Читать книгу Gaan Suid-Afrika oukei wees? - Jan-Jan Joubert - Страница 7
2
ОглавлениеWat is fout met die DA?
IN DIE 2019-verkiesing het die Demokratiese Alliansie (DA), Suid-Afrika se naasgrootste en verreweg veelrassigste party, vir die eerste keer in sy bestaan van 19 jaar en sewe verkiesings steun en setels verloor.
Die DA het nasionaal teruggesak van 22,3% steun en 4 091 584 stemme in 2014 tot 20,8% steun en 3 621 188 stemme in 2019. Dit beteken die DA se getal setels in die Nasionale Vergadering het afgeneem van 89 na 84. Boonop het die DA sy posisie as grootste opposisieparty verloor in twee provinsies, Mpumalanga (aan die EFF) en KwaZulu-Natal (aan die IVP), en misluk in sy doelwitte om die ANC tot minder as 50% steun te druk in Gauteng (net-net) en die Noord-Kaap (toetentaal).
Hoe het dit gebeur, is dit blywend en wat hou die toekoms vir die DA in?
Die DA is die enigste party wat noemenswaardige steun uit al vier Suid-Afrikaanse rasgroepe trek. Die interessante is dat die party se bruin en Indiërsteun, asook die Engelssprekende wit steun grootliks stabiel gebly het op die hoë vlakke waar dit tevore was. Die Indiërsteun en wit Engelssprekende steun het trouens in verstommende mate stempunt vir stempunt dieselfde gebly, maar die bruin stem in veral die Wes-Kaap en by name op die Kaapse Vlakte het heelwat rondgeskuif, met die ACDP en Good (Patricia de Lille se nuwe party) wat hul bruin stem laat groei het – Good uiteraard as nuwe party van ’n nulbasis af. Die rondskuiwery van bruin stemme was taamlik ingewikkeld, maar die groot verloorder daar was die ANC, nie die DA nie.
Die DA se uiteindelike swart steun was ten spyte van reusagtige pogings om dit uit te brei ook grootliks dieselfde as in 2014, hoewel dit dikwels op heel ander plekke as tevore voorgekom het (meer oor hierdie interessante en ongewone tendens ’n bietjie later). Die verskil was dat die party se wit, Afrikaanse steun dramaties gedaal het, spesifiek in Gauteng en dele van Noordwes. Daardie steun het grootliks na die VF Plus gegaan, en hoewel dit uiteraard nie moontlik is om te bewys of dit werklik so ’n netjiese som is nie, is dit dan ook geen verrassing nie dat die getal setels waarmee die DA gedaal het en die getal setels waarmee die VF Plus gestyg het, byna presies dieselfde is.
Maar voordat ons by daardie wit Afrikaanse stemme kom, kom ons kyk wat met die swart DA-stem aangaan. Dis nogal ’n vreemde storie. Die DA se aandeel in die swart stem het taamlik dieselfde gebly, maar dis veral buite die Wes-Kaap erg kol-kol, en heel ander kolle as in 2014. Daar is in baie gevalle nie vasgehou aan swart steun in gebiede waar die DA in 2014 belowende groei getoon het nie, maar dan slaan daar nuwe beduidende swart steun uit op heeltemal ander plekke sonder ’n duidelike geografiese patroon.
Ek het hieroor by DA-veterane gaan kers opsteek. Hulle was nie verras nie. Hul verklaring was dat die DA se swart steun baie afhang van die rol van individuele sterk swart DA-leiers in spesifieke gemeenskappe; die steun volg die leier en as die leier aanbeweeg na ’n ander gebied, slaan die steun weer daar uit, of op nuwe plekke waar nuwe sterk swart leiers hulle by die DA aansluit. Dis dus meer individuele as partysteun, met die individuele leiers en die party wat in die praktyk (uiteraard nie formeel nie) mekaar gebruik om steun te werf – ’n dikwels opportunistiese verhouding van verbygaande aard. Daarom skiet die DA-steun op plekke op, brand soms uit tot reste en slaan dan weer op ander plekke uit.
