Читать книгу Is weer sagie - Jan van Tonder - Страница 4

Een

Оглавление

“Ons gaan sukkel sonder jou, Mieta, ek en Sagrys,” sê Barend.

Sagie het Mieta se tas klaar agterop die bakkie gesit. Die groetery in die halfskemer voorhuis voel vir hom byna soos begrafnis.

“Daar’s ’n klomp gevriesde kos, meneer; bredie en bobotie en kerriehoender en vaalafval en hoefel ander goed wat op dié plaas grootgemaak is. Maak net seker daar is genoeg paraffien in die tenk dat die spulletjie nie ontdooi nie.”

“Die tenk is vol,” sê Sagie.

“En onthou om groente gaar te maak saam met die vries­goed – meneer moet maar sorg, want as dit van Sagrys afhang, eet julle van die môre tot die aand net vleis.”

“Toe, toe, Mieta,” knor Barend, “los nou die gekloek en kom tot ry.”

Sagie maak die voordeur oop. Oubaas swaai sy stert en staan teen hom op. “Nee, jy kan nie saam nie, pas liewer die werf op. Kom nou, Mieta, anders loop jou trein vandag skoon onder ons uit.” Op die stoep steek hy vas. “Aitsa, wat soek Hubert se kar hier?”

In die doringboom se skadu staan Asjas en Hierlangs voor die donkiekarretjie ingespan.

“Het ek dan nie gesê Sagrys moet jou met die bakkie vat nie?”

“Dankie, meneer, maar as ons met die bakkie ry, is ons sommer netnoumaar by Winkelplaas, dan het ek Dwarsrivier nie behoorlik gegroet kon kry nie. Toe vra ek maar vir Hubert of hy nie sy kar sal bring nie.”

Barend kyk op sy horlosie. “Nou ja, dan sal julle moet wikkel.”

“Daar’s nog een ding, meneer.”

“Ja?”

“Sal meneer asseblief tog sorg dat September goed agter Sofiatjie kyk? Ek weet nie wat ek maak as sy weer iets moet oorkom nie.”

Barend knik. Hy stap pad se kant toe en maak die hek oop.

Sagie gaan haal Mieta se tas van die bakkie af. Hy wil haar nog ophelp, toe sit sy klaar. “Klim, Sagrys, laat ons ry.”

Hy klap die swepie, sommer windmakerigheid, want die donkies ken hom goed – hy hoef nie te slaan nie.

Toe die kar by die hek uitry, sê Barend: “Moet nou nie heel­dag wegbly nie, Sagrys, dis ons leibeurt en die water gaan nie vir jou wag nie.”

“Tot siens, meneer,” sê Mieta.

Barend maak die hek toe. “Ek sal sorg,” antwoord hy.

Oubaas draf ’n ent saam voor hy gaan staan en die kar agter­na kyk.

Sagie sit Mieta uit die hoek van sy oog en dophou. Sy sê nie ’n woord nie, kyk net om haar rond; na die helder lug en die aalwyne en klapperbos en wingerde en boorde. Hy sien hoe sy haar oë toemaak en hy sê: “Mammie het ook altyd die bossies so gesnuif.”

Toe hulle van Dwarsrivier se grondpad afry en die teerpad vat, kyk sy oor haar skouer. “In dié vallei wil ek doodgaan, Sagrys.”

Hy skud sy kop. “Jy kan nie op een dag Kaap toe wil foeter én praat van doodgaan nie.”

“Kyk jy maar net dat ek op Greundal begrawe word as die tyd kom. Sê jy sal.”

“Ek sal, Mieta.”

“Onthou, die goeie Vader hoor vir jou.”

“Is.”

’n Ent verder, by Dankoord, draai hy links. Weer grond­pad.

Dorp se kant toe slaan rook uit. Dofweg klink die lokomotief se fluit. Dis nie meer lank nie, dan sal die kort treintjie teen die koppe langs aangestoom kom.

“Jittetjie, Sagrys, ja aan die diere!”

Hy lag. “Ons sal voor hom op Winkelplaas wees, kyk maar.” Hy klap weer die sweep en die donkies draf vinniger. ’n Ent padaf wil-wil Hierlangs dwars trek. “Los nou jou nukke,” waar­sku Sagie voor hy die donkie op die boud raps. “Ditsit.”

