Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 12 Leerderboek Huistaal - Henk Viljoen - Страница 5

Оглавление

Jy gaan in hierdie module spesifiek op die volgende fokus:

 Ontleding van ’n vrye vers (kenmerke van poësie)

 Leesbegrip en leesstrategieë

 Gesprekvoering

 Vertelling

 Taal in konteks

 ’n Verhalende opstel

Ons samelewing – ’n potpourri van alles en nog wat

’n Oorsig . . .

Dié module dek allerhande interessante onderwerpe om oor te dink, te praat, te skryf, te lees en om na te kyk en te luister – letterlik van alles en nog wat!

Jy gaan jou kritiese taalbewustheid en denkvaardighede deeglik op die proef stel. Dit is noodsaaklik dat jy die sosiaal-kulturele en -politieke agtergrond van tekste begryp en kan ontleed en jou mening daaroor kan lug. Die aktiwiteite vereis van jou om jou standpunte te stel, besluite te neem, gevolgtrekkings te maak en voorspellings te waag.

Die wye verskeidenheid eietydse tekste bied verskillende style, taalstrukture, formate en konvensies vir skryf. Jy gaan kreatief moet dink en skryf wanneer jy vrae beantwoord, in gesprek tree en ’n verhalende opstel beplan en aanbied.


Prelees

Jy het in graad 11 al kennis gemaak met die vrye vers. Kan jy nog onthou wat die kenmerke van ’n vrye vers is? Hersien die kenmerke van dié soort gedig in In ’n neutedop voordat jy Koos Kombuis se gedig aandagtig deurlees.


Vrye vers

Die vrye vers gee vir die digter die vryheid om nie die dissipline van ’n vaste rymskema te handhaaf nie, maar dit vereis wel onderskeidende elemente. Daar is bepaalde skakels wat die versreëls en strofes aan mekaar bind.

 Woorde word dikwels aan die begin van versreëls herhaal.

 Herhaling van dieselfde klanke kort na mekaar is ’n belangrike bindingsmiddel van woorde, gedagtes en die gedig as geheel.

 ’n Vaste, ritmiese reëlmaat kom nie voor nie, maar jy sal tog ’n bepaalde ritme aanvoel wanneer jy die gedig lees.

 Versreëls en strofes wissel in lengte.

 Digters gebruik dikwels die opnoemtegniek, met ander woorde die letterlike opnoem van dinge in die gedig.

 Dikwels bestaan die hele gedig uit net een sin.

my lewe bestaan uit paragrawe

Koos Kombuis


1my lewe bestaan uit paragrawe

2en hoofstukke,

3huisies van letters

4en die skuilplekke

5van stories.

6ek is ’n woordwoestyn

7’n oase van frases,

8’n selfaangedrewe

9roman.

10i.p.v. voëls

11vlieg daar verse

12verby my vensters;

13pleks van oggende en wakker word

14beleef ek bladsye

15en die blanko 2d barensnood

16van my kuns –

17selfs my liefdeslewe

18is slegs leestekens,

19klein skanse en simbole

20teen die enorme leegheid

21van

22daarbuite . . .

23daardie vreemde chaos

24van fiksielose feite:

25net mis

26wat aanklam

27teen my ruite

(Uit: Die dieper dors. Human & Rousseau. 2006)

Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.

1. Waarom kan ons sê dat hierdie gedig ’n vrye vers is? Identifiseer minstens drie kenmerke.

2. Die titel is versreël 1 van die gedig.

a. Waarom is hoofletters afwesig in dié gedig?

b. Watter soort beeldspraak kom hier voor?

c. Verduidelik die betekenis van die beeldspraak in jou eie woorde.

3. Wat bedoel die spreker in versreël 6 as hy sê hy is ’n “woordwoestyn”?

4. Die spreker sien homself as ’n “selfaangedrewe roman” (versreël 8 en 9). Watter inligting oor homself kommunikeer hy hier aan die leser?

5. a. Gee twee voorbeelde van alliterasie in strofe 3.

b. Watter funksie het die alliterasie in hierdie gevalle? (Raadpleeg In ’n neutedop verderaan in die aktiwiteit.)

6. Die spreker beleef homself nie meer as deel van die realiteit nie. Haal ’n versreël of versreëls aan om dié stelling te staaf.

7. In strofe 3 praat die spreker van “die blanko 2d barensnood van my kuns – ”

a. Gee ’n sinoniem vir “blanko”.

b. Hoekom “2d” in plaas van die woord “tweedimensionele”?

c. Verduidelik wat “barensnood” beteken.

d. Watter soort “kuns” beoefen die spreker?

e. Is die aandagstreep aan die einde van die strofe funksioneel? Gee jou mening.

8. Watter stylfiguur word treffend in strofe 4 gebruik? Haal woorde aan ter stawing van jou antwoord.

9. Die spreker se “liefdeslewe” word gereduseer tot “leestekens, klein skanse en simbole” (strofe 4).

a. Wat is die oorsaak hiervan?

b. Hoe kan hierdie probleem vanuit die perspektief van die spreker opgelos word?

10. Gee ’n voorbeeld van pleonasme in die gedig. Verduidelik dié begrip aan die hand van die voorbeeld wat jy aanhaal.

11. Verduidelik die funksie van die . . .

a. ellips (versreël 22) en

b. dubbelpunt (versreël 24).

12. a. By watter ander woord pas “oase” in strofe 2?

b. Wat is ’n “oase”?

c. Wat bedoel die spreker wanneer hy homself beskryf as ’n “oase”?

d. Watter soort beeldspraak gebruik die spreker hier?

13. Formuleer die tema van die gedig in een sin.

Selfassessering

Sien die gedig se antwoorde na aan die hand van die onderwyser se memorandum. Maak seker jy verstaan poëtiese tegnieke en stylmiddels.

Hersien kenmerke van gedigte

Dit is noodsaaklik dat jy die kenmerke van gedigte deeglik begryp en dit kan toepas op ’n ongesiene gedig in die eksamen. Daarom is dit nodig dat jy die inhoud van In ’n neutedop ken. Die volgende stappe sal jou help om die betekenis en bou van ’n gedig te verstaan.

Stap-vir-stap-ontleding en bespreking: Wat sê die gedig en hoe sê die gedig dit?

 Om ’n gedig te verstaan, moet jy by die titel van die gedig begin – wat sê die titel vir jou? Dit kan jou al ’n idee gee van die kerngedagte van die inhoud of tema van die gedig.

 Lees dan die hele gedig deur en onderstreep/skryf al die onbekende en/of moeilike woorde neer.

 Probeer die betekenis van die woorde uit die teks aflei. Maak seker jou verklaring pas in die konteks van die gedig. Pas dit by die tema van die gedig?

 Lees die gedig weer en skryf al die gevalle van beeldspraak neer wat jy herken. Dit sluit in vergelykings, personifikasie en metafore.

 Watter stylfigure herken jy in die gedig? Dra dit by tot die tema?

 Is daar enige klankherhalingspatrone? Watter betekenisverbande word daardeur bewerkstellig?

 Is daar dalk ander figuurlike taalgebruik soos idiome, idiomatiese uitdrukkings of spreekwoorde wat jy herken?

 Vra vrae oor elke versreël. Probeer self die antwoorde gee na aanleiding van die kennis van die gedig waaroor jy nou reeds beskik.


Poëtiese begrippe

Die spreker in die gedig: ’n Digter maak gebruik van ’n persona of ’n spreker in ’n gedig. Dit kan ’n eerstepersoonsverteller of ’n derdepersoonsverteller wees. Dit hoef nie altyd ’n mens te wees nie; dit kan ook ’n dier, insek of selfs ’n lewelose voorwerp wees.

Plasing van woorde

Alleenplasing: Woorde of sinsnedes word geïsoleer deur dit ’n alleenstaande strofe te maak ter wille van beklemtoning/uitheffing.

Voor- en agterplasing: Belangrike woorde word voor of agter in ’n sin of versreël geplaas deur die woordorde van die sin te verander ter wille van beklemtoning/uitheffing.

Omgekeerde woordorde/inversie: Die woordorde in ’n sin word doelbewus verander om bostaande plasings te bewerkstellig.

Funksies van omgekeerde of ongewone woordorde:

 Dit word gebruik ter wille van rym.

 Belangrike woorde word hierdeur beklemtoon.

 Dit bevorder die ritme in ’n gedig.

Herhaling/repetisie

Dit is woorde, sinsdele of sinne wat herhaal word om ’n bepaalde effek te verkry. Herhaling bind ’n gedig tot ’n eenheid en verleen klankrykheid daaraan. Herhaling kom algemeen voor in gedigte – die herhaling van woorde, frases en klanke ter wille van uitheffing en betekenisverbande.

Hersien beeldspraak en stylfigure

Beeldspraak (figuurlike taal) is ’n versamelnaam vir al die beelde wat in ’n literêre teks gebruik word. Dis belangrik om te onthou dat dit altyd op vergelyking berus.

