Читать книгу Operasie droomvrou - Jade Mc Menamin - Страница 7
4
Оглавление“Hoekom het Ma-hulle my Elmien gedoop?”
Haar ma hou op skil aan die aartappel. Die groentemessie hang roerloos in die lug terwyl sy haar dogter verbaas aankyk. “En waar kom dít nou vandaan?”
“Ag, ek vra sommer … ek dink deesdae aan sulke goed.”
Haar ma frons. “Watse goed?” Onraad kan sy van ver af ruik. Sy kan dit in ’n hospitaal vol siekte en dood ruik.
“Ek’t net gewonder hoekom juis Elmién.”
“Hoekom wonder jy?” Haar ma se besorgdheid sit gou om in agterdog.
“Ek wonder maar net. Hoekom het julle nie iets meer romanties of eksoties gekies nie?”
“Jy wonder mos nooit oor sulke goed nie … hoekom nou?” hou haar ma vol.
Elmien is spyt sy het gevra. “Vergeet dit.”
“Moet jou nou nie wip nie.”
“Ek wip my nie. Ma oordink al weer als.”
“Jy’s nie jouself nie.”
Elmien sluk selfbewus, vermy haar ma se ondersoekende blik. Ma’s en hulle voorgevoelens en aanvoelings en instinkte! “Ek wil net weet hoekom Ma-hulle nie vir my ’n meer romantiese of eksotiese naam gegee het nie, dis al.”
Die sekonde of twee voordat haar ma antwoord, voel soos minute. Elmien druk ’n stukkie aartappelskil in haar mond en knibbel kamma ongeërg daaraan.
“Soos wat nogal?”
“Wel, iets soos Allegra, Alyssa of Anouk.”
“Allegra, Alyssa of Anouk?” Dit lyk asof Hester die aartappel en groentemes wil neergooi en hardloop vir haar noodhulptas.
“Jip.”
“Tsk, jy’s mos g’n ’n Allegra, Alyssa of Anouk nie.”
“Hoe kan Ma so sê? Ek meen, hoe kon Ma destyds al so seker gewees het ek gaan nie ’n Allegra, ’n Alyssa of ’n Anouk word nie?”
“Gmf, ek het net geweet. Maar, glo my, as ons die naamgeeëry aan jou ouma oorgelaat het, sou jy sekerlik Allegra, Alyssa of Anouk gewees het.”
“Sy’t Ma dan ’n tradisionele familienaam gegee.”
“Op aandrang van jou oupa, ja. En sy het hom nooit vergewe nie … so lief soos sy hom gehad het.”
“Wie’t besluit om my Elmien te noem?”
“Ek en jou pa het saam ’n klompie name uitgesoek, maar jy’t jou naam eintlik self gekies.”
“Ek onthou dat Ma gesê het dat ek die eerste keer beweeg het toe Ma my naam hardop –”
“Jy’t nie net beweeg nie, jy’t geskóp.” Haar ma sit die aartappel en die groentemessie neer om te beduie presies hoe en waar daar geskop is. “Ek was besig om my lysie babaname hardop te lees, nogal omdat jou ouma daarop aangedring het dat ek kwansuis eers moes voel hoe die name in my mond sit, toe ek jou voel skop het. Ek het jou vroeër al voel beweeg, maar dit was die eerste keer dat jy geskop het … asof jy vir my iets wou sê.”
By die aanhoor van die woord “lysie” het elke breinsel in Elmien se kop penorent gespring. “Was Ma een vir lysies? Ma weet, doenlysies, om-te-lysies.”
“Nee wat, buiten die kruidenierslys teen die yskas het ek nooit erg aan lysies gehad nie.”
Elmien sug.
“Wil jy regtig oor jou naam praat of is daar iets anders waaroor ons behoort te gesels?”
“Ek wonder maar net: Hoekom Elmien? Wat maak Elmien so spesiaal?”
“’n Kind se naam word in ’n ouer se hart geskryf voordat dit aan die kind behoort. Buitendien is dit nie die naam wat betekenis aan die kind gee nie, maar wel die kind wat betekenis aan die naam gee.”
Haar ma se insig verbaas Elmien. “Ek’s nie ondankbaar oor my naam nie, dis net, Elmien is so ’n verbeeldinglose naam. So plein.”
Haar ma glimlag soos ma’s maar glimlag wanneer hulle deur hul dogters se verskonings en pretensies sien. “Nie plein nie, ongekunsteld. Ongekunsteld en onpretensieus. Nes jy. Jy’s ons Mienkie, en ons Mienkie sal jy bly.”
Elmien sit haar arm om haar ma se skouers. “Ja, ja, en nou gaan Ma my al die standaardkomplimente gee wat Ma my gewoonlik gee wanneer Ma my beter wil laat voel oor myself. Spaar my, asseblief.”
