Читать книгу Kweek kinders met heel harte - Hettie Brittz - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

Leer jou kind geloofswaarhede

Ek sien myself soms in my gedagtes met die geestelike aflosstokkie in my hand. Ek hardloop na my kind toe, wat reeds gereed staan, hand uitgestrek, om die stokkie by my oor te neem. Op die stokkie staan die kern van my geloof geskryf – die Naam Jesus in groot letters. Maar daar staan ook ander woorde geskryf – kernwaarhede waarsonder ek nie my kinders die lewenswedloop wil sien hardloop nie.

Wat is die heel belangrikste dinge wat ek my kinders oor God, hulleself, ander mense en die lewe wil leer? Wat moet hulle weet sodat die lewe hulle nie breek nie? Ek hoop elke ouer dink oor hierdie vrae, want dit is oneindig belangriker as wiskunde, wetenskap en tale saam.

Voordat ons na die belangrikste geestelike waarhede kyk wat ons aan ons kinders behoort aan te gee, is daar een praktiese hekkie waaroor ons moet kom: Hoe verduidelik ’n mens geestelike waarhede vir jong kinders wat nog nie abstrak kan dink nie? ’n Moeilike vraag! Eerstens verduidelik ons hierdie waarhede aan ons kinders nie net met woorde nie, maar veral met ons optrede. Die waarhede wat ons verkondig, behoort te bepaal hoe ons leef, hoe ons die lewe behandel en hoe ons ander mense behandel. Anders is ons soos eiendomsagente wat ’n huis net van buite af gesien het, maar dit dan probeer verkoop. Ons moet self eers in hierdie waarhede “woon” voordat ons dit kan oordra.

Tweedens moet ons in gedagte hou dat kinders se insig mettertyd ontwikkel. Dink aan die konsep dat God groot is. Kleuters verstaan hierdie waarheid letterlik en maak die meegaande gebare met hulle arms en hande wanneer hulle die liedjie “My God is so groot” sing. Dit is ons eerste sleutel: Gebruik beweging en aanraking en begin by jou kinders se lyfies wanneer jy geestelike waarhede aan hulle oordra.

Later sal jou kinders besef hierdie “groot” is eintlik baie groter as die grootste gebou wat hulle al ooit gesien het. Nou is God groter as die skool of die aardbol. Dit is ons tweede sleutel: Koppel geestelike waarhede aan wat jou kinders kan sien of beleef. Gebruik hulle verwysingsraamwerk.

Nog later in hulle lewe leer hulle om abstrak te dink. Nou beteken “groot” nie meer net hoog of baie kilometers wyd nie. “Groot” beteken nou “meer as wat ons kan dink en verstaan”. “Magtig” is nie meer die bultende armspiere wat hulle wys saam met die liedjies wat hulle by die Kleuterkerk sing nie. Magtig beteken nou God “bestuur lewensgebeure, die natuur, die heelal”. In hierdie gevorderde stadium kan jy geestelike gesprekke met jou kinders voer. Verwelkom dit wanneer hulle jou oortuigings toets en jy soms die Bybel en ander geestelike boeke moet nadertrek om jou standpunte te staaf.

Die verskillende ontwikkelingstadiums van ’n gelowige kind kan soos volg opgesom word:

•Kinders praat na (tot ongeveer 3 jaar): Kinders sing geestelike liedjies en herhaal hulle ouers se oortuigings sonder werklike insig. Die waarde van hierdie stadium is dat hulle nogtans belangrike beginsels leer. Die belangrikste is dat hulle ontdek Jesus het hulle lief, is naby aan hulle, versorg hulle, is sterk en het hulle gemaak. Ouers se belangrikste geloofsrol is om God se liefde en versorging vir hulle kinders voelbaar te maak.

•Kinders is verwonderd (ongeveer 3-5 jaar): Kinders kom onder die indruk dat God wonders kan doen. In Engels noem kenners dit die magic-stadium. Stories oor wonderwerke en bonatuurlike gebeure soos die tien plae en Simson se kragtoertjies maak ’n groot indruk op hierdie kinders. Ons as ouers se belangrikste geloofsrol in hierdie stadium is om seker te maak ons kinders verstaan God se grootste wonder is dat Hy ons harte kan verander en ons sy liefde kan laat ervaar. God se superpower is sy liefde, en sy liefde is sterker as al die ander wonderkragte van hulle fiktiewe helde.

•Kinders vermy vrees (ongeveer 6-10 jaar): In hierdie stadium word kinders meer bewus van die lewe se gevare en God as ons beskermer word ’n belangrike perspektief. Dat God siektes kan genees, ons met ons probleme (soos wiskundetoetse en sportwedstryde) kan help en dat sy engele ons oppas, beïndruk kinders in hierdie stadium. Die wêreld wat al hoe groter word, is dan nie meer so skrikwekkend nie. Ons as ouers se rol is om nou ver weg te bly van geestelike foefies of onverantwoordelike teologie. Ons behoort nie vir ons kinders te sê as hulle met die Bybel langs hulle slaap of Bybelversies onder hulle kopkussings sit, diewe nie sal inbreek nie. Ons durf nie vir hulle sê as genoeg mense saam bid sonder om te twyfel iemand nie van ’n siekte sal doodgaan nie. Ons moet eerlik wees dat God altyd naby aan ons is, maar dat dit nie beteken ons sal altyd gesond word of slegte ervarings gespaar bly nie.

