Читать книгу Eva se appel - Jacolet van den Berg - Страница 3
1
Оглавление“Because I like how it feels!” basuin die radio in die kombuis dit uit. “Because I like how it feels!” Haar stem lig byna die dak toe sy uit volle bors inval. Nie heeltemal op dieselfde noot as Enrique Iglesias nie. Goed, sy klink soos ’n gans wat by die vrolike getjirp van ’n kanarie probeer kers vashou, maar wie gee om? Nie sý, Leah Louw, nie.
Sy is gelukkig en sy hou van die lewe. Sy wil dit uitskreeu sodat die Duitse suurknol van langsaan en die misterieuse nuwe intrekker aan die ander kant haar kan hoor. Ag wat, vir al wat sy omgee, kan die hele Melville haar hoor. Sy het ’n deurbraak gemaak. Nie sommer só ’n deurbraak nie, ’n deurbraak wat haar lewe gaan verander. Die stadsraad van Johannesburg het háár gevra om deel te neem aan ’n uitstalling en ’n reeks beelde vir die Nelson Mandela-plein in Sandton te maak. Haar vingers jeuk by voorbaat. Sy het ander projekte wat klaargemaak moet word, maar dit behoort nie ’n probleem te wees om alles gedoen te kry nie. Lang dae en laat nagte is haar voorland, maar dis in elk geval hoe sy funksioneer wanneer sy met ’n projek besig is.
Dis eenvoudig ongelooflik dat sy die geleentheid gekry het. ’n Hengse kompliment, al moet sy dit nou self sê.
Weer swaai sy haar lyf. Haar heupe was nog altyd los. Dalk ingebore of dalk juis van al die gedans soggens in haar ateljee. Haar ma se heupe is ook los. Die arme vrou is ’n hippie, vasgevang in die voorstedelike wêreld van ’n middelklasegpaar, terwyl haar pa die “middel” in middelklas definieer. Hy is een van daardie mense wat altyd die regte, gemiddelde ding probeer doen. Bestendige, eentonige werk. Elke dag getrou op sy pos in sy bruin broek en strepieshemp. Ouderling by die kerk, nooit ’n agterstallige rekening nie en nooit as te nimmer nie sal hy die gras sonder sy hemp sny waar ander mense hom kan sien.
Maar Martie Louw is ’n ander saak. Leah was nog op laerskool toe haar ma die spoor byster geraak het. En dit was nie maar net ’n veertigerkrisis nie – dít het Leah reeds besef toe sy veertien was. Die jaar tevore het sy gedink haar ma se jogaklasse is funky; toe die belly dancing volg, was sy selektief oor wie sy daarvan vertel. En uiteindelik het sy niemand van die paaldansery vertel nie. Dit was asof haar ma haarself probeer herontdek het en begin soek het na iets wat sy nie by haar huis gekry het nie. Die makeover het almal opgemerk, en daar was niks wat Leah en haar ousus, Mari, daaraan kon doen nie. Almal kon sien haar ma het die lank verlore blommekind in haar, en dalk ook haar seksualiteit, ontdek.
Miskien het haar ma vasgekeer gevoel in ’n wêreld waar sy nie gehoort het nie en was dit rebellie teen die eentonigheid van haar lewe. Dis toe dat Leah al besluit het sy gaan nooit in haar lewe settle en beslis nie vir enigiets eentonigs nie. Nie vir ’n man of beroep of blyplek nie. Om koers te verloor in haar middeljare oor verkeerde besluite is eenvoudig nie vir haar ’n opsie nie, daarvoor het sy haar as tiener genoeg geskaam.
Een laaste keer sing sy dat die ewige hadida buite op die gras sy vlerke sprei en met ’n beskuldigende gekras oor die dak verdwyn. “Because I like how it feels!”
Die laaste klanke sterf weg, en Leah leun byna uitgeput van opwinding teen die kombuistoonbank. Sy sit haar hande voor haar gesig. Hierdie geleentheid is net ongelooflik!
Die telefoon op die toonbank lui, en sy gryp haastig daarna terwyl sy die radio in dieselfde beweging sagter draai.
“Hallo? Is dit jy, Leah? Wat klink jy so uitasem? Is jy al weer besig om daai swaar sakke sement self rond te skuif?” Mari se stemtoon is betigtend, alte veel soos ’n ousus wat ma speel.
