Читать книгу Gaan Suid-Afrika oukei wees? - Jan-Jan Joubert - Страница 5
Inleiding
ОглавлениеAS POLITIEKE JOERNALIS en skrywer kry ek baie vrae van Suid-Afrikaners van alle rasse, samelewingsklasse en tale oor sleutelaspekte van die land se politieke, ekonomiese en samelewingstendense, wat sommige mense as dinamies en ander as kommerwekkend ervaar.
Elke hoofstuk in hierdie boek het een van die 17 vrae wat ek die meeste kry as titel, met die inhoud van die hoofstuk my poging om dit na die beste van my vermoë te beantwoord. Sommige van hulle was vir my lekker en maklik om te takel, met ander het ek gestoei en laastens was daar dié wat ek eerder eenkant toe wou gooi en glad nie beantwoord nie, maar dit was nie ’n opsie nie – niemand het mos gesê dit gaan maklik wees nie.
Niemand wat probeer om deurdag te wees, kan reken dat hulle reeds die antwoorde het nie, en enigeen wat behoorlik na die Suid-Afrikaners om hulle luister, sal weet daar is hope kommer oor sommige van die rigtings wat gebeure in die land inslaan.
Waarvoor ’n mens in sulke tydperke van pessimisme moet oppas, is negatiwiteit. Negatiwiteit kan jou lamlê en jou vermoë kniehalter om vlugvoetig te dink en geleenthede te benut. ’n Mens moet altyd oopkop wees en nie ’n tropdier word nie. Die vermoë van die individu om empiries te dink, met empatie en deernis te handel en selfstandig pro-aktief te funksioneer, is die kern van die nastrewenswaardige liberale lewensuitkyk.
As sulks is die bedoeling van hierdie boek nie om al die antwoorde te verskaf nie, maar eerder vir die hoofstukke om as aanknopingspunt vir feitegerigte, ingeligte nadenke en gespreksverkenning met vriende, familie, kennisse en kollegas te dien.
Uit enige studie van Suid-Afrika se geskiedenis is twee dinge duidelik, en as jy dit nie geleer het nie, het jy niks geleer nie: Eerstens deernis, en tweedens dat dit nooit te laat is nie. Dit is twee kernbenaderings wat hierdie boek ten wortel lê.
Jan-Jan Joubert
Kaapstad
September 2019