Читать книгу Kweek kinders met heel harte - Hettie Brittz - Страница 5
Hoofstuk 1
ОглавлениеGee vir jou kind ’n groot geestelike erfporsie
Dit is immers my plig as julle pa in die geloof om te sorg dat julle reg leef. En soos ’n goeie pa moet ek ook sorg dat julle ’n groot geestelike erfporsie het (2 Kor 12:14, Die Boodskap).
Lank voordat Karl Mannheim die eerste sosiologiese argument oor generasiegapings neergepen het, het die Here deur die profeet Maleagi daaroor gepraat. Hierdie woorde is die laaste vers van die Ou Testament. Laaste woorde is belangrik. Dit word onthou, oordink en dikwels aangeteken. Ek glo hierdie woorde is die heel belangrikste woorde oor ouerskap in die Bybel:
En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie (Mal 4:6, 1953-vertaling).
Hierdie profesie lê ’n verband tussen twee dinge: stukkende ouer-kind-verhoudings en ’n vervloekte land. Aan die positiewe kant hou dit egter ’n geheim vir ons almal in: Herstelde verhoudings keer die vloek af en genees ’n land.
Ek was nog altyd ’n “maar hoekom?”-mens. Ek het dus lank aan hierdie vers gekou. Hoekom is die band tussen die verskillende geslagte so belangrik? Dít was my slotsom: Heel en hegte verhoudings is die waarborg dat die een geslag hulle geloofstokkie aan die volgende geslag sal oorgee sodat die goeie wedloop voltooi kan word. Wanneer geslagte hierin slaag omdat hulle harte na mekaar toe gedraai is, word potskerwe weer heel potte en die skatte van geloof, hoop en liefde word doeltreffend in harte en families bewaar. Geslagte word genees en elke deel van die samelewing beleef herstel wat voel en lyk soos vloek wat in seën verander. Elke kind is veiliger en “erf” iets kosbaars – die wyshede van die vorige geslagte.
As die verlede nie die hede kan onderrig en ’n pa nie sy seun kan onderrig nie, kon die geskiedenis net sowel nie voortgegaan het nie en het die wêreld baie tyd gemors.
– Russel Hoban
In 2 Timoteus 1:5 praat Paulus met sy geestelike seun Timoteus juis hieroor: “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.”
Is dit nie ’n pragtige getuienis dat ’n ouma ’n opregte geloof aan haar dogter kon oordra en dat haar dogter dit weer aan haar seun kon oordra nie? Dit is wat ek my kinders toewens, dat die liefde wat ek vir die Here het ook in hulle harte sal wortelskiet.
Ons wil iets vir ons kinders nalaat en ons wil seker maak dit is nie net kisklere wat deur vismotte gevreet is of ’n muntversameling nie. Wanneer iemand ons vra om te dink oor wat ons aan ons kinders wil nalaat, sal sommige van ons dalk dink aan die pragtige mat wat Oumagrootjie 120 jaar gelede met haar rumatiekhande geknoop het, of aan die versameling silwerware uit die dae toe die Kaap nog ’n Britse kolonie was, of aan die stokou Statebybel.
Maar as ons self die rykdom van ’n verhouding met Jesus besit, is dít dan nie die grootste skat wat ons graag vir ons kinders sal wil aangee nie? En daarmee saam die erfporsie van waardes, norme, werketiek, integriteit en lewenswysheid. Is dit nie die enigste nalatenskap wat nie deur belasting, verweer, inflasie of diefstal geraak sal kan word nie?
En tog, kyk ons na die geestelike erfporsie wat van die een geslag na die volgende aangegee word, lyk dit of daar wel heelwat verlore gaan. Dalk word ons nalatenskap tog gedeeltelik gesteel. Dalk eis die samelewing van vandag wel sy boedelbelasting.
Toe my ouma se laaste sandjies deur die uurglas syfer, wou niemand oor erfstukke gesels nie. Maar my ouma was altyd baie prakties. Toe ek en my ma ná haar dood die woonstel begin opruim, was daar plakkertjies onder al die borde en al die bakke, agter al die skilderye en tapisserieë. Daar was selfs ’n lysie in die drankkabinet. Die bottel goedverouderde dit en dat moet na sus en so gaan. Tussen die trane deur het ons lekker oor Ouma se plakkers en lysies gelag. Die manier waarop Ouma haar goedjies aan ons bemaak het, het van liefde en deernis en ’n baie spesiale insig in elkeen in die familie gespreek.
