Читать книгу Tuiskoms - Irma Joubert - Страница 5
’n Aand om te onthou
Оглавление“Vittorio en Giovanni Venucci Prokureurs, Eusía wat praat,” antwoord sy so ordentlik as wat sy kan. Sy het nie besef sy gaan as deel van haar prokureursklerkskap ook telefoniste wees nie, dink sy mismoedig.
“Ken someone speak Afrikaans dere?” teem ’n stem aan die ander kant.
“Ek práát Afrikaans. Kan ek help?”
Stilte.
“Is u daar?” vra sy.
“Wát het jy gesê is jou naam?”
“Die naam van die firma is Vittorio en Giovanni Venucci’s, en my naam is Eusía. Hoe kan ek help?”
“Eusía? Wat vir ’n naam is dit?”
“Dis afgelei van Eufesia; my ouma se naam is Eufesia. Wil u met meneer Vittorio praat, of met sy kleinseun Giovanni?”
Ek gáán ’n ander firma soek om my klerkskap by te doen, besluit sy finaal. Tussen hierdie humeurige Italiaanse baas en sy aantreklike Italiaanse kleinseun hou ek dit nooit. Oumie het van die begin af gesê ek moet eerder probeer om by ’n Afrikaanse firma in te kom.
Én ek gaan my naam verander: Met ’n naam soos Eusía van der Spek gaan niemand my ooit ernstig opneem nie.
Verbeel jou: “Wie hanteer jou saak?”
“Eusía van der Spek.”
“Watse goed?”
Nee, dit sal nooit deug nie. My van kan miskien mettertyd verander, dink sy, hoewel ek dit deesdae ook betwyfel. Aan my naam sal ek self iets moet doen.
Maar toe sy laatmiddag na haar ouma se huis ry om gou dag te sê, weet sy: Dit sal ek nooit aan Oumie kan doen nie. Nie ná alles wat sy vir my gedoen het nie.
Oupa Herman en ouma Eufesia en hul mooi huis het haar wêreld geword nadat haar ouers verongeluk het. Hulle het ’n stukkende dogtertjie van nege geneem en haar toegevou in liefde totdat sy weer self begin asemhaal het. Hulle het agter musieklesse aangery en oorslaappartytjies met tien ander dogtertjies getrotseer en by skoolkonserte heel voor gesit.
Tot Oupa siek geword het en sy en Oumie alleen agtergebly het.
Sy was sestien, in die hart van haar eerste liefdesteleurstelling. En toe word Oupa siek – Oupa met wie sy so lekker kon gesels. En sy en Oumie is elke aand alleen.
“En behalwe dat my hart seer is oor Oupa, is ek nog seer oor Deon ook, Oumie. Ek was vreeslik lief vir hom – ek dink regtig nie ek sal ooit weer so lief kan wees vir iemand nie.”
Oumie het stil geglimlag. “Ja,” het sy gesê, “jy sal weer lief word vir iemand anders, en weer en weer, tót die regte een opdaag.”
Oumie het haar geleer hoe om sterk te wees, want sy het ’n te sagte kern gehad. “Dis goed om sag te wees, Eusía,” het Oumie gesê. “Daarsonder is ’n vrou nie vróú nie. Maar jy moet ook sterk wees, soos nou. Môre gaan jy skool toe met jou kop hoog en jou gelukkigste glimlag op jou mooi gesiggie. Die hartseer los ons vir binne die mure van ons huisie.”
“Dis hoe Oumie dit regkry, vandat Oupa weg is?”
“Ja, Eusía. Ek onthou altyd die woorde: All my memories are happy, tonight – I had a love of my own.”
Daardie aand het sy haar aan die slaap gehuil – oor die mooi aanhaling.
Nee, besluit sy toe sy haar motortjie sluit en in die paadjie na haar ouma se huis opstap, Eusía sal seker maar moet bly. Miskien moet sy begin werk aan die Van der Spek – dalk deur die kilo of twee ekstra spekkies weg te kry.
Maar Oumie het aandete gemaak, met souskluitjies, wat ook nie help om die Van der Spek na Maerskalk te verander nie.
Die volgende oggend stap die drop dead-aantreklike Giovanni by haar kantoortjie in en neem met sy drop dead-aantreklike sitvlak op die hoek van haar lessenaar plaas. In sy drop dead-aantreklike stem sê hy: “As ek mag vra, hoekom beantwoord jy die telefoon en liasseer dokumente as jy ’n LL.B. het?”
“Ek wonder self,” sê sy so ferm moontlik. “Vra jou oupa.” Sy kyk nie op na sy drop dead-aantreklike oë nie – sy vermoed sy is verlief. En sy sien gereeld hoe die langbeenblonde bom ná werk buite vir hom wag. Verlief is net seerkry se maat.
