Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 12 Leerderboek Huistaal - Henk Viljoen - Страница 4

Оглавление

Jy gaan in hierdie module spesifiek op die volgende fokus:

 Luisterbegrip

 Leesbegrip en leesstrategieë

 ’n Opsomming

 Debat

 Transaksionele teks skryf (tydskrifartikel) en onvoorbereide praat

 Visuele tekste

 Draaiboekteks van ’n drama

 Taal in konteks

Giere en geite

’n Oorsig . . .

Almal wil bybly met nuwe uitvindsels, giere en modes, maar kyk ons altyd krities genoeg daarna? Deur die ontleding van verskeie tekste sal jy meer leer van aspekte van ons moderne tyd. Jy neem deel aan klas- en groepgesprekke oor giere en geite van ons alledaagse lewe – van die internet, blogs en sosiale netwerke tot bekende Suid-Afrikaanse rolprente, TV-programme, die toneelbedryf en reklame. Talle tekste spreek maatskaplike kwessies en waardes aan. Wanneer jy lees en kyk vir begrip, sal jy ook oortuigende mondelinge en skriftelike response kan lewer waarin jy jou eie mening lug en jou standpunte verdedig. Jy kry ook die kans om Afrikaanse taalstrukture en -konvensies in te skerp ter vroeë voorbereiding van die eindeksamen.


Luisterbegrip

Voordat jou onderwyser die teks vir die luisterbegripsoefening voorlees, moet jy eers die stappe van die luisterproses in Pitkos hersien:


Die luisterproses

Preluister:

 Bepaal die luisterdoel.

 Bepaal die konteks en voorspel die inhoud.

 Bepaal woordbetekenisse.

Tydens luister:

 Ontleed die boodskap en die spreker se bewyse/argumente/emosionele trant.

 Skep assosiasies en bepaal die betekenis.

 Maak afleidings en bevestig voorspellings.

 Maak aantekeninge.

 Besin en evalueer.

Postluister:

 Som die aanbieding mondelings/skriftelik op.

 Hersien jou aantekeninge.

 Ontleed en evalueer krities dit wat gehoor is.

 Beantwoord vrae.

Opdrag: Luister aandagtig na die onderwyser se eerste voorlesing van ’n informatiewe teks. Daarna kan jy die vrae deurlees. Jou onderwyser gaan die teks weer voorlees en dan mag jy aantekeninge maak. Laastens moet jy die vrae beantwoord.

Luisterbegripsvrae

1. Wanneer het blogs ontstaan? (1)

2. Hoe word die skeppers van blogs oor die algemeen volgens die teks beskryf? (1)

3. Wat, kan jy aflei, is die belangrikste kenmerk van ’n blog? (2)

4. Hoe verskil ’n blog van ’n gewone joernaal? Noem twee verskille wat in die teks genoem word. (2)

5. Noem twee ooreenkomste tussen ’n blog en ’n joernaal. (2)

6. Blogs word met joernale vergelyk. Waarmee word dit nog vergelyk? (1)

7. Bestaan blogs meestal uit visuele tekste soos advertensies? Hoekom?/Hoekom nie? (2)

8. Watter soort blog is gepas vir baie kort boodskappe? (1)

9. Noem nog twee soorte blogs wat ’n mens kry. (2)

10. Hoekom kan ’n blog as ’n soort sosiale netwerk beskou word? (1)

(15 punte)

Wat jy op jou blog of in jou joernaal kan skryf . . .

 Skryf waarnemings of opsommings of luisteraantekeninge neer tydens die bespreking en ontleding van jou voorgeskrewe werke, byvoorbeeld oor karakters in ’n roman, kortverhaal of drama, of die tema/boodskap.

 Skryf enige tyd op jou blog of in jou joernaal.

 Skryf oor belangrike gebeure of ’n belangrike onderwerp.

 ’n Goue reël is om elke dag al jou inskrywings na te gaan. Verstaan jy vanmiddag nog wat jy vanoggend in die klas geskryf het? Herroep die inligting om seker te maak alles is korrek en volledig.

 Lees response wat jy op jou blog of in jou joernaal geskryf het aan jou maats voor en wees dan gereed om daaroor te praat of ’n bespreking daaroor te lei.

Waarvoor kan jy jou blog of joernaal gebruik?
Vir refleksieWat het gebeur?Wat kan gebeur as gevolg van . . .Wat ek geleer het . . .Hoe voel ek daaroor?Hoe sal ek optree?Hoe ek geleer het . . .Wat het ek geleer in die proses?Ek kan dit gebruik om . . .Wat ek onthou van wat ek geleer het . . .
Vir opsommings/samevattingsEk het die volgende dinge gedoen . . .Ek het die volgende geleer . . .Ek kan dit as volg gebruik . . .
Vir leerwerkNeem notas van . . .Die volgende is belangrik:Maak luisteraantekeninge
Vir response/ reaksiesWat interesseer my van my leerwerk?Kan ek dit wat ek leer in verband bring met eie ervarings?Hoe reageer die onderwyser en/of my maats op die kwessie?Waaraan herinner die teks my?Kan ek identifiseer met die gebeure/karakter/agtergrond?Stem ek saam met hierdie skrywer se standpunt?Skryf oor iemand/iets wat jy onthou, ander tekste, moeilike begrippe/terminologie, ’n verbandhoudende kwessie, ensovoorts.Vra jouself vrae oor die leerwerk, kwessie, teks, ensovoorts, en skryf eie gevoelens/sienings/idees neer.

Inskrywings op jou blog of in jou joernaal


Wanneer jy ’n inskrywing maak, is dit veral tyd vir persoonlike besinning. Jou graad 12-jaar het begin – jy is nou ’n senior! Die skool is al ’n week of twee aan die gang. Voldoen jou eerste ervarings as graad 12-leerder aan al jou verwagtings vir dié besonderse skooljaar? Besin oor hierdie vraag en skryf neer wat jy voel, dinge wat gebeur, jou waarnemings van maats, ander leerders en onderwysers se optrede teenoor jou, al die baie huiswerk, ensovoorts. Skryf op jou blog of in jou joernaal vandag se datum en die opskrif, en dan: Ek is uiteindelik in graad 12 en . . . Jou inskrywings moet 180 tot 200 woorde lank wees.


Lees die volgende tydskrifartikel aandagtig deur. Pas die onderskeie leesstrategieë toe.

Blogs


Die braaivleisvure van die 21ste eeu

1Die basiese behoefte van die mens om stories met ’n waarderende gehoor te deel, is ná duisende jare nog presies dieselfde.

2’n Blog – ’n verkorting van die term “webblog” – is gewoonlik ’n persoonlike webruimte wat uit ’n versameling individuele inskrywings bestaan. Dit kan oor enige onderwerp handel – van handwerk tot hondemodes. Jou blog kan ’n virtuele seepkis, ’n klaskamer of ’n gesellige kuierplek wees.

3Statistiek toon 65% van alle blogs word as ’n stokperdjie bedryf, maar soms ontwikkel blogs tot suksesvolle sakeondernemings. Natasha Clark, die dinamiese jong ma agter die gewilde mammie-blog Raising Men, het begin blog om haar herinneringe aan haar seuns se kinderjare te dokumenteer.

4“Om te blog is soos om dagboek te hou van die groter prentjie,” sê sy. Maar wat aanvanklik ’n persoonlike dagboekprojek was, is nou ’n bron van inspirasie vir duisende jong ma’s. Die gier is ewe groot onder bekendes en Jan Alleman. Soms word onbekende bloggers selfs sterre uit eie reg danksy hulle kreatiewe of aangrypende blogs. Die alledaagse lewenservarings van gewone Suid-Afrikaners maak soms die heel lekkerste leesstof.


5Dit sit egter nie in elke blogger se broek om van ’n blog ’n wegholsukses te maak nie. Volgens Dan Pinch van die sosialemedia-agentskap Society en een van die beoordelaars van die SA-blogtoekennings vir 2011, berus die sukses van enige blog op ’n kombinasie van kreatiewe inhoud en slim bemarking. (Lees ook die kassie hieronder.)

6Maggie van Eeden was twee jaar LitNet se blogmeester. Sy beskou leesbaarheid as die belangrikste eienskap van ’n goeie blog. “Hou dit kort en kragtig en kom gou tot die punt.” Sy voeg by dat visuele elemente ’n blog interessanter en aantrekliker kan maak.

7As jy huiwerig is om met ’n eie blog te begin, kan jy bydraes tot ’n kollektiewe blog lewer. Die aweregse leefstylblog www.watkykjy.co.za, wat in 2011 as wenner aangewys is in die leefstylkategorie van die SA-blogtoekennings, plaas gereeld foto’s, video’s en skrywes deur lesers. Die Versindaba-blog publiseer weer bloginskrywings deur Suid-Afrikaanse digters.

8Of jy nou ’n uitlaatklep vir jou opgekropte kreatiwiteit soek, of ’n platform om jou stem te laat hoor oor enige onderwerp, ’n blog is een manier om daardie gevoel van samehorigheid en gedeelde menslikheid te ervaar wat ons dikwels in die hedendaagse lewe mis. ’n Ander manier is om natuurlik gewoon ’n braaivleisvuur aan te steek.

(Uit: Rapport, My Tyd. 18 Maart 2012)

Wat maak ’n blog suksesvol?

 ’n Duidelike onderwerp.

 ’n Helder en dikwels persoonlike stem.

 Dit vind dikwels ’n nis wat nie elders in die media of op die web gedek word nie.

 Dit het oorspronklike inhoud wat deur die blogger self geskep word.

 Dit het ’n gereelde en konsekwente vloei van nuwe inhoud.

 Dit word ook deur middel van sosiale netwerke soos Facebook en Twitter bemark.

Leesbegrip

Beantwoord die volgende leesbegripsvrae in jou werkboek.

1. Gee in jou eie woorde ’n definisie van die woord “blog”.

2. Die skrywer omskryf ’n blog as ’n “virtuele seepkis” (par. 2). Waarom, dink jy, vergelyk hy/sy ’n blog daarmee? Waarmee vergelyk Natasha Clark ’n blog?

3. “Statistiek toon 65% van alle blogs word as ’n stokperdjie bedryf, maar soms ontwikkel blogs tot suksesvolle sakeondernemings.” Is dit ’n feit of ’n mening? Motiveer jou antwoord.