Ek is bly oor die tapisserie wat ek geërf het, want toe haar oë al swak was, het ek die stekies wat sy gemis het vir haar met helderkleurige koppiespelde gemerk. Sy het die geel en rooi knoppies gevolg om die tapisserie klaar te maak. Ek is egter baie blyer oor die tapisserie wat Ouma met haar lewe op my hart uitgewerk het. In ’n familie waar daar ongehude moeders en egskeidings was, was sy kleurblind vir die swartskape en die witbroodjies. Almal was vir haar “my kuiken”.
Sy het haar seuns en skoonseuns een vir een begrawe. Sy was die sterkste van ons almal, al was sy, verrassend genoeg, nooit ’n kerkmens nie. In die Bybel langs haar bed was daar gedeeltes wat vreemd opgesom, gekritiseer en ontleed was, soos ’n voorgeskrewe gedig op skool. Hoekom kon ek dan ’n boek skryf oor die preke wat haar lewe verkondig het? Hoe het sy dit reggekry om ’n geestelike erfporsie na te laat al het sy nooit met haar geloof te koop geloop nie?
Kom ek stel dit anders. Wat is die voorwaardes as ons ’n groot geestelike erfporsie aan ons kinders wil nalaat? Ek glo daar is twee voorwaardes.
•Die eerste is die tyd wat ons in ons kinders moet belê.
•Die tweede is die verhouding wat ons met ons kinders moet bou.
Tyd
“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Deut 6:6-7).
Hierdie opdrag is gegee aan die Israeliete toe hulle nog in die woestyn rondgeswerf het. Waarom was dit so nodig dat hulle die gebooie by hulle kinders moes inskerp en aanmekaar met hulle daaroor moes praat, in die huis, buite die huis, met slaaptyd en met opstaantyd? Ek glo dit is omdat die Here geweet het hulle was op pad Kanaän toe, ’n land vol afgode, ’n land met ’n giftige kultuur.
Dit is dieselfde in vandag se wêreld. Ons samelewing is giftig. Ons woon nie in ’n land met ’n Christenkultuur nie. As ons wil hê ons kinders moet teen vandag se kultuur staande bly, moet ons die dinge wat ons glo by hulle inskerp. Ons moet aanmekaar met hulle daaroor praat en dit as’t ware heeldag uitleef en daarmee saamleef. Dit moet dagin en daguit die belangrikste element van ons lewe wees as ons ’n groot genoeg impak op ons kinders se lewe wil maak.
Baie van ons dink ons sal aan ons kinders ’n goeie geestelike erfporsie nalaat deur hulle Sondagskool toe te neem, by ’n Christelike skool in te skryf of Sondagaande vinnig vir hulle ’n Bybelstorie te lees. Maar HL Mencken het gesê: “A Sunday school is a prison in which children do penance for the evil conscience of their parents.” Dalk is dit waar dat ons ons kinders Sondagskool toe stuur of na Christelike kampe laat gaan met die hoop dat die kerk iets sal doen aan die leemte wat ons as ouers in hulle lewe laat.
Hoe vergelyk jou sinvolle tyd saam met jou kind met sy of haar tyd by maats, voor die TV, op die iPad of internet of voor skoolboeke wat sekulêre en humanistiese idees verkondig? Stel jou voor Jesus het vir sy dissipels gevra om elke aand ná werk net so ’n bietjie saam met Hom te kom kuier. Sou Hy hulle binne drie jaar sy volgelinge kon maak om sy evangelie oor die wêreld heen uit te dra? Nee, Jesus het binne drie jaar ’n wonderlike geestelike erfporsie aan sy dissipels gegee omdat Hy dag en nag saam met hulle geleef het.
Dalk is dit die rede hoekom ons meer as drie jaar het om ons kinders groot te maak. Ons kan nie in die tien minute voor slaaptyd ons kinders in dissipels van Jesus verander nie. Ons leef in ’n giftige samelewing en ons kinders is op die oorlogveld, blootgestel aan ongelooflik baie lelike dinge. ’n Uur se Kinderkerk en Bybelstories met slaaptyd sal eenvoudig nie genoeg wees nie.
Hoekom is dit dan so moeilik om genoeg tyd te vind om saam met ons kinders deur te bring? Ek glo die gejaag na geld om dit op plesier en materiële besittings uit te gee is ’n groot vyand van ons tyd saam met ons kinders. Hoekom werk ons so hard? Om wat te kan koop? Om wat te kan bereik? Om dinge te koop wat ons en ons kinders van mekaar af weghou? Om geld vir eendag weg te sit en skatte hier op aarde bymekaar te maak?
