Читать книгу Tuiskoms - Irma Joubert - Страница 7

Grootjie Henna se doodskleed

Оглавление

Sondagoggend breek aan: 15 Mei, Moedersdag op die kalender. Maar daaraan steur Diena haar nie. Vandag is die dag wat haar oudste kleindogter, die een wat haar trouring eendag moet erf, gedoop word. En sý gaan haar in die kerk indra.

Adrienne het haar Vrydagoggend al op die lughawe kom haal – hele aardigheid, die vliegmasjien. Op pad huis toe het sy versigtig gepols: “Wat noem julle haar toe . . . die ou babatjie?”

“Ek hou van Jeanelize of Suné-Marié; William verkies Bridget, of dalk Marlyn. Ons moet nog besluit.”

“Ek het die dooprokkie saamgebring,” sê sy so terloops moontlik.

Adrienne reageer eers nie. Maar dan sê sy beslis: “Ma, ek sê nou reguit en vir die laaste keer: Die baba word nié Sondag in daardie vergeelde dooprok gedoop nie.”

Diena kyk na haar dogter se goedversorgde naels, sien die ferm trek om haar mond, weet: dis haar eie skuld. Sy het haar kind bederf, maar sy was darem so ’n pragtige klein dingetjie na die seuns. Sy hoor ook baie duidelik: die baba. Die kinders het sowaar nou nog nie ooreengekom wat hulle haar gaan noem nie! Maar daardie debat gaan sy sowaar nie weer oopmaak nie – dit het maande terug tot ’n groot rusie gelei.

Dis haar eerste kleindogter. Haar oudste seun het net twee seuns, ook al groot; haar tweede seun en sy vrou het besluit om nie kinders te hê nie. Sy sou darem so graag wou hê . . .

Daardie aand in die vreemde bed in haar dogter se grand huis besluit sy tog om ’n finale poging aan te wend – beslis nie oor die naam nie, wel oor die dooprok. En die volgende dag, toe “die baba” (arme klein dingetjie wat nie eens ’n naam het nie) rustig in haar duur waentjie lê en slaap, maak sy ’n skinkbord tee en dra dit na die sonstoep van haar dogter se huis.

“Adrienne, Ma gaan vanoggend vir jou ’n verhaal vertel. Ek weet jy hou nie daarvan om sulke stories te hoor nie, maar vanoggend moet jy maar net stil sit en luister.”

Sy sien hoe Adrienne haar redelik verstom aankyk, maar sy is nie verniet Hendriena Kathariena die Sesde nie, en sy begin vertel:

“My grootjie Henna se ma is in ’n ossewa rondom Bloedrivier se tyd gebore. Sy was twee jaar oud toe háár ma ’n optog na sir Iemand gelei het om te sê die vrouens trek liewerster kaalvoet oor die Groot Berg as om weer onder Ingelse goewermint te staan, sy het saam met haar ouers weggetrek uit Ohrigstad toe die koors drie van haar broertjies gevat het.”

“Ma-a, waar gaan ons heen?” vra Adrienne.

“Moenie in my sop val nie, Adrienne. Ewenwel, is g’n wonder sy het staal in haar are gehad nie. Grootjie Henna was meer gelukkig, sy is gebore toe die Ou Republiek al ’n werklikheid was, is getroud nog voor die Eerste Oorlog toe die Ingelse so goed op hulle herrie gekry het, het met harde werk en ’n harder wil haar agt kinders deur die konsentrasiekamp by Standerton geversôre.”

“Mamma, asseblief, ek het vir William liefgekry. Ons huistaal gaan vir die res van ons lewe Engels wees. Hoe gouer Ma dit aanvaar, hoe beter vir ons almal. En ek weet waar kom my naam vandaan, en ek weet . . .”

“Maar jy weet nie van die doodskleed nie,” val Diena haar dogter in die rede en vertel voort. “Toe Grootjie se dogter Hendriena so direk ná die vrede wou staan trou, en dit nogal met ’n regte slapkardoes uit ’n hensopper-familie, het Grootjie met haar eie hande vir haar ’n trourok met die mooiste opnaaiseltjies en ’n veil kompleet gemaak.”

Nou skink sy eers tee. Dit lyk darem of Adrienne begin luister.

“Do I smell tea?” Haar skoonseun kom van die tuin se kant af in en maak sy lang lyf sit-lê op die bank. Sy moet onthou om nie te sleg van die Ingelse te praat nie, so in haar skoonseun se huis en als.

