Читать книгу Die jaar toe Emma begin kook het - Ilse de Korte - Страница 6
Februarie: Sit met die gebakte pere
ОглавлениеDie weeklikse vergaderings met Henry en Wouter word ’n instelling Maandagoggende tussen ontbyt en middagete wanneer dit nie so besig is nie. Wouter wat gewoonlik suur en ongeskeer kom sit, dra min by, terwyl sy en Henry vir die komende week beplan.
“Kom ons gesels oor Valentynsdag. Dis oor twee weke. Ons sal vinnig moet beplan en ’n advertensie in die Hermanus Times kry. Wouter, wat het jy in gedagte gehad?”
“Ek en Bertus het al in Desember beplan wat ons Valentynsdag gaan doen,” sê Wouter ietwat snipperig vir Emma. Hy het haar die afgelope maand ook al mooi laat verstaan dat sy nie die briljante Bertus is nie. Dit is nou die einste Bertus wat sy goed gevat en in die middel van aandete uitgestap het nadat ’n gas gekla het dat sy vis oorgaar is. Nie juis die drama wat Emma vermoed het nie. Sy was seker daar moet ’n lekker storie wees, maar almal kan seker nie messe gooi en al die gaste in ’n restaurant voor die voet vergiftig nie. Vermoedelik was hy net gatvol vir die hele spulletjie en was die vis die laaste strooi.
“Nou maar laat ek hoor. Ek is bly ons het al iets in die pyplyn,” borrel Emma voort.
“Vir voorgereg het ons gedink aan ’n sampioensop-cappuccino met gegratineerde kaas bo-op, of ’n springbok-carpaccio met avokadomousse. Die hoofgereg sal ’n keuse tussen vis of filet wees en die nagereg ’n sjokolademoussetert, of roomys met sitrussous.”
Emma bly ’n oomblik stil sodat sy haar woorde mooi kan kies. Wat sy eintlik vir hom wil sê, is dat dit ’n boring spyskaart is. Wie op aarde wil nou spesiaal bespreek op Valentynsdag en dit nogal vir avokadomousse? Sy byt egter op haar tande.
“Dit klink … um, lekker, maar jy weet, avokado’s is nie nou in seisoen nie?” wurg sy uiteindelik vreeslik ordentlik uit. As sy nie met Wouter saamstem nie, gooi hy weer ’n tantrum en is daar vir die volgende dag nog minder met hom huis te hou. Sy kan hom nie in hierdie kritieke stadium vervreem nie.
“Man, ek is seker iemand sal vir ons kan lewer.”
Weer byt sy op haar tande. Sy wil die man sommer ’n klap gee.
“Fine, dan laat ek dit aan jou oor.”
Is sy nou self van haar sinne beroof? Hoekom paai sy die swaap heeltyd? Met ’n knop op haar maag kyk sy hoe Wouter opspring en in die kombuis verdwyn.
Sy sal haar moet staal. Hier kom ’n ding.
Die ou skoolvriend van Emma se ma besit toe sowaar een van die geboue in die hoofstraat net oorkant die ou klipkerk. Die een kant van die gebou bestaan uit winkelspasie, ’n kettingwinkel en ’n fabriekswinkel, en die agterkant van die gebou, wat uitkyk op die see, bestaan uit twee woonstelle. Die eienaar gebruik die een woonstel as vakansiewoonstel en die ander een verhuur hy. Omstandighede het boonop reeds in haar guns gedraai, want die vorige huurder het skielik verdwyn sonder om sy kontrak deur te sien en natuurlik sonder om te betaal.
Die middag van Valentynsdag gaan Emma drieuur huis toe om vir ’n halfuur van haar voete af te kom en te stort voor die groot aand. Die woonstel is ’n wakker drafstappie van drie minute van die restaurant af. In die oggend voordat sy ’n hardebaard-koffie in het, gaan dit natuurlik effens stadiger, maar sy hoef haar motor byna nooit meer te gebruik nie.