The Message se weergawe van Psalm 127:2-5 is:
It’s useless to rise early and go to bed late and work your worried fingers to the bone. Don’t you know he enjoys giving rest to those he love? Don’t you see that children are God’s best gift, the fruit of the world, his generous legacy? Like a warrior’s fist full of arrows are the children of a vigorous youth. Oh, how blessed are you parents, with your quivers full of children! Your enemies don’t stand a chance against you; you’ll sweep them right off your doorstep.
Hier is ’n heel ander erfporsie ter sprake, nie waar nie? Ons kinders is ons kosbaarste erfenis, ons grootste geskenk van God. Ek dink nie dit is toevallig dat die psalm met dié vermaning begin nie: “Vergeefs werk die wat die huis bou as God nie saam met hulle die huis bou nie” (1953-vertaling).
Die psalm praat nie hier van kliphuise of baksteenhuise nie, maar van gesinshuise en geestelike huise. Ons bou hierdie huise met ons kinders, lewende kinders, kinders met ’n ewige siel. Die Here waarsku ons teen die leuen dat ons van vroeg tot laat moet werk om self ons huis te bou. Nee, sê die Here, dit is nie met werk dat jy jou huis bou nie; dit is met jou kinders.
Toe ek klein was, het ek vas geglo die Krugermiljoene is in ons dak versteek, reg bokant die studeerkamer, want ek het eenkeer my pa op ’n leer onder die luik betrap. Hy het belowe om eendag, wanneer ek groot is, vir my te sê wat daar versteek is. Op ’n mooi dag het ek my ma en pa in die kombuis hoor fluister, ernstig fluister. Die woord “rewolwer” het opgeklink. Dít was al die tyd die “skat” op die plafon. Ek was bitter teleurgesteld!
Ja, ek was baie teleurgesteld omdat ek nie goue ponde sou erf nie. Vandag weet ek ek sou daardie ponde, ás dit daar was, sonder ’n oogknip prysgegee het vir wat ek wel by my ouers geërf het: herinneringe aan vakansies in huise met sementvloere en ’n buitetoilet met ’n koue stort; someraande se saamkuier in die kombuis met ons gunstelingete op die tafel – Franse roosterbrood met stroop; Saterdae se pap-en-wors …
Kinders heg nie regtig meer waarde aan al die duur items waarvoor ons ons so afsloof as aan die gratis gesinsoomblikke wat deesdae so skaars geword het nie. Moeder Teresa het iets kosbaars gesê en dit is vir my nogal ironies omdat sy nie ’n ma was nie, maar dalk het sy meer van moederskap verstaan as baie van ons wat kinders in die wêreld gebring het. Sy sê: “Everybody today seems to be in such a terrible rush, anxious for greater developments and greater riches and so on, so that children have very little time for their parents. Parents have very little time for each other, and in the home begins the disruption of the peace of the world.”
Om tyd te maak om by ons kinders te wees voel vir ons so moeilik. Maar is dit dalk net moeilik omdat hierdie tyd nie met ’n rooi vlaggie gemerk is soos daardie dringende e-pos nie? Is dit dalk omdat hulle nie in jou ore lui soos jou selfoon nie? Of omdat daar nie ’n departementele nota “Dringend! Dringend! Dringend!” op hulle voorkoppe geplak is nie? Of omdat ons hulle makliker kan ignoreer as die grappies wat ons met WhatsApp ontvang?
KLANKBORD
VRAAG: Ek het drie pragtige kinders. My seun is sewe, my oudste dogtertjie vyf en die jongste twee. My seun is nou graad 2 en ons doen tuisonderrig (ons bly op ’n plaas). Ek het regtig raad nodig. My seun vereis al my aandag. My vyfjarige is die leergierigheid self, maar ek kry net nie tyd om ook aan haar aandag te gee nie. En ek voel skuldig daaroor. Die tweejarige eet die soutklei op … Soms voel ek lus om sommer die vlaktes in te hardloop. Hoe kry jy ’n gesonde balans tussen al jou verpligtings as vrou, juffrou, mamma en vriendin?
