Читать книгу Hart vir 'n heler - Hetta Kotze - Страница 4
1
ОглавлениеLiana Louw kyk op toe ’n rooi roos voor haar op die register val. “Pierre! Wat soek jý hierdie tyd van die nag hier?”
“Een van my babas het besluit om vroeër te arriveer,” grinnik Pierre Bosman. “Ek kom nou net van die kraamsaal af. Wat van koffie vir ’n hardwerkende ginekoloog?”
“As jy net jou breë skouers uit die pad wil kry, dokter Bosman,” sê stafverpleegster Marie Steyn agter hom, “sodat ek die skinkbord kan neersit, gaan maak ek vir jou ook ’n beker koffie.” Haar blik gaan waarderend oor sy lenige figuur. “Eintlik kan jy myne vat,” bied sy aan, “dis die geel beker, dan maak ek vir my ander.”
“Dankie, staf.”
Hy strek hom oorkant Liana in ’n stoel uit en trek die skinkbord nader. “Seker nie die beste ding om nou te drink nie, nè? Ek gaan wakker lê as ek by die huis kom.” Hy roer sy koffie en kyk betekenisvol na haar. “Dan lê ek weer na jou en verlang. Ek is moeg vir ’n koue bed, wanneer trou ons?”
Liana gooi vir haar drie lepels suiker en ’n titsel melk in haar koffie. “ ’n Afkeer van ’n koue bed,” skerts sy, “is nie juis goeie motivering vir ’n huweliksaansoek nie. Waar kry jy die roos hierdie tyd van die nag vandaan?”
“In die gang vasgelê uit ’n pasiënt se ruiker. Ek het dit weer mooi reggeskuif, sy sal dit nie eens mis nie.” Hy knipoog onboetvaardig.
Liana lag toe sy die roos optel en daaraan ruik. “Dankie.”
“Ek sien jou te min as jy nagdiens werk,” kla hy en proe aan sy koffie. “Jy moes na my geluister het en eerder ook vir ’n dokter geswot het. Dan kon ons ons ure baie beter gekoördineer het.”
Liana sit die roos neer en maak ’n inskrywing op die lêer voor haar. “Ek is heeltemal tevrede met my beroepskeuse, dankie,” sê sy toe sy weer opkyk. “Ek wíl verpleeg. Daarby verkies ek nagdiens, dis rustiger.”
Hy skud sy kop. “Met jou kwalifikasies kon jy lankal verpleegdienste-bestuurder gewees het, of duisende meer in die oorsese mark verdien het. Ek sê weer ons moet daardie lekker vet aanbiedings aanvaar en vir ’n jaar of twee oorsee gaan werk. Verdien ponde of dollars. ’n Mens sal nooit ’n fout daarmee maak nie.”
Liana lê terug in haar stoel terwyl sy die beker koffie in haar bakhande koester. “En wat van my diens by die gemeenskapskliniek? En my middestadmense?” Sy glimlag meteens breed. “Het ek jou al vertel hoe mensvriendelik Johnnie geword het? Hy het selfs nou die oggend aangebied om my tas te dra.”
Pierre gaap en sit die leë beker op die skinkbord terug. “Ja, en as jy later jou goed soek, is die helfte gesteel. Laat ons eerder nie oor die gemeenskapskliniek of die straatkinders praat nie. Ek betaal met my belasting vir die kliniek se oop deure; ek skuld hulle – of die kinders wat te stout is om by hulle huise te bly – niks. Ek gaan ry, engel. Sien jou die naweek.”
Hy staan op en leun vorentoe. Sy lippe rus honger op hare.
Toe hy haar wil nadertrek, wikkel Liana haar los. “Ek is aan diens,” herinner sy hom kwaai.
“Jy’s darem maar pragtig as daardie blou oë so vuur skiet,” sê hy tergend en probeer haar weer nadertrek. “Dis tweeuur in die oggend, wie gaan ons nou sien?”
’n Liggie begin teen die paneelbord flits en ’n zoemgeluid vul die kantoor.
“Dis mevrou Diederick in 6A,” sê Liana en druk sy hande beslis weg. Sy reik na ’n flits, dankbaar vir die onderbreking. “Haar pynmedikasie is seker uitgewerk.”
