Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 12 Leerderboek Huistaal - Henk Viljoen - Страница 6
ОглавлениеJy gaan in hierdie module spesifiek op die volgende fokus:
’n Essay
Luisterbegrip
Voorbereide praat
Leesbegrip en leesstrategieë
Taal in konteks
Skryf van ’n koerantberig
Mense, tradisies en inheemse dinge
’n Oorsig. . .
Townshiptoere is in en tradisionele vakansies is uit. Ons almal wil werk en deelneem aan die opbou van ons land se ekonomiese welvaart. Ons wil leer van die verlede, maar ook tyd hê om te gesels en te waag in ons hede. Realiteitsprogramme is in, basaars is uit – ons dans op punk en hip-hop, maar rock, boeremusiek en die rieldans is ook aan die orde van die dag.
In hierdie module gaan jy heelwat tekste lees waarop jy krities moet reageer. Al die tekste hou verband met mense, tradisies, oorlewering en gewoontes. Jy gaan luister na bepaalde onderwerpe, daaroor praat en ’n koerantberig daaroor skryf. Tydens die leesbegrip moet jy kritiese taalbewustheid toon en taalstrukture en -konvensies deurgaans inoefen.
In hierdie aktiwiteit gaan jy gesels oor sosiaal-kulturele en politieke waardes, houdings en oortuigings in tekste. Jy moet ook in staat wees om partydigheid, vooroordeel en diskriminasie in tekste te herken en dit te verduidelik. Jy moet dus die inhoud van ’n teks krities lees sodat jy ’n deeglik begrip van die betekenis en boodskap van die teks kan vorm.
Prelees: Houdings en waardes
Gesels oor die volgende situasies:
Het jy al in ’n winkel, die poskantoor, ’n bank of enige ander plek ingestap en maar geduldig agter in die tou gaan staan om die een of ander tyd deur iemand gehelp te word? Hoe het jy op daardie stadium gevoel?
Wat sal jy doen as ’n ouer persoon voor jou indruk?
Hoe sal jy optree as iemand van die teenoorgestelde geslag van jou eie ouderdomsgroep voor jou kom staan?
Beskryf jou houding as iemand van ’n ander kultuurgroep vinnig voor jou inglip net voordat jy gehelp moet word.
Hoe behoort ons in elk van die gevalle op te tree om konflik te ontlont?
Vertel jou groep van ’n soortgelyke ervaring wat jy al ondervind het en hoe die probleem opgelos is.
Lees, waardeer en evalueer ’n essay
Tekskenmerke van ’n essay
Dit is ’n kort stuk prosa waarin ’n politieke, maatskaplike, estetiese of literêre probleem kernagtig bespreek word.
Dit is dikwels bespiegelend van aard en kyk krities na die probleem.
Dit kan ’n gesprekstoon hê.
Die taal en styl is duidelik, logies en dikwels met humor gelaai.
In die essay wat volg gaan jy lees hoe mense oor grense heen hul gemeenskaplikheid kan ontdek. Denis Beckett se “Die poskantoortou, die tannie en die swart skoolmeisie” plaas in ligte trant twee kulture naas mekaar en wys hoe kruisbestuiwing plaasvind.
Die poskantoortou, die tannie en die swart skoolmeisie
1Ons was vyf of ses klante in die poskantoor. Almal was middeljarig of ouer. Almal het voor 1994 al stemreg gehad. Niemand was vrolik nie.
2Ek het probeer om ’n bietjie vrolik te wees. Ek het gegroet toe ek binnekom, maar mense het net op daardie verleë middelklasmanier gemompel, ontstig deur die ongeoorloofde verbreking van tou-stilswye.
3So toe word ek ook maar ’n stalagmiet agter al die ander stalagmiete, elkeen wagtend in sy eie klein ruimte terwyl laaaang transaksies by die toonbank afgehandel word.
4Net op daardie oomblik kom ’n meisiekind binne, ’n swart meisiekind in ’n skooluniform. Sy kyk rond soos iemand in ’n vreemde omgewing.
5“Ekskuus tog,” sê sy vir die tannie heel agter in die tou. “Waar kan ’n mens ’n pakkie gaan pos?”
6As sy dit gefluister het, sou die tannie teruggefluister het. Maar sy het dit hardop gesê, nie in die minste daardeur gepla dat sy die tannie voor al die ander mense in die verleentheid stel nie. Toe kry die tannie natuurlik ’n aanval van middelklaskilheid en sê nie ’n woord nie. Sy beduie net dat die meisie agter haar moet inval.
7“Dankie,” se die kind doodluiters.
8Ons staan en ons staan. Die klante voor by die toonbank het pakke pos. Na ’n rukkie vra die meisie, vir niemand in die besonder nie: “Ekskuus tog, maar is daar êrens fout of moet ons maar aanhou wag?”
9Almal lag ’n bietjie, die klerke agter die toonbank inkluis. ’n Paar mense mompel iets gerusstellends.
10Een van die klante voor by die toonbank draai om en vra om verskoning vir die oponthoud. Hy vra oënskynlik vir die meisie om verskoning, maar in werklikheid sluit hy ons almal in. Ons was juis besig om moerig te raak. Was dit nie vir die meisie nie, sou hy nooit om verskoning gevra het nie. Hy sou daar uitgestap het en ons sou hom agternagestaar het met oë wat soos dolke in sy rug boor. Maar nou is die dolke terug in hul skedes.
11Ons begin weer wag, maar dié keer is dit anders. Die stalagmiete is aan die ontdooi. Die tannie voor in die tou roep skielik agter na die meisie toe: “Moet jy nie kwartoor terug by die skool wees nie?” Sy antwoord: “Ja, maar as ek nie nou hierdie pakkie pos nie, gaan my ouma dit nie betyds kry nie.” Toe sê die tannie: “Maar kom staan dan hier voor. Ek is seker hierdie gawe mense sal nie omgee nie.” En sy straal ’n glimlag na die res van ons in die tou uit, en mense knik en murmel hulle toestemming en glimlag stralend terug.
12Die meisie stap langs die tou af en sê beleef vir almal dankie soos sy by hulle verbyloop. Toe sy voor aankom, is die man by die toonbank klaar; hy vertrek met ’n wuif en ’n groet. Die meisie neem sy plek in en begin haar versoek in Sotho verduidelik. Sy noem die klerk in elke sin “ntate”. Haar Sotho is blykbaar taamlik vrot, want die klerk slaan oor na Engels – hy is besig om spoedversending te verduidelik – en die meisie is klaarblyklik verlig.