Hy lag. “Jy moet hom maar verskoon. Hy is nog van die ouer garde. Hy sukkel met die gedagte dat ’n vrou die manswêreld betree.”
“Hoekom kry hy dan nie vir hom ’n mansklerk nie?”
Hy lag weer, ’n drop– . . . Nee, sy gaan haar nié laat vang nie. “Hulle hou nie,” sê hy. “Jy behoort teen hierdie tyd al te weet waarom nie. Jy’s nogal verbasend sterk, hoor.”
Daardie aand vertel sy vir haar ouma: “ ’n Drop dead-aantreklike man het vandag vir my gesê ek is nogal verbasend sterk.”
“Mmm. Kas opgetel of arm gedruk?”
“Nee, Oumie. Geestelik. Oor ek kan uithou met sy oupa.”
“O, ek sien.” Oumie lyk geamuseerd.
“En in die toekoms moet Oumie asseblief nooit weer nagereg maak nie – ek het besluit om van die spek-deel van my Van der Spek ontslae te raak.”
“Ek sien.” Oumie klink baie wys.
Oumie was altyd wys. Soos in Eusía se eerste jaar, toe sy die liefde van haar lewe gevind het. Ongelukkig was sy nie ook die liefde van sý lewe nie.
Sy het gehou tot binne die mure van hul huisie en haarself toe katswink gehuil. “Ek kan net sowel by ’n klooster inboek, Oumie,” het sy gesê. “Ek het soos in géén geluk met mans nie.”
Oumie het maar net geglimlag. “Jy sal oor hierdie een ook kom. Want onthou, ons is mos twee sterk girlies, ek en jy.”
“Ek gaan nou net studeer en nie eens opkyk as ’n man my groet nie,” het Eusía besluit.
“Goeie plan,” het Oumie stout geknik. “Dink jy jou voorneme gaan langer hou as jou laaste dieet?”
Dit hét langer gehou, want haar hart was regtig stukkend, sodat selfs Oumie later bekommerd geraak het. “Jy moet probeer uitgaan, Eusía,” het sy gesê. “Jy kan nie aanhou treur oor die man nie. Kyk hoe maer is jy al.”
“Was Oumie ooit verlief, heeltemal verlief, verlore verlief, en toe werk dit nie uit nie?”
Oumie het lank stilgebly. Toe sy antwoord, het haar stem ’n vreemde klank gehad. “Ja, Eusía, een maal, voor ek vir Oupa ontmoet het.”
“Wat het dan gebeur, Oumie?”
“Ons wou trou, maar hy was ’n uitlander, en Rooms daarby. In daardie jare, in die 1950’s, was onse mense baie bang vir die ‘Roomse Gevaar’ gewees. My pa het dit verbied.”
“Oumie? En toe?”
“Toe gaan hy weg en ek ontmoet vir Oupa and we lived happily ever after.”
Sy kon nie bepaal of haar ouma heeltemal ernstig was nie.
“Het Oumie ooit daarna aan hom gedink?”
“Ja, soms. Hy was nogal ’n droomman.”
’n Week later land die drop dead-aantreklike agterstewe weer op haar lessenaar. “Eusía,” sê hy – hy spreek haar naam op so ’n manier uit dat sy dit glad nie wil verander nie – “ek probeer regtig jou lot verbeter. Maar ek kry nie eens my eie lot verander nie.”
“Wanneer beplan jou oupa om af te tree?” Sy besef skielik dit kan voorbarig klink. “Ek bedoel eintlik wanneer neem jý die firma oor?” Nee, dit klink ook nie reg nie. “Ek bedoel . . .”
Hy lag. “Jy bedoel ons moet hom uitwerk en die firma oorneem?” ’n Duisend duiweltjies dans in sy oë.
“Nee, nee, glad nie. Hoegenaamd nie. Ek dink net hy moet nog iets kry wat sy aandag aflei.”
“Ja-a. Soos wat? Hy gaan nie bingo wil speel nie,” sê hy en staan op.
Die telefoon lui. “Ek sal ’n bietjie dink,” belowe sy. “Vittorio en Giovanni Venucci Proku . . .”
Eusía herken die stem: “Giovanni, asseblief,” sê die blonde bom kortaf.
“Oumie, die uitlander op wie Oumie verlief was – wat het van hom geword?” vra sy die aand.
“Hy is getroud en het aangegaan met sy lewe. Ons het nie kontak gehou nie.”
“Oumie? Het . . .”
“Los dit nou, Eusía.”
“Is hy terug na sy eie land?”
“Nee. Sy ouers het hierheen geëmigreer – dit was tydens die Groot Depressie. Hy is hier gebore. Jy weet nou alles. Tevrede?”
“Van waar was hulle oorspronklik?”