“Mari! Nee, ek skuif niks. Ek het gedans. Jy sal nie glo . . .”
“Gedans? Ag nee, man. Ek hoop jy is al aangetrek en opgedollie, want ek is oor tien minute by jou. Ek het jou gesê ek wil nie alleen na hierdie kinderpartytjie toe gaan nie. En lyk asseblief net ordentlik. Jy klim nie in my kar as jy nog ’n oorpak aanhet nie.”
“Ontspan, ontspan, Sus. Ek is gereed. Ek dans omdat ek op hierdie Vrydagmiddag pas die beste nuus in my hele loopbaan gekry het, en jy gee my sowaar nie kans om jou te vertel nie.”
Met ’n sug sak Leah op die mat in die sitvertrek neer. Op die naat van haar rug glimlag sy vir die dak.
“Nou vertel!”
“Ek gaan werk vir die stadsraad doen. ’n Hengse projek. Ses beelde. Grotes. Om op die Nelson Mandela-plein uit te stal. Dit moet die voetspore wat Nelson Mandela getrap het, simboliseer en verewig. Iemand met invloed het my laaste uitstalling by Tukkies gesien.”
“Dit klink groot. Baie geluk, jong. Maar vertel my die besonderhede wanneer ek jou oplaai, ek moet nou op die pad konsentreer en gaan net met ’n halwe oor luister. Ek is amper by jou.”
“Ek wag buite vir julle.”
Sommer vanaand nog begin sy beplan en voorberei, besluit Leah. Môre wil sy aan die werk spring. Ses beelde. Die uitdaging gaan al haar energie verg. Haar kop begin klaar draai van al die planne. Haar hande jeuk om met die klei te begin werk, maar eers sal sy rustig moet word sodat sy die beelde of ten minste ’n sweem van hulle in haar geestesoog kan sien. Dan sal sy moet begin skets en vertroud raak met die onderwerp. Nee, dit help nie om nou haastig te wees nie, sy sal deur die hele proses moet werk. Dis hoekom haar werk van so ’n hoë standaard is.
Buite die hek gaan sit Leah op die sypaadjie. Haar lyf kriewel van opwinding. Nou, ná die oproep van die stadsraad, verwens sy haar dat sy ingestem het om saam met Mari na die lah-di-dah kinderpartytjie te gaan. Sy verstaan nie hoekom mense sulke oordadige partytjies vir vyfjariges hou nie. Nog minder begryp sy hoekom Mari deur dié mense geïntimideer word. Dis vreemd, want Mari is nie die tipe wat maklik geïntimideer word nie. Geld het haar suster nog nooit beïndruk nie.
Miskien lê Mari se onsekerheid dieper as die materiële en eerder op die sentimentele vlak. Dalk het die feit dat haar kinders nie ’n pa het nie, iets daarmee te doen. Boonop het sy ook nie ’n hartseer storie wat almal se verbeelding sal aangryp nie. By die skool ervaar Mari die druk as enkelma, Leah weet dit, daarom help sy haar ousus waar sy kan. Dit moet ’n bitter pil wees om te sluk as die pa van jou kinders nie met jou wou trou nie en toe tog iemand anders sy wettige vrou maak. Gelukkig is hy en sy Duitse vrou nou ver in Duitsland. Sy hoop maar dis waar dat uit die oog, uit die hart beteken. Mari het gehoop haar eerste kind sal haar finaal aan die swakkeling bind. Ja, Leah besef sy behoort nie so aan die oulike Lika se pa te dink nie, maar sy sê dit darem nie hardop nie. Die tweede baba was ’n glips. In haar enigheid is Leah nog altyd bly die twee se paaie het uiteindelik geskei. Mari en die kinders verdien beter. Hulle verdien om gekoester en liefgehê te word. Watter pa teken sy kinders ewe groothartig weg en verdwyn landuit voor iemand hom tot verantwoording kan roep? ’n Slapgat. Die kras gedagte laat Leah skaam kry, maar dis omdat die onregverdigheid teenoor die kinders haar hart breek.