Die vergelyking: Twee dinge wat sekere ooreenkomste met mekaar het, word verbind deur woorde soos die volgende: soos, nes, asof, net soos en as. Die twee sake kan van verskillende of uiteenlopende aard op grond van ’n enkele ooreenkoms of ooreenkomste met mekaar vergelyk of selfs gelykgestel word. Lees die volgende voorbeelde: “die feestafel staan gedek, die musikante wag sluimerend in hulle manelle soos dromende pikkewyne.” (Uit: “ek wag in my hart” deur Breyten Breytenbach, die ysterkoei sweet, Perskor).

Die metafoor: In teenstelling met die vergelyking, gebruik digters metafore wanneer een saak direk in verband met iets anders gebring of gelykgestel word aan iets anders, byvoorbeeld:

“Die laat-middag het room geword” (Uit: “Karoo-dorp: someraand” deur N. P. van Wyk Louw, Tristia, Human & Rousseau).

Personifikasie: Ons personifieer wanneer ons aan die natuur, lewelose voorwerpe, diere en abstrakte begrippe die eienskappe en handelinge van lewende wesens toeskryf. Wanneer menslike eienskappe, gevoelens en handelinge aan lewelose dinge toegeken word, is dit personifikasie, byvoorbeeld: Die wind sing ’n treurige lied in die grys oggendstilte. Die lewelose ding (wind) word in terme van menslike eienskappe beskryf (sing . . . treurige). ’n Digter gebruik personifikasie sodat ’n leser kan identifiseer met die saak wat die digter in woorde wil verbeeld.

Sinestesie: Sinestesie is beeldspraak in die vorm van ’n metafoor of ’n vergelyking waarin die sake wat met mekaar vergelyk word tot twee verskillende gebiede van sintuiglike waarneming behoort. Dikwels word die sintuiglike waarnemings omgeruil, byvoorbeeld: Die sonskerp klanke van die viool laat my duisel./Haar sang gee my koue rillings./Ek proe die suikersoet strale van die son.

Metonimia: Wanneer ons een saak in plaas van ’n ander noem op grond van ’n verhouding wat tussen die twee sake bestaan, praat ons van metonimia of oornoeming, byvoorbeeld: Sy behoort respek vir my grys hare te hê. Ons bestudeer ’n Van Wyk Louw hierdie jaar.

Sinekdogee: ’n Deel van die geheel word genoem (gedeeltelike aanduiding), byvoorbeeld: ’n Duisend voete het al hierdie paadjie geloop. Ek het nie ’n droë draad aan my lyf nie.

Antonomasia/naamsverwisseling: Dit kom algemeen voor in omgangstaal wanneer een of ander eienskap vir iemand gebruik word, byvoorbeeld: Hy is ’n regte Einstein.

Simbool: ’n Simbool is nie net ’n afbeelding van die werklikheid nie, maar dit verkry dieper betekenis omdat dit na iets anders verwys.

Klank

Rym is kenmerkend van die poësie. Dit ontstaan wanneer klanke herhaal word en sodoende die klankrykheid van die gedig versterk. Dikwels het dit ’n klanknabootsende, singerige funksie en dit word ook vir beklemtoning gebruik. Rym kan ook woorde verbind om die ooreenstemmende betekenis in die rymende woorde te beklemtoon.

Daar is verskillende soorte rym, naamlik paarrym: aabb ccdd; omarmde rym: abba cddc; kruisrym: abab cdcd; gebroke rym: abcd edfa.

Rym kom veral voor wanneer konsonante (medeklinkers) in woorde herhaal word, byvoorbeeld:

“. . . en hoor die wind al woester, wreder blaas.” (Uys Krige, “Ken jy die see . . .”)

“Bitterbessie dagbreek/bitterbessie son “ (Ingrid Jonker, uit Rook en oker, 1963). Hierdie soort rym word alliterasie genoem.

Wanneer vokale (klinkers) in woorde herhaal word, byvoorbeeld: “ons drome van gister/word somber en sinister” (Koos du Plessis, “Skadu’s teen die muur”) word dit assonansie genoem.

Funksies van rym

 Dit skep ’n opvallende klankpatroon.

 Deur rym word ’n atmosfeer of stemming geskep.

 Rym is klankversterkend.

 Rym verskaf ’n patroon en dien as bindmiddel tussen belangrike woorde.

 Rym is ’n beklemtoningsmiddel: belangrike woorde word in rymposisies geplaas.

Ritme is in alles wat lewe. Daar is ritme in ons hartklop, die klots van die branders teen die rotse, die wisseling van die seisoene, in musiek. Ritme word gekenmerk deur beweging. Dis een van die opvallende kenmerke van poësie, want dit organiseer die taal op ’n ongewone manier wat die leser of hoorder verras en plesier verskaf.

Ritme ontstaan wanneer beklemtoonde lettergrepe (heffings) en onbeklemtoonde lettergrepe (dalings) ’n maatslag of klankpatroon skep. Hoe korter heffings op mekaar volg, hoe vinniger is die ritme. ’n Patroon van heffing/daling/heffing/daling se ritme is byvoorbeeld vinniger as ’n patroon van heffing/daling/daling/heffing/daling/daling. Dink maar aan musiek se ritme. ’n Vinnige ritme laat jou vrolik voel terwyl stadige, lang klanke ’n meer ontspanne of morbiede atmosfeer skep.

Onomatopee (klanknabootsing)

Klanknabootsing is die namaak van klanke in woorde. Sulke woorde help ons om in ons verbeelding ’n prentjie te vorm van die dinge, mense of plekke wat beskryf word. Somtyds klink ’n woord soos die geluid van die ding of handeling/aksie waarna dit verwys, byvoorbeeld: kaplaks! tjirp, brr. . ., tiengelieng, ensovoorts.

Hersiening

Hersien retoriese taal en stylfigure. Lees eers In ’n neutedop aandagtig deur. Gebruik jou digbundel wat voorgeskryf is en soek voorbeelde van retoriese taal en stylfigure. Skryf die aanhalings en die stylfigure van toepassing neer in jou werkboek – jy gaan weer daarna verwys wanneer jy vir die eindeksamen voorberei.


Hersien retoriese taal en nog stylfigure

Eufemisme

’n Eufemisme is ’n verbloeming of versagting van iets onaangenaams of skrikwekkends deur ’n vae of mooi omskrywing daarvan. Daar bestaan verskeie eufemistiese uitdrukkings om byvoorbeeld steel versagtend te beskryf as gaps, baie vet as mollig, vloek as ’n knoop, lieg as spekskiet, ensovoorts.

Hiperbool

’n Hiperbool is ’n oordrywing of vergroting. Ons gebruik dié stylfiguur baie in spreektaal en in verskeie taalstrukture soos intensiewe vorme, vergelykings, idiome en beskrywende woorde (byvoeglike naamwoorde en bywoorde). Voorbeelde van hiperboliese stelwyses is die volgende:

 Ek het my morsdood (baie) verlang na jou.

 Dis ’n ongelooflike (mooi) meisie wat jy aan my voorgestel het.

Litotes

In teenstelling met die hiperbool, dui die litotes op verkleining. Dit word gebruik om beskeidenheid of valse beskeidenheid uit te druk, byvoorbeeld: My ou ringetjie het net R50 000 gekos. Die litotes kan ook spot of afguns uitdruk, soos wanneer die een sanger na die ander se trefferliedjie as ’n goeie poging verwys.

Antitese (teenstelling)

Die antitese word gebruik om twee uiterstes teenoor mekaar te stel. Dié kontras beklemtoon wat gesê word, byvoorbeeld: die soet en die suur van die lewe; hemel en aarde beweeg om jou doel te bereik.

Twee ander stylfigure wat ook op teenstelling berus, is die paradoks en die oksimoron. Die paradoks is ’n skynbare teenstelling. Alhoewel dit lyk na ’n teenstelling ontdek ’n mens by nadere beskouing ’n dieperliggende waarheid waarin teenoorgesteldes versoen word. ’n Goeie voorbeeld van ’n paradoks is: Stilbly is ook ’n antwoord.

Die oksimoron is die naasmekaarstelling van twee teenstrydige woorde, byvoorbeeld: horende doof, siende blind, lieflike gemors, ensovoorts.

Ellips

By die ellips word woorde weggelaat of verswyg wat dan deur die leser self voltooi moet word. In geskrewe tekste word die ellips meestal deur drie puntjies (die beletselteken) aangedui. Hierdie stylfiguur kan sterk dramatiese trefkrag in literêre en kreatiewe verbeeldingstekste hê.

Woordspeling

Wanneer ’n skrywer grappenderwyse die verskillende betekenisse van woorde gebruik, noem ons dit woordspeling. Dit word veral in literêre werke gebruik en ook in visuele tekste soos spotprente.

