Читать книгу Die jaar toe Emma begin kook het - Ilse de Korte - Страница 5

Januarie: Op dié mes kan jy Hermanus toe ry

Оглавление

Emma staar na die telefoon. Sy sit al byna vyftien minute in haar pa se studeerkamer en staar. Hoekom is sy nou skielik met stomheid geslaan? Sy is mos nie op haar bek geval nie. Sy skud haar kop, pluk die telefoon van die mik af en bel die nommer in die advertensie. Ná drie luie antwoord iemand: “Chantilly Restaurant. Goeiemôre.”

“Um, goeiemôre. Ek wil asseblief met Henry praat in verband met die advertensie vir ’n nuwe sjef.”

“Ja, dis Henry wat praat, skattie, maar moenie so formeel wees nie. Jy laat my dink ek het iets verkeerd gedoen en moet skoolhoof toe.”

Emma weet nie wat om te sê nie. Is dit ’n grap? ’n Toets? Sy het nie gedink sy is so danig formeel nie.

“En waarom is jy skielik so stil, skattie? Ek spot sommer. Wil jy apply?”

“Ja, ek wil graag aansoek doen, asseblief.”

“Oe, dan is die Afrikaans nog so perfek ook.”

“Van wanneer af is die pos beskikbaar?”

“So gou moontlik. Mister Greg … dis nou die eienaar, is op die oomblik oorsee, en onse gewone chef het laas week sy goed gevat en geloop. Die kinders sukkel so ’n bietjie in die kombuis. Hoor hier, e-pos vir my ’n bietjie jou CV, en dan kyk ons of jy goed genoeg vir onse restaurantjie is.”

“Dankie, ek sal dadelik. Wanneer dink julle sal julle onderhoude voer? Sal die eienaar vir die onderhoud terugkom?”

“Nee, skattie, Mister Greg sal nie nou terugkom nie. Hy sal jou op die computer bel. Dan kan hy mos sien en hoor of jy geskik is.”

Nadat Henry vir haar die restaurant se e-posadres gegee het en hulle nog so ’n rukkie oor die hele opset gesels het, stuur sy onmiddellik die CV deur en hoop vir die beste. Henry klink ten minste vriendelik. Sy sien nie weer kans vir nog ’n Marius nie; aan die ander kant moet sy eers vasstel wie hierdie Greg-vent is. Dalk is hy die Marius van die plek … hoewel dit nie klink of hy veel betrokke is nie. Soos sy van Henry kon aflei, bring hy die meeste van sy tyd by sy huis in die Dordogne deur en vlieg hy net elke dan en wan hierheen om te kom kyk dat als nog reg is.

Twee dae later bel Henry haar weer: “Skattie, jou CV het Mister Greg lekker impress. Hy gaan jou vanmiddag op die computer bel. Wat is jou Skypenaam?”

“O, dis wonderlike nuus, dis sjefemma.”

“Goed, skattie, hy praat vanmiddag met jou. Drieuur. Jy klink vir my nice. Praat nou mooi met Mister Greg dat ons jou in person kan ontmoet, man.”

Emma wil begin giggel: “Dankie, Henry, ek sal mooi praat. Ek belowe.”

Om presies drieuur gaan sit Emma voor haar rekenaar. ’n Skypekontak van Greg van Heerden wag al vir haar. Sy klik “aanvaar” onmiddellik en wag totdat hy bel. Daar is nie ’n foto van hom nie. So tipies man. Sy wil sien hoe hy lyk, maar dis net daardie simpel silhoeët van kortgeknipte hare waarna sy staar. Toe kom die oproep skielik so luid deur dat sy wip. Vir wat skrik sy so?

“Hallo,” antwoord Emma.

’n Beeld van ’n man kom op die skerm, maar wil-wil net nie in fokus kom nie. Die beeld bly in klein blokkies vervorm en verdwyn dan.

“Emma, dis Greg van Heerden hier. Kan jy my hoor?”

“Ja, ek kan. Die beeld is net nie duidelik nie, jy bly verdwyn.”

“Ek kan jou duidelik sien.”

“O … um.” Emma kom nie verder nie.

“Toemaar, kom ons sit die beeld eerder af. Dit sal die storie makliker en vinniger maak.”

Sy wil net protesteer, haar nuuskierigheid nou buite perke, toe die dowwe blokkies op die skerm voor haar verdwyn.

“Goed, kom ons begin. Vertel my eers ’n bietjie van jouself.”