13Intussen het die behulpsame tannie, nou voor in die ry, vir een en almal begin vertel dat sy onlangs by die skool afgetree het. Die man agter haar sê ja, hy het gedink hy herken haar, sy ’t vir sy kind skoolgehou. Al meer mense begin gesels. Dis nie dat almal iets sê nie, maar die stalagmiete het tot ’n gemeenskap saamgesmelt. Eers was dit ’n gees van isolasie; nou is dit ’n atmosfeer van verbondenheid.
14Toe die meisie klaar is, maak sy ’n klein kniebuiging vir die tante agter die toonbank, ’n kniebuiging vir die tou, sê vir almal dankie en loop haastig uit. Nou is ons ’n heeltemal ander groep wat beter bymekaar aansluit, en by die klerke.
15Dis snaaks, in 1994 en vir ’n hele ruk daarna het ek gevoel ons in die bleekspan dink die groot verandering was ons daad van grootmoedigheid, dat ons neergebuig en ons hand van vriendskap aangebied het om “hulle” op te hef. Deesdae is dit vir my verootmoedigend en opwindend om al hoe meer bewyse van ’n tweerigtingstraat te sien; die manier waarop wit lewens deur Afrika verryk word.
Werk saam met ’n maat
Bespreek eers elke vraag en skryf daarna die antwoorde in julle werkboeke.
1. Waar speel die verhaal af?
2. Uit wie se perspektief word die verhaal vertel?
3. Die verteller gebruik die woord “stalagmiet” in die eerste paragrawe.
a. Wat is ’n “stalagmiet”?
b. Hoekom gebruik die verteller dit as metafoor in die teks?
c. “Die stalagmiete” is aan die ontdooi . . .” Wat bedoel die verteller hiermee?
4. Lees paragraaf 10.
a. Gee ’n voorbeeld van vergelyking in hierdie gedeelte.
b. Verduidelik die betekenis van dié vergelyking.
5. Wat beteken die volgende woorde?
a. “murmel” (par. 11)
b. “ntate” (par. 12)
6. Vergelyk paragraaf 10 en 11.
a. Verduidelik die houding van die klante in elk van die paragrawe.
b. Wat gee daartoe aanleiding dat die mense se houding verander?
c. Haal een sin uit die teks aan wat hierdie gesindheidsverandering opsom.
7. Watter gebaar van die meisie toon haar dankbaarheid en respek vir die ander mense in die poskantoor?
8. Verduidelik die sosiaal-kulturele en sosiaal-politieke agtergrond van die teks.
9. Wat is die verskil tussen “grootmoedig” en “verootmoedig” in die laaste paragraaf?
10. Die laaste paragraaf openbaar die verteller se houding teenoor die onderwerp.
a. Waarom verwys die verteller spesifiek na 1994?
b. Wie is die “bleekspan” waarna verwys word?
c. Hoekom is “hulle” tussen aanhalingstekens geplaas?
d. Waaroor is die verteller opgewonde? Verduidelik in jou eie woorde.
11. Wie sou jy sê is die hoofkarakter/s? Motiveer jou antwoord.
12. Beoordeel die samehang van die teks. (Lees weer In ’n Neutedop op bladsy 46.)
a. Watter funksie vervul die eerste paragraaf?
b. In watter opsig/te verskil die eerste en die laaste paragraaf en in watter opsig/te stem dit ooreen?
c. Watter woorde in die teks kom deurlopend voor?
d. Bepaal die skakels tussen paragraaf 8 en 9, en dan tussen 10 en 11. Watter woorde bewerkstellig die skakelings?
e. Watter emosie/s vorm ’n deurlopende motief in die teks?
13. Wat bedoel die verteller met die verwysing na ’n “tweerigtingstraat” in die laaste paragraaf?
14. Wat is die boodskap van hierdie teks?
15. Dink jy die verteller slaag met hierdie verhaal om die beginsel van ubuntu uit te beeld? Hoekom sê jy so?
Jou onderwyser gaan ’n teks oor inheemse kennisstelsels aan jou voorlees om jou luisterbegripsvaardighede te assesseer. In hierdie aktiwiteit gaan jy luister vir kritiese ontleding en evaluering. Let veral op die volgende, want hiervolgens gaan vrae gestel word:
Identifiseer en interpreteer oorredings-, gevoels- en manipulerende taal, partydigheid, vooroordeel en stereotipering.
Onderskei tussen feite en menings.
Reageer op styl, toon en register en evalueer dit korrek.
Oordeel en lewer bewyse.
Maak aannames en voorspel gevolge.
Reageer op taalgebruik en woordkeuse.
Volg die stappe van die luisterproses
Luister aandagtig na die onderwyser se eerste voorlesing van die teks.
Daarna kan jy die vrae deurlees.
Jou onderwyser gaan die teks weer voorlees. Nou mag jy aantekeninge maak.
Laastens moet jy die vrae beantwoord.
Beantwoord die volgende luisterbegripsvrae oor “Inheemse kennisstelsels”.
1. Noem enige drie eienskappe van inheemse kennisstelsels. (3)
2. Die skrywer sê duidelik wat inheemse kennisstelsels nié is nie. Aan watter drie kenmerke voldoen inheemse kennisstelsels nié volgens die skrywer? (3)
3. Op watter aanname berus die skrywer se stelling dat inheemse kennisstelsels dalk werklike en ware kennisversamelings is? (2)
4. Wat bedoel die skrywer met die volgende: “IKS is ook nie argaïese alternatiewe vorme van kennis nie”? (2)
5. Omskryf die begrip “holisme” in jou eie woorde. (2)
6. Sou jy sê die skrywer is bevooroordeeld ten opsigte van inheemse kennisstelsels? Motiveer jou antwoord. (2)
7. Stem jy saam met die skrywer se stelling dat plaaslike kennisstelsels met verloop van tyd by die hoofstroom kennis geïnkorporeer moet word? Hoekom?/Hoekom nie? (1)
[15 punte]
In die vorige aktiwiteit het jy gehoor wat inheemse kennisstelsels beteken en hoekom dit ’n regmatige plek in die samelewing moet inneem. Jy gaan nou in ’n voorbereide toespraak jou mening hieroor gee. Gebruik die eienskappe van die praatproses in Pitkos om jou te help. Jou toespraak moet onder andere die volgende inligting bevat:
Jou definisie/verklaring van die begrip
Jou standpunt: Moet dit deel wees van die bestaande kennisstelstel van ’n samelewing/kulturele opset of nie? Wys op die voordele en nadele.
Fokus op een van die kennisgebiede: gesondheidsorg, voorkomende medisyne, veeartsenykunde of enige ander gebied waaroor jy navorsing gedoen het.
Jou aanbieding moet 4-5 minute duur.
Jy mag van hulpmiddels gebruik maak.
Jou aanbieding kan vir formele assessering (Taak 1) in aanmerking geneem word.