Kontrolelys

Ek kan . . .JaTaamlikNee
gedigsoorte herken en verduidelik, byvoorbeeld:sonnetvrye verselegielimeriekhaikoeparodieballadeheldedig (epos)
die bou en tipografie van ’n gedig en hoe dit die betekenis van die gedig beïnvloed, beskryf, byvoorbeeld:titel en subtitelstrofeslengte en plasing van versreëlsenjambementtipografiese witpunktuasie
beeldspraak in ’n gedig herken en die betekenis daarvan verduidelik, byvoorbeeld:vergelykingmetafoorpersonifikasiesinestesieantonomasia (naamsverwisseling)metonimia (oornoeming)sinekdogee (gedeeltelike aanduiding)
verduidelik wat rym is en die funksie daarvan in die gedig bepaal, byvoorbeeld:alliterasieassonansieklanknabootsing (onomatopee)
verskillende rymskemas herken, byvoorbeeld:kruisrymomarmde rymgebroke rympaarrym
ritme en die funksie van ritme verduidelik
stylfigure herken en die funksie en betekenis daarvan verduidelik, byvoorbeeld:eufemismehiperboollitotesantitese (paradoks en oksimoron)ellips

Selfstandige lees

Sukkel jy om te konsentreer? Dan gaan jy dalk ’n oplossing in die volgende artikel vind. Lees dit aandagtig deur en gesels in die klas oor die aannames en feite wat gegee word.

Slaap min en word maklik vet


1Klaas Vakie, die ventjie van die sprokieswêreld wat ons aan die slaap maak, hou dalk ook die sleutel tot ons gewig. Wetenskaplikes het nou bevind tieners wat min slaap se kans om oorgewig te raak, is drie keer groter as dié wat genoeg slaap.

2Dit kan regstreeks toegeskryf word aan hormoonproduksie, wat nou saamhang met slaappatrone. Kinders wat tussen 10 tot 11 uur per nag slaap, se kans op vetsug is 40% groter as dié wat 12 tot 13 uur per nag slaap, het navorsers van Kanadese en Amerikaanse universiteite onlangs in ’n studie bevind.

3Verskeie Amerikaanse koerante en Independent Online in Engeland berig dié bevindings by die Laval Universiteit in Quebec, Kanada, die Universiteit van Pennsilvanië en die mediese skole van die Universiteit van Stanford en Harvard toon dat die veranderinge in twee hormone wat veroorsaak word deur min slaap tieners se kosinname kan beïnvloed.

4Hul metabolisme raak stadiger en kalorieë kan dus nie so vinnig verbrand nie. Volgens dr. Emmanuel Mignot van Stanford is daar ’n regstreekse verband tussen slaapverlies en ’n stadige metabolisme. “Te min slaap verander jou liggaam se verbrandingsvermoë. ’n Mens se liggaam is só fyn gereguleer dat dit vyf tot tien keer per jaar sy liggaamsgewig verorber sonder om vetter te word. Die liggaam beheer hoe kos opgeneem en hoe baie kalorieë verbrand word om gewig konstant te hou. Maar as jou liggaam moeg is, verbrand dit kalorieë en voeding té stadig, selfs al eet jy minder. Só ’n persoon sal oor ’n tydperk gewig aansit.”

5Dr. George Blackburn van Harvard sê te min slaap veroorsaak groot spanning op die liggaam. “As jy te min geslaap het, verloor jy jou logiese denkvermoë – jy verander in ’n wrak,” sê hy. “Jy gebruik dan ook nie meer jou gesonde verstand om gesonde kos te eet nie. Te min slaap veroorsaak ook ’n swakker immuunstelsel en ’n negatiewe lewenshouding. Dit verhoog ook die risiko vir diabetes en kardiovaskulêre probleme.”

6Suid-Afrikaanse kinders vaar nie beter nie, sê dr. J.A.P. Nel, hoof van die Sentrum vir Kinderontwikkeling en Kinetikawetenskappe in Durbanville.

7“Ons jonges raak vet omdat hulle te min slaap én te gemaksugtig lewe,” sê hy. “Navorsing het bewys hoogstens 7% van leerders neem aan mededingende sport op skoolvlak deel. Dié gemaksug maak dat hulle deur die nag baie min energie verbrand. Dít veroorsaak weer dat hulle saans baie later wakker kan bly en hulle te veel tyd bestee aan die TV, rekenaarspeletjies en die internet.

8“Dié laat wakkerblyery gaan gepaard met ’n sug na ongesonde versnaperings, wat weer kan lei tot oorgewig, diabetes, hartkwale en infeksies. Dié ongesonde kosse word deel van kinders se lewenspatroon. Ouers hou in elk geval ook nie ’n waaksame oog oor hul kinders se eet- en slaapgewoontes nie.”

9Dr. S.T. Potgieter, ’n loopbaankonsultant en voorligtingsielkundige van Bellville, sê tieners wat nie genoeg slaap nie, se werkvermoë en akademiese prestasie word gekortwiek wanneer hulle vaak is. “Tieners wat nie genoeg slaap nie, verswak gevoelsmatig – hulle het minder beheer oor emosies en raak neerslagtig.

10“Kinders leer die slaappatroon van hul ouers aan. Dis deel van ’n moderne lewenstyl om minder te slaap, en hul liggame pas daarby aan. Daar moenie net gekyk word na die uitwerking van swak slaappatrone op eetgewoontes nie, maar ook na die uitwerking van swak eetgewoontes op slaappatrone.

11“Dit alles lei tot frustrasie en irritasie laat in die oggend en in die middag, swak konsentrasie, ’n swak geheue, lusteloosheid en ’n gebrek aan energie.”

12Dit is dalk tyd dat Klaas Vakie weer sy regmatige plek in ons lewenspatrone inneem – nie net ter wille van ons slaappatrone nie, maar ook ons algemene welsyn.

(Verkort en aangepas uit: Rapport)

Beantwoord die vrae wat volg. Skryf die antwoorde in jou werkboek.

1. Vluglees die leesstuk om te bepaal

a. wat die doel en

b. wie die teikengroep van die artikel is.

2. Soeklees die artikel vir die volgende antwoorde:

a. Watter woord in paragraaf 1 beteken om die antwoord/rede vir ’n probleem te hê?

b. Watter woord in paragraaf 6 dui op bewegingsleer?

c. In watter provinsie werk dr. J.A.P. Nel?

d. In watter land is die Universiteit van Harvard en Pennsilvanië?

e. Min leerders neem deel aan mededingende sport. Waaruit kan jy dit aflei?

3. Verduidelik in jou eie woorde wat met die liggaam se “metabolisme” en “immuunstelsel” bedoel word.

4. Watter kontras word in die kop (hoofopskrif) van die berig geïmpliseer?

5. Soeklees par. 8 vir ’n woord wat min of meer dieselfde betekenis het as “lekker eetgoed”.

6. Wat beteken dit as . . .

a. jy “verander in ’n wrak”? (par. 5)

b. jy jou “gesonde verstand” moet gebruik? (par. 5)

c. iets of iemand “gekortwiek” word? (par. 9)

d. iemand “’n waaksame oog” oor jou hou? (par. 9)

e. jy “gevoelsmatig” verswak? (par. 9)

7. Waaraan word die swak slaappatrone van kinders/tieners toegeskryf volgens ’n sielkundige?

8. Watter probleme ontstaan, volgens dr. George Blackburn, indien ’n mens te min slaap? Noem vier probleme.

9. In die berig word verwys na “vetsug” en “gemaksug”.

a. Wat is die betekenisverband tussen hierdie twee sake?

b. Wat is die kern van elk van die woorde?

c. Hoekom kan ons sê dat dié twee woorde voorbeelde van analogie is?

10. Is die volgende feite of menings? Gee telkens ’n rede vir jou antwoord.

a. “Ons jonges raak vet omdat hulle te min slaap én te gemaksugtig lewe.” (par. 7)

b. “. . . kinders wat tussen 10 tot 11 uur per nag slaap, se kans op vetsug (is) 40% groter as dié wat 12 tot 13 uur per nag slaap . . .” (par. 2)

c. “Ouers hou in elk geval ook nie ’n waaksame oog oor hul kinders se eet- en slaapgewoontes nie.” (par. 8)

d. “Klaas Vakie, die ventjie van die sprokieswêreld wat ons aan die slaap maak, hou dalk ook die sleutel tot ons gewig.” (par. 1)

11. Is die volgende bewering geldig of nie?

a. “Ons jonges raak vet omdat hulle te min slaap én te gemaksugtig lewe.” (par. 7)

b. Motiveer jou antwoord met verwysing na die teks.

12. Watter geïmpliseerde betekenis moet die leser uit die volgende aflei: “. . . (kyk) na die uitwerking van swak slaappatrone op eetgewoontes (en) ook na die uitwerking van swak eetgewoontes op slaappatrone.” (par. 10)

13. Lees aandagtig en voltooi die volgende sin: Die nadeligste gevolge van wakker bly is . . ., . . ., . . . en . . .

14. Wat is die kernsin van paragraaf 4?

15. Gee die betekenis van die volgende woorde in die teks. Probeer die betekenisse uit die omringende teks aflei. Indien jy steeds nie die betekenis kan kry nie, gebruik ’n woordeboek om dit na te slaan.

a. vetsug (par. 2)

b. hormone (par. 3)

c. diabetes (par. 5)

d. kardiovaskulêre probleme (par. 5)

16. Vul die ontbrekende woorde in:

Kinders wat min slaap en nie gesond eet nie voel soggens . . . en . . . Smiddae is hulle sonder . . ., hulle kan nie . . . en voel . . .