Dis darem ’n heel maklike begin. Sy val weg met haar kwalifikasies en werksondervinding.

“Ja, juffrou Lategan, ek kan lees. Ek sien jy was by die ICA op Stellenbosch en dat jy ’n draai as vakleerling van Heston Blumenthal by die Fat Duck in Berkshire gaan gooi het voor jy besturende sjef op Oranjedrif was. Ek wil meer omtrent jóú weet. Wat is jou gunstelinggereg wat jy graag vir jouself maak, en watter wyn sal jy daarby bedien?”

Dít is nie ’n vraag wat Emma verwag het nie. Sy knip haar oë ’n paar keer, sluk, en net toe sy wil begin praat, kom daardie diep stem weer deur haar luidspreker.

“Juffrou Lategan? Is jy nog met my of het jy tussen die karakoele in gehardloop?”

Ja, hy het ’n mooi stem, en dit bring haar sommer weer opnuut van stryk af.

“Nee, ek is nog hier. Wel, my gunstelingkos om vir myself te maak is pasta puttanesca. Ek hou daarvan om my eie pasta te maak. Dis ’n byna meditatiewe aksie: Die strooi van die meel op die toonbank, die tekstuur van die semolina wat deur my vingers sif, die breek van die eier en dan die stadige, versigtige meng sodat mens die mengsel nie oormanipuleer nie … ” Teen dié tyd het Emma in mymering verval. “Dan die stadige uitrol van die deeg wat so delikaat in jou hande lê,” borduur sy voort.

“Wanneer die pasta klaar gemaak is en in stringe hang, begin ek met die sous. Ek voeg gewoonlik ’n gekapte ui by, wat tradisioneel nie deel van die resep is nie. Ek braai dit liggies in olyfolie en ’n lekseltjie botter. Die botter bring die kookpunt van die olie af en die olie verhoed weer dat die botter brand. Op lae hitte braai ek die ui totdat dit goudbruin en deursigtig is. Dan voeg ek sowat agt ansjovisfilette by. Dit disintegreer byna onmiddellik. Ek kap ’n paar huisies knoffel en braai dit letterlik net ’n paar sekondes saam met die ui voordat ek die tamatie byvoeg, anders brand die knoffel. Dan voeg ek ’n paar stingels vars origanum by en kook die hele spulletjie vir omtrent vyftien minute. Die tamatie en die olyfolie moet begin skei, dan weet mens dis reg. Heel aan die einde voeg ek die gekapte olywe en kappertjiesaad by.”

Aan die ander kant is dit Greg se beurt om stil te bly. Hopelik is hy ingenome met haar antwoord. Dan vra hy: “En die wyn?”

“Beslis ’n pinot noir. Iets delikaats om die komplekse geure van die pastasous te komplementeer. Jy proe iets wat jou ontwyk. Die meeste mense sal nooit raai dat daar ansjovis in die sous is nie. Die wyn pas op veelvuldige vlakke. Ek het nog nie vanjaar se oes geproe nie, maar uit laas jaar se pinots sou ek beslis een uit die Elgin-distrik kies.”

“Goed. Kom ons beweeg na koste. Wat is jou gemiddelde verkoopskoste?”

“Ek het by my laaste restaurant ’n koste van verkope van dertig persent gehandhaaf.”

“Mmm. Indrukwekkend.”

Hulle praat nog ’n bietjie oor voorraadkontrole en syfers voordat Greg hom weer na haar kreatiewe kant wend. “Die spesialiteit van Chantilly is al jare lank die gebraaide eend met lemoensous. Hoe sal jy hierdie gereg in iets moderns omskep?”

“Ek is persoonlik nie baie lief vir die tradisionele eend met lemoensous nie, omdat ek dit altyd baie ryk vind. Ek verkies om ’n bereide eendborsie te bedien. Ek seël die borsie in die pan en bedien dit met avokadomousse saam met ’n slaai van baba-aartappels en ’n turksvysous.”

“Vertel my van jou laaste werk. Jy was sjef en bestuurder op Oranjedrif. Hoekom is jy daar weg?”

Emma se hart sak in haar skoene. Die onderhoud het so goed gegaan tot nou toe. Sy kan hierdie vraag op g’n manier oorleef nie: “Um, ek … um … wel, daar was ’n verskil van mening.”

“Mening, is dit wat jy dit noem? Ek hoor daar was siek gaste en ’n mesgooiery by betrokke”

Emma kan nie ’n woord uitkry nie. Weet almal in die restaurantbedryf dan sowaar ook van alles?