Dit is natuurlik ver van verkieslik af vir die DA, en dit is interessant om te kyk wat die verskil is met plekke waar die DA se swart steun meer standhoudend en blywend is. ’n Maklike voorbeeld is Kayamandi, die grootliks Xhosasprekende township by Stellenbosch in die Wes-Kaap, waar die DA se syfers stadig maar standhoudend groei. Een van die belangrikste redes hiervoor is die voortdurende opbouende betrokkenheid van die Stellenbosse DA by armoedeverligting in Kayamandi. Dit is nie ’n projek hier en daar voor verkiesingstyd nie, maar die wete by ’n groeiende aantal inwoners dat die party hulle help om die wolf van die deur te hou.
Dit is wêreldwyd nie eintlik die gewone rol van ’n politieke party nie, maar sulke gemeenskapsbetrokkenheid is wat dit verg om volhoubare kiesersteun in Suid-Afrika te trek. Ons sal trouens sien dat waar die DA hierdie tipe gemeenskapsbetrokkenheid handhaaf, sy steun goed is, en waar hy daarmee misluk, sy steunvlakke sukkel. Dit geld nie net swart kiesers nie – dit is presies wat met die deel van sy wit Afrikaanse steun wat weggeval het, gebeur het.
Waarop dit neerkom in Suid-Afrika, is dat die kiesers nie vir jou hul stemme gaan leen as jy as politieke party jou nie gaan deel maak van hul leefwêreld nie. Die politieke party moet daar wees en deel wees, die hele tyd en uit oortuiging. Dis miskien meer waar in Suid-Afrika, maar dit geld eintlik wêreldwyd. Dit staan bekend as kiesafdelingswerk en dit is hoe verkiesings gewen word – tussendeur, nie in verkiesingstyd nie. En dis nie nuus vir die DA nie. Die party se voormalige hoofstrateeg, Ryan Coetzee, het dit jare gelede al deur behoorlike navorsing bevestig en dit knap verwoord met sy gevolgtrekking dat ’n raadslid nie net soos ’n brandweerwa moet wees wat met groot gelui opdaag nadat die krisis reeds ontstaan het nie. Die raadslid moet altyd daar wees en betrokke wees.
Dit is wat die DA goed regkry in spesifiek die bruin gemeenskap en die wit Engelssprekende gemeenskap – die openbare partyverteenwoordigers is werklik gemeenskapsleiers, almal weet wie hul raadslid is en hulle laat daardie raadslid werk vir hulle, soos dit hoort. Male sonder tal word dit byvoorbeeld in Die Son, die gewildste dagblad onder Afrikaanssprekende bruin mense in die Wes-Kaap, berig dat ’n gesin in krisis “die raadslid gekontak het” om byvoorbeeld ’n doodsiek kind hospitaal toe te vat. My gunsteling-stadsraadslid in die land is Maude Goliath van Malmesbury in die Wes-Kaap. Sy is onderburgemeester van die Swartland-munisipaliteit. Vir die geliefde Antie Maude, soos almal in haar wyk haar ken, is dit ’n roeping om raadslid te wees. Een van die wyk se inwoners, die joernalis Johann Maarman, vertel graag dat as die vullislorrie die dag nie opdaag nie, ry Goliath met haar motor van huis tot huis en neem self die vullis na die stortingsterrein. Dis maar een voorbeeld van hoe sy haar gemeenskap dien. Sy is na my mening ’n rolmodel vir alle stadsraadslede.
