Читать книгу Operasie droomvrou - Jade Mc Menamin - Страница 5

2

Оглавление

George Papadopoulos, Elmien se vennoot by die kwekery, en die res van die personeel by Plant B’zarre weet goed om haar nie te pla wanneer sy so op en af tussen die rye plante en boompies stap nie. Eers die een blok. Op en af. Dan die volgende. Én die volgende. Totdat sy die hele kwekery deurgestap het. En as sy steeds nie beter voel, of die probleem waarmee sy worstel, uitgepluis het nie, sal sy weer van voor af begin. Ry vir ry. Blok vir blok. Net so af en toe, soos nou, stop om aan ’n blom of blaar te ruik of te vryf.

Elmien vryf aan een van die Gold Crest-konifer se goudgeel takkies, deeglik bewus daarvan dat George haar ’n geruime tyd al bekommerd dophou. Hy wil die uitleg van die verskillende fonteintjies vir die komende watertuinskou met haar bespreek. Maar die op- en afstappery maak hom senuweeagtig. Stress drill, het hy dit daardie heel eerste keer genoem. En haar gevra hoekom sy nie maar, soos die vroue in sy familie, kan gaan kook of shop of spa toe gaan of chocolates eet wanneer sy terneergedruk voel nie.

“Ek, depressed? Nog nooit nie, Georgie,” het sy dit weggelag.

“Hy wonder seker of die plante regtig met my praat,” mompel sy terwyl sy aan haar vingers ruik. Die suurlemoenagtige geur van die koniferboompie is een van haar geliefkoosde geure. Selde sal sy verby so ’n boompie stap en die besonderse geur nie eers gou geniet nie. Sy wens sy kon dit bottel. Soos sy al gewens het dat sy ouma Annabel se reuk kon bottel vir geleenthede soos nou wanneer sy met ’n allesoorheersende verlange na haar hunker. Na haar nabyheid, haar insig en raad.

Annabel is oorlede in die jaar voor Elmien en George die kwekery begin het. Die feit dat die vrou wat so ’n enorme bydrae tot haar liefde vir plante gemaak het, nooit in haar sukses kon deel nie, maak die verlies net groter.

Sy streel oor die takkies. “Wat sou jý gedoen het, Annabel?” Ja, wat sou die onkonvensionele, romantiese en tog wyse ou vrou – wat aangedring het dat haar kleindogter haar op haar naam noem – gedoen het?

Annabel was versot op Riekert Rossouw. Elmien se ma, Hester, het haar gereeld vererg vir Annabel se skaamtelose flankeerdery met Elmien se skoolvriend en het selfs op ’n keer vir Elmien gesê dat haar ouma heimlik wens dat sy weer jonk is wanneer Riekert Rossouw in die omtrek was. Maar Elmien het geweet dat haar ouma se verknogtheid dieper gegaan het as ’n ou vrou se romantiese wensdenkery. Dit het die bykans vergete herinneringe aan galante minnaars en geheimsinnige ontmoetings weer opgeroep. Sy het gesien wat haar ma nie kon raaksien nie: hoe ’n besonderse vriendskap tussen haar skoolvriend en haar ouma ontstaan het. Gou het sy agtergekom dat hulle baie meer gemeen gehad het as die gemeenskaplike band met haar, Elmien.

“Because he gets me, darling,” het Annabel op ’n keer met flair en selfvertroue gesê, en toe uitgewei oor die kwaliteite wat van dié jong man ’n “keeper” gemaak het, soos sy dit gestel het.

Elmien het hulle graag dopgehou wanneer hulle druk in gesprek verkeer het. Sy het haar verlustig in Riek se aansteeklike geesdrif, die totale oorgawe waarmee hy met die veel ouer vrou gesels het; die bedagsame manier waarop hy af en toe vir haar, Elmien, deur ’n glimlag of aanraking daaraan herinner het dat sy darem nog deel van die geselskap was. Sy het graag saamgesels, maar meestal verkies om net stil te sit en luister, en te kyk.

Hoe betekenisloos was haar lewe voordat hy sy opwagting gemaak het?

Dan het sy stilweg oor haar geheim geglimlag.