•Kinders se moraliteit word gevestig (ongeveer 11-13 jaar): ’n Bewussyn van hulle sonde en onsekerheid of hulle goed genoeg vir die Here is, oorheers in hierdie stadium die kinders se lewe. Hulle wil hoofsaaklik weet wat God se reëls is en hoe hulle daarby kan hou. Hulle beskou geloof as om die regte idees te volg en glo goeie gedrag bevestig hulle geloof. Hulle probeer reg leef. Dit is ons as ouers se oomblik om hulle te leer van die Here se genade wat groter as sy oordeel is. Vergifnis en die betekenis en krag van Jesus se kruisdood word nou eers regtig vir hulle verstaanbaar. Ons maak dit vir ons kinders makliker om hierdie groot geskenk van God hulle eie te maak as hulle ook ons liefde en genade beleef, eerder as om te eis dat hulle altyd foutloos sal wees of hulle skuldig te laat voel.

•Kinders vorm hulle eie oortuigings (ongeveer 13 of 14 jaar): Al die kennis oor God kom nou bymekaar in ’n Godsbeeld. Die kinders verstaan wat vriendskap met God beteken. Hulle toets die geestelike waarhede aan ander feite en besluit wat hulle as die waarheid gaan aanvaar. Hulle neem hulle geestelike besluite nie meer uit vrees of omdat hulle voorgesê word om dit te doen nie, maar eerder omdat hulle self sekerheid het oor die waarhede wat vir hulle sin maak. Hulle begin self antwoorde in God se Woord soek en wil sy stem hoor. Ons as ouers kan hulle op hierdie pad help deur gereeld ons ervarings en ontdekkings oor die Here met ons kinders te deel en hulle aan te moedig om op hulle unieke manier ’n pad saam met Jesus te stap.

My seun was nog altyd ’n diep denker en word elke jaar net nog meer ondersoekend. Ek kon deur sy kinderjare sien hoe sy vrae en sy begrip hierdie ontwikkelingspad volg. Die gedagte dat God groot dinge in die wêreld doen, het hom laat vermoed God is baie besig. Daarom het hy eendag gesê: “God het dan seker nie tyd om sy naels te kou nie, Mamma.” God se grootheid was vir hom ’n letterlike konsep. Op ’n dag het hy na die orrelpype in die kerk geloer en gefluister: “Is dit Jesus se potlode?” Die verduideliking dat hy sy hart vir Jesus moet gee, het die mooiste reaksie uitgelok: “Maar het Jesus ook sy hart vir mý gegee?” Ek kon met vrymoedigheid ja antwoord, maar die teologie agter my antwoord is nou eers – noudat hy amper 17 is – ’n wonderlike onderwerp vir ’n gesprek.

Daar was tye toe hy alles bevraagteken en betwyfel het. Sy vrae was nie meer so eenvoudig nie: “As ek glo die aarde is miljoene jare oud, kan ek steeds ’n Christen wees?” Onlangs het my ma-hart dankbaar geklop toe ek hom tydens ’n gesprek met ’n ander jongmens hoor sê het: “Daar is baie goed waarvan ek regtig nie seker is nie, maar ek is doodseker van God.”

Die pad met jou kinders en hulle geloofsgroei gaan uniek wees, maar jy gaan heelwat van hierdie “stasies” saam met hulle besoek voordat hulle geloof hulle eie, volwasse skat gaan word.

Kernbegrippe, soos die vergifnis van sonde, is baie abstrak. Jy beleef dalk nou iets van wat ons beleef het in ons pogings om hierdie abstrakte begrippe vroeg reeds vir ons kinders te leer.

Een oggend het ek besluit vandag is die dag om my kleuters te leer om hulle sondes te bely. My inspirasie was my seuntjie wat met sy hand op die kraan en sy voetjies in die modderplas gestaan en ontken het dat hulle modderspeletjies speel. Sy sussie was bruin van die modder van haar voete tot by haar elmboë. Sy rug en die agterkant van sy kop was beplak met die modder, plekke waar hy self nooit sou kon bykom nie. Dit gaan maklik wees, het ek gedink.

Nadat die tweetjies skoon genoeg was om in die speelkamer te kom sit, het ek ewe vroom begin verduidelik dat ons moet erken wanneer ons iets verkeerds gedoen het. Ek het immers my seuntjie op heterdaad betrap dat hy vir my jok. Sy sussie het ook geweet hulle mag nie hulle goeie klere vol modder maak nie.

Die modderspeletjies was nie die groot sonde nie – dit was die jok daaroor waaroor ek met hulle wou praat. (My oupa het my die woord lieg geleer, want jok, het hy gesê, is ’n te gawe woord daarvoor.) My seun het gejok en hy moes vergewe word daarvoor – deur my en deur Jesus. Ons het ’n paar sondes opgenoem, net om seker te maak hulle verstaan waaroor dit gaan, en toe ons oë toegemaak om te bid.