Die DA kry dit ook dikwels goed reg op stadsraadsvlak in ander gemeenskappe, waaronder oorwegend wit gemeenskappe in plattelandse en voorstedelike gebiede. Vir verskeie van my vriende en familie is die plaaslike DA-wyksraadslid se WhatsApp-groep die vinnigste bron van gemeenskapsnuus, en daar word meelewend deelgeneem. Dit hang baie van die gehalte van die stadsraadslid af, en ’n puik stadsraadslid is enige party tot groot heil. Die DA het dan ook op baie plekke landwyd waar die DA-stadsraadslid spesifiek goed is, relatief goed gevaar in die 2019-verkiesing. Dit is egter nie ’n klinkklare reël nie – sommige plekke se politieke dinamika maak dit maar moeilik vir ’n raadslid wie se party eerstens versoening, nie-rassigheid en streng bestuur nastreef. En dan het die situasie op provinsiale, nasionale en leierskapvlak in die DA teen 2019 ’n punt bereik waar selfs die diensbaarste plaaslike DA-verteenwoordiger baie harder as tevore moes werk om sy of haar kiesers te oortuig dat die DA nog die party van professionaliteit, versoening, goeie bestuur en uitnemendheid is.
Soos reeds aangetoon, was dit meer van ’n probleem vir wit Afrikaanse en swart kiesers as kiesers in ander gemeenskappe; so kom ons fokus op daardie twee kieserskorpse. Ek is huiwerig om myself uit te gee as veel van ’n kenner oor die DA se vertoning onder swart kiesers. Net kortliks, sover ek kon vasstel uit terugvoer van DA-leiers, gedrukte, elektroniese en sosialemedia-nuusdekking van swart townshipkiesers, en anekdotiese terugvoer van swart vriende en kennisse, is die redes hoekom die DA nie in 2019 hul beoogde groei in swart gemeenskappe bereik het nie, eintlik oorbekend. Die grootste uitdaging is dat die DA weliswaar redelik vaar onder die veral stedelike swart middelklas, maar glad nie goed vaar onder arm swart kiesers in landelike gebiede en by name stamgebiede nie, en ook nie werklik hond haaraf maak onder swart townshipkiesers nie.
Ons het reeds gekyk na die verskynsel van individuele plaaslike swart leiers wat DA-steun laat opvlam of verflou, en na die noodsaaklikheid van voortgesette gemeenskapsbetrokkenheid eerder as die brandweerwa-model, maar die DA se gebrek aan swart groei het eintlik ’n baie meer omvattende en moeilik veranderbare oorsaak. Dit is dat arm swart kiesers nie die DA sien as ’n party wat omgee vir hulle nie. Die persepsie is dat die DA nie in beginsel onverskillig gekant is teen arm swart kiesers se belange en probleme soos die persepsie van die VF Plus is nie, maar dat die DA die belange van minderhede en die middelklas bo arm, swart belange stel. Die persepsie word versterk deur die feit dat DA-raadslede bykans eksklusief wyke verteenwoordig wat bestaan uit minderheidsgebiede (soos bruin en Indiër-bevolkingsentra), middelklasgebiede en (in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap) landelike gebiede waarin swart mense nie ’n meerderheid vorm nie. Omdat daar mededinging om beperkte munisipale bronne is, sal enige raadslid wat sy of haar sout werd is, hul bes doen om soveel moontlik besteding en ontwikkeling te verseker vir die wyk wat hulle verteenwoordig. Dit bring die DA-wyksraadslid noodwendig in kompetisie met die belange van die arm, swart wyk wat gewoonlik deur die ANC verteenwoordig word.
Boonop sukkel die DA om met arm swart kiesers te kommunikeer op ’n wyse wat by hulle aanklank vind. Dit geld benewens DA-leiers uit minderheidsgroepe ook baie van die DA se swart leiersfigure op veral nasionale vlak, wat dikwels middelklas-sentiment eerder as township-sentiment of landelike sentiment verteenwoordig, en by voorkeur in die openbaar Engels praat – dikwels sonder ’n aksent van ’n inheemse taal. Baie van die jonger swart DA-leiers was in voormalige Model C-skole en het aan die land (of die buiteland) se beste universiteite studeer. Geeneen van daardie aspekte is sonder omvattende voordele nie, maar die nadeel is dat die terugvoer van arm swart Suid-Afrikaners dikwels is dat hulle sukkel om hulle met DA-leiers te vereenselwig, en ook glo dat DA-leiers nie werklik met hulle identifiseer in hul verarmde werklikheid nie. Die DA se dikwels lofwaardige klem op meriete, vaardigheid en kwalifikasies wanneer kandidate aangewys word, plaas ook onbedoeld ’n besliste hindernis en selfs plafon op die vordering van gemeenskapsleiers met lae onderrigvlakke en sonder kwalifikasies. Die punte uitgestippel in hierdie paragraaf is bitterlik moeilike kwessies om te takel, want dit dra soveel skadu’s en eggo’s van die Suid-Afrikaanse geskiedenis daarmee saam.