Emma is nie gerus oor die aand nie. Sy vertrou Wouter se voorbereiding beslis nie en die klomp sif casuals wat Henry op sy lys het, laat haar hare rys. Terwyl sy agter die stoof staan, kan sy nie boonop seker maak alles loop voor reg nie. Sy moet maar net die beste van die aand maak en dinge vat soos dit kom.
Toe sy net ná vieruur inloop om met die voorbereidings te begin, het Yvette en die ander personeellede die plek reeds in ’n sprokieswêreld verander. Daar is veelkleurige liggies orals in die bome, rooi hartjies op die tafels en roosblare op die vloer.
“Wel, ten minste hoef ek my nie hieroor te bekommer nie. Dankie, Yvette.”
“Plesier, sjeffie, maar ek dink jy moet gaan kyk wat vang Wouter aan. Hy is netnou met ’n hamer hier deur.”
“Wat?”
Emma loop teen ’n redelike pas kombuisdeur toe en gly op die roosblare. Sy gryp net betyds na die buffet wat langs die kombuisdeur staan, maar sien reeds in haar geestesoog hoe ’n kelner nog vanaand met ’n vol bord kos in sy hande gly. Sy draai om om vir Yvette te sê dat die roosblare ’n gevaar is, maar toe sy die selfvoldane trek op Yvette se gesig sien terwyl sy haar handewerk aanskou, kan sy dit nie oor haar hart kry om te sê hulle moet die blare eerder opvee nie.
Net toe Emma by die deur inkom, is Wouter besig om iets met die hamer te moker.
“Wouter, wat de hel maak jy?” vra Emma terwyl sy probeer sien wat hy besig is om by te dam. ’n Avokadopeer.
“Die goed is groen!”
Magtig, is dit nie presies wat sy gesê het toe hy met die simpel spyskaart vorendag gekom het nie?
“Ja, Wouter, dis nie avokadoseisoen nie. Jy was egter baie seker dat jy ryp avokado’s kon kry.”
Uit pure bedonderheid mik Wouter weer met alle geweld na die avokadopeer, mis die ding geheel en al en slaan sy hand raak. Wouter gil; die avokadopeer skiet in die een rigting terwyl hy die hamer in die ander rigting gooi, op en af spring en sy bebloede vingers vasgryp.
En net daar het Emma genoeg gehad van rondtrippel om Wouter se fyn ego en delikate aura.
“Ag, Wouter, ek het nou net mooi genoeg gehad van jou en jou buie. Loop tog net. Gaan dokter toe, laat daai hand versorg en dan praat ons môre oor hoe ek en jy in die toekoms in harmonie sal kan saamwerk.”
“En Emma, ek is ook hartlik siek van jou holier than thou attitude. Ek hoor jy het ook ’n lekker humeur aan jou. Is dit nie juis hoekom jy by jou laaste werk weg is nie?”
Emma word blind van woede, maar sy konsentreer om diep asem te haal en haarself en Wouter nie verder voor die ander personeellede in die verleentheid te stel nie. “Wouter, ek dink jy praat nou oor dinge waarvan jy niks weet nie. Loop asseblief sodat ons die aand op dreef kan kry. Ek en jy kan môre verder praat.”
“Ek bedank. Bertus het sy eie plek nou oopgemaak en ek gaan saam met hom op Onrus werk.”
“Wel, great. Baai.”
Emma gaan plak haar sak messe met ’n slag agter die toonbank neer en kyk na die gemors wat Wouter gemaak het.
“Lena, kom maak asseblief hier skoon en ontsmet die toonbank.”
Sy loop na die instap-yskas en maak die deur agter haar toe. Sy sug diep en gaan staan teen een van die rakke om te kalmeer. Gepraat van dramatiese tydsberekening …
Sy bly ’n rukkie staan en wag dat haar asemhaling bedaar en sy ophou bewe. Sy wil nie voor die ander wys dat sy eintlik goed wil begin rondgooi nie. Sy probeer regtig hard om haar humeur te beteuel.
