Читать книгу Gaan Suid-Afrika oukei wees? - Jan-Jan Joubert - Страница 6

1

Оглавление

Kan die ANC homself red?

TOE DIE ANC in 1994 Suid-Afrika se eerste demokratiese algemene verkiesing wen, het min of meer die hele wêreld saam met hulle feesgevier, en het hulle min of meer die grootste morele gesag van enige politieke party in die wêreldgeskiedenis geniet.

Skaars ’n kwarteeu later het sake vir die ANC heeltemal verander. Die party het, veral op munisipale vlak maar ook in sommige provinsiale regerings, sinoniem geword met korrupsie, wanbestuur, nepotisme, selfverryking, geweld en selfs moord. Hoe het dit gebeur, kan die proses omgedraai word, en wat is die kanse dat die ANC homself uit sy afwaartse spiraal kan red?

In hierdie hoofstuk gaan ek ’n halfdosyn praktiese stappe ter verbetering van die ANC aan die hand doen, wat die hele land en elke Suid-Afrikaner tot voordeel sal strek, want die ANC is die party wat oor ons almal regeer.

Daardie morele gesag waaroor die ANC teen 1994 beskik het, het grootliks berus op die stryd teen rassediskriminasie wat die organisasie 82 jaar lank sedert sy stigting in 1912 gevoer het. Met sy stigting was die ANC (destyds nog bekend as die South African Native National Congress, totdat sy naam in 1923 na die African National Congress verander is) ten gunste van gekwalifiseerde stemreg vir “beskaafde mans” (die ANC se eie term, wat verwys het na mans ouer as 21 jaar wat sekere geletterdheidsvlakke bereik en ’n spesifieke hoeveelheid eiendom besit het) van alle rasse – maar aanvanklik nie vir vroue nie. Terloops, van 1959 tot 1978 was nie-rassige gekwalifiseerde stemreg (vroue darem ingesluit) ook die beleid van die Progressiewe Party, die voorloper van die Demokratiese Alliansie (DA). Teen daardie tyd was die ANC lankal ’n voorstander van nie-rassige demokrasie met stemreg vir alle Suid-Afrikaners (mans en vroue) van alle rasse. Waar die ANC met sy stigting slegs swart mense as lede aanvaar het, het dit mettertyd uitgebrei tot nie-rassige lidmaatskap, sodat wit, bruin en Indiërlede ook aangesluit het.

Die ANC het voorts morele gesag verwerf omdat die organisasie van 1912 af teen ernstige en gewelddadige onderdrukking ’n beleid van vreedsame protes onderskryf het totdat die verbanning van die organisasie deur die Verwoerd-regering in 1960 vreedsame protes onwettig gemaak het. Dit het die ANC gekonfronteer met die opsie om moed op te gee en die ideaal van ’n nie-rassige demokrasie te laat vaar, of om oor te gaan tot ’n gewapende stryd.

Die ANC het van 1961 af die gewapende stryd gekies. Tesame met internasionale isolasie, die gevolglike ekonomiese druk en ’n veldtog om swart townships deur burgerlike verset onregeerbaar te maak het dit die apartheidsregering gedwing om rassediskriminasie te laat vaar en tot ’n nie-rassige demokrasie in te stem. Terselfdertyd is daar egter ’n paar nare nalatenskappe geskep wat Suid-Afrika steeds kniehalter. Die ergste hiervan is waarskynlik die ontwrigting van onderwys. Dit het ’n kultuur geskep van gebrekkige dissipline en onvoldoende werkywer in baie skole wat die armste gemeenskappe van die land bedien. Die tweede is die kultuur van nie-betaling vir basiese dienste. Telkens doen ANC-staatshoofde ’n beroep op individue en gemeenskappe om vir spesifiek elektrisiteit te begin betaal, maar die kultuur van nie-betaling – hoe verstaanbaar dit ook mag wees in die lig van die verlede en mense se voortgesette armoede – beteken dat die elektrisiteitsvoorsiener Eskom en ’n groeiende aantal munisipaliteite versink in ’n skuld-moeras. Dit word as aanvaarbaar beskou om dienste te kry en nie daarvoor te betaal nie, maar daardie dienste is nie kosteloos nie. Dit kos geld om elektrisiteit op te wek en te versprei, en die nodige instandhouding en uitbreiding van infrastruktuur te doen. En dit kos geld om munisipale dienste te lewer, want die einste vakbonde waaraan die ANC deur sy vennootskap met die vakverbond Cosatu verwant is, beskou dit as hul roeping om die hoogste moontlike lone en salarisse vir hul lede te beding, anders staak hulle.

