Читать книгу Roepman - Jan van Tonder - Страница 5
1
Оглавление“Die lewe is nie ’n storie nie, Timus, hoeveel keer moet ek dit nog vir jou sê?”
Mens kan sien Pa se voete is nie gewoond aan kaal wees nie. Sy tone probeer van die gras af wegkom. Hulle is amper so wit soos die gips aan my arm.
“Timus, hoor jy my?”
“Ja, Pa.”
“Wat het ek gesê?”
“Dat die lewe nie ’n storie is nie.”
“Kyk na my as ek praat!”
Dis moeilik om na Pa te kyk as hy kwaad is. Sy oë is ligblou. Gewoonlik. Maar as hy kwaad is, kan mens amper nie sien waar die wit ophou en die blou begin nie. Ek verwag altyd dat sy een oog myne sal bly vashou terwyl die ander een my op en af kyk, op soek na nog iets om mee ontevrede te wees.
Dis erg genoeg om met jouself ontevrede te wees as jy in die spieël kyk. Die Here het my mos uitgekies om agter te bly. Al my maats is my voor. Myle. Gebreekte stemme, hare tot in die kieliebakke, baard, nét sulke peesters. Maar ek wil nie daaroor praat nie.
“Hoekom jy dink ons jou nog oor enigiets moet glo, is vir my ’n raaisel. Die spul twak darem wat jy nou weer hier gestaan en kwytraak het … Ons lê snags wakker oor jou, Timus, ek en jou ma.”
Pa is nie ’n man wat sal jok nie, maar dit glo ek nie: dat hy oor my wakker lê. Má, ja, maar nie hy nie. “Jy kwel jou verniet, vrou, kinders word vanself groot,” sê hy altyd as Ma nóg ’n bobbejaan agter die bult gaan haal. Sy sê hy slaap saans nog voor sy kop kussing raak, en hy word eers na die eerste sluk oggendkoffie wakker. Glo oor hy ’n rein gewete het.
“Jy maak die lewe nie juis vir ons makliker nie, Timus.”
Ek sê amper vir hom dit was Joepie se ma wat dit vandag vir ons moeilik kom maak het, nie ek nie. Sy het hier kom staan en ou koeie uit die sloot grawe.
Toe Pa-hulle nou die dag terugkom van die plaas af en sien my arm is gebreek, het Braam gou gesê: “Gehol en geval, Pa.” Braam is my broer. Hy is baie ouer as ek. Ma het haar kop geskud: “Timus, jy sal my nog grys hare gee met jou wildgeit.” Pa het gesê kinders se breekplekke groei gou aan, sy hoef haar nie te kwel nie.
Niemand het weer iets daaroor gesê nie, tot Joepie se ma vandag hier aangekom het, kopdoek oor die curlers en haar voorskoot nog om die lyf. Toe sy by die kleinhekkie inkom, het Ma haar net een kyk gegee en gesê daai vrou se tong jeuk seker weer vandag iets vreesliks. Dit was so goed sy sê ek mag maar gaan afluister.
Die tannie het nie eers gaan sit nie. Net dag gesê en begin praat: “Ek kom doen net my Christelike plig, Abram. Jy weet ek is nie ’n vrou wat my neus in ander mense se sake steek nie, maar ek kon nie langer hierdie ding alleen dra nie. Twee weke nou al, vandat julle van die begrafnis af teruggekom het tot nou toe, loop ek met ’n gewetenswroeging wat my nie rus of duurte gee nie.”
Toe vertel sy vir Pa hoe ek bebloed en vuil en met geskeurde klere en ’n af arm by die huis aangehardloop gekom het. Van die vlei se kant af. En wie weet wat my nie dalk alles daar oorgekom het nie. Dit nogal op ’n Sondag.
Pa klop met die kneukel van sy middelvinger teen my gips. “Die enigste rede hoekom ek jou nie foeter nie, is omdat die Here jou klaar genoeg gestraf het. Wanneer gaan jy verantwoordelikheid begin aanleer, Timus?”
Ek knip my oë. Weer ’n keer. Kan dit wees? Pa se een pupil bly doodstil staan en die ander een beweeg: af, af, tot by my voete, op na my gebreekte arm, en terug na my gesig toe. Hy het dit tóg reggekry, na al die jare.
“Timus,” sê hy, “waar is jou gedagtes nóú weer?”
“Ek konsentreer op wat Pa sê.”
“Wat het ek gesê?”
“Dat Pa ’n rein gewete het.”
“Wat?” Hy lyk baie kwaad. “Badkamer toe, lyk my ons is by praat verby.”
Die badkamer beteken ’n pak slae. Ma sou gesê het there’s no two ways about it. En al wat ek gedoen het, was om die waarheid te vertel oor hoe ek my arm gebreek het, al wou ek nie eintlik nie.