Sy gaan haar lys na en sluit ’n kassie teen die muur oop met ’n sleutel wat sy om haar nek aan ’n bandjie dra. “Daan het gesê ons kan maar herhaal soos nodig. Stap jy saam? Dis op pad hyser toe.”
Hy glimlag skeef. “Ek het seker nie ’n keuse nie, of hoe?”
In die gang by die hyser probeer hy haar weer nadertrek, maar Liana skud haar kop beslis.
“Jy weet hoe voel ek oor hierdie soort goed by die werk, Pierre. Dis onprofessioneel, en dis ’n slegte voorbeeld vir my personeel.”
Hy hou haar ’n oomblik langer gevange in sy arms. “Nou trou dan met my,” sê hy weer. “Dan hoef jy nie nagskof te werk nie en kan jy die werk by daardie derderangse pandjieswinkel los. Dan kan ek soveel van jou kry as wat ek wil hê.”
“My pasiënt wag,” herinner sy hom. Toe hy haar traag laat gaan, drafstap sy in die gang af sonder om terug te kyk.
“Suster!” Die vrou met die donker hare kyk verlig op toe Liana by die bed kom en die flikkerende liggie afskakel. “Ek is so jammer om te pla, maar ek lê al ’n ruk wakker en die pyn raak nou baie erg.”
Liana glimlag gerusstellend en plaas haar hand ’n oomblik op die pasiënt se pols. “Alles reg, mevrou, dis mos waarom ons hier is. Dokter het ’n voorskrif by my gelos.”
Sy trek die gordyn om die bed toe om nie die ander slapende pasiënte te steur nie en skakel die bedliggie aan. “Ek gaan dit sommer in die aarvoeding toedien,” sê sy en begin werskaf waar die vloeistof reëlmatig in die plastiekpypie afdrup. Sy versnel die druptempo effens en haal haar termometer uit haar sak. “Terwyl u wakker is, neem ek sommer u lesings,” sê sy en skud eers die kussings agter die pasiënt se rug gemaklik.
Die skraal vrou hou Liana met angstige oë dop terwyl sy haar temperatuur en bloeddruk neem en lek dan oor haar lippe. “Suster … dis nie net die pyn wat my wakker hou nie. Ek is so bekommerd. My ou seuntjie is maar ses, as die gewas kwaadaardig moet wees …”
Liana maak die bloeddrukmeter se band om die skraal boarm los en skryf die lesings neer in die lêer wat sy uit die draadrak aan die onderpunt van die bed lig.
“Dokter was baie tevrede dat alles verwyder is,” sê sy gerusstellend. Sy neem die vrou se hand in hare toe sy die lêer teruggeplaas het. Vir ’n oomblik klem die vingers krampagtig om hare vas.
“Die uitslag behoort môre bekend te wees,” gesels Liana rustig verder. “Dan sal die dokter met jou en jou man gesels en kan julle die pad vorentoe beplan. Die prognose vir hierdie tipe operasie is in elk geval baie goed. Dis net wanneer die probleem te laat ontdek word dat daar komplikasies is. Jy sal nog jou seun se gradeplegtigheid eendag kan bywoon.”
Die pasiënt glimlag effens en Liana kan aan haar oë sien dat die pynstiller begin werk.
“Dankie, suster,” knik sy lomerig. “Jy kan maar die lig afsit.” Sy sug en draai haar gesig knus in die kussing. “Ek dink ek sal nou nog ’n bietjie slaap.”
Liana stap haar rondte deur die sale met die flits en gaan staan dan ’n rukkie in die gang na die straat vyf verdiepings ondertoe en kyk. Dis nog verlate en om die straatligte jaag ’n klomp vlermuise insekte. Wanneer het sy begin twyfel aan haar gevoel vir Pierre? wonder sy en kyk afgetrokke hoe motorligte van die snelweg se kant af aankom en oorkant by die motorhawe intrek. ’n Gapende petroljoggie haas hom nader.
Sy was baie verlief op Pierre, het op skool al gevlei gevoel toe die matriekseun haar, ’n nederige standerdsewe, gevra het om te kys. En nou? Nou raak sy kriewelrig as hy te ernstig wil raak.
Sy leun met haar elmboë op die vensterbank en stut haar ken in haar hand. Hy is reg, dink sy, sy het al vyf jaar opleiding agter die rug, sy kon maklik vir ’n geneesheer gestudeer het – haar punte was goed genoeg. Maar sy het ’n passie vir verpleging. In die besonder vir haar dienswerk onder die armer deel van die bevolking. Dis immers waarom sy vir haar die woonstel in die middestad gekoop het.
