Читать книгу Die kind uit die wingerd - Helene de Kock - Страница 6
HOOFSTUK 3
ОглавлениеCARIJN VAL LANGS Laurens in toe hulle om die huis en met die paadjie af rivier toe loop. Die maan is helder genoeg om sy gelaatstrekke uit te maak. Sy gesig is strak. Dis nie vreemd nie. Hy was nog altyd ’n siel wat lyk of hy swaar dra. Juis dit gee aan hom daardie onweerstaanbare aura; haar jonger sus Alexa se woorde. En toe Carijn haar maan om haar nuutgeleerde woorde vir haarself te hou, het sy net gesê dis feite, en basta.
Maar iets anders pla vanaand. Laurens is nie net in ’n ernstige stemming nie. Hy is somber. Dit raak haar op ’n gevoelige plek. Vandat hierdie mens daardie dag op Vredenhoek deur die wingerd na haar toe aangestap gekom het, weet sy dat hul lewens vervleg is. Net soos hul instinktiewe begrip vir mekaar, is dit ’n feit so seker as wat brandewyn skop in het.
Sy sal nie eerste praat nie, anders klap hy weer toe.
Dis nie vreemd dat hulle in stilte stap nie. Hulle doen dit dikwels. Maar vannag is daar ’n muur om hom. Saam met haar onhoorbare versugting sak daar ’n weemoedigheid op haar toe. Hulle loop deur die steenwingerd en naby die bruggie gaan hulle water toe, daar waar die platterige rots op die oewer halfpad in die vlak water staan. Gewoonlik strek hulle hul in die somermiddae daarop uit om later verspot in die water te plas. Maar nie nou nie. Alle speelsheid is vanaand weg. Hulle gaan versigtig sit. Die rots is klamkoud.
“Wat is dit, Laurens?” por sy eindelik, trek ’n dun takkie wat langs haar gesig fladder weg. “Ek kan nie weet as jy my nie sê nie.”
Hy lag sy diep lag. “En daar dink ek nog altyd jy ken my gedagtes.”
’n Stilte kom so sag dat sy die vloeiing van die water onder hulle kan hoor. “Ek het net daardie dag in die wingerd geweet wat jy dink, Laurens,” sê sy kalm. “Al die ander dae het ek ’n raaiskoot gewaag.”
“Nou kom ons begin by daardie dag. Wat was in my kop?” Sy stem is laag en sy kan haar dit verbeel, maar sy hoor onsekerheid.
Daarom antwoord sy eerlik: “Twyfel. Dalk wantroue. Miskien hoop.”
“Ja?”
“Maar in jou hart was jy bitter bang,” sê sy. “Ek kon sien hoe bang jy was. Ek vermoed dit was omdat jy so verlore gevoel het.”
Hy tel ’n los takkie op, gooi dit water toe. “Net so, ja. My kinderkop het seker die hele situasie probeer uitpluis. Want ek wonder nou nog waarom dit lekker was om in die wingerd te loop en tog van angs te bewe omdat ek nie geweet het wat wag nie.”
“Ek ook.”
“Regtig?”
“Natuurlik, Laurens. Ons het tog al baie hieroor gepraat.”
“Ja, maar nie soos vannag nie.” Hy klink grimmig.
“Wat maak vannag anders?” Carijn sien net sy hande. Sterk en skraal hande wat rusteloos op sy knieë roer. Sy gesig is ’n kol swart skadu. “Praat tog,” smeek sy.
“As ek net weet wat om te sê.”
Tot haar ontsteltenis laat sak hy sy kop op sy opgetrekte knieë. “Hemel, Carijn, ek is nog steeds net die kind uit die wingerd.” Dit klink asof hy stroomop beur.
“Hoe nou?” fluister sy. Maar sy weet. Hy staan van toeka af bekend as die kind uit die wingerd. Is dit wat hom steeds so skaaf? Dié etiket?
Hy lig sy kop, maar kyk nie na haar nie. “Ek is nêrens, Carijn. Ek weet nie wie ek is nie.”
Dis toe dat sy sy hande vasgryp, in albei hare toevou. Sy voel die ligte skok deur hom gaan. Nog nooit was hulle so na aan mekaar nie. En sy weet opeens wat sy lankal vermoed: Laurens het tot dusver bewustelik fisieke aanraking vermy. Om ’n goeie rede. Dit sou dalk alles belemmer. Die onuitgesproke band tussen hulle te styf laat span.