“Goed, juffrou Lategan, ek dink ek het genoeg van jou kant af gehoor. Ek moet met nog ’n paar mense gesels. Ek sal seker teen volgende week laat weet. Totsiens.”

Voordat Emma ’n woord verder kan sê, is hy weg. Met ’n gesjoeip is daardie mooi stem weg.

Die verleentheid wat sy opnuut voel, word sommer dadelik in woede omgesit: “Die bleddie sot!” sis sy terwyl sy haar skootrekenaar hard toeklap en haar hande deur haar kort hare trek sodat alles penorent op haar kop staan.

As hy dan geweet het van Marius en die hoenderpastei, hoekom het hy haar tyd gemors? Hy is seker dik pelle met die man. Sy is seker hulle lag nou lekker saam oor die telefoon vir haar.

“Onbeskofte buffel!” skee sy vir die toe skootrekenaar op die lessenaar. Sy spring op en storm by die studeerkamer uit. Sy loop haar ma, wat kastig ’n skildery se glas net buite die deur staan en blink vryf, amper onderstebo.

“Is jy klaar? Hoe het dit gegaan?”

“Nee, dit was ’n totale mors van tyd. Hy weet van die hele storie by Oranjedrif en is net so ’n groot buffel soos daai Marius. Ek dink hy het my net vir die grap gekontak. Wat ’n verleentheid. Ek gaan nooit weer werk kry nie. Almal weet wat op Oranjedrif gebeur het.”

Emma bars in trane uit en gaan sluit haarself vir die soveelste keer in twee weke in haar kamer toe. Sy sak op die bed neer en dam die kussing behoorlik met haar vuiste by. Sy wens sy weet hoe hierdie simpel Greg lyk, want dis sý gesig wat sy op die kussing wil sien.

Drie dae later lui haar selfoon. Dis Chantilly se nommer. Gaan sy nou finaal die nuus kry dat haar onderhoud misluk het? Ná daardie onderhoud kan sy haar nie indink dat sy die werk sal kry nie.

“Hallo.”

Sy wil sommer uit die staanspoor in die foon skree dat sy weet sy het nie die werk gekry nie en dat hulle almal in die see in kan gaan bliksem vir al wat sy omgee.

“Skattie, dis Henry hier van Chantilly. Hoor hier, pak daai tassie en klim in jou karretjie en ry. Jy moet Maandag begin.”

Oukei, dis glad nie wat sy verwag het nie … Nee man, dit kan mos nie reg wees nie.

“Wat? Jy bedoel ek het die werk gekry?”

“Ja, skattie, hoekom klink jy so verbaas?”

“Wel, ek het gedink die onderhoud het nie so goed gegaan nie.”

“O, nee. Mister Greg het sommer direk ná jou onderhoud laat weet dat hy dink jy is die regte persoon. Jy sal kan kook en die kinders mooi onder beheer hou. Hy moes maar net die ander ook bel omdat hy gesê het hy sal.”

“Sjoe, dankie, Henry. Ek ry sommer môreoggend. Ek sal Maandag by julle wees.”

“Sien uit om jou in person te ontmoet. Veilig ry.”

Emma hardloop kombuis toe waar haar ma besig is om vleis te maal. “Ma, ek het die werk gekry!”

“Nou toe nou. Sien jy wat gebeur as mens iets aanpak en jou nie net op die bed lê en verknies nie?”

“Ek gaan pak. Ek gaan sommer môre vroeg ry.”

“Ek sal vir jou plek in ’n gastehuis bespreek vir die eerste week. Dit sal jou seker genoeg tyd gee om iets meer permanents te kry,” bied haar ma aan.

“Dankie, Ma. En dankie dat ek weer by julle kon kom afpak het.”

Sy weet sy is ’n teleurstelling vir haar ouers. Sy wens sy kon meer soos haar broer gewees het. Egalig van temperament, suksesvol, getroud. Haar ma se trots.

“Ag, moet nou nie laf wees nie. Dis jou huis. Jy is altyd welkom, drama ofte not. En moet jou nou nie staan en afkraak nie. Ons het almal partymaal klippe wat in ons pad lê en wat net weggerol moet word. Toe, toe, gaan pak nou.”

Emma druk haar ma styf vas. Sy ruik soos altyd na ’n kombinasie van parfuum en koekies. Tegelykertyd elegant en moederlik.

Oukei, pak.