Die praatproses
Beplanning, navorsing en organisering
Gebruik die gepaste register, styl en toon volgens die gehoor, doel, konteks en tema.
Gee feite weer, spreek menings uit en verduidelik geïmpliseerde betekenis.
Wees bedag om nie partydigheid, stereotipering en manipulerende taal te gebruik nie.
Gebruik verskeie betroubare bronne soos woordeboeke en tesourusse.
Voorbereiding en aanbieding
Praat direk met die gehoor.
Ontwikkel jou idees volgens ’n logiese argument (inleiding, middel en slot).
Gebruik retoriese vrae, pouses en herhalings effektief
Gebruik organisatoriese strukture soos chronologie, onderwerp en oorsaak-gevolg.
Gebruik korrekte intonasie en frasering.
Gebruik gepaste aanspreekvorme.
Gebruik gepaste woordkeuse, taalstrukture en -konvensies.
Gebruik verbale en nieverbale tegnieke soos toon, stemprojeksie en -modulasie, volume en tempo.
Prelees
Wanneer jy ’n leesbegripsoefening doen, moet jy op die volgende let:
Maak seker jy ken al jou leesstrategieë en weet hoe om dit toe te pas (vluglees, soeklees, aandagtig lees, krities lees).
Jy moet die betekenis van onbekende of komplekse woorde en/of frases vanuit die teks kan aflei en verduidelik. (Onthou, jy het nie ’n woordeboek in die eksamenlokaal nie – gebruik woordaanpakvaardighede!)
Jy moet die skrywer se standpunte en afleidings kan ontleed of interpreteer en bewyse uit die teks gee om jou antwoorde te staaf.
Herlees altyd die teks sodat jy ’n deeglike begrip van die betekenis en boodskap het.
Lees die teks wat volg krities deur. Wanneer jy iets krities lees, moet jy ’n juiste oordeel daaroor kan vel. Kritiese lesers interpreteer die betekenis van wat hulle lees teenoor hulle eie agtergrond, ondervinding, inligting en kennis van die saak. As kritiese leser gaan jy redeneer oor en reageer op die feite, menings en idees in die teks. Jy is moontlik ook ’n gereelde koper en eter van hamburgers en daarom het jy die reg om jou mening uit te spreek oor watter hamburger vir jou die lekkerste is en jou redes daarvoor te gee!
’n Hamburger is ’n hamburger – of is dit?
Wees bang, baie bang. Die Weg Kitskos-uitklopkompetisie het pas begin. Op hierdie bladsye ondersoek ons van die land se grootste kitskosemporiums en gee ons ons eerlike mening. En was ons nie verras nie. Soms aangenaam en soms . . . uhm, lees maar self.
Ons het onsself eers goed honger gemaak en toe gaan kyk hoe lank dit duur om die kos voor te berei. Ons het die kos beloer, beruik, bevoel en geproe.
Ondanks ’n ligte sooibrand kon ons darem ’n hand op papier sit om ons menings te lug. En die uitslag is . . . .
1 | McDonald’s – Vinnig en vriendelik |
Voorkoms van die winkel: Skoon en klinies. Amper soos ’n apteek.Diens: Soos al die meisies wat ek in my jong dae geken het – vriendelik en vinnig.Bestelling: Big Mac en tjipsPrys: R23,40Bereidingstyd: 1 min. en 1 sek. | |
Jy kry: Twee dunnerige patties wat tussen drie dunnerige rolletjies versprei is. Daar is ook blaarslaai, kaas, agurkies en so ’n soeterige mayonnaise-affêre. | |
Jy sien: ’n Torinkie brood met grys en groen goeters. | |
Jy proe: Hier’s die bewys dat ’n paar stukkies brood nie sommer deur die geur van vleis oordonder kan word nie. Tog, alles is in harmonie. Die vleis, brood, slaai en kaas – selfs die skerp agurkie en dik mayonnaise – smelt saam om jou ’n bevredigende eetervaring te gee. | |
Die Big Mac is ook nét genoeg. Jy word nie oorval deur ’n begeerte om jou geld terug te vra nie. Maar jy is ook nie só vol dat jy lus is om eers iewers agter ’n boom te gaan skuinslê voor jy weer agter die wiel inklim nie. | |
Tjips: Absoluut die beste. Dun, goudbruin en bros. Gerugte doen die ronde dat kafee-eienaars enigiets sal gee om dié tjipsresep in die hande te kry. Die tjips is nie vetterig of olierig nie. |
2 | Wimpy – Nie net lekker koffie nie |
Voorkoms van die winkel: Oop, groot en helder.Diens: Energiek, deeglik en bekwaam.Bestelling: Dubbelkaasburger en tjips.Prys: R32,45Bereidingstyd: 4 min. en 45 sek. | |
Jy kry: ’n Gesonde patty in ’n lywige bun met groen goed, agurkies, tamatie en ’n skyfie lekker, gesmelte, romerige kaas. | |
Jy sien: ’n Stewige hamburger met lekker vars buns en ’n aptytwekkende stuk vleis wat uitloer. Dit lyk deksels lekker. | |
Jy proe: Goeie vleis, gewis. Die agurkies is ’n bietjie oordonderend en iewers het iemand se hand met die soutpot geglip. Die rolletjie is vars en absorbeer meeste van die lastige vette sodat die Wimpy-kaasburger seker een van die beste burgers is om te eet terwyl jy bestuur. | |
Tjips: ’n Bietjie papperig en val uitmekaar uit. Daar is egter geen oortollige olie nie en die belangrikste is dat die tjips soos aartappels proe. |
3 | KFC – Dié kolonel kan |
Voorkoms van die winkel: Afgerem en moeg, ondanks die rooi en wit kleure en die Kolonel se bebaarde bakkies wat jou van oral af beloer.Diens: Vinnig en flink. As ek in so ’n lelike plek gewerk het, sou ek ook so gou as moontlik wou wegkom.Bestelling: KFC Double Crunch en tjips.Prys: R28,40Bereidingstyd: 1 min. en 9 sek. | |
Jy kry: Twee stukke ontbeende hoender, omhul deur die Kolonel se spesiale mengsel speserye met twee skywe kaas tussenin en ’n pikante sous, als toegevou in ’n rolletjie. | |
Jy sien: Die stukke hoender het my laat dink aan skalieklip. | |
Jy proe: Wanneer jy uiteindelik deur die harde kors gebyt het, proe die hoender teleurstellend vaal. Die kaas is ook nie gesmelt nie, wat keer dat die sagte smaak van gesmelte kaas die verbeeldinglose hoender kan aanvul. Die sous smaak skerp en is die enigste geur op die burger. | |
Tjips: Bros, nie vetterig nie en heel skaflik. |
4 | Steers – Sappige, regte vleis |
Voorkoms van die winkel: Skoon, lig en kleurryk.Diens: Vriendelik ongeërg.Bestelling: King Steer met medium tjips.Prys: R34Bereidingstyd: 9 min. en 34 sek. | |
Jy kry: Twee dik, vleiserige patties met geel kaas en ’n uierige sous tussen vars, wit broodrolletjies. | |
Jy sien: Twee dik, vleiserige patties met geel kaas en ’n uierige sous tussen vars, wit broodrolletjies. | |
Jy proe: ’n Régte, egte hamburger. Eers tref die stewige, sappige patty, wat bestaan uit gemaalde beesvleis, jou smaakkliere. Dit proe of dit van ’n regte bees afkomstig is, een met twee oë en vier bene. Die vleis is perfek gebraai – waarskynlik die rede vir die lang wagtyd – en die natuurlike geur word aangevul deur die dikte van die twee patties. Die romerige stuk kaas help om ’n “als-is-reg-in-die-wêreld”-gevoel aan die burger te gee. Die sousie is pikant en geurig – aanvullend, eerder as om die hele storie te probeer oordonder. | |
Tjips: So puik as wat die burger is, so swak is die tjips. Is dit wettig om tjips in Castrol GTX te braai? En as dié papperige, vaal goed wel van aartappels gemaak is, moet hulle dalk hierdie groente voorlê vir herklassifisering. |
(Verkort uit: Weg)
Leesstrategieë
Om krities te lees moet ’n leser in staat wees om te . . .
