Читать книгу Roepman - Jan van Tonder - Страница 7
3
ОглавлениеEk het nog nooit so lank aaneen gepie nie. Seker maklik ’n gelling water gedrink. Die straal blink in die maanlig. Ek is seker dat ek nie sal kan ophou nie, al kom staan die hele skool se meisies nou ’n kring om my, al skaam ek my dood, al krimp my peester weg tussen my vingers. Ook nie of hy vreeslik kleiner hoef te word om amper te verdwyn nie. En al krimp hy ook hóé, hy sal oop en bloot bly sit, want daar’s nie ’n enkele haar om agter weg te kruip nie.
Hoekom ek so baie water gedrink het, is eintlik Hennie se skuld. Hennie is ’n polisieman wat by my susters kom kuier. Spoorwegpolisie, nie SAP nie. Maar hy sê altyd gou hy’s nie ’n gewone “stasieblompot” nie, hy is in ’n spesiale seksie wat sorg dat die spoorweg se goed nie by die hawe gesteel word nie en dat smokkelgoed gekonfiskeer word.
Hy het ’n kar, en hy skimp aanmekaar dat hy graag een van my susters drive-in toe sal wil vat. Maar hy weet nie van watter een hy die meeste hou nie, nou kuier hy maar by almal, en hy kry nie een gevry nie. Nie dat Pa die meisiekinders sal toelaat om drive-in toe te gaan nie. Hy sê dis ’n plek waar van goeie meisies slegtes gemaak word. Meantime wás Bella al een keer by die Bluff Drive-in saam met Hennie – ek het gehoor toe sy dit vir die ander vertel. Maar sy het kwaad teruggekom, nie sleg nie. “Hy’t wragtag nie eers vir my tjoklits of cooldrink gekoop nie. Net twee koppies koffie gaan haal, een vir die wind screen en een vir die agterruit. Toe ek weer sien, is al die vensters toegewasem en sy hande orals.”
Ma hou nie van Hennie nie oor hy ’n mens nie in die oë kyk nie en omdat hy vir Rankieskat afgestoot het toe dié op sy skoot wou spring. Daar is fout met een wat ’n mens nie in die oë kyk nie en boonop nie van diere hou nie, sê sy.
Hennie het eenslag ’n kiekie uit sy wallet gehaal en vir Martina-hulle gewys. Erika het net gesê sies! en eenkant toe gestaan, maar Martina het bly kyk.
“Nogal groot vir so ’n klein mannetjie, nè?” het sy gesê.
Hennie het gelag en vir Martina geknipoog. “As ’n girl die dag kan begin comparisons maak, dan’s dit mos omdat sy al iets van die lewe gesien het, of wat praat ek alles? Dalk moet ek jóú ’n slag drive-in toe vat.”
Dis toe dat hulle agterkom ek is ook in die kombuis en dat wegsteek nie sal help nie. As Ma daai kiekie moes gesien het, het sy vir Hennie nek omgedraai. Vir ons ook. Dis van ’n Japannees wat kaal bo-op ’n vrou lê, met sy peester halfpad in haar ingedruk. Ek het in my hele lewe nog nie so iets gesien nie.
Hein het my al baie vertel wat mans en vrouens met mekaar doen, en ek kan partykeer my ore nie glo nie, maar die kiekie het ek met my eie oë gesien. Hennie sou my ook nie gewys het as ek hulle nie uitgevang het nie. Hy het geweet Ma sal hom wegjaag as ek gaan klik, toe moes hy maar.
Ek wou nog lank daarna gekyk het, maar hy het die ding by my gevat en in sy wallet teruggesit. “Die laaitie kan nog nie eers skuim pis nie en hy’s klaar jags,” het hy gesê en na Martina hulle gekyk.