4. Wat, volgens die skrywer, kan van ’n onbekende blogger ’n ster maak?

5. Skryf twee belangrike vereistes neer wat volgens kenners nodig is vir ’n suksesvolle blog.

6. Lees die inligting in die kassie. Waaruit kan jy aflei dat die inligting in ’n blog gedurig verander?

7. “Dit vind dikwels ’n nis wat nie elders in die media of op die web gedek word nie.” Wat word met “nis” bedoel? Verduidelik breedvoerig.

8. Deur middel van watter bekende media word blogs ook bemark?

9. Die skrywer verwys na ’n “kollektiewe blog” (par. 7). Wat word hiermee bedoel?

10. Verduidelik die betekenis van ’n “aweregse” leefstylblog (par. 7).

11. Lees die laaste paragraaf. Wat is volgens die skrywer ’n groot voordeel van ’n blog? Dink jy sy/haar mening is geldig? Dink jy daar is enige nadele? Motiveer jou antwoorde.

12. Watter kerngedagte van die laaste paragraaf sluit aan by die eerste paragraaf?

13. Lees weer die opskrif van die artikel. Wat is die verband tussen “braaivleisvure” en blogs? Dink jy dis ’n geslaagde beeld? Verduidelik jou antwoord.


Taal in konteks

Raadpleeg jou Taalgids oor die verskil tussen denotasie en konnotasie, en die reëls vir die gebruik van koppeltekens in woorde. Lees In ’n neutedop aandagtig deur om die verskil tussen afkortings, verkortings en akronieme te leer.


Afkortings, verkortings en akronieme

 Verkortings bestaan uit ’n woord se eerste lettergreep en die konsonant/e wat volg: gesk. – geskiedenis; Brit. – Brittanje.

 Akronieme bestaan uit die eerste letter van twee of meer opeenvolgende lettergrepe of woorde: WAT – Woordeboek van die Afrikaanse Taal; NAVO of Navo – Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie.

 By sekere woordgroepe is die beginletter van elke woord afgekort: a.g.v. – as gevolg van; m.a.w. – met ander woorde.

 By afkortings word slegs die beginkonsonante of -vokale van die lettergrepe gebruik: bl. – bladsy; ens. – ensovoorts.

Leer die onderstaande afkortings, verkortings en akronieme deeglik.

aanw.aanwysendeGEAR/GearStrategie vir Groei, Werkverskaffing en Herverdeling (Growth Employment Redistribution)
afk.afkortinggeneesk.geneeskunde
as.aanstaandehfst.hoofstuk
asb.assebliefhst.hoofstad
badk.badkameri.p.v.in plaas van
byw./bw.bywoord of bywoordelik(e)ir.ingenieur
cmsentimeterm.b.t.met betrekking tot
CVcurriculum vitaemgmilligram
def.definisiemv.meervoud
Edms.EiendomsPk.Poskantoor
EGEuropese Gemeenskapps.persent
EGAEkonomiese Gemeenskap van Afrikap.w.per week
eks.eksamenrek.rekening
ekv.enkelvoudsielk.sielkunde
EUEuropese Uniefakt.faktuur
Eur.EuropaFIFAInternasionale Sokkerfederasie
faks.faksimileess.samestelling
ggramt.w.v.ter wille van
teenst.teenstellingWo.Woensdag

Nota

 Punte word by die meeste kleinletter-afkortings gebruik: a.g.v. (as gevolg van).

 Geen punte word by metrieke eenhede se afkortings gebruik nie: mm (millimeter).

 Rangtelwoorde kan afgekort word deur -de, -ste of -e ná die syfer te skryf: 4de, 20ste, 1000e.

 ’n Sin begin nie met ’n afkorting nie, behalwe as die afkorting in titels gebruik word: Mnr. Van der Merwe gaan see toe.

 ’n Koppelteken word gebruik by woorde wat saam met afkortings of akronieme (letterwoorde) gebruik word: MA-graad, TB-lyers.

 Raadpleeg die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls indien jy jou spelling wil kontroleer.

Beantwoord ook die volgende geïntegreerde taalvrae oor die teks.

14. “Die gier is ewe groot onder bekendes en Jan Alleman” (par. 4). Hierdie sin is ’n voorbeeld van figuurlike taal. Skryf dit oor sodat dit ’n letterlike betekenis het.

15. Verduidelik die idiomatiese taalgebruik in sin 1 van paragraaf 5.

16. In die teks word koppeltekens in die volgende woorde gebruik: “mammie-blog”, “SA-blogtoekennings” en “Versindaba-blog”. Gee ’n rede hiervoor.

17. Waarom word “sakeondernemings” (par. 3) nie ook met ’n koppelteken gespel nie, maar “sosialemedia-agentskap” wel (par. 5)?

18. “Blog” is ’n verkorting van “webblog”. Waarom is dit nie ’n afkorting nie?

19. Is “LitNet” ’n verkorting of afkorting? Skryf die naam voluit.

20. Gee ’n voorbeeld van ’n leenwoord uit die teks.

21. Gee ’n sinonieme woord vir “virtuele” (par. 2). Kan jy uit die teks aflei wat dit beteken? Maak gebruik van ’n woordeboek indien jy nie seker is nie.

Woordeskatuitbreiding

Lees en kyk na die volgende stofomslae en uittreksels uit woordeboeke:




Maak ’n opsomming

’n Opsomming is een van die belangrikste leesbegripsoefeninge wat jy in die eksamen moet doen. Lees Pitkos om seker te maak jy weet hoe om ’n opsomming te skryf.


Hoe maak jy ’n opsomming?

 Lees die teks/paragrawe noukeurig deur.

 Onderstreep die kernsin of hoofgedagte in elke paragraaf.

 Skryf elke kernsin/hoofgedagte in jou eie woorde neer (jy mag van kernwoorde in jou sin gebruik maak).

 Indien die opsomming in paragrawe moet wees, skryf een of twee kort ondersteunende sinne vir elke kernsin.

 Skryf die sinne/paragrawe puntsgewys onder mekaar neer en tel die woorde.

 Die opdrag gaan bepaal wat jou maksimum en minimum woorde gaan wees.

 Indien dit te veel woorde volgens die opdrag is, moet jy seker maak dat jy nie dalk ondersteunende gedagtes ook neergeskryf het nie.

 Indien dit te min woorde volgens die opdrag is, moet jy seker maak dat daar nie dalk twee hoofgedagtes in ’n paragraaf is nie.

 Onthou om die aantal woorde aan die einde van die opsomming aan te dui.

 Lees weer jou sinne/paragrawe en redigeer – kyk vir verkeerde woordkeuse, spelling, leestekens en hoofletters.

Puntetoekenning: Hoofgedagtes (1 punt per hoofgedagte) = 7; Taalstrukture = 3 (Totaal = 10 punte)

Lees die volgende teks aandagtig deur. Volg dan die instruksies om jou opsomming te maak.

Webinspirasie


Nadia van der Mescht is ’n kreatiewe konsultant en handwerker van Durban en die persoon agter die blog www.lovecupcakecouture.co.za. Sy help kreatiewe mense om hul eie blog op te stel (sy sê sy “bak” blogs) en ’n teenwoordigheid op die web te hê.

Hoe begin ’n mens ’n blog?

Besluit wie die gasheer van jou blog moet wees. Wordpress en Blogger is gewild in Suid-Afrika en gratis. Kies ’n naam wat iets van jou of jou besigheid sê, afhangend van waarvoor jy die blog wil gebruik. As dit vir jou besigheid is, moet dit so na as moontlik wees aan jou besigheid se naam. Dis dalk ’n goeie idee om ’n professionele persoon te vra om jou te help, maar kyk eers hoe ver jy self kom.

Wie moet blog?

Enigiemand wat iets het wat hy of sy met ander wil deel, kan ’n blog begin. ’n Blog kan ’n manier wees om uitdrukking te gee aan jouself, maar dit kan ook ’n baie nuttige instrument wees om ’n besigheid te bemark.

Blog of webwerf?

Dis makliker om ’n blog self aan die gang te hou as ’n webwerf. Dis nie dat die een beter is as die ander een nie, maar dis dalk beter om eers met ’n blog te begin. Jy kan op ’n gesellige manier met jou klante kommunikeer en steeds jou produkte bemark. Dis ook baie goedkoper. Soos jou besigheid groei, sal jy later dalk ook ’n webwerf nodig hê, maar jy sal wel weet as die tyd reg is.

Hoe maak ’n mens ’n sukses van ’n aanlyn besigheid?

Werk hard. In die begin voel dit dalk of jy net werk en niks terugkry nie, maar soos jy jou besigheid en jou naam uitbou, raak als die moeite werd.

Netwerk of maak vriende. Die mense vir wie jy so gereeld e-pos en wat jy op plekke raakloop, kan dalk net jou verlore skakel wees. Jy moet dalk met mense gaan praat, vir hulle skryf en besigheidskaartjies uitdeel om jouself bekend te stel. Wees vriendelik en professioneel.

Wees oorspronklik en kom met nuwe idees vorendag en behou jou integriteit. Doen navorsing en verras jou lesers.

(Uit: Idees. April 2012)

Opdrag: Maak ’n opsomming (in paragraafvorm) wat uit sewe sinne van 80 tot 90 woorde bestaan. Volg die stappe soos uiteengesit in Pitkos. Skryf die aantal woorde neer aan die einde van jou opsomming.


Hou ’n klasdebat

Die debat kan informeel of formeel wees. Verdeel die klas in twee (of meer) groepe. Elke groeplid moet ’n rol vertolk (sprekers, tydhouer, sekretaris/sekretaresse). Stel ’n kontrolelys saam van die riglyne vir die debatvoering, byvoorbeeld: die tyd wat elke spreker toegelaat word, noukeurige luister na die opponerende span se argumente (maak aantekeninge), goeie spanwerk. Moontlike onderwerp:

Sosiale netwerke het meer nadele as voordele

Onthou:

 Redeneer logies en maak logiese gevolgtrekkings.

 Formuleer stellings duidelik en motiveer dit goed.

 ’n Debatsonderwerp het altyd twee kante. Respekteer jou opponent se argumente.

 Let op jou taalbeheer, pousering, stembeheer, gebare en, belangrik: oortuigingskrag en oordeel.

Lees Pitkos aandagtig deur om seker te maak julle weet wat debatsprosedures is:


Debatsprosedures

 Die onderwerp en die eerste argument word deur die eerste bevestigende spreker gestel.

 Die eerste opponerende spreker stel sy span se eerste argument.

 Die tweede bevestigende spreker stel sy span se argument.