As sy nou terugdink, is dit waar die eerste krakie in haar en Pierre se verhouding gekom het. Hy was glad nie beïndruk nie en het hom na haar pa gewend vir hulp.
“Dis die tweede twyfelagtige belegging wat jy in drie jaar maak,” het haar pa gekorswel toe hy met haar daaroor gepraat het. “Maar dit bly jóú keuse, meisiekind, daaroor voel ek sterk.”
Dit wás vir my die regte keuse, besluit sy en pers haar lippe ferm saam. Sy is steeds dolgelukkig in haar woonstel agter die lukwartboom op die besige straathoek. Sy ken die straatverkopers wat onder die boom hulle ware verkwansel by die naam. Sy weet van hulle siek kinders en moeilike mans. Sy het die middestadmense leer liefkry daar by die gemeenskapskliniek, en sy het ’n waardering ontwikkel vir hulle trots en selfstandigheid te midde van die haglikste omstandighede. Sy het ook die kansvatters en slinkses leer uitkyk.
Liana sug en kom regop. Sy kan Pierre se gesindheid op ’n manier begryp – hy is ook verreweg nie die enigste een wat so voel nie – maar sy opmerkings oor haar loopbaan krap aan haar. Sy het regdeur haar kursus net geweet dat sy presies is waar sy moet wees, en sy ervaar nou weer dieselfde bevrediging in haar werk by die gemeenskapskliniek. Sy is gek na die straatkinders. Hulle is onhebbelik – tot jy deur die harde fasade dring en die pyn en ontsettende gebeure in hulle verlede ontdek.
Onder by die motorhawe gly die motorligte weer terug in die rigting van die snelweg. Die joggie gaap en krap sy been terwyl hy na die kantoortjie loop.
Liana frons. Waarom lyk weelde en verterende ambisie vir haar die afgelope ruk so sinloos as sy in ’n eenvertrekwoning staan waar ’n hele gesin lewe en sy die harde werklikheid sien waarmee hulle elke dag te doen het? Wanneer sy die waardigheid sien waarmee hulle leef? Sy staan soms stomgeslaan oor die waardering van mense vir die min wat hulle het. Dan lyk haar weelderige ouerhuis en Pierre se paleis in die spogbuurt teen die heuwel eintlik oordadig.
Tog, haar ouers en Pierre is geregtig op hulle bestaan, dit het sy lankal reeds vir haarself uitgemaak. Haar pa werk baie hard en hy het ’n oop hand vir die behoeftiges. Maar wanneer sy by Pierre kuier, bly die leegheid in haar hart vassit, en die gevoel bly groei dat daar meer in die lewe moet wees as jou eie genot en behoeftebevrediging.
Sy stap terug kantoor toe en stafverpleegster Marie loer onnutsig oor haar koffiebeker toe sy inkom. “Hy wou jou nie laat gaan nie, hm?”
“Pierre is lankal reeds weg,” verseker Liana haar waardig en bêre die flits. “Ek was by mevrou Diederick en het toe my rondte gedoen. Is daar nog warm water?”
Toe Marie knik, stap Liana na hulle kombuisie terwyl sy na haar polshorlosie kyk. Hulle sal binnekort met hulle oggendtake moet begin. Sy is dankbaar dat sy die volgende paar dae van diens af sal wees. Die eerste skof ná ’n mens van verlof af terugkom, is altyd die moeilikste.
Liana stoot haar hande dieper in haar baadjie se sakke en stap kop omlaag teen die wind in die rigting van Jorgie se kafee. Sy het net ’n uur of wat slaap agter die rug, maar sy sal vanaand weer slaap. Nou wil sy eers gaan kyk wat in haar winkel aangaan. Agter haar dreun motors in die eenrigtingstraat verby en voor, by die verkeerslig, weerkaats die oggendson van Kemkliniek se rye vensters af.
“Jy loop al weer en droom, ” raas Jorgie Papadopoulus, die eienaar van die middestadkafee, toe sy binnestap. “Hulle slaan jou oor die kop en dra jou weg voor jy nog besluit het wat jy alles wil koop.”
Liana lag, en die berisping in sy blik slaan oor na bewondering.