As Ma hom so moes hoor praat …
Ek weet wat jags is, maar ek het nie verstaan wat Hennie bedoel het toe hy sê ek kan nog nie eers skuim pis nie. Voor die meisiekinders kon ek hom nie vra nie, want dan het hulle geweet ek kan dit nog nie doen nie, wat dit ook al is. Lank daarna het ek en Salmon een aand buite staan en pie. Salmon is Erika se boyfriend. Ons staan nog so en pie, toe sien ek vir die eerste keer waarvan Hennie gepraat het. Waar Salmon se straal die grond tref, staan daar stadig skuim tussen die gras op. Hy het al sy gulp toegetrek en teruggeloop huis toe, toe is die skuim nog daar. Die blasies het begin bars maar ek het bly kyk tot die laaste een toe. Daai aand het ek besluit ek sal nie rus voor ek dit ook regkry nie.
Nou skyn die maan en ek pie en pie, al op een kol. Die lig blink op ’n klompie blasies, maar hulle tel nie, hulle bars te gou. Ek staan op my tone om ’n bietjie meer hoogte te kry. Dit help ook nie. Ek skud my peester af en sit hom terug en trek my broekspyp reg. Miskien as ek hoër staan. Op ’n stoel. Of nóg hoër.
Dalk op die dak, maar daar sal mense my sien. Ek kyk na Gladys se kaia. Jip, dis die regte plek. Hoog genoeg, en weggesteek tussen die wildevy se takke.
Die wildevy is baie groot. Ma het hoeveel keer al vir Pa gevra om hom af te saag, maar Pa wil nie. Eenkeer het hy gesê: “Vrou, Jona het net ’n wonderboom gehad om onder te skuil, ’n rankerige ding wat in een nag opgekom en in een dag verlep het – hy sou wat wou gee vir een soos dié.”
“Net oor hy nie sewe kinders en ’n man en ’n ma se wasgoed gehad het om droog te kry nie, Abram.”
Ek skrik ’n bietjie toe ek Gladys se deur hoor oopgaan. Dis van daai blikdeure wat soos asdromdeksels raas. Sy gaan sit haar groot skottel aan die shower-kant van haar kaia neer en vat ’n emmer en loop oor die gras na ons agterdeur toe. Ek bly staan sonder dat ek weet hoekom, tot sy met die emmer warm water op haar kop na haar kaia terugloop. Sy sien my nie agter die wildevy se stam nie. Sy gaan in die shower in maar maak nie die deur toe nie. Boytjie slaap seker al. Ek dink sy los die deur oop sodat sy kan hoor as hy wakker word.
Daar brand ’n kers by Gladys. Sy trek haar klere uit en sak op haar knieë af, boude teen haar hakke, en skep water met ’n blik oor haar lyf. Terwyl sy haar was, wieg haar tiete stadig soos die hawe se water wanneer ’n boot verbykom.
Ek buk deur die heiningdraad, want by die Ahlerse se piesangbome sal ek na Gladys kan kyk sonder dat iemand my sien. My voet haak vas en die draad spring. Gladys kyk op. Ek is bang sy maak die deur toe, maar sy doen dit nie. Sy begin haar lyf met seep smeer. Haar hande vryf oor haar blink bene en arms en in haar kieliebakke en gaan oor haar tiete en onder hulle deur. Ek wonder of haar vel baie glad is met die skuim daarop, en hoe sag dit is waar dit induik onder haar vingers.
Ek het nog nooit iets gesien wat so mooi is nie. Elsie en Helen, ja, maar hulle het altyd klere aan.
Gladys kan gerus wees, ek sal haar nooit weer probeer skrikmaak wanneer sy haar badwater gaan haal nie.
Sy gooi weer water oor haar lyf. Wit strepe skuim loop teen haar af. Ek gaan sit, want my rug raak seer van so staan en buk om tussen die piesangblare deur te kyk. Die droë blare ritsel en kraak. Gladys kyk op, reguit na my kant toe. Ek voel my ore rooi word, al weet ek sy kan my nie sien nie. Gladys hou haar arm oor haar bors. Sy blaas die kers dood. Ek hoor hoe sy weer water oor haar gooi. Dis ’n rukkie stil voor die kaiadeur se slot inknip.
Toe ek buk om deur die draad te klim na ons kant toe, gaan die Ahlerse se buitelig aan. Die agterdeur gaan oop.
“Naand, Timus, waa’ntoe is jy so haastig op pad?” vra oom Basie, Hein se pa.