 Die tweede opponerende spreker stel sy span se argument.

 Die bevestigende en opponerende spanne kry elk ’n pouse van 5 tot 10 minute om hul repliek voor te berei. Elke span is verplig om hul teenstanders se argumente te weerlê en om hul eie saak te bevestig en verdedig.

 Die opponerende span lewer twee replieke op die bevestigende span se twee argumente en stel hul eie twee redes.

 Die bevestigende span lewer twee replieke op die opponerende span se twee argumente en stel hul eie twee redes.

Tydens die debat (riglyne)

 Spanne (ses tot agt lede) kry 20 tot 30 minute vir die voorbereiding van argumente.

 Kies aanbieders vir elke argument – die aanbieders neem beurte nadat elke lid van die ander groep ’n standpunt gestel het.

 Moenie vorige standpunte/argumente herhaal nie – wys een lid van die span aan om notas van die verskillende argumente te maak.

 Vermy stellings en vrae wat nie direk met jou argument verband hou nie.

 Wanneer al die standpunte/argumente van die spanne aangebied is, sal jou onderwyser die bespreking verder lei. Gebruik die volgende vraelys vir die bespreking:Watter argumente was die oortuigendste?Watter moontlike argumente of idees is nie deur ’n span oorweeg nie?Watter argumente of idees het sekere deelnemers van standpunt laat verander?

 Tydens ’n informele debat word daar gewoonlik nie ’n wenspan aangewys nie, maar as julle en julle onderwyser ooreenkom om wel ’n wenspan aan te wys, kan die volgende kriteria gebruik word:Ken ’n punt toe vir elke geldige en oorspronklike argument van die onderskeie spanne.Geen punte word toegeken vir argumente wat herhaal is nie.

Daaglikse assessering

Assesseer mekaar se mondelinge aanbieding aan die hand van die graderingskaal wat volg. Stem jou groep se standpunte ooreen met ander maats/groepe s’n? Moenie vergeet nie – jou onderwyser kan dalk ook ’n punt vir jou aanbieding toeken.

KriteriaUitstekendBevredigendBasiesOntoereikend
Fokus op onderwerp/standpunteFokus altyd op die onderwerp/standpunte.Fokus meestal op die onderwerp/standpunte.Fokus baie min op die onderwerp/standpunte.Fokus glad nie op die onderwerp/standpunte nie.
Gebruik onder­steunende feite vir standpunteGebruik baie feite om standpunte te ondersteun.Gebruik enkele feite om standpunte te ondersteun.Gebruik min feite om standpunte te ondersteun.Gebruik geen feite om standpunte te ondersteun nie.
Oorredings­vermoëStandpunte is duidelik en oortuigend.Standpunte is soms duidelik en oortuigend.Standpunte is selde duidelik of oortuigend.Standpunte is nie duidelik of oortuigend nie.


Groepgesprek

Prelees: E-boeke is die nuwe gier in die boekebedryf. Gesels oor die volgende:

 Gaan e-boeke die gedrukte boek heeltemal vervang?

 Hoe sal jy daarvan hou om nie meer boeke in jou tas rond te dra nie, maar eerder ’n tablet of iPad of e-leser?

 Moet die skool daarvoor betaal?

 Kan jy voorspel waaroor die tydskrifartikel wat volg handel deur die opskrif en die eerste en laaste paragrawe te lees?

Tydens lees: Lees nou wat hieroor in die volgende artikel geskryf word. Maak aantekeninge van die kerngedagtes van die artikel.

Kenmerke van ’n tydskrifartikel

Lees die volgende tydskrifartikel aandagtig deur.

Nou spel jy “boek” met ’n

As e-boeklesers twintig jaar gelede al alledaags was, sou daar sekerlik ’n grappie die ronde gedoen het van die omie wat ’n nuwe Kindle koop elke keer as hy ’n nuwe boek aanskaf, sodat daar later honderde van dié toestelle op sy boekrak staan, elk met ’n handgeskrewe etiket op die rugkant met die titel!

1Maar e-lesers was nié twintig jaar gelede al alledaags nie, en vandag se ouer geslag het heelwat ingehaal op hulle kinders en kleinkinders se kennis van die digitale era – spesifiek van elektroniese weergawes van die gedrukte boek. Nee, die wonder van ’n keurig versorgde boek van regte ink en papier sal nie verdwyn nie. Iewers op ’n rak – dalk by my ma – is ’n eksemplaar van Die ruiter in die nag deur Mikro, die eerste “regte” boek wat ek deurgelees het. Dit was ’n bruingeel hardeband, met ’n rooi en swart stofomslag waarop die silhoeët van ’n perd en ’n ruiter op ’n hoogtetjie te sien was; die ruiter met ’n hoed op sy kop en sy hand voor sy oë om die sonlig weg te keer terwyl hy die laagte in tuur. Of Ruiter in die nag as ’n e-boek iewers te koop is, weet ek nie – en ek stel ook nie belang nie. Die waarheid is egter dat die boekebedryf nie net uit nostalgie en tweedehandse sagte­bandboeke ’n bestaan kan maak nie.

2Daar ís hoop, sê bedryfsleiers soos Jim Hilt, visepresident vir e-boeke by die Amerikaanse boekereus Barnes & Noble. Waar die fokus in 2011 op die e-leser as toestel was, is dit vanjaar op dít wat op daardie toestelle geléés kan word, sê Hilt. E-lesers, het hy in Januarie by die Digital Book World-konferensie in New York gesê, is net ’n toegangspunt om verbruikers te help om te doen wat hulle reeds doen, naamlik om goeie boeke te lees en nuwe inhoud te ontdek. “Om die snuffel-ervaring wat jy in ’n boekwinkel kan kry op ’n seweduimskerm te sit, dít is nou die uitdaging van ons bedryf.”

3Nog goeie nuus is dat lesers honger is vir nuwe boeke en dat hulle dit duidelik geniet om dit op hulle e-lesers te lees. Amazon, wie se Kindle een van die voorlopers in die mark is, het byvoorbeeld in die tweede kwartaal van 2010 vir die eerste keer meer e-boeke as hardeband-eksemplare verkoop; en ses maande later is ook die sagtebandweergawe verbygesteek. Een van die redes vir dié tendens is dat die e-leser ontwikkel het van iets waarop jy vir die snaaksigheid ’n boek kon probeer lees tot iets wat ’n gedrukte boek in baie opsigte klop: makliker, gerieflik en (gewoonlik) goedkoper.

4Die gewildheid van toestelle soos Apple se iPad, wat ook as ’n e-leser ingespan kan word, help ook: Wêreldwyd is sedert April 2010 al meer as 55 miljoen iPads verkoop. Suid-Afrikaanse verkoopsyfers is nie beskikbaar nie, maar dit kan tot 100 000 wees. As elkeen van dié iPad-eienaars net een plaaslike e-boek per jaar koop, kan dit ’n skaflike hupstoot wees vir ons uitgewersbedryf.

5’n E-leser is minder veelsydig as die tabletreke­naar (soos die iPad), maar hulle is gewoonlik die beste manier om ’n e-boek te lees. Duurder e-lesers soos Amazon se Kindle Fire laat die grens tussen e-lesers en tabletrekenaars vervaag.

6’n Basiese e-leser (’n toestel wat byna nét vir die lees van langer stukke teks – soos ’n roman – gebruik kan word) kos sowat R900 en sluit ’n boekkoopbewys van R160 in. Dis waarskynlik heel bekostigbaar vir die tipiese boekkoper, maar waarom is die e-boeke self nog so duur in Suid-Afrika?

7Die verklaring hiervoor het baie te doen met die koste van teksredigering en bemarking, wat grootliks dieselfde bly. Tog maak dít die deur wawyd oop vir skrywers om sélf hulle boeke uit te gee. Toegegee, heelwat daarvan gaan onleesbare prul wees, maar sê nou net dit lewer elke nou en dan ’n juweel op? En sê nou net duisende skrywers kan skielik ’n bestaan maak omdat hulle ’n groter deel van die inkomste uit hulle eie boeke kry? Hoe lekker sal dít nie wees nie! Amper so lekker soos om ’n 73 jaar oue eksemplaar van Die ruiter in die nag op my boekrak te hê.

(Uit: Rapport, My Tyd. 18 Maart 2012)

’n Tydskrifartikel moet aan sekere vereistes en kenmerke voldoen. Lees die volgende inligting in Pitkos aandagtig deur en beantwoord dan die vrae.


Die skryf van tydskrifartikels

In tydskrifartikels kom die persoonlike voorkeure en afkeure, asook die spesifieke styl van die skrywer sterk na vore. Wanneer jy ’n tydskrifartikel skryf, moet jy op die volgende let:

 Die opskrif moet aantreklik en interessant wees.

 Die styl moet persoonlik wees en direk tot die leser spreek.

 Die styl kan beskrywend en figuurlik wees en ’n beroep doen op lesers se verbeelding.

 Name, plekke, tye, gebeure, standpunte en enige ander besonderhede behoort ingesluit te word.

 Die artikel moet belangstelling wek en die leser boei.

 Daar is geen vaste formaat vir tydskrifartikels nie.

Soeklees die tydskrifartikel vir die volgende inligting. Hiervolgens sal jy kan bepaal of die artikel aan die nodige vereistes voldoen of nie.

1. Trek die opskrif jou aandag? Is die lettertipe en lettergrootte interessant aangebied?

2. Waaruit kan jy aflei dat die skrywer se styl baie persoonlik is?

3. Gee die inligting ’n subjektiewe of objektiewe siening van die skrywer weer? Motiveer jou antwoord.

4. Hoe sal jy die styl van die skrywer verder omskryf? Is dit beskrywend, nugter, feitelik, direk? Motiveer jou antwoord met bewyse uit die artikel.

5. Gee die skrywer na jou mening genoeg feitelike inligting? Verduidelik hoekom jy so sê.

6. Het die artikel jou belangstelling geprikkel? Hoekom?/Hoekom nie?


Skryf ’n tydskrifartikel

Lees weer die vereistes en kenmerke van ’n tydskrifartikel deeglik deur. Skryf ’n artikel vir ’n tydskrif oor nuwe tegnologie wat gemaklik en funksioneel in skole gebruik kan word. Dink aan iPods, iPads, tablette, ensovoorts. Jou artikel moet 180 tot 200 woorde lank wees. Volg die stappe van die skryfproses:

 Beplan ’n kopkaart. Gebruik die volgende idees en stel jou eie kopkaart saam:Watter boodskap/inligting wil jy oordra?Wat is die kerngedagtes?Watter bykomende inligting/feite/beskrywings is noodsaaklik?Lees weer wat die kenmerke van ’n goeie tydskrifartikel is.