Sy het op skool redelik gou aangetrokke gevoel tot die seuns met wie sy uitgegaan het, maar net so vinnig weer belangstelling verloor wanneer sy teleurgesteld besef het dat die mate van volwassenheid waarna sy gesoek het, eenvoudig nie by die gemiddelde tienerseun bestaan nie. Dus was sy vir die grootste deel van haar hoërskoollewe – tot ergernis van haar vriendinne – nie aan een spesifieke ou gebind nie.

Dit het haar natuurlik meer as genoeg tyd gegee om te konsentreer op alles wat vir haar belangrik was. Naamlik haar studie en haar liefde vir plante. Meer spesifiek, haar beheptheid met die kwekerytjie wat sy in haar ouma se agterplaas begin het. Die kweek van plante – wat aanvanklik begin het as die opknapping van Annabel se tuin – het met haar aanmoediging en Elmien se groen vingers, gou gegroei tot ’n suksesvolle onderneming waarmee sy sakgeld verdien het.

Hierdie toedrag van sake het haar ma egter glad nie aangestaan nie. “Mens is net een keer jonk,” het sy geraas. “Jy gaan dié tyd in jou lewe nooit weer hê nie. As dit verby is, is dit verby. En wanneer jy met die realiteite van die volwasse lewe gekonfronteer word, gaan jy spyt wees dat jy jou sorgelose jong dae nie meer geniet het nie.”

“Daar’s nog baie tyd om jonk te wees,” het sy haar ma se vrese probeer besweer.

“Daar is, maar nie om kind te wees nie. Dít gaan alte gou verby.” En toe, die onvermydelike: “Jy bring hopeloos te veel tyd by jou ouma deur. Dis hoekom jy soos ’n oujongnooi klink wanneer jy jou mond oopmaak. Die stories en idees wat sy in jou kop sit, hoort nie in die kop van ’n tiener nie.”

“Moeder,” het Elmien haar saaklik reggehelp, “as jy maar weet wat in die koppe van tienerdogters aangaan, sal jy bly wees dat ek dink waaraan ek dink, en my besig hou waarmee ek my besig hou.”

Haar ma se pleidooi het op dowe ore geval. En Elmien het alle verwysings na haar ouma se sogenaamde invloed, in tipiese Elmien-styl, met ’n goeie skoot sjarme en humor weggelag.

Toe haar vriendinne dus oor en weer verlief raak, harte breek en hul eie harte ook in die proses gebreek word, het Elmien alles met stille verwondering gadegeslaan. Waarom sou enige regdenkende vrou haar so willens en wetens laat seermaak deur iemand so onwaardig soos ’n puisiegesig-tienerseun?

“Inderdaad,” het Annabel saamgestem, toe Elmien een middag na skool dié erg omstrede kwessie ophaal. “Hou by jou besluit, my darling, moenie dat ’n spul rooihakskeentjies met jou hart mors nie.”

“Ek verstaan dit nie,” het Elmien gesug.

Annabel het geknik. “Dis wat liefde van ander emosies onderskei,” het sy filosofies laat hoor, “die feit dat dit soms van alle logika ontneem is.” Sy het haar geliefde kleindogter ondersoekend aangekyk. “As jy nie meer seker is nie … wel, mens moet altyd die moontlikheid van ’n avontuur in gedagte hou.”

“Nee, ek ís seker, dis net, ek verstaan en sien dinge nie altyd soos my vriendinne hulle verstaan en sien nie.” Sy het ’n gesig getrek. “Nina was laas week nog stukkend oor Gerhard. ’n Drillende blob selfbejammering vol noodlotsgedagtes. En vandag, skaars drie weke nadat hulle uitgemaak het, straal sy weer soos ’n lovesick tiener.”

“Maar sy ís ’n lovesick tiener,” het Annabel laggend laat hoor.

Wat is ek dan? het Elmien se blik gevra.

“Jy’t ’n goeie kop op jou lyf. Dis ’n goeie ding, want vroue met verstand weet hoe om met hartsake om te gaan. Hulle dink verder as die fisieke aantrekking, die verliefdheid, die romanse. En hulle hanteer teleurstelling en pyn gewoonlik ook beter.”

