Читать книгу Operasie droomvrou - Jade Mc Menamin - Страница 4

1

Оглавление

“Ek’t haar gevind!” is Riekert se eerste ekstatiese woorde toe Elmien die voordeur van haar huis vroegaand vir hom oopmaak.

“Ek het nie geweet jy soek na iemand nie,” merk sy droogweg op. Sy draai terug om weer in die hangmat in die woonkamer te gaan lê, te moeg om in haar jeugvriend se entoesiasme te deel. “En vir wat gebruik jy nie jou eie sleutel nie?” vra sy vies oor haar skouer met die wegstap.

“Ek’t haar gekry, Mienkie!” bulder Riekert wat die woonkamer kort op haar hakke binnekom. Maar dit is sy volgende woorde, en nie die triomfantlike uitroep nie, wat haar die hangmat skoon mis laat sit. “Ek het my droomvrou gevind.”

Oorbluf bly Elmien op die plankvloer sit. Só onkant betrap deur die openbaring is sy dat sy skaars bloos vir die onwaardige manier waarop sy hier beland het terwyl die vyf woorde diep in haar resoneer.

Riekert help haar gou op. “Seergekry?”

“Nee.”

Hy vryf sy hande ingenome. “Wel?”

“Wel, wat?”

“Wil jy nie weet wie, waar en wanneer nie?”

Sy gaan lê in die hangmat en kyk woordeloos hoedat hy een van die twee swaar gemakstoele tot teenaan die hangmat trek, dankbaar oor die gedempte lig van die lampie op die sytafeltjie. Toe sy praat is haar stem skaars meer as ’n fluistering. “Wie, waar en wanneer?”

“Ken haar nie … nog nie. In die Food and Wine Emporium. Vroeër vandag.”

Elmien lê roerloos en luister na die opgewonde relaas. Sy hou Riek stil dop, onderbreek hom nie, voel hoedat die moegheid woord-vir-woord uit haar gepers word terwyl ’n vreemde gevoel in haar opwel. ’n Bangheid wat na daardie verdoemende woorde diep in haar ingewande ontkiem het en nou deur haar liggaam rank.

“Een kyk is al wat dit gevat het.” Hy bly ’n oomblik stil, voeg dan verwonderd by: “Wragtag, nes in die flieks.”

Hy lyk soos ’n verliefde skoolseun.

“Ek’t skoon vergeet wat ek by die Emporium wou gaan kry het. Ek het met die leë mandjie agter haar aangestap, jy weet, so halfgehipnotiseerd, want ek kon my oë eenvoudig net nie van haar afhou nie.”

Elmien maak haar mond oop om iets te sê, maar geen woord kom uit nie.

’n Woordevloed stort egter oor Riekert se lippe. “Sy’s mooi, blêrrie mooi … perfek … als waarna ek in ’n vrou soek. Lank, slank, blond, goed versorg, elegant.”

Gevleuelde woorde.

“Sy beweeg soos ’n koel lentebries.”

Halsoorkop verliefde woorde.

“Selfs die manier waarop sy inkopies gedoen het: hoe sy iets van die rak af haal, dit in haar hand hou, daarna kyk, die etiket lees en dit in haar mandjie sit.” Hy haal ’n slag behoorlik asem. “Ek het nooit geweet dat kruideniersware koop só sexy kan wees nie.”

Nie eens dié verspotte verwysing kan ’n kwinkslag by haar ontlok nie. Sy ken Riekert Rossouw. Dalk selfs beter as wat die meeste mense hom ken. Maar die man in die leunstoel voor haar – die begeesterde man in die leunstoel voor haar – is ’n vreemdeling. Morbiede fassinasie hou haar roerloos vasgenael, haar ingewande vol van die vreemde gevoel.

“Sy was baie elegant aangetrek … duifgrys broekpak, wit bloes, swart stilletto’s, bypassende handsak. Nogal gelyk soos krokodilleer. So reg van Vogue se voorblad af.”

Elmien moet hard konsentreer om haar mond toe te hou. Duifgrys? Stilletto’s? Krokodilleer? Sy knip-knip haar oë. Nimmer as te nooit sou sy kon raai dat Riekert só fyn ingestel op vroue is nie. En dat hy hoegenaamd eens weet van ’n glanstydskrif soos Vogue.

“En nou? As jy so stil is?”

“Net moeg.” Sy skrik haar uit die trans van fassinasie, toe hy skielik na haar kyk asof hy weet van die vreemde gerank in haar binneste. “Jy moet taamlik verlief wees as jy selfs kan onthou wat sy aangehad het.” Sy kug ongemaklik toe sy besef haar stem klink onnatuurlik. “Het sy ’n trouring aangehad?”

“Geen ring nie,” sê hy met duidelike verligting in sy stem, “dis die eerste ding waarna ek opgelet het.”

Natuurlik.

“Sy kan nét ’n beroepsvrou wees,” laat hoor hy met die saaklikheid van ’n natuurkundige wat ’n nuwe spesie uitwys. “’n Interessante, belese kultuurmens.”