 Skryf jou eerste weergawe en lees dit krities.

 Laat jou maat die eerste weergawe lees en redigeer.

 Bestudeer jou maat se aanbevelings en besluit of dit meriete het of nie. Gebruik nou jou kennis en jou maat se opmerkings wat waarde toevoeg en skryf ’n finale produk.

 Raadpleeg ’n woordeboek indien jy twyfel oor korrekte spelling. Moenie raai nie!

Onvoorbereide toespraak

Jou onderwyser gaan ’n paar onderwerpe vir jou gee, soos byvoorbeeld: E-boeke gaan die gewone skoolhandboek vervang. Jy moet jou mening lug oor die onderwerp. Let op die volgende vir jou mondelinge aanbieding van 2 tot 3 minute:

 Gebruik ’n gepaste stemtoon, stemprojeksie, tempo, intonasie, frasering, oogkontak, liggaamshouding en gebare.

 Gebruik doeltreffende woordeskat en taalstrukture.

 Gebruik ’n effektiewe inleiding en slot.

 Praat direk met die gehoor.

 Bied ’n duidelike argument aan en hou dit vol deur verskillende gepaste bewyse te kies.

 Gebruik gepaste aanspreekvorme en herhalings: Dames en here; Ek wil beklemtoon dat . . .

 Gebruik gepaste woordkeuses, taalstrukture en -konvensies.


In hierdie aktiwiteit moet jy boodskappe en temas in visuele tekste identifiseer, interpreteer en evalueer. Ook moet jy let op die effek van visuele tegnieke soos ontwerp, komposisie en kleur, byskrifte en dialoog en die plasing in die voorgrond of agtergrond (posisie) van ’n illustrasie of skets en verduidelik hoe dit die boodskap ondersteun. Kyk na die volgende advertensies en beantwoord die vrae wat volg.

Advertensie 1

Lees- en kykbegrip

1. Wat word hier geadverteer? Wat is die doel van die advertensie?

2. Verduidelik die rol van die “spietkop” in hierdie advertensie.

a. Dink jy dit is gepas? Verduidelik.

b. Pas die wapen en stewels by die advertensie of is dit onnodig?

c. Is hier sprake van stereotipering? Verduidelik.

3. “Spietkop” is ’n voorbeeld van volksetimologie/’n leenwoord.

a. Aan watter taal is dit ontleen?

b. Gee ’n beter Afrikaanse woord daarvoor.

4. Sou ’n ander beeld, byvoorbeeld van ’n skaatsplankryer, dieselfde effek gehad het?

5. Wie is die teikengroep van die advertensie?

6. Waarom is die name van instansies soos ABSA, Beeld en kykNET onderaan die advertensie?

7. Watter opinie/argument word direk of indirek in die advertensie oorgedra?

8. Is die advertensie geslaagd? Verduidelik jou mening.

9. Watter visuele effek het die advertensie op jou? Sal ’n advertensie sonder visuele effekte dieselfde uitwerking hê?

Advertensie 2


Vrae

10. Wat word hier geadverteer? Wat is die doel van die advertensie?

11. Wat is die funksie van die verkleurmannetjie in die advertensie?

12. Waarom word Afrikaans ’n “reënboogtaal” genoem?

13. Hoe word die reënboogtaal visueel voorgestel?

14. Waarna kan die volstruise moontlik verwys? Dink aan die taalfeeste!

15. Van watter een van die twee advertensies hou jy die meeste? Waarom?

16. Dink jy die advertensies is geslaagd? Motiveer.

17. Watter rol speel visuele elemente in die advertensies?


Vergelyk advertensies

 Kies enige twee advertensies uit tydskrifte of koerante wat dieselfde soort produk of diens adverteer.

 Teken die tabel in jou werkboek oor en beantwoord die vrae ten opsigte van elke advertensie.

 Ondersoek moontlike ooreenkomste en verskille tussen die advertensies.

 Rapporteer jou bevindings aan die klas.

KriteriaAdv. 1Adv. 2
Naam van die produk of diens: Wat word geadverteer?
Doel: Wat is die doel van die advertensie?
Boodskap: Watter boodskap oor die produk/diens kommunikeer die advertensie?
Teikengroep: Vir wie is die advertensie bedoel?
Waardes: Watter waardes en/of houdings word met die produk/diens geassosieer?
Taal: Is daar enige opvallende taalgebruik soos herhaling, idiomatiese taal, vergelyking, personifikasie, ensovoorts, in die advertensie? Skryf dit neer.
Visuele beelde: Wat is die doel van die visuele tekste in die advertensie? Help dit om die leser/kyker te oortuig om die produk te koop of die diens aan te skaf?
Eie mening: Dink jy die advertensie is geslaagd? Motiveer jou antwoord.


Visuele elemente

Tegnieke wat gewoonlik gebruik word vir gedrukte teks met visuele elemente soos in koerante, tydskrifte, advertensies, nuusbriewe, brosjures, pamflette, boekomslae, CD- en DVD-boekies, ensovoorts, is opskrifte, byskrifte, grafika, diagramme, tabelle, prente, logo’s, letterstyle (groottes en plasing), wit spasie, spasiëring, illustrasies (voorgrond/agtergrond), kleur, formaat, rame, ensovoorts.

Kenmerke van ’n boekomslag

1. Kyk na en lees die omslag van ’n boek.

Dis belangrik dat jy ’n goeie begrip het van elke komponent van so ’n omslag. Bespreek die verskillende komponente van die geïllustreerde omslag.

2. Ontleed boekomslae

Vir hierdie opdrag gaan jy konsentreer op die kenmerke van ’n boekomslag. Doen die opdragte wat volg.

a. Kies ’n boek waarvan die buiteblad karakters/mense teen ’n bepaalde agtergrond uitbeeld. Dit kan ’n voorgeskrewe boek of enige ander literêre teks wees.

b. Elke leerder gaan sy/haar bevindings en kommentaar aan die klas voorlees.

c. Bestudeer die omslag van die boek waarop jy besluit het en gee gepaste response oor . . .



. . . die uitgewer se kolofonbladsy (imprint) . . .

 Watter uitgewer gee hierdie boek uit?

 Wie dink jy was verantwoordelik vir die omslagtipografie en bandontwerp?

 Wat dink jy was die illustreerder se opdrag (brief) vir hierdie omslag?



. . . die titel . . .

 Watter inligting gee die titel van die inhoud van die boek?

 Wat suggereer die lettertipe (letterstyl) van die titel?


. . . die skrywer . . .

 Waarom verskyn sy/haar naam op die buiteblad?

 Vergelyk die verhouding tussen die lettergrootte van die titel en die skrywersnaam. Watter een is die belangrikste? Gee ’n rede daarvoor.


. . . die kunswerk (bandontwerp) . . .

 Wat voorspel die kunswerk van die verhaal of inhoud?

 Is dit ’n goeie voorstelling van die verhaal? Verduidelik.

 Hoekom, dink jy, is dié illustrasie en letterwerk gekies vir die buiteblad?

 Lewer kommentaar oor die kleur en verhouding tussen dinge in die kunswerk. Watter effek het dit?

 Wat suggereer die ontwerp van die boek se bedoelde teikengroep/lesers? Is geslag, kultuur, ouderdom, ensovoorts, in aanmerking geneem?

 Word die hoofkarakter geïllustreer? Indien wel, lewer kommentaar op die held/heldin se kleredrag, gesigsuitdrukking, liggaamshouding.

 Pas die illustrasie/foto/letterwerk by die uitbeelding/beskrywing van ’n karakter in die verhaal?

 Watter soort genre, styl en toonaard kan die leser verwag na aanleiding van die bandontwerp?

 Watter gebeurtenis/idee/karakter in die teks het die illustreerder gebruik vir die bandontwerp?


. . . die agterbladteks (blurb) . . .

 Wie is die teikengroep van die agterbladteks?

 Kan jy die geslag, ouderdom of kultuur van die teikengroep volgens hierdie inligting bepaal?

 Watter verwagtinge skep hierdie teks by die leser?

 Wie se opinie/mening word hier weerspieël?

 Sal die agterbladteks die boek effektief bemark?

 Watter tegnieke/taktiek sal jy gebruik om hierdie boek te bemark vir byvoorbeeld ’n ouer/jonger teikengroep?


. . . die prys . . .

 Waarom word die prys net in Suid-Afrikaanse geldeenheid aangedui?

 Watter kopers is waarskynlik die mark vir hierdie boek?


. . . die strepieskode en die ISBN . . .

 Watter inligting is vervat in die strepieskode?

 Waarom word die strepieskode teen ’n wit agtergrond gedruk?

 Waar word strepieskodes nog gebruik?

 Hoekom het boeke ’n ISBN-kode?


. . . die boek se rugkant . . .

 Watter inligting kom voor op die rugkant?

 Pas die lettertipe by die ander boodskappe op die buiteblad?

Teken die verslagvorm wat volg in jou werkboek oor en voltooi dit ná die bespreking.

Boekomslag – verslag

Ontleed en interpreteer boekomslae as visuele tekste



Die verskil tussen ’n drama en ’n film

’n Drama is ’n direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare. ’n Dramateks word geskryf met die doel om dit op ’n verhoog aan te bied. Die dramaturg kan ’n verhaal of gebeure nie volledig weergee nie en moet daarom selekteer sodat dit in ’n tydsverloop van twee tot drie uur opgevoer kan word.

’n Draaiboek is ’n filmmanuskrip met volledige besonderhede (die scenario) wat met die vervaardiging van die rolprent gevolg word. In die draaiboek vind ons kamera-aanwysings en ander tegniese notas. Die tonele word genommer.

Nóg die drama nóg die film gee gebeure weer wat in die verlede plaasgevind het. Dié gebeure speel as terugflitse voor die toeskouer/kyker in die hede af, die hier en nou. Albei tekste gee aanduidings van hoe die akteurs moet lyk en optree.