Dis niks lekker as oom Basie ’n mens voorkeer om te praat nie. Hy sê dieselfde ding oor en oor. Hy het ’n snor en ’n groot maag en net een been. ’n Shunter gewees, maar toe verloor hy sy been en hulle gee hom ’n office job. Die mense sê hy het ’n bottel by die werk weggesteek gehad, ’n paar honderd tree van die loco af waar die spore teen stampblokke doodloop. Die uitskoptrokke hol op hulle eie soontoe nadat die lokomotief of die elektriese unit hulle ’n stoot gegee het. As jy met jou rug na die loco toe sit, kom die trokke by jou verby sonder dat jy hulle hoor. Doodstil, daai ysterwiele op die spoor, selfs ’n swaar lokomotief soos ’n Garratt s’n. Net oor die laste hoor mens hulle: tiktik-tiktik.
Dis ’n lekker plek om te speel, maar as ’n shunter die slag op ’n trok aangery kom, voete op die trap en een hand aan die reling en die walkie-talkie in die ander hand, dan moet jy vinnig padgee of hy spring net daar af en foeter jou. Dit sal nie help om dan by die huis te gaan kla nie, want wat het jy daar gesoek? Dis die gevaarlikste plek waar mens kan dínk om te speel, sê die grootmense.
Oom Basie was een aand glo weer by die bottel en toe hy daarna twee trokke moet koppel, sien hy die buffers is uit lyn uit en hy skop na die skewe een. En sy been word vasgeslaan. Morsaf. Glo bloed net waar mens kyk toe hulle die trokke uitmekaar trek. Daar’s nie ’n dokter op aarde wat so ’n spul aanmekaargewerk sal kry nie, ene pappery tussen die enkel en die knie.
As oom Basie kans kry, vertel hy jou die storie. Braam sê hy kan verstaan hoekom Fransien is soos sy is as hy na oom Basie kyk. Fransien is Hein se suster. Niemand wil haar vir ’n meisie hê nie, al sê sy altyd sy gaan met Joon trou as sy groot is.
Daar is drie mense vir wie Fransien liewer is as vir al die ander saam: haar ma, Boytjie, en Joon. Sy gaan lankal nie meer skool nie en sy is nou eers vyftien. Haar mond is heeltyd oop en haar tong woel soos ’n kleinhondjie wat halfpad gebore is en nie verder kan kom nie. As sy praat, verstaan omtrent net haar ma en Boytjie en Joon wat sy sê.
Agter oom Basie kom Hein ook uit. Hy’t seker gehoor sy pa praat met my. “Kom kyk hier,” sê hy, “ek wed jy’t nog nie so iets gesien nie.”
Ek kyk eers om my, want Ma hou niks daarvan as ek met Hein praat nie, wat nog van in hulle jaart kom. Ek wens hulle wil die buitelig afsit.
“Kyk,” sê Hein. “My pa het dit by sy pel gekry wat by die walvisstasie werk.”
“Wat is dit?” Ek kry net-net om die ding gevat. Weerskante van my hand steek hy ’n ent uit.
“Walvistand. Fokken groot, hè?”
As Ma my hier moet sien en die tale hoor wat Hein praat, en oom Basie se asem ruik!
Ek moet huis toe. Maar as ek loop, kan ek nie meer na die walvistand kyk nie. Dis ’n mooi ding. Baie glad. Half wit en half geel, soos die twee ivoorseekoeitjies wat Pa van die Noorde af gebring het na die oorlog. Maar die walvistand is vir my mooier.
“Sal ek ook een in die hande kan kry, oom?”
“As jy by die walvisstasie kan uitkom, ja. En as jy twee rand het – daai kaffers wat slag, is fokken snoep.”
Nee wat, ek kan dit maar op my maag skryf. Waar sal ek twee rand kry? Noudat ek nie meer kan help met die bome nie, sal ek nie ’n sent uit Pa kry nie. Hy vra net altyd of ek weet hoe swaar hy aan die geld kom wat hy end van die maand huis toe bring.