Groete uit die koue Vrystaat
ANTWOORD: Ek sou die vlaktes in gehol het as ons hier by ons vlaktes gehad het! Kan ek Vrystaat toe kom daarvoor? Ek kry dikwels lus om iewers af te spring – ons het darem wolkekrabbers …
Ek dink dit kom saam met die territory. Ek dink nie ons voel ooit in beheer nie. Daar is dae wanneer ek níks regkry nie en dan wil ek liewer my kinders laat aanneem voordat ek hulle lewe heeltemal verwoes. Maar later ontdek ek dat die een, terwyl ek my krisis hanteer het, ’n toestel gebou het waarmee ’n mens die hoogste blomme van die rankbos kan afknip en die ander een ’n pragtige gediggie geskryf het – en dit net omdat ek nie met skoolboeke onder die arm en potlode in die hand in hulle nekke geblaas het nie. Kort-kort wys die Here vir my dat Hy self ook my kinders onderrig.
Ek het ook hulp nodig met die tweejarige, want soms is alles net te erg. Sy het ’n neus en ’n voorliefde vir permanente koki’s …
Ek is nie seker volkome balans is haalbaar nie. Dit lê op ’n kontinuum. Ek dink elke dag is effens van balans af – party verloop glad nie goed nie; ander is net wonderlik. Dalk is die balans dan iewers in die gemiddelde. Wanneer daar ’n dag kom dat ons ’n ekstra uur het om pannekoek te bak of buite piekniek te hou, gryp ek dit soos ’n reddingsboei aan. En ek bid my kinders sal meer van daardie dag onthou as van al dié waardeur ons jaag. En dit gebeur ook!
My vriendinne is ook nie altyd seker ek het balans nie en dan sleep hulle my koffiewinkel toe – sommer in skooltyd. Ek en my man het ’n uur of twee alleen elke Maandagaand wanneer die kinders om agtuur gaan slaap het. Dit is ons tyd om te droom, te bid, te beplan, ons dagboeke te vergelyk en geen werk te doen nie. Woensdae is familie-aand. Dan eet ons lawwe kos wat die kinders kies en speel speletjies wat hulle wil. Ek dink jy hoor my. Dit gaan maar rof met ons almal. Tog kan ons nou en dan die tyd uitkoop en ons verhoudings red.
Verhoudings
Die tweede rede hoekom ons soms die geestelike aflosstokkie op die grond laat val, is ons gebrekkige verhoudings met ons kinders.
Ons as gesin is baie lief vir die realiteitsreeks Survivor. Dié van julle wat dit ook kyk, sal weet daar is hindernisse wat die spanne moet oorkom. Hulle moet byvoorbeeld water met ’n halwe kokosneut oor ’n wipplank en deur ’n doolhof van toue dra en dan dié kosbare water versigtig tussen hulle bene aangee en druppel vir druppel in ’n fles gooi. Deur al die hindernisse deur mors hulle van die water uit die kokosneutdop.
Dit is ’n goeie beeld vir die geestelike erfporsie wat ons vir ons kinders moet aangee. Dié erfporsie is ’n handvol lewende water wat ons in hierdie lewe, voor ons dood, aangee vir die harte wat naby aan ons is. Maar wanneer ons hierdie lewende water en ons liefde vir die Here vir ons kinders probeer aangee, syfer dit maklik tussen ons vingers deur. Die meeste daarvan val op die grond tussen ons en ons kinders. En as ons nie aanhou om hande vol te skep nie, sal daar dae wees dat ons niks het om vir ons kinders aan te gee nie.
As daar ’n groot gaping tussen ons en ons kinders is, sal hulle bakhand voor ons staan, maar daar sal niks vir hulle wees om te ontvang nie. Ongelukkig kan ek nie soos my ouma maak en ’n plakkertjie agter op my liefde vir die Here plak en daarop skryf “Aan my seun, Pero” nie. Ek kan ook nie my deernis met arm mense met my jongste dogter se naam merk en dit vir haar nalaat nie. Wat in my hart is, kan ek net vóór my dood vir my kinders aangee, en ook net as my kinders se harte aan myne verbind is.
Bill Glass was 24 jaar lank ’n evangelis in tronke in Amerika. Hy wou probeer verstaan wat in iemand se lewe verkeerd loop, so verkeerd dat hulle moord pleeg en die doodstraf opgelê word. Baie van die mans met wie hy gepraat het, het uit Christelike huise gekom. Hy het die skokkende ontdekking gemaak dat 95% van die mans op deathrow hulle pa’s haat. Hierdie godvresende pa’s, in baie gevalle kerkmense, uitgesproke Christene, kon nie die aflosstokkie in hulle seuns se hande oorgee nie, want daar was geen verhouding tussen pa en seun nie.
