Читать книгу Is weer sagie - Jan van Tonder - Страница 6

Drie

Оглавление

Barend staan by die agterdeur na Sagie en kyk. Die werkdag is verby, dink hy, aandete ook. Tyd om tot rus te kom, maar Sagrys is terug in die tuig. Dag na dag dieselfde ding, ses dae ’n week.

Barend druk twee vingerpunte tussen sy lippe in en fluit. Die geluid eggo uit die klofie. Geen reaksie nie, behalwe Oubaas wat aangedraf kom. Sagie lei Hubert se twee donkies teen die bult uit, met ’n jong bloekomstam agter hulle.

“Sagryyyys!”

Barend en die hond stap om die groot dam se wal en kry die streep wat die bloekombalk oor die harde grond getrek het. Die bloekom se spoor loop hier óm ’n groot klip en daar verby die dorings van ’n katbos. Bossies wat deur die swaar stam gekneus is, ruik die ene Klein-Karoo. Plek-plek, waar ’n rotslaag bo die grond uitbult, is daar byna geen teken wat Sagie en die donkies se vordering aandui nie.

By die kleidam, agter die wal waar ’n mens hom nie van on­der af kan sien nie, staan Sagie tussen die donkies. Hy leun voor­oor, sy linkerarm om Asjas se nek en die regter om Hier­langs. Hangoor, hulle al drie.

“Loop span uit die donkies, Sagrys, en kom huis toe.”

Sagie skrik en kyk selfbewus op. “Daar’s seker nog ’n uur se lig oor, Pa.”

Barend skud sy kop. Hy maak die voorpunt van die bloe­kom­balk los, laat sak dit grond toe en vat die donkies se leiriem. “Onthou jy nou die oggend toe jy met Caroline gepraat het? Nee, kyk vir my, daar is niks fout mee om vrae te vra nie, veral nie vir een wat luister nie. Soos die ding vir my lyk, Sagrys, het die goeie Vader die meeste wette, soos dié van die Sabbat ook, vir óns gemaak. Oor mense nie altyd weet wat goed is vir hulle nie.”

“Is seker so,” beaam Sagie nadat hy sy pa se woorde ’n ruk­kie bedink het. Hy lig sy hoed se rand en vee die sweet van sy voorkop af.

“Kom, ou seun, genoeg is genoeg. Kyk hoe lyk die arme diere al.”

Hulle laat die bloekom net daar lê en stap langs mekaar, briek-briek teen die afdraand af.

Sagie wens hy kan sommer net so in die bed klim sonder om eers te bad. Maar hy weet sy pa sal dit nie toelaat nie; ’n mens gaan skoon kooi toe.

Barend gaan staan. Sagie ook. En agter hulle, die donkies.

“Dwarsrivier lyk darem mooi van hier af, Sagrys.”

“Is,” sê hy. Hy is bly sy pa dink so.

“Kyk net die wingerde en boorde en damme. Kyk Tower­kop.” Barend se oë is op die toneel voor hom. Sagie s’n is op sy pa. Hy wens dat dié iets oor Ansie se huis sal sê, maar Hier­langs balk skielik. Barend gee die leiriem ’n pluk. Hulle loop weer.

Blerrie donkie, dink Sagie, om darem nou op só ’n tyd te kom staan en hô-hie. Sy pa het hom “ou seun” genoem, soos wat ’ant Jopie maak. Ou seun. Én hy het gesê Dwarsrivier lyk mooi hier van bo af, waar hy Ansie se huis aan ’t bou is.

“Gaan bad solank, Sagrys, ek sal die donkies versorg.”

Sagie verstaan nie wat met sy pa aan die gang is nie. Die vorige keer wat hy só met hom gepraat het, was die slag toe hy gekeer het dat die slang Ansie pik en toe self gebyt geraak het. Toe was dit asof sy pa se hart sag geword het, al het dit nie juis lank gehou nie.

Die warm water laat Sagie se seer spiere ontspan. Hy lê ’n rukkie toe-oë, met sy ore onder die water. Al die gewone ge­luide is weg.

Hy hoor Ansie se stem. Sy roep na hom. “Hier is ek,” ant­woord hy. Sy kruip vir hom weg. Hy glimlag. “Dit help jou niks, ek sal jou kry.”

’n Harde geklop aan die badkamerdeur. Sagie sit regop. Water spat oor die vloer.

“Maak klaar, dis amper slaaptyd en ons moet nog boeke­vat.”