Ek wil nie te diep in hierdie aspek delf nie, maar iets wat baie vreemd oorkom, is hoe die DA by sy massa-saamtrekke mense het wat tydens toesprake op georganiseerde wyse oor die luidsprekerstelsel tussenwerpsels skree ter ondersteuning van die spreker. Uit die aard van my werk was ek seker al op honderde politieke saamtrekke van allerlei aard en van elke denkbare party op elke denkbare plek in hierdie land, maar ek het nog nooit die steurende, vervreemdende en eintlik nogal ongeskikte gebruik as aanvaarbare tradisie in enige gemeenskap teengekom nie. Mens wonder waar kom die DA daaraan.
’n Verdere uitdaging vir DA-groei onder swart kiesers is dat die DA nie meer die enigste groot landwye alternatief tot die ANC is nie. Die EFF het sodanig gegroei dat die DA nie meer die noodwendige vangnet vir onvergenoegde swart stemme is nie.
Laastens is die DA as party van streng regering meer geneig om regstreeks met arm kiesers te bots wanneer hulle sukkel om vir dienste soos elektrisiteit te betaal. In hierdie verband is die DA ongetwyfeld reg en is dit die ANC wat, benewens wanbestuur, korrupsie en die ontplooiing van ondergekwalifiseerde kaders, ook deur slap dissipline grootliks verantwoordelik is vir die ineenstorting en bankrotskap van munisipaliteite weens die kultuur van wanbetaling. Dat streng bestuur die DA steun kos in arm gebiede, is ongetwyfeld waar, al is dit ’n prys wat enige behoorlike regering bereid moet wees om te betaal.
Vir die DA om sy arm swart steun te laat groei, moet die party dus voluit teenwoordig en meelewend wees, arm swart gemeenskapsleiers trek en behou wat werklik die party se waardes en beleid verteenwoordig en populêre steun geniet en toesien dat hulle die welstand van daardie arm gemeenskappe prioritiseer. Die party moet miskien ook aanvaar dat sommige kiesers wat onverantwoordelike en populistiese vermorsing van openbare bates voorstaan, eintlik nie vir die DA behoort te stem nie. Die DA sal ook op ’n gemaklike, outentieke en vriendelike manier in die taal en taalvariant van die kieser se voorkeur moet kommunikeer om so ’n persoon se stem te wen en te behou.
Moeilik, ja, maar niemand het gesê dit gaan maklik wees nie!
’n Ewe belangrike taak vir die DA is om uit te werk wat met die party fout is dat sowat 250 000 van sy wit Afrikaanse kiesers in 2019 vir die VF Plus gestem het. Dit is waar die party se agteruitgang gelê het, en sonder ’n presiese, eerlike plan om spesifiek daardie tipe wit Afrikaanse kiesers ter wille te wees, gaan die verlies aan steun en setels nie omgekeer word nie. As ’n mens kyk na hierdie kiesers se stellings in die formele media en op sosiale media het die oorskakeling van die DA na die VF Plus dikwels met ’n mate van aggressie en bitterheid jeens die DA gepaardgegaan.
Dit is eerstens belangrik om te besef dat die oorgrote meerderheid wit Afrikaanse kiesers steeds vir die DA stem en dat die DA moet oppas om nie in sy terugwen van die verlore kiesers die baba met die badwater uit te gooi nie. Die DA moet altyd die party van rasseversoening wees. Dit help nie die DA probeer die VF Plus word nie – nie dat mens dink daar is veel gevaar daarvan nie. Die VF Plus het ’n harde kern regse kiesers, en hulle hoort nie by die DA tuis nie. Die fokus moet vir die DA val op daardie kiesers wat tevore DA-kiesers was en die ideale van versoening en nie-rassigheid onderskryf, maar hulself, hul aspirasies en hul vrese nie in die aanloop tot die 2019-verkiesing weerspieël gesien het in die DA se gedrag en veldtog nie.