Maar vanaand is anders.
Hier is ’n stuwende innigheid wat haar pols vinniger maak. Sy wil, sy móét tot hom deurdring. Hoe lank al voel sy só en hou hy haar op ’n afstand. Al weet sy met ’n vrou se weet dat hy van haar hou, soos ’n man en ’n meisie van mekaar hou as hulle wil kys. Sy sal versigtig moet wees. Laurens is sensitief, al gee hy voor om sterk te wees en al handhaaf hy sy fisieke afstand so verbete. Dis kompleet of hy bang is vir aanraking. Dat dit hom sal bind. Dat hy dalk nie sal kan teruggaan na waar hulle nog altyd was nie.
“Laurens,” poog sy sag, “dis mos nie waar dat jy niemand is nie. Jy is ’n Erasmus. Maar jy is ook jou eie mens. Kyk hoe uitstekend het jy op universiteit gevaar.” Toe hy nie reageer nie: “Jy was dan primarius van Wilgenhof. En wat van die LLB summa cum laude? Maar vergeet eers daarvan. Jy is óns Laurens. Ons is almal lief vir jou, weet jy mos.”
Hy blaas sy asem so hard uit dat ’n voël iewers in die takke bokant hulle verskrik fladder. “Ja. En ek is nie ondankbaar nie. Maar Carijn, oom Janus het gereël dat ek Leiden toe gaan vir verdere studies.”
Die woorde drup een vir een in die water onder hulle. Sy sit versteen. Gaan hy dan weg? Werklik weg?
“Wanneer?” Haar mond is dor.
“Hy praat van volgende jaar net ná die parstyd. Dan kan ek glo die plek, dis nou Leiden, eers bietjie leer ken voordat ek met die studies wegval.”
Die nag word donkerder. Druk verstikkend teen haar aan. “En wil jy gaan?”
“Nee. Ek wil nie.”
“Ek sien.” Sy moet haar lippe opmekaar pers, so beef dit.
Toe hy weer praat, is daar ’n tikkie ongeduld in sy stem. “Ek weet ek het nie die reg om nie te wil gaan nie. Ek wéét dit. Ek is per slot van rekening ’n vreemdeling. Selfs vir myself.” Sy raak paaiend aan sy arm, maar hy skud net sy kop. “Nee, dit help nie ek ontken dit nie. Jy moet ook nie, Carijn. Ek is ’n gas van die Erasmusse, was dit nog altyd. Een wat elke aand oorslaap. En elke dag begin asof ek pas arriveer het.”
“Ek kan nie toelaat dat jy so aangaan nie, Laurens,” sê sy gedemp. “En ek het dit al gesê, maar luister tog. Ons almal gee werklik om vir jou.”
Hy maak ’n vertroostende gebaar met een hand.
“Ek weet, Carijn. En die hemel hoor my, ek gee vir julle ook om. Hoe kan ek anders? Die Erasmusse en die Den Hagens is die enigste mense wat ek op hierdie aarde redelik goed ken. Ek sou honderd maal eerder hier wou bly. Brandewyn maak. En wyn maak. Ek sal ’n plaaswerker word. Maar nou ja. Daar’s sekerlik ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.”
’n Snik ruk in haar bors. “Maar jy kan nie gaan nie!”
’n Oomblik lank dink sy hy gaan nie reageer nie. Maar toe steek hy sy arm stadig uit en trek haar tot teenaan hom, haar kop op sy skouer. Sy voel die warmte van sy bolyf teen haar wang.
“Moet dit nie moeiliker maak as wat dit reeds is nie, Carijn,” fluister hy teen haar hare. “Ek moet gaan. Dis onvermydelik.”
Sy druk haar kop stywer in sy nek in.
Maar eensklaps laat hy gaan. Staan op en steek sy hand uit om haar op te help. “Kom, dis laat,” sê hy koel. “Jy moet in die bed kom.”
Haar moed is so laag dat sy nie krag het om teë te praat nie. Vannag het gebeur waarteen haar ma haar al jare lank waarsku. Om presies te wees, vanaf die aand in haar eerste jaar toe sy Laurens Erasmus as matriekseun na haar universiteitskoshuis se huisdinee gevra het. Hy het opgedaag, uitgevat in ’n swart aandpak en strikdas by ’n gestyfde wit hemp. Al die ander meisies het haar beny, al was hy toe nog op skool. Party het sy lof luidkeels besing. Carijn is ’n bietjie gespot omdat sy ’n matriekoutjie genooi het.