My dogtertjie het heel eerste weggeval, soos iemand wat nie kan wag om ’n saak reg te stel nie. In ’n bitter jammer stemmetjie het sy bely: “Liewe Jesus, jammer dat ek sonde gedoen het en die blindings geknip het. Vergewe my, asseblief. Amen.” Sy het ses maande vroeër die blindings in die speelkamer soos geskommelde orrelpype laat lyk. ’n Stuk of ses het skielik elkeen hulle eie lengte gehad – party ongelukkig korter as die vensterbank. Ewe trots het sy vir my verduidelik dat dit nou vir haar mooier lyk as toe almal ewe lank was. Sy was eintlik besig met binnehuisversiering. Tog het my reaksie – ek was baie kwaad, het ernstig vir haar gepreek en alle skêre diep weggebêre, buite haar bereik – haar met ’n groot sondebesef gelaat. Nou, amper ses maande later, was dit steeds in haar agterkop.

Ek het in eenvoudige taal vir haar probeer verduidelik dat dit nie sonde was nie, maar net ’n oordeelsfout en dat ek lankal daarvan vergeet het. Maar sy het daarop aangedring dat sy skuldig was en sommer nog drie insidente opgehaal wat met skêre te doen gehad het. Siestog, ek kon nie glo hoe goed sy boek hou van haar kwaad nie!

Toe was dit haar boetie se beurt.

Die ligsinnige uitdrukking op sy gesig toe hy vra wat sy sonde nou weer was, moes my al voorberei het. Maar die gebed wat veronderstel was om ’n belydenis te wees, het my asem weggeslaan: “Liewe Jesus, ek is jammer dat … jammer … maar ek het nog nóóit in my hele lewe gejok nie. Amen.” Toe was hy gereed om verder buite te gaan speel.

Ná ’n paar mislukte aansprake op sy gewete het ek ’n nota gemaak om oor ’n jaar weer te probeer. Ek was onthuts toe Idalise uiteindelik vra of ek dan niks gaan bely nie. Ek kon eerlikwaar nie aan iets dink nie. Sover ek kon onthou, was ek daardie hele dag goed en gaaf. Sy het my egter gou gekonfronteer met ’n ewe volledige lysie van my sondes uit die verlede, net so volledig soos hare wat sy vroeër afgerits het. Ek moes maar my oë toemaak en self die Here vra om my te vergewe, met haar as getuie. Dit was ’n nederige gebed daardie!

Dit hoef nie ingewikkeld of altyd ernstig te wees wanneer ons doelgerig probeer om belangrike geloofswaarhede vir ons kinders te leer nie. Jesus self het gesê ’n kinderlike geloof is belangriker as teologiese kopkennis. Ons kan ook gerus ons harte oop en ontvanklik hou om al hoe meer oor die wonder van Jesus te leer.

Leef met die oë van ’n kind wat jubel oor die vissie in die water, wat vra wie die sterre aangesteek het en wat van jou hou omdat jy kan fluit.

– Phil Bosmans

Ek glo die geloofswaarhede hieronder maak ons vry van vrees, eensaamheid, verwarring, verbittering en al die ander geloofsvreters. Dit beskerm ons teen ontnugtering in God, onsself, mense en die lewe. Kom ons leer dit van jongs af vir ons kinders terwyl ons dit self hersien. Terloops, ek skryf hierdie gedeelte in eenvoudige taal sodat jy dit vir jou kind kan lees as jy wil.

Hier is die geloofswaarhede wat ek glo belangrik is om vir ons kinders te leer:

•God is alwetend en almagtig en kan doen wat Hy wil

•Slegte dinge beteken nie God is sleg of die duiwel is baas nie

•Jesus is die enigste Redder

•Ons almal doen verkeerde dinge, maar God wil ons vergewe

•Ons moet ander mense vergewe, want ons is nie beter as hulle nie

•Omdat ons weet hoe groot en naby God is, is ons vir niks en niemand bang nie

•God luister na ons elkeen wanneer ons bid en sy hulp vra.

God is alwetend en almagtig en kan doen wat Hy wil

Ken jy iemand wat baie goed kan skilder of teken? Of wat pragtige beelde uit klei kan maak? Ons noem hierdie mense kunstig, of kreatief. God was die eerste Persoon wat kreatief en kunstig was. Hy het die hele aarde en die ruimte rondom die aarde met al die sterrestelsels en planete gemaak. Dis een gróót kunswerk!

Toe maak God boonop vir ons om binne-in sy groot kunswerk te woon. Só het God begin om ’n baie lang storie oor Homself en oor mense te skryf. Ons is deel van God se storie en Hy staan in die middel omdat Hy die storie uitgedink het. Wie dink jy is die belangrikste en die sterkste – die Een wat die storie uitdink en al die prentjies maak, of die mense in die storie? Ja, die Een wat die storie uitdink, want Hy kan die prentjies inkleur, verf, opfrommel, weggooi of iewers ophang as Hy baie van die prentjies hou. Hy kan mense in die storie inskryf of hulle uit die storie uitskryf, net soos Hy wil.

