Читать книгу Van Pollsmoor tot prediker - Jaun Truter - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 1

’N MOEILIKE BEGIN

As kind het ek meer as een keer vir my pa gesê ek is seker daarvan ek is nie sy kind nie, want geen pa sal sy kind so behandel nie. My ma het my later gesmeek om dit nie meer te sê nie omdat sy oortuig was dat hy my sou doodslaan.

Ek is gebore op 24 Augustus 1978 en het in Brackenfell, aan die buitewyke van Kaapstad se noordelike voorstede, grootgeword. Brackenfell het in daardie stadium net begin ontwikkel en die area rondom my ouerhuis was meestal nog bos. In ons straat, wat nog ’n grondpad was, was daar net vyf huise.

Ek was altyd die swartskaap van die familie. My jonger broer was my pa se gunsteling, terwyl die verhouding tussen my en my ma weer sterker was. Omdat my broer so baie aandag by my pa gekry het, was die kompetisie tussen ons baie straf, selfs meer as wat gewoonlik die geval tussen broers is.

My broer het die vermoë gehad om elke situasie tot sy voordeel te gebruik en my pa het alles geglo wat hy gesê het. As ek dus kattekwaad aangevang het, het hy my pa daarvan vertel. Ons het vandag steeds nie ’n goeie verhouding nie.

Ek het in die NG Kerk (NGK) grootgeword en dienste by die Brackenfell Moedergemeente bygewoon. Ek het daar gekatkiseer, maar in my finale katkisasiejaar het my ma by die Pinkster Protestante Kerk (PPK) aangesluit. Aangesien ek reeds besig was met my katkisasie by die NGK, maar ook saam met my gesin kerk toe wou gaan, het ek in my matriekjaar dienste by albei kerke bygewoon.

In September 1996 het pastoor Buys my groot gedoop in die PPK Goodwood omdat die Brackenfell-gemeente in daardie stadium nie ’n doopbad gehad het nie. Ons hele gesin is in die PPK groot gedoop.

Ek dink op die oog af het ons soos ’n normale wit, middelklas gesin gelyk. Maar in ons huis was dit glad nie die geval nie. My pa was ’n harde en moeilike mens. Ons het gedurig op eiers geloop, en wanneer hy ’n paar doppe in gehad het, moes jy eers versigtig trap.

Hoewel daar tye was wat dit beter gegaan het en makliker was om saam met hom te leef was dit maar min. Ons huis­lewe was stormagtig en my pa se humeur en onvoorspelbaar­heid het beteken dat jy nooit geweet het wanneer jy onder ’n paar klappe gaan deurloop nie.

Ons ouers het gereeld voor ons baklei. Ek het een of twee keer voor my pa gaan staan om my ma te beskerm – die eerste keer was ek nog in die laerskool. Hy het my albei kere geslaan dat ek daar trek. Vuis of plathand, dit het nie vir hom saak gemaak nie. Hy het geglo as seuns moet hy ons hard grootmaak. Jy moet ’n man wees. Dit was egter baie duidelik dat dié beleid nie vir my broer gegeld het nie.

As kind was ek baie sportief en hoewel ek redelik in atletiek uitgeblink het, het ek nie veel moeite daarmee gedoen nie. In standerd 5 het ek begin gimnastiek doen. Dit was iets waarin ek al jare lank belang gestel het, maar die geleentheid was net nooit daar om dit te beoefen nie. In sub B het ’n man ons skool besoek en sy getuienis gelewer; ek kon nie sy getuienis onthou nie, maar wat my wel ge­weldig beïndruk het, was die twee agteroor-bolmakiesies wat hy agtereenvolgend op die gras gedoen het. Ek het nog vir my maats gesê: “Ek wil eendag dit kan doen.”

My pa was op skool ook ’n gimnas en hy het dit baie geniet. Toe hy dus besluit om weer by die sport betrokke te raak het hy ’n gimnastiek-afrigtingskursus gedoen. Om egter by ’n klub te kon afrig moes hy bewys dat hy iemand kon afrig en hy het vir my as sy proefkonyn gebruik.

Die moontlikheid dat die afrigting my en my pa nader aan mekaar kon bring, het my entoesiasties oor gimnastiek gemaak. Ek het die geleentheid aangegryp om ’n verhouding met hom te bou.

Toe my pa as afrigter kwalifiseer het hy ’n jonger groepie kinders by die klub begin afrig. Ek het intussen ook die gimnastiek begin geniet en het daarmee voortgegaan. My afrigters by die klub het my afgeraai. Volgens hulle was ek reeds te oud om enige ernstige vordering in dié sport te kon maak. Daarby was ek ook baie lank vir my ouderdom.