Haar ma kyk na Elmien soos ma’s maar kyk wanneer hulle seker is dat hulle van beter weet. “Miskien moet ek jou net weer herinner aan die Mienkie wat bedags studeer en saans gewerk het om vir haar studie te help betaal. Aan die Mienkie wat bly werk het lank nadat haar ouers se finansies verbeter het, net omdat haar ma en pa lanklaas met vakansie was. Aan die Mienkie wat nou help om vir haar broer se studie te betaal. Aan die Mienkie wat daarop aangedring het om die ou Victoriaanse huis wat sy by haar ouma geërf het, eiehandig te restoureer, ondanks haar boukontrakteur-pa se bereidwilligheid om te help.”
Elmien se oë skiet vol trane.
Haar ma sit haar arms om Elmien en trek haar styf teen haar vas. “Ons gesels nie nét oor name nie, nè?”
Elmien sluk die trane weg. “As ek regtig daai Mienkie is, hoekom … hoekom sien ander haar dan nie raak nie?” Haar stem klink moeg.
“Ander?”
“Wel, dis net Ma en Pa en Marnus.”
“En Riek dan? George? En die mense wat vir julle werk? Jou gereelde klante? En vriende?”
“Hulle tel nie, Ma. Wat ek bedoel, is: Hoekom sien die mense wat ’n mens wil hê jou moet raaksien, jou nie raak nie?”
“Dalk lê die probleem nie by jou nie.”
Elmien snuif aan die trane wat weer vlak kom sit. “Wat bedoel Ma?”
“Dis nie jy wat so plein of so vaal of so oninteressant is dat mense jou glad nie raaksien nie; dis eerder ’n geval van mense wat nie kan sien wat hulle behoort te sien nie omdat hulle siende blind is.”
Elmien gee haar ma gou ’n drukkie en bied aan om die eetkamertafel te dek, voordat Riek se naam dalk opduik.
Hester kyk haar dogter agterna asof sy weet dat Elmien sal terugkeer om dié gesprek te hervat. Nes sy vroeër instinktief geweet het dat Elmien nie haar ma se sogenaamde boerekos kom soek het nie. Sy hoop dat Elmien dán die vrymoedigheid sal hê om oor haar eerste en enigste liefde te praat. Want alhoewel Elmien nog nooit só oor daardie liefde gepraat het nie, is Hester daarvan maar alte bewus.
Die naam wat nie genoem is nie, bly in die vertrek hang.
Hester en Hendrik se eersgeborene het die familie uit die staanspoor bekoor. Terwyl ander babas in die uitgebreide Jordaan-familie bykans sonder uitsondering blond en lig van vel by geboorte was, het Elmien haar verskyning gemaak met ’n kop vol donker krulle en ’n velletjie wat gelyk het asof die son dit reeds met heuningsoene bedek het. Die welige bos bruin hare het dan ook dadelik die kenmerkende rooi Mallard-skynsel gehad.
Die dokter wat haar in die wêreld gebring het, het gesweer dat hy haar sien glimlag het, kort nadat hy haar ’n stewige raps op die boud gegee het.
Mag dit ’n teken wees dat my kind eendag meer sal lag as huil, het Hester gebid.
Mag die liefde sagkens met jou omgaan en geluk jou altyd toelag, het Annabel haar toegewens.
“Laat Hendrik maar spog,” het sy hardop met die kleinding gepraat, “jy’s g’n ’n Jordaan nie.” En toe sagter asof sy ’n geheim deel. “Ook nie ’n Labuschagne nie … jy is ’n Mallard, deur en deur.”
En of dit waar is of nie, het Annabel haar in elk geval behandel asof sy een is.
Annabel het ook nooit vir haar gewone speelgoed gekoop nie. Dit was wel goed waarmee sy graag wou speel, maar wat terselfdertyd eendag waardevol sou wees. ’n Porseleinteestel. Silwerkoekvurkies met perlemoenhewwe. Geborduurde servette. Servetringe van rooskwarts. En kristalkershouertjies.
Aanvanklik het Hester als net kopskuddend gadegeslaan, maar toe Elmien begin praat, was haar woordeskat dié van ’n volwassene en het sy ingewikkelde begrippe en konsepte begin snap. Hester het haar tot Hendrik gewend: “Praat asseblief tog net met Annabel.”
“Hoekom ek? Dis jóú ma.”
“Julle kom beter oor die weg.”
“Strooi.”
“Jy’t ’n slag met haar.”
“Hester, dit is ’n ma-kind-ouma-ding. Ek dink nie jy moet die arme skoonseun hierby insleep nie. Buitendien kan ek nie sien waaroor die groot bohaai gaan nie.”