Woep, woep, woep, maak Asjas se binnegoed. Hy poep ’n paar keer.

“Hoekom kan jy nie maar net vir Freek geskryf het hy moet huis toe kom nie, Mieta?”

“Hy wil nie.”

“Hoekom?”

Sy trek haar skouers op. “Méns, hou tog nou op met die vraery.”

Die trein fluit weer.

“Rý, Sagrys, ek moet in die Kaap kom! Én daar’s ’n ding waaroor ek nog wil praat voor ek vandag op Makkadas klim: Ansie se huis.”

“Wat van hom?”

“Gaan hy ooit klaarkom?”

Hy knik.

“Wanneer? Hoe lank bou jy al aan die ding? Ek sal jou sê, Sagrys: meer as vier jaar. En waar bly Ansie? Jy moor jouself en jy moor die donkies. ‘As ek klaar is met die huis, sal sy kom,’ sê jy altyd. Maar bel sy jou? Skryf sy?”

“Haar huis moet eers staan. Sy wag lat daar rook by die ‘koorsteen uit trek, soos by daai lokomotief van Makkadas.”

“Genade tog,” sê Mieta en hou haar hand na Sagie uit. “Gee die sweep vir my, Sagrys, dan wys ek jou hoe dryf mens ’n donkie.”

Hulle ry oor die treinspoor en hou by die stasie stil. Mieta vee die sweet van haar voorkop af. “Bring my soetkys, ek wag solank op die platform.”

Die trein stoom stadig nader.

“Darem maar mooi,” sê Sagie.

“Vandag sal hy vir my mooier lyk van binne as van buite,” antwoord Mieta.

Asjas en Hierlangs se koppe ruk eenkant toe toe die loko­motief verby hulle stoom.

“Dagsê, Sagrys,” roep die drywer.

“Middag, oom. Oom moet maar ooptrek vandag, Mieta is haastig om in die Kaap te kom.”

Die enjin loop verby, en agter dié ’n waterkar, ’n klompie oop trokke en ’n paar met seile oor, en, heel laaste, twee passa­sierswaens.

Voor Mieta opklim, steek Sagie sy hand na haar uit. “Jy moet jou oppas daar in die Kaap. En kom gou t’rug, hoor.”

“Ek vat net die enkelte soetkys, Sagrys; lyk dit soos die pak­kasie van een wat lank wil wegbly?” Sy hou sy hand in albei hare vas. “Julle twee sal regkom, nè? Onthou nou om op pad huis toe eers by antie Jopie aan te gaan, hoor, anders sit julle sonder brood.”

Hy maak vir haar die swaar deur oop en gee haar tas deur ’n gangvenster aan. Toe klim hy agterna.

“Jittetjie, tog, Sagrys, uit hier, sê nou net …”

Hy grinnik. “Ek sien Makkadas drie dae ’n week as hy doer anderkant teen die koppe verbygedraf kom, Mieta, en ek het hom nog nooit gery nie. Eendag sal ek nog, hou my dop. Dalk as ek en Ansie op honeymoon gaan.”

“Ai, Sagrys.”

Hy klim af. En weer op. “Amper vergeet ek,” sê hy en gee vir Mieta ’n bruin koevert.

“Wat is dit?”

“Geld.”

“Vir wat?”

“Pa sê dis vir die wis en die onwis.”

Die trein fluit en trek stadig weg.

“Af is jy, Sagrys!”

Toe Sagie terug is op die perron, draai Mieta haar kop weg.

“Moenie vorentoe kyk nie – daar sal roet in jou oë waai.”

Sy haal haar sakdoek uit en druk dit teen haar ooghoeke.

“Sien jy nou,” sê Sagie, “daar het jy dit.” Hy hardloop langs die trein. “Ry versigtig, Mieta. En lat weet wanner jy t’rugkom lat ek jou kan kom haal. Groete vir Freek en Jakkelien. Sê vir hulle ek en Pa wil hulle ook t’rug hê op die plaas.”

“Sagrys!” roep ’ant Jopie agter hom aan voor hy van die werf af is.

Hy trek die donkies in. “Ja, antie?”

Sy wink vir hom en hy klim af. “Julle twee bly staan nét waar julle staan, gehoor?” Hy hoef niks te gesê het nie, weet hy, want Asjas en Hierlangs het klaar hulle koppe laat sak; lus vir kar trek, het hulle nie.

