Читать книгу Van Pollsmoor tot prediker - Jaun Truter - Страница 3

Оглавление

Inleiding

Ek het die afgelope 18 jaar gesien hoe die gemeentes waarby ek betrokke was die Alpha-program as instrument gebruik het om gemeenskappe te verander. Dit was ’n ongelooflike reis om vriende én vreemdelinge met ’n instrument te bedien wat hulle in staat gestel het om belangrike lewensvrae in ’n veilige en ontspanne omgewing te vra.

Ek het die geleentheid gehad om in verskillende dele van die wêreld te woon en werk – van ’n kerk in Durban en ’n hoërskool in Kaapstad, tot ’n raadslandgoed (“council estate”) in Londen en ’n stadsgevangenis in Lusaka – en baie van my beste vriende is mense wat ek deur Alpha ontmoet het.

In 1999 het ek by ’n kerk in Londen, die Holy Trinity Brompton, begin werk waar Alpha in 1977 ontstaan het. My span was daarvoor verantwoordelik om Alpha se werk na gevangenisse wêreldwyd uit te brei, maar ons het ook die belangrike taak gehad om plaaslike kerke en gemeenskappe te help met die herintegrasie en versorging van oudgevangenes. Vandag gebruik 80% van die gevangenisse in die VK en meer as 80 ander lande die Alpha-program in hul gevangenisse.

Kort nadat ek in Februarie 2010 teruggetrek het Suid-Afrika toe, het ek ’n Alpha-program in Pollsmoor-gevangenis se Medium B-afdeling aangebied. Dis hier waar ek vir Jaun Truter ontmoet het. Dit was van die begin af duidelik dat Jaun ’n gebore leier was wat respek onder die gevangenes én beamptes afgedwing het. Dit was nie lank voordat ons vir Jaun aangestel het om die manne elke week bymekaar te kry vir die Alpha-sessie, te kyk of almal teenwoordig is en vir ander leierspligte nie.

Ek onthou hoe ek op ’n toer deur die Medium B-afde­­ling geneem is waar ek die enkelsel-seksie ontdek het waar Jaun drie jaar van sy lewe deurgebring het. Dit was ’n merk­waardige ontdekking, want dié afdeling, Jaun se sel ook, het die Pollsmoor-voëlprojek gehuisves. Ek was verstom oor die teerheid en deernis waarmee Jaun die papegaai­kuikens hanteer het.

Namate ek meer van Jaun se verhaal gehoor het, het ons vir mekaar begin skryf – hy is ’n baie beter korrespondent as ek! Dit was fassinerend om betrokke te raak by dié jong man met sy soekende vrae en sy onwrikbare geloof in die God wat genees en wonders doen.

Op ’n dag ná Jaun uit die gevangenis vrygelaat is, het ek gebid oor die persoon wat ons moet aanstel om leiding te neem in Alpha se werk in Wes-Kaapse gevangenisse, asook die belangrike taak om plaaslike kerke te help om gevangenes lief te hê, te ondersteun en raad te gee wanneer hulle vrygelaat word. Terwyl ek bid, het God Jaun se naam in my gedagtes laat opkom! Dit het heeltemal sin gemaak: Ek kon nie aan ’n beter persoon dink om dié werk te doen as ’n man wat dit alles deurgemaak het en wat waarlik God se herskeppende krag is sy lewe verstaan nie.

Toe Jaun besig was om dié boek te skryf het ons reeds vir meer as ’n jaar saamgewerk waartydens ons die plaaslike kerke in Suid-Afrika gedien het met die hunkering om ons gemeenskappe te sien verander.

Jaun se verhaal is kragtig, veral as jy jou oopstel vir die moontlikheid dat dieselfde God wat wonders in sy lewe gedoen het ook nou in jou lewe aan die werk is! Dis waarlik ’n ongelooflike prestasie om dié boek te publiseer.

Lekker lees!

Ds Jeremy Jobling

Maart 2015

(Ds Jeremy Jobling is ’n bevestigde predikant en is tans die nasionale direkteur van Alpha Suid-Afrika.)

Van Pollsmoor tot prediker

Подняться наверх