Читать книгу Kweek kinders met heel harte - Hettie Brittz - Страница 3

Inleiding

Оглавление

Ek het nog nooit iets wat miljoene rande werd is in my hande vasgehou nie. Ek kan net dink hoe ek sou voel as ek sou weet dít wat ek in my hande vashou, is enig in sy soort, eeue oud en onvervangbaar. Ek sou probeer om nie gespanne te wees en te bewe nie. Ek sou hard probeer om my hande stil te hou en diep asem te haal en kalm te bly. Spookgeluide van die voorwerp wat die grond tref en spookbeelde van die skerwe wat oor die vloer spat, sou in my gedagtes opdoem. Ek sou die kosbare voorwerp liewer so gou moontlik in die veilige glaskas van die museum terugsit.

Daar is niks in my huis wat in ’n museum sou kon pryk nie. Tog het ek drie uitsonderlike kunswerke in my huis wat eeue gelede reeds uitgedink is – enig in hulle soort en onvervangbaar. My drie kinders.

Wanneer hulle harte bloei en ek nie die regte trooswoorde kan vind nie, hoor ek die geluid van skerwe op teëls. Ek hoor ook die skerwe spat wanneer hulle vies word vir my en iets in die wegstap prewel, of wanneer iets skokkends in hulle wêreld gebeur voordat ek dit kan keer. Hulle lees of hoor iets verwoestends en hulle fondamente kraak onder die gewig van hulle ontnugtering. Ek voel verantwoordelik. Dit laat my voel ek kon hulle anders en beter en stywer vasgehou het.

Ek sien spookbeelde van stukkende kleipotte wanneer ek vir hulle geestelike waarhede wil leer en kan sien hulle glo dit nog nie. Hulle gees en siel, om nie eens van hulle lyfies te praat nie, is aan my toevertrou. En my hande bewe.

Ons is tot nou toe gebreekte bene gespaar, maar nietemin ken ons die ongevalle-eenheid baie goed. ’n Gebarste blindederm, akute asma, toetse vir leukemie en ’n hele houertjie antihistamienpille in ’n peuterlyfie het ons al baie benoud laat voel. Ek sal egter al hierdie dae en nagte van angs saam met al die steke, x-strale en binneaarse lyne weer en weer kies, solank ek net nooit hoef te beleef dat ’n seun nie glo dat Jesus vir hom lief is nie of dat ’n dogter by ’n seun moet gaan aanklop vir ’n goedkeurende stempel op haar vroulikheid nie.

As ek my kinders se onskuld en hulle geborgenheid in die Here kon waarborg, sou daar nie ’n prys wees wat vir my te hoog sou wees om te betaal nie.

Soms wens ek daar was ’n glaskas waarin ek pens en pootjies saam met my kinders kon klim, maar ek weet die lewe werk nie so nie. Ouers moet die werklikheid van seerkry en gevare omarm. Ons self leef nie in ’n glaskas nie, maar dalk kan ons soos ’n museum se kurator wees, of soos die restoureerder van kosbare voorwerpe. Ek glo ons kan ’n omgewing skep waarin ons kinders baie veiliger sal wees, en waarin ons hulle kan hanteer soos die kosbare kleinood wat hulle is. Ek glo ook ons kan ons kinders koester sonder om hulle te bederf of te versmoor. Daar is ’n balans waarna ons kan streef – om hulle bloot te stel aan die werklikhede wat hulle kan hanteer en waarteen hulle reeds weerbaar is, maar om hulle ook te beskerm teen dié dinge waarvoor hulle nog nie gereed is nie.

In so ’n omgewing van liefde en begrip kan ons ons kinders se goeie karakter na vore bring, soos ’n kunskenner ’n ou kleipot sou versorg sodat sy oorspronklike skoonheid weer sigbaar raak.

Ek het gaan lees oor die veilige bewaring van kleipotte wat so maklik breek. Die Henry Ford-museum gee riglyne oor hoe om sulke kleipotte skoon te maak, te poleer, te beskerm en uit te stal. Die raakpunte tussen hierdie proses en die versorging van ons kinders het my laat glimlag. Baie ouers weet hoe om kinders “af te stof” of hulle “monde met seep uit te spoel” of hulle op die skool se verhoog of op Facebook met al hulle toekennings en medaljes “uit te stal”. Maar is ons versigtig genoeg met hoe ons ons kinders se harte hanteer? Weet ons hoe om die lelike krake van karakterfoute te voorkom?

Soms fokus ons so sterk op die kleipot se buitekant dat ons vergeet van die doel waarvoor dit gemaak is. Onthou ons van die kosbare skat wat ons kinders in hulle dra (2 Kor 4:7) – hulle onsterflikheid? Dit is hierdie binnekant van ons kinders wat ons moet voed, met waarheid moet vul en weerbaar moet maak teen die onwaarhede en korrupte ideologieë van die wêreld.

Dit is hierdie groot verantwoordelikheid wat soms my hande laat bewe. Ek is nie alleen nie. Dit weet ek. Ouers vra vandag baie meer vrae oor die gevare wat hulle kinders se binnekant kan seermaak as oor hoe hulle gebreekte bene kan voorkom.

Hierdie boek is my poging om aan elkeen wat ’n kind se hart moet bewaar riglyne te gee wat nie veel met afstof en uitwas te make het nie. Daaroor het ek reeds geskryf. Hierdie boek gaan eerder oor die heilige werk wat aan ons toevertrou is om ons kleipotte te koester. Ons sal soms die skerwe sien spat, maar ons kan ook weet ons kan altyd tot die Here bid. Ons kan sy hulp vra om al die skerwe weer aan mekaar vas te plak. Ons kan sy hulp vra om ons te leer hoe om ons tydlose kunswerke – ons kinders – te koester.

Saam met julle in die museum vol kinders

Hettie Brittz

Kweek kinders met heel harte

Подняться наверх