“Ek wil ook nou nie met só ’n goeie kop opgeskeep sit dat daar geen plek vir enigiets anders is nie.”

“Dít, my lief, is waar balans inkom.”

“Sal ek ooit daardie balans vind? Ek meen, vind mense soos ek dit ooit?”

Annabel het beterwetend geglimlag, haar hand uitgesteek en aan die drie sproete op haar kleindogter se neus geraak. “Dít is wat van ’n goeie kop so ’n goeie ding maak.”

Haar ouma het die kwessies begryp wat van ’n hart ’n hart maak, en het geweet hoe om nugter daaroor te praat. Dié keer was daar egter iets weemoedigs in die sjarmante glimlag.

Elmien het gesug asof die “goeie kop” skielik ’n las geword het.

“Jy sal weet wanneer die regte een opdaag,” het Annabel gerusstellend getroos. Sy het diep in Elmien se oë gekyk. “Moenie alles wat ’n romantiese, sentimentele, ou vrou oor die liefde kwytraak as evangelie aanneem nie.” Sy het skielik regop gesit en die erns van hulle gesprek weggelag. “Genoeg oor die liefde … hoe vorder die kweek van jou nuwe orgidee?”

Haar ouma se profetiese woorde het waar geword. Aan die begin van Elmien se graadtienjaar. Een Maandagoggend, net nadat die derde periode begin het. En nes Annabel gesê het, het sy dadelik gewéét: Hy is die een.

Die lang, stewig geboude skoolseun het die klas selfversekerd binnegekom, ondanks die feit dat hy twee periodes laat was. Klaarblyklik onbewus van die feit dat sy ongekamde hare, die skoolhemp wat halfpad uithang, stowwerige skoene en ou skooltas ’n totaal teenstrydige prentjie geskets het.

Hy het hom met ’n ferm handdruk en ’n sterk stem – wat haar dadelik laat dink het aan die donker bier wat haar pa af en toe geniet – aan die onderwyser voorgestel. Hy was laat omdat hy moes ryloop, het hy verduidelik, na die klas gedraai, verskoning gemaak vir die onderbreking, en toe in ’n oop bank reg voor in die klas gaan sit.

Hy het nie rondgekyk en nie probeer maats maak nie. Maar hy het hom ook nie onttrek nie. Hy het dadelik ingeskakel, aandagtig geluister na die les en vrae gevra wanneer hy onseker was.

En vir die eerste keer in haar skoolloopbaan het Elmien deur ’n hele periode gesit sonder om ’n enkele ding in te neem. Haar oë was heeltyd op die lenige rug voor haar, haar gedagtes by die manier waarop die nuwe seun sy klasmaats vlugtig deurgekyk het. Het sy haar verbeel of het sy oë vir ’n sekonde of twee by háár getalm?

Sy houding, sy stem, sy handdruk; die manier waarop hy dadelik meegedoen het aan die les; die gemak waarmee hy sy leesbril opgesit het toe hy ’n stuk uit die teksboek moes voorlees; die lui glimlag wanneer die ander seuns die meisies met allerhande kwinkslae en slim grappies probeer beïndruk het; het gespreek van selfvertroue.

Elmien het haar direk na afloop van die periode aan hom gaan voorstel. Ook met selfvertroue. Haar handdruk net so ferm. Haar houding ook trots. Maar nadat sy in die ernstige paar grysblou oë gekyk het, was dit sy wat eerste oogkontak verbreek en weggedraai het. Kastig om haar maats wat intussen om hulle saamgedrom het, aan hom voor te stel.

Daardie aand het sy in haar bed gelê en dink aan die amper-man wat haar lewe so ongeërg binnegeslenter het. En vir die eerste keer in haar jongmeisiebestaan geweet hoe dit voel om verlief te wees. Dit was tegelykertyd mooi en opwindend, intens en angswekkend. Presiés nes Annabel gesê het dit sou wees.

Elmien het saans met ’n lied in haar hart gaan slaap en soggens met die einste lied in haar hart wakker geword. Sy was jonk en die lewe was mooi. Sy het gevind waarna sy gesoek het. Sy was verlief. Op die wonderlikste, mees sonderlinge tienerskepsel wat God nog gemaak het: Riekert Rossouw.