Nou wie moet daarvoor betaal as die verbruiker nie daarvoor betaal nie? Hoe is dit standhoudend as niemand wil betaal om dit in stand te hou nie? En spesifiek die ANC-beheerde stadsrade het nie die durf om dienste af te sny nie, want hulle wil nie ongewilde besluite neem nie. So raak die stadsrade onlewensvatbaar en sowel die ANC as die EFF weier om veel aan die kultuur van nie-betaling te doen.

Die eerste ding wat die ANC behoort te doen, is om sy laksheid met wetstoepassing te laat staan. ’n Goeie manier om te begin is om van almal te verwag om ten minste kosprys te betaal vir die basiese dienste wat hulle gebruik, met elektrisiteit en munisipale dienste eerste in die ry. ’n Mens weet die ANC weet dit – dis regtig nie moeilik om te verstaan nie. Sommige ANC-leiers asook die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, sê dit openlik. Maar wat gebeur op grondvlak? Populisme seëvier – alte dikwels van ANC-kant, en van ervare, senior ANC-leiers van wie ’n mens regtig meer verwag.

Hier is ’n voorbeeld uit die 2019-verkiesingsveldtog: Ek het ’n debat tussen verskillende politieke partye in Oudtshoorn bygewoon. Oudtshoorn se stadsraad is onder DA-bewind. Die ANC se verteenwoordiger in die debat was iemand vir wie ek tot in daardie stadium baie respek gehad het, eerw. Shaun Byneveldt, ’n voormalige speaker van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer en boonop ’n voormalige ambassadeur. En daar probeer hy toe so wrintiewaar die oorwegend arm gehoor opstook met die stelling: “Dit is die DA wat julle krag afsny in Oudtshoorn!” Die onverantwoordelike populisme was skokkend. Al die ander deelnemers (Bonginkosi Madikizela van die DA, Laetitia Arries van die EFF en Patricia de Lille van Good) was verantwoordelik genoeg om te sê munisipale rekeninge moet betaal word, anders sneuwel die munisipaliteit. Maar Byneveldt se opportunisme en populisme (met die implikasie dat die ANC nie betaling sal afdwing of krag sal afsny nie) is presies die soort ANC-gedrag wat enige owerheid se dood sal beteken. As die ANC nie die durf of die ruggraat het om regulasies toe te pas soos van ’n regering vereis word nie – ook al is dit ongewild – sal hulle voortgaan om nie die mas op te kom as ’n regering nie.