17. Tot watter gevolgtrekking kom die sielkundige in paragraaf 8? Stem jy saam? Motiveer jou antwoord.

Taal in konteks

18. Verduidelik die funksie van die aandagstreep in paragraaf 9.

19. In paragraaf 3 word na “skole” verwys.

a. Wat beteken “skool” in hierdie konteks?

b. Wat noem ons hierdie taalverskynsel?

20. Die volgende sin kom voor in paragraaf 10: “Dis deel van ’n moderne lewenstyl om minder te slaap . . .” Identifiseer die volgende in die sin:

a. Die infinitiewe vorm

b. ’n Koppelwerkwoord

c. ’n Byvoeglike bepaling

d. ’n Bywoordelike bepaling

21. Skryf die intensiewe vorm en die trappe van vergelyking van elk van die volgende neer:

a. vinnig (par. 4)

b. vet (titel)

c. swak (par. 10)

22. Gee ’n rede vir die hooflettergebruik in elk van die onderstaande gevalle.

a. Klaas Vakie (par. 1)

b. Universiteit van Pennsilvanië (par. 3)

c. Amerikaanse (par. 2)

d. Bellville (par. 9)

23. Gee ’n rede vir die skryftekens in die volgende woorde.

a. kalorieë (par. 4)

b. kardiovaskulêre (par. 5)

c. eet- en slaapgewoontes (par. 8)


Die leesafdeling van die eksamenvraestel gaan op die volgende leesvaardighede fokus:

Onderskei tussen feite en menings

’n Feit is iets wat bewys of gekontroleer kan word. Dit kan getoets word deur middel van eksperimente, waarnemings of navorsing. In feite word verwysings na plekke, persone, syfers en datums aangehaal.

’n Mening is ’n persoon se belewing van ’n insident/saak en berus op vae aanduidings en gevoelens. Dit is nie noodwendig bewys nie. Woorde soos dink, voel, is oortuig, die meeste mense sê, altyd en almal dui gewoonlik op ’n mening.

Onderskei tussen direkte en geïmpliseerde betekenis

Wanneer ’n verteller of spreker woorde gebruik wat nie ’n direkte boodskap oordra nie, maar dit indirek suggereer, is die boodskap verskuil/bedek. Ons noem dit geïmpliseerde betekenis omdat die spreker iets impliseer en die leser/hoorder self ’n afleiding daaruit moet maak. Byvoorbeeld: As iemand sê ’n naburige skool het gedissiplineerde leerders, bedoel die persoon by implikasie dié skool waaraan die spreker verbonde is, se leerders is nie so gedissiplineer nie.

Argumente of redenasies

Kyk na die volgende diagram om te verstaan wat ’n argument is:


 Neem ’n standpunt in.

 Gee bewyse wat die standpunt ondersteun.

 Maak afleidings van die bewese standpunt.

 Maak ’n logiese gevolgtrekking wat voortvloei uit die bewyse en afleidings en wat die standpunt bevestig.

Wanneer iemand ’n standpunt inneem, moet die standpunt met bewyse ondersteun word. Daaruit kan afleidings gemaak word wat uiteindelik lei tot ’n logiese gevolgtrekking ter bevestiging van die aanvanklike argument.

Onderskei tussen geldige en ongeldige argumente

Elke persoon het die reg om sy standpunt te stel en om daarin te glo. Elke persoon het ook die reg om nie met ’n ander persoon se standpunt saam te stem nie. Dus bepaal ’n persoon self of die standpunt geldig (waar) of ongeldig (onwaar) is. ’n Argument is standpunte en bewyse wat op logiese wyse aangevoer word. ’n Geldige argument is dus aanvaarbaar en geloofwaardig. ’n Argument is geldig as die feite die gevolgtrekking ondersteun.

Leer en gebruik die onderstaande tegnieke om die betekenis van woorde/frases af te lei

Om te verstaan wat jy lees, is dit noodsaaklik om die betekenis van woorde te ken. Wanneer jy nie al die woorde in ’n teks verstaan nie, kan jy sekere tegnieke gebruik om die onbekende woorde se betekenis af te lei. Die belangrikste is om eers verder te lees om te kyk of die woord nie dalk later beskryf of verduidelik word, of uit die konteks van die teks as geheel afgelei kan word nie.

Let op na die volgende woordaanpakvaardighede:

 ’n Formele definisie

 ’n Sielkundige is iemand wat hom toelê op die studie van die sielkunde.

 Beskrywing deur voorbeeld en vergelyking

 ’n Mens se konsentrasievermoë is soos inspanning, jy vestig jou aandag op iets.

 Verklaring wat tussen hakies gegee word

 ’n Diabeet (iemand wat aan suikersiekte ly) moet gereeld oefen om maer te bly.

 Verklaring wat later in die teks voorkom

 Infeksie . . . besmetting van die menslike liggaam kan noodlottig wees.

 Ander woorde met dieselfde betekenis

 Neerslagtigheid of moedeloosheid is die direkte gevolge van oorgewig.

 Kontraste of woorde met teenoorgestelde betekenisse

 Sy is nie gemaksugtig nie, sy werk fluks en vinnig.

 Verdeel ’n woord in lettergrepe/woorddele en bepaal dan elke lettergreep/woorddeel se betekenis.

’n Woord soos “monosillabe” kan soos volg ontleed word om die betekenis te bepaal: mono = een; sillabe = lettergreep. Monosillabe beteken dus eenlettergrepig. As jy weet “mono” beteken “een” kan jy ook die betekenis aflei van monoloog (alleen+spraak), dialoog, ensovoorts.

Onderskei tussen letterlike en figuurlike taalgebruik

Taal word op twee vlakke gebruik: letterlik (iets wat werklik plaasvind) en figuurlik (iets wat deur middel van beelde kommunikeer).

 Iets wat werklik is, is letterlik. “Die koeël is deur die kerk” beteken letterlik ’n koeël het deur die kerk getrek. Gewoonlik word dié uitdrukking nie letterlik nie maar figuurlik gebruik.

 Figuurlik beteken die idioom “Die koeël is deur die kerk” dit het klaar gebeur, niks kan meer aan die saak gedoen word nie.

24. Beoordeel die samehang van die teks.

a. Watter funksie vervul die eerste paragraaf?

b. In watter opsig/te verskil die eerste en die laaste paragraaf en in watter opsig/te stem dit ooreen?

c. Watter woorde in die teks kom deurlopend voor?

d. Bepaal die skakels tussen paragraaf 1 en 2, en dan tussen 7 en 8. Watter woorde bewerkstellig die skakelings?


Bepaal die samehang van ’n teks

Onthou die volgende wenke wanneer jy jou mening oor ’n teks se samehang moet lug:

 Daar moet ’n deurlopende hoofgedagte wees; al die paragrawe behoort verband te hou met die hoofgedagte en die onderwerp.

 Kernsinne en/of kernwoorde dien as bindingsmiddels.

 Inligting word in ’n logiese volgorde aangebied.

Bepaal die verband/skakel tussen paragrawe

Ons onderskei tussen die volgende skakels:

 Aaneenskakelend – elke paragraaf is ’n uitbreiding op die hoofgedagte; voegwoorde, voornaamwoorde en bywoorde bewerkstellig gewoonlik die aaneenlopende skakeling.

 Kontrasterend/teenstellend – ’n paragraaf skakel nog steeds met die hoofgedagte, maar dit belig ’n kontrasterende aspek; voegwoorde wat ’n teenstelling aandui (soos maar, inteendeel, nieteenstaande) word gewoonlik gebruik.

 Oorsaak en gevolg – die paragrawe word ingelei deur voegwoorde soos daarom, gevolglik, dus, derhalwe, as gevolg van, ensovoorts.

Daaglikse assessering

Sien jou antwoorde na aan die hand van die onderwyser se memorandum.


Ons almal hou daarvan om in gesprek te tree met vriende, familie en selfs vreemdelinge. Die styl en register waarop ’n mens besluit vir ’n gesprek, word bepaal deur die soort gesprek, naamlik ’n formele of informele gesprek. ’n Formele gesprek is, byvoorbeeld, wanneer jy vir ’n werksonderhoud moet gaan, die hoof moet gaan spreek, ensovoorts. Hierdie soort gesprek is gewoonlik ernstig van aard. Informele gesprekke is hoofsaaklik sosiale gesprekke wat gekenmerk word deur ’n ontspanne, gemoedelike stemming. Gesprekke is tweerigting-kommunikasie – een party praat en die ander party luister. Wanneer jy in gesprek tree met iemand anders, is die volgende konvensies belangrik:

 Inisieer en hou die gesprek vol.

 Pas beurtnemingskonvensies toe.

 Verdedig ’n standpunt en respekteer ander se standpunte.