“Dit alles … van ’n Vogue-voorblad?”

“O, nee, van die doenlys.”

“Die watse lys?”

“Die doenlys.” Hy haal ’n opgevoude vel papier uit sy hempsak, vou dit oop, gee dit aan haar. “Jy weet, soos ’n inkopielys.”

Elmien kyk die vel papier verbaas deur. Dis inderdaad ’n lys. ’n Netjiese lys. Getik en genommer.

DOENLYS

1.Kruideniersware: vars tiemie, Maldon-sout, Kalamata-olywe, salm en Jamaican Blue Mountain; Brie de Meaux, Camembert en Roquefort; Bourgogne Rouge en Chablis Vaillons; wit kerse

2.Essensiële olie met ilang-ilang.

3.Voice of a Sparrow.

4.The Modern Woman’s Break-up Survival Guide.

5.Laat raam die Kentridge-afdrukke.

6.Werk deur De Lempicka vir inspirasie.

7.Bespreek vlug na Parys.

8.Knap Frans op.

9.Laat sonstrepe insit.

10.Pak Werner se goed. (Reël met hom om dit te kom haal.)

“Uit hierdie lys kan ek met sekerheid aflei dat sy goeie smaak het, ’n interessante mens moet wees, en enkellopend is.”

“Hoe op aarde het jy dit in die hande gekry?”

“Sy’t dit laat val … seker verloor.” Die sterk sonbruin hande – hande wat nie by ’n bleeksiel hoort nie – praat nou saam. “Die lys is verteenwoordigend van ’n goed gestruktureerde mens. Die georganiseerde tipe, jy weet, soos ek.”

“Soos jy, ja,” beaam sy floutjies en gee die lys terug.

“In ’n stadium het sy na my gekyk. Wel, vír my gekyk. Ek het my skoon benoud geskrik. Nie dat dit ’n vuil kyk was nie. Glad nie. Dit was die maniér waarop sy na my gekyk het, jy weet, vír my –”

“Vír jou, reg, ek verstaan,” onderbreek sy hom aspris.

“Ek kon sweer dit was meer as net ’n gewone kyk.”

Elmien gaap ’n goed ge-struk-tu-reer-de gaap. Ook aspris. Lank, uitgerek en hopeloos oordrewe.

“Ek’t iets van die naaste rak af gegryp en dit in my mandjie gedruk. Net sodat sy nie moes dink ek stalk haar dalk nie.”

“Maar jy wás besig om haar te stalk.”

“Ek wou nie hê dat dit –”

“Creepy moes lyk nie?”

“Ek wou nie hê dat dit kwaadwillig moes lyk nie.” Riekert kyk haar boos aan. “Ek wou haar nie afskrik nie.”

“En toe?” vra sy ooglopend verveeld.

“Sy’t nadergestap en geamuseerd na die inhoud van my mandjie gekyk.”

“Geamuseerd?”

“Ja, jy weet, so met een opgetrekte wenkbrou.” Hy wys presies hoe. “En toe sê sy: ‘Ek hoop jy’t dit vir jou ma of jou sussie gekoop.’ ” Hy grinnik skaapagtig. “Tóé eers besef ek dat ek ’n bottel badsout gegryp het.”

Elmien se mond wil-wil oopval. Nie soseer oor wat hy sê nie, maar oor die feit dat hy bloos.

“Ek’t my toe maar eerder uit die voete gemaak. So ’n draai deur die winkel gestap sodat ek tot verhaal kon kom. Toe ek weer daarlangs verbygaan, was sy skoonveld, die lys verlore op die vloer.”

Wie sou hierdie vreemdeling wees? En wat het hy met my vriend Riek aangevang? Elmien se gedagtes is ’n warboel van emosies. Riek – ’n fashionista! Riek – ’n stalker! Riek – ’n onbeholpe stommerik! Riek – ’n blosende skoolseun!

Eensklaps word als net te veel. Dit is uit voordat sy dit kan keer: “Sy’t haar dalk kaduks geskrik vir die badsout. Ek meen, jy hét fyn gelaatstrekke en sagte hande en jy bloos asof jy met grimering op jou gesig betrap word.”

Riekert word weer hoogrooi.

Kyk net hoe bloos hy wragtag weer. Van oor tot oor en van voorkop tot wie weet waar. Soos ’n blêrrie skoolseun.

“Ek’t nie fyn gelaatstrekke nie,” brom hy nors, “en my hande is g’n sag nie.”

“Wel, vandat jy my pa nie meer so gereeld op die konstruksiewerf help nie, lyk jou hande maar taamlik bleek en sag.”

“Ek was besig met my tesis,” brom hy, “en ek doen nog my eie tuinwerk.” Maar sy aandag is gou weer by die misterieuse blonde skoonheid: “Dink jy regtig sy …?”

Elmien probeer gerusstellend glimlag, maar die glimlag span geforseerd van mondhoek tot mondhoek asof sy ’n dik laag lipstiffie aanhet. Sy onderdruk die versoeking om haar mond hard en aanhoudend te vryf.