Sy gooi haar kasdeure oop en bekyk haar klere. Sy pluk die serpe uit wat ’n hele rak in beslag neem. ’n Serp vir elke bui en gier natuurlik. Mmm. Dit raak ’n effense probleem, dié serpverslawing van haar.

Emma draai een van die serpe om haar kop om die weerbarstige, donker hare uit die pad te hou terwyl sy pak. Sy sal beslis op Hermanus ’n haarkapper moet soek.

Die volgende items van kardinale belang is haar T-hemde. Hulle pas by die wye, boheemse rompe wat sy dra wanneer sy die dag nie in die kombuis is nie, maar hulle lyk net so goed onder haar sjefbaadjies.

Dit lyk omtrent soos ’n roomyswinkel op die bed: al die kleure en geure wat hier lê.

Sy trek die groot pers tas uit wat sy twee weke gelede bedonderd en betraand in die kas in gedruk het en maak dit langs die bed oop sodat sy haar lewe kan inpak vir die rit Hermanus toe. Sy kan skaars glo dat dit werklik gebeur. ’n Nuwe begin. Opwinding kriewel in haar en binne ’n uur het sy klaar gepak. Net haar sjampoe, tandeborsel, grimeermiddels en Lacoste-parfuum, wat sy sal inpak voor sy môre ry, staan nog in die badkamer.

Sy kies vir haar ’n gemaklike somerrok en sandale vir die warm pad in haar lugverkoelinglose Chico en sit dit op die stoel in die hoek neer, reg vir vroeg opstaan en aantrek. ’n Groen serp en groot groen oorbelle word weer uit die tas gegrawe voordat sy die deksel toemaak en op die tas gaan sit.

Wat moet sy nog onthou?

Haar messe, en haar stapskoene sodat sy darem in die berge kan gaan stap wanneer sy die kans kry, die digbundels en boeke wat op haar bedkassie lê, ’n rol toiletpapier vir die kar – mens weet nooit – en sy moet onthou om ’n paar bottels water in die vrieskas te gaan sit sodat hulle lekker koud vir die pad kan wees. Sy sal vir haar ma vra om asseblief vir haar padkos in te pak. O ja, en sy moenie vergeet van haar koffiemasjien wat in die hoek onder ’n stapeltjie klere staan nie.

Emma druk deur en ry die pad van Upington na Hermanus in een skof. Haar ma sal die horriepiep kry as sy moet weet Emma het die gastehuis op Citrusdal al op Vanrhynsdorp gekanselleer toe sy besef sy sal Hermanus met gemak kan haal. Sy is veels te gretig om op Hermanus aan te kom om nog in ’n gastehuis in die middel van nêrens te gaan oorslaap.

En sy ry mos Kaap toe – in die somer word dit daar eers láát donker.

Die paneelhorlosie sê halfnege toe sy Hermanus binnery. Dit is al sterk skemer terwyl die laaste oranjepienk gloed nog teen die einder huiwer. Sy draai haar vensters oop en asem die vars seelug in.

Wow, Hermanus! Gaan dit regtig haar huis word? Haar ma het vir haar ’n selfsorgeenheid binne stapafstand van die dorp bespreek.

Emma het die aanwysings neergeskryf en dié lê op die sitplek langs haar. Toe sy die kamer op Citrusdal gekanselleer het, het sy die eienaar van die gastehuis op Hermanus sommer gou gebel om te hoor of sy vir die aand plek het en of dit reg sal wees as sy redelik laat eers daar aankom. Gelukkig vir haar, hoewel nie vir húlle nie, het die kind van die mense wat vir die naweek bespreek het, siek geword en is hulle vroeg huis toe. Die woonstelletjie staan dus leeg en is gereed vir haar. Vaderland, vir ’n verandering is die gode aan haar kant.

Sy ry om die sirkel by die Marine Hotel verby en draai in die eerste straat links, soos haar aanwysings lui. Gelukkig is Hermanus nie vir haar geheel en al vreemd nie.

Sy kry die gastehuis in Mussonstraat en hou voor die hek stil. Die eienaar moes op die uitkyk vir haar gewees het, want toe sy die motor afskakel, gaan die hek oop. ’n Ouerige vrou met ’n bos rooi hare kom by die voordeur van die huis uit.

“Emma?”

“Ja, jy is seker Rita. Aangename kennis.”

“Welkom op Hermanus. Jy moet gedaan gery wees. Kom ek wys jou sommer dadelik waar jy gaan bly. Jy wil seker net in ’n stort klim en dan in die bed kom. Ons kan môre ordentlik groet.”