Dit was nie altyd so nie. In sy memoires, Dispatches from the War Room, skryf die Amerikaanse politiekeveldtog-ghoeroe Stan Greenberg ’n fassinerende hoofstuk oor hoe hy die ANC-verkiesingsveldtog in 1994 bestuur het. Dit was ’n verkiesing met baie gebreke oral in die land, waarop ons nie nou gaan ingaan nie. Toe die uitslae begin deurkom, was die nuus uit veral die KwaZulu-Natalse platteland noord van die Tugelarivier redelik vreemd. Baie stembusse van daar het presies 2 000 stemme vir die Inkatha-Vryheidsparty bevat, en bykans niks vir enigiemand anders nie. Daar was in daardie tyd – toe die land ’n politieke drukkoker was met spanning op ’n mespunt – ’n sterk groepering met ’n waarskynlike meerderheid in die ANC se nasionale leierskap, en bepaald die party se KwaZulu-Natalse leierskap, wat nie die uitslag van die verkiesing in die provinsie wou aanvaar nie. As daardie groepering die oorhand in die ANC gekry het, sou ’n bloedbad sekerlik gevolg het. Tydens ’n krisisvergadering by die ANC-hoofkwartier in Johannesburg het die spanning hoog geloop, met al hoe meer leiers wat gemeen het optrede teen Inkatha is die enigste oplossing (die ANC en Inkatha was destyds betrokke in ’n laevlak-burgeroorlog met duisende slagoffers). Toe maak die ANC-president, Nelson Mandela, die hele kamer stil en gee dié opdrag: “Beveel die kamerade om alle mediakonferensies te kanselleer. Ons sal niks doen om hierdie verkiesing se uitslag te ondergrawe nie. Die ANC sal nie sê hierdie verkiesing was nie vry en regverdig nie. Berei ons mense in Natal daarop voor om te verloor.”

Dit is leierskap – die deurdruk van ’n ongewilde besluit om die regte redes. En dit is die soort leierskap wat nie meer juis in die ANC geopenbaar word nie.

Die kernprobleem vir die ANC in regering is inderdaad dat die party nie bereid is om ongewilde maar nodige besluite deur te voer nie. En die rede daarvoor is taamlik eksistensieel – dit raak aan die kern van wat die ANC geword het. Dit is ’n slag in 2018 by ’n paneelbespreking in Bloemfontein treffend verwoord deur die redakteur van City Press, Mondli Makhanya. Hy het verduidelik dat die ANC nie meer ’n bevrydingsbeweging is nie, maar ’n wederkerige inkomstebron vir sy lede. Daar is ’n waterval-uitwerking (cascade effect) ter sprake, wat gepaardgaan met geldelike voordele uit staatsposte, munisipale poste en tenders vir mense wat andersins nie daartoe toegang sou hê nie, en dus juis om daardie rede by die ANC aansluit. Dit is dus meer van ’n wedersydse geldmaakskema as ’n politieke party, en hoe meer senior jy is, hoe meer geld kan jy kry. Makhanya het tereg bygevoeg dat dit nie alle ANC-lede geld nie, maar dit geld gewis te veel ANC-lede.

’n Ander netjiese verduideliking vir hierdie fenomeen kom reg uit die perd se bek. Die woordvoerder van die ANC in die Vrystaat, Thabo Meeko, het op 15 Julie 2019 aan die einste City Press gesê: “Mense jaag eiebelang na, want hulle wil tot elke prys ’n betrekking hê, en hulle wil verkieslik (deur die ANC) ontplooi word, en hulle wil tenders hê. Maar ons kan nooit toelaat of saamstem dat die ANC verdeel word omdat individue ontevrede is met die uitslae van demokratiese ANC-prosesse nie.” Die enigste fout wat ek sien in Meeko se stelling is die gebruik van die woord “maar”. Dit moes “en” gewees het!

Die verduidelikings deur Makhanya en Meeko stem ooreen met bevindings oor voortslepende politieke geweld en sluipmoorde in spesifiek KwaZulu-Natal. Die bevindings van byna elke ondersoek daarna toon dit spruit uit interne ANC-konflikte oor betalende poste, hetsy as amptenare of stadsraadslede, of anders oor die verkryging van taxi-roetes en tenders. Gestroop van vernis beteken dit ANC-lede het in die gewoonte verval om mekaar vir poste, tenders en taxi-roetes te vermoor. Daar is geen aanduiding of bewys dat dit gebeur in enige ander Suid-Afrikaanse politieke party nie. As die eerste stap vir die ANC om homself te red is dat hy bereid moet wees om ongewilde politieke besluite deur te voer, is die tweede en verwante stap dat hy bereid moet wees om die vrot appels, en spesifiek die misdadige elemente, in sy midde vas te vat, uit te werp, aan te kla en toe te laat dat hulle sonder vrees of vooroordeel in ’n hof verhoor word.