God is die groot Storieskrywer, en God hou van elke mens wat Hy gemaak het. Ons is sy kunswerke, sy prentjies. Hy wil nie een van ons opfrommel nie, want Hy is baie lief vir ons elkeen. God maak ons almal deel van sy storie. Party van ons maak nie mooi in God se storie nie en dan wil Hy ons verander. Maar God wil niemand weggooi of uitskryf nie, want Hy het iets van Homself in elke mens gesit sodat ons ’n bietjie soos Hy kan wees. Ons is verskriklik belangrik vir God. Is God ook vir ons belangrik? Ja, want as God nie besluit het om vir my en vir jou te maak nie, was ons nie hier nie.

Wanneer God dan iets met die wêreld doen waarvan ons nie hou nie of wanneer iets gebeur wat mense hartseer maak, word ons soms kwaad vir God. Ons dink Hy het ’n fout gemaak. Het jy al hartseer of kwaad geword oor iets wat God toegelaat het om te gebeur? Ek dink ons almal het al. Maar onthou, ons is steeds ín die storie wat God skryf en ons weet nie wat verder gaan gebeur nie. Die storie is God se storie. Hy kan besluit wat gebeur, met wie dit gebeur, waar dit gebeur en wanneer dit gebeur. Gelukkig is God God. Hy is baie slimmer as ons en sy plan met sy storie is beter as ons heel beste planne.

In God se storie is nie alles lekker nie. Daar gebeur ook dinge wat sleg is, soos wanneer jy raas kry by die skool of met iemand in jou gesin baklei. Onthou jy dat Jesus gevange geneem en doodgemaak is? Dit was beslis nie ’n lekker deel van sy storie nie, maar dit was die heel belangrikste deel van God se storie. Toe Jesus doodgemaak is en weer lewend geword het, het die hele storie van God en mense verander. Ons kan nou vergewe word en God noem ons sy kinders. Net so kan iets in hierdie lewe wat vir jou sleg voel eintlik iets goeds word in die storie wat God met jou lewe vertel. Jesus se pyn en swaarkry het gemaak dat ons vir ewig kan leef.

As jou dag baie sleg is, is God steeds lief vir jou. Hy is nie besig om jou op te frommel nie. Jy is vir altyd in sy storie en Hy belowe jou storie gaan baie mooi eindig. Vertrou op Hom. Dit beteken: kom ons onthou God skryf die hele storie van ons lewe en Hy sal alles goed laat eindig.

Slegte dinge beteken nie God is sleg of die duiwel is baas nie

Party mense glo dit nie. Hulle dink die duiwel skryf hulle storie wanneer iets slegs gebeur. Of hulle dink ander mense mors die hele storie op sodat dit nooit weer sal kan regkom nie. Gelukkig is dit nie waar nie. God is die Een wat eerste kreatief was, onthou jy? Die duiwel en ander mense het Hom nie gehelp om die aarde en die heelal te skep nie. Hoekom sou hulle dan nou die storie kan oorneem en besluit wat in jou hele lewe gaan gebeur?

Daar was ’n tyd toe dit baie sleg gegaan het met God se volk, die Israeliete. Hulle storie het nie goed verloop nie, want hulle wou nie na God luister nie. Ander volke het teen die Israeliete kom oorlog maak omdat hulle nie na God wou luister nie. Hierdie volke het die Israeliete oorwin, hulle gevange geneem en na ’n vreemde land weggevoer. Kan jy dink hoe sleg dit vir hulle was?

God het sy volk getroos, want Hy het hulle baie jammer gekry. God het met hulle gepraat, want hulle was baie bang. Hulle het nie geweet wat van hulle sou word nie. Deur sy profeet Jesaja het God vir sy volk, die Israeliete, gesê:

“Arme julle! Dit voel of ’n tornado julle getref het, asof niemand vir julle omgee of vir julle jammer is nie. Julle dink julle is nou vir altyd stukkend.

Maar julle is nie! Ek gaan julle stukkie vir stukkie heelmaak, net soos ’n mens ’n stukkende stad oorbou. Die stukkende stad sal beter, sterker, groter en mooier wees. Net so sal julle ook beter en sterker wees. Julle hoef vir niks bang te wees nie. Nie eens die kinders hoef bang te wees nie, want Ek self sal julle kinders help en leer. Wanneer iemand lelik is met julle, is dit nie Ek wat julle probeer seermaak nie. En wanneer mense julle seermaak, moet julle nie bekommerd wees nie – Ek sal hulle nie toelaat om julle te vernietig nie. Ek het julle só gemaak dat julle nie heeltemal kan breek nie.

“Party van julle is bang vir dinge en mense wat julle kan seermaak, maar moenie bekommerd wees nie. Ek skryf hierdie storie en in my storie mag niemand – nie ’n mens of die duiwel self – iets doen wat julle kan verwoes nie. Julle sal altyd in my storie wees. Ek is altyd aan julle kant. Wanneer iemand sê julle jok, sal Ek bewys julle praat die waarheid. Ek belowe julle, Ek sal seker maak julle storie eindig baie goed!” (Vergelyk Jesaja 54:11-17.)

Kan jy dink hoe bly was die mense van Israel? Hierdie woorde was egter nie net vir hulle nie. God sê dit ook vir ons. Dit maak nie saak wie wat aan ons doen nie, God wil hê ons moet weet die slegte tye is nie die einde van ons storie nie.