Hy was nog altyd so asembenemend aantreklik, het sy hom ewe studentikoos aan haar vriendinne beskryf. En ook, hierdie Laurens Erasmus is baie ouer as sy jare. Sy dink steeds so. Natuurlik was daar ’n opskudding. Agterna moes sy vir die huiskomitee van Erfurt Tehuis gaan verduidelik waarom sy so onverantwoordelik was om ’n skoolkind na ’n universiteitsokkasie te nooi. Sy het haar ken gelig en bloot gesê dat dit ’n weddenskap was. Haar kamermaat het dit plegtig beaam.
Die huismoeder veral was nie te paai nie. “Jy is nou vir twee naweke gehok, Carijn den Hagen. En jou ouers sal hiervan hoor.”
Haar pa het net gelag. Haar ma was minder toegeeflik.
“Dit was uiters onverantwoordelik, Carijn. Jou reputasie en syne is op die spel.”
“Ag, nooit, Ma, dis oumensstories daardie. Buitendien, ons was heelaand in goeie geselskap. Hy is so lank en fris, die ander manstudente het nie eens besef hy is nog op skool nie.”
“Nietemin. Ek hoop oom Janus betig hom. Om te dink hy het sommerso uit die skoolkoshuis weggesluip. Nee, liewe hemel, Carijn, persoonlik dink ek dit begin lyk asof hy geen opvoeding gekry het nie.”
“Ag, twak, Nelia,” het oupa Fritz laggend ingegryp. “Laurens is ’n agtermekaar seun. En wat daarvan as hy ’n slag uit die koshuis weggeglip het?”
Wat buitendien geen kuns is nie, wou Carijn sê, maar het besluit om liewer stil te bly. Sover sy weet, het geen haan daarna gekraai nie. Of die skool en oom Janus hom ooit gestraf het, is steeds sy geheim.
Maar Nelia den Hagen het haar onlangs weer voor stok gekry: “Julle is ongesond geheg aan mekaar. Laat hom gaan, Carijn. Hy is nie van hier nie.”
“Maar hy is,” het sy gestry. “Ma ken hom nie soos ek hom ken nie.”
“Moontlik nie. En ek het niks teen hom nie. Mens hou van die seun. Maar mens weet nie waarvandaan hy kom nie.”
“Ma!” Sy het haar so vererg dat sy die onsegbare gesê het: “Hy is lankal nie meer ’n seun nie. En óf oom Janus óf oom Peet is sy pa. Almal praat al jare so. Dis mos genoeg om te weet.”
“Moet in hemelsnaam nie sulke aannames maak nie,” het haar ma benoud gewaarsku. “En ek verbied jou om so iets ooit weer ten aanhore van enigiemand te sê! Jy sal veroorsaak dat jare lange verhoudings op die rotse beland, my kind.”
Carijn was onstuitbaar. “Watter verhoudings nogal?”
Haar ma, nie gewoond dat haar oudste so rebels is nie, het na asem gehap. “Ek … Wel, ons Den Hagens se verhouding met al die Erasmusse. En dan natuurlik, my kind, hulle onderlinge verhoudings.”
Die laaste woorde is fluisterend geuiter en daar was smeking in haar ma se oë. Dit het Carijn wel laat swyg. Laat dink ook. Vir die eerste maal het sy met ’n beklemde gemoed besef dat daar dieper en donkerder fasette aan Laurens se koms na Vredenhoek en Bontevlei is.
Daarom het sy net gemompel: “Dit bly onregverdig om dit, wat dit ook al is, op hom uit te haal.”
“Ja, dit is moontlik so. Maar jy moet weet, Carijn, sy herkoms is onseker. Dis moontlik die sekerste ding wat mens van hom weet.”
“Wat daarvan, Mamma?” Sy was op die plek weer kwaad. “Maak dit hom minder mens?”
Haar ma se mond het oopgesak. Sy het haar nek styf gemaak en uit die vertrek geloop.
Dit alles dwarrel deur haar gedagtes, terwyl Laurens Erasmus haar hand vir die heel eerste maal styf vashou en hulle deur die nagskadu’s na haar huis toe loop. Sy handpalm druk warm teen hare. Vlinders kriewel in haar maag. Want hierdie aanraking het betekenis. Die Laurens wat sy ken, doen niks ondeurdag nie. Sy wens net hy wil praat. Sy hart blootlê.