Sy haal nogeens diep asem en stap met mening uit om die spulletjie aan die gang te kry. Dit is die laaste aand van chaos in hierdie plek, belowe sy haarself. Van nou af is sy geheel en al in beheer.
Sy draai ’n voorskoot styf om haar middel en begin haar mes skerp maak, meer om te fokus as enigiets anders, want haar messe is altyd voor diens gereed en vlymskerp.
Sy gaan noukeurig deur die spyskaart en neem gou ’n paar besluite.
“Sharon, gaan Woolies toe en koop vir ons twintig bakkies guacamole. As daar avokado moet wees, gaan dit ongelukkig nie vars avokado wees nie. Sam, hoe vorder die sop?”
“Dis klaar, sjef, dit moet net aan die einde gegratineer word met die kaasmousse. Wouter sou die mousse gemaak het.”
“Gaan haal dit vir my, asook die brander dat ek die storie kan toets.”
Sy het van die begin af nie met die donderse Wouter se resep saamgestem nie. Hoekom wou sy hom nie omkrap nie? Sy moes hom nooit net laat begaan het nie. Gelukkig het hulle ooreengekom dat sy die hoofgereg sou hanteer en dat hy net die voorgeregte sou maak. Maar nou is hy en sy ego in elk geval by die deur uit, en sit sy met die gebakte pe- … e … avokadopere.
Toe Sam die bak kaasmousse uit die yskas haal, sak Emma se moed in haar skoene. Die spulletjie het geskif en dis een groot, loperige gemors onder in die bak. Om alles te kroon is die brander se gas ook gedaan en sal niks in elk geval gegratineer kan word nie.
“Toemaar, dit sê cappuccino, en ons sit roomskuim bo-op. Niemand sal van beter weet nie,” besluit Emma vinnig.
Die eerste bespreking is vir sesuur, en twintig voor ses roep sy al die kelners bymekaar om aan die kos te kom proe en saam met hulle deur die spyskaart te gaan. Sy ken die gewone klomp, maar hier is vanaand ’n paar gesigte wat sy nog net enkele kere gesien het.
Daar is ’n lang man in sy veertigs wat sy al een keer vantevore aan diens gesien het. Sy kan hom ruik – soet naskeermiddel en knoffel – waar sy staan.
“Ekskuus, wat is jou naam?”
“Geoff,”antwoord hy.
“Geoff, hoor hier, jy het te veel naskeermiddel aan. Dit beïnvloed die gaste se reuk- en smaaksintuie. Gaan probeer asseblief om dit af te was.”
Toe Emma die spyskaart klaar verduidelik het, loop Geoff na die personeelbadkamer, en kom staan Yvette by haar.
“Sjeffie, Geoff drink. Dis hoekom hy so baie naskeermiddel gebruik. Dit steek sy drankasem weg. Dít en die knoffel.”
“Hoe weet jy dit, Yvette?”
“Hy is al jare op die dorp en Mister Greg het hom al hoeveel keer hier weggejaag.”
“Nou wat maak hy vanaand weer hier?”
“Henry het gedink ons het nie genoeg staff nie, met dié dat ons vol is en alles.”
“Yvette, jy gaan ’n ogie oor hom moet hou. As hy moeilikheid maak, kom sê jy my.”
“Goed, sjef.”
Nadat al die voorgeregte bedien is, lyk dit net asof hulle kop deur is, toe die eerste ongeluk van die aand plaasvind – dis nou as Emma Wouter se bebloede hand en uittog nie tel nie. Sy kom agter dat Geoff elke keer ’n paar minute laat is om sy bestellings te kom haal.