“Baie dankie. Ja, dit was nogal ’n rit en ’n half.”

“Ja, veral as mens dit in een dag doen!”

Sy lei Emma na die kant van die huis. Die woonstelletjie het sy eie ingang en parkeerplek. Die stoeplig is aan, en Rita maak die kombuisdeur oop. Alles is mooi skoon.

Ja, ma’s weet soms beter. Hare wou nie daarvan hoor dat Emma in oom Karel se huis gaan bly nie. Dit is veels te groot en afgesonder en daar is nie diefwering of ’n alarm nie. Stoksielalleen gaan sy beslis nie vir Emma in daardie ou kasarm laat bly nie. Boonop is dit ver van die dorp af, in Voëlklip, en het haar ma gevoel Emma moet sommer stapafstand van die werk af wees nadat sy jare lank die lang afstande rondom Upington moes ry.

Nadat Rita vir haar haar woonplek gewys het, trek Emma haar karretjie in tot voor die deur en begin uitlaai. Sy dra alles sommer net tot in die sitkamer. Môre sal sy dink aan uitpak en wegpak. Sy haal net haar toiletsakkie uit en pluk ’n pak pajamas tussen haar klere uit. Stort en slaap is al waaraan sy nou kan dink. O ja, en ’n SMS vir haar ma stuur en dan haar foon afsit. Vir ’n tirade van Diana se kant af omdat sy deurgery het, het sy beslis nie nou krag nie.

Die son skyn al helder toe Emma ontwaak uit wat vir haar soos ’n koma voel. Sy is nogal uitgerus, al is sy effentjies styf van die vorige dag se tien ure sit in die motor. Sy trek die gordyne oop, want sy het die vorige aand nie veel opgemerk nie. Die kamer kyk op ’n lieflike tuin uit. Sy maak die stoepdeur oop en rek haar lustig in die son uit.

Koffie? Sal daar so iets hier wees? Sy sal seker vandag eers moet gaan inkopies doen.

Toe sy by die kombuis in loop, sien sy tot haar groot verligting dat Rita vir haar koffie en beskuit op die toonbank gelos het. Daar is selfs ’n klein melkie in die yskas.

Ai, Suid-Afrikaanse gasvryheid darem.

Emma gril bietjie toe sy die poeierkoffie in die koppie gooi, want sy erken ruiterlik dat sy ’n geswore koffiesnob is. Wanneer laas het sy poeierkoffie oor haar lippe gehad? Vanoggend is egter ’n noodgeval, en dit was darem baie gaaf van Rita om dit vir haar te los.

Sy sal sommer dadelik haar koffiemasjien moet inprop – dis die een ding wat gisteraand in die kar agtergebly het. Intussen grawe sy haar melkskuimer uit en maak vir haar lekker warm melk vir die koffie. Sy kan ten minste die beste van ’n slegte saak maak.

Nadat sy haar kleretas uitgepak en die goed in die sitkamer so half uit die pad geskuif het, besluit Emma om eers ontbyt te gaan soek. Dankie tog dat haar ma dinge so beplan het dat sy stapafstand van die dorp af is. Sy gaan sommer kyk wat by Chantilly aangaan. Terwyl niemand weet wie sy is nie, kan sy die plek en die diens lekker incognito gaan ondersoek.

Sy stap in die rigting van die dorp en kom agter dat sy naby aan Woolies en Checkers is. Sy mik see se kant toe om met die kuspaadjie langs te stap. Dis ’n idilliese dag. Windstil … en die see lyk soos iets op ’n poskaart. Die berge is ’n sagte groen, so anders as die landskap waaraan sy gewoond is. Daardie dorheid en oormaat rooi stof het haar neus gereeld laat bloei en haar regtig begin onderkry.

Sy staan eers ’n lang ruk en tuur oor die see en sien selfs ’n paar walvisse, toe haar maag haar ernstig begin aankla en sy ou hawe se kant toe stap. Chantilly is net oorkant die ou hawe en ’n instelling op Hermanus. Toe sy voor haar vertrek gou op die internet gaan loer het, het sy gelees dat dit nie net die twee oudste huisies op Hermanus is waarin die restaurant geleë is nie, dit word ook gereken as die oudste restaurant in die streek. Dit was eens op ’n tyd een van Absa se top tien, maar in die laaste paar jaar het dit nie so goed gegaan nie, kon sy uit resensies aflei. Dis waarskynlik waarom hulle nooit saam met haar oom daar gaan eet het nie.