Dog, hy sê niks weer nie. By die agterdeur los hy haar hand en staan tru. “Nag, Carijn,” sê hy net. “Dankie dat jy saamgekom het.”
“Nag,” fluister sy magteloos en gaan binnetoe om geluidloos trapop te sluip. Deur die genade kom sy niemand teë nie.
Maar sy slaap nie.
Later staan sy op, gaan sit op die vensterbank en stoot die gordyne oop. Wag tot die dag roosrooi oor die geil wingerd breek. Dieselfde donker wingerd waardeur sy en Laurens laas nag hand aan hand gestap het. ’n Weekheid vou om haar hart. Sy sal later die week na hom toe gaan. Hom kans gee om dié ding te verwerk. Só kan sy dit nie laat nie.
Sy gaan bad en trek aan vir kerk. ’n Blou katoenrok wat om haar bene klok en nou om haar middel sit. Toe loop sy om koffie in die kombuis te gaan soek. Kry Alexa ook daar. Haar parmantige sussie vir wie sy op hierdie oggend nie kans sien nie. Maar sy sal moet ligloop. Dis erg genoeg dat haar ma met so ’n skerp oog na Laurens kyk. Sy soek nie nog kritiek nie.
Alexa skud haar dik bos koper krulle uit haar gesig, staar ondersoekend na haar. “Jy is vroeg op vir iemand wat snags so laat rondloop.”
“Alexa, asseblief.”
“Wat?” Haar suster glimlag en blaas liggies oor die warm koffie. “Asseblief, moenie sê nie, of asseblief, moenie uitvra na jou eskapades nie?”
Hul ma se voetstappe weerklink op die houttrap. Carijn hou haar hand op. “Asseblief,” probeer sy weer.
Alexa gee haar stadige glimlag wat dit gewoonlik moeilik maak om haar gedagtes te lees en draai weg om haar koffiebeker in die opwasbak te gaan sit. Carijn kry ’n rillinkie van verligting.
“Is julle twee dan al op?” Nelia den Hagen se wenkbroue wip met die inkomslag.
“O, ons is vroeg uit die vere, soos Oupa sou sê.” Alexa lag en gaan soen haar ma op die wang. “Môre, Mamma.”
“Môre, julle twee.” Nelia se blik vee vlugtig oor Carijn. “Gaan jy nie koffie drink nie?”
“Nee, dankie, Mamma. Ek wil gou by Oupa gaan inloer. Ek was lank laas by hom. Die skooljaar en baie nasienwerk het my so besig gehou dat ek kwalik weet wat in sy kop aangaan.”
“Wat ook al,” sê Nelia. “Oupa se idees sal moontlik interessant en definitief aanvegbaar wees. Veral noudat die nuus meesal om oorlog draai. Persoonlik dink ek dat die oorlog liewer daar ver moet bly.”
Skrik klim in Carijn se keel. Sy weet daarvan. Almal het so ’n vae idee dat daar iewers in Europa onrus broei. Maar die meeste mense stoot dit liefs weg. Niemand praat al hardop daaroor nie. Veral nie in die kringe waarin sy beweeg nie. Want dit traak nog niemand regtig nie. Al lees mens koerant en luister radio, is dit nie ’n begrip wat oral insink nie. Sal seker ook nie. Hemel, die wêreld is nog aan die herstel van die Groot Oorlog wat van 1914 tot 1918 gewoed het. Wie wil nou nog ’n oorlog ontketen? Nou die dag toe oupa Fritz een van sy irriterende toetsvragies aan tafel vra, wou-wou sy haar sommer vererg.
“Wat dink jy van Hitler, Carijn?”
Haar ma het die vraag probeer afkeer. “Hoe vra jy dan nou so ’n wydlopende vraag, Oupa! Sy was onlangs nog ’n student en studente weet mos nooit enigiets nie.” Sy het vir haar eie grappie gelag. “Of weet onderwyseresse deesdae meer van wat aangaan?”
Carijn het haar kop laat sak en ook Alexa se beterweterige gegiggel verduur. “Ag, Oupa,” kon sy net uitkry.