Wat gebeur dan dat ons nie ’n verhouding met ons kinders het nie? Gary Smalley het ’n boek met die titel The Key to your Child’s Heart geskryf. Daarin praat hy oor die stukkende verhoudings tussen tieners en hulle ouers. Hy het met baie jongmense gesels en hulle gevra om ’n lysie te maak van alles wat hulle verhouding met hulle ouers vertroebel en dit moeilik maak om die Here se liefde deur hulle ouers te beleef.
Voordat ons kyk na wat die jongmense alles genoem het, wil ek net sê ons kinders gaan nie altyd vir ons sê wanneer ons ons hulle seermaak nie. Ons sal die tekens moet leer lees. Die volgende tekens kan vir ons aandui dat ons die brug tussen ons en ons kinders tydelik verbrand het:
1. My kind verskil aspris van alles wat ek sê. Wat vir my mooi is, is vir haar lelik. Wat ek dink pret sal wees om te doen, is vir haar vervelig.
2. My kind skram skielik weg van aanraking, iets wat hom vroeër nie ongemaklik laat voel het nie.
3. My kind vermy oogkontak met my.
4. My kind is bang om te waag. Hy wil niks nuuts probeer nie en nie sy mening deel nie.
5. My kind dreig om weg te loop, die skool te verlaat of selfdood te pleeg.
6. My kind eksperimenteer met dwelms en/of seks om troos vir haar pyn te vind.
7. My kind beleef intense emosionele pyn weens geestelike skade en dit kom na vore in eetversteurings, selfskending of openlike aggressie soos misdaad, geweld, vandalisme, vloektaal en opstandige gedrag.
As daar van hierdie wonde in ons kinders se lewe sigbaar is, sal ons moet nadink of ons as ouers dalk die oorsaak daarvan was. So dikwels maak ons foute wat die verhouding tussen ons en ons kinders seermaak. Kom ons kyk dan na die lys dinge wat die jongmense vir Gary Smalley genoem het en wat die verhouding tussen ouers en hulle kinders so maklik verbreek.
Ouers verkleineer hulle kinders. Ons kan sê om ’n kind te verkleineer is om hom of haar te minag; om ’n kind te beheer deur hom of haar te verneder; om ’n kind klein te hou sodat hy of sy beheerbaar kan wees. Die omgekeerde hiervan is bemagtiging. Ons bemagtig ons kinders wanneer ons hulle talente en vaardighede raaksien en hulle uitdaag om dit te gebruik. Wanneer hulle dit probeer doen, kan ons hulle pogings prys: “Jy maak die lekkerste koffiebekerkoek in die mikrogolfoond met resepte wat jy self uitdink. Sien jy kans om ses te maak vir nagereg wanneer Ouma-hulle Sondag kom kuier? Dit sal ’n baie spesiale bederf vir hulle wees.”
Ouers behandel soms hulle kinders onregverdig omdat hulle nie die tyd wil belê om uit te vind wat presies in hulle kinders se lewe aangaan nie. Ons wil nie die moeite doen om ons kinders regtig te leer verstaan nie. Die omgekeerde hiervan is natuurlik regverdigheid. Ons behandel ons kinders regverdig wanneer ons vra: “Wat dink jy het verkeerd geloop? Wat dink jy wil jy volgende keer anders doen?” Die antwoord sal vir ons wys of ons kinders dissipline nodig het. Dikwels het die lewe hulle klaar ’n les geleer en kan ons hulle net ’n drukkie gee en bemoedig: “Ek is seker volgende keer sal dit beter gaan, want jy het ’n plan.”
Kinders se verhouding met hulle ouers ly skade weens uitbarstings sonder dat die verhouding herstel word. Dit gaan hier oor die dinge wat ons vir ons kinders sê, daardie seermaakwoorde in die hitte van die oomblik. Die woorde wat ons partykeer probeer toemaak onder ’n verskoning soos: “Ek is ’n bietjie humeurig, want dit was ’n moeilike dag. My kind moet verstaan ek werk ontsettend hard.”
As jy vandag ’n vlieg teen die muur in ’n sielkundige se spreekkamer kon wees, sou jy sien hoeveel mense in hulle 30’s en 40’s deur bokse sneesdoekies gaan soos hulle huil. Nie oor wat vriende aan hulle gedoen het toe hulle nog op skool was nie. Nie oor hulle lewensmaats of hulle kinders nie. Nee, oor die pyn wat hulle steeds ervaar as gevolg van stukkende verhoudings met hulle ouers. Dit is die heel grootste bron van seerkry in mense se lewe.