Sagie was sy hare en sy lyf. Hy het maer geword. Maer­der en meer seningrig. Hy kyk in die spieël, maak ’n vuis en buig sy elmboog. Die boarmspier bult so hard soos ’n ghwarrie­boswortel. Hy wens Ansie kon dit sien. Sy sou daaraan vat en weet dat haar huis nie vanself gegroei het daar waar hy staan nie.

Toe hy in die voorhuis kom, is sy pa by die tafel, oë op die oop Bybel voor hom, leesbril in sy hand. Die Aladdin-lamp brand helder. Sagie sit sy kers op die tafel neer, lek sy duim en voorvinger en snuit die vlam daarmee. Hy trek vir hom ’n stoel uit. Al geluid is die gesis van die gloeiende lampsakkie. Sagie loer na die Bybel. Op een bladsy is daar ’n 22 en op die ander ’n 23. Hy hoop sy pa lees eerder hoofstuk 22, want dié lyk nie te lank nie. Hoofstuk 23 gaan na die volgende bladsy oor, en wie weet, dalk nog verder aan ook.

Maar sy pa lees nie. Hy skuif die Bybel ’n entjie weg en stut sy elmboë op die tafel. ’n Ruk lank sit hy so voor hy sy kop lig en na Sagie kyk. “Ek het toevallig vanoggend hierdie skrif­gedeelte gelees.” Hy tik op die Bybel. “Dit gaan oor Bíleam. Bíleam was ’n Godsman wat probeer het om die wil van die Here te doen.”

Toe stoot hy sy stoel agteruit, gaan na die venster en kyk buitentoe, waar dit donker is.

“Maar Bíleam was nie so seker wat die Here van hom wou hê nie, Sagrys. Dis nie soos wanneer ek vir jou sê, loop melk die koeie, en jy weet wat om te doen nie. Of vir Mieta: Hoe lyk dit dié Sondag met ’n lekker bokboud, Mieta? En as dit vir Bíleam moeilik was, moet jy weet hoe ék daarmee sukkel. Ná uitvaltyd vanmiddag was dit of ek die antwoord geweet het. Tot ek opgekyk en jou daardie balk sien sleep het, toe twyfel ek weer. En ek neuk agter jou aan en ek dink en dink wat ek vir jou moet sê, en toe balk Hierlangs en ek onthou vanoggend se Skrifgedeelte en ek wonder of dit die Here se stem is.”

Sagie het nie ’n benul waarvan sy pa praat nie. Hy lag. “Don­kies kan mos nie praat nie, Pa.”

Sy pa kom terug tafel toe. “Laat ek liewer die stuk lees, dan verstaan jy dalk.” Hy sit sy bril op. “Númeri 22, vanaf die eerste vers. ‘Daarna het die kinders van Israel weggetrek en laer opgeslaan in die vlaktes van Moab, oos van die Jordaan van Jérigo.’”

Die lamp is te helder vir Sagie. Hy maak sy oë toe en luister na sy pa se stem.

“Toe open die Here die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die Here in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval.”

Die woorde wat sy pa lees en die gesuis van die lamp word een. Sagie se kop sak op sy arms neer en hy is hom maar half bewus dat sy pa sy leesbril afhaal, die Bybel toemaak, twee kerse opsteek, die lamppit afdraai en die vlam uitblaas. En dat sy pa sy klam hare deurmekaar vryf. Hy word heel wakker, hoor voetstappe gangaf gaan en vat verwonderd aan sy kop. Toe haak hy sy vinger deur die kersblaker se oor, loop daarmee kamer toe en gaan lê op sy bed. Daar is nie tyd vir bid en dan soos gewoonlik wegdommel met Ansie in sy gedagtes nie. Hy raak aan die slaap toe sy kop kussing vat.

Voor Sagie se kamer kraak die vloerplanke. Hy hoor sy pa se stem: “Sagrys.” Dis vir hom of hy nog nie ’n oog toegemaak het nie, maar hy voel na die vuurhoutjies, trek een en sien net die leë blaker. Sy pa skel hom as hy moet weet dat hy met die brandende kers aan die slaap geraak het, want Barend van Greunen duld geen vermorsing nie. Dit is ook waarom hy nie, soos baie ander boere, lank voor dagbreek al op is nie. “Om wat te doen – te sit en koffie drink?” sê hy altyd. “Nee, jy werk volgens die seisoene, nie die horlosie nie. ’n Mens slaap in die nag en begin bedags werk wanneer jy kan sien wat jy doen. Iemand wat nie tot opstaantyd kan slaap nie, het ’n ding op sy gewete, iets wat hy vóór die volgende Nagmaal moet reg­maak.”