Nog voor hy weer by die winkel is, begin ’ant Jopie praat: “Kom help my gou hier agter met ’n klompie bokste, Sagrys. Vandat oom Henry dood is, sukkel ek maar om als gedoen te kry wat gedaan moet kom.”

Sagie volg haar na die pakkamer en haal die kartondose wat sy uitwys van die hoë rakke af.

“Oppas, party van hulle is swaar. Hoekom oom Henry só gepak het, sal net hy geweet het; julle van die adamsgeslag is partymaals maar onnoselrig, weet jy? Ai, hoe verlang ek skielik na my ou man.”

Sagie hoor ’ant Jopie se stem, maar sy aandag is nie meer by haar nie. In een hoek van die vertrek staan ’n Dover-stoof. Splinternuut, lyk dit vir hom, al is dit vol stof. Hy staan daarna en staar.

“Pak sommer die hele spul af, ou seun, dan hoef ek jou nie weer te pla nie. Sit maar neer net waar jy plek kry.”

Toe al die kartonne op die vloer staan, beduie Sagie na die Dover. “Wat kos daai stoof, antie?”

“Staan hoe lank al daar. Gedag ons sou hom gou verkoop gekry het, maar dit lyk my hy is te duur vir die vallei se mense, en dié wat dit kan bekostig, trek hulle neuse vir hom op.”

“Ek het hom nooit in die winkel gesien nie.”

Sy trek haar skouers op. “Seker maar oor julle een het. Vir wat sal mens nou iets staan en raaksien wat jy nie nodig het nie? Ek het oom Henry vooraf gewaarsku, maar hy wis mos altyd van beter. Meesal reg gewees ook, maar nie oor die stofie nie. Die De Wets het hom amper gevat destyds toe hulle hier kom bly het – ’n lelike kraak in die Bollinger in Kopland se kombuis. Effense rokie glo as mens hom opsteek. Skaf toe eerder ’n elektriese ding aan. De Wet het gesê hy bly nie in ’n huis wat na stroois ruik nie. Nou sit ek met die Dover.”

“Is hoekom ek vra wat hy kos, antie.”

Sy skud haar kop. “Nee, hy’s nie meer te koop nie, ou seun, ek wil hom voor die winter by my laat inbou; dis maar koud snags vandat oom Henry nie meer daar is nie.”

“Dan gaan ek maar aan, antie.”

“Wag, vat vir jou ’n handvol lekkergoed.”

Hy hou ’n oop hand na haar uit.

“Steek maar in jou sak, dit sal nie alles in jou kieste kan in nie.”

“Dankie vir die swiets, antie. Sê maar as antie anders besluit oor die stoof – hy sal tog te mooi lyk in Ansie se huis.”

“Ek sal, Sagrys. Sê groete vir jou pa.”

Barend en die werkers is aan ’t water lei in die blok fransdruiwe toe Sagie daar aankom.

“Toe darem die trein gehaal gekry?” vra Barend.

“Ja, Pa.”

September lig sy hoed en vee sweet af. “En sy’s veilig op?”

“Sy’s op, September.”

“Niks gesê nie?”

“Hoe sal Mieta dan niks gesê het nie – jy weet hoe graag sy praat.”

“Nee, ek bedoel vir my, het sy nie koebaai gelaat weet of niks nie?”

“Jirrrr, September,” terg Hennerik, “julle twee het seker voor brekfis al genoeg gekoebaai?”

Sagie trek sy waterstewels aan en vat ’n graaf.

“Lekker om so rond te flenter terwyl ons moet werk, nè,” brom Jan Julies.

En Hubert las by: “Mens sal sweer jy was tot by Vensterkrans, so lank bly jy weg.”

“Is jou donkies wat so gevrek is – ene Makkadas.”

“Goed genoeg vir jou om hulle by my te huur vir huis bou, maar nou’s hulle skielik gevrek.”

Sagie antwoord nie. Hy gooi wal waar die water wil deur­breek.

“Toe nou, julle, die son trek water,” grom Barend. “Maar Hennerik is reg, jy was lank weg.”

“Mieta het nie kans gehad vir brood bak ook nie, Pa, met al die kos wat sy moes maak om vir ons te vries, toe moes ek by ’ant Jopie aan.”