verstaan wat ’n skrywer sê en hoekom hy dit sê;
verstaan wat ’n skrywer se houding teenoor sy onderwerp is;
verstaan wat ’n skrywer se vooroordele jeens en partydigheid vir ’n bepaalde mening of standpunt ten opsigte van die onderwerp is;
kan oordeel of die teks gebaseer is op feite of menings/bewerings; en
kan weet wat sy/haar eie vooroordele ten opsigte van die onderwerp is.
Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek:
1. Baseer die skrywer sy redenasies op korrekte feite (navorsing, kenners se uitsprake, statistiek, ensovoorts) of nie? Gee bewyse uit die teks.
2. Besluit oor grondige redenasie of ongegronde aannames.
a. Maak die skrywer veralgemenings? Gee voorbeelde.
b. Gebruik die skrywer emosiebelaaide woorde? Gee voorbeelde.
c. Is hier sprake van vooroordeel in die artikel? Motiveer jou antwoord met bewyse uit die teks.
3. Wanneer jy iets as wettig of geldig aanvaar, kan jy ’n aanname (veronderstelling) daaroor maak. Watter geldige aannames maak die skrywer oor die burgers en skyfies van
a. McDonald’s?
b. Wimpy?
c. KFC?
d. Steers?
4. Wat is die strekking (die skrywer se bedoeling) van die artikel? Kies jou antwoord uit die lys wat volg en motiveer waarom jy so sê.
a. didakties
b. feitelik
c. reklamemakery
d. spekulatief
e. vermaaklik
5. Bepaal jou eie houding oor die onderwerp.
a. Watter kitskoseetplek se hamburger en skyfies eet jy die graagste? Gee jou redes daarvoor.
b. Die artikel is in 2006 geskryf. Hoe voel jy oor die prys wat jy nou moet betaal en die diens van die personeel?
c. Dink jy ’n hamburger en skyfies is gesonde, voedsame kos? Verduidelik jou standpunt en motiveer.
6. Hoe sal jy jou “eetervaring” van ’n hamburger beskryf?
7. Wat is jou gevolgtrekking oor kitskos en kitskoseetplekke?
8. Wat is die skrywer se gevolgtrekking oor kitskos en kitskoseetplekke?
Analogie
Dikwels word lesers in artikels, berigte, advertensies, ensovoorts, gekonfronteer met analogieë/gelyksoortige gevalle, met ander woorde daar is ’n gedeeltelike ooreenkoms tussen twee sake wat eintlik verskillend is. Analogieë word gebruik vir redenasies, oorreding en manipulering. Dit het onder meer die volgende funksies:
Dit maak ’n bydrae tot ’n redenasie ten spyte daarvan dat dit nie ’n afleiding as waar bewys nie.
Dit kan emosies in ’n redenasie bewerkstellig. Skrywers gebruik graag emosionele taal (emosiebelaaide woorde) om ’n emosionele reaksie te ontlok of ’n teikengroep te oorreed dat wat hulle oor ’n saak sê, die korrekte en aanvaarbare standpunt is.
’n Analogie kan ’n afleiding vir die leser/hoorder/kyker aanvaarbaar maak of nie.
9. Kyk na die analogieë in die onderstaande sinne. Is die analogieë vir jou aanvaarbaar of nie? Verduidelik telkens.
a. McDonald’s is skoon en klinies, amper soos ’n apteek.
b. KFC is afgerem en moeg soos die ou kolonel.
c. ’n Big Mac laat jou nie só vol voel dat jy iewers agter ’n boom wil gaan skuinslê nie.
d. Die pad na ’n man se hart loop deur sy maag.
10. “Twee stukke ontbeende hoender, omhul deur die Kolonel se spesiale mengsel speserye met twee skywe kaas tussenin en ’n pikante sous, als toegevou in ’n rolletjie.”
Beantwoord die vrae gebaseer op die aangehaalde sin.
a. Is “mengsel” ’n versamelnaam of ’n maatnaamwoord? Verduidelik.
b. Wat is die betekenis en funksie van die premorfeem in “ontbeen(de)”?
c. Is “omhul” ’n skeibare of ’n onskeibare werkwoord? Verduidelik.
d. Skryf “skuinslê” oor om te toon dat ontronding kan plaasvind.
e. Watter klankverskynsel kan moontlik voorkom by die uitspreek van “hoender”?
f. Gee twee woorde waar palatalisasie voorkom wanneer dit uitgespreek word. Onderstreep die palatale klank in elke die woord.
g. Is “pikante” ’n predikatiewe of attributiewe byvoeglike naamwoord? Gee ’n rede vir jou antwoord.
11. Gee sinonieme en antonieme vir die skuinsgedrukte woorde:
a. Die tjips is bros, nie vetterig nie.
b. Die diens is vriendelik ongeërg.
c. Die natuurlike geur word aangevul deur die dikte van die vleis.
12. Skryf die volgende woorde in goeie Afrikaans.
a. “patties”
b. “buns”
13. Gee die betekenis van die volgende woorde:
a. kitskosemporiums
b. skalieklip
Selfassessering
Sien die antwoorde na aan die hand van die onderwyser se memorandum.