Nog ’n rede hoekom sy eerder al haar tyd aan haar werk sal bestee: Verhoudings is nooit volmaak nie. Verhoudings kan ook nooit volmaak wees nie, want mense verskil te veel. Daarom is daar altyd iemand wat seerkry. As dit nie die geliefdes is nie, is dit die kinders. Kyk nou maar na haar eie ouers. Verhoudings sal haar dus nooit aanstaan nie. Nooit sal sý haar so uitlewer aan die genade van iemand wat volgens die wet van die natuur sy eie belange voorop stel nie, want dis wat mense doen. Sy verkies ’n stuk klei omdat sy beheer daaroor het en boonop haar emosies kan uitleef.
Sy onthou nog goed hoe sy as tiener haar liefde vir klei ontdek het. In hul tienerjare was sy en Mari op mekaar aangewese nadat hul ma besluit het sy is van ’n ander planeet. En die jaar toe Mari universiteit toe is, het Leah die eerste keer gevoel hoe dit voel om alleen te wees. Sy was in standerd nege en emosioneel taamlik broos. Hul destydse buurvrou moes agtergekom het hoe eensaam sy was, want sy het haar uit die bloute gevra om haar in haar pottebakkersateljee te kom help. Dit was nie lank nie of Leah het in haar eie skeppings verlore geraak. Tog het sy en Mari nooit voeling met mekaar verloor nie, al het hul paaie tydelik geskei toe sy in die kunste gaan studeer het terwyl Mari aan die einde van haar onderwysstudie was.
Dis hoekom Leah nou na die verdomde kinderparty gaan. Gedress in haar mooiste en enigste somerrok. As Mari haar sin kon kry, sou sy seker een of ander statement met ’n hoed op haar kop ook moes maak. Maar goed versorgde hare, toonnaels wat met absolute presisie geverf is en haar beste rok is so ver as wat sy bereid is om toe te gee. Mari het ’n manikuur voorgestel, want haar hande lyk glo soos werkershande, en daar is altyd klei onder haar naels. Dis waar sy die streep trek. Daar is niks fout met haar hande nie. Sy werk met hulle, ja, maar haar naels is skoon. Meestal. En haar naels is kort omdat dit nie anders kan nie.
Die motorhuisdeure van die huis langs hare gaan oop en sy eien die ligte kop van ’n man. Dis haar buurman, of so neem sy aan. Hulle het nog nie voorheen ontmoet nie. Hy het die huis aanvanklik verhuur en het eers ’n maand gelede self hier ingetrek. Twee keer het Leah gaan aanklop om haar voor te stel, maar telkens het sy voor dooiemansdeur te staan gekom. Daarna was sy te besig. Nie dat sy die man graag wou ontmoet nie, dis darem net ordentlik om jou aan nuwe bure voor te stel.
Hy kom nader gestap toe hy haar sien. Die lenige lyf is gemaklik in jeans en ’n wit hemp met die moue opgerol tot by sy elmboë. Sy staan op en skud haar agterstewe outomaties af. Daar huiwer ’n glimlag om sy lippe, en sy kan nie help om die sensuele volheid daarvan te waardeer nie. Langerige blonde hare krul oor sy voorkop en ore en laat haar onverwags aan see en sand dink.
’n Paar treë van haar, steek hy sy hand na haar uit. “Middag. Hein Malherbe. Jy is my buurvrou, nè?” Die glimlag om sy lippe kán onbewaakte hartsnare dalk roer, maar nie hare nie.
Leah lê haar hand in syne. Dis heelwat groter as hare, maar sagter. ’n Kantoorwerker. “Middag. Leah Louw.”
“Ek het vroeër ’n geskreeu gehoor. Ek het gewonder of dit van jou kant kom, en of alles in orde is. Ek het van die ou oom en tante oorkant die pad verstaan jy bly alleen.” Die glimlaggie bly om sy lippe. Nie meer oorrompelend nie, eerder ietwat spottend.
Leah kyk na haar silwer toonnaels, hulle vertoon goed in die swart sandale. Dan lig sy haar ken en kyk uitdagend na hom. “Jammer as ek jou gepla het. Ek het nie geskreeu nie. Ek het gesing.”
Hy knip nie sy oë nie. Daar is diepte in sy blou oë. Die duidelike lyne om sy oë en mond kreukel dieper toe haar woorde insink. Hy is ouer as sy, sy kan dit sien. Dit lyk of hy al geleef het en dalk ook gereeld lag.