Die plek se ligging is ideaal, en hulle maak moontlik baie op die toeristemark staat. Seker dié dat die eienaar dink die kwaliteit maak nie eintlik saak nie. Die volume verseker die omset, al kom kliënte nooit weer terug nie. Teen volgende jaar is daar weer ’n nuwe vrag toeriste wat wil eet.

Die feit dat die eienaar dikwels nie teenwoordig is nie, laat dinge natuurlik ook nie vlot nie. En wat sou die storie wees omtrent die vorige sjef wat glo – soos sy – uitgestap het? Sy sal al dié stories seker in kleur en geur by die personeel hoor.

Die tuin sit al vol mense, maar Emma kry nog ’n tafel buitekant. Die restaurant is natuurlik leeg binne omdat almal op hierdie idilliese Sondag buite wil sit. Sy gril haar byna dood vir die sif, vetterige spyskaart met ‘n klomp vuil los velle papier binne-in, wat aan haar gegee word. Dit sal moet waai. Al span sy voorlopig net iemand met ’n seeplap in en laat druk nuwe blaaie vir die binnekant totdat sy die nuwe spyskaart beplan het.

Daar is ook hopeloos te veel geregte. Hoe op aarde hou hulle al die bestanddele aan vir hierdie verskeidenheid uiteenlopende disse? En dan is daar nog ’n klomp reëls ook: ontbyt word slegs vanaf agtuur tot twaalfuur bedien. Middagete weer slegs vanaf twaalfuur tot drie-uur. Dan tee tot vieruur en in die aand begin hulle weer van sesuur af. En moet asseblief nie variasies van geregte op die spyskaart bestel nie: disse slegs beskikbaar soos hier aangedui.

Dit sal die gaste en die personeel mos net frustreer. Sy sal beslis verskillende spyskaarte moet hê as hulle die gaste gelukkig wil hou – hoe kan jy alles op dieselfde spyskaart sit en dan vir mense sê hulle mag net van sekere bladsye op sekere tye bestel?

“Wel, dit is môre se worries,” sê Emma sommer hardop toe sy onthou dat sy nog nooit haar foon aangeskakel het nie. Sy is seker daar is al ’n honderd-en-een boodskappe van haar ma af.

Jip, agt stemposse van Ma.

Terwyl sy ’n redelike sif koppie koffie drink, bel sy haar ma.

“My liewe hemel, Emma, wat het jou besiel?” val haar ma sommer met die deur in die huis toe sy antwoord.

“Ag, Ma, ek was al vroeg deur Vanrhynsdorp en het besef ek gaan sommer vroegmiddag al op Clanwilliam aankom. En hier is ek nou. Dis beter dat ek vandag bietjie rustig kan wees en uitpak en inkopies doen voor ek môre begin. As ek vanmiddag eers hier aangekom het, was ek môre doodmoeg.”

“Hoe is jou akkommodasie? Die plek het vir my op die foto’s baie oulik gelyk.”

“Dit is netjies en skoon, en lekker ruim. En dis stapafstand van alles af. Ek sit nou juis hier by Chantilly en wag vir ontbyt. Ek wou die plek so ’n bietjie uittjek voordat hulle weet wie ek is. Ek dink daar lê harde werk voor. En hulle koffie is vieslik. Galbitter. Ek sal sommer môreoggend al iemand aansê om daai masjien ordentlik skoon te maak.”

Emma sit seweuur die volgende oggend al voor die deur en wag. Hier is nog nie ’n siel op die perseel nie. Wie de hel sluit soggens oop? Dis mos onmoontlik om agtuur oop en aan die gang te wees as die plek teen seweuur nog soos ’n grafkelder is. Teen kwart voor agt is Emma al aan die rondtrippel op die trappies toe sy die eerste siel gewaar wat lyk asof sy dalk hier kan werk.

“Ons maak eers agtuur oop,” sê die meisie toe sy Emma voor die restaurant gewaar.

“Ek weet. Ek is jul nuwe sjef en ek wag al van sewe-uur af hier.”

“O ja, Henry het gesê die nuwe sjef begin vandag. Ek is Yvette, ek is een van die waitresses.”

“Hello, Yvette, ek is Emma. Wanneer sluit julle oop as julle agtuur vir die gaste oopmaak?”

“Henry sal seker nou hier wees. Ons kom gewoonlik so kwart voor agt hier aan.”

“Wow, dis laat vir voorbereiding.” Emma wil nog uitbrei toe ’n minibus stilhou en seker omtrent die hele personeel by die verskillende deure uitpeul.