“Deeglike vrou wat grootjie Henna was, het sy ook betyds beginne met die maak van haar doodskleed – mens weet nooit hoe lank die sig nog goed is vir gare deur die oog van ’n naald steek nie. Sy het latere jare hoeka altyd gedink die prediker kon maar die kameel gelaat los het (simpele dier in elk geval, met sy waterknop op sy rug) en gesê het die ryk man sallie ingaan, net so min soos ’n gare in die hand van ’n oumens deur die oog van ’n naald gaan.”

“What are we talking about?” vra haar skoonseun.

“Ma wou sê van ’n doodskleed?” por Adrienne.

“O ja. Ewenwel, toe die trouery nou agter die rug is, het Grootjie die stuk oorskietlap beskou en ’n netjiese doodskleed gesny. Soggens as die hoenders reeds op die werf uit was en skrop-skrop om die stoep gewoel het, en die brood panhoog gewag het vir die bakoond om die regte warmte te kry, het sy haar hande gewas, die wit handdoekie oopgevou en voortgegaan met die opnaaiseltjies. Geld vir kant was daar ôk nie, toe het grootjie Henna haar eie fynste kantjies met ’n dun hekelpen en die dunste katoendraad gehekel.”

“Ma-a, ek weet nie eens wat is ’n doodskleed nie,” trek Adrienne ’n skewe gesig.

“Mos ’n kleed waarin ’n mens begrawe word.” Die kind is maar dom vir ’n geleerde vrou. “Grootjie Henna het vir almal mooi beduie van hoe sy in haar doodskleed begrawe moet raak, het die doodskleed metterjare groter gemaak soos sy self lywiger gegroei het. Maar toe Grootjie eindelik tot sterwe kom, vind niemand die kleed nie en so wie so word sy in ’n ou nagrok begrawe.”

“Klink of dit a spoek-story word,” probeer haar skoonseun darem Afrikaans praat.

“Maar dit was mos nou in die ’33-depressietyd, en grootjie se kleindogter Drien, dis nou mos my ma, jou ouma, Adrienne,” verduidelik sy net vir geval die kinders deurmekaar beginne raak, “staan toe mos nou op trou.”

“Ma, you’ve lost me,” sê haar Ingelse skoonseun.

“Trek ouma Drien toe die vorige ouma of iemand se trourok aan?” vra Adrienne.

“Nee, nee, dis mos nou waar die doodskleed inkom,” hou sy die kinders op die regte spoor.

“Sy het in die doedskied ge-marry?” Haar Ingelse skoonseun kon nog nooit al die Boeregewoontes verstaan nie.

“Nee, nee, julle praat my kop nou skoon deurmekaar.” Sy skink nog ’n koppie tee en gooi ’n ekstra lepel suiker in. “So wie so wil sy mos toe nou met jou oupa trou. En geld vir uitspattighede is daar ook nie. En toe sy en haar suster nou so op die solder soek vir die familie-veil, wat vind hulle?”

“Die doedsklied?” Haar skoonseun is slimmer as haar dogter.

“Reg!” Sy glimlag asof sy self die ontdekking gemaak het.

“Ma-a, ek weet nog steeds nie waar hierdie storie heen gaan nie,” pruil Adrienne.

Maar so maklik laat sy haar nie van stryk bring nie. “Sy gooi net daar en dan, daar op die solder, die doodskleed oor haar kop, en sy en haar suster besluit dis nou die ideale nagrok, so vir die eerste nag, julle weet mos?”

“Was it a see-through doedsklied?” vra haar skoonseun.

“Nee, man, netjies toe tot oor die kuiltjie en van betaamlike lengte.” Sy vat ’n sluk tee – die tee hier in Johannesburg is ammeleë koud, water proe ook nie reg nie. “En minder as ’n jaar later is ék gebore.”

(Nie soos deesdae nie – kyk hoe oud is haar dogter al, en nou eers ma vir die eerste keer!)

“Ma was actually a result of the doedsklied?”

Sy wonder of die arme baba ooit suiwer sal leer praat.

“Ewenwel, toe ek mos nou gedoop moet raak, toe het die nagrok mos nou klaar sy doel gedien, en geld vir ’n dooprok was daar toe mos nou ook nie. Is toe dat my ma, dis nou jóú ouma Drien,” net ingeval Adrienne nie mooi bybly nie, “die nagrok so kyk, die gehekelde kant versigtig afhaal vir later se aanwerk, die opnaaiseltjies mooi rangskik en die pragtigste ou dooprokkie uitknip wat enige baba ooit kan begeer – as ’n mens nou so oor begeer kan praat by kerksake. En dis die storie van die doodskleed,” sluit sy haar storie af.

“And where is this doeprok now?” vra haar skoonseun.

“Hier, in my tas. Ek het . . .”

“Ek doop nié my kind in daardie vergeelde dooprok nie,” begin Adrienne.

“And you were all christened . . .?”

“Hendriena Kathariena,” sê sy trots.