Die derde stap vir die ANC om homself te red, is ’n logiese uitvloeisel van die twee stappe waarna ons reeds gekyk het, maar polities moeilik. Dit is naamlik ’n herroeping van die besluit van die ANC se nasionale kongres in 1997 in Mahikeng om kaderontplooiing as partybeleid te aanvaar. Dit beteken die ANC is moontlik die enigste regerende party in ’n moderne demokrasie met die amptelike beleid om sy eie ondersteuners en lede te bevoordeel by die vul van regeringsposte. Dit is uiteraard ’n resep vir ’n ramp. Soveel van die wanfunksionering van regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak is die regstreekse gevolg daarvan dat mense op grond van persoonlike en politieke verbintenisse eerder as kwalifikasies en bewese vaardigheid in amptenaarsposte aangestel word. Dit is logies en noodwendig dat enigeen wat op grond van politieke lojaliteit eerder as vermoë tot dienslewering in ’n pos aangestel word, politieke lojaliteit bo dienslewering sal bly stel, want dit is die amptenaar se mededingende voordeel. As die ANC nie kaderontplooiing laat vaar nie, sal hy aanhou misluk as regering. As die beste persoon nie in elke pos aangestel word nie, sal die beste dienslewering nie kan plaasvind nie.

’n Vierde aspek waarop die ANC gerus kan fokus, is om die land se belange eerste te stel wanneer dit bots met die wense van sy alliansievennoot Cosatu. Uiteraard speel baie Cosatu-vakbonde ’n belangrike rol om uitbuiting van sy lede te keer. Die vakverbond is ook ’n broodnodige en beginselvaste ondersteuner van vroueregte, en staan, soos die ANC se ander alliansievennoot, die SAKP, dikwels rotsvas in die uitwys en veroordeling van staatskorrupsie. Boonop is Cosatu, nogmaals soos die SAKP, ’n deurlopende teenstander van rassisme, rasse-opsweping en onderskeid op grond van ras. Cosatu speel dus op baie gebiede ’n leiersrol.

Maar soms gebeur dit dat Cosatu se lidvakbonde wreed en onmenslik optree teenoor die land se kwesbaarste inwoners tydens stakings. Dit geld veral twee vakbonde, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) en die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu). As die ANC sy morele aansien wil terugwen, sal hy moet sorg dat hy spesifiek die belange van kinders in skole en siekes in hospitale, klinieke en tuisversorging stel bo die salarisse en lone van hierdie vakbondlede.

Ons gaan die rol van vakbonde in meer besonderhede bekyk in die hoofstuk oor die minimum loon, maar kortliks is Sadou, met sy sowat 250 000 lede, sekerlik een van die belangrikste redes waarom die deel van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel waarvoor sy lede verantwoordelik is, so gereeld die swakste uitslae ter wêreld oplewer wanneer die vaardigheids- en kennisvlakke van leerders moet meeding met ander lande s’n. Sadou self blameer die swak uitslae daarop dat hul lede in die armste en mees ontwrigte gemeenskappe werk, dat die leerders met erge maatskaplike euwels tuis en in die gemeenskap te kampe het, dat baie skole waar Sadou-lede werk onveilig en verwaarloos is en dat die provinsiale en nasionale onderwysdepartemente se verskaffing van byvoorbeeld onderwyshulpmiddels dikwels onvoldoende is.