Oumie sug. “Italië.” Sy bly lank stil en daar is ’n vreemde uitdrukking op haar gesig. Dan sê sy: “Sy naam was Vitto Venucci. Nou weet jy. En nee, ek wil hom nie weer ontmoet nie. Ek wil my droom hou soos dit vyftig jaar lank was.”
Sy kan die volgende oggend skaars wag dat die man met die drop dead-aantreklike glimlag om die deur loer. “Ek weet wat jou oupa se aandag kan aflei,” sê sy. “ ’n Vrou!”
“ ’n Vrou beteken moeilikheid, nie afleiding nie,” sê hy.
“Die regte vrou beteken liefde en geluk.” Ten spyte van alles bly sy klou aan dié sprokie – seker maar haar romantiese natuur.
Hy trek sy donker wenkbroue geamuseerd op. “En dis ’n voornemende prokureur wat so praat? Jy sal moet harder word, Eusía, as jy in ons beroep wil oorleef.”
“Jy’t anderdag gesê ek is sterk,” troef sy.
“Het ek? Ek was seker dronk.”
“Nee, man, jy’t gesê . . . toemaar, maak nie nou saak nie. Ek weet van ’n vrou vir jou oupa.”
Hy lag. “Nee wat, vergeet dit. My ouma was ’n kwaai Italiaanse mama, ek dink nie my oupa sal ooit kans sien vir nog so ’n beproewing nie.”
“Maar hy was vyftig jaar gelede byna verloof aan hierdie vrou.”
“Eusía, waarvan praat jy?”
Toe vertel sy hom alles. Dis baie lekker, want sy drop dead-aantreklike lyf kom in haar kantoortjie in en sy drop dead-aantreklike oë kyk vir haar en hy spits sy drop dead-aantreklike ore.
Totdat die blonde bom bel en die seepbel laat bars.
Laatmiddag eers loer hy weer in. “Hoe gaan ons hulle bymekaar kry?”
“Ek weet nie,” erken sy. “My ouma weet ek werk vir hom, maar sy wil hom nie weer ontmoet nie. Sy wil haar droom hou soos dit vyftig jaar lank was. Dis mooi, nè?”
Hy kyk na haar met ’n vreemde glimlag. Dan sê hy: “Ons moet hulle maar in ’n lokval lei.”
“Dit bly vir my vreemd dat ons twee vroumense vanaand uitgaan,” sê Oumie op pad na die restaurant. “Daar gaan net verliefde paartjies wees, so op Valentynsdag.”
“Ek kon tog nie alleen tuis gesit het op Valentynsdag nie, en dit nogal op ’n Saterdagaand,” sê Eusía. “Ons maak dit ’n interessante aand, Oumie. ’n Aand om te onthou.”
Oumie lyk vanaand pragtig. Haar silwer hare is sag gekrul om haar kop – Eusía het baie moeite daarmee gedoen. En die blou van haar rok word weerkaats in die blou van haar oë. As Vittorio Venucci nie vanaand in daardie oë verdrink nie, is daar geen salf aan hom te smeer nie.
Eusía het ook baie moeite met haar eie voorkoms gedoen. Sy het vir haar ’n rooi rokkie gekoop: eenvoudig, met ’n laag gesnyde rugkant, baie treffend. En vrék duur! Dit pas haar perfek – sy hoop maar Italianers hou van ’n bietjie sagtheid op strategiese plekke.
Ek wéét ek het geen kans teen die blonde bom nie, dink sy, daarom gaan ek hierdie een aand ten volle geniet. Sonder om verlief te raak. Hoewel ek vrees dis reeds te laat.
“Van der Spek,” sê sy vir die kelner. Sy moet iets omtrent haar van doen. “Ek het bespreek.” Hulle loop agter hom aan.
Die kelner lei hulle na ’n hoektafeltjie. Giovanni sit met sy gesig na die deur en sien hulle inkom. ’n Stoute glimlag begin oor sy gesig plooi. Toe hulle by die tafeltjie kom, staan hy op. Sy swart leerbaadjie pas breed oor sy skouers.
Hy buig effens in Oumie se rigting. “Aangenaam,” sê hy. “Ek veronderstel u is mevrou Naudé?”
Oumie draai effens verward na Eusía, maar dan sien sy vir Vittorio Venucci. Sy verstar.
Vittorio Venucci kom stadig regop: ’n groot, donker man met donker oë en dik, grys hare. Ongeloof spoel oor sy gesig. “Eufesia?” sê hy.
Sy kom eerste tot verhaal. Sy glimlag mooi. “Goeie-naand, Vitto.” Sy draai na Eusía. “Ek dog ek het uitdruklik gesê . . .”
“Eufesia?” sê Vittorio weer. “Jy het waaragtig net so beeldskoon gebly.”
En toe kry Eufesia ’n effense rooi kleurtjie en sy kyk af – mmm, nie baie sterk nie, dink Eusía.