Pa stuur jou badkamer toe en dan gaan spuit hy die gras nat terwyl hy dink hoeveel houe genoeg sal wees. Hy wil nie slaan terwyl hy kwaad is nie, sê hy. Terwyl jy wag, dink jy aan allerhande goed om te probeer vergeet waar jy is en hoekom, en na ’n láng ruk kom Pa en maak die deur agter hom toe en gaan sit op die lêwwetrie se deksel. Hy praat eers met jou, terwyl hy in jou oë in kyk. Dan slaan hy.
Jy kan skree soos jy wil, sy hart word nie sag nie – hy slaan soveel soos hy besluit het. Maar dié kere wat hy voor die tyd besluit het hy gaan jou nie slae gee nie, kyk hy jou en kyk jou tot jy wens hy wil liewer slaan en klaarkry. En as hy weg is, sluit jy die deur en sit ’n halfuur op die bad se rand, te skaam om uit te kom.
Die wag is altyd erg vir my. Almal in die huis weet wat kom, en hulle is stil soos mense by ’n begrafnis. Mens hoor die lokomotiewe en elektriese units by die loco en jy hoor ander kinders wat nie slae gaan kry nie in hulle eie jaarts lag, en partykeer kom Rankieskat teen jou bene skuur en hy weet nie eers hoe rooi hulle netnou geslaan gaan wees nie.
Hier is niks te doen in die badkamer nie. Vir Pa is dit maklik, hy staan buite met die tuinslang in die hand. As hy wil, kan hy sy vinger oor die punt hou en die water laat sprei sodat die son ’n reënboog daarin maak. Of kyk hoe ver hy gespuit kan kry. Ek weet hoe ver: verby die hoogste takke van die wildevy in ons agterplaas. Sulke sterk water het ek nog nooit op ’n ander plek gesien nie. Dis oor ons in ’n gat bly, sê Braam. As mens van ons af oploop tot bo waar Lighthouseweg by Bluffweg uitkom, en dan verder met Bluff aan teen die bult uit tot heel bo waar hy weer begin sak na Wentworth se kant toe, kom jy by die watertoring uit. ’n Grote ding wat ons van hier onder af kan sien. Die water kom daarvandaan in ’n dik pyp onder die pad langs af tot hier, en van die dik pyp af in dunneres na die huise toe. As mens ons tuinslang op die grond laat lê en jy draai die kraan heeltemal oop, spuit hy so erg dat hy heen en weer swaai en opstaan en neerslaan soos ’n ding wat pik.
Ons spring daaroor en koes en probeer om nie natgespuit te word nie, maar die tuinslang maak baiekeer ’n skielike draai en dan kry mens ’n koue skoot oor die lyf. As Ma dit sien, kom maak sy die kraan toe. “Ook net mense wat nie hulle eie wasgoed was nie wat so in die water sal speel,” sê sy dan.
Saans na ete kom haal Gladys warm water in die huis om mee te bad. Sy het net koue water in die shower van haar kaia. Sy kom haal eers haar kos en pak die skottelgoed in die oond om dit die volgende oggend te was, anders is haar dag te lank, sê Ma. Wanneer sy haar badwater kom haal, is dit al donker. Ek het haar een aand ingewag, en toe sy met die emmer water op die kop terugloop na haar kaia toe, het ek die kraan vinnig oopgedraai. Sjjjjj! het die tuinslang gemaak en Gladys het gaan staan. Die water het skielik gespuit en die tuinslang het heen en weer begin swaai. Gladys het gegil en die emmer laat val. Voor ek die kraan heeltemal toegedraai kon kry, het Ma in die agterdeur gestaan.
Ek het slae gekry daardie aand. Ma was baie kwaad. “Dit kon kookwater in daardie emmer gewees het – wat dan?”
“Sy vat nooit kookwater nie, Ma.”
“Maak nie saak nie. Sy is ’n grootmens. As jy iemand wil skrikmaak, doen dit met jou eie portuur.”
Ek het dit nie vir Ma gesê nie, maar nie Joepie of Hein of wie ook al sou so mooi soos Gladys geskrik het nie. Eendag is eendag, het ek myself belowe, dan laat ek haar weer onder haar badwater uit skrik.
Gelukkig was dit Ma wat my daai keer geslaan het. Sy word vir ’n mens kwaad en sy gryp ’n tamatiekasplankie en gee jou ’n klompie harde houe en alles is oor en verby. Nie Pa nie. Hy hou jou hande agter jou rug vas en hy slaan jou bobene met die plathand. En as daar ’n ding is wat hard is, is dit ’n operator se hande. Byna so hard as die gips aan my arm. Dís hoekom ek nou hier sit. Nie oor Pa se gewete nie, maar oor die gips.
Mense sien mos gips aan jou en dan wil hulle weet waar dit vandaan kom.
“Hallo, Timus. En dáái gips?”
Nie hoe gaan dit met jou, met my gaan dit nog goed, dankie, nie. Nee, dis altyd: En daai gips? Of: Is jou arm gebreek? Of: Must be quite hot under that cast of yours, Timus. Hoe sal dit nou nié wees nie? Durban is kaalarm al warm genoeg. En van die sweet en die badwater stink die watte onder die gips al byna soos die walvisstasie.