Maar ek weet nou dat ek nog graagter as voorheen walvisstasie toe wil gaan. ’n Mens weet nooit. En al kry ek nie ’n tand nie, sal ek darem weet hoe dit lyk as hulle die walvisse slag. Braam beloof net altyd om my te vat, maar ek weet hy sal nie.
Ek kan self soontoe loop, maar Pa het gesê hy slag my af as ek dit doen. Dis te gevaarlik, sê hy, die ent tussen die Suid-pier en die walvisstasie wat aan die seekant van die Bluff is.
My blaas begin seer word van te lank knyp.
Ek hou die tand na oom Basie toe uit, maar Hein sê: “Nee, gee hier, dis myne.” Hy vat die tand en sit dit in sy sak asof dit sommer ’n ding is wat mens agter elke bos uitskop.
“Ek moet ingaan,” sê ek.
Oom Basie haak sy krukke onder sy arms in en draai op sy een been om. “Ja, ek ook seker. Kom jy, Hein?”
“Netnou, Pa.”
Toe oom Basie in is, sit hy die lig gelukkig af.
“Nou kan ek nie meer knyp nie,” sê ek. Ek draai my rug so half op Hein toe ek my broekspyp begin optrek.
“Waarvoor is jy skaam?” vra hy.
“Ek is g’n skaam nie.”
“Hoekom draai jy dan weg?”
“Sommer.”
Ek hou die straal mooi op een plek. Dalk gebeur ’n wonderwerk terwyl Hein dit kan sien, dink ek. Die pie-straal maak blasies, maar hulle bly bars.
“Fokkit,” sê Hein, “watse blaas het jy?”
Ek skud af en sit weg. “Pie jy al skuim?” vra ek, maar nie asof dit belangrik is om te weet nie. Sommerso, dis hoe ek dit vra.
Hy antwoord my nie, draai effens en haal sy peester uit. “Aangesien ons dan nou skaam is vir mekaar.”
Ek is spyt hy’t weggedraai, want ek wil sien hoe groot syne is. Hy kan nogal spiteful wees, Hein Ahlers.
Sy straal tref die gras en two ticks staan die skuim. “Daar’s jou antwoord,” sê hy.
Ek maak of ek nie die skuim gesien het nie. “Waar?”
“Dáár, man, het jy nie oë in jou kop nie?” Die blasies is besig om te bars. Ek wag tot hulle byna heeltemal weg is voor ek antwoord.
“Ek maak partykeer net soveel, maar nie elke keer nie.”
Toe lag hy vir my. Partykeer dink ek regtig ek moet maar vir Ma luister en ophou om met Hein Ahlers te praat.
Salmon het nie vir my gelag toe ons die aand saam buite gepie het nie. Hy is anders as al die ouens wat by my susters kuier. Ek hou van hom. Ouma Makkie het al vir Ma gesê sy sien ’n trouery aankom.
Ek hoor hoe Ouma vir Erika vra: “My kind, vertel tog hoe jy aan dié oulike klong gekom het.”
Erika se oë blink. “Het ek Ouma nog nie vertel nie?”
Salmon kom juis vandag weer hier eet. Dis nou elke Sondag se ding, en dan nog Vrydagaande ook. Pa wil nie hê hulle moet mekaar meer as dit sien nie, want dan gaan Erika haar skoolwerk afskeep, sê hy. Muisneste en skoolwerk gaan nie saam nie.
“Ons het op die Trans-Karoo ontmoet, Ouma, laas Desember, op pad terug van Ouma-hulle af.”
Hulle het van die oggend tot die aand in die gangetjie voor ons kompartement staan en praat, tot Pa sy kop by die skuifdeur uitgesteek en gesê het: “Erika, kom in, môre is nog ’n dag.”
Ouma kry so ’n ver kyk aan haar. “Laas Desember? Toe’t jou oupa nog geleef, nè?”
“Ja, Ouma.” Mens kan sommer sien Erika het nie nou lus om oor Oupa te praat nie.
“Ai toggie tog.”