Haar gevoelens vir Riek, soos sy hom begin noem het, het sy egter goed weggesteek. Niemand behalwe haar geliefde ouma het geweet dat sy gereed was om haar hart weg te gee nie.

Riekert het uit die staanspoor van Elmien gehou. Hy het dadelik aanklank gevind by haar spontane en interessante geaardheid. Of soos hy eenkeer gesê het: die interessante meisiekind met die lewendige groen oë en die wispelturige bos rooibruin krulhare. Haar natuurlike onopgesmukte ingesteldheid teenoor almal en alles in die lewe het hom glo totaal en al oorrompel. Dit was verfrissend om hom in die geselskap te bevind van ’n meisie vir wie die eerste prioriteit nie haar haarstyl, verglansde lippies, gelakte naels of die lengte van haar rompie was nie. Boonop was sy een van net ’n handvol meisies wat met ’n fiets skool toe gery het. Dit, het hy gedink, is superkoel.

By haar kon hy totaal en al op sy gemak wees.

Anders as baie van die ander meisies, het sy nie van hom verwag om die ene bravade te wees en macho op te tree nie. Of om allerhande ligsinnige kopspeletjies te speel nie. Hulle vriendskap was van tienerdrif en -ego ontdaan.

Haar sogenaamde eienaardighede het hy gesien as besonderse eienskappe wat eendag van haar ’n besonderse vrou sou maak. Hy het haar egter nooit anders behandel as enige ander meisie in die skool nie. Vriendelik en met die nodige respek, maar niks meer nie. Hy was immers nog nie gereed om sý hart weg te gee nie.

En indien hy vermoed het dat sy baie van hom gehou het, sou die amper-man met die mooi hande nooit kon raai presies hóé verlief sy was nie.

Hy het vir hom ook ’n fiets gekry en saam met haar skool toe begin ry. Die halfuur wat hulle soggens en smiddae saam deurgebring het, het gou vir hulle albei onontbeerlik geword. Hulle het met mekaar leer praat en na mekaar leer luister. En hulle verlustig in die wete dat albei, in die ander, uiteindelik iemand gevind het wat verstáán.

Hulle het boeke en musiek begin uitruil en toe hulle hul gedeelde versameling deurgedraf het, besluit om wyer te lees en na ander musiek te luister. En elke oomblik daarvan geniet. Hoewel hulle aan ander skoolverwante aktiwiteite deelgeneem het, was dít hulle stokperdjie. Altyd saam, meestal net hulle twee.

Riekert het nie in sport belanggestel nie en slegs meegedoen aan atletiek en swem ter wille van die pret en spangees. Die onderwysers het natuurlik vas geglo dat hy sy sporttalent vermors en hom dikwels probeer oorreed om sport ernstiger op te neem. Totdat hulle gehoor het hoe hard die eiesinnige jong man tydens naweke en skoolvakansies gewerk het.

In sy matriekjaar – kort nadat hy agttien geword het – het hy sy spaargeld onttrek en ’n deel van sy eerste studiejaar se geld vooruit betaal, ’n tweedehandse karretjie aangeskaf en wat oorgebly het, gebruik om Elmien met vakansie te neem.

Net die twee van hulle. In sy rooi Mazdatjie. Kaap toe. Sodat sy die Kaapse fynbos en veral Kirstenbosch kon sien.

Haar ouers het hulle, in die volgepakte kar, sonder ’n sweem van onrus afgesien. Hulle het Riekert vertrou soos hulle hul eie seun vertrou het. Hulle dogter was veilig by die seun wat die vorige drie jaar tydens naweke en skoolvakansies vir Hendrik op sy boupersele gehelp het. Die seun wat so alleen deur sy pa grootgemaak is nadat sy ma jonk en tragies in ’n motorongeluk gesterf het. Die seun wat só diep in almal se harte gekruip het met sy innemende persoonlikheid en natuurlike sjarme dat Annabel weer skoon na haar jong dae verlang het.