 Onderhandel indien daar verskille is.

 Vul gapings in en moedig die spreker aan.

 Deel idees en ervarings en toon begrip van konsepte.

 Praat interessant en vlot oor inligting, gevoelens, gebeure, ervarings, ensovoorts.


Prosedure vir ’n informele klasgesprek

 Die onderwyser gaan die klas in groepe verdeel (maats of kleiner groepe).

 Lees weer die artikel in Aktiwiteit 2 “Slaap min en word maklik vet” as aanknopingspunt tot jul gesprek.

 Die onderwerp van die gesprek is die volgende: Ons is wat ons eet.

 Dink aan goeie standpunte, idees of self gebeure waaroor julle kan gesels.

 Die gesprek kan 20 tot 30 minute duur.


Prelees

Ons almal weet wat die begrip transformasie beteken. Kan jy ’n bondige definisie van dié begrip skryf? Vergelyk jou definisie met jou maat s’n. Stem julle omskrywings ooreen of nie? Neem nou standpunt in oor elk van die volgende kwessies. Maak notas van jou en ander se idees en kommentaar.

 Watter betekenis het transformasie vir jou?

 Het transformasie in jou gesin/gemeenskap/dorp/kultuurgroep/skool plaasgevind? Laat elkeen in die groep ’n mening lug. Onthou om mekaar se menings te respekteer en te probeer verstaan.

 Formuleer jou definisie van die begrip.

 Rapporteer aan die klas en vergelyk die definisies.

Tydens lees

Die teks wat volg is aanvanklik geskryf vir die rubriek “Dana aan die woord” in ’n bekende Afrikaanse tydskrif. Lees die vertelling aandagtig deur. Sorg dat jy ’n deeglik begrip van die teks se betekenis het.

Biltong en transformasie

Dana Snyman

In die stad koop ek my biltong net by oom Tokkie le Grange se slaghuis in Rietfontein, maar nou die dag beland ek toevallig voor die biltongrak in ’n supermark. Dit was vir my nogal ’n skok, moet ek bieg.

Jy kry deesdae brandewyngegeurde biltong! En chilligeur. En tamatiegeur. En glo dit as jy wil, ook biefstukgeur – asof biltong nie van vleis gemaak is nie. Dalk is dit om die donkie- en ander verdagte vleissoorte wat glo soms gebruik word, effe te kamoefleer. Jy kry selfs dekselse hoenderbiltong. En dit kom in allerhande vorms: gekerf, gekap, gemaal – en in sulke plat skywe wat soos skaafsels lyk. Jy kry ook sogenaamde biltongstokkies wat nogal dodelik op daardie stopsel in jou tweede kiestand van agter kan wees. In party pakkies kry jy tot ’n gratis tandestokkie.

Daar is deesdae ’n verbluffende verskeidenheid om van te kies. Maar die frustrerende ding is, jy kan nie soos in oom Tokkie se slaghuis jou eie stuk biltong uitsoek en daarvan proe, voordat jy dit koop nie. Op die pakkie – ’n verseëlde plastieksakkie wat jy gewoonlik met jou tande moet oopskeur – word sommer vir jou gesê hoe dit proe. In Engels.

“This recipe imparts a distinctly South African flavour that is unbeatably delicious,” staan byvoorbeeld op die pakkie brandewyngegeurde biltong. “With marinating and drying, timing is everything, and our judgement is steeped in rich experience and a passionate love of biltong.”

Boonop is dit polities korrekte biltong. Die mense wat dit gemaak het, het glo vooraf die beeste toestemming gevra om hulle te slag en biltong uit hul beste dele te sny en in brandewyn in te lê. Ek jok. Ek jok. Op die pakkie word wel aangedui dat die vleis van sogenaamde “free-range” beeste is en dat geen preserveermiddels bygevoeg is nie.

Dit beteken die beeste kon sorgeloos in die veld wei totdat hulle een goeie oggend ietwat oorbluf na die slagpale geneem is om doodgeskok, opgesny en met deernis tot biltong verwerk te word.

Nie dat biltong in die ou dae vir barbare was nie. Nooit ooit nie.

Dit is nie vir my nodig om die status van biltong in Suid-Afrika uiteen te sit nie. Soos ’n brosjure van die destydse Vleisraad dit gestel het: “Suid-Afrikaners is ’n biltong-etende nasie.”

Elke Suid-Afrikaner het sy eie voor- en afkeure wanneer dit by biltong kom: Party hou daarvan klammerig. Met vet. Of sonder vet. Ander wil dit weer droog hê, sodat jy dit met ’n hamer op ’n oopgevoude koerant op die kombuistrappe moet fyn kap.

Maar almal stem saam dat jy biltong – nat of droog – moet eet as jy rugby kyk.

Ek glo weer jy kan nie die langpad aandurf sonder ’n papiersak biltong nie. Dit is die perfekte langpad-versnapering: dit mors nie krummels nie, dit smelt nie, en as jy ’n lekker taai stuk springbokbiltong het, kan jy daarop vasbyt as Kurt Darren se liedjie “Meisie Meisie” oor die radio gespeel word.

Ek verkies beesbiltong. Klammerig en sonder vet en ja, dit moet in ’n papiersak wees – een wat al hier teen die tweede dag op die langpad vol vetkolle is waar jy dit in die holte tussen die twee sitplekke bêre. Biltong sweet in ’n plastieksak en word dan galsterig, glo ek.


Oom Tokkie laat jou toe, soos dit ’n goeie slagter betaam, om jou eie stuk biltong te kies – en hier het elke ou sy teorie. Die stuk wat ek kies, moet nooit te dik wees nie; jy weet nooit of daar dalk ’n sening êrens skuil nie.

Biltong het ook vir my ’n ander assosiasie met die langpad: Toe ek ’n kind was, het ons elke winter – gewoonlik in Junie – na Oupa en Ouma op die plaas in die Bosveld gegaan om te gaan bees slag. Dan is daar biltong en wors gemaak en vleis opgesny en in plastieksakkies gepak, waarop Ouma sulke plakkers geplak en met ’n viltpen gemerk het: T-been, rump, brisket, sopvleis.

Ek sal daardie tye nie vergeet nie.

Oupa het vroegoggend kraal toe gestap met die .22 oor sy skouer, waar die bees wat die vorige dag in die veld uitgesoek is, geduldig, gedienstig en gedweë gewag het. (Hulle het toe al free-range beeste geslag, maar die Bosvelders het nog net nie ’n naam daarvoor uitgedink nie.)

Ek wou nooit kyk hoe skiet Oupa die bees nie.

Die volgende oggend het die karkas in die koel slagkamer onder die mopanieboom gehang, sodat die vleis eers “bietjie ryp kan word”.

Ouma het dan oor die werf vir Mieta, een van die vier vroue wat by haar in die huis gewerk het, geskreeu: “Miett-aaa! Loop maak toe die honde in die stoor! Hulle is weer mal vanmôre.”

Die werfhonde het heel berserk geraak wanneer daar geslag word.

Ouma was altyd in beheer van die vleiswerkery. Met haar blou-en-wit ACVV-voorskoot aan het sy daar tussen die tafels voor die slagkamer rondgestap en opdragte uitgedeel in haar pantoffels met die knoppe hier langs die kante waar haar bunions was: “Nee wat, daai ou vleisies moet eerder maalvleis word, steak sal dit nooit kan wees nie.”

Of: “Mensig, die wêreld is weer vervuil van die vlieë vandag. Miett-aaa! Loop sny ’n tak daar van die boom af en kom waai die vlieë van die vleis af weg!”

Pa en Oupa het gewoonlik die biltong gesny, elkeen op ’n broodplank op die kombuistafel met die groen melamienblad wat uit die huis gedra is.

Altyd wanneer Pa iets met sy hande doen en hy konsentreer hard, fluit hy saggies Psalm 139: “Nader my God by U.” Pa het dikwels Psalm 139 gefluit wanneer hy en Oupa daar met hul skerpgeslypte Joseph Rodger-messe staan en biltong sny het.

Langs die tafel het ’n groot sinkbad gestaan waarin die biltong gegooi is, nadat Ouma speserye oor dit gestrooi het. Die speserye, wat sy in ’n Consol canned fruit-bottel gehou het, was Ouma se eie mengsel – en sy het jaloerser oor daardie resep gewaak as pres. George W. Bush se lyfwagte oor die tassie met die lanseerkode vir die atoombom.

Die biltong het daarna eers vir nog ’n nag in die sinkbad gelê; die volgende oggend baie, baie vroeg het ons teruggery huis toe met daardie sinkbad en die ander vleis in die sleepwaentjie agter ons motor.

By die huis is die vleis dadelik in die vrieskas gepak en dan moes ek Pa help om die biltong op te hang in die garage aan sulke lang drade wat hy tussen die balke gespan het.

Die draadhakies waaraan die biltong gehang het, het Pa ook self met ’n tang in sulke S-vorms gebuig. Vir die eerste paar dae het hy nie die motor in die garage parkeer nie.