Jesus is die enigste Redder

“Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand 4:12).

Jesus is die enigste Redder, want God het so besluit.

Mense kan hulleself nie red nie. Ons is soos iemand in ’n groot see wat nie kan swem nie. Ons weet nie hoe om die hele tyd alles reg te doen nie. Niemand weet nie. Ons almal sukkel. Dis nie vir ons lekker om dit van onsself te weet nie. Ons wil eintlik net hoor wat ons kán doen, nie wat ons nié kan doen nie. Dit is ook nie vir ons lekker om te hoor daar is net een manier om iets sleg reg te maak nie.

Wanneer ’n juffrou vir kinders net een onderwerp gee om sinne of ’n storie oor te skryf, kla hulle. Hulle wil liewer self besluit waaroor hulle wil skryf. Mense maak ook so wanneer hulle hoor almal op die hele aarde moet in Jesus glo as hulle gered wil word en hemel toe wil gaan. Hoekom net Jesus? Hoekom nie ook iemand anders nie? vra die mense. Dan wil hulle ’n manier uitdink om in die hemel te kom sónder om in Jesus te glo.

Ek verstaan dit, maar dit is nie baie slim nie. Sê nou jy swem in die see en die golwe word woes. Jy voel jy gaan verdrink. Gelukkig kom daar ’n lewensredder aangeswem, maar hy lyk nie vir jou baie gespierd nie en hy praat snaaks en jy hou nie van die kleur van sy swembroek nie. Gaan jy vir hom sê jy wil liewer jou eie plan maak om nie te verdrink nie of dat jy iemand anders gaan soek wat meer soos ’n lewensredder lyk? Nee! Jy gaan regtig nie omgee hoe die lewensredder lyk of klink nie, of hoe? Jy gaan net bly wees dat hy daar is om jou red. Jy sal aan hom vasklou totdat hy met jou op die strand uitstap.

Jesus is hierdie lewensredder. God het vir ons net een lewensredder gestuur, want Jesus kan dit die heel beste doen. Jesus kan ons almal red, maak nie saak watter taal hulle praat of waar op die aarde hulle bly nie; maak nie saak of hulle jonk of oud of baie gaaf of vreeslik gevaarlik is nie. Jesus red ons almal. Ons hoef nie iemand anders te gaan soek of ons eie planne te maak om gered te word nie. Wanneer ons nie alles wat Jesus gesê en gedoen het mooi verstaan nie, wil ons dalk nie glo Hy kan ons red nie, maar Hy kán. Ons moenie vir iemand anders wag nie. Jesus is die enigste Een wat ons kan help as ons sukkel om reg te leef.

Soms gaan maats of grootmense vir jou sê jy het nie vir Jesus nodig nie. Hulle gaan vir jou van ander gode soos Allah of Boeddha vertel of vir jou sê jy kan self besluit wat reg en verkeerd is. Hulle gaan vir jou sê jy hoef nie te doen wat Jesus sê nie. Maar omdat jy al vir Jesus leer ken het en self ervaar het Hy help jou en is lief vir jou, gaan jy hulle nie glo nie. Jy gaan weet wat jy weet en glo wat jy glo: Jesus het jou gered en is jou heel beste Vriend. Hoe meer jy oor Jesus in die Bybel leer, hoe meer sal jy weet daar is niemand soos Hy nie. Hy is jou Redder. Wil jy Hom vandag vra om jou te red en jou te help om reg te leef?

Ons almal doen verkeerde dinge, maar God wil ons vergewe

Ons as mense kan elke dag baie hard probeer om altyd die regte ding te doen, maar ons is nie sterk genoeg om altyd mooi te praat, altyd fluks te wees en altyd die waarheid te praat nie. Nie een mens op aarde kan altyd alles doen wat reg is nie. Almal sukkel met iets. Ons doen wat verkeerd is. Ons doen sonde. Ons is skuldig wanneer ons sonde doen en moet gestraf word.

Dink aan iemand wat die wet oortree deur byvoorbeeld te vinnig te ry of iemand se goed te steel. Hierdie mense is skuldig en gaan hof toe. In die hof luister die regter of die landdros na hulle en besluit hoe erg die oortreding is en wat die straf sal wees.

Omdat God volmaak is, wil God nie sonde naby Hom hê nie. Hy is soos ’n regter wat moet besluit wat die straf sal wees op die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Maar God het net een straf vir almal uitgedink: Niemand wat skuldig is, kan hemel toe gaan nie. Dit wil sê, nie een van ons kan hemel toe gaan nie, want ons almal het gedoen wat verkeerd is.

Maar hoor nou hierdie goeie nuus: Wanneer ons in God se hof staan, is Jesus ook daar. Hy is ons prokureur. ’n Prokureur is iemand wat vir die regter in die hof verduidelik hoekom iemand nie gestraf moet word nie. Wanneer ons met Jesus saamstem en erken ons het gedoen wat verkeerd is en vir Hom sê ons is jammer daaroor, staan Jesus op en sê: “Ek het hierdie mense se skuld betaal. Hulle skuld niks nie. Hulle hoef niks te betaal nie. Hulle mag hemel toe gaan.” God, die regter, stem saam met Jesus, want dit was die hele tyd God se plan dat ons nie self vir ons sonde sal betaal nie. Sy Seun, Jesus, het vir ons sonde aan die kruis betaal.