Daardie twee weke was die mooiste van Elmien se jong lewe. Net sy en hy. En ’n lang pad vol sonskyn en lag en gesels. En hoewel sy heimlik gehoop het dat ’n romantiese vonk tussen hulle sou ontstaan, was sy nie teleurgesteld toe dit nie gebeur het nie. Sy het sy onverdeelde aandag geniet. Elke oomblik nét vir haar bedoel. Sy glimlag, die ligte stoppelbaard op sy ken, sy windverwaaide kuif, die lig in sy oë – op film, en in haar geheue, vasgebrand.

Vir altyd, hare.

Vir haar ouers het sy gesê dat die vakansie haar finaal laat besluit het om plantkunde te gaan studeer. Vir haar ouma, dat sy ’n blik op die hemel gekry het. Die nagte om hulle vuurtjie, in hulle tent, onder ’n sterbelaaide uitspansel.

Niemand het ooit weer aan Riekert oor sport gekarring nie. En die maats, wat soms na hom verwys het as ’n boekwurm of ’n bleeksiel, het hulle woorde gou gesluk. En skielik was Riekert en Elmien se vriendskap ook glad nie meer so eienaardig nie.

Hulle het so goed oor die weg gekom omdat hulle soveel gemeen gehad het, het almal saamgestem.

Die vriendskap het hegter geraak. Op universiteit was hulle eenvoudig onafskeidbaar. Ander studente was altyd verbaas om te hoor dat die twee nie vas uitgegaan het nie. En ewe verbaas om te hoor dat hulle ook nie met ander mense uitgegaan het nie. Elmien en Riekert. Riekert en Elmien. Oral saam, en saam in alles. Mienkie en Riek. Beste vriende. Sielsgenote.

“Dit sal ons glad nie verbaas as julle eendag wel sou trou nie,” sou ’n vriend of vriendin opmerk – die natuurlike en ooglopende uiteinde van so ’n besonderse vriendskap.

Maar hulle was verkeerd.

Riekert het sy emosionele afstand behou. So onwrikbaar dat Elmien soms gevoel het asof daar ’n ondeurdringbare muur tussen hulle was. In ’n stadium het sy selfs begin wonder of hy enigsins in vroue belangstel. Maar toe sy eendag in daardie rigting begin skimp het, het hy so gelag dat hy in sy melkskommel verstik het.

Hulle vriendskap het verdiep, maar die alomteenwoordige skeiding het gebly. En in haar hart het ’n vermoede gevorm dat hy nie oor álles met haar gepraat het nie.

“Sulke mans het almal daardie aura,” het Annabel gesê.

“Mens kan dit beswaarlik ’n aura noem.”

“Dis wat hulle so onweerstaanbaar vir vroue soos ons maak.”

Vroue soos óns?

Annabel Labuschagne het, tot groot ontsteltenis van haar skoonfamilie, geweier om die tradisionele uitspraak van haar getroude van te gebruik. En toe die Franse uitspraak ’n omstrede kwessie word, eenvoudig weer haar nooiensvan begin gebruik.

Dit het Bernard Labuschagne min gepla. Dit was deel van die formidabele Annabel se bekoring.

Elmien het haar ouma ondersoekend aangekyk. Daar was iets onweerstaanbaars omtrent haar. Iets waarop jy nooit jou vinger sou kon lê nie. Beeldskoon. Op ’n klassieke manier. Ook wêreldwys. Want sy het wyd gelees en wyd gereis. Sy het die lewe geken. Mans geken. Soos die gemiddelde vrou ’n man nooit sal ken nie.

Elmien was allesbehalwe ’n femme fatale, ’n sogenaamde “man’s type of woman”. Sy was ’n platjie. Haar ma se plantengel. Haar pa se patatrankie. ’n Natuurkind. Altyd aan ’t luister na die wind in die bome, met een oor gespits vir die aarde se hartklop.

Annabel het goed bedoel, maar haar woorde het Elmien net meer verwar. Met haar ma kón sy nie praat nie. En met haar vriendinne het sy nooit haar hartsgeheime gedeel nie. Toe, in plaas van praat, doen sy wat enige jong liefdesgroentjie sou doen: Sy klap toe soos ’n Venus-vlieëvanger.

Operasie droomvrou

Подняться наверх