Ons gaan in die hoofstuk oor waar die VF Plus se stemme vandaan kom in besonderhede verwys na hoe die DA se gedrag sommige kiesers na die VF Plus gedryf het. Kortom was dit veral rondom ses kwessies: die Nick Mallett/Ashwin Willemse-voorval, die Patricia de Lille-sage, die Gautengse DA se hantering van Panyaza Lesufi, die Hoërskool Overvaal-gebeure, die omstredenheid op Schweizer-Reneke en die petalje om Multichoice, Steve Hofmeyr en die Ghoema-musiektoekennings.
Wat al hierdie kwessies gemeen het, is dat die DA dit so swak, oorhaastig en ondeurdag hanteer het dat dit sommige wit Afrikaanse DA-ondersteuners vervreem het. Boonop was die negatiewe uitvloeisels in al die gevalle onnodig en vermybaar. ’n Paar pro-aktiewe stappe kan tot groot verbeterings lei.
Eerstens is taal vir Afrikaanse mense belangrik, en spesifiek om in Afrikaans aangespreek te word. Dit het oudpres. Nelson Mandela goed besef toe hy gesê het as jy met Afrikaanse mense in Afrikaans praat, praat jy met hul harte. As die DA sy verlore Afrikaanse kiesers wil terugkry, sal dit die party loon om sy verklarings ook in Afrikaans uit te stuur, sy openbare verteenwoordigers belangrike Afrikaanse kultuurgeleenthede te laat bywoon, en spesifiek sy Afrikaanssprekende openbare verteenwoordigers (maar ook ander, en by name die partyleier) gereeld, behoorlik en samehangend te laat Afrikaans praat, in openbare optredes en op sosiale media. En ek bedoel nie ’n groetwoordjie of ’n weggooisinnetjie hier en daar nie. Ek bedoel die behoorlike bewoording van ’n deurdagte argument. Openbare verteenwoordigers van die DA wat gemaklik in Afrikaans skryf, kan byvoorbeeld tweetalig op sosiale media kommunikeer met hul nie-rassige vriendekringe van wie baie dalk nie Afrikaans verstaan nie. Een van die DA se nasionale woordvoerders moet ook spesifiek puik in Afrikaans kan praat, en ’n Afrikaanse moedertaalspreker wees. Dis nou as die DA daardie verlore Afrikaanse stemme wil terugwen en wil keer dat hulle meer sulke stemme afstaan in die toekoms. Soos Onze Jan Hofmeyr kan mens vra: Is Afrikaans die DA se erns?
Tweedens, en dit geld wyer as hierdie kwessie, sal die DA ’n aangenamer beeld moet kry, en die maklikste manier om dit te doen is om ’n aangenamer party te word – ’n groep wat gemoedelik optree teenoor mekaar en ander. Tans is die beeld van die DA die beeld van ’n spietkop. ’n Mens weet hulle pas die wet toe, hulle is nodig en hulle voorkom sterftes en beserings, maar jy is nooit bly om ’n spietkop te sien nie, en min mense wil ’n spietkop wees. Dit strek die DA tot eer dat hy die enigste politieke party is wat ANC-korrupsie effektief takel, en die party het baie ander positiewe aspekte, soos ons netnou sal sien. Maar iets van die spietkop-ingesteldheid teenoor die ANC het afgegee op sy algemene ingesteldheid en interne dinamika. Dit is onaantreklik om met ’n politieke party gekonfronteer te word wat die hele tyd baklei, veral met homself. Dit skep die indruk van ’n gebrek aan opvoeding, gebrekkige agtergrond en bowenal ’n tekort aan gravitas. Ordentlikheid kos niks nie en die aantreklikheid van goeie maniere kom natuurlik vir enigeen wat behoorlik grootgemaak is. Afrikaanse kiesers van alle rasse het die behoefte om tuis te voel in hul party, onder meer deur trots te wees op die gedrag van hul politieke party – iets wat ek dink minder van ’n behoefte is by wit Engelssprekendes. As die DA die tuiste van die oorgrote meerderheid Afrikaanse mense wil bly, moet daar in die party ’n waarneembare strewe na ordentlikheid wees. Dit geld ook die hantering van die ses Afrikanerkwessies wat spesifiek kiesers na die VF Plus laat stroom het: Die DA kan sterk en deurdagte (eerder as oorhaastige) leiding bied met rustige, kundige advies en versoenende oplossings wat die party van die ANC, EFF en VF Plus kan onderskei.