Daar is ’n groot verskil in die lees van ’n drama of draaiboek en die kyk daarna. Wanneer ons na ’n rolprent kyk, word ons maklik oorreed om die regisseur se standpunt te volg. Die filmregisseur kan dít wat ons sien in ’n mate beheer – uit watter oogpunt ons dit sien, van wie ons hou of nie, en wat goed of sleg is. Die gebruik van kleur, kamerategnieke en spesiale effekte laat ons die emosies ervaar wat die regisseur wil hê ons moet ervaar. Anders as by die lees van ’n verhaal (prosa) laat ’n rolprent min aan die kyker se verbeelding oor. Dit is nie so abstrak nie. Die musiek en karakters is gekontroleerd. Die kykers besef nie dadelik dat hulle eintlik gemanipuleer word nie. ’n Rolprent vertel dus dikwels alles vír jou sodat jy nie betekenis dieper daarin hoef te soek nie.

Prelees: Agtergrond van Paljas

Deesdae word sommige romans of verhale van bekende skrywers verwerk tot ’n draaiboekteks vir verfilming. Een so ’n verwerking was die draaiboekteks Paljas geskryf deur Chris Barnard. Die teks van Paljas het ontstaan uit ’n vertelling van Abraham de Vries wat deur Trix Pienaar oorvertel is. In 1993 het De Vries sy vertelling soos volg gebruik as kamee in die kortverhaal “Skaduwees tussen skaduwees”:

Nou onlangs terwyl ons besig was met ’n dokumentêre film oor Makkadas, die stoomtrein wat vroeër daagliks tussen Touwsrivier en Ladismith geloop het, hoor ek nog so ’n storie: dié keer van die Italiaanse krygsgevangene wat in die veertigerjare die stasiemeester op Hondewater ’n buitekamer gehelp bou het. Die stasiemeester en sy vrou had ’n kind, ’n seuntjie, enetjie met ’n horrelvoetjie en boonop bleek en inkennig.

Maar toe raak dié twee maats, so onpaar soos hulle was, die Italianer en die seuntjie, al kon hulle mekaar se taal nie eens verstaan nie. Want die Italianer teken op die buitekamer se muur, sommer met skoolkryt, diere en clowns, tiere en olifante, perde met ruiters wat op die saals staan, ’n hele sirkus. En elke dier en elke clown praat kamma met sy eie stem. So het hy die kind eers aan die lag en toe aan die praat gekry.

Hy het ook een nag verdwyn en nêrens het iemand hom ooit weer gesien nie, en dit in ’n landstreek waar die mense die spore van mekaar se diere uitken. Van die kind vertel die verhaal verder niks, behalwe dat hy nooit na die man uitgevra het nie.


Kenmerke van ’n drama

Die gesproke woord en handeling is die twee middele wat ’n dramaturg gebruik om sy tema of boodskap oor te dra. Die gesproke woord kan in die vorm van ’n monoloog voorkom, maar meestal is dit in die vorm van ’n dialoog of gesprek tussen karakters. Elke karakter het ’n spreekbeurt. Handeling behels alles wat ’n karakter op die verhoog of ’n akteur in ’n rolprent of televisiedrama doen – sy bewegings, gebare en selfs sy gesigspel. Die gemoedstoestand van die karakter word afgelei uit die handeling en die denkproses van die akteur. Dialoog en handeling bepaal wat die gehoor van die karakters gaan dink.

Die hoofkarakter (Hendrik in Paljas) is die belangrikste karakter in ’n drama. Die ander belangrike karakters is mede- of newekarakters (Katrien, Emma, Willem, Nollie, Frans en Manuel in Paljas). Karakters wat ’n minder belangrike rol speel, word randkarakters genoem (soos Dominee, Oudokter, Jan Mol, ensovoorts, in Paljas). Die hoofkarakter is die held of protagonis en sy bose teenspeler word die antagonis genoem. ’n Derde karakter wat konflik tussen die protagonis en antagonis veroorsaak, word die tritagonis genoem (in Paljas is dit Manuel die nar).

Innerlike/interne konflik is die spanning wat by ’n persoon geskep word deur die botsing van begeertes, behoeftes, drange, vrese, ensovoorts. ’n Karakter (soos Katrien in Paljas) wys byvoorbeeld nie maklik emosies nie – die karakter ervaar dus konflik. Eksterne konflik is wanneer karakters uiterlik bots (byvoorbeeld: in Paljas daag die kerkmense met gewere by Hendrik op om die nar te kom jag). Eksterne konflik kan dikwels tot interne konflik lei, en omgekeerd.

Karakteruitbeelding het te make met hoe die leser of kyker die karakter leer ken (hoe hy uitgebeeld word in die film, toneelopvoering, op televisie of oor radio). Dit word bepaal deur die karakter se voorkoms, handeling, reaksies, ensovoorts. ’n Verteller of medekarakters kan ook inligting oor ’n karakter gee of die leser of toeskouer kan afleidings maak uit die interaksie tussen karakters, tussen karakters en die omgewing, ensovoorts.

Die intrige of verhaallyn is die patroon waarvolgens gebeure plaasvind (in Paljas is dit ’n sirkustrein wat per ongeluk op die verlate spoorweghaltetjie, Toorwater, beland en hoe dit die gesin wat daar woon se lewe ingrypend verander). Daar kan ook verskeie subintriges of ondergeskikte storielyne wees.

Die dramatiese doelstelling van ’n drama kan wees om te vermaak, om die kyker te laat nadink of om nuwe perspektiewe te bied. (Die Karoo word byvoorbeeld gewoonlik as ’n prentjiemooi landskap uitgebeeld, maar in Paljas is dit ’n stroewe, ongenaakbare landskap wat die tema van eensaamheid belig.)

Dramatiese ironie is ’n vorm van kontras: die toeskouer/kyker is bewus van wat op die verhoog/in die agtergrond gebeur, terwyl die karakter onbewus is daarvan. Dit word gebruik om spanning te skep en dikwels ook om simpatie te wek.

Die struktuur van ’n verhoogdrama verskil ietwat van dié van ’n film. Die drama word gewoonlik uiterlik verdeel in bedrywe en bedrywe word gewoonlik onderverdeel in tonele. Die bedrywe is gewoonlik omtrent ewe lank, maar die lengte van tonele kan verskil. In ’n film is daar nie sprake van bedrywe nie, maar wel van tonele.

Die verloop van ’n drama kan in fases verdeel word:

 Die aanloop/eksposisie/bekendstelling/uiteensetting – die leser/kyker word in die openingstonele aan die ruimte, karakters en tema bekendgestel.

 Die motoriese moment – die gebeurtenis wat die handeling (wat uiteindelik na die klimaks of die antiklimaks sal lei) aan die gang sit (in Paljas is dit die opdaag van die sirkustrein by die spoorweghalte).

 Die verwikkeling is die toenemende spanning terwyl die situasie/verhouding/intrige/botsing/storie ontwikkel.

 Die krisis is die toppunt van spanning voor die klimaks (in Paljas waarskynlik wanneer die nar geskiet word).

 Die klimaks is die hoogtepunt/uitbarsting/breekpunt/katarsis/ommekeer van die spanning of konflik.

 Die dénouement/oplossing/ontknoping/afloop/afwikkeling is die ontrafeling van die botsing/konflik/intrige/spanning (in Paljas is al die verhoudings binne gesinsverband byvoorbeeld ook besig om gesond te raak terwyl die nar by Hendrik-hulle se huis aansterk,).

Toneelaanwysings is die dramaturg se spesifieke opdragte/aanbevelings vir die opvoering van die drama, asook inligting aan die akteurs. In ’n draaiboek is daar ook spesifieke aanwysings, miskien nog in meer besonderhede as vir ’n verhoogdrama.

Lees ’n draaiboekteks

Die volgende uittreksel is uit die filmdraaiboek, Paljas, geskryf deur Chris Barnard. Beurtlees dit in ’n groep of saam met ’n maat.

Karakters:Hendrik MacDonald – ploegbaas op ’n verlore stasietjie, 45Katrien – sy vrou, 40 jaar oudEmma – hulle dogter, 19 jaarWillem – hulle seun, 9 jaarNollie Kemp – jong man van die dorp, 24 jaar, wat by Emma kuierFrans Lombard – boer van die omgewingManuel – ’n sirkusnarDomineeOudokterJan MolSollie & Sambo & Bertie & Barnie – almal van die sirkusOuderling BothmaSersantKonstabelSakkie du Toit & Pieta Benade – boere van die buurtThys Briekman – van die koöperasieJagtersNuuskieriges by sirkustreinNuuskieriges by die stasiePolisiemanne & kerkgangers

Die landskap is die Karoo. ’n Uitgestrekte, eenselwige, eensame omgewing met gannabos, skaap en koringlande. En dansende lugspieëlings.

Deur die middel van hierdie landskap loop ’n grondpad en ’n spoorlyn, en langs die spoorlyn is ’n spoorweghalte. Dis skaars ’n halte. Dis ’n perron, ’n sinkwagkamer en -kantoor, ’n watertoring, ’n paar bloekom- en peperbome, ’n paar vervalle skure, ’n laaiplek vir diere, ’n windpomp en ’n spoorweghuis met ’n wye voorstoep. Dis die soort plek waar treine nie stop nie.

Die plase is groot en die naaste plaasopstal sowat vyf kilometer weg.

’n Klompie kilometer suid van die halte is ’n kleinerige dorp met ’n paar winkels, ’n koöperasie, ’n klompie huise en ’n massiewe kerk.

1’n Uitgestrekte Karoolandskap. Dis net ná dagbreek. Op die oostelike horison is ’n stroomtrein onderweg met sy swart rookpluim duidelik sigbaar teen die lug.

2Hendrik en Katrien se slaapkamer. Die eerste oggendlig val deur die venster. Katrien klim uit haar enkelbed en maak klein Willem toe wat in dieselfde bed lê. Sy sit ’n oomblik vir die vertrek en kyk – ook vir die slapende Hendrik op die enkelbed oorkant haar. Die lig val effens oor sy gesig.

3In die kombuis het Katrien die koolstoof klaar gepak en sy steek die vuur aan met ’n stukkie papier wat sy in die kersvlam maak brand. Sy maak die agterdeur oop en kyk uit. Dis net-net lig. Ver en naby, heeltyd, kraai daar hoenders.

4Katrien, klaar aangetrek, sit ’n skinkbord met vier koffiebekers op ’n tafeltjie langs Hendrik se bed neer. Sy maak hom wakker en sit sy koffie langs hom neer. Hendrik sit regop. Sy sit die ander beker langs klein Willem se bed neer. Sy vat die orige twee bekers en gaan na ’n ander kamer oorkant die gang. ’n Hees hoenderhaan kraai kort-kort buite.