Braam sê ek moet sê nee, daar’s niks fout nie, ek het sommer lus gehad om nie te kan krap waar my arm jeuk nie, toe laat ek die gips aansit. Maar hy kan maklik praat; dis nie hy wat met so ’n stuk ding aan sy arm sal sit op Mara-hulle se paartie nie.
Mara en Rykie word een van die dae een en twintig. Hulle is ’n tweeling. Mara wil paartie hou, dis al waaroor sy praat. Maar vir Rykie is dit nie so ’n groot ding nie. Wat háár pla, is dat sy pregnant is. Dit was ’n vreeslike ding in ons huis gewees, Rykie wat in die ander tyd is. Pa het begin maak asof sy nie meer bestaan nie. Niemand kon haar naam meer voor hom noem sonder om afgejak te word nie. Toe sê die meisiekinders, as ons dan nie daaroor mag praat nie, dan lag ons maar daaroor.
“Hoe dink julle gaan ek lyk met ’n pens op my twenty-first?” vra Rykie wanneer iemand iets oor die paartie sê.
Dit laat my beter voel oor my af arm, want ek sal nie die enigste een wees met iets wat niemand sal kan miskyk nie.
Aag wat, daar gaan anyway nie meisies wees nie. Seker net Mara-hulle se pelle en boyfriends en goed. Joon seker ook. Pa sê al doen Joon die nederigste werk, sal hy wat Abram Rademan is enige tyd een van sy dogters met hom laat trou, want Joon is ’n godvresende jong man wat nog baie mense die regte pad gaan aanwys.
Joon is ’n roepman. Dis hy wat moet sorg dat almal betyds wakker word vir hulle shifts. In sy trapfiets se carrier knyp hy ’n boek vas waarin almal se name geskryf staan: stokers, drywers, shunters, kaartjiesondersoekers, wielkloppers. Hy weet hoe laat elkeen moet inval. Wanneer hy iemand wakker geklop het, gee hy die boek sommer deur die kamervenster aan, dan moet daardie een by sy naam teken. Wie dan sy shift mis of laat opdaag, kan nie kla dat Joon nie vir hom kom sê het dis tyd om te gaan werk nie.
Ma sê as roepmanne nie hulle werk doen nie, sal die hele SA Spoorweë en Hawens gaan staan. Maar die spoorweë kan gerus wees – Joon is ons roepman.
Hy is ant Rosie se seun. Ant Rosie wat van die môre tot die aand straatop en straataf loop en klippe optel. Sy het ’n sak wat aan ’n strap oor haar skouer hang en sy sit die klippe daarin. Party mense spot met haar in die verbygaan: “Tel op, antie, tel op,” sê hulle. Ma raas met my as sy hoor ek doen dit ook. Sy sê ant Rosie tel seker die klippe op sodat ander mense mekaar nie daarmee moet gooi nie. Maar niemand weet regtig hoekom nie. Mens kan haar ook nie vra nie, want sy is stom.
Partykeer wens ek ék was stom, dan sou ek my minder in die moeilikheid ingepraat het. Ek sou nie nou in die badkamer gesit het as ek my mond gehou het nie.
Anyway, ant Rosie is Joon se ma en Joon is skeel. Nie skeel soos ander mense nie – hy moet sy kop eintlik agteroor hou om te kan sien waar hy gaan. Dis hoekom mense wat nie van hom hou nie, hom Sterrekyker noem. Ek weet nie hoe hy op die paartie gedans gaan kry sonder om op meisies se tone te trap nie.
Maar of ons ooit by ’n dansery gaan uitkom, moet ons nog sien, want Pa het gesê nie onder sy dak nie. Hy sê ’n mens kan jonk wees op ’n mooi manier, sonder om te dans. Mara sê in daai geval was sy lank genoeg jonk op ’n mooi manier. “Een van die dae is ek so oud soos Pappie en dan sal ek ook nie meer lus hê om te dans nie en dan sal dit vir my ook maklik wees om te sê dis sonde.”
Sy is vies vir Rykie ook, oor sy nie saam met haar teen Pa wil opstaan oor die dansery nie.
“Asof hy hom aan ons sal steur,” het Rykie gesê.
“Maak nie saak nie, ons moet mekaar ondersteun!”
“Dis anders vir my as vir jou, Mara. Dit sal half simpel wees vir ’n swanger vrou om te twist en te rock ’n roll.”
“Nou’s jy skielik ’n vrou. Gmf. Ek praat nie net van die paartie nie, man. Wat van die spul reëls in dié huis? Hoe lank werk ek en jy al, Rykie, en as iemand by ons kom kuier, moet hulle tienuur loop – ek skaam my elke keer dood vir Pa.”
Ek sou ook as ek hulle was. Tienuur saans roep Pa uit die kamer uit: “Daar sal geslaap word!” En na vyf minute staan hy in sy pajamas in die sitkamerdeur en wag daar tot die kêrel by die voordeur uit is. Dan’s daar nie eers kans vir ’n good night kiss nie.