Al daardie Sadou-besware is in die kol, maar dit is aspekte wat buite Sadou se beheer is. Enigeen word tog seker beoordeel aan die hand van hoe uitdagings hanteer word wat binne jou beheer is – daardie dinge wat jy kan verander omdat dit deur jou eie gedrag bepaal word. As ’n mens aanvaar dat elke onderwysstelsel ter wêreld op ’n etiese, dissiplinêre en onderrigvlak die belange van die kind eerste en sentraal stel, is dit wat te veel Sadou-lede betref, moeilik om te glo dat hulle snags rustig kan slaap. Natuurlik is baie Sadou-lede wonderlike, vaardige en liefdevolle onderwysers wat in dikwels moeilike omstandighede hoop en lig bring, en leerders help om ten spyte van aaklige omstandighede hul volle potensiaal te bereik en ’n beter lewe te bou. Maar in te veel skole met Sadou-onderwysers is daar heeltemal te min onderrigtyd. In van die land se armste gebiede, soos Sekhukhuneland in Limpopo, het ek as onderwysjoernalis te gereeld gesien dat leerders teen tienuur soggens al huis toe gaan. Die jaarlikse Suid-Afrikaanse skoolmoniteringsverslag, wat vroeg in 2019 in die parlement bekend gestel is, het onthul dat die gemiddelde daaglikse afwesigheidskoers van Suid-Afrikaanse onderwysers sowat 10% is – en my praktiese ervaring is dat daardie syfer hoër is in die meeste Sadou-beheerde skole as in die meeste skole waar onderwysers aan die ander onderwysvakbonde soos Naposa en die SAOU behoort. So ’n hoë wegblykoers is tot regstreekse nadeel van die leerders wat aan hierdie afwesige onderwysers toevertrou is.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, is ’n sterk voorstander daarvan dat onderwys tot noodsaaklike diens verklaar word, wat onderwysstakings baie moeilik sal maak. Sadou-lede wat ook aan die ANC behoort, kortwiek hierdie nodige stap binne die regerende party en verhoed dat dit beleid word. Sadou staan ook streng skoolinspeksies teen en is daarteen gekant dat hul lede vaardigheidstoetse aflê sodat daar sekerheid is dat die onderwysers die werk wat hulle moet onderrig, self onder die knie het. Die agt provinsies waar die ANC in beheer van skoolonderrig staan, vereis dus geen aanduiding dat onderwysers self die eksamen waarvoor hulle die leerders in hul sorg moet voorberei, sou slaag nie. Slegs die DA-beheerde Wes-Kaap vereis sulke toetse, wat enige kundige, hardwerkende onderwyser behoort te verwelkom. Maar al hierdie sake is nie die ergste aspek van Sadou se gedrag nie. ’n Amptelike ondersoek na die rol van Sadou in die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement het ’n korrupte en gewelddadige skrikbewind oopgevlek waarin die vakbond bepaal wie poste kry en bevorder word, dikwels deur omkopery en afdreiging. Daar was selfs voorbeelde waar mededinging om poste tot moord gelei het.

Nou waarom vat die ANC nie vir Sadou vas nie? Eerstens is baie Sadou-lede ook leidende ANC-lede, veral in ANC-takke. Voorts is Sadou-lede vir die ANC onontbeerlik op stemdag. In baie gebiede waar die inwoners brandarm en alte gereeld funksioneel ongeletterd is, is die onderwyser ’n gesagsfiguur met ’n vaste salaris en geleerdheid. Op stemdag tree baie Sadou-lede dus as ANC-party-agente op en sorg dat daar nie teen die ANC gekonkel word nie, of hulle tree as kiesbeamptes op. Om Sadou-lede as tydelike OVK-kiesbeamptes in stemlokale te hê hoef nie die ANC spesifiek te bevoordeel nie – ander partye se agente sal dit aanmeld en keer – maar dit sal beslis nie die ANC benadeel dat soveel Sadou-lede in beheer van stempunte is nie.