“En daar raak jy toe natuurlik aan die gesels. Haar man in die graf in gepraat as jy my vra.”

“Sy stuur groete vir Pa.”

“Hennerik,” sê Barend, “gaan keer maar af daar bo – ons sal deurkom met dié water.”

Gebukkend oor sy graaf vertel Sagie van die bokste wat hy van die rakke moes afhaal en hoe die antie na oorle’ oom Henry verlang en van die swartstoof wat hy gesien het wat ’ant Jopie nie wil verkoop nie.

Die grawe steek hier ’n voortjie oop en maak daar ’n wal­letjie vir die water wat kabbel en oor die droë land sis.

“So, ja,” sê Barend, “ons kan maar los hier.” En vir Hennerik skreeu hy: “Loop steek maar oop by die barlinkas!”

Terwyl hulle graaf oor die skouer aanstap, sê Sagie: “Ek won­der vir wat Mieta so ’n klomp kos gestaan en gaarmaak het as sy net ’n paar dae gaan weg wees, Pa?”

“Seker maar vir die wis en die onwis.”

“En as sy nie t’rugkom nie?”

September staan nader. “Jy moenie als kom staan en praat nie, jong – is dit iets wat sy gesê het? Jy weet …”

Barend frons na September en dié laat sak sy oë. “Ons het woorde gehad, meneer.”

“Jy was weer gedrink?”

“Die Kaap is ver, meneer, en hy’s groot, en daar is baie an­der mans daar.”

Barend skud sy kop. “Solank jy in die tyd wat Mieta weg is nugter bly om ’n oog oor Sofiatjie te hou. Kom, laat staan die praatjies, ons moet die water by die stokke kry.”

Sagie sien Oubaas huiwer toe hy hom roep.

“Wil jy hê ek moet Lammie laat uitkom?” vra hy, en dis vir hom of die hond elke woord verstaan. Vandat Lucas Steene­kamp vir Willou doodgery het, het Oubaas by ’n ieder en ’n elk aandag gesoek, tot hy op Lammie besluit het. Van toe af lê hy meer en waghou voor die bok se kampie as op die werf waar hy hoort. “Nou goed, kom ons gaan haal hom.”

Soms laat Sagie die twee saam met hom bultuit na die klei­dam toe stap. Hulle weet dan waarnatoe hy op pad is, en hol vooruit. Lammie het sommer yslik groot geword en hy is so hans as kan kom. Stout soos ’n duiwelskind, sê Mieta, en sy waarsku Sagie gereeld dat hy die bok uit die moeilikheid moet hou, vóór sy pa se geduld opraak. Maar dit is amper ’n saak van onmoontlikheid, want as Lammie ’n nuwe manier kry om uit sy kamp te kom, is hy en Oubaas op die kwaaddoen uit.

Sagie onthou toe Lammie ’n klein bokkie was en hoe hy op ’n dag duike in Ansie se borste getrap het. Sy het op haar rug met hom lê en speel en hy het staan en kyk, en gewens haar bloesknope gaan per ongeluk los. Dit was lank gelede.

Voor Ansie was dit net Louise van oom Truter wat met hom vriendelik was. Hy het hom altyd aan haar verkyk as hy by die poskantoor gekom het. Sy was mooi. En sy’t nie vir hom gelag nie. Maar toe hy weer hoor, het sy en Lucas Steenekamp gebooie laat loop. Toe kom Ansie Dwarsrivier toe, en sy het nét van hom gehou, van hom wat Sagrys van Greunen is.

By die kleidammetjie gaan hulle staan: die bok en die hond kyk na Sagie en Sagie na die halfgeboude kliphuis. Ansie se huis. Almal in Dwarsrivier noem dit so, al het haar pa en ma haar wie weet waarnatoe weggevat.

Oubaas gaan lê in die sonnetjie en Lammie vaar die kop in. Sagie bly kyk na sy handewerk – ’n huis wat al venster­bank­hoogte staan.

“Môre, Ansie,” sê hy en stap nader.