Dikwels speel daar ’n refrein in kinders se agterkop van frases en sinne wat hulle ouers gesê het en wat steeds soos dolke in hulle harte steek. Spreuke sê mense wat onverskillige dinge kwytraak en agterna net sê hulle is jammer, is soos iemand wat brandende pyle afskiet. Ons almal het al sulke brandende pyle afgeskiet, ook na ons kinders. En ons sal hierdie wonde moet versorg. Hoe? In nederigheid op jou knieë, ’n posisie waarin die meeste ouers hulle selde bevind.
Die skade van uitbarstings kan ons omkeer deur emosionele verantwoordelikheid te aanvaar. Ons almal gaan soms “losgetorring” raak, maar dan moet ons opreg om verskoning vra sonder om ons kinders, ons omstandighede of ons temperament vir die uitbarsting te blameer. Ons kan ons woorde terugtrek: “Ek het gesê jou gekla maak my gek. Dis nie waar nie. Ek raak gefrustreerd omdat ek nie genoeg slaap nie en nie kalm kan bly en nugter dink nie. Dis nie jou skuld nie. Vergewe my asseblief dat ek jou beskuldig het.”
Miskenning vernietig verhoudings. Dit gebeur dikwels subtiel, soos om jou kind se belangstellings af te lag. Dit is om vir jou kind te sê: “Ja, ja, gaan speel nou maar rugby, maar ek dink dit is ’n simpel sport.” Dit is om te sê: “Ek hoop nie jy verwag ek moet die hele aand daar sit net om jou vir tien minute op die verhoog te sien nie.” Dit is om die slegste van jou kind te glo en die goeie eienskappe en talente heeltemal mis te kyk. Erkenning deur beskrywende lof te gebruik herstel kinders se geloof in hulleself: “Jy is versot op raaisels en kulkunsies. Dit wys vir my jy hou daarvan om mense te laat wonder en dink. Dit is seker omdat jou brein die hele dag aan die gang is en die Here jou met ’n groot verbeelding geskep het.”
Toe Lyndon B Johnson as president van Amerika ingehuldig is, het iemand pragtige dinge oor hom gesê. Sy reaksie het baie gesê oor sy verhouding met sy pa en sy ma. Hy het geantwoord: “This is a moment that I deeply wish that my parents could have lived to share. My father would have enjoyed what you have so generously said of me, and my mother would have believed it.” Sal dit nie wonderlik wees as ons kinders weet hulle ma en pa sal al die mooi dinge wat ander oor hulle sê, glo nie?
Nog iets wat die jongmense vir Gary Smalley genoem het, was die onbetrokkenheid van ouers. Ek glo dit is nog een van die nadelige uitvloeisels van ons lang werkure. Ma’s én pa’s werk te hard. Ons kinders voel aan wanneer ons hulle soos ’n lastige taak op iemand anders afskuif sodat ons met “ons” lewe kan aangaan. Betrokkenheid by ons kinders beteken nie ons moet elke oomblik by hulle wees nie, maar wel dat ons sal belangstel in wat hulle doen en ingelig sal bly oor waar hulle is, wat hulle doen, wie hulle onderwysers en afrigters is, wat hulle beleef en waarvoor hulle ons nodig het.
Toets elke kind se behoefte aan betrokkenheid, want kinders se afhanklikheid wissel volgens hulle ouderdom. Vra vir jou kind: “Sal dit vir jou lekker wees as ek jou weg-wedstryd kom kyk? Wil jy my by die skaaktoernooi hê of maak ek jou senuweeagtig as ek daar is? Is daar nog ouers wat nie die konsert kon bywoon nie of was jy die enigste een wie se ouers die gala-aand gemis het? Was dit vir jou sleg? Help dit as ek en jou juffrou soms oor jou en die wiskunde gesels of is sy kwaaier met jou as ek met haar gepraat het?” Moenie aannames maak nie. Ek was al baie verbaas oor waar en wanneer my kinders my by hulle wou gehad het of gewens het ek was liewer nie naby nie.