“Vroue kan multitask, Jorgie, weet jy dit nog nie?” Sy trek die blikkie pepersproei, warm van haar liggaam, uit haar gordel. “Ek is gewapen en ek bly bewus van my omgewing, al lyk dit nie vir jou so nie.”
Hy skud sy kop toe sy die blikkie weer aan haar gordel haak. “Hoe gaan dit by die hospitaal?” vra hy.
“Goed.” Liana bestel vir haar ’n geroosterde toebroodjie en gaap. “Ek het tot vanoggend nagdiens gewerk, nou is ek darem ’n paar dae af. Ek het dit nodig na die aanpassing van terugkom in my roetine ná die vakansie.”
Daar kom drie kinders van die woonstelblok langs die kafee binne. Twee is nog in slaapklere en al drie is kaalvoet. Die grootste lig ’n tweeliter-melkhouer met groot moeite uit die yskas en die ander een rek op sy tone om ’n brood van die rak af te haal. Op pad toonbank toe neem hulle van die goedkoop lekkergoed wat Jorgie in kartonhouers op kinderhoogte hou. Hulle betaal met ’n handvol kleingeld en die assistent by die kasregister tel die munte sorgvuldig voor sy die transaksie oplui.
Liana onderdruk ’n glimlag toe Jorgie in die verbygaan vir elke kind nog twee lekkers in die hand stop. “Eers julle brekfis eet,” vermaan hy.
Toe sy vir haar toebroodjie gaan betaal, staan hy nader en leun langs haar op die toonbank. “Weer drama gehad gisteraand,” brom hy. “Hulle het by die stoor probeer inkom. My diefwering lelik oopgebuig. Gelukkig het die alarm afgegaan toe hulle die venster oopmaak en die sekuriteitsfirma was gou hier. Hy reken dis weer van die straatkinders. Jy moet maar kyk of hulle nie by jou ook gelol het nie.”
Liana gooi haar kleingeld fronsend in haar sak terug. “Waarom dink hy dis die straatkinders?” wil sy verontwaardig weet. “Het hy hulle gesien? Van hulle gevang? Hier is baie misdadigers in die middestad en die meeste van hulle is volwassenes. Dis so maklik om altyd die straatkinders van alles te beskuldig!”
“Stadig,” paai Jorgie. “Ek sê maar net wat hy gesê het. Feit is, dis die derde keer dat hulle probeer inkom. Ek dink ek gaan palissade omsit.”
Liana sug en haak haar arm deur syne. “Jammer, Jorgie. Dis net … ek word so die hoenders in as almal die kinders so brandmerk. Ek weet hulle is nie engeltjies nie, maar maskas, gee hulle darem ook ’n kans in die lewe. Hulle is ook onskuldig tot skuldig bewys.”
Jorgie se groenteverpakker roep na hom en hy draai weg. “Moenie weggaan nie,” sê hy, “ek wil vir jou iets gee om vir jou ma te vat.”
Liana staar sy logge liggaam wat so flink beweeg agterna en glimlag. Sy het Jorgie leer ken nog voor sy die woonstel in die middestad gekoop het en hy is steeds dieselfde. ’n Gemoedelike mens, met ’n liefde vir die middestad se mense en ’n oop hand waar nodig, maar ’n uitstekende besigheidsman, met die moed van ’n leeu. Sy kafee, die enigste behoorlik toegeruste een vir die arm middestadbewoners, is al verskeie kere deur rowers geteiken, maar Jorgie is hulle altyd een voor. Sy is daarvan oortuig dat hy informante moet hê. Hoe anders oorleef ’n besigheidsman inderdaad hier?
Sy sug en stap deur toe, waar sy eenkant, uit die klante se pad, die malende verbystroming op die sypaadjie dophou. Sy kan dieselfde van haarself vra. Wat het haar besiel om twee jaar gelede ’n tweedehandse meubelwinkeltjie hier in die middestad te koop?
Haar pa het haar afgeraai. “Jy’s in elk geval besig genoeg met die verpleging,” het hy beswaar gemaak. “En meisiekind, daar is beter plekke om te koop.”
Maar vir haar was dit juis ’n manier om deel van die middestadgemeenskap te word. Haar meubelwinkeltjie het wel nie die groot omset van Jorgie se winkel nie, maar daar kom ook maar geld in, met al die risiko’s daaraan verbonde. Tog is dit vir haar ’n lekker stokperdjie.