Sy het wel veel te sê gehad oor Hitler. As ywerige koerantleser het sy stewige opinies oor die stand van sake waarvan mens in Die Burger en Volksblad lees. In Bethlehem het die mense sterk opinies aan beide kante van die draad. Maar vir ’n argument tussen haar oupa en haar ma het sy nie kans gesien nie. Dis wat sou gebeur. Oupa wat die waarheid praat omdat dit op feite gebaseer is en ma Nelia wat oudergewoonte met haar skoonpa vassit omdat sy nie kan of wil glo dat die wêreld glad nie ’n rustige plek is nie. Sy reken dit beter orals so idillies lyk soos hier tussen die wingerde. En selfs as hier probleme opduik, wil sy dit wegkeer of uitstryk. Op haar manier. Daarom moet sy nie weet van Carijn en Laurens se nagtelike kuier nie. Sy sal iets daarin lees wat daar nie is nie. Gevare wat nie bestaan nie, daarin sien kom.
“H’m, jy moet haastig by Oupa kuier,” sê haar ma. “Ons eet nou-nou en dan is dit kerk.”
“Goed, Mamma.”
Sy waai vir haar ma en suster en draf oor die werf uit na oupa Fritz se jonkershuis anderkant Houwhoek se rietbos.
In die kombuisie sien sy dat die koffieketel op die stoof aan die prut is. Sy neem twee erdebekers en gooi vir hulle koffie in. ’n Blertsie melk vir hom en baie vir haar.
Sy kry hom klaar aangetrek in die leunstoel in sy studeerkamer waar hy gister se koerant wat haar pa van die dorp af gebring het, sit en deurlees.
“Môre, Oupa-lief.”
“Môre, my kind, en wat is jy so vroeg aan die roer?”
“Ag wat, ek het gedink ek sal vir Oupa koffie bring.”
“Dis lief van jou, Carijn.” Hy loer oor die koerant na haar. “Dis sekerlik nie al waarom jy hier is nie.”
“Oupa ken my te goed.”
Hy vou die koerant toe en sy gaan sit in die ander leunstoel langs sy lessenaar, proe aan die koffie. Sy voel die branding in haar keel toe sy na hom kyk. Sy sterk, beaarde hande op die koerant inmekaar gevou. Hoe lank gaan hy nog hier wees? Oupa Fritz den Hagen met wie sy oor enigiets kan praat.
Hy word oud, so het hy gisteraand aan tafel beweer. En toe almal geskok opkyk: “Maar nie oud genoeg om dood te gaan nie. Die wêreld is ’n te gevaarlike plek om vreedsaam in te sterwe te kom.”
Haar ma was geskok oor dié woorde maar haar pa het net gelag. Hy ken sy pa se sin vir humor. Daar is moedswil by die snaaksigheid.
“En waar sou Pa dan liewer te sterwe wou kom?” wou hy weet.
“Liewer glad nie, Ben. Die mens was immers nooit bedoel om dood te gaan nie. Maar, aangesien mens ná die sondeval g’n keuse het nie, sou ek wou bly tot die ergste gevaar begin wyk.”
“Ag, Pa praat net sommer,” het Nelia haar vererg.
“Geensins, Nelia. Die wêreld balanseer op ’n mespunt en ek wil liewer wag tot mens sekerder van die toekoms is voordat ek heengaan, jy weet.”
Carijn neem nog ’n sluk van die te warm koffie waarin sy boonop vergeet het om suiker te gooi.
“Oupa,” val sy weg, “hoe kan mens van die toekoms seker wees?”
’n Vae glimlag vee oor sy gesig. “Jy weet mos mens kan nie, my kind. Ek het nou die dag net jou ma se been getrek. Maar wat wel waar is, is dat die wêreld nou baie deurmekaar is. En mense is stiksienig. Ek kry die indruk mense oor die algemeen wil nie regtig weet wat aangaan nie.”
“Praat Oupa van Hitler?”
“Wie anders staan so groot op die wêreldtoneel? Jy gee tog Afrikaans én geskiedenis. Stel jou skoliere nie belang in wat aangaan nie?”
“Ja, toe maar, Oupa, ek praat wel met hulle oor wat in die koerante staan. Maar sommige se ouers maak kapsie. Sê ek prop die kinders se koppe vol strooi. Hulle reken ons het niks met Hitler uit te waai nie.”
Oupa Fritz steun. “Dis waarvan ek praat, Carijn. Die mens se vermoë om oë toe te knyp.”
Daar sak ’n drukkende stilte. Die dag gaan warm word.
Carijn maak van die kans gebruik om die onderwerp te verander. “Oupa, ek het ’n probleem.”
Sy silwer kop lig waaksaam. “En dit is?”
“Ek en Laurens het laas nag gesels.”