Die tuinhekkie agter haar gaan oop, en die Duitser kom met sy hond aan ’n leiband uitgestap. Sy draai haar blik weg van Hein Malherbe in ’n poging om ontslae te raak van die ongemak wat in haar begin oplaai. Zef Zef Zef! lees die woorde op die Duitser se T-hemp. Die enkele kere wat sy met Jan Bauer gesels het, het haar oor hom laat wonder. Hy lig sy hand in ’n effense groet. Nie oorvriendelik nie, maar tog. Hein groet ook en die kontras tussen die kraakwit hemp en sy sondonker arm val haar op.
Ook Leah wuif vriendelik. Haar zef buurman is blykbaar pas deur ’n egskeiding. Dié debakel het wragtie sy gemoedstoestand verbeter. Sedert sy vrou hier weg is, groet hy almal, steeds suurderig, maar die glimlag word elke dag effens breër. Seker nog ’n bewys dat sommige mense beter af op hul eie is. Die Duitser is miskien eksentriek, maar daar is iets aan hom wat die aandag trek. Hy het ’n gimnasium-lyf en is oënskynlik baie erg oor die gedroggie aan die lyfband. Sy hoor hom soms met die hond praat wanneer sy by haar agterdeur staan.
“Miskien moet jy sanglesse oorweeg.” Hein se woorde trek haar aandag terug na hom. Die uitdrukking in sy oë is onpeilbaar, en sy vererg haar effens.
Verwag hy sy moet haar verdedig? Of wil hy hê sy moet haar skaam en beloof om nooit weer te sing nie?
“Ek het kliënte gespreek toe ons die geskreeu hoor. Die mense was oortuig iemand word aangeval en wou opsluit die blitspatrollie bel.” Iets in sy stem laat haar wegkyk.
“Werklik? Ek kan seker sing as en wanneer ek lus het.” Dit kon wragtig nie so erg gewees het nie. “Ek het nie geweet jy bedryf ’n besigheid van jou huis af nie. Het jy goedkeuring daarvoor?”
Hy lag. Die klank is diep en vang haar vas, maar toe hul oë weer ontmoet, verdwyn sy lag en daarmee saam die plooitjies om sy oë. “Ek het niemand gesteur nie, het ek miskien?” Hy vou sy arms voor sy borskas. “En ek bedryf nie ’n besigheid van my huis af nie. Ek sien net soms kliënte hier as hulle my ná ure of oor naweke wil spreek.”
Leah knik, maar bly op haar hoede.
Die bekende dreuning van Mari se motor kom nader, en verligting spoel deur Leah. Al kan sy die motor nog nie sien nie, weet sy haar suster gaan nou enige oomblik om die skerp draai in die pad kom. “Dis my geleentheid, ek moet nou gaan. Jammer oor jou kliënte, maar ek kan nie belowe dat ek nie weer gaan sing nie. Dis wat ek doen wanneer ek gelukkig is.”
Mari hou langs hulle stil, en die ruit gly oop. “Middag.” Haar wakker oë draai dadelik geïnteresseerd na Hein. Iets in Leah kriewel toe hy vriendelik vir haar mooi suster glimlag. Daar is opregtheid in die lyne wat dieper om sy mondhoeke keep.
“Goeie middag, Hein Malherbe.”
“Mari Louw. Leah se suster.” Mari vind dit blykbaar moeilik om haar blik van Hein weg te skeur, en dit affekteer Leah onverklaarbaar sodat sy vooroor buk om deur die agterste passasiersruit te loer. Sy trek ’n gesig, en die kinders lag. Die jaar oue Gideon swaai sy handjie entoesiasties toe sy sussie hom aansê om te waai.
Toe draai Leah haar na haar buurman wat nog steeds langs Mari se venster ginnegaap. “Totsiens. Ons sal moet ry, anders is ons laat vir ’n partytjie.” Haar stem is kortaf, maar sy kan dit nie help nie. Sy is nie nou lus vir ’n flikkergooiery onder haar neus nie.