Sagie trek sy werksklere aan. Hy gaan was sy gesig en bor­sel sy tande. In die spieël sien hy hoe sy hare regop staan. “Jy lyk soos ’n muisvoël, Sagrys,” sê hy. “Nee, soos ’n hoep-hoep wat geskrik het.” Hy kry sy kuif met ’n nat hand tot lê en gaan kombuis toe vir die eerste koppie koffie van die dag.

Barend sit met ’n stomende koppie langs hom. Die Bybel is voor hom oop, al het hy nie meer sy leesbril op nie.

“’Skies lat ek gist’raand aan die slaap geraak het, Pa.”

Barend maak ’n gebaar. “Dalk beter so. Ek weet self nog nie wat om hiervan te maak nie.” Hy sit ’n boekmerk tussen die Bybel se blaaie. “Drink jou koffie en kom kraal toe, die son is nou-nou op.”

Sagie bly alleen agter. Wat ook al in daardie hoofstuk staan, dink hy, is ’n groot saak vir sy pa.

Teen die tyd dat hulle met ’n emmertjie warm melk by die kombuis instap, is Mieta reeds daar. Die katte skuur teen hul bene aan.

“Môre, Mieta.”

Sy vat die emmertjie aan. “Môre, meneer. Môre, Sagrys. Daar’s koffie en pap op die stoof. En julle, miaauers, uit met julle!” Sy maak die onderdeur én sifdeur agter haar en die katte toe en gooi vir elkeen ’n bietjie uierlou melk in ’n piering.

Sagie skep sy bord so vol pap dat daar skaars plek vir melk is. Hy laat sak sy kop toe sy pa die seën vra.

“… Amen.” En voor die amen koud is: “Kyk, Sagrys, al mense wat nog kalbasse gekoop het, was die Amerikaners, en hulle het ook nou opgehou pype maak, lyk dit my. Die prys is so laag dat ons begin agteruit boer. Ek dink nie ons moet weer plant nie.”

Sagie knik en strooi nog suiker oor sy pap.

Mieta kom weer in. “Wat moet ek vir middagete maak, me­neer?”

“Net wat daar is, Mieta, maak nie saak nie.”

Sagie slurp die pap uit sy lepel op.

Barend kyk hom geïrriteerd aan. “Wat dink jy daarvan?”

“Maak vir my ook nie saak nie, Pa, Mieta kook altyd lekker kos.”

Mieta en Sagie skrik ewe groot toe Barend hard op die tafel slaan. “Ek praat van die kalbas, man!”

“’Skies, Pa. Nee, is reg so, lat ons nie weer kalbas plant nie. Maar wat gaan ons met die ekstra lande doen?”

“Dis wat ek by jou wil weet.”

Sagie verstaan nie.

“Die boerdery, Sagrys, hoekom dink jy sloof ek my so af? Dis vir jóú!” Barend se gesig is rooi. Dik are staan op sy nek en slape uit. “Maar jy is mos nie meer lándbouer nie, nee, jy’t bóúer geword.”

“Ai, meneer,” skerm Mieta.

Barend haal hard deur sy neus asem. Sagie kyk met groot oë na hom. Mieta ook.

“Sê vir my, Sagrys, hoeveel bokke het jy?” Sy stem is nou hees en blaserig soos ’n pofadder s’n. Dit maak Sagie bang.

“Ek weet nie, Pa, daar het nog bygekom. Tweelinge en drie­linge ook.”

Barend kom half orent. “Dís wat ek bedoel, jy sit met die beste stoetram in die distrik, jy’t ’n klompie duur ooie aan­geskaf, maar jy stel in niks anders as daardie verdomde huis belang nie.” Hy praat al harder. “En dís hoekom ek …” Hy byt op sy tande.

“Meneer?”

Barend knyp sy oë toe. Sy bolyf knak.

“Pa?”

“Bel die dokter, Sagrys,” sê Mieta. Sy sit ’n glas water voor Barend neer. “Drink dié, meneer. Toe, Sagrys, loop bel nou.”

Maar Sagie skud sy kop. Hy tel sy pa uit die stoel op. “Bel jy, Mieta, vra vir die sentrale om jou na Oudokter deur te sit. Sê vir hom ek is op pad hospitaal toe met Pa.”

Is weer sagie

Подняться наверх