Die spietkop-ingesteldheid by sommiges in die DA het sy laagtepunt bereik met die Patricia de Lille-debakel. Nou kyk, soos die meeste van ons is Antie Pat – voormalige Wes-Kaapse DA-leier en burgemeester van Kaapstad – nie ’n engel nie; sy is ’n mens. Maar daar is baie mense in die DA asook ondersteuners van die party, en hulle is dikwels Afrikaanse mense, wat meen daar is te streng teen haar opgetree. Uiteindelik, nadat allerlei openbare beskuldigings vanuit die DA dat sy korrup was en haarself verryk het op niks uitgeloop het nie, het dit daarop neergekom dat sy glo ’n SMS gestuur het wat vir stadsraadslede wat daaroor moes besluit, gesê het wie sy as stadsbestuurder wou hê, en dat hulle vir hom moes stem. Hoewel dit ongetwyfeld verkeerde gedrag van De Lille was, is daar baie mense wat meen dis nie die einde van die wêreld nie en dat ’n openbare teregwysing tesame met ’n waarskuwing genoegsame straf sou wees. Uiteindelik was sy egter moeg gestry en het sy bedank om haar eie party, Good, te stig. Sowel De Lille as haar duisende ondersteuners was die DA se verlies. Die DA moet homself afvra of hy interne geskille beter kan hanteer.
Betreffende die spietkop-ingesteldheid is dit eenvoudig verstommend hoe gemaklik spesifiek DA-parlementslede is om in liederlike bekgevegte op sosiale media met ander mense en selfs met mekaar betrokke raak, meestal sonder om die ander persoon net gou privaat te kontak en die feite na te gaan. As daar iets van die moderne lewe is wat my verstand te bowe gaan, is dit die onblusbare lus van sommige mense (nie net politici nie) om hul hele lewens op sosiale media uit te leef. Mev. Mora van Zyl, wat vir my skoolgehou het, het voor in haar klas ’n groot kennisgewing gehad waarop gestaan het: “Dink maar weer …” Dis goeie raad vir almal van ons, veral op e-pos en sosiale media. Mens hoef nie altyd eerste te reageer nie. Jy moet verstandig en oplossingsgerig reageer. Omdat politici nie engeltjies is nie, is dit nodig vir die DA, as hy hierdie swak plek in sy mondering wil takel, om duidelike, streng reëls rakende gedrag op veral sosiale media in te stel, met spesifieke strawwe. Vanself gaan dit duidelik nie regkom nie.
Derdens is dit nou regtig hoog tyd dat die DA behoorlike beleid publiseer oor regeringskwessies, soos dit ’n amptelike opposisie betaam. Die finalisering van sommige beleidsvoorstelle, veral oor kontensieuse kwessies, sloer nou al jare lank. Mens kon dit sien in die DA se 2019-verkiesingsplakkate. Wat beteken “Billike toegang tot werk” of “Een Suid-Afrika vir almal” nou eintlik? Nee, ek weet ook nie. Met behoorlik omskrewe beleidskeuses sal bontpratery tot ’n einde kan kom deur behoorlike dissiplinering. Maar wat behoorlike beleid beteken, en wat leierskap verg, is dat dit nie net beleidsopsies insluit nie, maar ook sekere opsies bepaald uitsluit. Baie mense meen – en die Sondagkoerant Rapport het in ’n hoofartikel pertinent hieroor gewaarsku – dat die DA se obsessie om soveel stemme moontlik te kry en die ANC as regering te ontsetel, beteken hy wil geen kiesers vervreem nie en dus geen beleidsopsies uitsluit nie. Wel, hy sal moet, want as jy in die politiek alles vir almal probeer wees, is jy spoedig niks vir niemand nie.