5Katrien gaan sit op die bed in Emma se kamer en sit Emma se koffie op die bedkassie neer. Emma lê met haar rug na Katrien toe en dit lyk of sy slaap. Katrien maak haar nie wakker nie. Sy sit haar koffie en drink terwyl sy by die venster uitkyk.Die haan kraai weer. Dis elke keer of sy stem wil-wil breek.

EMMA:Ek gaan nog een môre opstaan en daardie haan met ’n stok doodslaan.
Katrien drink haar koffie.
Dan sit Emma regop en vat haar koffie sonder om te kyk waar dit staan: dis ’n ritueel wat al jare lank dieselfde bly.
Albei sit en drink.
Emma is jonk en mooi en maagdelik onskuldig.
KATRIEN:Vandag braai ons weer uit.

6Hendrik en die twee kinders sit by die kombuistafel brood en konfyt eet. Hendrik in sy spoorweguniform. Katrien staan en vadoeke uitspoel. Die twee kinders lyk nog nie heeltemal wakker nie. Hendrik sit vir klein Willem en kyk, heeltyd terwyl hy eet: openlik en benieud, soos mens vir iets kyk waaroor jy nuuskierig is maar wat jy nie verstaan nie. Die kind is óf onbewus daarvan óf gewoond daaraan.Katrien staan met haar rug na hulle toe en werk. Sy het oë in haar agterkop.

KATRIEN:Hendrik, los die kind. (Hy hoor nie, of wil nie hoor nie: hy sit nog steeds en staar.) . . . Hendrik!
HENDRIK:Wat maak ek?
KATRIEN:Los hom net.

Die hele gesprek vind plaas sonder dat Katrien een keer omkyk. Maar op haar gesig is iets soos pyn of dalk frustrasie.

7Voor die agterdeur op die klipharde kaal werfie hang Katrien vadoeke aan die wasgoeddraad.Die passasierstrein kom verby. Sy staan tussen die vadoeke, haar hande op die draad, en kyk hoe die kompartemente verbyflits.

8Emma, miskien nog in haar nagklere, staan op die stoep en kyk.

9Klein Willem sit in sy kamer op die vensterbank en kyk. ’n Mens weet dis sy kamer, want die dak hang vol vliegtuigies en die mure is vol prente van motors en rugbyspelers.

* * * * * * * * * * * *

Die kind sien die goudgeel skoolbus aankom. Hy wys vir sy pa.

HENDRIK:Ja, ek sien. (Hy stap heeltyd nader.) Sê gou. (Die kind begin wegbeweeg, maar Hendrik gryp sy elmboog.) Sê gou – sê “tot siens, Pa”.
Die bus stop al.
En Willem ruk los en hardloop. En heeltyd waai hy oor sy skouer vir sy pa.
Hy hardloop oor die spoor.
Hendrik staan en kyk hoe hy in die bus klim. Die bus ry in die vroeë môrelig in.
Hendrik se gesig is heeltemal uitdrukkingloos.
Die bus is nog nie heeltemal weg nie wanneer ’n bakkie van dieselfde kant verskyn waar die bus vandaan gekom het. Dis Frans Lombard se groen bakkie. Hendrik sien hoe die bakkie oor die spoor swenk en werf toe ry.
En Hendrik posisioneer homself só dat hy ongemerk kan sien wat op die werf aangaan.

* * * * * * * * * * * *

10’n Leë stuk Karoolandskap met die horison hier naby. Net ’n bossiebult. Dan verskyn die kop en rug van ’n olifant oor die horison. En eers wanneer hy halfpad oor die bult is, word die nar sigbaar wat voor hom stap; ’n nar in volle mondering, wat hom aan ’n tou lei. Die olifant hou die tou met sy slurp vas.Klein Willem staan vir die opkomende prosessie en kyk.Die nar stap reg op Willempie af. En kom staan voor hom.

NAR:Hallo. (Die kind antwoord nie.) Wat is jou naam? (Niks.) Is jy skaam? (Nog geen reaksie nie. Willempie kyk net vir die olifant.) Dè. (Hy druk die tou in die kind se hand.) Loop bietjie met hom. (Die kind staan net met die tou.) Trek hom. Jy sal sien. Hy sal loop as jy trek. (Willempie staan net. En die nar begin aanstap. Hy stap weg van hulle af. Tien tree weg kyk hy om.) Bring hom! Trek; hy sal kom. (En Willempie kyk vir die olifant. En trek. En die olifant kom.) Jy sien?

11’n Montage van die olifant wat al agter Willempie aanstap. Eers met die nar naby hulle. Dan met die nar op die agtergrond. Daarna net Willempie en die olifant. Oor ’n bult, deur ’n land vol koringbale, deur ’n stroom water, oor ’n brug, deur ’n bos. Willempie stap al hoe regopper, al hoe meer kordaat – en die olifant waggel agterna.

* * * * * * * * * * * *

12Die nar en Willem is in ’n ou vervalle skuur. Naby die stasie. Deel van die skuur se dakplate is weg; die vensters is met planke toegespyker; die vloer staan vol petrolkonkas, ’n motorwrak, ou hooibale, die reste van plaasimplemente.Die nar wys vir Willem sy toertjie. Hy knoop ’n sakdoek om ’n muntstuk, trek die sakdoek deur sy los hand, en knoop die sakdoek oop. Dis leeg.

Willem lyk nie beïndruk nie.

NAR:Jy ’t my nog nie jou naam gesê nie. (Die kind reageer nie.) Wil jy weet wat my naam is? (Die kind knik.) Manuel. (Die kind sit ’n rukkie vir die nar reguit in die oë en kyk. Dan vat hy ’n stukkie houtskool en skryf teen die muur: Willem.) Willem? Jou naam is Willem? (Die kind knik. Die nar vat Willem se hand en skud dit plegtig.) Bly te kenne, Willem!

* * * * * * * * * * * *

NAR:Diere kan praat. Het jy geweet? (Willem skud sy kop.) Leeus praat. Ons dink hulle brul sommer net, maar dis nie sommer net brul nie – hulle sê goed vir mekaar en hulle verstaan mekaar . . .

benieud – begerig om te weet, nuuskierig, graag iets wil weet

hees – ’n dowwe, skor stem

konka – pot of blik waarin vuur gemaak word

mondering – uitrusting, uniform

montage (montasie) – proses of metode waardeur filmtonele deur seleksie in ’n bepaalde strekking gemonteer/gepas/saamgevoeg word

werf – grond, terrein om ’n woning of opstal

Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.

1. Die titel is Paljas.

a. Wat beteken dié woord?

b. Wat impliseer die betekenis van “paljas” ten opsigte van die tema van die verhaal?

c. Is dit, na jou mening, ’n gepaste titel?

d. Dink jy daar is ’n verband tussen die titel en die naam van die dorp? Verduidelik jou antwoord.

2. Die intrige word gekenmerk aan verskillende tonele. Hoe word tonele in die teks aangedui?

3. Die skrywer gee aanduidings van hoe die karakters moet optree. Hoe word dit tipografies in die teks aangedui?

4. Beskryf die openingstonele kortliks in jou eie woorde. Watter stemming word in die openingstonele geskep?

5. In toneel 11 verwys die skrywer na ’n “montage van die olifant”. Gebruik ’n verklarende woordeboek of tesourus en gee ’n volledig omskrywing van hierdie begrip binne konteks van die toneelaanwysings.

6. Beskryf kortliks die agtergrond waarteen die gebeure afspeel.

7. Innerlike konflik is die spanning wat by ’n persoon geskep word as gevolg van ’n botsing van begeertes, behoefte, drange, vrese, ensovoorts, binne die persoon. Kan jy uit die teks aflei watter karakter ervaar konflik? Hoekom sê jy so?

8. Karakteruitbeelding het te doen met hoe die leser of kyker die karakter leer ken. Dit word bepaal deur die karakter se voorkoms, handeling, reaksies, gesigsuitdrukkings, wat ander karakters van die karakter sê, die omgewing, ensovoorts. Hoe ervaar jy Hendrik se karakter?

9. Wat dink jy is die sentrale tema van Paljas na aanleiding van die uittreksel?

10. Simpatiseer jy met Katrien? Hoekom? Wat sou jy in dieselfde situasie gedoen het?


Lees die volgende resensie oor die rolprent wat in Beeld verskyn het.

Toorprent is doepa vir die siel


Paljas

Ster-Kinekor

Laetitia Pople

1Katinka Heyns se Paljas is ’n grootse prent wat die kyker enduit betower. Dit skets ’n gewone gesin wat op ’n klein stasie tussen niks en nêrens woon. Die stasietjie word nie verniet Toorwater genoem nie.

2Die ouers swyg of praat verby mekaar, die seuntjie is uit keuse stom en die “nukkerige” dogter het nie meer lus vir klavierspeel nie. Hul lewe het so stil en vaal soos die vlakte om hulle geword.

3Die doodse stilte word een donkernag met ’n onaardse brul verbreek. ’n Sirkuswa is gestrand op die verkeerde plek, die malse kleure daarvan druis in teen die omgewing en voorspel groot dinge. ’n Nar bly agter as die bontspul weer vertrek.

4Niemand behalwe Willem, die seuntjie, is bewus van sy bestaan nie. Die transformasie of heling van die verbrokkelde gesin word sigbaar in vreemde klein dingetjies.

5Die dramatiese wending van die prent kom as ’n skok. Die kyker wil verkieslik ewig hanswors en harlekyn saam met die rooineus tussen die Karoobossies. In die werklikheid word dié speelsheid nekomgedraai deur voorskriftelikheid en ’n swart-wit lewensuitkyk. Hier gryp die gemeenskap “met die dominee aan hul kant” in om die ligsinnigheid hok te slaan. Die gevaar van ou horrelpoot, nes ’n bende rowers, oordonder mos alle pret. Heyns speel met die argetipes en hier kry Paljas ’n universele eggo.

6Heyns skep blywende beelde wat in jou geheue afgeëts bly. Die aansteeklike rinkink van die nar en seun soos hase in die pienk veld, of die kyker se eerste kennismaking met die nar as ’n bisarre verskynsel in die dorre woestynlandskap, of die simboliek van die nar wat die lang pad na die kerk aandurf . . .

7Die redigering van Paljas is soomloos en goël met die oog.