Soos gewoonlik weet hy watter woord of woorde hy moet ignoreer. “Waaroor het julle gesels?” Nie waarom het julle juis in die nag gesels nie.
Sy glimlag verlig. Hy kom altyd so direk tot die punt. Maar tot haar ontsteltenis begin haar mond beef. Sy pers haar lippe saam, voel die branding van trane.
“O, liewe land, dit moes ernstig gewees het.” Oupa Fritz leun vorentoe om haar fyn te betrag.
Sy sluk die emosie terug. “Dit is ernstig, ja. Laurens gaan weg Leiden toe om te studeer.”
Hy sit terug, tuur na die plafon. “Dis vir jou ’n ding.”
“Dit is, ja. Vir my is dit erg.”
“Ek weet. Wil hy graag gaan?”
“Nee, hy wil nie. Hy wil …”
“Wyn maak. Brandewyn en rooiwyn.”
“Hoe weet Oupa?” vra sy enigsins verbaas.
“Omdat hy my al lankal daarvan gesê het. Hy was pas op universiteit. Toe’t hy gesê hy geniet die regstudies, maar sy hart is in die wingerd waar hy vandaan kom.”
Carijn kry weer die ou gevoel om haar hart. Asof vingers te styf daarom vou. Nes daardie dag toe Laurens so verwese aangestap gekom en sy geweet het sy moet iets doen, maar nie geweet het wat nie. “Ai, Oupa,” kry sy dit uit.
“H’m, maar ek het vir hom gesê hy moet onthou die wingerd is nie sy oorsprong nie.”
“Hoe bedoel Oupa?” Maar sy weet.
“Ek bedoel,” antwoord hy afgemete, “dat Laurens Erasmus iewers ’n herkoms het wat hy moet gaan ontdek.”
“Maar hy wil nie,” maak sy kapsie. “Hy’t self gesê hy wil nie!”
Oupa se swaar kop kantel. “Hy sal nou so sê. Nietemin, die drang om te weet waar hy vandaan kom, sal wen. Dis ’n baie sterk behoefte, my kind. Hierdie ding om te weet waar ’n mens se oorsprong is. Dalk begryp jy dit nie, want jy weet nog altyd jy is ’n Den Hagen van Houwhoek. Erfgenaam van een van die bekendste wynplase in die Kaap.”
Sy bly stil, wil hom weerspreek, maar haar nugter kop hou haar hart teë.
Dit kom tog voor asof hy haar stryd begryp. Hy vat ’n paar stadige slukke van sy koffie. “Onthou, Carijn, jy weet als van jouself af. Al ontdek jy nou en dan nuwe dinge. Jy leer selfs goed waarvan jy nooit gedroom het nie. Maar hy, Laurens Erasmus, ken net sy naam. En tussen jou en my gesê, ek dink hy ken weinig anders.”
“Hoe kan Oupa so sê? Hy is ’n briljante student. Hy is geliefd en bekend op die kampus. Hy het naam gemaak. Veel meer as Cecil.”
“Ja, jy is reg. Hy is bekend en bemind. En hy het veel bereik vir so ’n jong man. Maar Carijn, dis soos om ’n baksteenhuis op ’n houtstellasie te bou. ’n Sterk wind kan dit omwaai.”
“Nee,” sy staan driftig op, “nou verstaan ek nie. As hy hier bly en net aangaan en leef, sal dit hom nie pla waar hy vandaan kom nie. Dit het dan nog nooit.”
“Dis wat jy in jou hart hoop, Carijn.”
“Ja. Maar hy sou my gesê het as dit hom pla.”
“En as hy self nie weet dat dit hom pla nie? Soms vreet iets aan mens sonder dat jy dit agterkom, maar as die wind jou skep en die gewone los gedagtes wegwaai, dan weet jy daarvan.”
“Ag, Oupa. Wag, ek moet seker in die kombuis gaan help.”
“Reg so.” Hy skud sy kop. “Carijn, ek wens ek kon vir jou iets anders sê, maar dit sou nie eerlik wees nie. Wag vir my, ek kom saam na die groot huis toe.”
Sy wag tot hy sy kierie kry en rustig saam met haar om die rietbos en die vlak pannetjie water oor die werf na die agterdeur loop.
Op die kombuis se drumpel hou hy haar ’n oomblik terug. “Ek dink aan jou. En aan hom.”
“Ek weet, Oupa,” fluister sy. “Dankie.”
Hulle blyk net betyds vir ontbyt te wees.