Nou is dit tyd om weer jou kennis van taalstrukture en -konvensies in te skerp. Jy moet onder andere let op die volgende:
’n verskeidenheid spelpatrone, -reëls en -konvensies
simplekse en komplekse
punktuasie
verskillende woordsoorte
enkelvoudige en saamgestelde sinne
woordeskatuitbreiding:afleiding, samestelling en samestellende afleidingidiomatiese uitdrukkings.
Lees in die onderstaande tydskrifartikel hoe Susan Samuel ’n tradisionele Suid-Afrikaanse gereg (’n Smiley) beskryf en hoe die bediening daarvan geboemerang het vir twee onkundige toeriste in die Manenberg Jazz Café.
Hou kop as die skaap smile
1Die kombuis van die destydse Manenberg Jazz Café aan die bopunt van Adderleystraat in Kaapstad het op soel someraande, wanneer die musikante hul instrumente opstel en die eerste drankies bestel, ’n soet en stomerige dikte bygekry wat die honger parlementariërs op die balkon tot raserny gedryf het. En as kelner het jy geweet jy sit jou voete vir die volgende paar uur nie binne daardie swaaideure nie.
2Die meeste klante was gereelde besoekers en Manenberg’s soos ’n massiewe sitkamer waar veral joernaliste en staatsamptenare die eintlike onderhoude en gesprekke van die dag gevoer het. Die kroeg was goed toegerus en wanneer die jazz eers op dreef kom, het ’n gees jou geslaan wat maak dat die trane sommer dik in jou keel kom sit van lekkerte.
3Dis op een van hierdie aande dat die bestuurder ons inroep en vertel van ’n nuwe dis op die spyskaart. ’n Item wat besoekers gereeld aanvra. ’n Smiley. En as ’n Smiley te veel is, bestel hulle ’n halwe Smiley.
4Vir diegene wat nie weet nie: ’n Smiley is ’n skaapkop wat stadig en deeglik gaar gekook word met al die belangrike organe steeds in plek. En die vreemde reuk wat reeds van vroegoggend in die lug hang, maak skielik sin. Ons het skaars weer ons plekke ingeneem, of twee rooigebrande toeriste staan in die deur. Duidelik baie opgewonde oor die stuk ware Afrika wat hulle pas ontdek het. Hulle gaan sit by een van my tafels. En soos die noodlot dit wou hê, vra hulle vir die dag se special.
5Net die soort uitheemsheid waarop die twee toeriste op dié reis gehoop het! ’n Halwe Smiley sal dit wees.
6In die stilligheid wonder ek skielik hoe hulle dié spulletjie gaan behartig . . . Die bord word met die nodige fanfare op die dienstoonbank neergesit en ek staan nader. Op ’n souserige homp pap lê die halwe skaapkop, mooi presies tussen die voortandjies deurgesny. Een oog met die wimpers nog aan, en een oortjie punt in die wind.
7Ek sit blasé die bord voor die twee gaste neer.
8Die koppe word teruggeruk, die man verloor ’n oomblik sy balans op die houtstoeltjie. Die uitdrukking op die vrou se gesig wys elke greintjie selfbeheersing word ingespan om nie skreeuend die restaurant uit te hol nie. Geduldig wag ek dat hulle tot verhaal kom.
9“How should one eat this?” vra hulle met groot oë. “Ag,” improviseer ek en maak of die situasie alledaags is. “You start with the soft meat on the face, then gradually work your way inwards.”
10By die swaaideure kom ek af op die hele kombuispersoneel wat die petalje deur ’n skreef in die deur dophou.
11Twee minute was egter genoeg vir die twee om te besluit dat hulle eerder iets anders wil hê. Rooi in die gesig besluit hulle op ’n pastagereg en ’n geroosterde kaastoebroodjie.
12Toe ek terug in die kombuis kom, is die Smiley skoonveld, en almal het ’n dun, blink lagie vet om die mond . . .
(Uit: Insig)
Leer die volgende spreekwoorde.
die skapies bymekaar jaag – trou/in die huwelik tree
die swart skaap van die familie – die een wat die familie in die skande steek
as een skaap deur die hek is, volg die ander almal – mense volg maklik iemand wat die voortou neem
baie mak skape gaan in een kraal – vredeliewende mense woon maklik saam
een skurwe/brandsiek skaap kan die hele trop aansteek – een slegte mens kan baie mense verkeerd beïnvloed
die swart skaap wees – die persoon wat altyd die skuld kry.
soos verdwaalde skape – sonder iemand wat leiding gee
die verlore skaap – iemand wat van die regte spoor gedwaal het
Beantwoord die volgende geïntegreerde taalvrae in jou werkboek.
1. Kyk na die volgende illustrasies en kies uit die lys wat volg die idioom wat by elk pas. Probeer ook die betekenis van die idioom uit die illustrasie aflei en verskaf dit.
Skaapogies gooi
Wolf skaapwagter maak
Die skape van die bokke skei
Hulle het hul skapies bymekaar geja.
a.
b.
c.
2. Lees die volgende sin: “Die koppe word teruggeruk, die man verloor ’n oomblik sy balans op die houtstoeltjie.”
a. Is die aangehaalde sin ’n enkelvoudige, ’n veelvoudige of ’n saamgestelde sin? Motiveer jou antwoord.
b. Skryf die gesegde/s in bogenoemde sin neer.
c. Skryf die sin tot by die komma oor in die bedrywende/aktiewe vorm.
d. Watter klankverskynsel kom voor by die uitspreek van “houtstoeltjie”?
e. Is “teruggeruk” ’n skeibare of ’n onskeibare werkwoord? Motiveer jou antwoord.
Jy het verlede jaar al kennis gemaak met deeltjiewerkwoorde. Lees In ’n neutedop om dié belangrike taalstruktuur te hersien.
’n Deeltjiewerkwoord word ook ’n skeibare werkwoord genoem. Hierdie soort werkwoord bestaan gewoonlik uit twee of meer dele. Een van die dele is ’n werkwoord. Die deeltjiewerkwoord is skeibaar wanneer dit in die verlede tyd ’n -ge- tussen die twee dele kry, byvoorbeeld:
weg+kruip – het weggekruip
agter+kom – het agtergekom
aan+voer – het aangevoer
op+hou – het opgehou
deur+druk – het deurgedruk
Let daarop dat die klem op die eerste deel van die woord val: wéggekruip; áángevoer
Wanneer die dele nie deur -ge- in die verlede tyd geskei word nie, is dit ’n onskeibare
werkwoord, byvoorbeeld:
hard+loop – het gehardloop
wan+hoop – het gewanhoop
waar+borg – het gewaarborg
In die geval van onskeibare werkwoorde val die klem op die laaste deel van die woord: misléi; ontnéém.