Haar gesig versomber toe sy aan Pierre dink. As hy moet weet dis haar eie winkel … Hy dink sy help net soms daar uit, en hy kla genoeg daaroor. Sy het haar pa die dood voor die oë gesweer as hy iets teenoor Pierre sou laat glip.
Sy lig haar gesig na die son wat in ’n streep oor Jorgie se deur begin val en sug behaaglik. Dis die hartklop van die stad wat haar bekoor, besef sy weer. Dit herinner haar aan die see, soms rustig en kalm, dan weer donderend, met skote en loeiende sirenes, en soms somber en donker, soos die smart van sy inwoners. Sy is hier vir die mense, die mense wat sy die afgelope drie jaar leer liefkry het.
“Hierso.” Jorgie hou ’n tamaai papaja na haar uit. “Sê vir jou ma haar gemmerkonfyt was daardie eerste prys op die skou werd.”
“Dankie, Jorgie, ek sal.”
Liana draai weg en loop haar in ’n harde borskas vas. “Jammer,” maak sy verskoning en tree terug.
Onpersoonlike liggroen oë vee oor haar, dan stap die man met ’n kopknik verby.
“Môre, dok,” groet Jorgie die man hartlik. “Waarmee help ons vandag?”
Dok! Liana besluit om nog ’n bietjie te draai. Sou hy nuut wees by Kemkliniek?
Sy bestudeer die koerante op die rak en hou hom onderlangs dop. Hy het digte bruin wenkbroue in ’n bruingebrande gesig en hy is nie lank nie. Om die waarheid te sê, met haar hoë hakke aan sal sy langer as hy wees. Daar is krag in sy breë skouers en ’n ongeërgdheid in sy houding – die damn you-streep wat haar so opgeval het toe hy by haar verbygestap het.
Sy het hom beslis nog nie gesien vandat sy terug is by die kliniek nie. Hy pas ook glad nie by die konvensionele beeld van Kemkliniek se dokters nie. Pierre sou gesê het hy hoort aan die ander kant van die spoor.
Die man haal ’n pak droplekkers van die lekkergoedrak af en stap met sy dubbelgrootte worsbroodjie en blikkie koeldrank verby haar om te betaal, weer sonder om reaksie te toon. Liana kry heimlik lag vir haar eie verontwaardiging. Ydele vroumens! Gewoonlik kyk mans twee keer na haar. Tog kan sy nie die tinteling in haar are keer toe sy die ontwykende geur van een of ander naskeermiddel kry nie. Hy is verbrands aantreklik, op ’n ruwe manier.
Buite gaan staan hy by die sementtafeltjies en banke wat Jorgie daar vir sy klante het en draai die plastiek om sy worsbroodjie af. Hy knoop ’n gesprek in ’n swart taal aan met ’n man wat met ’n stuk brood en ’n koeldrank voor hom sit. Die man se tande glinster wit toe hy lag en hy antwoord in dieselfde taal.
“Zoeloe,” sê Jorgie agter Liana, “hy praat dit vlot. Sy naam is Brink Fouche, dokter Brink Fouche. Hy is ’n vrywilliger by die gemeenskapskliniek en het so pas vir hom ’n spreekkamer reg langs hulle oopgemaak. Hoog tyd ook. Die middestad het ’n bekostigbare dokter nodig. Kemkliniek is net vir die rykes en dié met ’n mediese fonds.”
Liana sug. “Is so. Sien jou later, Jorgie. Dankie vir die papaja.”
“Onthou om jou agterdeur na te gaan!” roep Jorgie haar agterna.
Die man met die groen oë kyk op toe Liana verbystap. Dan draai hy terug na sy gespreksgenoot.
Sy stap weg met haar gebruiklike ritmiese lang treë. Sy wonder of hy ’n polisie-informant is. Dit sal nie die eerste keer wees dat hulle so ’n slenter probeer nie; daar is baie probleme in die middestad met al die uitlanders en dwelmhandel. Probleem is: dit werk eenvoudig nie, die middestadmense is te uitgeslape vir hulle.
Sy skud die gevoel van onrustigheid wat sy teenwoordigheid in haar geroer het af. Beslis ’n informant, besluit sy. Waarom anders sal ’n dokter in die middestad ’n spreekkamer open? Ryk word gaan hy beslis nie uit die middestadmense nie. Oor ’n paar maande is hy weer weg.
