Читать книгу Siobhán van die sirkus - Jaco Fouché - Страница 8
5
ОглавлениеDis dalk die beste om met Greer vriende te maak, dink ek aan tafel toe ons toebroodjies eet en vrugtesap drink. Daar is twintig mense wat die kursus gaan doen, drie van hulle saam met my in ’n hut. Ek hou nogal van hulle, dink ek, maar ons sal moet sien. Ons het maar pas ontmoet.
Daar is ’n meisie met groot heupe en sakkies onder haar oë wat lyk asof sy al dinge beleef het. Sy vertel ewe ongeërg sy het verlede jaar selfmoord probeer pleeg. Dis asof sy vir kritiek of ten minste kommentaar wag, maar niemand reageer nie.
Toe vertel sy sy het ’n dronk man wat by haar aangelê het, halfdood geslaan.
Nog steeds sê niemand iets nie. Sy is hier omdat sy ’n aktrise wil word en daar is glo nie beter voorbereiding as om te leer om ’n nar te wees nie. Sy is Alet, kwaai en intens, en erg geïrriteerd met simpel, kinderagtige ouens wat by haar probeer aanlê.
Elaine weer is lank en het breë skouers. Sy lyk fiks en sterk, en met haar donker vel is sy vir my beeldskoon. Sy vertel sy ry graag branderplank. Sy wil eendag in ’n sirkus werk en is reeds ’n goeie akrobaat, soos ons later agterkom wanneer sy saam met ander vlugvoetiges in die lug spring en tol en oor die gras rol.
Die derde meisie in my hut is Greer. Sy lyk vir my baie volwasse en dis vir my moeilik om haar met ’n rooi neus voor te stel. Wat nog te sê om soos ’n mal ding in die lug rond te tol en toertjies te doen. Sy is in matriek en sy sê sy woon die kursus by om ’n bietjie te chill, want sy weet sy is te ernstig oor die lewe.
Greer vra my: “Wat is die mooiste ding wat iemand al van jou gesê het?”
“Wel, ek dink … Ek weet nie eintlik nie …”
“Dit sal nog kom, jy sal sien. Mense sal sien jy is ’n pragtige mens.”
“En jy? Wat is die mooiste ding vir jou?”
“My taalonderwyseres het in my rapport geskryf ek het ’n flair vir literatuur en ek druk myself met finesse uit.”
“Ag, my liewe hel. Julle klink soos cupcakes met te veel icing sugar op,” sê ’n stem hard. Dis Alet. Ons glimlag versigtig in haar rigting en praat sagter.
Nadat ons klaar geëet en ons goed in die hut uitgepak het, is daar ’n verwelkomingsessie in die houtsaal. Teen een muur is plakkate van narre. Baie van hulle is oud en vertel ’n geskiedenis.
Die man wat voor ons staan, verduidelik van ’n lang tradisie in die komedie van improvisasie en kuns. Hy praat oor harlekyne, die Pierrot-figuur, die Auguste-narre, die Columbine-vrou op wie die mansnarre verlief raak in die vertonings. Hy wys dié figure vir ons uit op die plakkate.
Ek is in die sewende hemel, want dit is waaroor ek op die internet en in die biblioteek navorsing gedoen het!
Die man noem homself Klein-Piet. Dis ’n afleiding van Pierrot, sê hy. Dis sy skool hierdie en hy was al op baie plekke in die wêreld. Hy is skaars een en ’n halwe meter lank en sê hy is net-net te lank om ’n dwerg genoem te word, maar hy het die hart van ’n frats.
Dit sê hy en struikel kastig oor sy eie weerkaatsing, want teen ’n ander muur is ’n groot, lang spieël gemonteer, soos by ’n balletskool. Vir ’n paar oomblikke haal hy manewales uit wat ons almal laat lag. Ek kan sommer sien ek is tussen my eie mense.
“Julle is hier om baie dinge te leer, maar onder andere moet julle leer wat julle plek in die wêreld is, hoe dit lyk en hoe julle moet optree. Dit alles kry ons in die sirkuswêreld: die waardige en gesofistikeerde harlekyn wat vir die ander vertel wat om te doen, die Pierrots wat soveel rolle vertolk, soms ondergeskik, soms dominerend, die grootneus narre wat hulle teen die harlekyn se baasskap verset en sy bevele doelbewus verkeerd vertolk.”
Dit voel vir my ek droom, maar Klein-Piet praat verder.
“Dis waar komedie vandaan kom, uit moedswilligheid, toeval en geleentheid, maar meer nog, dis waar intrige vandaan kom.
“Julle is hier om oor intrige te leer, want julle gaan die lewe in om julle eie verhale te skep en te vertel. Die basiese reg van elke mens is om sy of haar eie verhaal te leef en te weet dis ’n geldige verhaal.”
Ná hierdie mond vol kyk ons ’n fliek. ’n Mimiekkunstenaar beeld ’n storie op ’n kaal verhoog uit. Hy is beautiful: ’n wit gedaante met dwarsstrepe oor sy hemp. Eers maak hy liefde met ’n denkbeeldige maat, dan groei sy maag in swangerskap uit, dan gee hy geboorte aan ’n figuur wat eintlik hyself is.
En hy word groter en speleriger, dan minder spelerig en ernstig, en hy is duidelik ’n grootmens met baie stres. Ander mishandel hom en hy gaan hangskouer deur die lewe.
Dan ontdek hy iets wonderliks op ’n stoel, ’n denkbeeldige boksie wat hy oopmaak, en dit besiel hom en hy raak weer trots en bly en dis weer lekker om te lewe.
Hy geniet ’n tyd van voorspoed, drink wyn en rook sigare. Dan word hy ouer en loop stadiger en krommer, en uiteindelik sterf hy in ’n hopie.
Ons klap hande en juig toe dit klaar is. Alet en Elaine gaan vorentoe en praat met Klein-Piet, wat na hulle moet opkyk.
“Ons hutmaats is intense mense,” sê Greer wat by my bly sit het. “Hulle is ernstig oor die kursus. Waar kom jy vandaan?”
“Van ’n dorp in die Overberg.”
“Ek is van Kaapstad af,” sê sy. “’n Privaatskool waar ek te goed na my sin vaar.”
“Hoe kan ’n mens te goed vaar?”
“Ek weet nie hoekom ek dit doen nie, ek bedoel so hard werk nie.”
“’n Mens pluk die vrugte daarvan.”
“Die vrugte van harde werk is net nog harde werk.”
“Nee!”
“Ja. ’n Mens leer nou hard en presteer en mense verwag dit daarna jou lewe lank van jou. Dis beter om vroeg al te leer om jouself te geniet. Dis wat ek hier wil leer.”
“Ek is seker jy sal,” glimlag ek vir haar, en my hart voel warm toe sy terugglimlag.
“Wat is jy?” vra sy my.
Ek verstaan nie mooi wat sy bedoel nie, maar ek sê: “Ek is ’n nar.”
“Dan is jy ’n dwaas.” Ek weet eers nie of sy my beledig nie. Sy gaan egter voort. “Dis ons dwase se voorreg om geluk in die wêreld te bring. Ek en jy moet mekaar leer om goeie dwase te word.”