“Ah, ons sjeffie is hier!” roep iemand en Emma aanvaar dat dit net Henry kan wees. ’n Goue tand blink in die son toe hy breed vir Emma glimlag.

“Hallo, jy’s seker Henry.”

“Die einste. Kom ons kry die klomp kinders aan die gang, dan wys ek jou alles.”

“Ek’s g’n jou kind nie, Henry. Moenie vir jou kom larnie hou nie,” gil iemand uit die bondel toe Henry die deur oopsluit.

“Ja, dank die jirre daarvoor. Maar gewoonlik act julle soos kinders,” spot Henry terug. “Toe, toe, gaan kry daai koffie reg. Ek sien die toeriste begin al sirkel vir brekfis soos vultures rondom ’n karkas.”

Almal spaander met ’n gekwetter in verskillende rigtings in. Skielik is dit net sy en Henry wat op die voorstoep staan.

“Henry, julle kom darem baie laat hier aan as julle agtuur al op dreef moet wees.”

“Jy klink soos Mister Greg. Maar dis die transport van Hawston af wat so laat kom.”

“Ek sal kyk wat ek kan reël vir ons personeel, maar kwart voor agt kan julle beslis nie eers hier opdaag nie. Teen die tyd dat die deure oopmaak, moet ons gereed wees om bestellings te neem.”

So asof hulle haar punt wil beaam, kom sit daar juis twee vroue, wat hulle aandag probeer trek, by die tafeltjies in die tuin. Emma knik in hul rigting en lig ’n wenkbrou vir Henry.

“Oe, maar ons is bossy, maar oukei, sjeffie, point taken.” Henry wals uit met twee spyskaarte om die vroue te gaan kalmeer. Yvette kom uit die kombuis te voorskyn, darem met ’n voorskoot aan en ’n boekie in die hand.

Henry kom terug en sê vir Yvette om vir die ladies koffie te bring. “Kom, sjeffie, ek gaan stel jou aan die kinders voor.”

Hulle loop kombuis toe. Regs van die deur is die opwasarea. Daar word Emma voorgestel aan ’n miniatuurvroutjie met die naam Bongi. Haar twee Xhosa-susters is Lena en Beauty.

Links staan die koffiemasjien en die bakker.

“Dis nou Sement wat daar staan en scones maak,” kondig Henry aan, “en dis Layla wat die koffie hier maak. Sement bak al die koeke en maak al die poedings.”

“Sement? Het ek … reg gehoor?” vra Emma versigtig.

“Einste,” glimlag Henry, en Emma kom agter dat die goue tand boonop met ’n rooi steen spog.

“Hier in die koue kombuis het ons vir Sharon wat al die slaaie en broodjies maak. Langs haar is Sam in die warm kombuis wat al die grilling doen. Die sous-chef is nog nie hier nie. Dis Wouter wat net onder jou sal werk. Hy kom gewoonlik eers so teen tienuur in en begin prep vir lunch. Daai laaitie wat daar staan en die tamatiesousbottels vol maak, is Kleintjie en die ene wat die messegoed staan en opvryf, is Shortie.”

“Kleintjie en Shortie. Oukei, het dit.”

Yvette kom in en gee vir Sam twee bestellings vir ontbyt.

“Ons ander waitress Angela is seker laat. Sy of Kathy, wat in die aande die kasregister sluit, staan ook soms in vir front of house as ek af is. Dan is daar Vanessa en Nadine wat jy nog sal ontmoet, en wanneer dit baie besig raak, het ons ’n paar runners en casuals wat kom help.”

’n Klein mannetjie wat bitter bedonderd lyk, kom half-elf by die restaurant ingestrompel. Emma kyk hoe hy koponderstebo instap en niemand groet nie. Hy gooi sy sak messe op die toonbank neer en gryp ’n koppie op pad na die koffiemasjien toe. Hy skree iets onsamehangends vir Kleintjie wat terstond die tamatiesousbottel waarmee hy besig is, laat val.

Almal word skielik stil. Die hele vriendelike atmosfeer van vroeër het handomkeer verander. Emma wonder hoe lank dit gaan duur voor hy hom verwerdig om met haar te kom praat. Nie dat sy eintlik iets vir hom, met daardie houding, te sê het nie. Met dié klein donder sal sy ’n plan moet maak, anders gaan hy sommer die wit waks uit haar irriteer.