Waar nou nog net die voordeur se kosyn staan, aan die binne­kant met planke gestut, vee hy sy voete af aan ’n matjie wat nie daar is nie, en maak kamma ’n deur oop. Party kere maak hy of Ansie met hom wegkruipertjie speel en hy soek van ver­trek tot vertrek en maak haar skrik as hy haar kry. Dis vir hom lekker om so te speel, maar dit maak hom hartseer ook, want dit hou nie. Soos nou, met ’n swerm raserige muis­voëls wat aangevlieg kom en in ’n taaibos gaan sit, en ’n alleen­loper­bobbejaan wat teen ’n krans blaf.

“Ek het ’n swartstoof gesien, Ansie,” sê hy. “By ’ant Jopie in die winkel. Een wat jy van sal hou. Sommer net daar gestaan en wag vir my. Sy wil hom nie verkoop het nie, maar ek sal haar weer loop vra, lat ek en jy winters lekker warm in die kombuis kan sit – dit word sommer blerrie koud hierbo, hoor. ’Skies vir die woord. Maar baie kere skyn die son, dan sal dit beter wees op die stoep. Dis hoekom ek die huis lat noord kyk – vir die winterson en vir Towerkop.”

Langs die dammetjie lê weer ’n hopie vars klei, soos iedere Saterdagoggend die afgelope paar maande. Hy trap die klei maar by sy eie mengsel in, want elke bietjie help. Ansie sal nie om­gee nie. Hoe gouer hy klaarkry, hoe gouer sal sy kan terug­kom Dwarsrivier toe. Terug na hom toe.

Wie dit is wat die klei uithaal, weet hy nie. Iemand wat hom wil help, seker. Een wat wag tot dit melktyd is en dan klei­dammetjie toe kom en weer veldin verdwyn – hy kan dit aan die ry geel klei-voetspore sien. Kleinerige spore. Soos ’n kind s’n. Hy kyk om hom rond, maar sien niemand nie. ’n Ent van die huis af staan ’n digte spekbos. Iemand kan maklik daar­in wegkruip en hom sit en dophou sonder dat hy dit sal agter­kom, dink hy. Hy stap soontoe. Dis dig genoeg, ja, maar daar is niemand in nie.

Hy trek sy stewels staan-staan uit, vat die graaf en stap die vlakwater van die kleidam binne. Dit voel vir hom of die klei nie lus het om uit die dam gelig te word nie, want die graaf sit vas. Hy buig sy knieë en maak sy rug styf. Die klei gee stadig skiet – hy voel hoe dit begin lig – en toe kom die graaf skielik met ’n vreeslike geslurp los. Dit kos hoogtrap soos ’n vol­struis­mannetjie met rooi hakskene om nie neer te slaan nie, en Sagie is bly daar is niemand wat hom kan sien nie. Hy gaan skud die klei by die trapplek af, graaf na graaf, tot daar ’n groot genoeg hoop is. Hy gooi handevol strooi daarop. Dié trap hy in die klei in, werk die spulletjie weer op ’n hoop, trap weer, werk op ’n hoop, trap weer. Toe die klei en strooi goed deurgewerk is, ry hy dit met ’n kruiwa na die huis toe aan.

Hy spat eers die deel van die muur waaraan hy gaan werk goed nat en pak ’n laag klei op die klam klippe. Bo-op dié pak hy van die klippe wat hy aangedra het. Dit kos meet en pas, en nou en dan dress hy ’n klip met ’n vyfpondhamer en keil sodat kleiner stukke op die draad afsplyt om in te pas waar hy dit wil hê.

Die swaarste deel van die bouery was om met pik en graaf wye slote vir die fondasie te grawe, want dié moet ’n muur van ’n halwe meter dik kan dra. Dit was rugbreekwerk in die klipperige grond, maar vir Ansie sal hy enigiets doen. Hy sal werk tot hy dood neerslaan, het hy eers gedink, maar toe vir homself gesê: “Wat sal dit haar tog help as jy dood is, Sagrys?” En gelukkig het hy nog gelewe toe die grouwerk agter die rug was.

By die groot hoop klippe soek hy die mooistes uit, dra dit nader en druk dit op die laag klei vas, met die kant wat al die jare aan son en wind en reën blootgestel was na buite. Binne-in die huis maak dit nie saak nie, want daardie mure sal hy met klei pleister en afwit.