Hy tree terug op die sypaadjie en lig sy hand. Fyn plooitjies kreukel weer om sy oë. “Ek is bly jy is gelukkig.” Sy oë lag vir haar, en sy voel hoe haar gesig vlam vat. “Ek sal my nie weer oor jou veiligheid bekommer nie, Leah.” Haar naam glip oor sy lippe asof hy haar ken en hul oë ontmoet langer as nodig oor die breedte van die motor. “Met daai stem sal geen regdenkende skelm dit naby jou waag nie.”
Sy is lus om hom met haar skouersak te gooi, maar netnou breek haar selfoon. Met ’n poging tot ’n blik uit die hoogte klim sy in die motor sonder om hom te antwoord. Mari trap die versneller liggies, en Leah lig haar hand net halfhartig in ’n wuif. Help nou nie sy is totaal onbeskof teenoor die man nie, hulle is immers bure.
“Was gaaf om jou te ontmoet.” Mari glimlag haar mooi glimlag vir oulaas van oor tot oor.
“Selfde,” sê Hein.
“Genade, wat beteken dit?” snip Leah toe Mari wegtrek. “Ek dog ons is laat en nou talm jý.”
Mari se donker hare hang blink en golwend tot onder haar skouers. Leah se eie donker hare is heelwat langer, maar net omdat sy nie so gereeld by die haarsalon uitkom nie. Mari se gelaatstrekke is eweredig en haar vel soel. Alles aan haar is treffend en sal sekerlik iemand soos Hein Malherbe se aandag trek.
Mari haal haar skouers effens op. “Mesmerising.” Sy ignoreer die tikkie sarkasme in Leah se stem toe sy in die truspieëltjie kyk. “Hoekom het ek jou buurman nog nooit ontmoet nie?”
“Ek het hom self nog nie voorheen ontmoet nie. Dit was ons eerste kennismaking.”
Die Vrydagmiddagverkeer is ’n nagmerrie.
“Vertel my van jou nuwe projek. Dit klink groot.” Mari bestuur selfversekerd en haal haar oë nie van die pad nie. Die klanke van kindermusiek vul die kajuit, en sy draai die radio sagter.
“Dit is. Oktober gaan my beelde saam met die kunswerke van drie ander kunstenaars uitgestal word, waarna dit opgeveil sal word. Dit beteken ek het nege maande om te werk.” Die kinderliedjie oor die radio roep kleintydherinneringe op en Leah kan die versoeking nie weerstaan om eers bietjie saam te sing nie. “Ek is ’n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis. Daar is niks waarvoor ek skrik nie!” Sy draai die klank weer harder, en die kinders lag. Gideon se koppie wip-wip ritmies saam en haar hart vermurwe. “Is die musiek veronderstel om ons in ’n partytjiebui te kry?”
“Wanneer beplan jy om aan die projek te begin werk?” Mari hou nie baie van lawwigheid nie en is gewoonlik die een wat kop hou en selde beheer verloor. Behalwe in haar liefdeslewe, natuurlik. Haar gedagtes dwaal nie sommer nie. Dis iets wat sy van hul pa geërf het. Ongelukkig wil dit voorkom of sy wat Leah is meer van haar ma se gene gekry het. Mari is een van daardie mense wat haar ruit by die verkeerslig afdraai om iemand te betig wat op sy selfoon praat of nie haar kinders vasgespe nie. Sy is reguit en laat nie met haar mors nie; dis hoekom Leah nie verstaan hoe die kinders se pa dit reggekry het nie. Miskien steek daar tog waarheid daarin dat liefde blind is, maar ook net tot op ’n punt. Kyk nou maar na haar ouers. Dalk raak party vroue desperaat wanneer dit by mans kom. Hulle voel vasgekeer in omstandighede waarin hulle ongelukkig is en wat hulle dan wanhopige dinge laat aanvang.
Daarom sien sy nie kans vir die drama wat met mans gepaard gaan nie. Al wat sy wil doen, is om haar beelde te maak en in vrede te leef. Die wêreld is aan haar voete. Sy kan kies wat sy doen. Kan skep net wat sy wil, hoe sy wil, wanneer sy wil. Sonder dat iemand haar inperk, haar bewegings strem en vir haar voorskryf. Sy hoef haar lewe nie te skik om by iemand anders se grille en giere te pas nie en dis hoe sy dit verkies. Wanneer sy werk, is dit asof selfs die voëls in die tuin asem ophou om te sien hoe die beeld vorm onder haar vingers aanneem. Sy het ’n gawe gekry waarvoor sy baie dankbaar is.