God wil ons vergewe vir alles wat ons verkeerd doen. Ons kan vir Hom sê ons is jammer oor wat ons gedoen het. Ons kan kies om weg te bly van die verkeerde dinge af. Dan sê God vir ons: “Jy is nou onskuldig. Ek vergewe jou.”

Ons moet ander mense vergewe, want ons is nie beter as hulle nie

Wat gebeur wanneer iemand anders lelik is met jou en jou seermaak of jou goed steel? Jy wil hê hulle moet gestraf word oor wat hulle aan jou gedoen het, nie waar nie? Baie mense voel so.

Jesus het ’n storie vertel van ’n man wat vir die koning baie geld geskuld het. Die koning het die man jammer gekry en vir hom gesê hy hoef nie die geld terug te betaal nie. Die man was baie bly. Toe hy by die koning wegstap, loop hy iemand raak wat hom ’n bietjie geld skuld, maar wat dit nie kan terugbetaal nie. Die man het kwaad geword en gesê hierdie man moet onmiddellik sy skuld betaal. Toe die koning dit hoor, was hy baie kwaad. Hy het die man wie se skuld hy afgeskryf het, laat slaan en martel totdat hy al sy skuld betaal het. Hierdie man het nie verstaan dat die koning sy skuld vergewe het en dat hy daarom dieselfde vir ander mense moes gaan doen nie.

Ons almal is skuldig en ons almal moet mekaar vergewe. Partykeer wil ons mense laat betaal vir wat hulle gedoen het, maar dan moet ons onthou dat ons self verkeerde dinge gedoen het. Sal ons daarvoor wil betaal? Skielik klink dit nie meer so lekker om ander mense te laat boet vir wat hulle verkeerd gedoen het nie, of hoe?

Ons almal is skuldig, maar Jesus het klaar vir ons almal se sonde betaal. Ons almal kan kies om Jesus se betaling te aanvaar. Dan vergewe God ons vir wat ons verkeerd gedoen het. God se hof se naam is Genade, en in sy hof vergewe God alles wanneer ons Jesus se plan om ons te red aanvaar.

Ons mag egter nie die vergifnis wat God vir ons gegee het vir onsself hou nie. Dit moet ons harte sag maak vir ander mense wat ons seergemaak het. Ons moet onthou dat Jesus ook vir hulle sonde betaal het. Dit sal ons help om hulle te vergewe vir wat hulle aan ons gedoen het. Ons vergewe ander mense, net soos Jesus ons vergewe het.

Wanneer ons ander mense nie wil vergewe nie, word ons lewe soos ’n tronk. Ons noem dit bitterheid. Jy voel die hele tyd siek en kwaad as jy dink aan wat mense aan jou gedoen het. Jy kan nie tot rus kom nie en jy kan nie bly wees nie. Party mense kies om so kwaad en bitter te bly omdat hulle nog nie gevoel het hoe dit is om in God se hof te staan en te hoor nie: “Ek vergewe jou alles. Jy is nou onskuldig.” Wanneer ons eers hierdie woorde gehoor en gevoel het hoe dit is om vergewe te word, maak dit ons so bly dat ons ander mense ook wil vergewe. Ons wil hê almal moet Jesus se plan aanvaar om van hulle sonde gered te word en eendag hemel toe gaan.

Omdat ons weet hoe groot en naby God is, is ons vir niks en niemand bang nie

Daar gebeur deesdae dinge in die wêreld wat ons baie bang maak.

Wanneer ’n mens bang is, dink jy allerhande dinge. Partykeer dink jy jy is alleen en niemand kan jou help nie. Wanneer jy hospitaal toe moet gaan, wonder jy dalk of jy sal doodgaan. Wanneer jy ’n toets moet skryf, wonder jy of jy genoeg geleer het. Soms wonder jy of daar iemand is wat jou wil seermaak. Dan raak jy bang. Partykeer dink jy dit help nie om te bid nie, want jy weet nie of die Here jou wil straf oor iets wat jy verkeerd gedoen het nie. Jy is bang Hy wil jou dalk nie help nie omdat jy nie 100% soet was en altyd gedoen het wat reg is nie.

Hoor nou net hierdie goeie nuus vir almal wat bang is. Ons lees in die Bybel dat wanneer God sy engele gestuur het om met mense te kom praat, die engele altyd heel eerste gesê het: “Moenie bang wees nie!” Ek kan nogal dink dat die mense sou geskrik het as hulle skielik ’n engel voor hulle sien staan het, maar dit is nie al rede hoekom God se engele vir die mense gesê het hulle moenie bang wees nie. God wou ook seker maak die mense verstaan dat Hy aan hulle kant is. God wou nie hê die mense moet die bang gedagtes in hulle koppe glo nie.

God wil hê ons moet eerder sy waarhede glo: God is altyd naby aan ons. God hoor en sien ons altyd. God wil ons nie straf nie, maar ons help. God weet ons kan nie altyd gehoorsaam wees nie, maar dit beteken nie Hy gaan ons in die steek laat wanneer ons Hom nodig het nie. Die Bybel leer ons hierdie waarhede baie duidelik.