Ek was egter vasbeslote om gimnastiek te doen. Ek wou my pa wys dat ek ook suksesvol kan wees in sy gunsteling­sport ten spyte van wat enigiemand sê. Ek het baie hard gewerk en elke dag tussen vier en ses uur geoefen.

My pa kon later, weens die aard van sy werk op die spoorweë, nie langer met die afrigting volhou nie. Ek het verstaan dat hy nie meer by my gimnastiek betrokke kon wees nie. Aan die een kant was ek bly. My pa was ’n baie harde mens, so dit was vir my beter dat hy nie by die klub was nie. Die druk sou te veel wees, asook die manier waarop hy voor die ander kinders met my sou praat …

Nee, dit was beter so.

Ek het in standerd 6 vir die eerste keer WP-kleure verwerf. Dit was ’n groot eer en my belangstelling in gimnastiek het toe behoorlik vlam gevat. My pa was vreemd genoeg nie baie ondersteunend nie.

Sy manier om my aan te moedig was deur reverse psycho­logy. Pleks daarvan om my te motiveer, het hy eerder net my tekortkomings uitgewys. Ek is seker hy het geglo dít is hoe jy iemand aanspoor om sukses te behaal. Dit het dus nie saak gemaak hoe goed ek gevaar het nie, volgens hom sou ek altyd beter kon doen.

Ek het by ’n Suid-Sirkel-kompetisie, waar jy kwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe (SA’s) deel te neem, ’n silwer medalje gekry. My pa se eerste woorde was: “Sien jy, as jy harder geoefen het, soos ek vir jou gesê het, dan het jy goud gekry.” Nie ’n enkele woord van bemoediging of gelukwensing nie.

Iemand het eenkeer gesê: “As jy tweede kom, is jy die eerste ou om te verloor.” Dit het my altyd bygebly. Óf jy is eerste óf dit tel nie. Ek het dus daarna baie goud gewen.

Van toe af het ek elke jaar my WP-kleure verwerf, maar het eers in standerd 9 gekwalifiseer om SA’s toe te gaan. Ek moes in sewe apparate deelneem. Ek het in daardie spesifieke kompetisie baie goeie punte gekry en ’n brons medalje gewen. Maar selfs dít het tot struweling tussen my en my pa gelei.

Ek is gekies om aan twee kompetisies in Namibië en die VSA deel te neem. Hoewel ons borgskappe ontvang het, moes ons ouers ’n gedeelte van die koste dra. My pa wou dit nie doen nie en toe het iemand – ek vermoed dit was my afrigter of iemand by die klub – boonop druk op hom probeer plaas om my te stuur. Dít doen jy nie; jy sê hom nie voor nie.

My pa vat toe die presiese bedrag wat hy sou uitgee om my na die kompetisies te stuur en gaan koop vir my broer ’n splinternuwe bergfiets. Net om te wys dat hy wel die geld het, maar dat hý sal besluit vir wie en hoe hy dit sal gebruik.

Dit was maar een van die voorvalle – daar was baie ander – wat die skeur tussen my en my paál groter en groter gemaak het. Dit het ook die wrok wat ek teen my pa én broer gehad het, laat groei. Dit was ’n wrok wat ek baie lank sou dra.

My ma het regtig hard probeer om my pa rede te laat insien, maar sy kon net tot op ’n punt met hom redeneer – wanneer hy sy besluit gemaak het, het hy dit gemaak. Sy het gereeld vir my probeer opkom, maar sy het ook my pa geken en het geweet wanneer sy eeder moet stilbly en nie verder moet teëpraat nie. My ma het gedoen wat sy kon, dit het ek verstaan. Sy het ook maar swaar gekry onder hom, want hy was ’n moeilike mens.

Hy is vandag nog, maar nie meer so erg nie. Ons het vandag ’n goeie verhouding ná meer as dertig jaar.

Ons het nooit sakgeld by ons ouers gekry nie. Toe ek in standerd 2 was, het ek besluit ek wil ’n paar rand verdien. Ek het ’n paar motors in ons straat gewas en met die geld wat ek verdien het ’n paar sakke gemengde lekkers gaan koop en ’n kafeetjie in my kamer oopgemaak. Ek het al die kinders in die buurt van lekkers voorsien en ek het goed gedoen. Ek het in ’n stadium tot roomys uit my kamer verkoop. Ek het daardie Kersfees my eie skaatsplank gekoop; dit was R80 en die duurste en beste een op die mark.