Hester het hom kwaai aangekyk. “Ons dogter het vanoggend aan die ontbyttafel met my oor die ‘proses van fotosintese’ gepraat. Asof dit nie erg genoeg was dat sy woorde soos chlorofil en chrisofil gebruik het nie, kon sy my boonop oor die verskil tussen die twee inlig. Maar die ergste nog: Toe ek haar wou toets deur voor te gee dat mense ook kan fotosinteer, het sy so gelag dat sy byna van haar stoel afgeval het.”
“Ougat verby.”
“Hendrik!”
“Kom nou, Hester, ek’s trots op ons pragtige dogtertjie en ek dink dis dierbaar van Ma om soveel vir haar te doen en te beteken.”
“Ek dink jy mis die punt.”
“En ek dink jy oorreageer.”
“Ek wil nie nog ’n Annabel in die familie hê nie. Een is genoeg.”
“Ek dink nie jou ma is besig om ons dogter in ’n tweede Annabel te verander nie. Sy help juis om Elmien se eie persoonlikheid te ontwikkel. Sy moedig haar aan om vir haarself te dink en om op haar eie oordeel aangewese te wees.”
“Ek’s net bang Annabel se siening, haar uitkyk op die lewe, word so deel van Elmien dat sy eendag deur my ma se oë na die lewe sal kyk.”
Hendrik het haar liefdevol gesoen en toe teen sy bors vasgedruk. “Ek dink jy voel onseker en skuldig omdat Elmien en Marnus noodgedwonge bedags by Ma moet bly.”
Natuurlik het hy die spyker op die spreekwoordelike kop geslaan. Diep in haar hart het Hester tog geweet Elmien se verhouding met haar ouma is niks om oor bekommerd te wees nie. Ook dat haar bedenkinge spruit uit haar eie onopgeloste kwessies met haar ma en dat dit vererger word deur haar skuldgevoelens.
“Dis dan ’n grootmensboek!” was Elmien se reaksie, die dag toe Annabel haar aan die skatte van die planteryk bekendgestel het.
Dit was inderdaad ’n boek vir volwassenes. ’n Pragtige, lywige grootformaatboek oor tuinplante en blomme. Met kleurvolle illustrasies en glansfoto’s. ’n Geskenk van haar ouma, op haar sesde verjaarsdag. “Jy’t mos gesê jy hou van plante.”
“Ja, maar …”
“Wel, hou jy van plante, of nie?”
“Ek hou van plante, Annabel, maar ek kan nog nie eens grootmenswoorde lees nie.”
“Woorde is woorde,” het sy verduidelik, “as jy eers behoorlik kan lees, sal jy enigiets kan lees: van ’n strokiesverhaal tot die menseregtehandves.”
Elmien het nuuskierig deur die boek begin blaai.
“Sien, daar’s nie nét woorde in jou boek nie, dis propvol prente en foto’s.”
“Maar ek wil die name van die prente ook weet.”
“Jy bedoel die name van die plante?”
Die koppie het geknik dat die krulle wip.
“En jy sal ook,” het Annabel vasbeslote laat hoor. “Kom ons begin sommer dadelik. Gaan pluk vir ons ’n blom en ’n blaar, dan leer ek jou die naam.”
Elmien was gou terug met ’n goudgeel kappertjie en ’n kappertjieblaar.
“Goed, sit die blom en blaar nou langs die boek neer. So ja. Blaai nou deur jou boek, totdat jy ’n blom en ’n blaar kry wat presies nes joune lyk.”
“Hier’s dit!” het Elmien na ’n ruk opgewonde laat hoor.
Annabel het die boek geneem en met ’n wysvinger na die naam gewys. “Sê nou agter my aan: Tropaeolum majus.”
“Tro-pae-olum ma-jus,” het Elmien haar met ’n tuitbekkie nagepraat.
Annabel het die meegaande teks oor kappertjies gelees. En toe vir Elmien gestuur om nog ’n blom en blaar te gaan haal.
Toe Elmien al die plante en blomme in haar ma en ouma se tuine kon identifiseer en die wetenskaplike name ook geken het, moes haar ouma haar na haar bure en maatjies se tuine vergesel sodat sy nuwe plante en blomme kon gaan soek.
En dis daardie einste boek, meer as enigiets anders, wat Elmien vlot leer lees het. Want soos elke weetgierige en eiewys kind van haar ouderdom, wou sy uiteindelik sélf lees wat in haar boek staan. En toe sy op ’n dag vir haar ouma sê dat sy haar plantboek van voor tot agter deurgelees het, het Annabel besef dat niks haar sou keer om selfs meer te wete te kom nie. “Dis dalk ’n goeie tyd om alles wat jy van tuinplante weet op die proef te stel.”
“Wat bedoel jy?”
“Kom ons kyk hóé groen daai vingertjies van jou is,” het haar ouma met ’n oogknip laat hoor.