Nelia herinner hul ligweg verwytend daaraan. “Ons is klaar gewerk, Carijn. Môre, Pa. Kom sit solank.”
Oupa Fritz glimlag sy oggendgroet en almal neem plaas.
“Noudat ons almal hier is,” sê Carijn se pa, “wil ek net noem dat ek stiptelik om negeuur kerk toe ry. Dié wat nie in die Hudson is nie, gaan agterbly.”
“Ou dreigement daardie,” lag Alexa, min geraak.
“Tot ek die dag vir jou wegry, juffrou Pas Gematrikuleer!” lag hy ook.
“H’m, daarvan gepraat. Ek gaan nie volgende jaar studeer nie.”
Die stilte raak donderend.
Nelia herstel eerste, lig haar ken vererg. “Jy praat nou sommer twak, Alexa. ’n Den Hagen gaan altyd studeer. En dis nou die einde van die saak. Veral jy, jy wat so goed in tale is. Onderskeidings kry jy altyd, maar altyd in Afrikaans, Engels, Latyn en wie weet wat nog.”
Carijn sien aan haar ma se hals hoe ontstig sy is. Dis bloesend bokant die wit kantkraag van haar kerkrok. En sy kan nie verhelp nie om te vra: “Wat het jou op dié besluit gebring, Alexa?”
Alexa smeer dik botter op die vars sny brood, gooi moskonfyt in ’n dammetjie daaroor. Neem ’n groot hap en praat al kouende. “Ek het nog altyd gedink dis ’n mors van tyd en geld. Nou, met die oorlog hangende, dink ek des te meer so.”
“Hokaai,” begin pa Ben en hou sy hand op, soos altyd as ’n gesprek na sy sin te ver gaan. “Jy praat nou sommer. Dis geen uitgemaakte saak dat daar ’n oorlog gaan wees nie. En ons praat ook nie nou daaroor nie.” Hy bly kortaf stil. “Kom, laat ons bid.”
Die pad kerk toe is vanmôre lank. Almal is stil. Wie sou nog van Laurens se weggaan weet? Oupa Fritz swyg daaroor. Daarom bly Carijn liewer ook stil.
Net voordat hulle die spierwit Moederkerk instap, kyk Nelia den Hagen oudergewoonte om. Haar geoefende blik flits ondersoekend oor haar twee dogters. Carijn kan dit amper tasbaar oor haar voel gaan. Hang haar roksoom laag genoeg oor die knieë? Is haar sykouse nie geleer nie? Sy druk senuagtig aan haar hoed, wend haar oë af omdat sy nie wil hê haar ma moet sien hoe irriteer hierdie ondersoek haar nie. Sy is nou ’n volwasse vrou. Hou al ’n jaar lank in die Oos-Vrystaat skool. Wêrelde weg van hier. En nog hou haar ma die leisels. So voel dit.
Toe hulle by hul bank inskuif, begin die goddelike orrelspel. Carijn ontspan. Altyd doen dié musiek dit aan haar. Sy is versot op Bach en Handel en hierdie ervare orrelis se fyn, dog sekure aanslag. Die melodieë dring deur haar ongedurigheid. Sy vou haar hande rustig in haar skoot net toe die klomp Erasmusse verbystap na hul bank skuins oor die paadjie. Heel laaste en ’n paar tree agter die ander, kom Laurens se lang, regop figuur. Hy wag tot almal inskuif en gaan sit op die punt langs Cecil. Vreemd dat dié twee, tog so verskillend, so goed oor die weg kom. Hulle het begrip vir mekaar. Klaarblyklik het dit Cecil nooit gepla dat Laurens in byna alle opsigte sy meerdere op universiteit was nie. Cecil, skiet dit haar onverhoeds te binne, is nie waar hy moet wees nie. Hy sleep nie verniet al die jare soveel vakke nie. Dalk wil hy nie regtig landbou studeer nie. Maar die gedagte verskiet weer sodat sy net na Laurens se agterkop kyk.
