Читать книгу Die jaar toe Emma begin kook het - Ilse de Korte - Страница 3
Proloog: Maanskyn en merlot
ОглавлениеDie mes tref die muur langs Marius se kop en val met ’n gekletter op die teëlvloer. Emma sien hoe hy geskok afkyk na die mes by sy voete en toe met koue oë na haar wat agter die vlekvryestaaltoonbank staan.
“Loop! Nóú. En jy sit nie weer jou voete hier nie.”
“Geen probleem,” kap sy koud terug en gryp die sak messe wat voor haar lê. Sy storm om die toonbank en moet ongelukkig by die deur aan die man se voete neersak om haar mes op te tel. Sy oorweeg dit vir ’n oomblik om die ding net daar te los, maar dit gaan geheel en al teen haar grein in om ’n Wüsthof van eenduisend rand in hierdie walglike man se kombuis agter te laat.
Sy gryp die mes, strek haar tot haar volle lengte uit en baan haar pad driftig maar statig deur toe. ’n Geskokte stilte het oor die kombuis neergedaal. Sy kan aanvoel hoe al die personeellede haar net staan en aanstaar. Die bloed suis in haar ore.
Emma loop teen so ’n spoed uit dat sy amper haar balans verloor toe sy op ’n olierige kol gly. Nie dít ook nog nie. Hierdie dramatiese exit van haar is veronderstel om ’n stelling te maak, nie te veroorsaak dat sy op haar alie beland nie.
Die ent na haar kar toe voel soos ’n kilometer onder al die oë wat op haar gerig is. Sy pluk die deur van haar Golfie oop, gooi die sak messe op die passasiersitplek neer en is sommer lus en steek iets stukkend met die los mes wat steeds in haar hand is. Sy plak dit maar eerder ook langs haar neer en trek in ’n vlaag modderreën daar weg.
Sy ry gans te vinnig op die nat grondpad, maar is te kwaad om nou te let op veiligheid en spoedbeperkings. Mag sy maar van die pad af ry en ’n einde bring aan hierdie pyniging wat haar lewe pas geword het!
Dis eers toe sy die teerpad terug na Upington haal en amper voor ’n vragmotor vol skape in ry dat sy weer gedeeltelik bewus raak van wat om haar aangaan. Die uitgerekte getoet van die lorrie ruk haar uit haar woededwaal uit. Toe sy van die pad af uit die baan van die lorrie uit swaai, ruk die kar dood en vir ’n paar oomblikke kan sy net sit en staar.
Haar hande bewe op die stuurwiel toe sy uiteindelik wel die draai op die hoofpad vat. Namate die adrenalien in haar liggaam afneem, dring die besef deur van wat pas gebeur het, en daarmee saam kom die trane. Sy begin tjank dat die pad voor haar swem.
Haar lewe is verby. Sy sal haar tuinwoonstel op die dorp moet prysgee. Sy sal weer by haar ma-hulle op die plaas moet gaan bly. Sy sal van nuuts af moet begin werk soek. Sy sal vrae moet aanhoor oor hoekom sy nie meer soos haar perfekte broer kan wees wat alles net reg doen nie. Hy is dan al getroud en het ’n kleinkind vir die ouers gebied. En sy? Sy maak net moles by die een werk ná die ander.
Tannie Grieta staan in die tuin en blomme pluk toe Emma die blou Golfie by die oprit intrek. Sy val omtrent by die kar se deur uit en strompel na die sydeur van haar blyplek.
“Jy’s vroeg terug, hartjie. Hoe was die troue?”
Dis net mooi genoeg om haar weer aan die grens te sit. “Ek kan nie nou met tannie praat nie. Sal môre als vertel.”
Haar ma sal seker vir haar sê sy was pas ongeskik, maar daaroor kan sy haar regtig nie nou bekommer nie. Sy wil net in haar kamer kom. Stil en veilig en uit die oog uit. Sy wil ’n bottel wyn oopmaak en op die bank gaan sit en vergeet van hierdie diaboliese dag.
Sy sluit die deur agter haar toe en pluk die sjefbaadjie oor haar kop. Sy slinger die kledingstuk weg en skop met ewe veel irritasie haar Birkenstocks uit. Die een tref die kitaar in die hoek dat dié met ’n getwêng omslaan.
Sy loop na die kombuistoonbank, haal ’n wynglas uit die kas en soek die kurktrekker. Die eerste bottel waarop sy haar hand sit, is ’n merlot, en sy trek dit uit die wynrakkie. Haar geruite broek trap-trap sy sommer net daar in die kombuishoekie van haar lyf af terwyl sy die kurk uittrek.
In net haar broekie en T-hemp, met die glas in die een hand, die bottel in die ander en die punt van die duvet onder haar arm vasgeknyp, gaan klim sy op die bank en gooi haar toe. Dis eintlik te warm vir die duvet, maar sy het die beskerming nodig. Sy wil haarself in ’n kokon toetjank.
Ná die eerste glas grens sy behoorlik. Sommer oor alles: Oor haar werk wat nou nie meer is nie, oor honger kinders in Afrika, oor haar ouma wat drie jaar gelede al oorlede is en oor haar kat wat dood is toe sy twaalf was. Alles waaroor sy al vir jare wou huil, kom in groot, onelegante, snotterig snikke uit.
Sy tjank haar pad deur die bottel wyn en raak op die ou end net daar op die bank aan die slaap.