Nehawu se lede is onontbeerlik vir die versorging van die land se siekes, en lewer dus met hul werk ’n belangrike en edele bydrae wat vir kwesbare Suid-Afrikaners die verskil tussen draaglikheid en lyding, herstel en verswakking of selfs lewe en dood beteken. Maar Nehawu-stakings het afgryslike, soms lewensgevaarlike en partykeer selfs noodlottige gevolge vir hierdie siek en dikwels verswakte mense wat van die vakbondlede afhanklik is. Dit is onmenslik wat tydens stakings gebeur in veral staatshospitale waar sorgbehoewendes van Nehawu-lede afhanklik is vir hul welsyn. Dit gebeur gereeld dat Nehawu-lede tydens stakings toegang tot hospitale verhoed, sodat voldoende sorg vir kwesbare, verswakte en dikwels hulpelose mense nie kan plaasvind nie. Male sonder tal het Nehawu-leiersfigure al tydens stakings verklaar dat dit jammer sou wees as daar slegte gevolge is vir die pasiënte, maar dat die werkomstandighede of lone van sy lede, of watter kwessie ook al tot die staking gelei het, vir Nehawu voorrang geniet bo die lot van die pasiënte. Dit is ’n onmenslike en heeltemal onaanvaarbare standpunt en ’n sterk owerheid sal enigeen wat pasiënte se welsyn en lewens so bedreig, dadelik afdank.

Die ANC-regering se reaksie op sulke pligversaking en laksheid deur lede van sy vakbondvennote is ten beste lamsakkig. Van strengheid en die afdanking van belhamels wat hul plig versuim jeens van die land se kwesbaarste mense, hetsy siekes of kinders, is daar gewoonlik weinig teken. Dit is te verwagte dat ’n party wat sy grondslag as linksgesind sien, ’n hegte band met die werkersklas en die vakbonde sal handhaaf. Dit kan egter nie blinde en onvoorwaardelike steun wees nie. As die ANC sy morele aansien wil terugwen, moet hy die kampvegter wees vir die land se kwesbaarste burgers wanneer vakbondlede ander mense – spesifiek kinders en siekes – se swakheid in eiebelang uitbuit.

’n Vyfde swakheid van die ANC wat die land baie duur te staan kom, is die gebrekkige uitvoering van beleidsplanne binne die regulasies en wette van die land. Dit help nie ’n regering wen verkiesings, maar het nie ’n langtermyndoelwit of behoorlike bestuursvaardighede nie. In die geval van die ANC hang hierdie vyfde punt saam met die eerste vier, want dit kom ook neer op gebrekkige dissipline en ’n onvermoë om moeilike keuses uit te oefen en dan effektief te bestuur tot voordeel van die land. Die voorbeelde is legio, maar kom ons begin by die instandhouding van infrastruktuur. ’n Sleutelkonsep by die instandhouding van infrastruktuur wat onder ANC-regering alte dikwels agterweë bly, is voorkomende instandhouding. Dit beteken jy wag nie totdat iets breek voordat jy dit versien of vervang nie. Daar is norme en standaarde vir gereelde en voorkomende instandhouding waarby streng gehou moet word vir infrastruktuur om optimaal te bly funksioneer. Dit beteken dat opwindende nuwe uitbreidings ondergeskik gestel moet word aan die verveliger taak van instandhouding waar daar nie geld vir albei is nie – ’n keuse waarmee ANC-regerings op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak dikwels sukkel. Dan val die primêre infrastruktuur waarop nuwe projekte ook staatmaak uitmekaar en stelsels misluk.

Hiervoor, en vir die bedryf van enige groot staatsprojek, is bestuursvaardighede soos die formulering van ’n prakties haalbare doel, die opstel van ’n realistiese begroting, die aanwys van die vaardigste beskikbare mense (ongeag ras, politieke voorkeur of vriendskaps- en familieverband) noodsaaklik. Daarby moet die ooreengekome tydsraamwerk en standaarde toegepas word, met strawwe vir diegene wat nie hul kant bring of binne die regulatoriese en regsraamwerk bly nie. Dit beteken dat die bestuurder soms ongewild sal wees, maar suksesvol. Die ANC in regering skiet te dikwels tekort aan verskeie van hierdie suksesvereistes. Dit is waarom dit lyk of die uitstekende nasionale ontwikkelingsplan nie suksesvol afgehandel gaan word nie. Die ANC-regering is nie bereid om die ongewilde besluite te neem wat vir die uitvoering daarvan nodig is nie.