Ek en my broer het toe begin baklei, aangesien ek hom nie daarmee wou laat speel nie. My pa kon my ook nie dwing nie omdat ek die skaatsplank met my eie geld gekoop het.

Die ander probleem was dat my klante Sondagmiddae voortdurend die deurklokkie gelui het en dit terwyl my pa probeer slaap het. Dié situasie het ook later handuit geruk. Dít en die skaatsplankstorie het die einde van my winkeltjie beteken.

Daarmee saam het my pa my ook in ’n stadium forseer om my eie skoolboeke en skryfbehoeftes te koop, want ek “werk dan nou vir my eie geld”.

In standerd 8 was ek die bestuurder vir Cape Argus-koerantaflewerings in ons buurt. Een middag het ek en een van die outjies wat vir my koerante afgelewer het, stry gekry. Hy was grootmond oor sy bruin gordel in karate en toe die stryery heftiger begin raak, het hy in een van die karate-posisies stelling ingeneem. Karate het my nog nooit oortuig nie. Ek het hom een kyk gegee en hom toe ’n vinnige vuishou in die gesig gegee. Hy is al huilend huis toe met die belofte om sy ma van my gewelddadigheid te vertel. Ek was ietwat oorbluf. Dit was dan net een hou en nie eers ’n volwaardige fight nie.

Later het sy ma wel by ons huis opgedaag en die storie vir my pa vertel. Hy het my nader geroep en gevra of ek die seun geslaan het. Ek het ja gesê, maar bygevoeg dat hy daarmee begin het. My pa se antwoord was ’n allemintige klap teen die kop. Hy het my boonop aangesê om die mannetjie R20 te betaal vir koerante wat hy kwansuis afgelewer het. Ek was baie ontsteld daaroor.

Toe ons later die voorval bespreek, sê my pa: “Dit lyk nie of hy gemoer is nie. In die vervolg donner jy vir hom só hard dat hy nie kan terugkom nie. Hy moet selfs te bang wees om voor jou voordeur te kom staan. So, as hier weer iemand kom wat sê jy het hom gemoer, dan wil ek darem kan sien dat jy hom gemoer het. Moenie net een klap gee nie, maak seker jy doen ’n goeie job.”

Sy raad het nie op dowe ore geval nie. Die volgende keer was baie jare later, maar daardie ou het ek ordentlik slae gegee.

Ons het langs die strand in Gordonsbaai gebraai en die ou was gerook en het skoor gesoek. Ek het my nie veel aan sy praatjies gesteur nie, maar toe hy my ma begin slegsê, was dit verby. Twaalf van sy voortande moes herset word en sy neus was gebreek. Ek het nie meer by my pa gebly nie, maar die mense het geweet dat ek voorheen daar gewoon het. My pa het my eenkeer aangesê om hom vooraf te laat weet as ek ooit moeilikheid huis toe gaan bring. Ek het hom dus gebel en die hele storie vertel. Toe my pa hoor wat daar van my ma gesê is, was sy woorde: “Ek hoop jy het hom doodgebliksem.”

“Amper,” het ek geantwoord.

Toe die ou se ma en pa ’n paar dae later daar opdaag, het my pa hulle in die straat af gejaag. Hulle moes iemand anders stuur om, saam met ’n polisieman, hul motor te kom haal wat voor ons huis in die straat geparkeer was. My pa het die hek oop gelos met die honde wat wag staan. Die geringste blaf en hy was daar om sy dreigement om hulle self ook te lyf te gaan, uit te voer.

Dit was een keer wat hy wel vir my opgekom het.

Toe skiet my ma haarself.

Dit het op 23 Februarie 1997 gebeur. ’n Sondag. My pa was weer moeilik en tussendeur die gevloek en geskel het almal met mekaar baklei. Dis toe dat ek vir my ma sê dat ek genoeg gehad het. My matriekuitslae het gekom en ek is deur, so ek gaan so gou moontlik die huis verlaat. Ek was nie meer lus vir dié situasie nie.

In daardie stadium was ek groot en sterk. Ek het ses uur per dag geoefen en was topfiks. Ek kon dus fisiek my man staan en ek het ál meer hardekwas geraak, wat net tot meer konflik met my pa gelei het. My ma het in trane uitgebars en gesê sy kan nie meer so aangaan nie, en het haar in hul slaapkamer gaan toesluit.