Daar was destyds geen sprake van biltong in kafees en supermarkte en padstalle soos nou nie. Langs die pad op pad na Ventersdorp het ek onlangs ’n kêrel gesien wat ’n biltongwinkeltjie in ’n ou Sprite-woonwa ingerig het, met ’n groot kennisgewing wat lees: “Die beste biltong in Suid-Afrika”.

Hy verkoop onder meer biefstukgeur-biltong.

Dit voel vir my net nie reg nie. Party dinge moet ’n mens respekteer net soos hulle is. Waarom kan biltong nie net biltong bly nie?

Ek glo biltong – of die mense wat biltong maak – het tans ’n identiteitskrisis, en dit pla my. Waarom al die foefies?

Jy dra nie jou WP-serp kerk toe nie. Jy speel nie die Blou Bul-lied op Nuweland nie. Jy vertel nie grappies in die appèlhof in Bloemfontein nie. Jy sê nie vir Madiba of F.W. de Klerk “Howzit my china” nie.

Ek het nou die dag ’n hele ruk voor daardie biltongrak in die supermark gestaan. Toe het ek geloop. Sonder om iets te koop.

Biltong behoort biltong te bly.

(Uit: Waar die leeus Afrikaans verstaan. Tafelberg-Uitgewers. 2006)


Leer die volgende spreekwoorde met biltong:

’n droë biltong – ’n baie vervelende mens

biltong maak van iemand – iemand totaal oorrompel

biltong sny voor die bees geslag is – op iets staatmaak wat nog moet gebeur

meer biltong sny as wat jy kan opeet – met te veel sake gelyktydig besig wees

dis so maklik soos biltong eet (kou) – dis uiters maklik

Beantwoord nou die volgende vrae in jou werkboek.

1. Wie is die teikengroep van die teks?

2. In watter styl en trant is die stuk geskryf?

3. Wat is die doel van die vertelling?

4. Gee die betekenis van die volgende woorde/frases/uitdrukkings:

a. “verbluffende verskeidenheid”

b. “Biltong sweet in ’n plastieksak en word dan galsterig . . .”

c. “. . . vleis moet eers bietjie ryp kan word.”

d. “Die werfhonde het berserk geraak . . .”

5. Watter soort verteller is aan die woord? Motiveer jou antwoord.

6. Is die vertellerperspektief na jou mening geslaagd? Verduidelik jou antwoord.

7. “Boonop is dit polities korrekte biltong” (par. 6). Sou jy sê dat ons hier ’n voorbeeld van satire het? Motiveer jou antwoord. (Omskryf in jou antwoord die begrip “satire”.)

8. Met watter twee herinneringe assosieer die verteller biltong?

9. Hoe het biltong bygedra tot transformasie in ons land volgens die verteller?

10. Dink jy die titel is gepas? Verduidelik jou antwoord.

11. Omskryf kortliks die agtergrond waarteen die vertelling afspeel.

12. Hoekom ondergaan biltong volgens die verteller ’n “identiteitskrisis”? Hoe voel jy daaroor?

13. Die tydsverloop in die vertelling is fragmentaries. Stem jy saam? Hoekom?/Hoekom nie?

Hersien literêre begrippe in In ’n neutedop.


Hersiening van literêre begrippe

Leesvaardighede is ook baie belangrik vir die bestudering van jou voorgeskrewe werke. Om deeglik vir die letterkundevraestel (Vraestel 2) voor te berei, moet jy bo en behalwe die inhoudelike kennis van die werke, ook die volgende literêre begrippe kan toepas wanneer jy die vraestel beantwoord:

Tema

Die tema is die onderliggende “onderwerp” in die verhaal, dit waaroor die verhaal handel. ’n Tema is altyd universeel en is nie gebonde aan tyd, ruimte, situasie of karakter nie. Voorbeeld: Hierdie verhaal handel oor menseverhoudinge en hoe kultuur en sport mense bymekaarbring.

Boodskap

Dit is die lewensles(se) wat die verhaal die leser wil leer.

Intrige

Dit is die oorsaak en gevolg wat mekaar opvolg in die verhaal, met ander woorde hoe die gebeure die een ná die ander plaasvind.

Konflik

Konflik word ook botsings genoem. Daar is twee soorte konflik: konflik wat uiterlik plaasvind (soos wanneer daar geweld is, of argumente en redenasies tussen karakters) of konflik wat innerlik plaasvind (soos stryd in ’n karakter se gemoed).

Karakter

Indien daar van jou in die eksamen verwag word om ’n skets van ’n karakter te skryf, gaan jy let op die uiterlike beskrywing (hoe die karakter lyk, sy voorkoms, handeling en houding), maar jy gaan ook die karakter se innerlike beskryf (wat die karakter voel, sy geaardheid, sienswyses). Onthou dat ons ’n karakter leer ken deur:

 hoe hy self optree, sy houding, gebare

 wat die verteller van hom sê

 wat die ander karakters van hom sê

 wat hy van homself sê.

Ons kry verskillende soorte karakters: die hoofkarakter is die belangrikste karakter en ondergaan gewoonlik groei en ontwikkeling. Dan is daar ook newekarakters wat op die agtergrond bly en nie werklik enige verandering ondergaan nie.

Agtergrond

Dit is die omstandighede waarteen die verhaal afspeel. Dit sluit ook die tyd en ruimte van die verhaal in.

Ruimte

Dit is die plek waar die verhaal afspeel en word ook die milieu genoem.

Tyd

Vertelde tyd: Dis die tydperk waartydens die gebeure afspeel, byvoorbeeld die afgelope jaar, ’n middag, ensovoorts.

Verteltyd: Dis die tyd wat dit duur om die verhaal te vertel. By ’n geskrewe verhaal word dit aan die aantal bladsye of woorde gemeet.

Tydsverloop

Dit is hoe die tyd in die verhaal verloop. Gewoonlik is dit chronologies (wanneer die tyd op mekaar volg soos gister, vandag, môre), maar ’n verhaal kan ook ’n achronologiese of fragmentariese tydsverloop hê (die tydsverloop volg hier nie op mekaar nie; daar is tydspronge en terugflitse; die hede en verlede wissel mekaar af in die verhaal).

Vertellersperspektief

Ons onderskei tussen ’n derdepersoonsverteller (’n verteller wat nie gebonde is aan ’n spesifieke tyd en plek nie; hy weet wat elke karakter sê, dink en voel; hy is orals teenwoordig: op elke plek, in elke ruimte en die hele tyd) en ’n eerstepersoonsverteller of ’n ek-verteller (gewoonlik een van die karakters wat die verhaal slegs uit sy eie gesigshoek vertel; die “ek-verteller” is die beste soort verteller om eie emosies en gevoelens te beskryf).


Wenke vir voorbereiding vir die letterkundevraestel

 Sorg dat jy die roman/drama/gedigte noukeurig deurlees en verstaan; jy kan nie met gerustheid na die eksamenlokaal toe gaan indien jy nie die inhoud van al die tekste baie goed ken nie.

 Sorg dat jy al die moeilike woorde en frases naslaan in ’n woordeboek en die betekenisse ken.

 Jy moet die name van al die karakters, name van plekke en enige ander belangrike inligting ken en name reg kan spel! Moenie karakters, plekke en gebeure met mekaar verwar nie.

 Ken die chronologie (tydsvolgorde van gebeure) van die storie; skryf kernwoorde neer in die regte volgorde sodat jy dit vinnig kan hersien voor jy gaan skryf.

 Som die temas van al die werke op (veral die voorgeskrewe gedigte) en sorg dat jy die titel van die gedig dadelik kan assosieer met die tema van die spesifieke gedig.

 Sorg dat jy al die figuurlike taal (soos beeldspraak, stylfigure, simbole, idiome, idiomatiese uitdrukkings) in elke voorgeskrewe teks ken.


Die verskil tussen praat en skryf

Weet jy watter klanke en klankverskynsels in Afrikaans ’n invloed het op hoe ons woorde uitspreek? Bestudeer die inligting in In ’n neutedop deeglik en beantwoord die vrae wat daarna volg.


Uitspraak

Sê die volgende sinne hardop en duidelik en let veral op die uitspraak (klanke) en spelling van die probleemgevalle.

 die ie en die i:

Iemand koop mielies vir die siekes.

Wie se idee is dit om die ivoor en die witste iris vir die immigrante te gee?

 die kort a en die lang aa:

Jan gaan Saterdag op die plaas kuier.

 die uu, u en û:

Duur brûe word vanaf Junie gebou.

 die oo, o en ô:

Die stroompie loop tussen die bome deur, veral in die môre ná die reën.

 die eu en die eeu:

Deur die eeue heen het mans en seuns graag met grond gewerk.

 die ai en die aai:

Baie dankie vir die stuk haaivleis en die baadjie (uitgespreek as baaitjie) wat jy my gee.

 die oë en oeë:

Toe ek my oë vroeër uitvee was die koeël deur die kerk.

 die ou, ooi en oei:

Die meisie wat roei, dra ’n blou hoed en ’n rooi bloesie.

 die ui:

Uie laat ’n mens se oë traan.

 die ei en êi:

Die meisietjie vlei haarself neer op haar bedjie.