“As ons saamstaan teen hom, het ons ’n kans,” sê Mara.
Rykie het haar hand op haar bors gesit. “Ek sal tog nooit weer vry nie.”
“Nou moet ek ly omdat jy jou bene blerriewil …”
“A-ta-ta-ta-ta!” het Ma gewaarsku en ek kon nie verder hoor nie. Mara was rooi in die gesig. Rykie het begin huil.
Die twee meisiekinders was lankal nie meer vir mekaar kwaad nie, toe is Mara nog vir Pa vies, en hy die ene donderweer, hoe Ma ook al die vrede probeer bewaar. Toe bel iemand gelukkig om te sê oupa Chris is dood, en Mara se paartie was vir eers vergete. Maar toe is ék weer dikbek omdat hulle my nie wou saamvat vir die begrafnis nie oor dit skooltyd was. Toe Oupa nog geleef het, het ons elke jaar by hom en ouma Makkie op die plaas gaan kuier. In die Klein-Karoo. Ladismith. Elke keer wanneer Ma kleinkoekies bak vir saamvat op die trein, sê sy sy wens sy kan net een keer in haar lewe gaan vakansie hou – nie kuier by familie nie. Maar vir my is die plaas die beste plek op aarde, en die treinry soontoe net so lekker. Dit vat drie dae en drie nagte met die trein om daar uit te kom. Die beste deel is die geluid van die Oranje Snel se 16E-lokomotief in die nag. Bongolo, noem die mense hom. Donkie. Gladys sê mens moet eintlik sê imbongolo. Maar die 16E klink nie soos ’n donkie nie. Daar’s nie nog ’n lokomotief met so ’n beat nie. Die tweede aand kom mens by Kimberley aan, waar tannie Toeks en oom Neels bly. Tannie Toeks is Ma se suster, sy dra mooi klere en haar hare is altyd gedoen. ’n Geleerde vrou, tannie Toeks. Sy en oom Neels bring altyd vir ons lekker eetgoed stasie toe en hulle staan en gesels by ons kompartement se venster. Dan ry die trein weer en Ma vee die trane uit haar oë.
My ander tweelingsusters, wat nog op skool is, Erika en Martina, het dit lekker gehad: een van hulle twee kon saam begrafnis toe, en hulle kon self kies wie, solank daar nie ’n bakleiery van kom nie, het Pa gesê. Wie ook al sou saamgaan, kon haar werk by die ander een inhaal. Maar later het Pa van besluit verander: Erika moes saam, want sy en Salmon is te verlief om te weet wat goed is vir hulle. Mara en Bella en Rykie het agtergebly oor hulle al werk en nie meer op Pa se vrypas kan treinry nie.
Braam wou sy eie kaartjie betaal, maar Pa het gevra dat hy moet bly, want daar moet darem ’n man in die huis wees.
Ek het Pa gesmeek om te kan saamgaan, maar verniet. Oor my skoolwerk. As ek nou so daaraan dink, is dit eintlik Pa se skuld dat ek nou gaan slae kry. Oor hy my by die huis gelos het.
“Jy is klaar agter genoeg met jou dromery,” is al wat hy gesê het.
Ek het rede gehad om ontevrede te wees, want dit was nie my skuld dat ek nie soos die ander een van ’n tweeling is nie. Ek weet hoe dit gekom het ook. Ek het Ma dit hoor vertel. Tannie Hannie het die dag by haar gekuier en ek het eenkant sit en speel. Tannie Hannie en oom Stoney het toe nog net ’n rukkie in die huis agter ons gebly, sy en Ma het mekaar nog nie so goed geken soos nou nie.
“Eers was dit Mara en Rykie, toe Braam en Bella, toe Erika en Martina. Êrens moes dit stop, Hannie, jy weet nie hoe voel dit nie.”
“Ek wil ook nie, Ada.” Dit is Ma se naam: Ada. “Nee kyk, dis partykeers vir my te stil, jy weet, net ek en Stoney in die huis, maar ek weet darem nie of ek sou kans gesien het nie. Kleintyd is al erg genoeg, maar vyf groot meisiemense in een kamer, wat beddens en hangkaste moet deel – nee, dis ’n resep vir moeilikheid daardie.”
“Soos ek sê, Hannie, toe die ses kleingoed nou daar is, êrens moes dit stop. Maar vyf jaar later, toe ek dink ek is nou oud genoeg en alles is dankieheretog verby, was dit weer sulke tyd.”
“Mans het ook nie genade met ’n mens nie.”
“Praat jy.”
“Kyk, die enigste tyd nog wat ek Stoney aan my laat vat, is wanneer sy lus begin uithang waar ander mense dit kan sien.”
Ma lag. “Nee, jong, vir my was daar nie kans vir verwyt nie, want Abram het net naweke huis toe gekom en dan was ek tog te dankbaar vir die ekstra paar hande.”
“Ek weet nie hoe jy dit gehou het nie, Ada.”