Die jongmense in Smalley se navorsing het ook hulle ouers se ontoeganklikheid genoem. Party ouers voel vir hulle kinders soos ’n geslote deur. Daar hang ’n bordjie om ons nek waarop staan: Baie besig. Moenie pla nie. Wanneer ons kinders wel na ons toe kan deurkom, is ons skepties, krities en onverdraagsaam. Baie gou besef kinders hulle wil liewer nie deur die deur na ons toe stap nie, want agter die toe deur wag iemand wie se hart ook toe is. Iemand wat nie wil luister nie. Iemand wat nie die moeite wil doen om te verstaan nie. Iemand wat so ver van hulle leefwêreld verwyderd is dat hulle buitendien nie kan verstaan nie.
Ons kan die deur tussen ons en ons kinders wyd oopmaak deur met ’n sagte oor en ’n toe mond na hulle te luister. Deur ’n gesprek uit te nooi: “Kom vertel vir my, want ek wil graag verstaan, selfs al kan ek nie raad gee nie.” So ’n ouer is toeganklik.
Veeleisendheid skep ook ’n probleem. Die Bybel waarsku ons daarteen. Kinders raak verbouereerd en moedeloos wanneer hulle beste net nooit goed genoeg is nie. Ons is baie skuldig hieraan in vandag se mededingende wêreld waarin daar geweldig baie druk op kinders is om te presteer. Ons moet onthou dit kan kinders se Godsbeeld skade aandoen.
Hulle dink dan die Here is soos hulle ouers: Die Here verwag ook van hulle om altyd te wen, om altyd die beste te wees en om altyd hard te werk om liefde, erkenning en aanvaarding te ontvang. In hulle binneste vermoed hulle dat hulle nooit die paal sal haal nie. Nie by hulle ouers nie, en ook nie by die Here nie. Genade is die keersy van veeleisendheid. Kinders wat foute mag maak, wat begrip ontvang wanneer hulle nie wen nie of nie weer die medalje verower soos die vorige jaar nie, weet dat hulle op hulle ouers se onvoorwaardelike liefde kan staatmaak.
Ouers bewandel die skeidslyn tussen dissipline en genade – waardes moet vasstaan selfs wanneer omstandighede verander en daar ’n oproep is om te buig en uit jammerte in te gee. Dit is die grootste uitdaging om tegelyk ferm en vloeibaar, sag en sterk, redelik en rotsvas te wees.
– Kristin Armstrong, Olimpiese fietsryer
Mishandeling van enige aard is ’n groot bron van kommer. Mishandeling hoef nie noodwendig liggaamlike geweld of seksuele molestering in te sluit nie. Min dinge is so vernietigend soos emosionele verwaarlosing. Ouers verbied hulle kinders om te huil of noem hulle dom, stadig, lastig, moeilik, stout, onleerbaar, ’n “ongelukkie” of ander vernederende woorde. Wie sal uit die mond van iemand wat jou so seermaak ook ’n Bybelversie wil hoor en boonop glo? Wie wil dieselfde God dien as die een wat jou emosioneel so afkraak?
Die omgekeerde van mishandeling is deernis en respek. Dit bou ’n kind weer op. God se beeld is immers in ons kinders en wanneer ons hulle beledig, beledig ons die Here se kunswerk waarvoor Hy sy Seun gestuur het. Kinders is nie minder werd as hulle ouers nie. Ons kinders het net soveel waarde soos ons. Ouers wat dit onthou en daarvolgens optree, sal nie hulle kinders mishandel nie. Hierdie ouers se kinders leer uit hulle ouers se voorbeeld om ander mense se waarde te verdedig. Gesinne wat emosionele afkraking nie duld nie, kan ons land se boeliekultuur radikaal omkeer.
Iets wat selfs Christenouers, volgens Smalley, soms doen, is om hulle kinders te verwerp. Hierdie verwerping is baiekeer subtiel. Elke woord, elke gesigsuitdrukking, elke gebaar of elke optrede van ouers stuur vir hulle kinders ’n boodskap oor hulle eiewaarde. Dit is hartseer dat ouers nie besef watter boodskappe hulle uitstuur nie. Verwerping is nie net om jou kind by die voordeur uit te gooi en die deur agter hom of haar te sluit nie. Verwerping is nie net om ’n kind uit jou testament te haal nie. Verwerping is om op enige manier vir jou kind die boodskap te stuur dat hy of sy nie welkom is in jou lewe nie. Dat jou kind nie is wie jy gehoop het hy of sy sal wees nie. Dat jou kind nie jou moeite, jou tyd, jou liefde en jou opofferings werd is nie.