3. Identifiseer die deeltjiewerkwoord/e in paragraaf 3.
4. Skryf paragraaf 3 in die verlede tyd.
5. “. . . wanneer die musikante hul instrumente opstel en die eerste drankies bestel . . .”
Skryf dié sinsdeel ook in die verlede tyd. Wat merk jy op ten opsigte van die werkwoorde?
6. Gee sinonieme vir die volgende woorde:
a. “dis” (par. 3)
b. “spyskaart” (par. 3)
c. “fanfare” (par. 6)
d. “blasé” (par. 7)
e. “improviseer” (par. 9)
7. Aan watter tale is die volgende woorde ontleen?
a. “blasé” (par. 7)
b. “fanfare” (par. 6)
c. “restaurant” (par. 8)
d. “petalje” (par. 10)
e. “kombuis” (par. 10)“
8. “. . . almal het ’n dun, blink lagie vet om die mond . . .” (par. 12)
a. Wat is die geïmpliseerde betekenis van die aangehaalde gedeelte?
b. Waarom eindig die verhaal op ’n ellips? Sou ’n punt dieselfde effek gehad het? Motiveer jou antwoord.
9. “Op ’n souserige homp pap lê die halwe skaapkop, mooi presies tussen die voortandjies deurgesny.” (par. 6)
a. Wat is die woordsoortelike funksie van “homp” en “pap” in bogenoemde sin?
b. Skryf ’n deeltjiewerkwoord neer. Onderstreep die deel wat die hoofklem dra.
c. Watter klankverskynsel kan voorkom by “voortandjies”?
d. Skryf ’n samestelling uit die sin neer.
e. “Halwe” is ’n kompleks. Verander dit na ’n simpleks.
10. “Net die soort uitheemsheid waarop die twee toeriste op dié reis gehoop het!” (par. 5)
a. Wat is die woordsoortelike verskil tussen “die” sonder, en “dié” met die aksentteken?
b. Gebruik die homofoon van “reis” in ’n sin.
c. Gee die antoniem van “uitheemsheid”.
d. Watter soort telwoord is “twee”? Herskryf “twee” as ’n bepaalde rangtelwoord.
Grondbeginsels van spelling
Afrikaanse spelling is nou verwant aan die Nederlandse tradisie. Sekere klanke se spelvorm word in Afrikaans behou, soos ei en y asook f en v. Dié letters het nie dieselfde klankwaarde as in Nederlands nie. Byvoorbeeld:
lei/ly: Die kaptein lei die span op die veld./Die pasiënt ly aan ’n ongeneeslike siekte.
fel/vel: Die son brand fel op die aarde./My vel brand seer in die son./Die regter vel ’n oordeel oor die skuldige.
Ander voorbeelde is onder andere: peil/pyl; reis/rys; fonds/vonds; fier/vier
Dié woorde is homonieme: dit word eenders uitgespreek, maar verskil in betekenis en spelling.
As die woorde kant en hand uitgespreek word, word -t as slotklank gehoor. Om te verseker gelykvormigheid word ten opsigte van die meervoudsvorm gehandhaaf, word hand met ’n d gespel en kant met ’n t. Die meervoudsvorm van dié woorde is kante en hande.
11. Kies die korrekte woord tussen hakies:
a. Hulle bedien (verysde/vereiste/veryste) drankies saam met die skaapkop.
b. Weens die oorstromings verkeer al die skape in (nood/noot).
c. Die skaapdis (ruik/ryk/reik) baie sleg.
d. Die skape (wy/wei) in die (veld/velt) en tussen die bome wat (bod/bot).
12. Watter grondbeginsels is van toepassing by (d) in vraag 11?
Kyk na die volgende illustrasie
Vrae
13. Kritiese taalbewustheid:
a. Verduidelik die dubbelsinnigheid in die volgende sin: Hy skiet die leeu in sy nagklere toe morsdood.
b. Skryf die sin oor sonder die dubbelsinnige betekenis.
14. Voltooi die spreekwoord:
Ons sê die leeu . . . as iemand se klere in die gleuf van die boude optrek.
15. Verduidelik die volgende uitdrukkings in jou eie woorde.
a. Hy loop reg in die leeu se bek.
b. Ek is soos ’n briesende leeu as ek nie my sin kry nie.
16. Gee die korrekte spelwyse van die woord/e tussen hakies:
a. Die veldwagter het ’n (leeu+aandeel) gehad in die opspoor van die (gekwesde/gekweste) diere.
b. Jerry is ’n goeie (skud/skut) soos (blyk/bleik) uit al die kompetisies wat hy al gewen het.
17. Is “leeu” in sin (a) letterlik of figuurlik gebruik?
18. Gee ’n sinoniem vir “leeu-” in sin (a).
19. Vul die ontbrekende woorde in:
a. Die leeu lê vas . . . die slaap . . . sy rug en slaap.
b. Die wild is . . . slot en grendel.
c. Die bos staan . . . ligte laaie weens ’n vuur wat ’n toeris begin het.
d. Vervang die ou vleis . . . ’n vars wildsboud.
e. Die jagluiperd kruip treetjie . . . treetjie nader . . . sy prooi.
f. Hy het . . . gebreke gebly om sy geld te betaal.
20. Voorsien die volgende sinne van die ontbrekende leestekens.
a. ’n Leeu is soos ek jou al vantevore gesê het nie ’n katjie wat jy sonder handskoene aanpak nie
b. Daniël waarom lyk jy so hartseer vra die wildbewaarder
Woordvorming
Basisvorm/stam
Die kleinste deel van ’n woord wat ’n selfstandige betekenis het, word ’n basisvorm of stam genoem, byvoorbeeld dikwels en bou.
Onthou: ’n Stam kan uit een of meer lettergrepe bestaan.
Afleidings
Nuwe woorde word dikwels van ’n stam afgelei deur woorddele voor- en/of agteraan te voeg. Sulke woorde word afleidings genoem.
Premorfeme/voorvoegsels/prefikse staan voor die basisvorm/stam, byvoorbeeld vergaan, benader, onsin.
Postmorfeme/agtervoegsels/suffikse staan agter die basisvorm/stam, byvoorbeeld kinderlik, blindelings.
Woorde kan ook deur middel van klankwisseling ontstaan, byvoorbeeld drink > drank, dronk; wreek > wraak, wrok.
Onthou: Hierdie metode van woordvorming kan die woordsoort verander. Die betekenis van die afleiding hou verband met die betekenis van die stam.