“Daar is altyd genade, Hannie. Wanneer die nuwe twee gelyk honger geword het en ek moes gaan sit om vir elkeen ’n bors te gee, kon die ander maar skree soos hulle wil – dit was my rustyd.”
Ek het op die stoeptrap sit en luister. Hulle het nie van my geweet nie. Ek was besig om te tel hoeveel tieties Snippie het. Haar pens het dáár gestaan van die kleintjies. Ma het verniet koppies kookwater deur die vensters gegooi om die reuns te verjaag.
“Die oudstes was later groot genoeg om te begin help met die kleintjies, anders weet ek nie wat sou gebeur het toe ek wéér swanger was nie. Ek het groot gedra, en maande lank het ek aaneen gebid dat die Here my asseblief tog nie nóg ’n tweeling moet gee nie.
“Maar ek sê vir jou, Hannie, wanneer die nood op sy hoogste is, is die uitkoms daar: dit was net Timus. Op sy eie. Die enigste van my eiers wat nie ’n dubbeldoor was nie.”
Dubbeldoor. Dis ’n ding wat ek nog nooit kon uitgewerk kry nie, al het ek vyf susters en twee ore en twee oë. Die meisiekinders maak altyd of ek nie bestaan nie, dan praat hulle ook dinge voor my, nes Ma en tannie Hannie, of hulle hol kaal van die badkamer af kamer toe as hulle weet dis net hulle en ek in die huis. Ek loer hulle so uit die hoek van my oog, en ek het nog nie ’n eier van ’n uur oud aan een van hulle gesien nie.
“Timus het alleen aangekom, maar Hannie, laat ek jou sê, na sy geboorte het die ordinêrste pyntjie my op hol gehad – was Timus regtig op sy eie hier binne, of wag daar nog ’n verrassing vir my? Dit het weke gevat voor ek heeltemal gerus was.”
Hulle lag dat die trane loop.
Ma haal ’n sakdoek uit haar rok se mou. “Toe die dokter my vra wat ek hom gaan noem, kon ek net my skouers optrek, want die hele tyd wat ek hom verwag het, was ek so verskrik dat ek skoon vergeet het dat hy naam moet kry.”
“En toe, Ada?”
“Noem hom sommer Septimus, sê die dokter vir my. En al wis ek goed daar was nog nooit g’n Septimus in ons familie nie, sê ek vir Abram dis wat ons die kind gaan doop.”
“Jy was seker so bly dat dit net een kind was wat naam nodig had dat jy hom Hendrik Frensch ook sou genoem het as die dokter dit voorgestel het.”
“Gmf!” antwoord Ma.
Hendrik Frensch, dis doktor Verwoerd se name. Ek sou nie omgegee het as hulle my so genoem het nie. Pa ook nie, hy’s ’n Nat. Ek wonder of hy vandag so maklik sou besluit het om my pak te gee as hy moes sê: Badkamer toe, Hendrik Frensch!
In die tyd wat Ma-hulle Oupa gaan begrawe het, is ek op ’n Sondag vlei toe. Sondae mag ons nie see toe gaan of bos toe of vlei toe nie. Ons moet ons stil gedra. In ons eie jaart. En dis waar ek van plan was om te bly daai Sondag wat Pa-hulle weg was, maar toe kom die kerk-Bantoes met hulle lang rokke en tromme en goed by ons huis verby en ek onthou skielik die plek wat ek ’n tyd terug in die bos gesien het. ’n Plek wat my bang gemaak het.
Ek het eendag daarop afgekom toe ek vir Ma gaan avokado’s soek het. Elke boom wat ek geken het, was al gestroop, maar toe kry ek in een van die digste dele van die bos ’n groot boom met baie vrugte aan. Ek sou nooit van hom geweet het as dit nie vir die trop ape was nie.
Ek was skielik tussen hulle, en ek het geskrik, maar toe hulle in die bome vlug, is ek agter hulle aan, al met die bospaadjie op. Toe hulle met die boomtoppe langs weg van die paadjie af begin swaai, moes ek onder die struikgoed deurkruip om te sien waarnatoe hulle gaan. Dit was half skemer op die vloer van die bos. Die grond was klam. Toe is daar skielik ’n plekkie waar ek kon regop staan. Die ape was weg, maar voor my was die grootste avokadopeerboom wat ek nog ooit gesien het.
Ek was bang vir die stilte en die alleengeit. As iemand my daar vermoor het, sou g’n mens my ooit gekry het nie. Ek het nie mooi geweet waar ek is nie. Rondom my was net bosse en digte struike en bobbejaantou en ander rankgoed. Eintlik was ek verdwaal. My maag het begin draai. Toe is dit of ek my verbeel ek hoor ’n lokomotief fluit, en ek dink dadelik aan Joon. Altyd wanneer ek die gewoel by die loco hoor, weet ek dat die mense daar besig is om te werk omdat Joon hulle wakker gemaak het. En wanneer ek aan Joon dink, begin my banggeit altyd weggaan.
