Читать книгу Bid vir jou ongebore baba - Janlu Kuyler - Страница 5

Voorwoord

Оглавление

Dié van julle wat al my en Retief Burger se liedjie “In verwondering” gehoor het, sal weet ek is oorstelp deur die wete dat God stééds aan die skep is. Ek kon ademloos deur ’n teleskoop by Sutherland sien hoe die Here elke dag nuwe sterre en sterrestelsels skep. Maar jy hoef nie deur ’n teleskoop te kyk om dit te beleef nie. As jy ’n verwagtende ma of pa is, skep die Here voor jou oë ’n nuwe lewe. Jy sal kan beleef hoe God sy asem met ons DNS verweef. Dit is geheimsinnig, wonderlik en Goddelik. Wat ’n voorreg om dit in jou eie huis te kan beleef … én om ’n boek te hê wat jou sal help om die regte perspektief hierop te behou.

Janlu en Marlena se boek is ’n viering van die waarheid dat God vanaf die vorming van die heel eerste sel in beheer van hierdie proses is en dat Hy ons by die skepping van ons kinders wil betrek. Wat ’n groot openbaring met verreikende implikasies: Ons betrokkenheid hou nie by bevrugting op nie, maar begin eers daar! Wanneer jy hierdie boek se uitnodiging aanvaar, word jy deur jou gebede God se vennoot in die skepping van jou baba. Jy gebruik eintlik God se Woord as ’n stuk gereedskap in die vorming van jou kind se liggaam, siel en gees. Dit is jou eerste groot taak as ouer, en waarskynlik jou heel belangrikste taak.

Ek is versot op die besonderhede in hierdie boek. Marlena en Janlu hou vir ons ’n teleskoop op voor die konstruksie van ’n nuwe lewe. Die besonderhede wat ons kan sien, laat ons besef hoe groot die wonderwerk is wat elke dag tydens ’n swangerskap gebeur. Dit is so waardevol om te kan weet wat God hiérdie week in die baarmoeder skep en hoe ons deur ons gebede daarby betrokke kan wees. Hierdie boek is ’n bundel vol wetenskap, wysheid, Woord en gebedsvoorstelle wat in my oë belangriker is as enige voorgeboorteklasse. (Hoe om reg asem te haal, te “puuuush” en die videokamera reg vas te hou, het vir meeste nuwe ouers die kern van hulle opleiding geword. Hoe hartseer!) Hierdie boek is ’n skerp wapen in die hande van Geesvervulde, parate nuwe ouers!

Ek wens ek het so ’n boek tydens my en Hettie se vier swangerskappe gehad. Ek was ’n tipiese oningeligte jong pa wat maar net gebid het dat ons baba “normaal” sou wees, dat die kraamproses goed sou afloop, dat ons huwelik al 15 trimesters sou oorleef (ja, dit voel later of daar 15 is en nie net 3 nie) en dat ons die regte naam vir die nuweling sou kies. As dit is hoe jy bid, bid jy nie veel nie! Waarvoor moet jy dan bid? En hoe? Janlu en Marlena se boek beantwoord hierdie vrae. Jy sal presies weet waarvoor om te bid – en hoe! As ’n man en pa besef ek hoe waardevol dit vir Hettie sou gewees het as ek op hierdie manier elke week deel van haar swangerskappe kon wees. Hoe wonderlik sou dit gewees het as die baba wat in haar baarmoeder gegroei het, geestelik deur ons albei – saam! – in die wêreld gebring sou word.

Geniet daarom hierdie openbaringskennis en die persoonlike getuienisse wat wetenskap en wysheid aanmekaarweef. Gebruik die Bybelgedeeltes en gebede wat die skrywers voorstel. Dit maak jou taak maklik en lekker … en vul dit met verwondering. Dit is nie genoeg om maar net te weet God is besig om in julle huis ’n unieke lewe na sy beeld te vorm nie. Wees deel daarvan, gebruik die woordeskat wat hierdie boek vir jou bied en bid vir jou ongebore baba.

LOUIS BRITTZ

Bid vir jou ongebore baba

Подняться наверх