Brink Fouche eet sy worsbroodjie klaar en gooi die plastiekomhulsel in die vullisdrom wat Jorgie voor sy ingang hou. Hy groet sy gespreksgenoot en stap in die rigting wat die meisie ingeslaan het. Mooi dingetjie … Hy kon sien dat sy haar vererg het omdat hy nie notisie neem nie.
Dit was opsetlik ook, sy ís iets vir die oog. Maar Irma het sy illusies oor die teenoorgestelde geslag vernietig. Irma, sy vrou … Of laat hy maar eerlik wees met homself: sy gewese vrou, wat reeds aan ’n ander man behoort.
Hy prop sy hande diep in sy sakke en skop na ’n bierblikkie wat op die sypaadjie lê. Die blikkie rol in die pad in en kom tot stilstand aan die kant van die randsteen langs ’n rooi speelding. Hy gaan staan. Dis een van daardie laphartjies wat ’n mens op Valentynsbeertjies kry. ’n Hond moes dit beetgehad het, dis eenkant flenters gekou en besmeer met modder. So lyk my hart ná Irma, dink hy en glimlag skeef. Nie juis ’n wetenskaplike waarneming vir ’n dokter nie, maar ’n goeie beskrywing van sy gevoel.
Hy frons terwyl hy verder stap. Eintlik moes hulle seker nooit getrou het nie, maar hy was van die begin af betower deur professor De Jonghe se fyn tienerdogter. Hy het hard probeer om dit weg te steek. Professor De Jonghe was immers sy mentor en hy het hom bewonder – dié sjirurg wat die wilde jong man se talente raakgesien het en vir hom werk in sy praktyk gegee het.
Brink onthou nog die eerste keer wat die professor hom toegelaat het om in die teater teenwoordig te wees. Hy was toe twintig en drywer vir die praktyk. Professor De Jonghe het sonder kommentaar die een doktersboek ná die ander vir hom geleen, en sy vrae geduldig beantwoord.
“Ons doen vanmiddag rekonstruktiewe sjirurgie,” het hy een oggend gesê toe Brink hom oudergewoonte gaan groet het. “Jy het mos laas week daaroor gelees. Wil jy sien hoe dit in die praktyk lyk?”
Brink het net geknik; hy het homself nie vertrou om te antwoord nie. Van die oomblik dat die eerste snit gemaak is, het hy geweet dis wat hy ook wil doen. Hy kon nie ophou praat op pad terug spreekkamer toe nie.
Professor De Jonghe het hom die volgende dag ingeroep en gevra of hy matriek geslaag het.
Brink het geknik. Hy het, met onderskeidings in al sy vakke – nie omdat hy so danig toegewyd was nie, maar om al daardie ryk snobs van die voorstede te wys dat hy stof in hulle oë kan skop. Dit het maar moeilik gegaan; hy het bedags ná skool stadsbiblioteek toe gegaan en sy leerwerk en naslaanwerk daar gaan doen. Saans moes hy dikwels by kerslig leer, en waar hy by welwillendes kon slaapplek kry. Hy en sy ma het toe lankal nie meer klaargekom nie; van al haar mansvriende het hy genoeg gehad.
Professor De Jonghe se wenkbroue het hoog gelig toe hy sy matrieksertifikaat sien. “Magtag,” het hy gesê, “en jy werk as ’n drywer. Wil jy nie eerder gaan leer en my vennoot word nie?”
Brink onthou nog dat hy selfbewus gelag het, en toe onseker na die man voor hom gekyk het. Hy het al te veel keer seergekry om enige woorde sonder meer te aanvaar. “Hoe bedoel professor nou?” het hy versigtig gevra.
Professor De Jonghe het die sertifikaat laat sak. “Ek is ernstig, Brinkman. Jy kwalifiseer beslis vir ’n beurs met hierdie punte. Het niemand jou een aangebied ná skool nie?”
Brink het iets gemompel. Daar was aanbiedings, maar hy was hardekwas. Hy het niks van niemand nodig gehad nie. Hy wou net sy eie salaris begin verdien, en die onderwysers het nie veel erg aan sy opstandigheid gehad nie.
“Ek sal inbetaal wat jy kortkom vir jou studie,” het professor De Jonghe voortgegaan. “Op voorwaarde dat jy dit vir my terugwerk wanneer jy gekwalifiseer is.”