Laurens draai sy kop skielik. Haar hart ruk ’n slag. Sy reguit neus, sterk ken en vol mond tref haar vanmôre soos nog nooit vantevore nie. ’n Hol kol kom sit op haar maag. Só voel mens as jy besef dat jy iets gaan verloor. Want dis wat gaan gebeur. Nog altyd het sy gedink en gedroom dat sy sal terugkom na Houwhoek om naby Laurens te wees. Maar dan het die droom vaag geraak. Soet sou dit wel wees, hierdie ondeurdagte verwagting. Iewers sou alles mooi inmekaar pas. Sy sou net ’n jaar of wat op Bethlehem skoolhou. ’n Ander plek ondersoek. Dit sou bloot ’n wegkomkans wees om haarself beter te leer ken. ’n Bietjie weg te kom van die huis af. Sy staar na Laurens se donkerkop. Hy sit weer roerloos voor hom en kyk. En sy besef dat die orrelis begin het om ’n bekende gesang te speel. Die kerkraad is aan die binnekom, die dominee klim die trappies na die indrukwekkende kansel.
Carijn staan saam met die gemeente op om te begin sing, maar geen klank kom oor haar lippe nie. Sy weet een ding met brandende sekerheid: sy wil nooit weer van Houwhoek af weggaan nie. Want dis naby Vredenhoek, waar Laurens is. Maar nou is hy die een wat weggaan. ’n Hand druk so swaar op haar bors dat sy haastig na asem hap en Alexa verbaas na haar kyk. Sy glimlag bewerig en sing die laaste reël gedagteloos saam.
Die preek gaan by haar verby.
Dis eers aan etenstafel dat oupa Fritz tot almal se ergernis met sy gewone kruisvraery begin.
“Dit was darem ’n stewige preek uit Jesaja, nè?”
“Ja, dit was,” sê Carijn en stoot die gebraaide aartappel op haar bord eenkant toe.
“Uitgevang,” glimlag Alexa tevrede en pomp haar so onsag in die sy dat Carijn na asem snak.
“Nie aan tafel nie, Alexa,” maan Nelia, maar kyk ook vraend na Carijn. “Ai, sus,” maan sy, “dominee het uit Matthéüs gepreek.” En toe Carijn haar net stil aankyk: “Jy moet oplet in die kerk. Dis waarom mens gaan. Om die Woord te hoor.”
Carijn voel die woede in haar swel. Haar ma moes teologie gaan studeer het. Sy laat geen geleentheid verbygaan om te preek nie. Sy staan op en vat haar bord saam. “Mag ek asseblief verskoon word?”
Ben den Hagen kyk ondersoekend na sy oudste. Ongewoon is haar optrede beslis. Dit moet egter tot hom deurdring dat alles aan tafel nie pluis is nie. Die vraag is of hy ooit wyer as die tafel dink. Haar pa is liefdevol, maar meesal kortsigtig. Hy verkies, nes sy vrou, dat niemand in sy onmiddellike omgewing skuddings veroorsaak nie.
Carijn hou nietemin asem op, maar haar pa se blik versag. “Net as jy gou vir my nog ’n skyf skaapboud afsny. Dis baie geurig, my vrou.”
“Dis die knypie gemmer wat daarin is,” glimlag Nelia gevlei, al weet almal dis eintlik Flori se handewerk.
Carijn sny die vleis af en gaan sit die perfek gesnyde stukkie boud in haar pa se bord, bewus van almal se oë wat stip op haar is. “Nou ja, dan gaan ek maar.”
“Wag jy nie vir poeding nie?” karring haar ma. “Flori bring dit nou-nou. Nogal saam met vla.”
Tot haar innige verligting kom Alexa haar te hulp. “Los haar, Mams, sy het netnou al van hoofpyn gekla.”
“Dis van te veel in die son wees, Carijn,” val Nelia ergerlik weg. “Dra tog in hemelsnaam jou hoed. Dis nou as jy uitgaan. Persoonlik dink ek jy moet ’n bietjie gaan lê.”
“Sal so maak,” sê Carijn moeg.
In haar kamer maak sy die deur toe. Hoofpyn? Sy het veel meer as hoofpyn. Haar hele liggaam voel verrinneweer. Van min slaap, vir seker, maar ook van gevoelens wat vreemd gekneus is. Dis of sy haarself nie kan kleinkry nie. Sy, wat altyd nog in beheer was. Sy, wat die seuntjie uit die wingerd se hand gevat het toe dit lyk asof hy wil huil. Nou lyk dit ook asof hy wil huil, maar sy het nie die moed om uit haar eie ’n groot man se hand te vat nie. Want sy kan aanvoel hy wil dit nie hê nie. Van niemand nie. Nie eens van haar nie. Sy ken hom mos. Hy is trots. Dis ’n trots wat ingebore moet wees. Wat hom sterk, maar ook hard maak.