“Ek’s Wouter,” sê hy sonder om eens oogkontak te probeer maak. “Ek skuif in die aand oor na die koue kombuis wanneer jy hier kook.” Dan loop hy weer brom-brom weg. Dankie tog dat hy nie saans saam met haar kook nie, want onder haar voete wil sy hom beslis nie hê nie. Sy sal die mannetjie se nek omdraai.

Dis amper asof die kombuis per ongeluk aan die gang bly. Die eerste paar dae probeer Emma net die verloop van die dag bepaal en onder Woedende Wouter se voete uit bly.

Teen dag drie sorg Emma dat Kleintjie en Shortie met ’n bak seepwater gaan sit om al die spyskaarte te was, terwyl Angela vir hulle nuwe blaaie uitdruk. Dit sal voorlopig goed genoeg moet wees. Sy kry ook vir Bongi en Beauty om behoorlik te begin skrop, terwyl Lena weer seker maak dat die skottelgoed darem nog gewas word.

Die restaurant is feitlik die hele dag oop, afgesien van ’n uur in die middag wanneer alles vir die aand gereed gemaak word. Dan transformeer die restaurant tot ’n elegante en rustige plek met wit damasktafeldoeke en sagte kerslig.

Emma reël met die taximense dat die personeellede halfsewe in die oggend opgelaai word en teen week drie is almal seweuur al by die werk en aan die gang. Sy maak seker dat sy voor sewe oopgesluit het en al met voorbereidings vir ontbyt begin het.

Sy laat die koffiemasjien diens. Toe leer sy vir Layla hoe om dit ordentlik skoon te maak: “Die geheim van goeie koffie lê nie net in die bone nie, maar ook in die masjien. ’n Vuil masjien laat die koffie bitter en gebrand proe, al is die bone hoe vars en lekker,” verduidelik sy.

Daarna stuur sy vir Layla om ’n baristakursus te volg. En toe sy eers terugkom van haar kursus, blom sy sommer. Sy het nou ’n titel – sy’s ’n barista, nie net die meisie wat in die hoek staan en koffie maak nie. Emma kan die verskil in haar houding amper nie glo nie.

Emma kom ook spoedig agter dat daar nie eintlik beplan word nie. Tussen Wouter se buie en Henry se grappe, is dit ’n wonderwerk dat daar enigsins bestellings by die verskaffers geplaas word. Sy hou in elk geval daarvan om self met die verskaffers te gesels, te kyk na die vleis wat sy wil gebruik, self die vis te kies en met die groentehandelaar te kan onderhandel.

Sy reël ’n weeklikse vergadering met Wouter en Henry, en wonder of sy nie sommer dieselfde met Greg moet doen nie. Dis nou al amper ’n maand wat sy hier is en sy het nog nie een keer met hom gepraat nie. Die laaste keer was met haar onderhoud. Wel, as sy sake moet opsom, lyk dit in elk geval nie of hy eintlik belangstel in wat hier aangaan nie.

Emma val op haar bank met ’n glas wyn neer. Januarie het soos blits verby gevlieg. Sy het net kop bo water probeer hou en aan die pas in die groot kombuis gewoond geraak. Dis beslis nie Oranjedrif dié nie.

Die stoepdeur staan oop, en die maan skyn helder teen die naghemel. Dis al weer een van daardie perfekte aande op Hermanus wat elke nou en dan tussen die wind se giere opduik. Daar is nie eens ’n geritsel van blare nie; dis tjoepstil.

Sy sal volgende maand vir meer permanente blyplek moet begin soek. Nie dat dit nié lekker hier by Rita is nie, maar sy wil nes skrop. Nie voel dat sy net inkom, slaap, stort en weer gaan werk nie. Maar dis die minste. Sy onthou haar ma het vertel van ’n ou skoolvriend van haar wat woonstelle op Hermanus besit. Sy moet sy nommer bietjie by haar kry. Dalk het hy iets beskikbaar.

Die afgelope maand het sy regtig begin voel of sy deel word van die spannetjie. Afgesien van Wouter, die drol. Sy kan nie vat aan hom kry nie. Dis asof hy permanent net wil baklei. Sy weet regtig nie wat sy met hom gaan doen nie.

Net meer as ’n maand gelede het sy op ’n ander bank in gans ander omstandighede met ’n glas wyn gesit, nee, ’n hele bottel wyn. ’n Glimlag speel op haar lippe toe sy opstaan om te gaan tande borsel. Miskien is Emma Lategan terug op die pad na sukses.

Oranje-shmanjedrif. Sy gaan hulle wys.

Die jaar toe Emma begin kook het

Подняться наверх