Читать книгу Siobhán van die sirkus - Jaco Fouché - Страница 6
3
ОглавлениеRonnie loop vroeg omdat ek skimp. Nou het ek so ’n uur.
Ek het ’n oorgroot pak van die helderste rooi en geel, met oorgroot sakke en enorme geel en rooi skoene in die stad gekoop. Daarmee saam kom ’n wit skedelpet met skelrooi hare wat weerskante uitbol.
Ek het die boonste deel van my gesig wit gemaak, maar ek het nie heeltemal die regte grimering nie, so die skakering is nie presies die skedelpet s’n nie.
Maar ek trek die pak aan en paradeer in my kamer voor die spieël. Die klere is so sakkerig, g’n mens kan sien hoe groot my borste is nie. Jy sien net ’n frisserige figuur wat haar eie skoene raaktrap.
Eintlik moet ek sê sy skoene, want ek lyk soos ’n mansnar. Daar’s natuurlik vrouenarre ook, maar hulle is gewoonlik die witgesig soort en op die oomblik stel ek meer in die rondvallerige boemelaar belang, so ek het my wange en ken bruin gemaak, asof ek ’n baard het.
Dis heerlik om die klere aan te trek. Ek is nooit haastig nie en bekyk elke stap in die spieël, van my onderklere tot die bont hemp en aanknip-strikdas. Dan die onderbaadjie, die broek en die baadjie bo-oor, en die skoene. Teen hierdie tyd is ek lankal gegrimeer, want ek doen dit eerste om nie die klere te bemors nie.
En nou staan ek in my narpak, ’n hartseer trek om my mond wat ek, al moet ek dit nou self sê, nogal goed opgeverf het. Ek is mos ’n boemelaarnar. Ek gooi my arms na weerskante oop en wieg terug op my hakke sodat die enorme skoene se punte lig. Net voor ek val, kom ek regop, sak eenkant toe, my hande om my gesig, die vingers wyd.
Ek loop krom, ek loop regop. Gooi my kop agteroor en lag, trek my vals wenkbroue saam sodat ek ellendig bedroef lyk.
Van die bewegings ken ek nou al, want ek oefen my gesigsuitdrukkings en houdings. Maar ek waag altyd ’n paar nuwes, wat my ma dalk vulgêr sou noem. Ek bedoel, ek is tog vermom en as ’n mens vermom is, kan jy enigiets doen.
Dan moet ek uittrek, want Koert kom van die werk af. Alta het my al in die narklere gesien, maar ek loop lig vir my pa. Dalk skrik hy as hy my so sien en weier dat ek sirkusskool toe gaan.
Dit neem tyd om die grimering af te kry. Ek sit voor die spieël en kyk hoe ek weer die ou Siobhán word, en is ’n bietjie teleurgesteld.
Maar Koert is hier en ek gaan in om hom te groet.
“Wat doen jy vandag wat die moeite werd is om van te hoor?” vra hy met ’n reguit gesig.
“Sit in my kamer en krepeer,” sê ek.
“Mooi, my dogter. Pa wil nie hê jy moet jou tyd mors nie, so krepeer gerus voort. Wat is dit dié?” Hy vee onder my oor en sy vingerpunt is wit.
Alta sien dit. “Het jy al ’n naam?”
“Nee.”
“Naam vir wat?” vra Koert.
“Vir haar hanswors.”
“Dis ’n nar, Ma!”
“Vir jou nar dan.”
“O,” sê Koert. “Jou nar. Is jy nog steeds aan die gang met die sirkusskool?”
“Pa weet mos ek gaan. Dis volgende week. Ek praat al hoe lank daaroor.”
Koert skud sy kop. Ek sien die grys in sy langerige hare. Vir ’n ruk het hy ’n poniestert gedra wat geel was aan die punt, maar dit het hy ’n paar maande gelede afgesny en gesê hy is te oud daarvoor. Dit het my gepla toe hy so praat, want ek kon sien hy bedoel dit.
Alta sê sy dink mense gee hom partykeer ’n harde tyd oor hy soms so eksentriek kan wees. Ek wonder of ons ’n eksentrieke gesin is.
“Wat gaan dit kos?” vra hy.
“Ek het gespaar. Dis my geld van werk by die markie met die blomme.”
“En wie gaan jou soontoe vat? Waar is dit?”
“Ek gaan haar vat, Koert,” sê Alta. “Dis nie so ver nie.”
“Ek is net bekommerd oor my enigste kind, dis al,” sê hy.
“Waaroor, Pa? Dis ’n bekende skool. Baie mense gaan soontoe.”
“Jy was nog nooit so lank van die huis af weg nie. Hoe lank is dit? Die hele vakansie?”
“Tien dae. Ek sal orraait wees.”
Hy skud weer sy kop. Maar ek dink nie hy sal verder vasskop nie. Koert is ’n inskiklike man, sê Alta altyd.
Dan doen hy ’n ding wat my verras.
“Kom hier,” sê hy vir my. Hy sit in die ou gemakstoel wat hy self met roomkleurige kunsleer oorgetrek het. ’n Mens kan die growwe steke aan die een armleuning sien. Dis van toe hy nog nie mooi geweet het hoe om die materiaal vas te werk nie. Maar aan die ander kant van die stoel kan jy sien hy het geleer. Dis hoe Koert is, hy leer dinge en doen dit gou goed.
Ek voel ’n bietjie simpel om by hom op die leuning met die growwe steke te gaan sit, want ek het dit lanklaas gedoen. Maar Koert is my pa en ’n dogter en haar pa het glo ’n spesiale band. So ek gaan sit daar, my arms gevou, en kyk af na hom.
Hy maak my arms los en vat my hand. “Dis hoe jy my hand vasgehou het toe jy klein was.” En hy vou my vingers om sy duim, wat warm en droog voel.
’n Snaakse gevoel kom oor my, iets wat my laat sluk.
“My dogter moenie te gou groot word nie,” sê hy, my pa, Koert, die man wat die oudhedewinkel in die hoofstraat het, met die outydse kinderstootwaentjie onder die winkel se naam.
“Ek sal mos nie, Pa. Dis net iets wat ek wil doen.”
“En jy kom terug na ons toe, met of sonder ’n rooi neus.”