“Hei, hoor jy my?” vra Mari.
“Ja, ek het gehoor. Vanaand nog. Ek moet begin beplan, rondspeel met gedagtes. Sketse maak.”
“Moet asseblief nie dat ons jou weer vir dae aaneen nie sien of van jou hoor nie. Ek bekommer my as ek jou nie in die hande kan kry nie.”
“Ek sal nie, maar hierdie opdrag is groot. Dit gaan baie tyd verg en ek het nog ander bestellings wat moet klaarkom. Vertel my nou eers hoekom dit so absoluut noodsaaklik is dat ek vandag saam met jou gaan. Dit pla jou gewoonlik nie om alleen na partytjies te gaan nie.”
Mari kyk vlugtig sydelings na haar en beduie met haar oë in Lika se rigting. “Kom ons sê maar ek het die morele ondersteuning nodig.”
Die huis in Eagle Canyon Golf Estate is, om die minste te sê, ’n paleis. Dis nie een van die tipiese Toskaanse monstruositeite wat die afgelope jare met nuwe geld gebou is nie. Maar sonder twyfel spreek dit van geld, en baie daarvan. Van die hoë kontemporêre sinkdak tot by die fontein wat water die lug in spuit asof daar geen kommer is oor waar die volgende twintig jaar se water vandaan gaan kom nie.
Miskien is dit tog die geld wat haar suster intimideer, besluit Leah terwyl sy alles om haar waarneem. “Waarvandaan ken jy dié mense?”
Die groot voordeur swaai oop en ’n kloon van Patricia Lewis, met arms dramaties wyd oop, kom uit. Die gebaar is seker veronderstel om verwelkomend te wees. Leah en Mari glimlag albei asof hulle Alice in Wonderland is.
“Lika is saam met die dogtertjie in Graad R. Dis mos ’n gesogte privaat skool. Feitlik al die kinders in ons skool kom uit dié tipe omstandighede. Goue lepel in die mond en agterstewe in die botter,” fluister Mari toe hulle nader stap.
“Mari, ek is so bly julle het gekom. Baie welkom. En is dié nou jou kunstenaarsuster? Ons sal van jou gebruik moet maak, ek hoor net goeie dinge.”
Mari stel hulle aan mekaar voor, maar die vrou se naam ontgaan Leah byna onmiddellik weer, want so ’n wit glimlag het sy laas by Bon Jovi gesien. Tog klink die gasvrou se woorde opreg genoeg. Seker maar wat ’n kosmetiese regtrek hier en daar doen.
Binne-in is die huis ook als wat die buitekant beloof. Die dak is hoog en die onthaalarea soos ’n saal. Die massiewe stapeldeure wat op die gholfbaan uitkyk, is heeltemal oopgeskuif met die gevolg dat die een kant van die huis oop is. Groot glasvensters bo teen die dak dra daartoe by dat die vertrek besonder lig is. Mari het Gideon op die heup, dié klou skielik aan haar nek soos ’n apie wat in lewensgevaar verkeer. Lika het Leah se hand beet asof sy nog nooit voorheen mense gesien het nie. Die kinders is blykbaar ook oorweldig.
Die malvalekkerpienk partytjieversierings is opvallend. Die tema is prinsesse en ponies. Dis inderwaarheid asof hulle pas ’n sprokieswêreld betree het. Daar is ’n magdom kinderoppassers en kelners in prinses- en prinsgewade.
“Dit is nou Mari Louw, ons onderhoof,” stel die gasvrou Mari aan ’n vrou voor wat Leah nouliks kan groet, want Lika rem skielik wild aan haar hand.
“Kyk! Kyk!” roep sy. “Kyk die babaperdjies!”
Leah kyk. “Dis miniatuurperdjies.” Sy verkyk haar ook aan die vyf kostelike perdjies, almal opgedollie in pienk. “Jy kan maar saam met die ander maatjies gaan help om hulle te borsel en streel. Kyk, daardie tannie wys julle hoe.”
Lika laat nou nie op haar wag om saam met die ander kinders deur die perdjies meegevoer te word nie.