“Ek noem nie my kind . . .”

“Will you show me the doeprok?”

Sy loop so vinnig moontlik gangaf en kom terug met ’n plat doos. Baie versigtig maak sy die deksel oop, vou die dun papier terug, vis die motballetjies een vir een uit en lig dan die rokkie op. Meer as honderd-en-vyftig jaar se trotse geskiedenis praat met haar – met haar én haar skoonseun – as hulle sag oor die rokkie vryf.

Dis ’n hele aardigheid van vroeg vanoggend al in haar Ingelse skoonseun se huis – amper soos Kersfees, net anders. Sy ma is ook daar – grand vrou, baie jonger as sy, maar gááf, hoor. Syself, én die grand Ingelse vrou, én haar dogter, word al drie aangepresenteer met ’n bouquet blomme. “Happy Mother’s Day,” sê haar skoonseun en gee vir elkeen ’n drukkie. Skoon spandabelrig, dié skoonseun. Maar nou ja, hy sit goed daarin.

Dan eet hulle ’n fancy brekfis. Pleks die kinders gaan klaarmaak. Vandag hou haar senuwees dit nooit nie. Is net jammer oor die . . . Maar nou ja, die kinders het maar hierdie moderne idees.

Toe sy uiteindelik later die oggend in die vreemde kerk se moederskamer sit, voor sy nog die ou dingetjie moet indra vir haar doop, kyk sy lank en intens na haar kleindogter. Sy sien die fyn handjies, die verwonderde ogies, die vergeelde dooprokkie. En dan begin sy saggies met die ou popmooie babatjie praat: “Ek weet nie hoe gaan jou lewe loop nie,” begin sy, “so ’n halwe rooinekkie en al, heel waarskynlik met die een of ander fancy naam wat g’n mens kan onthou nie, maar ek weet dat jy vandag in hierdie Ingelse kerk gedoop gaan word in dieselfde dooprokkie waarin ek meer as sewentig jaar gelede gedoop is.”

Die babatjie kyk haar skepties aan, dink seker sy het nie in daardie rokkie gepas nie.

Sy dink eers, en dan praat sy voort: “En dis nogal jou pa wat aangedring het daarop, wat gesê het so ’n tradisie kan nie verbreek word nie.”

Die babatjie trek groot oë vir haar. “Ja,” sê sy, “ek was net so verbaas. Maar daar het jy dit nou.”

Sy probeer luister na die preek. Dis nie dat die interkom in die moederskamer krap of te sag gestel is of iets nie. Dis net dat sy so ’n bietjie sukkel met die hoge terminologie van die dominee.

Hy praat oor Moedersdag. Sy wonder nogal of Moedersdag in ’n kerk tuishoort, dis mos nou darem nie ’n Bybelse instelling nie. Oorle’ Frans het vanmelewe gesê dis die Jode wat Moedersdag bedink het – net ’n geldmaakstorie. Maar haar skoondogters bederf haar nogal op Moedersdag, en vanoggend haar skoonseun ook. Haai, sonde, kyk waar loop haar dink heen, pleks sy konsentreer op die preek!

Dan maak die ouderling (die “elder” noem hulle hom, maar hy lyk jonk) die konsistorie se deur oop en wys sy moet die babatjie inbring.

Sy moet nie gaan sit in die voorste ry soos in haar kerk nie; sy moet daar by haar dogter en haar skoonseun en die babatjie staan vir die hele tyd.

“Today is a very special day,” sê die dominee. “Not only did Adrienne and William bring their daughter to be christened, not only is it Mother’s Day, but I also have the most enjoyable task of presenting Adrienne’s mother with a special gift.”

Toe begin hy sowaar Afrikaans te praat, net daar in die Ingelse kerk. Wel met ’n snaakse tongval, maar hy praat net met haar: “Mevrou, jou seun William sê: Hier kom jou Moedersdag-present.”

Die Ingelse dominee laat rol die Boerename, Hendriena Kathariena, so ’n bietjie oorgerond oor sy tong. Die “Handrheena” klink aardig, soos ’n soort roofdier of iets. Maar die “Cathareena” spreek hy mooi uit – hy laat dit klink soos ’n Ingelse koningin of ’n Russiese prinses of iets.

En toe kyk sy op, reg in haar Ingelse skoonseun se blou oë, en hy knipoog vir haar – net daar, in die kerk. Sy verstaan hoekom haar pragtige dogter hierdie man gekies het, uit al die mans in die hele wêreld. En vir die heel eerste keer kan sy uit haar hart uit bid: “Here, dankie vir my slim dogter, en my mooie kleindogter, en dankie vir hierdie nuwe seun van my.”

Tuiskoms

Подняться наверх