Die laaste verbeteringstap wat die halfdosyn voltooi, is dat die ANC meer toekoms- en oplossingsgerig en dus minder rasbehep sal moet raak as die party meer suksesvol wil regeer. Die ANC het inderdaad ’n trotse geskiedenis en dis in die haak om dit te gedenk. Maar een van die redes waarom die party terugsak in verkiesings en veral veld verloor onder jong kiesers, is dat dit dikwels voel asof die ANC so behep is met sy geskiedenis dat die party klink asof hulle stry om ’n beter verlede eerder as ’n beter toekoms. Daar is ’n geneigdheid by ANC-lede om so omvattend stil te staan by die onontkenbare onregte van die verlede dat te min aandag gegee word aan omvattende, kreatiewe en realisties uitvoerbare planne om probleme op te los en Suid-Afrika ’n dinamiese wenland te maak. Terwyl die onregverdige, verdeelde en diskriminerende verlede grootliks die hede bepaal en sekerlik die toekoms gaan beïnvloed, gaan geen mate van herhaling en beskuldiging selfs een van daardie onregte ongedaan maak nie. Dit beteken hoegenaamd nie dat daardie voortgesette lyding en mensonterende armoede ontken of gering geskat moet word soos dit deesdae mode geraak het by sommige regse Suid-Afrikaners nie. Maar vir die ANC om ’n presterende regering te word moet die fokus eenvoudig daarop wees om die beste moontlike toekoms te bou.

Ons land is goed daarmee om ’n probleem of uitdaging tot aan die wortel na te vors en te ontleed, maar ons is minder goed met die uitdink en deurvoer van oplossings. Suid-Afrika het omvattende uitdagings, probleme en tekortkominge. Om dit te oorkom het ons al ons beste mense nodig, al lyk hulle ook hoe, al praat hulle ook watter taal en al was hul ouers ook hoe arm of bevoorreg. Die ANC het maar laat – eintlik eers in 1985 – alle rassediskriminasie binne die party afgeskaf, maar vergeleke met baie ander politieke groepe was dit in Suid-Afrika tussen 1985 en omtrent 2001 (toe oudpres. Thabo Mbeki weer ’n rasnasionalisme begin predik het), ’n nastrewenswaardige voorbeeld van nie-rassigheid en hoop dat wat NP van Wyk Louw so raak hierdie wye en droewe land genoem het, uiteindelik ’n gelukkige en vervullende tuiste vir al sy kinders kan bied. Maar die ANC is daardie spoor byster. In die vorige bedeling was dit ’n sonde om swart te wees, maar daar is te veel openbare verteenwoordigers van die ANC wat deur hul uitsprake die indruk skep dat dit deesdae ’n sonde is om wit, bruin of Indiër te wees. Hierdie land kan nie bekostig om sy opgeleide kinders te verloor nie. As die ANC homself wil red en die land ten beste wil dien, moet die party beter, meer uitvoerbare planne beraam wat gedissiplineerd uitgevoer word – en hy moet veg om nie-rassigheid te laat seëvier en niemand ontuis te laat voel in die land nie.

Ja-nee, maklik gaan dit nie wees nie. Maar as die ANC daadwerklik erns maak daarvan om die wet streng toe te pas, ophou wegskram van ongewilde maar noodsaaklike besluite, kaderontplooiing vervang met ’n beleid wat effektiewe bestuursvaardighede vooropstel, die welsyn van die land stel bo die eiebelang van sy lede en vakbondvennote, oorkoepelende beleid planmatig en streng deurvoer en laastens op ’n nie-rassige manier toekomsgerig en oplossingsgerig werk, kan die party sy agteruitgang omkeer, tot voordeel van die hele land. ’n Mens wens hulle wil dit probeer – dis eintlik nie so moeilik nie.

Gaan Suid-Afrika oukei wees?

Подняться наверх