Ek het in die boom opgeklim, al met ’n oorhangtak langs, en toe ek bo die res van die bos uitkom, kon ek my oë nie glo nie: net ’n paar honderd tree van my af was die vlei en die shunting jaart en die loco met sy rye trokke en lokomotiewe en elektriese units. ’n Ent verder weg die kampong waar die Bantoes bly wat by die loco werk. En toe eers sien ek hoeveel avokado’s daar aan die takke sit. Ek het een gepluk en my arm laat afhang en gekyk waar ek die peer kon laat val sonder om dit te kneus, maar my vingers wou hom nie los nie – skuins onder my was ’n oopte met ’n groot kring in die gras, diep uitgetrap soos onder die swings in die parkie naby die skool. Binne die kring was die gras lank en regop. Buite-om was dit platgedruk. Ek het sommer geweet dis die Bantoes se kerkplek.
Ma hou nie daarvan dat ons kaffer sê nie – hulle is Bantoes. Ma is ’n Sap. Sy sê alle mense het regte. As Bantoes iets doen waarvan sy nie hou nie, noem sy hulle nerwe of skepsels.
Ek is huis toe met net daardie een avokadopeer, want dit het vir my gevoel of ek nie op die kerkplek hoort nie. Die hare op my voorarms het bly regop staan. Maar die Sondag toe die Bantoes met hulle tromme en mooi klere verbykom, het ek seker nie mooi gedink toe ek kortpad vlei toe vat om hulle te gaan inwag nie.
Ek het op een van die avokado se oorhangtakke gaan lê en wag, reg bo die danskring. Die kerk-Bantoes het deur die vlei aangeloop gekom, nader en nader, en toe hulle reg oorkant my gaan staan, het ek skielik vasgekeer gevoel. Ek wou af, grond toe, maar dit was te laat om weg te kom. Een-een het hulle met ’n nou paadjie langs na die kring toe gekom, en na ’n rukkie se skuur tussen bosse en takke deur het hulle onder my gestaan. Mens moet weet van hulle paadjie, anders sal jy hom nie kry nie.
Toe hulle buite-om die kring gaan sit, het ek geweet hoekom die gras daar so platgedruk was. Een van die mans het begin bid. Hy het hard gepraat. Nou en dan het daar spoeg aan sy baard gesit. My lyf het seer geword, maar ek wou dit nie waag om te roer nie, al was almal se oë toe.
“Amen,” het die man gesê en hulle het begin sing. Die tromme het nog eenkant gelê – oopgesnyde olieblikke met beesvel wat oor die twee openinge met rieme styfgespan is. Ek het gewens hulle wil daarop begin speel sodat ek my kon regskuif op die tak sonder dat iemand my hoor.
Een van die vrouens se kleintjie het begin huil en sy het haar rok se knope voor losgemaak en hom laat drink. Niemand het eers na haar gekyk nie. Net ek. Ek hét al gesien hoe ’n vrou dit doen: toe Gladys nog vir Boytjie tiet gegee het, maar sy het altyd ’n doek oorgegooi as ek of Pa of Braam naby was. Boytjie is haar kind.
Uiteindelik het party van die mense op die tromme begin slaan: ka-doem, ka-doem, ka-doem-doem-doem. Die ander het begin dans, al in die rondte in die uitgetrapte kring. Ek het my ’n bietjie reggeskuif op die tak, maar daar het stukkies bas ondertoe geval en ek het banger geword.
Een van die mans, die een wat gebid het, het weer hard begin praat. Of dit preek was, weet ek nie. Sy kop het kort-kort agteroor getrek, asof hy opkyk, maar sy oë was die hele tyd toe. Die tromme het nog steeds gespeel en die man het al hoe harder gepraat. Dit was of ek die tromslae in my lyf voel: ka-doem, ka-doem, ka-doem. Die tak het my begin seermaak en ek moes weer effens skuif. Daar het weer bas afgeval, langs die man wat preek verby, maar een stukkie het op sy gesig beland. Sy oë het oopgegaan en hy het reguit na my gekyk en stil geword. En ná hom die tromme ook, een na die ander. Die mense wat gedans het, het opgehou en ook na my gekyk. Die een wat gepreek het, het begin opstyg na my toe, hoër en hoër. Skielik was sy gesig bý my. Ek het na hom opgekyk. Ons was al twee op die grond. My linkerarm het gepyn.
Toe het ek opgevlie en met die nou paadjie langs vlei toe gehol, en deur die vlei huis toe. Ek moes my arm vashou sodat hy nie te veel beweeg nie. Dit het al hoe seerder geword en ek het gehuil. My klere was geskeur.
“Pa slaan jou dood,” het Braam gesê toe hy my sien. “Waar was jy?”
Omdat dit Sondag was, was die spoorwegdokter se spreekkamer toe. Braam moes my met die bus hospitaal toe vat. Addington. Casualties. Toe hy vir my sê ons gaan soontoe, wou ek nie saam nie, want ek het al te seer gekry daar.