Hester het een middag toevallig gehoor hoe Elmien vir Marnus probeer verduidelik het wat nomenklatuur beteken. Haar hart wou bars van trots. Sy was verniet bekommerd.
Annabel het ’n gesonde balans behou. Sodra dit vir haar gelyk het asof haar kleindogter uit voeling met die gedagtewêreld van ’n kind raak, het sy haar speel-speel daarheen teruggelei. Hulle sou haar indrukwekkende versameling aandrokke en kostuumjuwele uitpak en dan opdress. Lekker kaalvoet in die voortuin teepartytjies hou met Annabel se deftige porselein, kristal en silwer. Ten aanskoue van almal in die straat.
Stringe pêrels en halfedelgesteentes naas bloeisels en blomme. Uiterlike skoonheid, naas innerlike sjarme. Werklikheid en fantasie.
Ouma en kleindogter.
Een middag na skool het Annabel Elmien by haar kombuistafel laat sit, en vir haar gesê dat sy besluit het om haar oorwegend formele tuin te herskep in ’n meer informele tipe tuin. Soos dié van die Mediterreense lande. Sy het Elmien gevra om met ’n ontwerp, werkskema en lys van materiale vorendag te kom. Dit was die begin van groter dinge. Want namate die voortuin herskep is in ’n Mediterreense tuin, het die agterplaas stelselmatig ontwikkel as kwekery.
Die inwoners van Annabel se buurt het die nuwe tuin met groot belangstelling dopgehou en vir Elmien begin vra om raad en hulp; en natuurlik het hulle ook saailinge, blombolle en steggies by haar bestel. Kort voor lank het sy ’n aardige sakgeldjie verdien.
Toe Hendrik se konstruksiemaatskappy ’n onvoorsiene terugslag beleef, moes al die Jordaans sente omdraai en inspring om ’n ekstra inkomste te verdien. Elmien het naweke by ’n kwekery in die omgewing gaan werk, maar volgehou om haar eie kwekerytjie uit te brei.
Nadat hulle finansiële posisie verbeter het, het sy steeds naweke by die kwekery gewerk en alles wat sy geleer het in haar eie onderneming toegepas. Haar ma en pa het sy vir ’n welverdiende blaaskans na ’n vakansieoord gestuur. En toe begin spaar sodat sy ’n bydrae tot haar studie kon maak.
George Papadopoulos se paadjie het hare gekruis toe sy ’n klomp houerplante vir sy vrou, Felicity, in allerhande eksotiese potte moes oorplant. Die vriendelike Griek wat tuis aangesterk het na ’n soort senuweeinstorting, het haar gefassineerd dopgehou terwyl sy hulle stoep in ’n potplantparadys omskep het. Belangstellend het hy geluister na alles wat sy oor plante te vertelle gehad het en haar daarna gereeld om hulp of raad genader.
Op aandrang van sy dokter moes hy ’n minder stresvolle werk soek, en het hy die plantplatjie wat so ’n indruk op hom gemaak het, genader met ’n winsgewende voorstel. Ná die uiteensetting van sy sakeplan, het hy sy hande oor sy maag gevou en selfvoldaan geglimlag: “I’ll be the owner of a nursery … the only one in my family.”
Na Annabel se dood het Elmien alleen gaan bly in die huis wat sy by haar ouma geërf het. Haar pa se aanbod om die plek eers op te knap, het sy van die hand gewys. Sy wou dit self restoureer. Hendrik het ’n paar waterpype en van die elektriese bedrading vervang, maar geen noemenswaardige restourasiewerk gedoen nie. Want nes die klein Elmien wou die groot Elmien alles sélf doen.
Riekert het natuurlik gehelp. En hoe meer hulle vermag het, hoe meer het hulle aangepak. Eers het hulle die pragtige ou eikehoutvloere, -deure, -kosyne en -vensterrame afgeskuur en met olie behandel. Die mure en plafonne is geverf. En later is die kombuiskaste, loodglasvoordeur en broekie-lace van die voorstoep met groot sorg gerestoureer.
Met Marnus se hulp het hulle die muur tussen die hoofslaapkamer en die en suite-badkamer uitgebreek en die pootjiesbad só geplaas dat dit ’n fokuspunt in die een hoek van die enorme vertrek sou vorm.
Riekert het ’n groot kaggel gebou om die slaapkamer visueel van die badkamer te skei.
Die restourasieproses het ’n passie geword. Húlle ding. Ander paartjies het gym toe gegaan of ’n sport beoefen of by klubs aangesluit. Elmien en Riekert het haar ouma se huis gerestoureer.
En toe hulle besluit om ’n weggooi-labrador aan te neem, het hulle geredekawel oor ’n naam vir die hond.
“Natuurlik,” het Riekert uiteindelik uitgeroep, “Koos van der Merwe uitgeknip!”