Mason Cooley het gesê: “Hatred of the mother is familiar, but the mother’s hatred still comes as a surprise.” Is dit nie so waar nie? Dit is amper normaal dat kinders by die skool of by maats kla oor dit of dat wat hulle ma gedoen het of oor hoe sy is, maar hoe ontstellend is dit wanneer kinders uit ’n ma se gedrag, uit haar afwesigheid, uit haar irritasie, uit haar onverdraagsaamheid die boodskap ontvang dat sy nie vir hulle lief is nie?
Die teenpool van verwerping is aanvaarding, wat ook deur ons woorde en dade gekommunikeer word. Ek het ongelukkig van nature ’n ernstige gesig. Ai, as ek maar my mondhoeke chirurgies boontoe kon laat krul sodat my kinders op my gesig kon sien dat ek oor hulle glimlag, sou ek dit gedoen het. Maar omdat my gesig dit nie altyd wys nie moet ek ekstra moeite doen om seker te maak my kinders weet ek is lief vir hulle net soos hulle is. Ek spel dit uit: “Ek hou daarvan wanneer jy met my redeneer, want ek geniet so ’n verstandelike toutreksessie. As ek my beste argument uithaal, is dit regtig nie om jou te probeer wen nie. Dis maar net my gimsessie vir die dag. Ek hou van hoe jy dink en jy mag maar anders as ek dink. Bring volgende keer weer jou unieke perspektief. Dis wat die debat tussen ons so lekker maak.”
Om baie tyd saam met ons kinders deur te bring en die verhouding tussen ons en ons kinders te koester, bou die brug tussen ons harte en hulle s’n. Dit maak dit soveel makliker vir ons kinders om die geestelike aflosstokkie van ons geslag af stewig in hulle hande oor te neem. Koop die tyd uit en doen moeite om die verhouding te herstel wanneer jy die skerwe op die vloer hoor val. Gebruik die brug tussen jou en jou kinders se hart om ’n groot geestelike erfporsie vir hulle na te laat, een wat baie meer werd is as die Krugermiljoene.
KLANKBORD
VRAAG: Ek dink ek raas te veel met my kind. Ek is so bang ek mors die eerste sewe jaar van haar lewe op. Op alle terreine. My bang kan ek nie in hierdie min skryfplek inpas nie. Dis baie groter as dit. Vir my lyk dit of sy aandag soek. Of sy probeer snaaks wees. Sy sê nie iets net een keer nie; sy sê dit oor en oor en oor totdat sy ’n reaksie kry. Sy sal kliphard lag of skreeuend praat. Tog het sy ’n baie volwasse kant. Sy kan soms so mooi met haar sussie praat. ’n Regte ousus wees. En sy word nou maar eers vier. Ek kan haar gedrag tot op ’n punt duld, maar dan ontplof ek. Ek is baie, baie bekommerd dat ek hierdie kind van my breek en nie opbou nie. Ek probeer so hard om haar in ’n Christuskind met hoë waardes, goeie maniere en selfvertroue te vorm.
ANTWOORD: Ek dink dis die ouers wat nié bang is vir droogmaak nie vir wie ons moet bang wees. Ouerskap is oorweldigend. Ek weet daarom wat jy bedoel wanneer jy sê jy breek soms af waar jy moes opbou. Ons almal is skuldig hieraan, maar die goeie nuus is: Daar is ruimte vir foute in ons ouerskap. Daar is vergifnis, genade en wonderlike herstel.
Ek hoop jy sal die tyd kan vind om jou kind se temperament te leer verstaan (én jou eie), want hierdie insig help ons baie om ons doelwitte in hulle opvoeding vas te stel. Sekere dinge in jou dogtertjie kan en moet gesnoei word, maar ander dinge hoef nie. Jy behoort nie haar persoonlikheid te verander nie, maar wel haar gedrag. Wanneer jy haar belangrikste behoeftes verstaan en vervul, kan jy in ander opsigte baie streng wees sonder om haar te knak. Haar geaardheid bepaal ook waar jou kind die meeste insette nodig het om soos Jesus te kan word.
Sommige kinders se groot uitdaging is selfsug; ander s’n is opstandigheid. Party kinders moet hulle impulsiewe gedrag leer beheer, terwyl ander moet leer om te glo en te waag. Mag die Here vir jou wys wat die belangrikste kwessie is wat jy moet hanteer en watter kleinighede jy behoort te aanvaar as deel van jou dogter se unieke karakter.