Homofone

Sommige woorde in Afrikaans word dieselfde uitgespreek maar hulle betekenis en spelling verskil:

My ma het ’n afspraak in Mei gereël.

Die vier seuns het fier en regop gestaan terwyl hulle die pryse ontvang.

Sy gaan haal die boek terwyl die hael op die dak kletter.

Die man moes dit onder eed in die hof verklaar. Ons eet vroeg saans.

Klem

In meerlettergrepige woorde word bepaalde klanke (lettergrepe) beklemtoon. Dikwels spreek ons woorde uit onder Engels invloed en plaas ons die klem dan op ’n verkeerde lettergreep. Kyk op watter lettergreep die klem in die volgende woorde val:

kontrak minister parlement president toenemend definitief

Assimilasie (klankgelykmaking)

Wanneer ’n mens Afrikaans praat, klink dit soms of party klanke in ’n woord nie uitgespreek word nie en dus nie gehoor word nie. Kyk na die volgende voorbeeld:

Sy het hom (hetom) leer ken as die (assie) persoon wat maats maak met die (medie) kinders (kinners) van die (vannie) omgewing.

Lees nou die volgende op ’n natuurlike manier:

Hy lê onder (onner) die motor van die (vannie) vrou.

Hy is (hys) met die (medie) maan gepla.

Nasalering en vokalisering

In Afrikaans nasaleer ons sekere woorde, met ander woorde die klinker plus die n wat op die klinker volg, word deur die neus uitgespreek. Spreek die volgende sinne uit op ’n natuurlike wyse. Gee veral aandag aan die uitspraak van die skuinsgedrukte woorde waar nasalering plaasvind.

Ons dans al langs die grens. ’n Mens het nie ’n pens nie maar ’n maag.

Die ganse se donse lê orals. Hans waag ’n kans en dans saans dat dit so gons.

Wat het jy opgemerk wat die uitspraak van die skuinsgedrukte woorde betref? Die a, o en e word lank uitgespreek. Die n word nie gehoor nie maar deur die neus uitgespreek.

Palatalisasie

Sê die volgende sinne hardop en gee aandag aan die uitspraak van die skuinsgedrukte woorde. Let op die plek van jou tong.

Giepie kies die geel kubus. Die hondjie ruik aan die kantjie van die mandjie.

Die vroutjie ken die geur goed.

Wat gebeur met jou tong as jy die skuinsgedrukte woorde uitspreek? Beweeg dit na jou harde verhemelte? Hierdie verskynsel kom veral voor wanneer die g-klank en die k-klank as gj en kj uitgespreek word. Normaalweg word die g- en k-klanke agter in die mondholte gevorm.

Vokaalreduksie (klankverswakking)

In die spreektaal gebeur dit soms dat die sprekers van Afrikaans sekere klinkers anders uitspreek as wat die spelling aandui:

Rumoer as remoerRumatiek as rematiek
Wanneer as wannerBaklei as beklei

Ontronding en oorronding

Ons spreek dikwels geronde vokale (klinkers) sonder die nodige lipronding uit. Dan praat ons van ontronding, byvoorbeeld: muur uitgespreek as mier; deur uitgespreek as deer; buite as beite, ensovoorts. Vermy hierdie soort uitspraak wanneer jy praat, veral omdat dit betekenis beïnvloed. Wanneer ons ongeronde vokale met oordrewe lipvorming (te veel gerond) uitspreek, praat ons van oorronding, byvoorbeeld: biltong as bultong; sewe as seuwe; diere as dure, ensovoorts.

Klankverspringing (metatesis)

Hierdie verskynsel kom veral voor by woorde met ’n r-klank in onbeklemtoonde lettergrepe. Het jy al gehoor dat sommige persone present uitspreek as persent en probeer as perbeer? Die r het letterlik gespring in die woord.

Taal in konteks

Die vrae wat volg is gebaseer op die teks “Biltong en transformasie” in Aktiwiteit 4. Skryf die antwoorde in jou werkboek.

Lees die volgende paragraaf:

“En dit kom in allerhande vorms: gekerf, gekap, gemaal – en in sulke plat skywe wat soos skaafsels lyk. Jy kry ook sogenaamde biltongstokkies wat nogal dodelik op daardie stopsel in jou tweede kiestand van agter kan wees. In party pakkies kry ’n mens tot ’n gratis tandestokkie.”

1. Watter klankverskynsels is van toepassing?

a. “allerhande” uitgespreek as “allerande”

b. “sulke” uitgespreek as “silke”

c. “skywe” uitgespreek as “skuiwe”

d. “party” uitgespreek as “pirty”

e. “daardie” uitgespreek as “darie”

f. “kiestand” uitgespreek as “kuustand”

g. “tandestokkie” uitgespreek as “tannestokkie”

h. “mens” uitgespreek as “mês”

i. die uitspreek van “gekerf” en “gekap”

2. Verdeel die woorde eers in lettergrepe en dan in klankgrepe:

a. biltongstokkies

b. allerhande

c. pakkies

3. Watter afleiding kan jy maak, volgens jou antwoorde by vraag 2, oor die verskil tussen skryftaal en spreektaal?

4. Maak sinne met die volgende woordpare (homofone):

a. feit/fyt

b. weier/wyer

c. seine/syne

d. veil/vyl

5. Dikwels maak ons in Afrikaans gebruik van klanke (e, s, er, en(s)) om woorde te verbind tot samestellings. Hierdie klanke word verbindingsklanke of voegsels genoem. Gee die korrekte vorm van die woorde tussen hakies deur van verbindingsklanke gebruik te maak.

a. In ’n (dier+tuin) gaan jy nie sommer beeste vind nie.

b. (Lam+vleis) is net so lekker soos beesvleis.

c. Trek jou (hemp+moue) op wanneer jy vleis bewerk.

d. Al die vleisgereedskap is in die (wa+huis) gebêre.

e. ’n Stukkie biltong voor (ete+tyd) sal darem heerlik smaak.

f. (Kind+tyd) op ’n plaas is kosbare herinneringe.

g. Plase in die (hoog+veld) kry gereeld reën in die somerseisoen.

h. In die aande het ons graag in die veld gaan lê en gekyk na die (Suid+kruis).

6. Skryf ’n samestelling met ’n verbindingsklank uit die paragraaf neer.

Selfassessering

Sien jou antwoorde na aan die hand van die onderwyser se memorandum.


Lees Pitkos aandagtig deur voor jy jou skryfvaardighede demonstreer met ’n kreatiewe, verhalende opstel.


Die sleutel tot effektiewe skryf

Wenke vir voorbereiding vir die skryfvraestel

Skryfvaardighede is baie belangrik vir die eindeksamen en vir jou toekomstige beroep. Hou in gedagte dat skryf nie gemik is op ’n blote eindresultaat nie, maar ’n proses is wat jou help om idees te ontwikkel en om logies te dink.

Hoe om te begin – beplan

Begin met ’n dinkskrum oor ’n bepaalde onderwerp. Samel inligting in, maak notas, vra baie vrae. Organiseer jou notas, die inligting wat jy ingesamel het en ander bronne wat jy moontlik gaan gebruik in jou skryfstuk.

Tydens die ontwikkeling van jou onderwerp moet jy gedurig oplet na moontlike patrone of verbande (watter idees hou verband met mekaar – ook deur kontras – of is voorbeelde van oorsaak en gevolg.) Watter afleiding en gevolgtrekkings is moontlik? Bespreek jou idees met jou klasmaats en/of onderwyser. ’n Nuwe perspektief op ’n onderwerp of saak sal jou denkvaardighede stimuleer en jou nuwe idees gee.

Organiseer jou skryfwerk

Maak gebruik van ’n raamwerk sodat jy jou skryfwerk daarvolgens kan kontroleer, kerngedagtes kan identifiseer en uiteindelik kan weet hoe jy jou skryfstuk wil afsluit. Hou die basiese skryfraamwerk in gedagte:

 Die inleiding behoort vir die leser ’n idee te gee van jou bedoeling met die skryfstuk en die onderwerp, asook ’n aanduiding van die res van die inhoud.

 Die inhoudsgedeelte (liggaam) van die opstel/skryfstuk bevat bewyse wat jou idees ondersteun. Gebruik definitiewe voorbeelde en probeer veralgemenings vermy. Let op jou paragrafering, die samehang van ’n paragraaf en die verband tussen paragrawe.

 Die afsluiting (slotparagraaf) behoort opsommend te wees. Jou gevolgtrekking behoort ’n logiese uitvloeisel van al jou bewyse te wees.

Konsepte (eerste weergawes)

Soos die skryfproses vorder, kan nuwe idees by jou opkom wat verskil van dié waarmee jy jou skryfstuk begin het. Indien jou aanvanklike idees/argumente nie meer waterdig is nie, kan jy dit op hierdie stadium nog verander. Indien nodig kan jy jou skryfstuk oor begin of verander. Wysig jou raamwerk (kerngedagtes) en begin van voor af.