Mari het dieper die vertrek in beweeg, en Leah staan nader om klein Gideon te gaan haal.
“Mari! Ek het nie geweet jy gaan ook hier wees nie,” sê ’n ryk, goed gemoduleerde manstem agter haar net toe Leah Gideon se handjies van sy ma se nek begin loswoel.
Die ligte blos op Mari se wange en die lig in haar oë bring Leah tot stilstand. So ’n stem kan sjampanjeborrels in vroue se are loslaat. Eindelik slaag sy daarin om Gideon weg van sy ma te trek. Die kleinding kon netsowel ’n neet gewees het, want die oomblik toe sy hom op haar heup het, suig sy arms om haar nek vas.
Die eienaar van die stem kom in Leah se gesigsveld, en sy laat val die seuntjie in haar arms amper. Mari glimlag nogal ietwat verleë van alle dinge, toe sy die man se hand vat. Sy donker hare is modieus kort. Kuiltjies duik in sy wange toe hy glimlag. Waar in jou lewe, behalwe op die groot skerm, het jy nou al so iets gesien? Sterk ken, netjiese reguit neus en ’n paar blougroen oë wat knieë kan laat swik.
Onwillekeurig dink Leah aan haar buurman. Kan hy kers vashou by dié man? Ongetwyfeld. Gelukkig kan sy mooi mans bewonder omdat sy waardeer wat sy sien, maar dan kan sy haar rug draai, haar hande om haar klei vou en van hul bestaan vergeet.
Vat jou goed en hardloop, wil sy in Mari se oor fluister, hierdie man breek harte sonder dat hy dit eers weet.
Sy wonder of haar suster in staat gaan wees om ’n sinvolle gesprek te voer. Haar eie mond is droog, en sy ken die man nie van adamskant nie.
“Hallo, Ian. Lika is in die verjaarsdagmaatjie se klas.” Mari slaag daarin om kalm en koel te antwoord, en Leah kyk met nuwe oë na haar suster. Mari se selfbeheersing is dus nie net bluf nie. “Kan ek julle voorstel? Ian, dis Leah, my suster, en Ian Swartz. Ian is Lika en Gideon se pediater en die verjaarsdagmaatjie se oom.”
Leah lê haar hand in Ian s’n. “Aangenaam.” Die manshand is warm om hare en die druk bedagsaam. Hierdie man gee tog om vir ander, sy kan dit aanvoel.
Mari maak nog ’n aanmerking oor die partytjie terwyl Ian een of ander staaltjie oor die reëlings vertel.
“Ek gaan die perdjies vir Gideon wys.” Leah hoor hoe Mari lag toe sy wegstap en sou wat wou gee om te weet wat in haar suster se kop aangaan.
Vanaf die perdjies hou Leah steeds vir Mari dop. Dié kry ’n drankie by die Prince Charming wat verbystap en teug versigtig daaraan terwyl sy geïnteresseerd na die pediater luister. Daar is nie ’n ring aan sy vinger nie. Mari lyk taamlik beïndruk.
Gelukkig interesseer die perdjies vir Gideon sodat hy dit waag om sy arms om haar nek los te maak. Sy gebruik die oomblik om weer na Ian Swartz te loer. Nog ’n man sluit by hom en Mari aan, en Ian se Hollywood-glimlag verbreed toe hy sy hand glimlaggend na die vreemdeling uithou. Dit blyk ’n vrolike gesprek te wees, want Mari lag klokhelder.
Een van die kinderoppassers kom tel Gideon op, en die seuntjie laat haar toe om hom die kasteel in die een hoek van die tuin te gaan wys.
Voor Leah by die groepie kan aansluit, verskoon Ian hom egter. Toe Mari haar sien huiwer, gaan Leah nader. Mari neem nog ’n drankie by ’n kelner en hou dit na Leah uit toe hulle buite gaan staan.
“Dankie dat jy na die kinders kyk. Gewoonlik kry ek nie kans vir gesels by sulke geleenthede nie.”
“Gewoonlik wíl jy nie gesels nie omdat jy nie lus het vir oppervlakkige praatjies nie of bang is mense vis uit oor jou persoonlike lewe.”
“Waar kom jy daaraan?”