Uit die bloute uit kry ek ouma Makkie jammer. Vir die eerste keer dink ek daaraan hoe hartseer sy moet wees. Oor Oupa en die plaas en alles. As ’n mens se ouma jou kamer vat, dink jy nie hoe sy voel nie. Dit was seker nie vir haar maklik om in die stad te kom bly nie.
“Is ek nie vir julle ’n las nie, Awerjam?” het ek haar vir Pa hoor vra kort na sy hier aangekom het.
Pa het sy kop geskud en gesê: “Daar gaan baie mak skape in ’n kraal.”
En Ma het vir haar gesê: “Ma is soos ’n vars briesie in hierdie huis.”
Toe was ek nog kwaad vir Ouma, maar ek is nou bly ons het háár gekry en Ma se familie net die stoele en tafels en goed. Al ruik haar kamer nie altyd soos ’n vars bries nie.
“Maar wag,” sê Ouma vir Erika, “dis gisters daardie, ons was oor jou Salmon aan’t prate, of hoe?”
“Ek is baie lief vir hom, Ouma.”
“En hy vir jou ook, ek sien hoe hy na jou kyk. Maar sê vir my, het hy jou al ’n bynaam gegee? Dit sê baie van ’n man se gevoelte vir sy nooi. Nee wat, moenie so bloos nie, kind.”
Erika laat haar kop sak. “As ons alleen is, noem hy my Spinnekop, Ouma. Ek weet dis sommer simpel, maar hy sê dis oor ek sy hart toespin met liefde sodat hy nie kan loskom nie en ook nooit sal wíl nie.”
Ouma sit haar hand op Erika se arm. Haar vingers lyk soos takkies. “Dis g’n simpel nie, Erika-kind. Jy moet hou wat jy het, dis ’n trouman daardie, en hulle is so skaars soos hoendertande. Kyk, ek sê altyd ’n mens moenie ’n mooi man vertrou nie – hy’s almal se man – maar jou Salmon is van ’n ander têp se water.”
“Dis waar, Ouma.”
“Ek sien jou ma is net so erg oor hom, en dit sê iets, hoor.”
“Tot Pappie sê hy is ’n agtermekaar kêrel.”
Ouma vee met haar hand oor haar hare en knipoog vir Erika. “As ek darem vandag vyf of ses jaar jonger was, het ek jou opdraand gegee by daardie klong.” Sy lag dat haar tande byna uitval. Toe haal sy dit anyway uit en krul haar tong in haar neusgat in. Aspris.
“Sies, Ouma!” Erika staan eenkant toe.
Ouma lag. Sy kyk na die valstande in haar hand. “Tanne is net ’n las. As die Here wil gehad het mens moet tanne hê, sal jy daarmee gebore gewees het.” Toe lag sy éérs.
Erika dink nie dis snaaks nie. “Ouma haal nie Ouma se tande uit wanneer Salmon hier is nie, hoor!”
Al wat ek hoef te doen, is om by die walvisstasie uit te kom, dalk gee iemand vir my ’n tand present.
By die hout-jetty wat so diep in die hawe insteek, gaan staan ek. As mens op hom inloop, weg van die kant af, voel dit amper of jy in die water self ingaan. Die jetty staan op pale in die diep water. Daar is ’n sagte geklots, soos wanneer mens die slag kans kry om alleen te bad, en met jouself lê en speel, stilletjies, oor jy nie wil hê iemand moet hoor nie.
Die gety is besig om in te kom. Ek kan dit sien aan die goed wat stadig onder my verbydryf: plastieksakke, ’n jellievis, olie van die skepe wat blink kolle kleur op die water maak. Tot ’n kurkprop. As mens sit en visvang, soek jy verniet na ’n blerrie prop om ’n dobber van te maak, maar wag nou net tot jou arm in gips is en jy jou visstok by die huis moet los. As ek nou ’n lyn in die water gehad het, het die aas heen en weer onder my dobber gespoel. Vis hou van aas wat beweeg. Daar is blacktails en pinkies en mullet in die water. Die mullet vat nie maklik aas nie – húlle moet mens met ’n jigger vang. ’n Jigger is drie hoeke wat aan mekaar vasgesoldeer is. Jy gooi hom sonder sinker in en pluk-pluk die stok terwyl jy inkatrol, dan kap die skerp punte in ’n vis se lyf vas en jy trek hom uit. Maar ’n mens moet oppas vir die hawepolisie as jy ’n jigger aan jou lyn het.