Ander belangrike wenke:

 Hou die teikengroep in gedagte. Skryf vir die algemene leser, behalwe as dit op ’n spesifieke teikengroep gemik is.

 Gebruik woordeskat wat pas by die doel, onderwerp, teikengroep, trant en styl van die skryfstuk.

Hersien en proeflees

Gebruik hierdie kort kontrolelys vir ’n laaste kritiese deurlees van jou skryfwerk:

 Is jou idees logies en samehangend?

 Kommunikeer jou skryfstuk jou idees of argumente duidelik?

 Voldoen jou skryfstuk aan al die vereistes van die opdrag?

 Het jy onnodige herhaling van dieselfde idees, woorde of frases vermy?

 Is jou sinne, spelling en leestekens korrek?

 Het ’n maat jou skryfstuk gelees? Dalk sien hy/sy nog teenstrydighede of foute raak wat jy betyds kan verbeter.

Preskryf

In Aktiwiteit 4 het jy Dana Snyman se vertelling “Biltong en transformasie” gelees. Lees weer die vertelling. Bespreek die volgende vrae en maak notas van jou antwoorde. Ná die bespreking gaan jy jou bevindings aan die klas rapporteer.

 Maak ’n kort opsomming van die vertelling – skryf net hoofgedagtes neer.

 Lewer kommentaar oor die storie se register (woordkeuse, sinsbou, leestekengebruik en figuurlike taal/uitdrukkings).

 Beskryf die toon van “Biltong en transformasie”.

 Sluit die inhoud aan by die titel?

 Is die inhoud in ’n logiese volgorde of nie?

 Skakel paragrawe?

 Is die inleiding en slot effektief?


Kenmerke van ’n verhalende opstel

’n Verhalende opstel vertel ’n storie of gebeurtenis uit die verlede en kan vanuit enige perspektief geskryf word. Hou die volgende kenmerke in gedagte wanneer jy dié soort verbeeldingsteks skryf:

 ’n Sterk, oortuigende storielyn

 Skryf deurlopend in die teenwoordige of die verlede tyd – moenie tye verwar nie.

 ’n Treffende inleiding wat die leser se aandag vasvang

 ’n Logiese volgorde van gebeure – gewoonlik in chronologiese tyd

 Samehangende paragrawe en logiese skakels

 ’n Buitengewone, verrassende slot

 ’n Persoonlike styl, kreatiewe woordkeuse en effektiewe stylmiddele

 Sintuiglike besonderhede

 Helder beskrywing

Hersiening

Die styl, register en toon van ’n skryfstuk

Styl is hoe jy iets sê; inhoud is wat jy sê. Die styl moet by die soort teks en die inhoud pas. Styl kan formeel of informeel wees, persoonlik, bondig, omslagtig, eentonig, sprankelend, oorspronklik, ensovoorts. In skryfwerk word styl bepaal deur woordkeuse, sinsbou, stelwyse en punktuasie.

Register is die woordeskat en die toon wat by die teikengroep pas. Dit word bepaal deur:

 Woordkeuse of uitdrukkings: Dit kan wissel van formele uitdrukkings (aansoek doen om ’n betrekking) of die gebruik van vakterme (litotes), of sleng (Dis ’n funky liedjie waarna jy luister) of dialektiese woorde (My bra, hoesit?).

 Sinstruktuur: Sinne in die lydende vorm is meer formeel as sinne in die bedrywende vorm: Daar word beweer dat die hewige gestryery die einde van hul vriendskap beteken het./Christine en Maria klets heerlik oor die vryers in die klas.

 Spelling: Die manier waarop jy woorde skryf, maak deel uit van die register.

 Leestekens: Uitroeptekens pas nie in ’n formele skryfstuk nie, maar in ’n geselsbrief of ’n dagboekinskrywing is dit aanvaarbaar.

 Uitleg: ’n Formele brief het ’n vaste, voorgeskrewe formaat; ’n informele geselsbrief kan jy op prettige skryfpapier skryf.

Toon word bepaal deur die houding of gevoel van die verteller (nie noodwendig die skrywer self nie) teenoor die teikengroep. ’n Skrywer het ’n eie skryfstyl, maar pas die toon aan by wat hy/sy beskryf. Die skrywer pas die toon aan by die verteller of die karakter deur wie se oë gekyk word.

Die toon kan formeel of informeel/lighartig, humoristies, komies, laf of ernstig, plegtig, deftig/subjektief, partydig of objektief, saaklik/vurig, hartstogtelik of koel, beredeneerd/eenvoudig, reguit of beeldryk, opgesmuk, oordadig wees. Die toon blyk uit die volgende:

 woordkeuse

 lengte en struktuur van die sinne

 leestekens

 die manier waarop idees georden is

 die formaat wat gebruik word om idees oor te dra.

Stem is die tegniese term wat gebruik word om persoonlikheid aan ’n skryfstuk te verleen. Dis nie so moeilik om met ’n individuele stem te skryf nie. Ons het elkeen ’n eie, unieke stem. As jy voel jy het geen persoonlike verhouding met die teikengroep nie, verbeel jou dan jy is besig om vir jou beste vriend/vriendin te skryf – die een vir wie jy alles kan vertel.

Skryfopdrag: Kyk noukeurig na die volgende prente/illustrasies/foto’s.

 Besluit op een van die visuele tekste waaroor jy ’n verhalende opstel kan skryf.

 Moenie die prent/foto/illustrasie as ’n kapstok gebruik nie, met ander woorde jy moet nie die prent of foto beskryf nie. Jy moet ’n storie skryf oor wat jy dink en voel wanneer jy daarna kyk.

 Beplan jou opstel volgens die stappe van die skryfproses.

 Gee die bewyse van jou beplanning saam met jou finale produk in – ook die eerste weergawes van die opstel.

 Gee jou opstel ’n treffende titel.

 Dink aan ’n gepaste aanbiedingswyse.

 Die opstel moet 400-450 woorde wees.

1.


Foto: Dana Snyman

2.


3.


(Uit: Beeld. 29 September 2006)

4.


Skryfproses

Om jou opstel deeglik te beplan en uiteindelik suksesvol aan te bied, moet jy die stappe van prosesskryf volg. Dit kan ook as ’n kontrolelys vir jou dien:

Bewyse van beplanning

 Bepaal die vereistes, doel en teikengroep van jou opstel.

 Beplanningstrategieë: gebruik lyste, diagramme, kopkaarte of illustrasies.

Bewyse van organisering

 Selekteer en organiseer jou idees; skryf jou kerngedagtes in ’n logiese, samehangende volgorde.

Deel idees en toon response op ander se kommentaar

 Praat met ander oor idees en luister na ander se idees en kommentaar

 Sorg vir ’n interessante inleiding en afsluiting.

Bewyse van hersiening

 Terugvoering van ander help met die verbetering van die opstel.

 Hersien jou eie werk deeglik en verbeter volgens die doel, teikengroep en opdrag.

Bewyse van redigering

 Vergelyk jou skryfwerk met die kriteria van die kontrolelys.

 Proeflees jou skryfwerk vir spelling, woordkeuse, sinsbou, paragrafering, punktuasie en formaat.

Formele aanbieding

 Besluit op ’n toepaslike aanbiedingswyse vir finale assessering.

Nabetragting

 Meet jou finale produk aan die opdrag en gestelde doelwitte.

 Ondersoek alles waarop verbetering moontlik is.Formele assesseringGaan die volgende kriteria deeglik na wanneer jy jou verhalende opstel skryf vir assesseringsdoeleindes. Hiervolgens assesseer jou onderwyser jou opstel vir Taak 2 van die formele assesseringsprogram.

KriteriaOmskrywingsKommentaar
Idees en inhoudFokus op die onderwerp is duidelik en volgehoue.Gepaste besonderhede by paragrawe se kerngedagtes skep ’n helder beeld van wat vertel word.Spanningslyn behou die leser se aandag.
OrganiseringOngewone/gepaste inleiding en afsluiting bind die opstel tot ’n eenheid.Volgorde van besonderhede/gebeure is logies en effektief.Paragraafskakels is doeltreffend en bewerkstellig samehang.
Stem van die vertellerPersoonlike styl verleen egtheid aan die opstel.Bewus van die behoeftes/gevoel/opinie van die teikenleser en wat die leser se aandag sal trek.
Styl, register en toonSkryf vloeiend, gevoelvol, vaardig en samehangend.Sinstrukture en -lengtes wissel en is gepas.Deurgaans goeie, gepaste woordeskat.Woordkeuse en woordorde is akkuraat.Gepaste en korrekte gebruik van leestekens.
Taalgebruik en spellingGebruik helder, beskrywende woorde en figuurlike taal gepas en korrek.Sinsoorte, -lengtes en -strukture wissel en word gepas en korrek gebruik.Min spelfoute kom voor.Gebruik leestekens en hoofletters korrek en betekenisvol.
Piekfyn Afrikaans  Graad 12 Leerderboek Huistaal

Подняться наверх