The Christian does not think God will love us because we are good, but that God will make us good because He loves us.

– CS Lewis

God is altyd naby aan ons

Jesus het vir ons sonde aan die kruis gesterf. Net voordat Jesus dood is, het Hy ’n hele paar baie belangrike dinge gesê. Jesus het byvoorbeeld die mense wat Hom doodgemaak het, vergewe. Jesus het ook hard uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My alleen gelos?” Op daardie oomblik het God regtig vir Jesus alleen gelos. Hoe verskriklik moes dit nie gewees het nie!

God moes dit doen omdat Jesus op daardie oomblik al die lelike dinge wat al die mense in die hele wêreld gedoen het en nog sal doen op Hom geneem het. Jesus was so vol sonde dat God, wat so volmaak en heilig is, nie naby aan Jesus kon wees nie. God moes vir Jesus wegstoot om te wys Hy haat al die verkeerde dinge wat mense doen.

Maar God het Jesus nie vir altyd verstoot nie. Nadat Jesus gesterf en uit die dood opgestaan het, was al ons skuld betaal. God vergewe ons wanneer ons vir Jesus kies en neem al ons sonde weg. Daarom kan ons nou naby aan die Here kom. Dit beteken ook dat wanneer ons doen wat verkeerd is, God ons nie wegstoot nie. Hy kom eerder nader aan ons om ons te help. Dit doen God vir ons omdat Jesus alleen aan die kruis was, sonder God, net met al ons sonde op Hom. Dit verseker ons ons sal nou nooit sonder God wees nie. God is naby aan ons en God is lief vir ons.

God is volmaak lief vir ons; daarom hoef ons nie bang te wees nie

Dalk het jy al die Bybelvers gehoor wat sê: “Volmaakte liefde verdryf vrees” (1 Joh 4:18). Dit beteken wanneer ons God se volmaakte liefde vir ons verstaan, is ons nie meer bang nie. Want volmaakte liefde beteken God se liefde vir ons kan nie meer word nie; dit is klaar onverstaanbaar baie. God se liefde vir ons kan ook nie minder word nie, want God ís liefde. Volmaakte liefde hou nooit op bestaan nie.

Dit beteken God is nie vandag minder lief vir jou as gister toe jy soeter was nie. God is nie minder lief vir jou wanneer jy vergeet het om jou Bybel te lees nie. Niks kan God se liefde vir jou wegneem of laat opraak nie – nie eens die duiwel of dinge wat lank terug gebeur het of slegte dinge wat nou met jou gebeur of slegte gedagtes in mense se harte nie. Selfs al gaan jy dood, is God se liefde baie, baie naby aan jou. Die Bybel sê dit en jy kan dit maar glo (Rom 3:38-39).

Wanneer jy weer bang raak, kan jy onthou God se liefde is altyd naby aan jou. Dan sal jy nie meer aan al die slegte dinge dink nie. Jy sal dink: God is baie naby aan my. God is baie lief vir my. Hy sal my help. Die Here hoor my wanneer ek vra dat Hy my sal help. Hoe slegter die dinge is wat gebeur, hoe nader is die Here aan my. Selfs al gebeur die ergste, sal ek nooit ooit alleen wees nie. Die Here is hier by my.

Wanneer jy onthou God is by jou, sal jy nie bang word nie en lief bly vir God, net soos Daniël se drie vriende wat in die vuuroond gegooi is. Hulle het geglo die Here is by hulle en hulle het nie gebrand nie en nie eens na rook geruik toe hulle uit die vuuroond kom nie. Of soos Paulus en Silas wat geslaan en in die tronk toegesluit is. Omdat hulle geweet het die Here is baie naby aan hulle wanneer slegte dinge met hulle gebeur, het hulle die hele nag vir Hom lofliedere gesing.

Jy sal dit dalk nie nou glo nie, maar dit is waar dat slegte dinge nooit sonder ’n rede met ons gebeur nie. Die Here kan slegte dinge gebruik om goeie dinge in ons lewe te doen. Dit is hoekom jy vir niks bang hoef te wees nie. Maak nie saak wat gebeur nie – jy en God gaan wen, want God is baie, baie lief vir jou en altyd baie naby aan jou.

God luister na ons elkeen wanneer ons bid en sy hulp vra

Mense kon nie altyd direk met God praat soos ons vandag nie. In die tyd van die Ou Testament het God profete en priesters gehad. God het deur sy profete met die mense gepraat en sy wil aan hulle bekend gemaak. Die priesters het tot God gebid en vir God vertel wat die mense se nood was. God het in sy tempel gewoon, in die Allerheiligste deel waar net die heel belangrikste priester, die hoëpriester, een keer per jaar mag ingegaan het om vir God te sê die mense is jammer oor hulle sondes. Niemand anders mag so naby aan God gekom het om met Hom te praat nie.