Die prop dryf vinniger as die ander goed, want hy steek bo die water uit en die windjie help hom aan. Dis dieselfde wind wat die stank van die walvisstasie af aanwaai sodat mens dit partykeer nie kan hou nie, of jy by die huis is of by die skool of in die kerk.
Agter die prop, so net-net onder die water, dryf daar nog iets: lank en deurskynend soos ’n worsderm, een kant oop en met ’n tiet aan die toe kant. ’n Glassy het in die ding ingeswem en in die noute van die punt vasgesteek – hy kan nie vorentoe of agtertoe nie. Nou is ek éérs spyt ek het nie my visstok hier nie, want dan sou ek die derm met die stok se punt gehaak en die vissie uitgehaal het vir lewendige aas. Met lewendige aas vang mens maklik ’n bonito of ’n ding. Barracuda ook, maar dan moet jy ’n staal-trace hê.
“Wat sit jy die water so en kyk, Timus?” Dis Hein se stem. By hom is van sy pelle, sien ek toe ek omkyk. Hein het ’n sigaret in die mond. “Wens jy daar kom ’n meermin uit wat laaik van laaities met gips aan hulle arms?” Sy pelle lag.
Ek wil-wil vies word, maar onthou van die derm wat nou al aan die wegdryf is, en ek wys daarna.
“Wat is dit daai?”
Hulle kyk almal waar ek beduie en bars toe uit van die lag. Hulle hou later aan die reling vas om nie in die water val nie. Hein skiet sy sigaretstompie na die dermding toe. “Dis ’n effie, man,” sê hy.
“Wat is ’n effie?”
“Jirre, kan ’n mens so onnosel wees?”
“Dis wat die Japannese gebruik as die hoere hulle op die skepe kom service.”
Ek skud my kop, want ek weet nie waarvan hulle praat nie.
Hein sê: “Man, hulle trek dit oor hulle voële as hulle die hoere naai. Om nie kleintjies te maak nie, want hoe sal ’n pregnant hoer nou lyk?”
“Gebruik gewone mense dit ook, of net hoere en Japannese?”
Hulle antwoord my nie eers nie. Klap mekaar net op die skouers en begin weer lag.
Toe sê Hein: “Dis nou die laaitie wat ek julle van vertel het, die bobaas-skuimpisser van die spoorwegkamp!”
En hy en die ander ouens sê nog ’n klomp vieslike goed in die wegloop. Ek is nou te bang om aan te loop walvisstasie toe – netnou kry ek hulle langs die pad.
Ek wag tot ek hulle nie meer kan sien nie, en hol dan langs die hawemuur af tot waar ek weer die effie kry. Die vissie is nog in sy punt. Dit kan nie wees nie, g’n man se peester kan so swel nie. Ek maak my oë toe en probeer die Japannees op Hennie se kiekie onthou, maar dit help nie, dit was te klein om mooi te sien. Nee, Hein-hulle het sommer die storie uitgedink. Hoe sal ’n effie anyway kleintjies kan keer? As dit waar was, sou Rykie mos nie nou in die ander tyd gewees het nie. En dan sou juffrou Louw nie dié week nog in die klas oor oorbevolking hoef te gepraat het nie. Dan sou ek ook uit die moeilikheid gebly het. Maar toe móés een van die kinders mos vra: “Hoekom het arm mense altyd so baie kinders, Juffrou?”
Juffrou Louw het haar kop geskud. “Nogal ’n interessante vraag, het een van julle dalk die antwoord daarop?”
Almal het net na haar gekyk. Toe sê sy: “Ek is bevrees ek verstaan dit ook nie. Julle weet, daar kom ’n punt wanneer selfs die groot ape soos orangoetangs in droogtetye weet om nie verder te teel nie, maar mense het die een kind na die ander, en dan staan en kla hulle oor geld vir kos en klere.”
