grasperke voor die huise, die rivier se plat rotse, die wingerde, die ou jonkershuis op Vredenhoek wat leeg gestaan het en waarvan die plankvloere so lekker weerklink as mens daarop spring. Hulle klomp het ook dikwels daar op haar pa se plaas Houwhoek gespeel. Die wynplaas wat so netjies in die V van die Erasmusse se twee plase inpas met die rivier wat vrygewig deur al drie plase vloei. Die herehuise naby genoeg aan mekaar dat die kinders van die wingerdpaadjies en die houtbruggie oor die Eersterivier gebruik gemaak het om oor en weer te kuier. Dikwels van Shaleen of Flori van Houwhoek se romerige melktert kom eet het.
So met die tyd saam het Laurens en sy onverklaarbare swye in die patroon van die lewe op die drie plase begin inpas.
Partymaal het die ander kinders Laurens gespot omdat hy so ’n stil kind was. In homself gekeer, al het hy saam met die ander gespeel. Dikwels vra een weer aartsnuuskierig: “Waar kom jy vandaan, Laurens?”
Dan antwoord Cecil van oom Janus nukkerig dog ferm: “Hy wil nie sê nie.”
En dan sê Carijn saggies: “Los hom. Hy weet self nie.”
Só het dit jare lank gegaan.
Maar lateraan het die teësinnige aanvaarding van die eenkantkind die vrae verdring. Veral toe hy later van tyd koshuis toe is en net naweke kon teruggaan na Vredenhoek. Op skool het hy leer skaak speel en later tot die onderwysers skaakmat gesit.
Namate die aanvaarding gegroei het, het Laurens sy voete vas en seker gevind. Op skool het hy goed gedoen. So goed dat hy ’n beurs verwerf het om regte te studeer. Nie wat hy wou doen nie. Hy wou wyn maak. Brandewyn ook. Maar regte is sy rigting, het die skoolhoof en oom Janus asook oom Peet soos een man verklaar. En Laurens het hom daarna geskik. Dit kon hy immers goed doen. Wat hy in sy wese gedink en gevoel het, was sy geheim.
*
Carijn trek haar nou koue tone uit die rivierwater, druk dit plat op die warm klip neer. Oor die algemeen is die lewe nie sleg nie. Sy hou lekker skool op Bethlehem, al verlang sy haar disnis na Laurens. Moontlik doen die afstand dit aan hom ook. Sy kan net hoop. En bly wonder oor die man wat haar so fassineer. Al vandat hy kleintyd hier aangekom het. Want niks het vir haar verander nie.
Laurens Erasmus het ’n kalm gesig wat selde die uitdrukking van bedaardheid verloor. Nie eens Carijn, wat eintlik die persoon naaste aan hom is, weet wat in sy kop aangaan nie. Sy gesindheid ken sy wel. Hy is lojaal, het integriteit en kan sy man staan. Dis sy emosies wat sy nie kan peil nie. Sy wens toenemend sy kon. Hy is so onafhanklik. So algeheel ’n mens op sy eie. Tog is hy op sy stil manier tuis in enige geselskap. Volgens die ander regstudente saam met wie hy hierdie jaar klaargemaak het, is hy nie ’n man wat mens maklik teëgaan nie. Hy ken nie net sy feite nie, hy kan gladweg redeneer. En dit vind Carijn frustrerend. Want tussen die Erasmusse en die Den Hagens is hy die swyer.
Hulle twee is boesemvriende. Dit kan sy darem met sekerheid sê. Van daardie dag af in die wingerd toe hy haar hand so styf vasgeklem het en sy oë hare nie wou los nie. Maar sy het die vermoede dat sy net so wel ’n man kon gewees het. Hy soek haar geselskap op met ’n dringendheid wat enige vrou sal raak. Maar dis al. Male sonder tal het sy al gewens dat sy oë en sy hande dieselfde taal wil praat. Hy kan haar so intens aankyk en dan kan sy sweer hy is darem ook ’n bietjie verlief op haar. Maar nee, dan swenk sy blik weer weg en sy mond kry daardie stroewe trek. En dan weet sy met die weet van ’n vrou dat sy siel al weer aan sy versluierde herkoms knaag.
Na aan hom is sy wel. Maar dikwels ver ook.
Sy staan op, draai om en loop in die persrooi skemer van die wingerdpaadjie huis toe. Net toe sy op die werf kom, klap ’n vraag haar amper om: noudat Laurens klaar gestudeer het, het hy seker planne. Maar wat?
’n Gevoel van ontreddering pak haar meteens beet. Op die een of ander manier het sy nog altyd gedink hy sal maar altyd hier wees.
Maar hy sal wees, troos sy haarself. Waarheen sal hy tog gaan?