Wanneer ons tandpyn kry en die gate raak te groot, moet die seer tand uit. Mens lê eers nagte om en huil. Ma sit naeltjies of bruin skoenpolish in die gat om die koue uit te hou en laat mens ’n Aspro drink, maar later help dit nie meer nie, dan is Addington al uitweg. Daar staan mens in ’n lang tou. As jy voor kom, spuit die dokter jou in, en jy gaan staan weer heel agter. Wanneer jy die tweede keer by die dokter kom, trek hy jou tand. Partykeer is die tou te lank, dan het die spuitgoed uitgewerk teen die tyd dat jy voor kom. Hulle spuit jou nie weer nie, al skree jy hóé.
“Nie Addington toe nie, asseblief, Braam.”
“Dis óf Addington, óf jou arm groei skeef aan.”
Die dokter het gesê ek is gelukkig nog jonk, dis net groenhoutbreuke van die radius en die ulna, dis hoekom hy net aan die voorarm gips hoef aan te sit. Hy het watte en nat gipslappe daarom gedraai sonder om my seer te maak.
Toe begin die mense met hulle vrae. Maar hulle stupidgeit is niks teen Joepie se ma se Christelike plig nie. Dit het gemaak dat ek vir Pa alles moes vertel. En toe ek kom by die Bantoe wat opgestyg het, het Pa sy hande in die lug gegooi en vir my gevra hoeveel keer hy nog vir my moet sê die lewe is nie ’n storie nie.
Maar ek het nie gejok nie: dit wás ’n Bantoe wat my arm gebreek het.
Ma-hulle het na ’n week teruggekom. En wat bring hulle van die plaas af saam? Nie Oupa se sanna of sy swepe of die streepsak rosyntjies in die waenhuis of die groot eetkamertafel of die riempiesbank of die traporreltjie nie. Nee, hulle kom met Ouma hier aan. Ouma Makkie.
“Wat het van al Oupa-hulle se mooi goed geword, Ma?”
“Verdeel tussen die kinders,” het Ma gesê. “Die goed wat ek gekry het, het oom James en oom Malcolm en tannie Toeks by my gekoop. Wat help dit in elk geval om ’n eetkamerstel stukstuk uit te deel? En ons het die geld nodiger as die stoele.”
“Het ons dan niks van Oupa gekry nie, Ma?” het ek gevra.
Sy het my hare deurmekaar gekrap en in my oë gekyk. “Hoe kan jy so vra, my klonkie, wat van Ouma? Ons het háár mos nou.”
Asof Ouma nie skatryk kinders het nie, met blerriewil net twee of drie kinders in hulle groot huise. Ons het nie gevra dat sy na ons toe moet kom nie. Nou moet ek elke dag ’n ver ent met haar gaan stap oor Ma bang is sy val of verdwaal of iets as sy alleen stap. En nog erger: Braam moet in die gang slaap en ek by Ma-hulle in die kamer.
Ek word partykeer snags wakker van hulle stemme, dan hoor ek goed waarvan ek liewer nie wou geweet het nie.
“Ou man, ek weet nie hoe ons hierdie maand gaan deurkom nie,” sê Ma.
“Moenie weer die bobbejaan agter die bult wil gaan haal nie, vrou.”
“Ek wens dit was ’n bobbejaan, Abram, maar dis ’n wolf, en hy’s voor die deur, nie agter die bult nie.”
“Jy sê dit elke maand en elke keer kom ons reg.”
“Omdat ek ons almal altyd te kort doen, dis hoekom. Ons oudstes verjaar een van die dae en waar is die geld om vir hulle geskenke te koop? Dank die Vader hulle is die laastes vanjaar; ek betaal nog af aan die ander s’n.”
“Hulle is almal oud genoeg om te verstaan as daar nie geld vir presente is nie, vrou.”
“Jirre, Abram, hulle kry nooit niks van ons nie.”
As Má die dag vloek, dan is daar fout.
“Dis nie waar nie.”
“Toe hulle nog op skool was, was dit klere wat ek vir hulle gekoop het – wat hulle in elk geval moes kry, verjaardag ofte not. Partykeer moet ’n mens vir iemand iets gee wat hy nie no-dig het nie, Abram, uit jou hart uit, sommer net.”
Pa is stil. Ma ook. Maar na ’n ruk sê sy: “Kan ons nie maar dié maand se tiende terughou nie?”
“Dis nie ons s’n nie, Ada, dit moet kerk toe.”
“Kerk toe, ja,” antwoord Ma. Sy klink moedeloos.
Ek wens ek kan vir haar sê volgende jaar is dit darem net ek wat nog op skool is vir wie gesorg moet word; en dat Mara self vir my gesê het sy en Rykie sal nie omgee as hulle net silwer sleutels kry vir hulle mondigwording nie; en dat ek darem nou in die hoërskool is en nie meer aan die sentlegging by die kerk hoef deel te neem nie.
As dit nie oor geld is wat Ma-hulle praat nie, is dit oor Mara en Rykie se paartie. As ek eers wakker is, help dit nie om my ore toe te druk nie, ek hóór wat hulle sê.
“Maar dis waaroor mondigwording gaan, Abram, om jou eie besluite te begin neem.”