Ma sê altyd ons is haar rykdom, maar ek weet darem nie. Ryk mense het min kinders, dit het ek self al gesien. En ryk mense het karre. En hulle bly in hulle eie huise, nie die spoorweg s’n nie.
Ek het my hand opgesteek.
“Ja, Timus?”
“Juffrou, ek wonder of dit nie dalk partykeer is …” Ek was dadelik spyt dat ek begin praat het.
“Ja, Timus?”
“Of dit nie partykeer is omdat die Here ’n ekstra klompie laat gebore word nie. Ek bedoel –”
“Timus!” Juffrou Louw het bloedrooi geword.
“Ek bedoel maar net, Juffrou –”
“Ek weet presiés wat jy bedoel, en ek dink nie ek wil die res van die klas se gemoedere daarmee besoedel hê nie. Kom, jy kan vir meneer Gertenbach gaan vertel waarvan jy die Allerhoogste beskuldig!”
Juffrou Louw weet van ons Rademans, hoeveel kinders ons is. Sy het vir my broer en al my susters ook skoolgehou. Erika en Martina is nou nog in haar biologieklas. Ek het gedink sy sal weet wat ek bedoel.
My enigste hoop het by meneer Gertenbach gelê, maar dit was nie soos die vaste hoop waarvan dominee Van den Berg altyd praat nie.
“Wat is die probleem vandag, juffrou Louw?” het Meneer gevra. In die een hoek van sy kantoor is daar ’n kierierak, soos Oupa s’n op die plaas, maar daar is nie kieries in nie, net rottangs.
Juffrou se gesig was nog steeds bloedrooi. “Ek weet nie mooi hoe om dit aan u te stel sonder dat ek my aan godslastering skuldig maak nie, Meneer, maar wat Timus so pas in die klaskamer gesê het, vóór die ander kinders …” Sy het haar vuis so half in haar mond gedruk, soos ek ook meestal liewer moet doen voor ek praat.
Meneer Gertenbach het na die kierierak toe geloop. “Gaan maar voort, Juffrou.”
“Ek weet regtig nie hoe om dit te stel nie, Meneer, maar wat die kind gesê het, het daarop neergekom dat God die oorsaak van oorbevolking is, nie die mens nie.”
Meneer Gertenbach het sy sakdoek uitgehaal, ’n spierwitte wat nog opgevou is, en met sy ander hand ’n rottang uitgesoek. Daar is geles, bruines, dikkes, dunnes, party waarmee ek al slae gekry het en ander wat nuut bygekom het. Ek wou vir Meneer sê hy mag my nie slaan nie, want ek het niks verkeerds bedoel nie, maar ek het stilgebly.
Hy het sy sakdoek aan die punt gevat en oopgeskud. Dit het gelyk soos ’n groot voël wat sy vlerke klap. Hy het skielik oud gelyk. Sy skouers het soos Oupa s’n gehang die dag op die plaas. Oupa was kwaad. Ek en Braam het weer in die dam gespeel. Ons en Hendrik en Frikkie en Herklaas. Hulle is Lena wat in die plaaskombuis werk se kinders. Ons het ’n makou gevang en hom onder die water ingedruk en ’n rukkie daar gehou en dan laat los. ’n Makou kom nooit op waar jy hom onder die water ingedruk het nie, hy swem eers ’n ent van jou af weg. Mens weet nie waar hy gaan opkom nie, want die damwater is bruin en ’n makou kan sy asem lank ophou. Wanneer hy opkom, moet die naaste ou hom gryp en weer onder die water indruk. Eenkeer het die makou naby my opgekom en ek het hom gevang, maar hy was seker al moeg, anders het ek hom te lank onder die water gehou, want toe ek hom los, het hy sommer bý my opgekom. Nie eers sy kop uit die water gelig nie.
“Nou’s jy in die moeilikheid,” het Braam gesê, en toe ek met die slap makou kant toe gaan om hom tussen die bossies weg te steek, het Oupa geroep: “Bring hier daai makou! Gee die ding vir my!” Oupa was kwaad. In een hand het hy sy geel kierie gehad, en in die ander een die dooie wit makou.