8Koos Roets se fotografie is weer eens ’n visuele gedig; hy benut die palet van kleure en skakeer emosie. Die prent ontvang ’n natuurlike ritme in die haarfyn choreografie, selfs die volstruise speel saam. Geen speler kan uitgesonder word nie – van Aletta Bezuidenhout, Marius Weyers, Larry Leyden, Liezel van der Merwe, Jan Ellis en Marthinus Basson sien ’n mens die hart en derms van hul karakters.

9Die prent is doepa vir die gees. Bitter min kry dit reg om ’n tydlose meesterwerk te skep waarvan die hart só bons.

Beantwoord die volgende geïntegreerde vrae in jou werkboek.

1. Omskryf die betekenis van die volgende woorde en frases in konteks van die teks: “malse” (par. 3); “argetipes” (par. 5); “afgeëts” (par. 6); “bisarre” (par. 6).

2. Lees In ’n neutedop hierna oor denotasie en konnotasie. Lees die sin “. . . sien ’n mens die hart en derms van hul karakters”. Is hierdie beskrywing van die karaktervertolkings letterlik of figuurlik bedoel? Verduidelik jou antwoord.


Kritiese taalbewustheid

Die denotasie van ’n woord is die gewone betekenis van ’n woord; dit is die letterlike, saaklike, objektiewe betekenis van ’n woord, byvoorbeeld: Indien jy aan sport wil deelneem, moet jy jou gewig dophou. (Letterlike betekenis – hoeveel jy weeg.)

Konnotasie dui op die ongewone betekenis van ’n woord, ’n gewysigde of bybetekenis waaronder die oordragtelike (figuurlike) betekenisse soos idiome, spreekwoorde en beeldspraak tel, byvoorbeeld: Elkeen moet sy gewig ingooi om die wedstryd te wen. (Figuurlike betekenis – jou beste lewer.)

3. In die laaste paragraaf lees ons “Die prent is doepa vir die gees.” Wat is die letterlike betekenis van die sin?

4. “Die kyker wil verkieslik ewig hanswors en harlekyn saam met die rooineus . . . ” Watter woordsoort is “hanswors” en “harlekyn” in die aangehaalde sin?

5. Wat bedoel die resensent met ’n “swart-wit lewensuitkyk”?

6. “Katinka Heyns se Paljas is ’n grootse prent . . .” Kies uit die lysie wat volg ’n sinoniem (woord met min of meer dieselfde betekenis) vir “grootse”.

mooiepragtigeindrukwekkendeenorme

7. Die speelsheid van die nar word “nekomgedraai”. Wat beteken nekomgedraai? Kies die korrekte antwoord uit die volgende:

a. Hulle dreig om die nar seer te maak.

b. Die nar moet ophou om te speel.

c. Die nar se spelerige geaardheid word gestuit.

d. Hulle wil letterlik sy nek omdraai (hom doodmaak).

8. “Die redigering van Paljas is soomloos en goël met die oog.” (par. 7) Herskryf hierdie sin in jou eie woorde.

9. In Afrikaans word sommige woorde se spelling en skryfwyse deur tradisie bepaal. Standaardafrikaans sluit met betrekking tot woorde met dieselfde klanke maar verskillende skryfwyses grootliks aan by Nederlands, byvoorbeeld ei en y asook f en v. Kies nou die korrekte woord tussen hakies in die volgende sinne. Hierdie woordpare word homofone genoem.

a. Sekere mense (lei/ly) dikwels aan intense vrees.

b. Die son skyn (fel/vel) op die sirkusgangers.

c. (Fier/vier) en regop loop die nar langs die olifant.

d. Hy dink terug aan die (vorse/forse) gestalte van sy pa.

10. Ons spel ook volgens die beginsel van gelykvormigheid. As die woorde rant en hond uitgespreek word, dan word die [t] as slotklank gehoor. Om te verseker dat gelykvormigheid ten opsigte van die meervoudsvorm gehandhaaf word, word hond dus met ’n d gespel en rant met ’n t. Die meervoudsvorme van dié woorde is honde en rante. Kies die korrekte vorm van die woorde tussen hakies.

a. Die musiek is hopeloos te hard; dit werk op my (senewees/senuwees).

b. Die diere beweeg al in die (skaduwee/skadewee) van die bome om nie gesien te word nie.

11. Lees die inligting in In ’n neutedop oor die selfstandige naamwoord en beantwoord daarna die vrae.


Selfstandige naamwoorde

Die selfstandige naamwoord sluit die volgende soorte in:

 Soortname kan meervoud, verkleining (televisie, rolprent, teater, kamera) en geslag (regisseur, vervaardiger) hê.

 Eiename word so genoem omdat hulle name aan sekere sake soos persone, lande, dorpe, stede, organisasies, ensovoorts, gee: Paljas, Marius Weyers.

 Abstrakte s.nwe. druk sake soos houding en gevoel uit: geweld, liefde, haat, vrees.

 Versamelname dui op ’n groep of versameling sake: ’n sarsie geweerskote, ’n bos/ruiker blomme.

Hoe herken jy ’n selfstandige naamwoord?

 Gewoonlik kom dit ook in die meervoud en verkleining voor, byvoorbeeld: kinders, kindertjies, banke, bankie.

 Let wel: Abstrakte selfstandige naamwoorde en massaname kom nie in meervouds- of verkleiningsvorme voor nie, byvoorbeeld: goud, silwer, water, lusernkoste.

 Sommige selfstandige naamwoorde kom net in die meervoud voor, byvoorbeeld: harsings, masels.

 Die lidwoorde die en ’n word gewoonlik saam met ’n selfstandige naamwoord gebruik, byvoorbeeld: die kind, ’n boom.

 Voornaamwoorde kan ook saam met selfstandige naamwoorde gebruik word, byvoorbeeld: hierdie vrou, daardie boom, jou ervaringe.

Lys die verskillende soorte selfstandige naamwoorde wat in paragraaf 5 van die teks voorkom. Skryf dit in die volgende kolomme:

SoortnaamEienaamAbstrakte s.nw.Versamelnaam

12. a. Wat is die vroulike vorm van “akteur” en “regisseur”?

b. Vorm persoonsname van “stom” (par. 2) en “choreografie” (par. 8).

c. Wat noem ons die geleentheid wanneer ’n rolprent vir die eerste keer vertoon word?

d. Gee drie sinonieme vir die woord “rolprent”.


Selfstandige naamwoorde

Verkleining in Afrikaans word gewoonlik deur die agtervoegsels -tjie, -jie, -pie, -ie, -etjie en -kie aangedui, byvoorbeeld: seuntjie, blommetjie, boompie, rokie, ringetjie, woninkie, ma’tjie, oumatjie.

Meervoude in Afrikaans kom by selfstandige naamwoorde voor. Meervoude word aangedui deur agtervoegsels soos -e, -s, -ere, -ers, -ens, -’s, -ë, -te of -de by die selfstandige naamwoorde te voeg. (Onthou dat nie alle s.nwe. ’n meervoudsvorm het nie, byvoorbeeld: goud, haat, platinum.)

Geslag word gewoonlik gevorm deur

 agtervoegsels: Die vroulike geslag word gevorm deur -es(-esse), -in, -te, -ster, -ise en -e.

 -ise by vreemde woorde wat op -eur en -or eindig: akteur – aktrise; lektor – lektrise.

 ander woorde: Die merrie is mooier as die hings.

 -mannetjie of -wyfie by te voeg: ’n Volstruismannetjie is mooier as ’n volstruiswyfie.

13. Wat noem ons die . . .

a. plek waar ’n versameling films gehou word?

b. teksskrywer van ’n film?

c. plek waar ’n rolprent gewoonlik verfilm word?

d. persoon wat namens ’n filmster gevaarlike toertjies in ’n rolprent doen?

14. Gee eers die meervoud en dan die verkleiningsvorm vir die volgende soortname:

a. gesin (par. 1)

b. sirkuswa (par. 3)

c. omgewing (par. 3)

d. harlekyn (par. 5)

e. ligsinnigheid (par. 5)

f. eggo (par. 5)

15. Gebruik die onderstaande uitdrukkings elkeen in ’n volsin.

a. ’n stampvol teater

b. ten bate van

c. ’n genoeglike aand

d. leë sitplekke

e. gesonde vermaak

16. Gee die teenoorgestelde geslag van die volgende woorde (manlike of vroulike vorme).

a. danser

b. koning

c. pianis

d. leidster

e. tikster

f. spreekster

g. wewenaar

h. towenaar

i. teef

j. koedoebul

k. bulkalf

l. beer


Byvoeglike naamwoorde

Wanneer jy voorberei vir formele assessering van skryf en taal, is byvoeglike naamwoorde/ adjektiewe een van die taalstrukture wat jy korrek en doeltreffend moet kan gebruik. Byvoorbeeld: Die vervelige rolprent. ’n Realistiese vertolking.

Byvoeglike naamwoorde het verskillende kenmerke:

 Die belangrikste kenmerk van hierdie woordsoort is die breër omskrywing van selfstandige naamwoorde.

 Sommige byvoeglike naamwoorde verskyn vóór ’n selfstandige naamwoord en staan bekend as attributiewe byvoeglike naamwoorde (’n briljante rolprent) terwyl dié wat ná ’n selfstandige naamwoord staan, predikatiewe byvoeglike naamwoorde genoem word (Die akteur is briljant in die rol).

 Sommige attributiewe b.nwe. word verbuig; in hierdie gevalle word ’n -e aan die einde gevoeg (verboë vorme), byvoorbeeld: Hoë bome vang die meeste wind.

 Byvoeglike naamwoorde (en sekere bywoorde) toon trappe van vergelyking. Indien ’n b.nw. gewoonweg gebruik word, praat ons van die stellende trap (groot). As ons twee sake met mekaar vergelyk, word die vergelykende/vergrotende trap gebruik (groter). Ons gebruik die oortreffende trap wanneer meer as twee sake vergelyk word (die grootste). Die lidwoord die word altyd saam met die oortreffende trap gebruik. Dis belangrik dat jy onthou om nie meer en mees saam met woorde te gebruik wat reeds in trappe van vergelyking gebruik is nie. Verkeerd: Dis die mees onverantwoordelikste ding wat jy nog ooit gedoen het! Korrek: Dis die onverantwoordelikste ding wat jy nog ooit gedoen het!

 ’n Ander kenmerk van sekere byvoeglike naamwoorde is intensiewe vorme, byvoorbeeld: bloedrooi, doodmoeg, boeglam, dolgraag, ensovoorts. Dis belangrik om die vorme altyd vas te skryf, anders verander die betekenis.