Ek het die kos klaargemaak, terwyl my pa en broer in die garage besig was. Toe die kos gaar was, het ek die stoof afgeskakel en buitentoe gegaan om te sien wat die bure se kinders doen. Ek het oor die muur geloer en toe hulle my sien, het hulle my genooi om saam te kom krieket speel. Dit was nét die verskoning wat ek nodig gehad het om uit die huis te kom.

Maar my pa het my eers voorgekeer en gestuur om vir my ma te sê dat sy moet opskep. Ek het aan die kamerdeur geklop en geroep, maar geen antwoord gekry nie. Ek het dit toe gelos en geloop. Die atmosfeer was van so ’n aard dat ek in elk geval nie daar wou wees nie.

Ek het by die muur gestaan en met Christo, die bure se seun, gesels toe ek ’n skoot hoor. Ek het onmiddellik omgekyk in die rigting van my ma-hulle se badkamervenstertjie. Dit was asof iets net vir my gesê het: “Dít het nou gebeur. Sy het haarself geskiet.”

Ek het die gedagte afgeskud en vir myself gesê ek oordryf net. Die feit dat daar min geboue rondom ons was, het beteken dat klank redelik ver gedra het. Agter ons huis was daar ’n veldjie en as iemand ’n klapper geskiet het of ’n motor het lawaai, dan het dit teen ons mure weergalm. Aangesien niemand anders onraad vermoed het nie het ek gedink dat dit die rede vir die geluid was.

Ek het oor die muur gespring om te gaan speel. Ek het eerste geboul en toe dit ’n rukkie later my beurt was om te kolf, het ek gesien hoe die mense begin saamdrom. Ek het vir Christo gesê: “Vandag gaan hier nog groot moeilikheid in Brackenfell wees.” Toe hy vra wat ek daarmee bedoel, het ek dit doodgepraat. Ek wou hom nie van my vermoede vertel nie, want dalk was ek verkeerd.

Christo se pa was ’n patoloog. Toe my pa hom roep, kon ek aan die manier waarop hy vir hom geskree het, sien dat daar fout is. Die enigste rede hoekom hulle ooit vir oom Louis geroep het, was as daar ’n mediese noodgeval was.

Ek het besluit ek gaan nie inmeng nie; my pa was reeds moeilik. Ek was op daardie oomblik nie hartseer of beangs oor die moontlikheid dat my ma dalk dood was nie. Die omstandighede in ons huis was in daardie stadium so sleg dat dit eerder ’n verligting sou wees as sy nie meer daar was nie. Dan kon ek uit die huis padgee sonder dat ek my oor haar sou hoef te bekommer.

Ek sou later hoor my pa en broer het die slaapkamerdeur oopgeforseer – daar was ’n kas voor die deur geskuif. Toe hulle op die toneel afkom, was ek besig om krieket te speel.

Selfs toe oom Louis se een dogter vir my kom sê dat ek eerder moet huis toe gaan, wou ek nie. Ek was nie doodseker wat gebeur het nie, maar ek het ’n goeie vermoede gehad en ek wou dit nie face nie. Ek wou nie die toneel sien nie. Ek het in ons geteerde oprit gestaan en kyk hoe die ambulanspersoneel die lyk uit die huis verwyder, maar ek het glad nie in die huis ingegaan nie.

Ek het daardie eerste dag glad nie gehuil nie. Ek was meer verlig dat dit nou vir haar verby was. Dat sy nou verlos is en nie meer in hiérdie situasie hoef te wees nie. My ma was die een wat alles bymekaar gehou het. Met dié dat sy nie meer daar was nie, kon ek maklik my familie afskryf. Nou kon ek net op myself en op my eie paadjie vorentoe fokus.

My pa was baie geskok; dit het hom hard geruk. Hy het later die aand, toe ons om die tafel gesit en gesels het, gehuil. Ek kon toe sien dat hy nie bedoel om so ’n moeilike mens te wees nie. Ons al drie was baie hartseer. My ma het ’n groot leemte gelos; haar dood was ’n geweldige verlies vir ons almal.

Ek sou jare later besef dat my pa se optrede nie nét sy skuld was nie. As kind het hy nie juis ’n beter voorbeeld gehad nie. Sy pa was ook ’n baie moeilike mens. Hy het dus nie geweet hoe om anders op te tree nie en het maar geglo dis hoe ’n man veronderstel is om te wees. Al sy broers is ook so; daar is nie eintlik ’n verhouding tussen enige van hulle nie. Hy het maar gedoen wat hy gedink het reg was. Daardie besef het dit vir my moontlik gemaak om hom later te vergewe.

Van Pollsmoor tot prediker

Подняться наверх