Читать книгу Bid vir jou ongebore baba - Janlu Kuyler - Страница 7

Hoe om hierdie boek gebruik

Оглавление

Gebruik hierdie boek as ’n gids om in die eerste paar weke van die swangerskap baie spesifiek vir jou ongebore baba se vorming te bid. Terwyl jy die Bybelgedeeltes bid, sien die onsigbare naelstring wat reeds sterk tussen God en baba gevorm is. Deur hierdie gedeeltes kan jy deel word van die proses om te sien hoe God jou kind laat ontwikkel. Daarom is ’n swangerskap nie net ’n biologiese reis nie, maar ook ’n geestelike reis. Ons beleef die biologiese ontwikkeling (dankie vir jou kennis hieroor, Marlena), maar is ook bewus van die emosionele en geestelike ontwikkeling van ons ongebore kind. Mag jy in die eerste trimester (en ook daarna!) werklik ervaar hoe God jou laat inkyk op die vorming van jou ongebore baba en jou toelaat om ’n vennoot daarin te word deur saam te bid vir sy of haar vorming.

Gebruik die gebede slegs as ’n riglyn en skryf dan ook jou eie gebede in jou gebedsjoernaal. Onthou om die Bybelgedeeltes in ’n spesiale Bybel te onderstreep sodat jy dit eendag vir jou kind kan gee. Vra die Here om ook ander Bybelgedeeltes wat jy op jou kind kan afbid vir jou uit te lig.

Die idee met hierdie gids is dat jy werklik in verwondering sal staan voor hoe groot God is, hoe goed God jou kindjie stukkie vir stukkie vorm en hoe lief Hy jou kind reeds het. Jy sal sien ons fokus op die biologiese én geestelike ontwikkeling van jou kind. Met die beskrywing van die biologiese ontwikkeling verduidelik Marlena hoe God jou kind stukkie vir stukkie aanmekaarweef en vorm. Met die beskrywing van die geestelike ontwikkeling gee Janlu Bybelverse en soms gebede wat jy kan gebruik om oor en vir jou kind te bid.

Jy kan self kies hoe jy jou geestelike reis in die volgende paar maande wil inkleur. Jy hoef nie hierdie boek van voor tot agter deur te lees nie. Loer na dié gedeeltes waaroor jy wonder, of vra die Heilige Gees om jou te lei na spesifieke fasette van ontwikkeling.

Bid vir jou ongebore baba

Подняться наверх