Die funksie van morfeme:
Geslag: klaer > klaagster
Meervoude: jas > jasse
Verkleining: jas > jassie
Trappe van vergelyking: min > minder > minste
Verlede tyd: kla > gekla; leer > geleer
Byvoeglike naamwoorde se verbuiging: die pad is glad > dit is ’n gladde pad
Woordsoort verander: buig (ww.) > buiging (s.nw.); wapen (s.nw.) > ontwapen (ww.)
Samestelling
’n Samestelling ontstaan wanneer twee of meer basisvorme/stamme met mekaar verbind word om een woord te vorm, byvoorbeeld boeksak, skoolsaal, personeelkamer. Soms word verbindingsklanke gebruik sodat die samestellings meer verstaanbaar is, byvoorbeeld kinderklere, voetenent, etenstyd, kattekwaad.
Onthou: Woorde soos jassak en grassaad het ’n -ss- omdat die eerste stam op ’n -s eindig en die tweede met ’n -s begin. Woorde soos meisieskool en seunskoene het net één -s- omdat die eerste stam nie op ’n -s eindig nie.
Balke toe!
Boeremusiek
1Toe oubaas Charles Wheatstone destyds in agtien-voertsek in Engeland die konsertina ontwerp het, sou hy nooit kon raai (watter/watse) diep note dié instrument in die psige van die Afrikaner sou ontsluit nie.
2Bykans 172 jaar later, op ’n (vris/fris) Vrydagaand in Voortrekkerweg, Parow, maak ’n groepie jong mense in jeans en (T hemde/T-hemde) (eerstehands/eersterangs) kennis met boeremusiek.
3Ja, almal het al voorheen boeremusiek gehoor: voor die 1994-verkiesing was dit Saterdagaande pal op TV, op radio was dit Sportparade se halftydmusiek as die rugbyspelers in die kleedkamer gaan lemoene suig, en êrens op ’n troue op die platteland was die dansbaan nie ’n dansbaan as daar nie in die loop van die aand ’n walsie, seties of vastrap uit die luidsprekers opgeklink het nie.
4Maar hierdie aand sou anders wees vir die jongeliede.
5Hulle het kom skoffel op die maat van lewendige boeremusiek, met ’n propperse orkes gelei deur die einste oubaas Wheatstone se instrument – die donkielong of die krismiswurm, soos hy in die volksmond bekend staan.
6Welkom in die wêreld van bedreigde kultuurspesies, liewe leser, welkom by die Boeremusiekgilde: Suidstreek se maandelikse opskop in die skoolsaal van Hoërskool Parow.
7Die groepie jong mense neem plaas by tafel 12 in Parow Hoër se skoolsaal, soos per bespreking ’n dag of drie vantevore. Die opgewondenheid is so smaaklik-soet soos die eerste glasie Coke. Die koelsakke word oopgerits en koue versnaperinge in papierborde rondgestuur. Dan begin Boetie Adams en sy orkes speel, ’n seepgladde Danie Hoffman op die krismiswurm.
8Kort voor lank roer die dansvloer soos die ou hande hulle langarmpassies uitstal: hier pomp twee water, daar tiekiedraai ’n paar met verstommende voetwerk. Die een ou dra ’n cowboyhoed en ligblou satynhemp, daar dans twee tantes met mekaar.
9“Dames en here,” kondig die voorsitter formeel aan, “ons roep graag die gaskunstenaar vir vanaand om vir ons te kom speel.” ’n Tienermeisie stap selfbewus verhoog toe.
10Carla Lategan is 16 jaar oud. Sy neem deeltyds karateklasse en hou van die rapmetalgroep Linkin Park. Sy speel ook ’n Wheatstone 3-konsertina sedert sy nege jaar oud is. “Die konsertina is die Wiskunde van musiek,” sê sy filosofies (om aan te dui hoe moeilik of maklik, na gelang van jou aanleg, die instrument is).
11“Ek speel boeremusiek omdat dit so uniek is. Min ander jong mense doen dit. Ek dink boeremusiek het in gewildheid gegroei omdat al hoe meer populêre kunstenaars (sy noem Dozi wat “O, ryperd” afgestof het) in daardie rigting begin beweeg.”
12Carla sê omdat daar geen bladmusiek vir boeremusiek geskryf is nie, memoriseer ’n mens maar die deuntjies – goeie aanvoeling en ’n fyn oor is jou grootste hulpmiddels.
(Verkort uit: Insig)
Vrae
21. a. Watter twee name vir die konsertina het in volksmond ontstaan?
b. Wat noem ons hierdie taalverskynsel?
22. Skryf oor in formele Afrikaans:
a. Hang aan vir ’n minuut; ek sal sien of Carla in is.
b. Ek sal haar vanaand weer ’n luitjie gee.
c. Ek hoop nie sy sal ons weer afsny as ek ’n oproep na jou toe deursit nie.
d. ’n Propperse orkes het musiek gemaak.
23. Kies die korrekte woorde tussen hakies in paragraaf 1 en 2.
24. Verduidelik die betekenis van die skuinsgedrukte woorde.
a. “Hulle het kom skoffel op die maat van lewendige boeremusiek . . .” (par. 5)
b. “. . . goeie aanvoeling en ’n fyn oor is jou grootste hulpmiddels.” (par. 12)
25. Soek ’n woord in paragraaf 7 wat min of meer dieselfde beteken as “skoffel”.
26. Gee die betekenis van:
a. “jongeliede” (par. 4) en
b. “gilde” (par. 6).
27. “Seepglad” is ’n intensiewe vorm. Gee die intensiewe vorme van “jonk” en “soet”.
28. Hoekom vergelyk Carla Lategan die speel van ’n konsertina met Wiskunde?
29. Vorm afleidings van die woorde tussen hakies.
a. Sy is ’n bekende konsertina(-speel) in Parow.
b. Al die dansers is lief vir (instrument) musiek.
c. Almal het haar (vlei) woorde vir haar (skitter) prestasie toegevoeg.
d. Die mense dans op die (ritme) maat van die musiek.
e. Sekere kunstenaars (filosofie) oor ’n konsertina.
f. Die (musiek) geniet dit om mooi musiek vir die (dans) te maak.
30. “ ‘Die konsertina is die Wiskunde van musiek,’ sê sy filosofies.” (par. 10)
Skryf die sin oor in die indirekte rede.
31. Toon aan of die skuinsgedrukte woorde voorbeelde is van afleiding, samestelling of samestellende afleiding.
a. “Welkom in die wêreld van bedreigde kultuurspesies . . .” (par. 6)
b. “. . . Suidstreek se maandelikse opskop in die skoolsaal . . .” (par. 6)
32. “Die koelsakke word oopgerits en koue versnaperinge in papierborde rondgestuur.” (par. 7)
a. Identifiseer die werkwoord/e in die sin.
b. Skryf die sin oor in die verlede tyd.
c. Skryf die sin oor in die bedrywende/aktiewe vorm.