17. Lees In ’n neutedop oor byvoeglike naamwoorde. Watter woorde in die volgende sinne beskryf selfstandige naamwoorde?

a. Die fliek handel oor ’n kleurryke sirkusomgewing.

b. Dis algemeen bekend dat narre deernisvolle mense is.

c. Daar is ook speelse humor in die film.

18. Vorm byvoeglike naamwoorde van die woorde tussen hakies.

a. Die film het ’n (geweld) indruk op die buiteland gemaak.

b. Die (geweld) tema word tog met deernis uitgebeeld.

c. Die (kaap) sirkuswa is vinnig deur die polisie opgespoor.

d. Hy het die (moeilik) taak om die olifante te beheer.

e. Almal geniet die (ritme) musiek van die fluitspeler.

f. Katinka Heyns is ’n (skitter) regisseur.

19. Vul byvoeglike naamwoorde in wat dieselfde betekenis het as die verklarings tussen hakies.

a. Die . . . vrou (wat invloed het) sal die vervaardiger van die film wees.

b. Die . . . ma (wat haar bewussyn verloor het) van die hoofkarakter is baie siek.

c. Motorkaping is ’n . . . verskynsel (wat elke dag voorkom).

d. Die . . . meisie (wat gretig is om te leer) wil graag ’n filmster word.

e. Die regisseur belowe dat . . . mense (wat op die platteland woon) ook die film te sien sal kry.

20. Gee die trappe van vergelyking van die volgende woorde:

a. sigbaar (par. 4)

b. (ge)skok (par. 5)

c. gewone (par. 1)

d. realisties

21. Gee die intensiewe vorme van die woorde tussen hakies.

a. Hy is nou ’n (baie soet) kind.

b. Vir die toneel is dit nodig dat die kamer (baie donker) moet wees.

c. Die akteur reën (baie nat) tydens die verfilming in die veld.

d. Die sonlig skyn op die (baie skerp) mes in sy hand.

e. Maak die kameralens (baie skoon) voor die volgende toneel.

f. Die regisseur sit (baie regop) in sy stoel.


Sinsoorte

Let op die volgende sinsoorte:

 Stelsin (Ons kyk graag na goeie films.) Uitroepsin (Eisj, dis nou ’n briljante rolprent!)

 Vraagsin (Waar word die film geskiet?) Begroeting (Middag, Ma!)

 Bevelsin (Hou op om aan die kamera te peuter.) Wenssin (Hoop julle gaan ’n wonderlike ervaring hê!)

22. “Niemand behalwe Willem, die seuntjie, is bewus van sy bestaan nie.” (par. 4) Verander hierdie sin na ’n vraagsin.

23. Watter soort sin is die volgende? “Die stasietjie word nie verniet Toorwater genoem nie.” (par. 1)

24. “. . . om die ligsinnigheid hok te slaan.” (par. 5) Wat word hier bedoel?

25. Verander die volgende sin na ’n bevelsin: “ ’n Nar bly agter as die bontspul weer vertrek.” (par. 3)


Leestekens

Gebruik ’n komma in die volgende gevalle:

 Tussen woorde (soos selfstandige naamwoorde en adjektiewe): Rolprentsterre, draaiboekskrywers en regisseurs was die eregaste.

 Tussen twee werkwoorde waarvan een werkwoord ’n deel van ’n sin afsluit en die ander ’n nuwe sinsdeel inlui: Wanneer jy voor ’n kamera staan, is jy dikwels senuagtig.

 Aan die begin van ’n sin ná die naam van ’n persoon of persone wat aangespreek word: “Het jy enige formele drama-opleiding ontvang?”

 Voor en ná die naam van ’n persoon: Die regisseur, Katinka Heyns, het die Oscar ontvang.

 Voor en ná ensovoorts: Daar was akteurs, regisseurs, vervaardigers, ensovoorts, teenwoordig by die première.

 Ná woorde soos ja, nee, dankie, jammer, asseblief en wel.

 Ná tussenwerpsels soos ag, sjoe, genugtig, ensovoorts, aan die begin van ’n sin en met ’n uitroepteken aan die einde: Sjoe, dis warm! Genugtig, ek het dit nie verwag nie!

 Tussen rand en sent in geldbedrae: R9,99.

 Om ’n desimale breuk aan te dui: 0,40 millimeter; 1,5 kg.

 By ingelaste sinne/sinsnedes: Die rolprente is, sonder om een uit te sonder, uitstekende produksies.

26. Watter reëls vir die gebruik van kommas is in die volgende sinne van toepassing?

a. Niemand behalwe Willem, die seuntjie, is bewus van sy bestaan nie.

b. Van die akteurs is Aletta Bezuidenhout, Marius Weyers, Larry Leyden en Jan Ellis.

27. Skryf die volgende sinne oor en vul die kommas in:

a. Marius Weyers die bekende akteur vertrek na New York vir die rolprentfees.

b. Hy sê as hy weer Suid-Afrika toe kom wil hy op verhoë optree.

c. Hoe meer jy voor die kameras optree hoe meer selfvertroue kry jy.

d. Uit ’n praktiese oogpunt gesien is die grootste nadeel van ’n rolprent die gebrek aan besonderhede veral as dit op ’n drama gebaseer is.

28. Gebruik ’n woordeboek vir die naslaan van afkortings, verkortings en akronieme. Raadpleeg In ’n neutedop in Aktiwiteit 2 om die verskil tussen dié drie begrippe te verstaan. Skryf die volledige woorde vir die volgende afkortings en verkortings:

a. pop.

b. fotogr.

c. ir.

d. reg.

e. mus.

Alle woorde het betekenis, maar dit het eers ’n funksie wanneer dit deel van ’n sin vorm. Woordfunksie word altyd binne sinsverband bepaal en dan verkry dit ook ’n spesifieke betekenisinhoud. Talle woorde in Afrikaans kan verskillende funksies hê, afhangend van waar die woord in ’n sin gebruik word. Bestudeer In ’n neutedop.


Funksiewisseling van woordsoorte

’n Alleenstaande woord soos “kop” het nie ’n bepaalde betekenis nie, maar wanneer dit in ’n sin gebruik word, kan die besondere betekenis en woordsoortlikheid (funksie) van “kop” bepaal word. Kyk na die volgende voorbeelde:

 My kop (menslike hoof) is seer. (s.nw.)

 Ek kop (verstaan) nie wat jy sê nie. (ww.)

 Tref ’n vergelyking tussen die koerante se koppe (opskrifte). (s.nw.)

 Dit was ’n kop-aan-kopbotsing (reg van voor). (s.nw.)

 Hulle moes uiteindelik kopgee (instem/toegee) vir die meerderheidstem. (ww.)

 Die mielies vorm koppe (saadare van die plant). (ww.)

Hierdie verandering van woordsoortelike funksie word funksiewisseling genoem.

Lees ’n filmresensie

Lees die volgende resensie oor ’n bekende Amerikaanse fliek.

Fliek van die maand Finding Neverland (Ster-Kinekor)
9 uit 10 Regisseur: Marc Foster
Met Johnny Depp en Kate Winslet
Resensie deur Leon van Nierop

1Selde tevore kon ek ’n pragfliek so onvoorwaardelik by LIG-lesers aanbeveel. Waar ander rolprente gewoonlik waarskuwings dra of versigtig met voorbehoude aanbeveel word, is dié een ’n welkome uitsondering en kan hy moontlik met ’n paar Oscars wegstap. Dit herskep ’n periode uit die skrywer J.M. Barrie se lewe toe hy sy bekende karakter Peter Pan geskep het. Die fliek wys wat “die seun wat nooit grootgeword het nie” geïnspireer het.

2Die Barrie-familie was egter nie baie ingenome met die prent nie en sê dat nog stories vertel moet word. Maar in hierdie gedaante is dit suiwer rolprentkuns met ’n inspirerende aanslag wat bevestig dat ’n mens nooit die kind in jouself moet afsterf nie, want dan gaan die mens in jou dood. Dis ’n fliek met ’n skoon, warm hart wat hulde bring aan ’n geniale skeppingsvermoë en wat die periode waarin Barrie geleef het, briljant herskep.

3Hier is nou ’n onderspeelde meesterstuk met fyn aandag aan besonderhede, sensitief geregisseer en met aangrypende karakterisering wat jou vir dae sal bybly. Dit waarsku uiteindelik: moet nooit jou verbeelding onderskat nie en voer dit aanhoudend met gesonde beelde en prikkels.

4Johnny Depp bewys dat hy een van die wêreld se voorste akteurs is, wat enige rol met oortuiging kan speel. Kate Winslet ondersteun hom met begrip en fyn, genuanseerde spel. Stel jouself bloot aan hierdie sjampanje-helder en puik biografiese rolprent.

(Uit: LIG)

Beantwoord die volgende geïntegreerde vrae in jou werkboek.

Bepaal die funksie van elk van die skuinsgedrukte woorde.

29. a. Johnny Depp bewys dat hy een van die wêreld se voorste akteurs is. (par. 4)

b. Watter bewys kan jy gee dat die voorstes die prys gekry het?

30. a. Depp kan enige rol met oortuiging speel.

b. Rol die rooi tapyt vir hom uit.

31. a. J.M. Barrie het die bekende karakter Peter Pan geskep.

b. Dié bekende sal die première bywoon.

32. a. Ons gaan vanaand fliek.

b. Die nuwe fliek van Johnny Depp word tans vertoon.

33. a. Ons kan aanstaande week kaartjies bespreek.

b. Gaan jy jou aanstaande saambring?

34. a. Trots (nieteenstaande) sy siekte het hy gaan werk.

b. J.M. Barrie is trots op sy Peter Pan-stories.

35. a. Hier is nou ’n onderspeelde meesterstuk met fyn aandag aan besonderhede. (par. 3)

b. Moenie die rol heeltyd onderspeel nie.

36. a. Stel jouself bloot aan hierdie sjampanje-helder en puik biografiese rolprent. (par. 4)

b. Moenie bloot die fliek gaan kyk om ander tevrede te stel nie.

37. Verduidelik die funksie van die skryftekens in die volgende woorde.

a. LIG-lesers

b. geïnspireer (par. 1)

c. wêreld (par. 4)

38. Wat is die funksie van . . .

a. die dubbelpunt in paragraaf 3?

b. die aanhalingstekens in paragraaf 1?

Piekfyn Afrikaans  Graad 12 Leerderboek Huistaal

Подняться наверх