“Ek ken al jou tricks. Jy gebruik jou kinders maklik om onnodige geselsies te vermy. Dit is nou die tweede man in twee ure wat jou kop laat draai. Het jy my saamgenooi omdat jy bang vir die pediater is?”
“Moenie laf wees nie. Ek was werklik net nie lus om nog een van hierdie geleenthede alleen te trotseer nie. Dis nie vir my maklik nie. Ek is die onderhoof by die skool en daarom hou almal my dop. Dis nie lekker as mense na jou kyk asof jy kaal op Hartenbos se hoofstrand tan nie, en dan alles omtrent jou persoonlike lewe probeer uitvind voor hulle besluit of jy vir hul kinders mag skoolhou of nie. En waar kom jy daaraan dat twee mans my kop al laat draai het? Ek erken Ian is ’n besonderse man. Hier is ’n hele paar ma’s wat hoop hul kind word siek.”
Leah lag. “Wat my bekommerd maak, is dat ek vermoed jy is een van hulle.”
Mari glimlag geheimsinnig. “Jy is nie verniet die ysprinses van die eeu wat verhoudings aanbetref nie. Jy moet leer waag anders is jy heeltemal alleen voor jy jou oë kan uitvee.”
“Ek wil alleen wees. Dan kan ek doen wat ek wil.”
“Dis wat jy dink. Kom ons kry iets te ete. Ek het die energie nodig, en die eetgoed lyk absoluut dekadent.”
Toe die eerste gaste teen sesuur aanstaltes begin maak, is Leah bly Mari stel voor hulle moet die geleentheid gebruik om ook te ry. Gideon is teen dié tyd al so oorgestimuleer dat hy nie meer weet of hy wil sit of staan nie. Sy hande is taai, sy gesig vuil.
’n Diepe meegevoel met Mari se situasie maak Leah skielik bly sy het ingestem om vanmiddag saam te kom. Miskien moet Mari tog maar ’n man kry – iemand om haar met die kinders by te staan. Sy verdien nie om alleen te wees nie.
Ian Swartz het hulle baie beleef kom groet. Leah kon nie agterkom of hy Mari se hand bietjie langer vasgehou het as wat nodig is nie. Sy het sy lyftaal probeer peil, hom so lank dopgehou dat hy dit agtergekom en bespiegelend na haar gekyk het.
Die kinders is neulerig in die motor. Leah doen haar bes om te troos, maar nie met baie sukses nie. Vrydagmiddag is nie die beste tyd vir ’n kleuterpartytjie nie.
“Keer dat Gideon slaap,” sê Mari toe dit lyk asof die kleintjie se ogies begin toeval. “Ons is amper by die huis, en hy moet eers behoorlik eet voor ek hom in die bed kan sit.”
Dis makliker gesê as gedaan. Leah irriteer hom net met haar pogings. Toe hy uit frustrasie die hoeveelste keer sy fopspeen teen Mari se sitplek vasgooi, is Leah verlig om te sien dat hulle byna by haar straat indraai.
“Ek kan dit nie kry nie. Dit het langs die sitplek ingeval.”
Die kleintjie skreeu so dat Mari haar sitplekgordel losmaak. “Toemaar, ek kan dit bykom.”
Mari strek na agter, laat haar blik net ’n oomblik van die pad draai. “Ek het dit!”
“Mari.” Die woord is net ’n fluistering, al wou Leah eintlik skreeu.
“O, genade!” roep Mari verskrik. Hulle is aan die verkeerde kant van die pad om die blinde draai. Die voertuig wat van voor af kom, is heelwat groter as Mari se dienlike een. Bande skuur toe albei partye rem trap, maar die voertuie meedoënloos na mekaar gly. Vir ’n oomblik is dit asof alles tot stilstand kom. En dan tref die realiteit hulle . . . is dit asof die geweld van die oomblik hulle tot verantwoording wil roep oor hul agterlosigheid. Die voertuie tref mekaar met ’n slag. Die geluid van metaal wat frommel, is angswekkend.
Toe gil Mari.
Sy word teen die stuurwiel vasgeslinger, maar daar is niks wat Leah kan doen om haar te help nie. Alles geskied so verblindend vinnig dat Leah skaars bewus is van die pyn wat deur haar nek en kop skiet.
Toe is alles verby. Die voertuie staan botstil.