Sy wonder net waar hy is toe sy ’n gekletter by die kombuisdeur hoor en Geoff letterlik met die deur in die kombuis val. Hy het sowaar op die roosblare gegly en die deur met ’n stapel leë borde in sy hande getref. Daar is niks wat sy val stuit nie, en hy beland op die borde. Daar is ’n oomblik van geskokte stilte in die restaurant voordat Yvette vir Geoff binnetoe kan sleep en sy Lena aansit om die skerwe te kom opvee. Bongi staan net haar kop en skud.
Geoff moes sy een hand aan ’n bordskerf gesny het, want dit bloei asof hy ’n slagaar getref het.
“Nóg bloed. Wie wil hom of haar nog vanaand in hierdie kombuis probeer doodbloei?” gil Emma. “Layla, daar is nog nie koffiebestellings nie. Kry die eerstehulpkassie gou en verbind Geoff se hand. Lena, was dadelik daai bloed van die vloer af.”
“Reg, sjef,” sê Layla. En Lena staan klaar gereed met die sproeibottel ontsmettingsmiddel.
Geoff is nie baie vas op sy voete nie, maar Emma het te veel porsies vis en vleis om op tafel te kry om haar verder oor hom te bekommer.
Dinge bedaar weer so half en Emma wil net-net asem skep toe Yvette ingestorm kom: “Sjef, Geoff het op my gespoeg.”
“Wat?” Dis blykbaar vanaand Emma se standaardvraag.
“Ek het op hom afgekom terwyl hy ’n bottel Jack by die kroegtoonbank gesteel het en toe ek hom vra wat hy doen, vloek hy my en spoeg op my.”
“I didn’t shpit at you.” Almal kyk na waar Geoff swaaiend in die deur staan.
Kleintjie en Shortie, wat agter Geoff inkom, gaap die hele spulletjie letterlik oopmond aan.
“Kleintjie, gaan haal vir Henry en sê vir Angela sy moet by hom oorneem.”
“Yvette, kalmeer en gaan was jou gesig. Geoff, gaan staan buite en wag vir Henry. Shortie, vat hierdie laaste order na tafel nege.”
Henry kom in, slaan die hele spulletjie gade en fluit deur sy goue tand. “En nou, sjeffie?” vra hy.
“Sit hierdie man in ’n taxi huis toe en maak seker dat hy nooit weer sy voete hier sit nie. Hoor jy my? Al is ons sewe waiters kort, wil ek hom nooit weer sien nie.”
“Reg, sjeffie. Hy’s gone.”
“You can’t do that! Ek sal julle na die CCMA toe vat.”
“Probeer dit net. Jy is dronk op die job. Dis genoeg rede vir onmiddellike ontslag,” sis Emma.
Saam met Sement en Layla kry hulle die nagereg weg en kom die chaotiese aand tot ’n einde. Verbasend genoeg kla nie een van die gaste nie, en is daar geen verdere insidente met die personeel of die roosblare nie.
“Seker maar die liefde wat die mense vanaand so tolerant gemaak het. Al Geoff se tafels moes vir hulle kos wag. Kom, almal in die restaurant in,” kondig Emma af toe die laaste gaste weg is en Kathy die kasregister gebalanseer het.
Emma vra vir Kleintjie en Shortie om glase aan te dra, en sy gaan haal ’n paar bottels vonkelwyn in die kroeg.
“Julle, ons het die aand oorleef. Maar weet net, dis die laaste keer wat so iets ooit in hierdie restaurant gebeur.”
“Cheers, sjeffie,” kom dit van die Henry af.
“Cheers,” eggo die res van die personeel.
Emma haal haar serp af, vee haar voorkop met ’n vadoek af en lig haar glas vir die meisie wat langs haar staan. Wie’s dit nou weer? Sy sien die meisie is swanger. O ja, dis Nadine.
“Wat doen jou man, Nadine?” vra sy.
“My man is ’n poutser, sjeffie, maar ons is nie getroud nie.”
Emma frons, effens verward. Poutser? O, seker poacher. Dis beslis ’n ander wêreld dié. Maar dis nou háár wêreld en haar mense. Die aand was miskien ’n comedy of errors, maar hulle het dit oorleef.