So het hulle jare lange vriendskap begin. En toe Irma hom op universiteit raakloop, het sy met ander oë na hom begin kyk. Nie dat hy toe baie tyd vir meisies gehad het nie, hy het hom doodgewerk.
Brink gaan staan en kyk om hom rond. Vervlaks! Hy het nou verby die afdraaipad na sy spreekkamer gestap en is in die straat wat parallel daarmee loop. Hy wonder geïrriteerd of hy moet omdraai en vryf aan sy ken. Sy konsultasies begin eers oor ’n halfuur, miskien maar goed dat hy sien wie aan die agterkant van sy gebou is. Woonstelle, ontdek hy toe hy verder stap, en woonhuise wat in veelvuldige kamertjies omskep is.
Hy stap verby ’n pandjieswinkel wat ook tweedehandse meubels verkoop en steek vas. Daar staan ’n bedkassie by die deur wat identies is aan die een wat hy en Irma nog saam gekoop het. Hy was ’n platsakstudent en te trots om by professor De Jonghe geld te leen om nuwe meubels vir sy eenmanwoonstelletjie te koop.
Hy hurk by die bruin kassie en laat gly sy hand liefkosend daaroor. Die laai kom maklik oop toe hy daaraan trek en die binnekant is skoon en nog stewig.
“Kan ek help?”
’n Koel stem bring hom terug na die hede. Hy kyk verbaas op – dis die meisie wat hy by die kafee gesien het.
“Werk jy hiér?” vra hy ietwat van stryk gebring en kom regop.
Sy trek haar skouers op. “Jy kan so sê. Daardie kassie trek nogal baie aandag, so as jy dit wil hê, moet ons dit merk. Jy kan dit afbetaal as jy wil.”
Hy kyk na die pryskaartjie en knik. “Julle prys is redelik. Kan ek daaroor dink?”
“Nes jy wil.” Sy glimlag hoflik en beweeg weg.
Brink wil homself skop dat hy so ongeërg teenoor haar opgetree het by Jorgie se kafee. Noudat hy haar van naderby sien, wil hy meteens, en teen sy sin, meer oor haar weet. Maar haar houding moedig nie juis gesprek aan nie.
“Ek soek nog ’n paar stoele en tafeltjies vir my spreekkamer,” roep hy haar terug. “Dis in die straat hier agter, langs die kliniek. Miskien kan jy my laat weet wanneer julle iets inkry?”
Sy stap weer nader en Brink bespeur ’n tikkie sinisme in haar blik. Hy frons.
“Gee vir ons ’n lys van jou benodighede,” sê sy met ’n professionele stem. “As jy haastig is, kan ek gaan soek wat jy nodig het, maar dit sal die prys opjaag.”
Hy verander van taktiek en laat sy blik waarderend oor haar gly. “Lekker om iemand teë te kom wat so hulpvaardig is,” sê hy vriendelik.
Die meisie reageer nie op sy kompliment nie en kyk hom waterpas aan met diepblou oë. Haar skouerlengte hare is blond, ligter as heuning, dink hy. Hy wonder of dit sag teen sy vingers sal wees.
“Dit klink of julle goeie besigheid doen?” probeer hy die gesprek aan die lewe hou.
“Ons kla nie. Verskoon my, asseblief, my foon lui. Goeiedag.”
Hy blaas geamuseerd die aftog. Sy is glad nie beïndruk met hom nie, dis duidelik. Hy wonder waarom sy haar in dié winkeltjie tussen ou meubels begrawe. Haar taalgebruik is die taal van die voorstede en haar klere is skoon, maar nie van die duurste nie. Om die waarheid te sê, daardie stywe denim wat sy aanhet, lyk al ietwat gehawend. Tog is haar gesig en hare netjies versorg.
Brink diep die droplekkers uit sy sak. Hy sal weer ’n draai by die winkel kom maak, besluit hy, en intussen sal hy vir Jorgie bietjie pols as hy by die kafee kom. In die middestad het elkeen sy storie.
Dis nie eintlik sy besigheid nie, dink hy, maar iets aan haar trek hom aan. Miskien die spot in haar oë, asof sy aan sy motiewe twyfel. Hy gaan beslis meer uitvind oor hierdie meisie met die verslete denim, wie se ma glo skougehalte gemmerkonfyt maak.