Riekert herstel gou van die verleentheid, maar daar is nou iets koorsagtigs in sy blik. “Ek’t na die betaalpunte gedrafstap, die Emporium van hoek tot kant deursoek, maar sy was reeds weg.”

Elmien wil begin giggel. Riek haak nooit uit nie, hy’s veels te agtermekaar. Bedaard, koel en kalm. Die rustigste mens wat sy ken.

“Wat sou haar naam wees?” mymer hy opnuut. “Dit kan nét iets romanties of eksoties wees. Iets soos: Allegra of Alyssa of Anouk.”

Elmien kyk hom aan asof sy begin twyfel aan sy toerekeningsvatbaarheid. Dan strek sy lui. Oordrewe, soos die gaap. “Ek’s pootuit en gaan nou bed toe. Tensy jy van plan is om weer in die hangmat te slaap, moet jy nou jou ry kry.”

“Ek moet haar opspoor,” sê hy steeds afgetrokke, “anders gaan ek vir die res van my lewe na haar soek.”

Die desperate vertedering in sy stem trek die ranke van vrees dig om haar hart.

“Sal jy my asseblief help soek?”

Sy skiet so vinnig uit die hangmat dat sy amper op sy skoot beland. “Riek,” maak sy floutjies verskoning, “dis laat en ek’s moeg.” Sy leun nader om halfhartig oor sy skouer te vryf. “En dit klink of jy ook ’n besige dag gehad het.”

Hy staan op, haal die lys weer uit sy sak. “Ek sal vanaand nie ’n oog kan toemaak nie.”

“Riekert,” vererg sy haar op die plek, “dis té laat vir dié nonsens.”

“Hoe kan jy dit nonsens noem? Ons praat van my toekomstige …”

“Vrou?” ’n Ongemaklike stilte kom lê tussen hulle. Só ’n stilte het hom nog nooit aan hulle opgedring nie. Dit onthuts haar. Haar stem sny sarkasties daardeur. “Goed, die liefde van jou lewe … happily ever after. Maar na aanleiding van wat? ’n Opgeligte wenkbrou? ’n Terloopse aanmerking?”

“Sy’t vir my geglimlag ook,” laat hy gebelg hoor, “op ’n sekere manier.”

“’n Glimlag? Wow, onsterflike liefde.” Sy skud haar kop. “Dit word flirt genoem.”

“Jý, Elmien,” laat hy driftig hoor, “is die een wat my oortuig het dat die belofte van ’n hele leeftyd se liefdevolle samesyn in ’n enkele oomblik opgesluit kan lê.”

Hy noem haar nooit Elmien nie. “Is jy nie ’n bietjie oud vir ’n crush nie, Riek?”

“Dis nie ’n crush nie.”

“Daar’s beswaarlik genoeg ure in ’n dag om te doen wat ek moet doen en jy, jý van alle mense, weet maar alte goed dat ek reeds drie mense se werk by die kwekery doen. En asof dit nie genoeg is nie, is ek boonop verantwoordelik vir die ontwerp en uitleg van die naderende watertuinskou. En tussendeur probeer ek hierdie blêrrie ou huis restoureer.”

Riekert reageer nie op die tirade nie. Hy staan stil en luister, met afgetrokke oë, na die driftige woorde wat uit haar oorvol gemoed bars. “Dit was nie my bedoeling om jou verder te vermoei nie … dankie dat jy geluister het.”

“Riek …”

“Lekker slaap, Mienkie.”

“Nag, Riek,” groet sy met ’n dik stem.

Sy wag nie oudergewoonte vir die drie kort toeterklanke voordat sy motor straataf verdwyn nie, maar sluit die sekuriteithek en voordeur dadelik, skakel die ingangsportaaltjie se lig af en vlug na haar kamer.

Sy bly met die tandeborsel in haar hand voor die wasbak staan, terwyl sy na haar weerkaatsing in die spieël staar. Hulle gesprek zoem soos ’n hiperaktiewe by deur haar gedagtes. Die tandeborsel druk sy uiteindelik in haar mond, maar bly weer net so staan. Sy probeer haar gevoelens peil, haar reaksie regverdig, maar die ontnugtering sit nog skrikwekkend vars in haar gemoed. Sy is al besig om haar mond uit te spoel toe sy eers agterkom dat sy nooit tandepasta op die tandeborsel gesit het nie.

Vies smyt sy dit neer.

Waar het die venyn in haar stem vandaan gekom? Want sy, Elmien Jordaan, het nog nooit só met ’n ander mens gepraat nie. Laat staan nog met Riekert Rossouw, haar beste vriend en geesgenoot.

Maar toe sy in die bed klim, besef sy dat die venyn uit ’n plek gekom het wat nou dig toegerank is.

Hy het nie getoet nie … onthou sy toe sy die bedlampie afskakel.

Boonop is die huiskriek ook vanaand stil.

Operasie droomvrou

Подняться наверх