Vittorio trek die stoel langs hom uit. “Jammer, ek vergeet my maniere. Kom sit. Dis net . . . jy is so pragtig, soos ’n droom.” Hy praat net met Eufesia. “Of . . . is julle op pad na ’n ander tafel?”
“Nee, hulle sit by ons,” sê Giovanni.
Vittorio besef daar is ander mense in die vertrek, op die aardbol. “O,” sê hy, “dis goed. Eufesia, ek kan nie glo dis jy nie.” Dan draai hy weer na Giovanni. “Ek dog dan jy het gesê ek moet jou nuwe vriendin kom ontmoet? Is Eusía . . .”
“Nee, nee,” keer Giovanni en lag. “Ek wou Oupa maar net hier kry. Eusía, stap saam, ons gaan haal vir ons elkeen ’n drankie.”
Daardie “nee, nee” en daardie lag laat die samesyn vir Eusía versplinter – hy vind die idee dat sý sy nuwe vriendin kan wees, dus heeltemal belaglik. Sy voel hoe haar rug vanself reguit en sterk word.
“Kom,” sê hy ferm en neem haar aan die elmboog.
“Ek is nie lus om saam te stap na die kroegie nie,” sê sy toe hulle buite hoorafstand is. “Hoekom bestel jy nie net drankies nie?”
Hy kyk haar verbaas aan. “Want hulle moet mos ’n rukkie alleen wees. Waar’s jou romantiese streep nou?”
By die venster uit saam met jou lag, dink sy opstandig.
Die blonde bom wat aan die kroegtoonbank hang, laat die aand finaal in skerwe op die vloer lê. Sy sien vir Giovanni voordat hy háár sien. Sy pyl op hom af.
“Gio! Ek dog jy is uit op ’n date?”
“Goeienaand, Claudia. Kan ek jou voorstel aan die nuwe liefde in my lewe? Dit is nou Eusía. Maar julle het seker al ontmoet?”
Eusía se mond val oop. Gelukkig Claudia s’n ook, en Eusía s’n gaan eerste toe. “Goeienaand,” sê sy.
Toe hulle terugstap, betig sy hom: “Jy het gejok. Dis nie reg nie.”
“En jy het ook gejok, die hele aand al, selfs vir jou ouma!” Sy oë terg heeltyd. “Nou sal jy maar verder moet saamspeel.”
“Maar dis nie reg nie,” sê sy streng.
“Jy’s reg,” kom dit gemaak ernstig. “Kom ons geniet dit nogtans.”
“Maar wat van Claudia?”
“Hoe gouer Claudia besef ek stel nie belang nie, hoe beter vir albei van ons,” sê hy.
Dit word ’n vreemde aand – ’n aand waarop Oumie byna nooit met haar praat nie, net blinkoog na die groot Italianer langs haar luister. Dit word ’n aand waarop haar humeurige baas vermurwe voor haar ouma se sagte glimlag en hy teer herinneringe opdiep. Dit word ’n aand waarop hulle baie wyn drink en eksotiese kosse eet – en ’n aand waarop sy met Giovanni dans, in sy arms dans.
Sy voel die hele aand Giovanni se hand op haar kaal rug. Sy is in die waai van sy arm, sy ander hand toegevou om hare. Sy volg die bewegings van sy lyf, sy voel die ritme van die musiek deur haar pols, sy volg hom waar hy lei. Hulle deel grappies, probeer saam verspotte bewegings, lag saam voordat hy haar vinnig in die rondte swaai en haar dan weer styf teen sy lang lyf vasdruk. Hulle dans totdat hul lywe een word.
Teen elfuur staan Vittorio Venucci op. “Giovanni, jy ry saam met Eusía, sy kan jou by jou woonstel gaan aflaai. Ek neem vir Eufesia terug met jou motor.”
Giovanni se oë glinster. “Het ek en Eusía ’n sê?”
Sy oupa kyk hom verbaas aan. “Nee,” sê hy.
Toe hulle later – baie, baie later – na sy woonstel ry, sê Giovanni: “Dit was regtig ’n aand om te onthou.”
“Ja,” antwoord sy tevrede, “ek dink nie my Oumie gaan meer eensaam wees nie.” Sy hou voor sy woonstelblok stil.
Hy draai na haar en sy gesig is ernstig. “Ek praat nie net van húlle nie, Eusía.”
Sy sit doodstil.
“Dit was vir my ook ’n . . . baie besonderse aand.”
Sy sit doodstil.
“Dink jy ons kan nog sulke aande hê, ek en jy?”
Sy sit doodstil.
“Hoekom praat jy nie?”
“Ek is bang die seepbel bars,” sê sy met haar mooiste glimlag.
En toe sy mond op hare sluit, weet sy hy was reg: Dié aand sal almal van ons baie lank onthou.