Een van die kwessies wat die DA dringend moet uitklaar in belang van spesifiek sy Afrikaanse ondersteuners van alle rasse, is die party se siening oor taal in onderwys. En dit is regtig nie so moeilik nie, want die Grondwet maak die situasie glashelder. As die DA die duidelik omskrewe bepalings in die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet daadkragtig en op ’n versoenende wyse uitleef, sal ’n groot deel van sy Afrikaanse probleem reeds opgelos wees. Dit sal egter van die party se onderwyswoordvoerders, spesifiek in Gauteng, vereis om die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet behoorlik onder die knie te kry, spesifiek sover dit onderrigtaal aangaan. Nogmaals: Is dit die DA se erns?
Vierdens – en dit is dieselfde as wat ons reeds oor swart kiesers gesê het – as die DA wil hê wit Afrikaanse kiesers moet vir die party omgee, moet die DA aantoonbaar en voortdurend by die alledaagse lewe van wit Afrikaanse kiesers betrokke wees. Daar is baie wit Afrikaanse mense wat – ten regte of ten onregte – uitgesluit en geteiken voel in die Suid-Afrikaanse samelewing. Soos ’n briefskrywer dit onlangs in die Sunday Times gestel het, was dit verkeerdelik in die vorige bedeling in Suid-Afrika ’n sonde om swart te wees. Hy vra dan of dit tans ’n sonde is om wit te wees. Kortom, Afrikaanse mense wil tuis voel en voel dat hulle behoort. Die spesifieke omgee vir een groepering hoef natuurlik glad nie te beteken dat daardie groep bo ’n ander bevoordeel word of dat enigeen afgeskeep word nie.
Vyfdens is daar die ernstige en belangrike tendens dat al hoe meer wit en bruin Afrikaanse mense fisiek bedreig voel deur misdaad. Onder rykes en die middelklas is dit veral diefstal en roof – wat tot ander misdade soos aanranding, verkragting en moord kan lei – wat gevrees word. In die werkersklas is dit spesifiek bendegeweld wat vrees aanwakker. ’n Deel van die probleem is die bykans algehele gebrek aan politieke wil en vermoë by die ANC-regering om dit op te los. Dit laat ’n gaping so groot soos ’n waenhuisdeur vir die DA om gemeenskapspolisiëring in DA-wyke te organiseer as ’n teken van meelewing en as ’n praktiese bydrae tot die oplossing van die probleem. Die ander kwessie wat spesifiek wit Afrikaanssprekendes emosioneel raak, is plaasmoorde. As die DA die wegloop van sommige van sy Afrikanerkiesers wil keer en omdraai, sal die party as prioriteit eerstens meelewing moet toon en tweedens ’n gemeenskapsoplossing spesifiek vir plaasmoorde moet bedink.
As die DA aangaan soos hy aangaan, sal sy trajek nie verander nie. Een van die senior joernaliste in die land wat ek die meeste bewonder het in 2019 vir my gesê, “die DA dra die ideaal van ’n nie-rassige Suid-Afrikaanse grondwetlike demokrasie in sy hande”. Dis ’n groot eer en verantwoordelikheid as daardie waarneming korrek is.
Vir sy ondersteuners is die DA die enigste party wat ’n praktiese alternatief tot die ANC in regering bied – ’n manier om provinsies, munisipaliteite en dalk eendag die land eerliker en beter te regeer tot voordeel van almal, ongeag ras, taal, geslag, oortuiging of afkoms. Dit is die miljoene mense wat die DA so beskou wat sal hoop die party ruk hom reg met praktiese beleidsbesluite en gedragsverandering – tot voordeel van gans die geliefde land.