Daaglikse assessering
Ruil boeke om en sien mekaar se antwoorde na aan die hand van die onderwyser se memorandum.
In hierdie aktiwiteit moet jy ’n koerantberig ontleed en dan self een skryf. Lees Pitkos aandagtig deur om die kenmerke van ’n koerantberig te hersien.
Kenmerke/vereistes van ’n koerantberig
Inligting word neutraal oorgedra – dit moet verkieslik in die eerste persoon geskryf word.
Taal moet nugter/saaklik wees.
Inhoud moet objektief en geordend aangebied word.
Feite moet korrek wees.
Die opskrif (trefferkop) moet aandag trek. Dit moet die wie. wat en waar van die storie gee en in die bedrywende vorm geskryf word.
Die inleiding moet kort en kragtig wees, nuut en prikkelend. Die belangrikste nuus moet eerste gestel word en moet lesers dadelik in die prentjie bring – beantwoord die wie-, wat-, waar- en wanneer-vrae.
Die belangrikste feite en inligting kom in die inleiding; brei daarop uit en gee meer besonderhede – die hoe- en hoekom-vrae; daarna volg minder belangrike inligting.
Skryf ’n treffende slot wat alles saamvat.
Lees nou die volgende koerantberig deur en doen die opdrag wat daarna volg.
Tradisionele kuns:
Herleef op fees op Paarlberg
“Die riel is in ons bloed”
Groep van Wupperthal stof ander op dansvloer uit
KAAPSTAD. ’n Byna uitgestorwe tradisionele dansvorm het Saterdagaand uit die as herrys teen die hange van die Paarlberg met die eerste Khapara (Rieldans)-fees. Rieldansers uit die Boesmanland, Hantam en ander trotse tuisgronde van dié tradisionele stamp- en sleepvoetdans vry boonop nou na Suid-Afrika se kunstefeesgehore om die dans wat “die eerste volkere in Suid-Afrika om die vuur gedans het”, aan die lewe te help hou.
“Die volgende stap is die kleiner feeste,” het mnr. Elias P. Nel, bekende skrywer en ’n man wat self op Verneukpan “die riel leer trap het”, gesê.
Sewe dansgroepe het op ’n wye sirkel aangeryde sand op ’n kil Paarl-aand in die amfiteater net onder die Taalmonument meegeding in die kompetisie, wat Nel namens die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) gereël en gelei het.
Prysgeld van altesame R2 250 is uitgeloof vir die beste drie dansspanne, met elke groep wat ’n verdere R300-ondersteuningsgeld in die hand gestop is vir hul pronkwerk.
“Die fees wil hulde bring aan die mans en vroue, vandag ook al meer jongmense, wat die kultuurdans lewend hou,” het organiseerders aan die sowat 500 toeskouers verduidelik.Mnr. Pedro Dausab, ’n opvoeder in die Namataal, het ’n kort oorsig oor dié dansvorm, wat by uitsterf omgedraai het, se geskiedenis verskaf.
Nama-tussenwerpsels het uit die gehoor opgeklink terwyl dansers opgewarm en rye toeskouers, askoek-boereworsrolletjies in die hand, die bankies gevul het. Nel het ’n opsweepgedig voorgedra en onder andere die voorsitter van die ATKV-direksie, mnr. Johan van Schoor, en die Griekwa-leier, mnr. Andrew le Fleur, verwelkom.
“Dit was geen geheim as ’n meisie haar eerste maandstonde gehad het nie. Bure, familie en vriende is verwittig,” het Dausab gesê by verduideliking van die dans se oorsprong. Hy het bygevoeg dat danspassies soos die “sekelnekloop” aangelê is daarop “om ’n meisie los te dans”.
Die kompetisie is ingelui met ’n jong dansertjie van Middelpos wat sy span se geleidelike, ritmiese oorgang van twist na “bobbejaan-twist” tot suiwer riel geherder het.
Teen 21:45 is die dansvloer oopgegooi terwyl beoordelaars vir lank genoeg delibereer het dat talle mense die pad gevat het.
Die gesogte trofee vir die beste vroulike danser is uiteindelik opgeraap deur die aanvallige Abigail Booysen (14) van Vredendal.
“Ek dans al van 2003. Dis baie lekker, dis in my bloed,” het Booysen na haar oorwinning gesê.
Ervaring meer as jeugdige skoonheid het egter die knoop deurgehak in die stryd om die skild vir beste manlike danser en mnr. Jack van Zyl (46) van Brandvlei het ’n wye S oor die sand gegooi onderweg na die beoordelaars se handdrukke.
Die ouderdomme van die dansers het van onder tien tot diep in die middeljare gestrek en spanne het gemiddeld uit 10 mense bestaan wat op eenvoudige tweeman- of CD-musiekbegeleiding staatgemaak het. Spanne is uitgerus in kleurvolle kostuums met volop kappies en breërandhoede.
Middelpos het ’n lansie gebreek vir genderaktiviste toe Marie Swarts (28) die kitaar bespeel het – ’n tradisioneel manlike rol, volgens groepleier, mnr. S.P Abrahams, ’n opvoeder van Middelpos.
In die derde plek was Bitterfontein, met Vredendal tweede. Maar dit was Wupperthal se span wat as algehele wenners aangewys is. Hul leier, mnr. Baren Salomo, het gesê die riel “vier die vryheid van ons mense”.
(Uit: Die Burger)
Die opskrif is in die bedrywende vorm geskryf
Die inleiding: Kort, bondig, antwoorde op wie, wat, waar, wanneer; feite.
Feite is kortliks en akkuraat.
Inhoud: Uitbreiding op feite en inligting van die inleiding.
Aanhalings: Kleur ’n berig in, verskaf afwisseling en maak dit meer geloofwaardig.
Inhoud: Meer besonderhede – hoe en hoekom.
Die styl is neutraal en objektief.
Die slot wat alles saamvat.
Opdrag vir assessering
Skryf ’n koerantberig van 180 tot 200 woorde oor een van die volgende onderwerpe: Jy het ’n kunstefees/filmpremière/dans- of sangkompetisie/konsert bygewoon. Skryf ’n interessante berig daaroor.
Gee feite kortliks en akkuraat.
Probeer om die belangrikste feite te gee sodat jy die leser se aandag behou.
Som akkuraat op sonder om die waarheid te verdraai.
Gee ’n saaklike, bondige maar treffende titel. Subtitels kan ook gegee word.
Vermeld die belangrikste feite alreeds in die eerste paragraaf.
Formele assessering
Jou onderwyser kan jou koerantberig formeel assesseer vir Taak 3 van die eerste kwartaal.