“Solank hulle onder my dak is, sal hulle maak soos ek sê.”
“Ons twee het gedans toe ons jonk was.”
“Binne-in ’n trouery in, ja!”
Ma bly lank stil.
“Het dit jou meer as een en twintig jaar gevat om spyt te kry, Abram, of het jy my net nooit gesê nie?”
“Ek was op pad Noorde toe, ek wou nie ’n vrou en kind hê om my oor te kwel nie.”
Weer nie ’n woord nie. So lank dat ek gedink het hulle het aan die slaap geraak. “Nou moet Mara-hulle vir óns sondes betaal?” Weer Ma.
“Wat wil jy hê, vrou, dat ons dogters in Point Road moet eindig?”
Ek weet van Point Road. Dis ’n straat aan die stad se kant van die hawe waar die night clubs is. Waar matrose van oral in die wêreld af kuier. G’n ordentlike vrou kom daar nie. Almal rook en drink en dans. Dis ’n woord wat ’n mens nie voor Pa moet noem nie: dans.
“Hoekom sit jy hier?” Dis ouma Makkie.
Ek antwoord nie.
“Jou pa?”
“Ja, Ouma.”
“Het jy kwaad gedoen?”
“Nee, Ouma.”
“Laat ek hoor.” Sy kom sit sommer langs my op die bad se rand. Sy ruik altyd na naeltjies en snuif en goed. Sy sit haar hand op my knie. Haar vingers is dun en knopperig en koud. “Toe, vertel.”
Ek skud weer my kop. “Netnou sê Ouma ook ek lieg.”
“Ek sal nie.”
Ek vertel haar die hele storie, hoe ons Sondae twee maal op ’n dag moet kerk toe gaan en niks mag doen wat lekker is nie en hoe ek nie na Oupa se begrafnis toe mag gegaan het nie en van verveling en asprisgeit en van nuuskierigheid oor die kerk-Bantoes vlei toe is en hoe my arm gebreek geraak het.
“Het jy dit alles net so vir jou pa vertel, kind?”
“Nee, Ouma, nie dat dit op ’n Sondag was nie, maar dié het hy klaar geweet, Joepie se ma het vir hom gesê.”
“Haar Christelike plig gewees, nè?”
Ouma weet al amper alles van almal af. Sy staan op en sê: “Bly jy net hier sit.” En uit is sy by die badkamer.
Na ’n ruk hoor ek haar stem in die kombuis.
“Awerjam, gaan jy die kind nou slaan?” Sy noem Pa nooit Abram nie. Ek spits my ore, maar ek hoor nie wat Pa antwoord nie, net die dreuning van sy stem. Hy praat ’n hele ruk.
“Was jy nooit kind gewees nie, Awerjam, het jy jou nooit dinge verbeel nie?”
Dinge verbeel, sê sy. Ouma glo my ook nie.
“Ek wil nie my neus in jou sake druk nie, dis oor jou goedheid wat ek vandag hier by julle kan bly, maar ek sê vir jou, as jy vandag daardie klong gaan loop foeter, sal dit ’n sône wees. Wat hy daar in die vlei gesien het, het hy gesien.”
“’n Kaffer wat in die lug opstyg, Ma?” Pa se stem is skielik hard.
“Ek sê jou, hy’t gesien wat hy gesien het. Ons moenie, Awerjam, ek en jy wat nie meer daardie gawe het nie, dit van hom af probeer wegvat nie. Onskuld is puur genade, en die Here weet, dit duur nie.”
Ek hoor Pa se voetstappe aankom. “Jy kan maar gaan speel, maar sorg dat jy terug is vir ete,” sê hy kwaai voor hy in die gang afstap sitkamer toe.
Ek kan my ore nie glo nie. Ek staan op. Ouma is nog in die kombuis. Vir die eerste keer is ek bly sy het na ons toe gekom. Nes my arm gesond is, sal ek vir haar die mooiste avokadopere in die bos gaan pluk. Ek sal een deursny en met ’n vurk fynmaak sodat sy nie eers haar tande hoef in te sit om dit te eet nie.
“Dankie, Ouma.”
Sy wys met haar hand dis sommer niks nie. “Kom hier,” sê sy.
Ma sê ons moenie so wegtrek as Ouma ons ’n drukkie wil gee nie.
“Ouma …”
“Ja, Timus-kind?”
“Wat is onskuld nou eintlik?”
“Ek weet nie hoe om te verduidelik nie.” Sy haal haar sakdoek uit. Die lap is gevlek van die snuif. Sy blaas: prrrrr! Toe sit sy haar arm weer om my en sê: “Onskuld is iets wat ’n mens eers leer ken as jy dit kwyt is.”
“Wat help dit dan mens het dit, Ouma?”
Sy trek net haar skouers op. “Ek weet nie. Maar dít kan ek jou sê, Timus-kind, ons kry dit eendag in die hemel terug.”
Toe loop ouma Makkie by die kombuis uit, verby die badkamer, na haar kamer toe.