Voordat die hoëpriester met God kon praat, moes hy offers bring vir die mense se sonde en dan agter ’n dik gordyn instap om by God te wees. Toe Jesus aan die kruis doodgegaan het, het daardie dik gordyn geskeur. Van toe af kon enigiemand naby aan God kom en self met Hom praat. Die gordyn wat geskeur het, was God wat vir ons gesê het: “Kom maar binne!” Dit beteken ons kan enige tyd met God praat en God sal na ons luister.

Die heel beste is dat God ook met ons wil praat. God praat met ons deur die Bybel wanneer ons dit lees. God praat met ons wanneer ander mense oor Jesus en sy Goeie Nuus praat. En God praat met ons deur sy Heilige Gees wat in ons hart fluister en ons lei om te doen wat reg is.

KLANKBORD

VRAAG: My seuntjie is twee en ’n half. Hy is baie oulik en liefdevol, maar hy het ’n streek in hom wat my hart seermaak. Wanneer hy vir my vies is en ek hom verseker ek is lief vir hom, sê hy: “Mamma nie lief Billy nie.” Wanneer hy pak kry oor iets en ek klaar vir hom verduidelik het hoekom hy gestraf is en hom troos, sê hy: “Mamma Billy nog slaan.” Dis nie al aandag wat hy kry nie. Hy is by die huis by my. Gister was hy weer vies oor iets. Toe ek vir hom sê hy moet onthou Jesus is altyd by hom en hy is nooit alleen nie, was sy antwoord: “Jesus nie lief Billy nie.” Voel hy om die een of ander rede verwerp? Ek het sy sussie in Desember op vyf en ’n half maande verloor. Kan dit iets met sy optrede te doen hê?

ANTWOORD: Ek is so jammer oor jou traumatiese verlies. Ek self het op 21 weke ’n baba verloor en weet hoe dit ’n mens kan ruk. Gewoonlik is die impak op ons groter as op ons ander kinders. Ek glo nie dit is die rede vir Billy se gedrag nie. Billy is ’n slim mannetjie wat jou sagte hart raaksien en dit soms tot sy voordeel gebruik. Hy het agtergekom jy troos hom nadat jy hom gestraf het en heg baie waarde aan sy liefde vir jou. Hy en jy is albei baie liefdevol. Julle kommunikeer dikwels deur liggaamlike aanraking. Billy laat jou baie sleg voel met sy opmerkings en die beloning wat hy ontvang is meer aanraking en die versekering van jou liefde. Óf sy opmerkings stoot jou weg wanneer jy te “lovey dovey” na sy sin is. Dit gaan vir hom oor die beloning wat dit inhou.

Reageer liewer met ’n kalm stemtoon: “Haai nooit, jy is dan my skattebol!” Moenie te veel liggaamlike vertroosting troos gee nie. Jou seun moet leer dat hy jou nie met daardie frase kan manipuleer nie. Op die “nog slaan” kan jy antwoord: “Mamma is klaar. Kom ons gaan speel.” Dan kan hy ’n goeie en vrolike tyd saam met jou geniet en hoef hy nie daaroor te kerm nie.

Die Here se liefde is vir Billy dalk nog te abstrak om op sy ouderdom te verstaan. Sy reaksie is normaal. Hy weet nie wat hy sê nie. Reageer met iets soos: “Jesus het Billy mooi ogies gegee. Dankie, Jesus!” Of: “Jesus help Billy om vinnig te hardloop.” So bou jy op sy begrip van Jesus se liefde vir hom. As hy ook hierop negatief reageer, hoef jy nie verder te probeer nie. Die boodskap is dan: “Los my nog so ’n bietjie. Gee my ’n bietjie ruimte. Moenie my nou troos nie.”

– – – – – – – – – –

VRAAG: My driejarige seuntjie is ’n Spiderman-fanatic. Ons het al twee stelle Spiderman-klere vir hom gekoop, want dit is al wat hy skool toe wil dra. Hy wil ook nie ’n baadjie aantrek nie, want dan kan die kinders nie sy Spiderman-klere sien nie. Moet hy nie eerder soveel bewondering vir Jesus hê nie?

ANTWOORD: Kinders van jou seun se ouderdom is geneig om hulle geheel en al in allerhande karakters in te leef en hulle na te boots en te verafgod. Hou maar ’n ogie oor die karakters waarmee hy hom vereenselwig. Stel hom ook altyd bloot aan navolgenswaardige helde. Maak seker jou seun weet nou al Jesus is die heel grootste Held, want dink net watter vreugde dit sal wees as hy eendag net so graag soos Jesus wil wees as wat hy nou soos Superman wil wees.

Praat met jou seun oor hoe sy held sy superkragte gebruik. Wat doen hy vir ander mense? Gebruik hy sy krag om te wen of om ander mense bang te maak of terug te kry, of gebruik hy sy krag met ’n goeie doel? Beperk speletjies en flieks en kostuums tot helde wat ’n goeie “hart” het en hulle krag reg gebruik.

Jou seun is nou op die regte ouderdom om te leer wat Jesus se superkragte is – die vrug van die Gees. Al hierdie superkragte help ander mense en maak die wêreld ’n beter plek. Dit maak niemand uit woede seer of dood nie. Dit is die soort superheld wat jou seun (en ons elkeen) kan droom om te wees.

Kweek kinders met heel harte

Подняться наверх