“Moet my asseblief nie slaan nie, Oupa,” het ek gesê.
“Wat?” Dit was Meneer se stem. Hy het die rottang met sy sakdoek staan en vryf. “Wat het jy daar gesê, Timus?”
“Ek sê vir Meneer die kind het nie respek nie.”
Meneer het op die rand van sy lessenaar gaan sit. “Jy was nou op ’n ander plek, nè, Timus?”
My kop het vanself geknik.
“Mm. Sê nou vir my hoekom jy die Here van allerhande dinge beskuldig.”
Toe vertel ek vir hom wat ek vir Juffrou gesê het. “Ek bedoel maar net dat my ma nie self besluit het om drie tweelinge te hê nie, Meneer.” Nie ’n woord van haar dubbeldoor-eiers nie – juffrou Louw sou daaroor ook die piep gekry het. “Dis wat ek wou sê, Meneer, dis seker die Here wat oor sulke goeters besluit.”
Meneer Gertenbach het heeltyd mooi na my geluister, en toe sê hy: “Juffrou Louw, ek dink die seun het homself net verkeerd uitgedruk. Formuleer jou antwoorde in die vervolg beter, Timus. Maar ja, wat jy gesê het, is waar: die mens wik en God beskik. Ek dink dit is wat hy bedoel het, Juffrou.”
Juffrou Louw was baie ontevrede. Buite het sy by haarself loop en brom, maar ek kon hoor wat sy sê: “As party mense net minder wil wik …”
Al die kinders het my aangestaar toe ons by die klas inloop. Elsie ook. Ek sou liewer slae wou gehad het.
“Wat het jy heeldag gedoen?” vra Pa vir my.
“Hawe toe gewees.”
“Om te wat – jy kan tog nie visvang met daardie gips aan nie?”
“Ek het sommer lus gehad, Pa.”
“Timus.”
“Ja, Pa?”
“Was jy walvisstasie toe?” Die wit en die blou van sy oë begin inmekaarloop.
Ek kyk grond toe.
“Nee, Pa.”
“Lieg jy vir my?”
“Nee, Pa.”
“Mm,” brom hy, “moenie dat ek hoor jy was daar nie.” Hy haal sy knipmes uit en begin sy naels skoonmaak. “As jy nie jou arm gebreek het nie, kon jy my baie gehelp het met die Shaws se bome. Ons kon vandag minstens een platgekry het.”
Mara knipoog vir my. Sy’t my mos gesê.
Een van Kenneth-hulle se bome het ’n tyd terug omgewaai en dwars oor hulle grasperk geval. Ek het vir die tannie gesê sy moet Pa vra om die boom te kom opsaag. Toe laat sy hom kom en sy sê wanneer hy tyd het moet hy sommer nog twee ander bome ook uithaal, voor hulle op een van haar kinders val. Ek het daarna uitgesien om te help, want dis vir my lekker daar. Nou kom staan en maak Pa of ek aspris lyf wegsteek.
Wanneer ons ’n boom moet omkry, klim ek hoog op tot waar Pa sê ek moet ’n tou aan ’n groot dwarstak vasmaak. Dan saag ek die tak af terwyl Pa aan die tou trek sodat die tak reg val. Al laer saag ek die takke af tot die stam amper kaal is.
Pa trek altyd sy hemp uit. In Durban het ’n mens skaars gebad of jy sweet jou klere teen jou lyf vas, sê hy, wat nog te praat van wanneer jy in die son staan en bome uitgrou. Dis vir my lekker om te kyk hoe Pa se spiere span as hy werk. Na ’n rukkie blink die sweet op sy arms en sy rug. Hy weet nét hoe om die byl in te lê sodat die stam presies val waar hy hom wil hê, weg van huise en kragdrade en heinings af. Ek help hom om die takke met ’n treksaag op te saag. Dan gaan ek huis toe en Pa begin grou. As dit baie groot bome is, grawe hy diep. Partykeer moet hy ’n hele paar Saterdae teruggaan voor al die wortels uit is. Dan betaal die mense hom en hy bring die geld vir Ma. Ek kry twintig sent vir elke groot boom wat ons afmaak.