Hy het die klippe self uit die koppe aangedra, tot hy gesien het dit gaan te stadig, en toe het hy Hubert se donkies gehuur vir ’n boerbok elke drie maande. Dis duur, maar Hubert het gesê dis óf die bok, óf g’n donkies nie. Sagie had g’n keuse nie, want hy het geweet Ansie sal terugkom wanneer hy haar huis klaargemaak het. “As die eerste rokie by die koorsteen uitkom, kan julle maar die pad begin dophou,” het hy gesê vir wie ook al gevra het.

Sagie gun homself nie rus nie. Wanneer dit tyd is vir mid­dag­ete, slaan sy pa met ’n stuk yster teen ’n ploegskaar wat aan die bloekom langs hulle huis hang, asof dit ’n weeksdag is, en dan draf hy ondertoe, was sy hande en gesig en sit aan. Ter­wyl hy en sy pa eet, gee hy verslag oor sy vordering. Daarna is dit weer bultuit om verder te gaan bou. Klei uithaal, trap en klippe vasmessel. Elke Saterdag dieselfde ding. Teen melktyd stap hy traag van Ansie se huis af weg.

Sagie leun met sy kop teen Caroline se sy. “Moet nou nie dink ek kla oor die ekstra werk op Sondae nie, Kerrieland,” sê hy vir die koei. “As Pa die werksmense wil ruskans gee, is dit reg, maar ek wil hê jy moet dit weet: ek sal liewerster ver­der aan Ansie se huis wil gebou het as om jou spene te sit en trek. Jy weet ek het net een dag vir bou: Saterdag. In die week is dit net die uur of twee voor donker. As dit verkeerd was om op Sondae te werk, het jy niks meer as ses dae melk gegee nie. Dis die Here se eie skuld dat ek en jy nou dié werk moet doen. Hy kon ander plan gemaak het – ses dae se melk is genoeg. As Ansie se huis nou daar gestaan het, kant en klaar gebou, net vir intrek, was dit ’n ander saak.”

Hy hoor nie sy pa aankom nie.

“Praat jy al weer met jouself, Sagrys?”

“Nee, Pa.”

“Met wie dan – Caroline?”

“Ek praat altyd met die koeie, dan sak hulle beter.”

Barend skud sy kop. “Maar nou’s ek hier.”

Sagie knik. “Is hoekom ek nou met Pa praat.” Hy kyk hoe sy pa ’n skoon emmer vat, lou water daarin gooi, Liesbet se uier was en melksalf aan haar spene smeer.

Die twee sit in stilte en melk, totdat Barend sê: “Ek dag jy’t iets op die hart.”

“Nie eintlik nie, Pa.”

“Maar met Cároline sit jy land en sand en gesels.”

“Sy luister na als wat ek sê, sonder om kwaad te word.”

Barend kyk onderlangs na Sagie. “Jy kan maar vir my ook oor Sondagwerk gevra het.”

Sagie staan op en giet sy emmer melk deur ’n doek in ’n groot kan. Hy haal die spantou van Caroline se agterbene af en gaan was Blom se spene. “Wanner kom Mieta huis toe?”

“Praat jy met my of met die koei?”

G’n antwoord nie.

“Dis sommer ’n grappie, Sagrys! Verlang jy na Mieta of na haar kos?”

Sagie mompel iets.

“Hoe sê jy?”

“Net lat die goed wat sy vir ons gevries het op is, dae al, en sy kom nie t’rug nie.”

“En ek kook nie so lekker soos sy nie, of hoe?”

“Issie wat ek gesê het nie.”

Barend gooi sy emmer melk af. “Sy’t gister gebel om te sê …”

Sagie se kop ruk op. “Lat sy op pad is?”

“… om te sê sy kry Freek en Jakkelien nie omgepraat om terug te kom nie. Moet my nie so in die rede val nie. Jy kan haar Woensdagmiddag op die stasie loop haal. Met die bakkie, gehoor?”

“Winkelplaas?”

“Nee, ek het gesê sy moet bly sit tot op die dorp, dan kan jy sommer vir ons ’n klompie goed saambring – een keer se ry is goedkoper.”

Sagie het gewens en gebid Freek moet huis toe kom. Sy maat van kleins af – tot die dag van Jannetjie se dood. Niks was daar­na dieselfde nie. Freek het ’n opgeskorte vonnis gekry en is Kaap toe, en het nog nooit kom kuier nie. Nou dié nuus: Freek en Jakkelien kom nie terug nie.

Is weer sagie

Подняться наверх